Ps 147: 1, 2, 5
Ps 148: 1, 2, 5
Ps 104: 1, 2, 3, 4, 20, 21
Geloofsbelydenis
Lees: Psalm 104; art12 NGB
Teks: Sondag 9
Brs en srs, kinders!
'n Gelowige wat bewus lewe kom dikwels voor vrae waarop hy nie 'n antwoord kan gee nie. Hy ken wel sekere antwoorde wat die Bybel hom voorhou en tog... die vrae bly pla.
So leef 'n gelowige altyd in 'n sekere spanningsveld.
In verband met ons Kategismussondag van vanmiddag, kan ons sommer 'n hele paar van daardie spanningsgebiede aanwys.
Ons bely hier ons geloof in God die Vader, die Skepper van hemel en aarde. Daar kan sommer maklik 'n spanning ontstaan tussen hierdie belydenis en dit wat ons in skoolboeke moet leer oor die evolusie van die aarde.
Kort gesê: daar lyk 'n spanning te wees tussen geloof en wetenskap.
Verder bely ons van God die Vader dat Hy regeer deur sy ewige Raad en voorsienigheid.
Maar as ons na die wêreldgeskiedenis kyk, dan lyk dit volstrek chaoties.
Kortom: daar lyk 'n spanningsveld te bestaan tussen geloof en ervaring.
Ons bely voorts dat God ons met alles wat nodig is vir die liggaam sal versorg en selfs die kwaad wat oor my kom, my ten beste sal keer.
Maar as ons werklik kwade dinge ervaar in die lewe, sit ons boordevol met allerhande vrae. Hoe kan dit? Waarom maak God so?
Ofwel: daar lyk ook 'n spanning te bestaan tussen geloof en belewing.
Spanning dus. Dit is wat ons ervaar. Van twee kante word aan ons getrek.
Hoe moet ons met daardie spanning omgaan? Kan daardie spanning opgelos word?
Of moet ons ons eintlike vrae maar liewers diep begrawe om nie deur die spanning verskeur te word nie?
Laat ek u van te vore reeds een ding vertel. Ek kan vanmiddag nie daardie spanning oplos deur vir u 'n aantal antwoorde te gee nie.
Want in die eerste plek is die genoemde spanningsvelde so oud as die geloof self. Immers reeds in die Bybel self kan 'n mens die neerslag vind van gelowiges wat geworstel het met hul vrae.
En vervolgens as ek inderdaad sou probeer om antwoorde te gee op die eerder gestelde vrae dan is die kans baie groot dat dit tenslotte tog net goedkope antwoorde is, wat die vraesteller uiteindelik nog in die koue laat staan.
Maar wat dan?
Moet ons vanweë die spanning wat ons ervaar dan maar swyg oor God as Vader en God as Skepper van die wêreld? Of moet ons iemand wat in alle erns vrae daaroor stel so gou as moontlik weer sy mond laat toemaak?
Nee tog nie.
Want dit is uiteindelik nie ons gevoel wat ons oor God die Vader laat spreek nie. Dit is ook nie ons verstand wat ons oor God die Skepper laat redeneer nie. Maar dit is ons geloof wat ons onder woorde wil bring in die belydenis van God die Vader van onse Here Jesus Christus.
Ons tema vir vanmiddag se preek is:
Die eerste geloofsartikel van die Kerk
Daarin spreek sy
- haar verwondering uit oor die Vader wat Skepper is
- haar vertroue uit in die Skepper wat Vader is
In die inleiding het ons al aangedui dat daar na ons gevoel 'n spanning bestaan tussen ons belydenis van 'n liefdevolle Vader wat ons in die kerk allerhande geestelike gawes skenk, en die God wat hemel en aarde regeer.
Immers in die kerk hoor ons altyd van die liefde van God. Hy is 'n God van genade en vrede en blydskap en hoop.
Maar wat van God as Onderhouder van die wêreld? Het ons met Hom ook sulke positiewe ervarings? Is dit nie juis hier waar by ons steeds weer vrae opkom nie?
