Christus bewaar Sy kerk ook deur die dood heen

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 22
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 22 H K

LITURGIE:
L. Openbaring 20
Ps. 103: 8, 9
Ps. 103: 2
Ps. 73: 2, 7, 10, 11
SB. 23: 1, 4
Ps. 16: 4, 5

Broeders en susters,

Ons gaan vanoggend as 't ware kyk na dit wat vir menseoë onsigbaar is. Ek mag u saamneem tot oor die grens waarteen ons oë normaalweg vaskyk: 'n menseliggaam wat in 'n kis toegesluit en in 'n graf neergelaat word.

Verder as daar kan ons nie kyk nie.

En niemand het ooit van oor daardie grens teruggekom om vir ons te vertel hoe dat dit anderkant is nie.

Daarom leef daar talle vrae by ons: wat gebeur met 'n mens na sy dood? 'n Siel sonder liggaam wat hemel toe gaan -of hel toe!- wat moet ons ons daarby voorstel? Wat maak al daardie siele van die wat reeds gesterf het, vandag in die hemel? Sing hulle die hele dag voor God se troon, soos jy dikwels in 'n sterwensberig lees? Of doen hulle ook ander goed? Weet hulle nog van dit wat op die aarde gebeur? Kan hulle ons sien?

En as eendag die Here Jesus na die aarde terugkom en die grafte sal oopmaak, hoe sal ons nuwe liggaam wees? Sal ons nog eet en drink? Nog werk? Sal ons mekaar herken? Sal daar dan nie gans te veel mense op die aarde wees nie?

Moet ons sulke vrae maar liewers onderdruk omdat daar mos niemand is wat vanuit dié ander wêreld vir ons die antwoorde kom bring nie?

Nee, geen mens het uit die dood weergekeer om ons vrae te beantwoord nie. Lasarus is wel deur die Here Jesus Christus na vier dae uit die graf teruggeroep, maar ons kry van hom hoegenaamd geen informasie oor die dae wat hy dood was nie. Ons hoor af en toe van ervaringe van mense wat skyndood was of byna dood, maar ook dié verhale is so teenstrydig en verwarrend en dikwels net 'n spieëlbeeld van die voorstellings wat hulle tydens hul lewe alreeds m. b. t. die dood gehad het, dat ons ook dit nie as betroubare informasie kan aanvaar nie.

Maar, gemeente, die antwoorde wat geen mens ons kan gee nie, oor die lewe na die dood, het God Self mos lank al in die Bybel vir ons kom bring.

Christus se kerk bely eeue lank al as sy algemene, ongetwyfelde geloof dat die dood en die graf nie die einde van 'n menselewe beteken nie, maar dat daar danksy Christus se verlossingswerk eendag 'n opstanding van ons liggame sal plaasvind waarna daar 'n ewige lewe sal volg.

En wanneer ons dit bely, mag ons ons daarvan ook 'n konkrete voorstelling maak.

Nee, God se Woord gee nie op al ons vrae 'n afdoende antwoord nie. Maar die Skrif gee darem voldoende informasie om ons 'n lewende voorstelling te kan maak oor die anderkant van die dood.

Kom ons luister na die vergesig wat die HERE ons in sy Woord bied om ons te troos in 'n wêreld waarin nog daagliks grafte gegrawe moet word.

Ek mag u laat sien:

CHRISTUS BEWAAR SY KERK OOK DEUR DIE DOOD HEEN

  1. DEUR DIE EERSTE OPSTANDING
  2. DEUR DIE TWEEDE OPSTANDING

1. Daar is talle Skrifgedeeltes wat ons informasie gee oor die lewe na die dood, broeders en susters. Dié wat onder Sondag 22 opgesom is, vorm slegs 'n baie klein gedeelte daarvan.

Ons konsentreer vanoggend veral op die hoofstuk wat ons uit die Openbaring van ons Here Jesus Christus aan Johannes gelees het.

