Paulus sing sy lewenslied met die dood voor oë

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Filippense 1
Preek Inhoud: 

Ps. 135: 1, 2
Ps. 135: 3, 8
Ps. 87
Ps. 126: 1
Ps. 126: 2, 3
Lees: Filip. 4
Teks: Filip. 1: 19 - 26

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hopelik kan u onthou van die vorige Filippense preek, hoe sekere mense geprobeer het om Paulus in die gevangenis te laat swaarkry. Hulle het die prediking van die Evangelie oorgeneem, met die bedoeling dat Paulus maar 'n slag 'n toontjie laer moet sing. Paulus moet mos nie dink, hy is die enigste wat die Evangelie kan verkondig en mense tot Christus bring nie.

Maar daardie mense het hul met betrekking tot Paulus, misgis. Paulus word nie jaloers nie, en ook sal sy loflied nie verstom nie. Die Evangelie gaan, hoe dan ook, verder, en daarin kan hy hom verbly. Natuurlik is Paulus wel verdrietig dat broeders met sodanige bedoelings optree, maar juis deur die voortgang van die Evangelie sentraal te stel, is Paulus in staat om sy eie teleurstellings op 'n goeie manier te verwerk, en kan hy hom nog steeds verbly.

Die goeie verwerking van teleurstellings, word nog belangriker as ons let op Paulus se nabye toekoms. Wat sal die toekoms vir hom bring? Want binnekort sal deur die regter oor Paulus se lot besluit moet word. Hoe sal dit afloop vir Paulus? Sal hy vrygespreek word, en dalk nog jare kan lewe en werk? Of wag vir hom binne 'n paar dae die doodstraf? Dalk wel onder marteling?

Ons ken nie self uit ervaring die situasie waarin Paulus is nie. Dus dat daar terwille van die Evangelie deur ongelowiges oor ons dood of ons lewe beslis word. Maar ons kan ons voorstel dat dit baie spannend is.

Sommige van ons wat 'n keer 'n ernstige siekte gehad het, waarvan die afloop dood of lewe is, kan dalk voorstel hoe 'n mens dan voel. Daar is maar een gedagte wat al jou denke beheers. Hoe sal dit met my gaan? As dit maar weer goed mag kom. As ek maar weer lewe, gesondheid, vryheid terugkry. Daardie spanning leef natuurlik ook by Paulus. Hoe sal dit gaan? Tot nou toe kan Paulus daardie groot spanning hanteer. Ek verbly my. Maar hoe sal dit môre wees?

Sê nou, hy word tog veroordeel? Is dit dan met sy blydskap gedaan? Nee, Paulus sê: Ek verbly my. En ongeag die uitkoms... ek sal my ook verbly!

Hoe Paulus daarvan so seker kan wees, wil ons hoor in die Evangelieprediking van vanoggend.

Ons tema is: PAULUS SING SY LEWENSLIED MET DIE DOOD VOOR OË.

Ons hoor:

  1. Sy lewensdoel is die gemeenskap met Christus.
  2. Sy lewenstaak is die gemeente van Christus.

1. Paulus weet op die oomblik nie of hy sal vrykom of nie. Hy het geen waarborg dat God hom verlenging van sy lewe sal skenk nie. Net so min trouens as wat 'n sieke dit het. Hy kan op beterskap hoop, en daarom bid, maar sekerheid dat God genesing sal gee, het hy nie. Maar van een ding is Paulus wel baie seker: Wat ook al gebeur, dit sal strek tot my heil.

Alles moet tot my heil dien. Ongetwyfeld herken u daardie woorde uit Sondag 1, van die Heidelbergse Kategismus. Temidde van al die onsekerhede van die lewe, weet die kind van God een ding: Alles moet dien tot my heil. Hierdie geloofsoortuiging onderskei die heiliges in Christus Jesus (Filip. 1: 1) van ander mense. Ook van daardie mense wat nog wel 'n Christelike religieusiteit het, maar vir wie hul godsdiens slegs tot die fraiing van die lewe behoort.

Om te kan bely: Alles moet dien tot my heil, selfs die probleme en moeites waarvan ek self die sin glad nie kan ontdek nie, daarvoor is 'n diep vertroue op die leiding van God in jou lewe nodig.

Dit beteken glad nie dat 'n Christen dus in sy lewe sê: Laat alles maar kom soos dit kom. Dit kan my nie traak nie.

Inteendeel, Paulus praat hier van 'n reikhalsende verwagting en hoop wat in hom lewe, maar die voorwerp van sy reikhalsende verwagting en hoop is nie homself nie. Nie sy eie lewensgenot staan vir hom sentraal nie, maar die allesbeheersende by hom is dit: Jesus Christus moet grootgemaak word.