Wat kan ons in die wêreld doen met 'n belydenis van die goedheid van God? Is daar nie 'n onverdraaglike spanning nie?
Om eerlik te wees.... Ja, ek kan my baie goed voorstel dat mense dit so ervaar. Veral hulle wat voortdurend deur allerhande teëslag in die lewe getref word.
Al vroeg in die geskiedenis van die christelike kerk sien ons dat mense pogings doen om die spanning op te los. Die eerste ketter wat met sy naam genoem word in art 9 van die NGB is Marcion. Hierdie Marcion het baie nagedink oor die vraag hoekom daar so baie kwaad in die wêreld is. As daar 'n goeie God is, 'n God van liefde en genade, hoekom verhinder Hy nie dat daar soveel kwaad is nie?
En toe het Marcion die volgende oplossing bedink: Hy sê, daar moet twee gode wees. Eerstens is daar die God wat ons ken uit die O.T. Hy is die Skepper wat die hemel en die aarde gemaak het. Maar die Skeeper -God het dit nie goed gemaak nie. Hy het die kwade daarin geskep. Hy is dan ook 'n harde, 'n wrede God.
Hy het vir Israel allerhande materiele gawes belowe en daarvoor tal van mense in Kanaan laat uitroei. Nee, met hierdie God wil Marcion niks te doen hê nie.
Hy verkies 'n ander God. Die God van die N.T.
Dit is 'n God van genade en liefde. Van hierdie God ontvang jy allerhande geestelike gawes.
Dit is die God wat ons deur Christus leer ken het.
Verstaan u wat Marcion hier doen?
Hy konstrueer 'n teëstelling tussen die O.T. en die N.T.
Hy maak daarvan 'n teëstelling tussen die materiële en die geestelike.
Hy maak daarvan selfs twee gode.
Die een God is die laere God van die natuurlike, die aardse, die gebrekkige. Die hoëre God is die God van die geestelike.
So kry ons twee gode. Die slegte skeppingsgod en die goeie verlossingsgod.
Die spanning in die belydenis van God se goedheid teenoor die ervarings van die aardse lewe is hiermee op 'n manier natuurlik opgelos.
"Alles wat goed is kom van die N.T.-God. Alles wat sleg is kom van 'n ander God. Dit kan jy nie aan die Vader van Jesus Christus verwyt nie. "
Teen hierdie 'oplossing' van Marcion het die christelike kerk duidelik Nee gesê.
Dit is een en dieselfde God wat Hom in die Bybel geopenbaar het.
Die God van die Skepping is dieselfde God wat sy seun as 'n Middelaar vir ons redding geskenk het.
En daarom is toe onmiddellik die Apostoliese geloofsbelydenis uitgebrei. Oorspronklik het daar net gestaan: "Ek glo in God die Vader"
Toe is daarby gevoeg om Marcion die mond te snoer: 'Ek glo in God die Vader die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde'
Die kerk het besef: sonder Jesus Christus kan jy God ook nie as Vader ken nie.
Selfs nie eens as Skepper nie.
Ons belydenis NGB art 12 noem die Seun van God uitdruklik by die werk van die Skepping: "ons glo dat die Vader deur sy Woord, dit is deur sy Seun die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het. "
Jy kan nie die belydenis van God as Vader van Jesus Christus losmaak van die belydenis van God as Skepper nie.
Dit gaan om een en dieselfde God. Wie God as Skepper verloor verloor hom ook as Verlosser.
Jesus Christus is nie los verkrygbaar nie.
Ons het nou saam psalm 104 gelees.
Ons vra hoe gaan die Bybel eintlik om met die Skepping?
Bo die psalm staan: lied van die skepping.
Die hele psalm is 'n loflied op die krag van God, wat die wêreld gemaak het en dit nog steeds onderhou. Hy word geprys as die God wat die gras laat uitspruit vir die diere en plante ten dienste van die mens.
Nou is dit alles nogal bekend en vanselfsprekend vir ons. Dat ons God moet prys vanweë sy groot dade in die skepping.
Maar moenie vergeet dat dit in die ontstaanstyd van die Bybel heeltemal nuut was.