U weet dat in die laaste Bybelboek die dood 'n belangrike rol speel. Die Here het sy kerk voorberei op dit wat ons in hierdie wêreld te wagte staan in die laaste dae van die geskiedenis. Een ding het daarby baie duidelik geword: die laaste dae sal vol dood en verderf wees!

Johannes het die vaal perd van die dood oor die wêreld sien ry, saam met die wit een, die vuurrooi en die swart een, wat mag gekry het om die vierde deel van die aarde dood te maak, met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.

Johannes het die skepping sien kraak onder die geweld van God se plae. Orals het God die lewe verwoes.

En God se kerkvolk sal by dit alles nie gespaar word nie. Hulle kan die rampe nie vryspring nie. In die oorloë wat oor die aarde sal losbreek, sal ook christene omkom.

Maar boonop bedreig die dood God se kinders van die kant van die kerkvyande af. Johannes het gesien hoedat die twee getuies doodgemaak is op de strate van die stad wat geestelik Sodom en Egipte genoem word. Johannes het die dier uit die see en die dier uit die aarde sien opkom en gehoor van mense wat onthoof is oor hul getuienis van Jesus en terwille van die Woord van God, en omdat hulle nie die dier wou aanbid nie en sy kodemerk nie wou dra nie.

God se kinders kan nie die dood ontloop nie. Inteendeel, die dood is voortdurend op hul hakke.

Maar dis hoekom die Here Christus vir Johannes ook die anderkant gewys het. Om die kerk in die laaste dae te bemoedig en teen kortsigtigheid te bewaar.

Ons mag met Johannes in hoofstuk 20 'n blik agter die skerms werp, agter die wolke. Want dit wat ons hier op aarde gewoonlik sien, onder die wolke, is maar net een kant van die saak. Bo die wolke lyk dit heel anders.

U weet waarskynlik wel, broeders en susters, dat hierdie Bybelhoofstuk by alreeds baie christene die gedagte van 'n duisendjarige ryk eendag hier op aarde teweeggebring het. Hulle glo dat die Here Jesus Christus nie een keer nie, maar twee keer na die aarde sal weerkom. Die eerste keer sal Hy in die stad Jerusalem terugkom en daar op die troon van Dawid vir duisend jaar 'n vrederyk vir die hele aarde stig. Dit sal gebeur nadat die volk van die Jode massaal tot bekering gekom het. Al die heiliges wat alreeds gesterf het, mag dan ook uit die dood opstaan om saam met Christus en die bekeerde Jode in daardie vrederyk te lewe. Die duiwel word daardie duisend jaar heeltemal aan bande gelê sodat hy nie die vrede kan versteur nie.

As die duisend jaar verby is, beëindig Christus voorlopig sy regering op aarde en keer weer na die hemel. Die duiwel word losgelaat om nog een keer te probeer die wêreld teen die kerk wat op aarde agtergebly het, te mobiliseer. Maar wanneer dan die spanning op die hoogste is, verskyn die Here skielik vir die tweede keer op die wolke en volg die laaste oordeel.

Hierdie gedagte is reeds eeueoud en vind vandag nog talle aanhangers, veral in bepaalde sektes. Die Evangelies Gereformeerde Kerk, hieragter in 27ste Laan, leer byvoorbeeld so.

Die aanhangers van hierdie leer van die duisendjarige ryk, "Chiliaste" soos hulle ook wel genoem word, rig dan ook veral hun aandag op die ontwikkelinge in die Midde-Ooste, op die staat Israel en sy buurvolkere, omdat dáár die eerste wederkoms van Christus verwag moet word. Was die stigting van die staat Israel dalk 'n voorteken? Is al die vergeefse pogings om hierdie staat weer te vernietig nie 'n bewys van God se besondere planne met hierdie volk nie? Kan die bekering van die Jode binnekort verwag word?