Dit staan by Paulus bo alles!

Wel, so 'n oorgawe aan Christus, so 'n volstrekte onderskikking van eie belang aan die belang van die saak van Christus, het 'n mens nie van homself nie. Ook kan 'n mens hom nie op eie krag tot so 'n groot liefde opwerk nie. Dit kan vir jou maar net gegee word deur die Heilige Gees.

Met ander woorde, daarvoor is nie minder as 'n wedergeboorte nodig nie. Dit gaan ook nie sonder stryd nie. Die gelowige is mos vlees. En die vlees verset hom hewig teen alle lyde wat in sy lewe kom. 'n Mens moet ook heel wat kere die nederlaag ly in daardie stryd, om in alles die saak van Jesus Christus voorop te stel.

Daarom is Paulus ook so bly met die gebed van die Filippense. Die gebed van die gelowiges vir mekaar is van lewensbelang. Immers juis daardeur kan sake wat op sigself kwaad is, ten goede gekeer word.

Paulus dui hier die Heilige Gees aan as die Gees van Jesus Christus.

Daarmee dui hy op die nou verbinding van Christus en die Heilige Gees. Die Gees van Jesus Christus, is die Gees wat Jesus belowe het ter ondersteuning van die gelowiges in 'n vervolgingsituasie. As hulle jul voor die regters sal lei, terwille van My Naam, dan sal My Gees julle die woorde leer om te spreek. Wel, daarop vertrou Paulus en daarom vrees hy nie vir die toekoms nie. In vers 20 spreek hy dan ook die hoop uit dat hy in niks 'beskaam sal word nie'. Die vertaling is nie al te duidelik nie.

Paulus bedoel om te sê: ek hoop dat ek niks sal doen waaroor ek my later sal skaam nie.

Hy hoop dat hy nie by die definitiewe uitspraak van die Romeinse regter tog nog deur sy optrede of sy woorde die Naam van Christus sal verloën nie. Iets waaroor hy hom dan later sal skaam, soos eendag Petrus hom diep geskaam het, toe hy die naam van Christus tot drie keer verloën het. Nee Paulus bid en hoop dat sy vrymoedigheid sal bly. Want daardeur, deur die blywende getuienis oor Christus sal die saak van Christus gedien word. Hy noem dit so: dat Christus grootgemaak sal word in my liggaam!

Hy weet nie wat met sy liggaam sal gebeur nie.

  • Die keiser kan sy liggaam laat doodmaak.
  • Of as hy bly lewe dan sal sy liggaam hom weer van diens wees om te kan werk.

Dit is nou Bybelse denke oor die liggaam.

Die menslike liggaam het nie 'n doel in sigself nie, maar die liggaam en alles wat 'n mens daarmee kan doen, is 'n middel tot verheerliking van Jesus Christus.

Hierdie lewensdoel van 'n mens is 'n doel wat altyd bly.

Enig ander lewensdoel kan 'n mens sommer ontneem word. Ook allerhande andere as sodanig positiewe lewensdoele, kan 'n mens skielik ontval. Byvoorbeeld, wie hom as lewensdoel stel om siekes en ellendiges te help, kan daarin byvoorbeeld, deur eie siekte verhinder word. Dan verval jou lewensdoel. Maar een lewensdoel kan van 'n mens nooit afgeneem word nie, of jy gesond of siek is, of jy gevange of vry is, as 'n lewende of as 'n sterwende, die doel: Dat Christus deur my grootgemaak word, is blywend. En omdat Paulus dit tot sy lewensdoel gemaak het, daarom verloor die spannende vraag na die afloop van sy proses sy beklemming.

Selfs die grootste alomvattende teenstelling wat 'n mens hom kan indink: lewe teenoor dood, word by hierdie doel 'n relatiewe teenstelling. En dit is vir ons iets om oor na te dink. Ons lewe in 'n materialistiese welvaartskultuur, waarvan ons almal die invloed ondergaan. In so 'n kultuur is een ding allebeheersend: 'n Mens moet oorlewe. Wie die lewe verloor, het mos niks aan watter materiële welvaart ook al.

In so 'n kultuuur kan ook niks bedink word, wat die moeite werd is om vir te sterwe nie. Om te oorlewe, daarvoor is geen prys te hoog nie.

Maar Paulus kies sonder aarseling. As hy voor die keuse kom: Verloën Jesus Christus, en lewe of bly trou aan Christus en sterwe, dan kies hy vir die laaste! In die verband gebruik Paulus die bekende woorde: Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.

'n Teks wat dikwels in 'n oorlydensberig verskyn.

'n Teks waarop heel wat begrafnisliedere gabaseer is.