Hoe het die heidenen dan met die skepping omgegaan?
Ja ook hulle het dit in verband met die gode gebring. Maar tog is daar 'n diepgaande verskil met die Bybelse benadering.
Die heidene het namelik die natuur self vergoddelik. Hulle het son en maan en sterre as evensovele gode beskou. In die bome, plante en diere het hulle godself gesien wat beweeg en leef. In die wisseling van die seisoene sien hulle 'n god wat sterf en daarna weer opstaan.
Hulle het roubedryf as die winter kom. Immers dan sterf die natuurgod. Hulle het feesgevier as die voorjaar weer kom. Dan het die god tog weer opgestaan.
So het die heidene met die skepping omgegaan.
Maar die Skrif maak 'n duidelike onderskeid tussen God die Skeppper en sy skepping.
En dit is die nuwe van Psalm 104.
Elke vers van ps 104 getuig daarvan.
Dit is nie die skepping wat vereer word nie, maar die Skepper!
Hoe talryk is u werke, o Here, U het hulle almal met wysheid gemaak. Die aarde is vol van u skepsels!
Dit is die taal van psalm 104!
'n Loflied op die Skepper.
Gesing deur dankbare en en verwonderde kinders van God.
Hulle weet van hul verlossing deur God die Vader en daarom kan hulle nou ook die Skepping as die werk van sy hande raaksien.
Skepping en verlossing. Dit is die werk van die Een God.
En daarmee is die vals teëstelling tussen die natuurlike en geestelike soos Marcion dit voorgestel het ook oorwin. Eweneens die valse teëstelling tussen die O.T. en die N.T.
Skepping en Verlossing is die werk van een en dieselfde God.
Dit is ook die boodskap van Sondag 9.
Die sondag van vanaand.
Wat glo jy met hierdie woorde: Ek glo in God die Vader die A lmagtige, die Skepper van hemel en aarde?
En dan moet u die antwoord goed oplet. Daar staan nie: ek glo dat God die wêreld geskep het nie.
Ons bely hier nie in die eerste plek dat daar 'n God is wat die wêreld geskape het nie. Maar baie sterker. Ek glo dat die Vader van Jesus Christus, ( )wat hemel en aarde geskape het, ook my God en my vader is. (herhaal)
Ons glo nie A. in 'n skepper en vervolgens B. in 'n God wat Vader is nie.
Nee ons glo in 'n Vader. 'n Vader wat Skepper is.
Dit is 'n magtige belydenis. Hier hoor 'n mens die lofsang van die Kerk.
Psalm 104 is dikwels 'n natuurpsalm genoem. Maar eintlik is daardie naam glad nie reg nie. Dit is nie 'n loflied op die natuur nie, maar 'n loflied op God. Op God wat vir ons 'n Vader is.
Ons kan dit so sê: Die skepping bevat vir ons 'n belofte namelik hierdie: So is nou onse God.
Ons verwondering oor onse Vader word maar net groter as ons ook in die Skepping die werk van sy hande ontdek.
Nou weet ons hoe ons God moet prys.
As Skepper en as Verlosser.
As Almagtige God en as getrou Vader.
En hierdie God is een.
2. Die kerk spreek haar vertroue uit in die Skepper wat Vader is.
Ons het sopas al gesê die hoofsin van art 36 is nie dat ons in die skepper glo nie.
Die hoofsin is: die ewige Vader van ons Here Jesus Christus is ook my God en Vader.
In 'n tussesin word dan iets gesê oor skepping, onderhouding en regering.
Maar dat dit in 'n tussesin staan beteken nie dat dit dus nie so belangrik is nie.
Inteendeel in die tussesin word die krag van hierdie Vader geteken.
Sy krag in Skepping onderhouding en regering van die wêreld.
Hierdie drie sake, skepping, onderhouding en regering is nou aan mekaar verbonde; het God aan mekaar verbonde.
As jy die een loslaat verloor jy ook die ander. Dit is wat ons vandag orals sien gebeur.
Eers word deur mense o. g. v. die huidige stand van sake in die wetenskap ontken dat daar iemand soos 'n skepper is.