Maar al hierdie gedagtes vind geen werklike steun in Openbaring 20 nie, gemeente. Die trone wat ons hier gewys word, sal naamlik nie eendag op die aarde, in die stad Jerusalem, staan nie. Hulle staan nou alreeds in die hemel.

Want wát sien Johannes?

Die eerste ding wat hy sien is dat die duiwel deur God aan bande gelê word. Sodat hy die nasies nie meer sou verlei nie.

Ons weet uit die Ou Testament hoedat die duiwel alle volkere in sy greep gehad het. Net die een volkie Israel het God uit sy kloue gered, die ander nasies was volledig aan sy mag oorgegee.

Maar wanneer het dit verander? Was dit nie vanaf die Pinksterdag nie? Van toe af is die groot vyand van die kerk met 'n swaar ketting vasgebind. En God het die nasies uit sy greep losgemaak sodat ook hulle harte ontvanklik kon word vir sy Evangelie van redding.

Die duiwel is nie wég nie. Ons lees ook nie dat hy die ménse nie meer kan verlei nie. Inteendeel, die Skrif waarsku orals vir die duiwel wat soos 'n brullende leeu rondloop, omdat hy weet dat hy nog maar min tyd het. Maar een ding kry hy nie meer reg nie: die oorwinningsgang van God se Evangelie onder alle nasie kan hy nie meer keer nie.

Van dié tyd, óns tyd, praat Openbaring 20.

'n Tyd waarin ons die ruimte ontvang om orals in die wêreld die Evangelie te verkondig en Christus se kerk te plant.

Die duisend jaar waarvan ons hier lees, is ook soos die meeste getalle in die Openbaring, sinnebeeldig. Ons sal moet dink aan die periode tussen Christus se hemelvaart en sy wederkoms.

Maar hierdie duisendjaar waarin ons vandag lewe is nog glad nie 'n duisendjarige vréderyk nie.

Want die duíwel mag dan gebind wees, die dóód is nog nie gebind nie. En die dood lyk 'n vyand wat minstens so gevaarlik is as die duiwel.

Niemand kan aan sy greep ontkom nie. Die oudstes van die chrsitelike kerk, die eerste bekeerdes, het die een na die ander weggeval. Petrus, Paulus, Jakobus, al die apostels met hul groot invloed.

Daar het reeds 'n heel nuwe geslag opgestaan wanneer Johannes sy Openbaring ontvang, en ook dié het klaar met die dood te make gekry. Antipas byvoorbeeld, die getroue christen in Pergamum wat nie sy mond kon hou nie, moes dit met die dood bekoop. Die dood bly maar dreig en die kerk van sy lidmate beroof.

Soiets kan by kerkmense die angstige vraag oproep: waarop loop die lewe in die kerk met Christus feitlik uit? ! Loop dit op die dood uit? Skakel die dood op die ou end goddelose en christen tog gelyk? Roep Christus mense tot 'n nuwe lewe om hulle aan die einde van die dag soos alle ander mense in 'n graf te laat eindig? Mond die kerk dan uit in 'n massagraf?

Daar is mense, christene, wat so beweer, gemeente. Selfs deur voorgangers in Gereformeerde kerke is daar boeke geskrywe waarin geleer word dat ook God se kinders wat in geloof geleef en gesterf het, nie in die hemel by hul Hoof Christus is nie, maar vandag in die graf moet wag op Christus se wederkoms. Hulle slaap daar onbewus die sieleslaap of is selfs eenvoudig: dood! Daar is heelwat onder u vir wie die name van Ds Telder en Ds Vonk boekdele spreek.

Hierdie gedagtes skyn steun te ontvang van allerlei Skrifwoorde, veral in die Ou Testament. Daar is byvoorbeeld verskeie Psalms wat die magteloosheid van 'n mens in die graf besing: "In die grafkuil kan 'n mens U nie loof nie, HERE"

Ons moet al sulke Skrifgedeeltes nie sommer eenkant skuif nie. Die Skrif herinner ons daarmee aan die dodelike erns van die dood. Die dood is 'n onnatuurlike saak, die afbraak van die lewe wat God bedoel het.