Ons ervaar dit as 'n woord van vertroosting vir ou mense, vir wie, dit tyd word om van die lewe afskeid te neem. Of 'n trooswoord vir ongeneeslike siekes. In sodanige omstandighede voel ons is dit tyd om oor te skakel na die verlange om met Christus te wees. As jy besig is om die lewe te verloor dan moet jy gryp na die wins van die sterwe.

Tog moet ons ons ernstig afvra of ons dan wel die regte betekenis van Paulus se woorde verstaan het.

Juis by so 'n bekende en dikwels gebruikte woord is die gevaar van misverstand baie groot. Kom ons kyk 'n bietjie noukeuriger na die woord: 'Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins'.

In die grondteks staan vir wat by ons vertaal is as 'die lewe' eintlik 'n werkwoord. Dus Paulus sê hier: 'om te lewe is vir my Christus'.

Om dit beter te verstaan, kan ons dit die beste vergelyk met 'n uitdrukking soos: Teken en skilder, was sy lus en sy lewe.

Dit beteken as hy daarmee besig is dan leef hy. Daarvoor lewe hy. Wel, so sê Paulus: Vir my is dit Christus!

Om te lewe, dit beteken Christus.

En daarmee het ons in hierdie teks, eerder met 'n lewenslied, as met 'n begrafnislied te doen. Die nadruk val op die eerste. Vanuit die eerste is die tweede te verstaan. Eers as jy die eerste kan sê: om te lewe is vir my Christus, dan eers kan die sterwe as wins beskou word.

Dit alles staan tog wel haaks op ons manier van dink. Lewe is vir 'n welvaartsmens, die een en die al. As jou lewe opgaan in eet en drink en werk en ontspan, dan is die dood uitsluitlik 'n verliespos. Die grootste skade pos wat denkbaar is. Die dood beteken dan die definitiewe bankrotskap van al jou wense en verlangens. Maar vir Paulus kan die sterwe wins wees, juis, of liewers uitsluitlik omdat hy eers gesê het: om te lewe is vir my Christus.

En waaruit bestaan die wins van die sterwe? Wel, veral dit, Paulus voel nou nog steeds die stryd teen die vlees. Hy weet dat hy deur sy sondes die Here Jesus steeds weer teleurstel. En dit is wat hom gedurig pla. Hy wil graag in alles die wil van God volbring, maar hy kan nie. Hy verloor steeds in die stryd teen die sonde. En van daaruit gesien is die sterwe wins. Want dan is die stryd teen die sonde definitief verby.

Paulus kan selfs sê: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees. Hierdie verlange van Paulus mag ons nie 'n doodsverlange noem nie. So 'n doodsverlange ken die Bybel nie. 'Was ek maar dood', is definitief nie 'n christelike gedagte nie.

Paulus het verlange om met Christus te wees. En dit is heel iets anders, as dat 'n mens van die lewe genoeg het. 'Was ek maar dood' so 'n denke kom voort uit lewensmoegheid.

'n Mens kan die lewe nie meer hanteer nie. Hy kort moed en kragte.

Dus daardie gedagte het 'n negatiewe oorsprong. Dit kan ek nie en dit wil ek nie. Maar die verlange wat daar by Paulus is, het 'n positiewe oorsprong.

Dit is 'n verlange om by Christus te wees.

Liefde tot Christus gee hom daardie verlange.

Soos al eerder aangedui, ons verkies om die woorde toe te pas op ou mense. Mense wat van die lewe niks meer kan verwag nie. Vir hulle is dit tyd om so stadighaan oor te skakel op die verlange om met Christus te wees. Maar so hou 'n mens Paulus se woorde ver by hom vandaan.

En dit is nie goed nie. As ons dan eers op ons sterfbed moet leer dat Christus vir ons alles is in die lewe, dan is ons daarmee taamlik laat.

Paulus verlang na Christus terwyl hy nog in die krag van sy lewe is.

Die verlange na Christus is kenmerkend vir die Christelike lewe.

En dit is nie 'n doodsverlange nie, maar 'n verlange om te lewe vir Christus. Om te lewe vir jou Heer.

Na Christus verlang, moet 'n mens nie eers doen, as die lewe tog niks meer te bied het nie, maar na Christus verlang jy omdat jy Hom liefhet. En so kan Paulus hier 'n lewenslied sing, terwyl hy die dood voor oë het. Sy verbondenheid met sy geliefde Heiland is so groot, dat hy weet dat hy dwarsdeur die dood met Hom verbonde sal bly. Ja deur die dood sal selfs die verbondenheid nog intensiewer word. En daarom kan hy vir hom persoonlik die dood as wins beskou.