Maar daarna kan dit nie wegbly dat daar ook twyfels geuit word oor onderhouding en regering deur 'n God.
As jy nie glo in 'n Skepping nie, en dit vervang met 'n geloof in 'n autonome, dit is 'n volgens eie wette ontwikkelende evolusie, dan is dit daarmee ook onmoontlik om geloof te behou in 'n God wat die wêreld onderhou.
En vervolgens verloor jy ook jou geloof in 'n regeerder van die wêreld.
Die enigste wat dan oorbly is 'n blinde noodlot. Die wêreld is oorgelaat aan homself en moet maar sien hoe hy regkom.
Ook die mens is dan oorgelaat aan homself. Hy bly eensaam agter sonder geloof, sonder hoop.
Dit is waar jy onontkombaar uitkom as jy nie glo dat daar aan die begin van hierdie wêreld 'n God staan wat presies geweet het wat Hy doen toe Hy hierdie wêreld gemaak het.
Verstaan my goed. Dit beteken nie dat daar op hierdie punt by 'n gelowige nie meer vrae oorbly nie.
Vrae oor die ontstaan van die aarde.
Vrae oor die onderhouding van die wêreld.
Vrae oor God se leiding in ons eie lewe.
Maar met al die vrae moet ons steeds weer terug gaan na die bron. Na die Skrif waar uit ons God as die Skepper en onderhouder en Regeerder van die wêreld leer ken het.
En Hom sal ons in geloof moet aanvaar.
Ook hierdie belydenis van sondag 9 kan net in die geloof verstaan woird. Slegs in geloof kan 'n mens sê: God die Skepper is my Vader.
En daarom vertrou ek so op Hom dat ek nie twyfel nie of Hy sal my met alles wat nodig is vir liggaam en siel versorg, en Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik tot my beswil verander.
Selfs die kwaad moet meewerk ten goede.
Dit is 'n heel sterk belydenis gemeente. En seker nie 'n vanselfsprekende een nie.
Probeer dit maar nasê as jy bid en bid tot die Vader en ramp op ramp tref jou.
Buite die geloof is dit volkome onaanvaarbaar dat soiets moet meewerk ten goede.
Soiets kan 'n God wat beweer om my lief te hê nie doen nie.
En so maak sommer ons vertroue plek vir wantroue.
Wantroue teen 'n God wat jou lewe anders laat verloop as wat jy jou voorgestel het.
Van daardie spontane wantroue sal ons ons steeds weer moet bekeer tot vertroue.
Tot die vertroue wat sondag 9 bedoel.
Ons sal steeds weer in geloof moet sê: God is my Vader.
Hy het dit geword deur Jesus Christus. Daarom is Hy my vertroue waardig.
En daarom wil ek op hom vertrou. By hom vind ek rus, die rus van 'n kind by sy vader.
Rus ondanks die spanning van vrae waarop ek nie 'n sluitende antwoord kry nie.
Daarvoor is baie geloof nodig.
Geloof in God se beloftes dat Hy in die wêreld en ook in my persoonlike lewe toewerk na sy doel. En dat Hy die doel ook sal bereik.
Hy werk van Skepping na Herskepping.
Hoe Hy dit doen, dit kan ons nie volg nie.
Maar dat Hy dit doen, daarvan is die Skrifte vervul.
Die Skrifte roep ons op tot 'n loflied. 'n Loflied op God se groot dade.
Op al sy werke in skepping en in verlossing.
Daardie loflied kan ons nie uit onsself aanhef nie.
Nee, die loflied word in ons losgemaak deur die Heilige Gees
Hy kan in ons droefheid nog 'n lofsang by ons verwek.
Hy kan in ons swakheid ons nog tot kragtige dade bring.
Hy vervang ons aangebore wantroue teen God in vertroue op God, die Skepper en Vader.
Hoe dit kan?
Slegs deur die geloof in God wat getrou is aan sy beloftes.
Hy sal geen werk wat sy hand begin het loslaat nie.
Nog sy skepping, nog sy verlossing, nog sy heiligmaking.
Amen
31 Jan 1993
(kyk in preek)