Die kerk is Christus se werk

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 21
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 21 H.K.

LITURGIE:
L. Eseg. 34: 1-6 en 15-23 & Joh. 10: 1-16 en 27-29
Ps. 100: 1, 3, 4
Ps. 100: 2
Ps. 28: 8 na die doop
Ps. 23
Ps. 95: 4
Ps. 119: 63

Broeders en susters,

Ek moet u vanmôre die kerk wys as die werk van Christus.

So praat mos Sondag 21 H.K. oor die kerk: "Die Seun van God vergader, beskerm en onderhou vir Hom 'n gemeente.... "

Want God se Woord praat so oor die kerk: die kerk is Christus se werk.

Daar word dikwels baie menslik oor die kerk gepraat. Asof die kerk maar net mensewerk is. 'n Tipe van 'n vereniging waarin godsdienstige mense wat dieselfde opvattings het, bymekaar kom, onder 'n bestuur wat hulle kerkraad noem. Daar is verskeie van sulke verenigings omdat nou maar eenmaal nie alle mense in alles dieselfde sienings het nie. Hulle is almal wel gelowiges, maar die een voel hom meer tuis in hierdie kerk, 'n ander verkies liewer daardie kerk, 'n derde nog weer 'n ander een.

Hoe dikwels hoor jy nie dat mense praat oor "ons" kerk en oor "julle" of "hulle" kerk. Elkeen het maar so sy eie kerk.

Daarom is ons in die oë van baie mense ook 'n "Hollandse" kerk: asof Hollanders 'n aparte kerkie gestig het om as Hollanders ook kerkelik by mekaar te kan bly. En daar is ook mense wat om dìe rede hulle juis aan hierdie gemeente onttrek het: daar is na hulle smaak te veel Hollanders met 'n Hollandse mentaliteit in hierdie gemeente; hulle wil tog maar liewer onder hulle eie Afrikaner-volkie wees. En dus het hulle by een van die Afrikaanse kerke (soos dit genoem word) aangesluit.

Wanneer daar so oor die kerk gedink en gepraat word, is die kerk heeltemal 'n saak van mense. Mense wat mekaar soek. Mense wat 'n kerk soek soos 'n geselskap waarin hulle die beste tuis voel. En wat daarom sommer om allerhande redes weer 'n nuwe, eie kerk stig. En wat terselfdertyd baie verdraagsaam teenoor die ander kerke bly, want dit maak feitlik nie so baie saak by watter kerk jy aangesluit het nie -dis maar net jou persoonlike voorkeur- as jy maar 'n gelowige is.

Wanneer mense so dink en praat, is die kerk ons werk.

Maar God se Woord leer vir ons die kerk is Christus se werk.

Ek het dit dan ook as die tema vir my preek gekies:

DIE KERK IS CHRISTUS SE WERK.

En ek sal vir u wys HOE CHRISTUS IN DIE KERK SY KUDDE

  1. VERGADER
  2. VERENIG
  3. VERLOS.

1. My eerste punt is dus dat Christus in die kerk sy kudde vergader. Ek gebruik dan 'n beeldspraak wat ons aanhoudend in die Bybel raakloop. Die beeld van 'n herder en sy skape. Met diè beeld vergelyk God se woord voortdurend die verhouding tussen die Here en ons, sy volk. Hy 's onse God en Herder, Hy, en ons die skape in die wei wat uittrek onder sy beskerming.

Ons het daarvan gesing: Psalm 100: 2, na die doop Psalm 28: 8, Psalm 23. Ons het hierdie beeld gelees: Esegiël 34, Johannes 10.

Diè beeldspraak is so oorheersend in die Skrif, dat ons dit in ons kerklike spraakgebruik terugvind: ons praat van pastorale sorg deur die ampsdraers- herderlike sorg. Die huis van die herder en leraar is die pastorie, herdershuis.

Hierdie beeld maak baie mooi duidelik wat die Here vir ons wil wees: 'n herder.

Maar hierdie beeld maak in die eerste plek duidelik wat ons is: skape. Ons mense is swak en kwesbaar soos skape. Dom ook soos skape. Eiewys en koppig. En 'n beeld wat die Bybel ook 'n paar maal noem: ons dwaal telkens soos skape. As daar nie een is wat ons oppas nie, verdwaal ons en raak verlore. Ons is sommer 'n prooi van wrede wolwe. En die duiwel loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.