2. Sy lewenstaak is die gemeente van Christus.

As ons verder lees in ons teks, sien ons dat Paulus in sekere sin in tweestryd is. Wat ek sal kies, weet ek nie. Nou moet ons eers bedink, Paulus het nie soveel om te kies nie. Paulus moet net afwag wat die regter sal besluit. Vryspraak of doodvonnis.

Maar daar is tog 'n keuse waarvoor hy staan, naamlik dit: wat moet hy bid? Sal hy bid om vrylating?

Of sal hy bid dat hy vir Christus mag sterwe, en so gou as moontlik by Christus kan wees?

Paulus weet nie wat vir hom die mees aantreklike is nie.

Opnuut is dit vir ons belangrik om nou goed op te let hoe, op watter gronde Paulus tot 'n keuse kom. Wat is sy motief, is dit sy eie belang of die belang van iets anders?

En dan blyk duidelik dat Paulus nie 'n egoïs is nie. Hy vra nie net, wat is vir my persoonlik die beste nie.

Jy kry soms mense wat so redeneer: Ag, was ek maar by Christus. Kon ek nou maar vas na Hom toegaan!

Maar so stel 'n mens sy eie heil en geluk in die middelpunt. Maar Paulus doen nie so nie.

Dit gaan hom nie om homself nie, maar om die gemeente, om die voltooiing van die werk van Christus.

Sentraal staan by hom die eer van God, die vernuwing van die hele skepping.

Dit is die laaste doel.

Dit is ongetwyfeld 'n groot ding dat 'n mens geen angs vir die dood meer het nie, en dat daar 'n verlange is om met Christus te wees.

Dit is alles gawes van die Heilige Gees.

Maar groter is nog dat Paulus in sy lewe diensbaar wil wees aan sy medegelowiges.

En daarom konstateer hy: om in die vlees te bly, om te lewe, beteken vir my vrugbare arbeid.

Altwee wense is in sy hart. As sodanig is altwee goed.

Hy kan bid: laat die doodvonnis maar kom om my te verlos.

Hy kan ook bid: Here gee my die vryheid sodat ek weer kan werk. Die laaste is beter om julle ontwil.

En dit gee vir my die deurslag sê Paulus. Daarom sal ek bly bid vir my vrylating!

Nou weet ek wat ek moet bid.

En ek vertrou ook dat die Here om julle ontwil die gebed sal verhoor. As die Here daardie gebed sal verhoor, dan sal julle daardeur weer gesterk word in die geloof, en dit sal ook 'n geweldige blydskap gee. Paulus gaan nog nie met emeritaat nie. Alhoewel hy dit verdien het. Hy weet dat sy toekomstige arbeid nog baie betekenisvol kan wees. Sy arbeid sal nie vergeefs wees in die Here nie. Paulus sien dit reeds in gedagte voor hom, hoe die mense van Filippi sal reageer as hy skielik weer by hulle is. Na so 'n lang tyd van spanning vir almal.

Wat sal daar dan in Christus geroem word!

Wat het hulle dan baie om te dank!

Wat kan hulle dan weer heerlik saam psalms sing tot lof van God. Vanweë alles wat die Here Jesus aan Paulus en aan die gemeente gedoen het.

Wel, daardie geloofsvreugde van die hele gemeente is vir Paulus baie belangriker as sy eie verlange om in die rus by Christus te kom.

Paulus vertrou dat daarom God die belangrikste sal gee.

Want niks is bevorderliker vir die voortgang van die Evangelie as 'n gemeente wat saam bly is nie.

'n Gemeente wat slegs elke week 'n preek aanhoor, met die grootste vanselfsprekendheid, en onmiddellik na die kerkdiens weer oorskakel na die orde van die dag, sal al spoedig 'n volstrek uitgebluste indruk vertoon. Daar kan geen groei in die geloof wees nie. Daar is geen blydskap oor die lewe met die Here nie. So 'n gemeente straal ook niks meer uit na buite nie. Maar 'n gemeente wat bewus die gawes van die Here opmerk en daaroor ook saam praat, kom tot lewe. Daar kom groei, van binne en na buite.

'n Gemeente wat dankbaar is dat sy gemeente van Christus mag wees, wat dankbaar is dat sy deel het aan die Evangelie, dat Christus se heil vir haar steeds weer verkondig word, dat dit 'n boodskap is wat krag gee om te lewe en om te sterwe, so 'n gemeente word 'n stad op 'n berg. Vir almal sigbaar.

Van so 'n gemeente straal krag uit. Want sy kan sing van haar eie rykdom wat sy ontvang het, in haar Heer. 'n Rykdom wat nie slegs vir haarself is nie, maar wat Christus wil gee aan almal wat hulle in geloof aan Hom onderwerp.

So 'n gemeente wat groei in geloof en blydskap, is inderdaad tot roem van Christus Jesus, en tot verheerliking van Sy naam.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)