Ons kan nie ons eie paadjie loop nie. Ons is nie sterk genoeg om aan die duiwel te ontkom nie. As ons aan onsself oorgelaat word, is ons verlore.

Ons het 'n herder nodig! 'n Herder wat vir ons omgee, wat ons oppas, wat ons met baie geduld met hom saamneem, wat ons met sy eie lewe beskerm teen die gevaar van die roofdiere, wat verdwaalde en verlore skape terugsoek. Ons benodig 'n herder wat ons weiding laat vind, ja, lewe en oorvloed (Joh. 10: 10).

So'n herder wil die Here vir ons wees.

Hy het dit op Hom geneem om soos 'n herder sy skape uit alle volke en uit alle eeue uit die kloue van die brullende leeu te red, bymekaar te bring, op te pas, en saam te neem na die waterfonteine van die lewe toe.

As die Nederlandse Geloofsbelydenis in art. 27 en 28 die kerk "'n heilige vergadering" noem, gebruik die Latynse teks van hierdie belydenis die woord "con-gregatio". Diè woord beteken letterlik: die-bymekaar-bring-van-'n kudde.

Die kerk is herderswerk. In en deur die kerk bring die Goeie Herder sy skape bymekaar en neem Hy hulle saam na die ewige lewe toe.

Nie alle mense bereik die ewige lewe nie. Daar is -om dit met die beeld van 'n gelykenis van Christus te sê- daar is skape en bokke. Die bokke eindig in die ewige verderf. Maar die skape is deur God tot die ewige lewe uitverkies. Hy het 'n sekere aantal mense uit die hele menselike geslag tot sy skape aangeneem- nie omdat hulle beter of waardiger as die ander mense is nie, maar uit volkome vrye welbehae van sy wil en uit louter genade. Hulle mag die ewige lewe op die nuwe aarde beërwe.

Maar God het die skape wat Hy as sy kudde aangeneem het, nie sommer dadelik in die ewige lewe oorgeplaas nie. Hulle moes nog uit alle eeue en uit alle volke vergader, bymekaar geroep word. Van hulle dwaalweë af geroep om voortaan die spore van geregtigheid te loop.

Daarvoor het Hy hulle aan sy Seun gegee wat as die Goeie Herder die skape van sy Vader na Hom toeroep en agter Hom aan mag saamneem na die ewige lewe op die nuwe aarde toe.

En dit is die kerk. Die kerk is Christus se herderswerk.

Soos 'n herder sy skape roep, deur sy stem, sy woord, kontak maak met sy eie skape -want die skape eien feilloos die stem van hul herder maar hulle sal 'n vreemde nooit volg nie- so vergader Christus in die kerk sy kudde.

Hoe vergader, beskerm en onderhou die Seun van God vir Hom 'n gemeente? Sondag 21 sê: "deur sy Gees en Woord". Die Gees van Christus maak die Woord van Christus hoorbaar op aarde. In die Evangelie klink die stem van die Goeie Herder oral in die wêreld, van eeu tot eeu. En die skape van God se stal het diè stem bo alle lawaai en verleiding uitgeken en het daarop afgekom. Ja, nog steeds kom daar skape wat die roepstem van hul Herder herken en begin volg. Hulle hoor en gehoorsaam. In die eenheid van die ware geloof. Dit maak nie saak of dit skape uit Holland of uit Suid- Afrika is nie, dit maak nie saak of hulle 'n wit of 'n geel of 'n swart vel het nie- almal ken dieselfde Herder, almal vertrou hierdie Herder volkome en volg Hom blindelings op die pad waarop Hy hulle saamroep. Al moet hulle ook 'n baie smal paadjie loop en deur 'n nou poortjie kruip, al lyk die weiveld op die breë pad langsaan ook baie lekkerder- hulle volg die stem van die Herder. Al moet hulle ook deur dale van doodskaduwee en onheil, al lei die Herder hulle ook deur allerhande beproewings en verdriet- nogtans vrees hulle nie, die Herder is mos met hulle, sy stok en sy staf diè vertroos hulle. Hulle voel hul by hierdie Herder veilig. Oral en altyd.

Maar hoe word die stem van die Goeie Herder vir God se skape hoorbaar, gemeente? Ja, die Kategismus sê: deur sy Woord en Gees. Deur die deur die Heilige Gees geïnspireerde Evangelie. Maar die Here gebruik daarvoor ook die diens van mense. Onderherders, wat sy Woord aan die skape moet voorhou met bevel van geloof en bekering.

Alreeds in die Ou Testament het God onderherders ingeskakel om namens Hom sy skape op te pas. Ons het dit gelees in Esegiël 34.

En as Christus sy herderswerk hier op aarde voltooi het, as Hy sy lewe afgelê het vir die skape, skakel Hy na sy opstanding en hemelvaart, vanaf die uitstorting van sy Gees opnuut mense in om sy stem vir sy skape hoorbaar te maak. Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars (Efes. 4: 11).

Hy het vir sy apostel Petrus en die ander dissipels die opdrag gegee: "Laat my lammers wei; pas my skape op; laat my skape wei". En Petrus het later hierdie opdrag aan 'n volgende generasie ampsdraers oorgedra in die 5de hoofstuk van sy eerste brief: "Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang. "

Ook die apostel Paulus het in elke plek waar hy die skape van Christus bymekaar geroep met met die Evangelie van Christus nuwe herders aangestel met die opdrag: "Gee ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het, om as herders die gemeente van God te versorg wat Hy deur sy eie bloed verkry het".

Hoe vergader, beskerm en onderhou die Seun van God vir Hom 'n kudde wat tot die ewige lewe uitverkies is? Sy Heilige Gees het orals in hierdie wêreld manne aangestel om soos herders God se skape bymekaar te roep en bymekaar te hou in die eenheid van die ware geloof, sodat hulle gehoorsaam die Opperherder volg op sy pad na die lewe toe.

En diè manne het geen ander middel as die Woord van die Opperherder nie. Hulle kan maar net sy Woord deurgee, sy stem hoorbaar maak. Daardie woord is hulle stok en staf om die skape met pastorale, herderlike sorg te omring. Hulle bedien daardie woord vanaf die preekstoel, in katkisasieklasse, by huisbesoeke en siekebesoeke, hulle onderstreep daardie woord deur die sakramente van Doop en Nagmaal te bedien.

Hulle vertroos en bemoedig die skape in verdriet, sorg en spanning met die Woord van die Goeie Herder. Hulle waarsku en vermaan eiewyse skape wat aan die dwaal raak met dieselfde Woord van die Goeie Herder.

En deur daardie onopvallende, troue werk van ampsdraers vergader en bewaar Christus self sy kudde op aarde. Al sien ons ook maar net mense- dit bly sy herderswerk. Sy Gees beheers diè ampsdraers, sy woord is hul enigste wapen. Hul pastorale werk staan voluit ten dienste van Christus se kerk.

Nou is daar baie kerke, broeders en susters. Daar is orals ampsdraers wat jou roep om hulle te volg. Daar is orals mense wat sê hulle wil jou lei en saamneem na die lewe en oorvloed toe.

Dit dwing Christus se skape om telkens weer te kies. Hulle moet sorgvuldig en met groot oplettendheid onderskei watter kerk die ware kerk is.

Maar die egte skape van Christus se kudde kan die ware kerk van Christus maklik uitken en van die valse onderskei. Nee, daarvoor kyk hulle nie na mense nie. Hulle weet mos dat die kudde van Christus uit almal sondige, lastige, eiewyse en partykeer oneerlike mense bestaan. Hulle soek nie vir mense by wie hulle die beste tuisvoel nie. Nee, hulle toets of die herders wat hulle saamroep regtig herders, of huurlinge is, of selfs wolwe in skaapsklere. Hulle luister skerp of hulle in die woorde van diè ampsdraers die stem van die Goeie Herder herken of die gevlei van die duiwel. Die egte skape van Christus eien sommer dadelik die stem van die Goeie Herder. Hul kom dit ook dadelik agter as hulle op dwaalweë saamgeneem word.

Hulle kan uit die Woord van God maklik die ware kerk uitken aan haar kenmerke: wanneer die evangelie suiwer gepreek word, die sakramente suiwer bedien word soos Christus dit ingestel het en wanneer die kerklike tug gebruik word om die sondes te straf.

Die egte skape van Christus sal by kwade herders wegloop, breek met die valse kerk en die weg terugsoek en terugvind na die troue onderherders in Christus se diens.

En daar sal hulle hul, ten spyte van baie sondes en foute van hulle medeskape, alleen tuisvoel. Nee, hulle het nie die maklikste paadjie gekies. Hulle het hulleself aan herders toevertrou wat hulle nie vrylaat om hulle eie koers te kies nie.

Hulle sal partykeer die stok of die staf moet voel. Maar nogtans voel hulle hul in hierdie kerk tuis. Want hulle weet: Christus, die Goeie Herder is hier om my na die ewige lewe toe saam te neem.

Waarom is u vanmôre hier, broeders en susters?

Dit mag nie wees omdat u maar die liefste aan 'n Hollandse kerk behoort nie. Dit mag nie wees omdat u graag aan dieselfde kerk as u familie behoort nie. Dit mag nie wees omdat u man of vrou, omdat jou kêrel of nooi nou maar eenmal nie met jou wou saamgaan na jou kerk nie.

Daar mag maar een rede wees hoekom u hiernatoe gekom het: omdat u hier die stem van u Herder herken. Omdat u hier die kenmerke van die ware kerk opgemerk het. En omdat u u by Hom alleen tuisvoel.

2. My tweede punt is vervolgens dat Christus sy skape wat Hy in die kerk vergader, ook verenig.

Die Seun van God vergader as die Goeie Herder nie net los skape nie. Hy vergader hulle in die eenheid van die ware geloof. Hulle almal glo in Hom en volg Hom in gehoorsaamheid. Maar dan vind hulle by Hom soos vanselfsprekend ook mekaar. Die een Herder roep hulle saam en bind hulle saam tot een kudde.

Hulle kom uit alle volke en nasies en stamme en tale, maar by alle onderskeid wat bly, is hulle een in hul Herder.

Hulle moet ook al hoe meer een word, want hulle het mekaar nodig op die moeilike pad waarop die Herder hulle saamneem. Die Herder gee hulle ook aan mekaar sodat hulle mekaar kan help om Hom te volg. Hulle moet mekaar bemoedig by teleurstellings en teëslae. Hulle moet mekaar troos in verdriet en sorg. Hulle moet mekaar se laste dra. Hulle moet mekaar help om die stem van die Herder temidde van allerlei ander geluide te bly uitken, om in konkrete situasies die goeie pad te bly vind.

En hulle moet veral mekaar vashou as daar 'n skaap is wat wil wegdwaal.

God self wil alles daaraan doen om te voorkom dat een van sy skape verlore gaan. Maar dan moet ook ons alles daaraan doen.

Christus self het in Matt. 18 daarop gewys dat God se herderlike sorg vir ons ons nou ook verplig tot die onderlinge sorg vir mekaar. Hy het gesê: "As iemand honderd skape het en een van hulle verdwaal, sal Hy nie die negen-en-negentig laat staan en op die berge die verdwaalde een gaan soek nie? So is dit nie die wil van julle Vader in die hemel dat een van sy skape verlore gaan nie. "

En dan vervolg Hy sommer dadelik: "As dus jou broeder sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister het jy jou broer gewin. "

Noudat God in Christus so vir ons omgee, moet ons ook vir mekaar omgee. En heel eerste mekaar op die pad agter die Goeie Herder aan saamneem. Want behoort soos een kudde by mekaar.

Ja, die Bybel gebruik 'n nog sterker beeld, wat ons ook in Sondag 21 van die Kategismus terugvind: ons behoort soos die lede van een liggaam by mekaar. Soos ons volgende week sondag almal saam van die een brood eet waarvan Christus gesê het: Neem, eet dit is my liggaam, so word ons deur Hom tot een liggaam saamgevoeg waarvan Hy die hoof is.

En nou is elkeen ook verplig om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend. Nou moet die skape van Christus se kudde mekaar ook tot 'n hand en 'n voet wees.

Die heel eerste plek waar dit moet gebeur is die plaaslike gemeente, waar die skape elke sondag in 'n erediens saamkom en gereëld saam rondom die een nagmaalstafel sit en eet.

Mekaar help om die Woord van die Herder vir ons lewe vandag te verstaan op die verenigings. Omgee vir mekaar in siekte en moeite.

En veral mekaar eerlik waarsku en probeer reghelp as daar by een van die skape ongehoorsaamheid of dwaling kom. Want 'n skaap van Christus se kudde word nie gehelp as ons hom vrylaat nie, maar as ons hom vashou.

Ons eerste verantwoordelikheid vir mekaar lê binne die eie plaaslike gemeente. Maar al die afsonderlike gemeentes het vervolgens ook 'n verantwoordelikheid vir mekaar. Hulle gemeenskaplike band aan die Goeie Herder verplig hulle tot die beoefening van 'n kerkverband. Elke gemeente kan nie sy eie koers loop nie, maar alle gemeentes saam moet dieselfde pad agter Christus aan bly loop. En daarvoor moet hulle op mekaar aggee. Mekaar help. Mekaar waarsku.

Ja, deur 'n kerklike korrespondensie onderhou die kerke self oor die hele wêreld die eenheid in leer, diens en tug. Daardie intensiewe strewe om die eenheid te bewaar, is nie maar net mensewerk nie, broeders en susters. Die Groot Herder is daarin besig om al sy skape oor die hele wêreld op die smalle paadjie agter Hom aan bymekaar te hou. Sodat dit sal bly: een kudde, een Herder.

3. U mag met Sondag 21 H.K. bely, broeders en susters: "ook ek is van diè gemeente wat Christus vergader, beskerrm en onderhou, 'n lewende lid. En ek sal dit ewig bly".

Met ander woorde: ook ek is deur God uitverkies om 'n skaap van sy kudde te wees en om eendag lewe en oorvloed te mag hê aan die waterbronne van die lewe.

Hoekom mag ook ons met die Goeie Herder saamgaan?

Omdat ons beter is as ander mense?

Omdat ons van nature meer gehoorsaam en gewillig is as ander mense?

Nee, glad nie! Die kerk bestaan regtig waar nie uit elite-mense nie.

Inteendeel, die kerk is 'n versameling van sondaars. Ewe groot sondaars as al die ander mense. Die kerkgeskiedenis is dan ook 'n geskiedenis vol sonde van mense en genade van God.

En wat van ons eie lewe?

Wie 'n kerk met maar net volmaakte mense soek, sal dit nooit en nêrens vind nie.

Maar die groot wonder van die kerk is juis dat Christus as die Goeie Herder sondaars saamneem na die saligheid toe.

Sy herderswerk is verlossingswerk.

Hy roep ons by die sonde vandaan na die lewe toe. Hy bring ons op die pad na God toe terug.

Dis hoekom die opstellers van die Heidelbergse Kategismus die tiende artikel van die Apostoliese Geloofsbelydenis oor die vergewing van die sondes nie in 'n aparte sondagsafdeling behandel het nie, maar dit saamgeneem het met die behandeling van die artikel oor die kerk. Want die kerk en die vergewing van die sondes behoort onlosmaaklik by mekaar.

In die kerk ontvang ons vergewing van sondes. Ons Herder het met sy eie dood vir ons die lewe terugverdien. En Hy roep ons nou na Hom toe omdat ons alleen deur Hom kan ingaan en uitgaan en weiding vind. Hy is nou vir God se skape 'die deur'.

Maar deur hierdie "deur" moet ons nou ook ingaan. Daar is geen ander deur nie. Daar is geen ander pad na die lewe as die pad agter Christus aan nie. Buite die kerk is geen saligheid, sê daarom Art. 28 N.G.B. reguit. Wie die Goeie Herder nie wil volg nie, wie Christus se onderherders ignoreer en sy eie paadjie wil loop, draai die rug op die lewe en kies vir die dood.

Want die kerk is geen mensewerk!

AMEN.

(Pretoria, 5 Februarie 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)