Ons ervaar mos so ook die dood, broeders en susters? As 'n weggeskeur word uit al die lewensverbande waarin God 'n mens geplaas het. Wie sterf, verskyn opeens nie meer op sy werk nie, sy plek in die kerk is leeg, by die huis sit iemand anders in sy stoel.

Maar God se Woord laat ons wel méér sien. Want as ons hier op aarde 'n lyk in 'n kis moet lê, staan bo in die hemel alreeds 'n troon klaar waarop die oorledene mag gaan sit!

Kyk wat Johannes ons wys in vs. 4 e. v. van Openbaring 20: "En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee, te wete aan die siele van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die Woord van God....... Hulle het geleef, en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. ".

Johannes het hulle sien binnekom in die hemel, die een na die ander wat op aarde hul gehoorsaamheid aan Christus met die dood moes bekoop of na 'n lewe van gehoorsaamheid uit hul afgeleefde liggaam deur die engele weggehaal is. Stefanus, Jakobus, Paulus, Antipas en al die ander. Hulle almal mog gaan sit op 'n mooi stoel in Christus se troonsaal om vandaaruit die verdere wêreldgebeure mee te maak.

Op aarde het hulle gesê: "Hy is dood, sy is dood" en die nabestaandes het triestig 'n christelike begrafnis probeer reël.

Maar Johannes het gesien dat hulle leef.

Hy het weliswaar net hul siele gesien, want hul ontluisterde liggame moes eers in 'n graf verdwyn om daar op die dag van Christus se wederkoms te wag. Maar hulle het darem geleef!

Het hulle geleef omdat die mens 'n onsterflike siel het? ! Nee, gemeente, die idee van 'n onsterflike siel is uit die heidense filosofie afkomstig. Die Bybel leer nie so nie. Inteendeel, alle vlees is soos gras, sê die Skrif van ons mense. Slegs die Woord van die HERE bly tot in ewigheid. Maar daardie Woord van God het in God se kinders kom woon. Die lewendmakende Gees van die Here Jesus het deur die Woord in hulle kom woon. En die Gees wat dooie mense tot nuwe lewe gewek het, verlaat God se kinders nie weer vir 'n hele ruk as hulle sterf nie. Inteendeel, Hy wat beloof het om ewig by hulle te bly, en wat vandag reeds die begin van die ewige vreugde in hul harte bewerk, neem hulle by hul dood as siel alreeds saam na hul Here en Hoof Christus toe. In die hemel. Hy laat hulle by hul sterwe meteens die eerste opstanding deurmaak.

Die ander dooies kry aan hierdie eerste opstanding geen deel nie. Hulle het nie herlewe nie, skryf Johannes. Al wie die lewende Woord van God verwerp en belaster het, het die lewe afgewys. Die eerste dood is by hulle dadelik deur die tweede dood gevolg: die ewige dood. Hulle bly nou alreeds in die buitenste duisternis van die hel.

Slegs vir die wat die lewe buite homself, in Christus gesoek het, staan daar in die hemelse troonsaal 'n stoel gereed.

Hulle is nie weg nie, u ouers en voorouers wat in Christus geleef en gesterf het nie. U het hulle nie verloor nie, daardie kinders wat die HERE so jonk nog uit u lewe weggeneem het. Ja, hul liggaam lê op die begraafplaas en wag. 'n Steen wys die presiese plek. Maar hulleself is nie daar nie, al wou predikante soos Telder en Vonk ons dit ook wysmaak. Hulleself is by Christus.

Dis vir ons maar moeilik om ons 'n mens sonder liggaam voor te stel, gemeente. Maar u mag by die woordjie "siel" eenvoudig denk aan die mens wat gesterf het, sonder sy liggaam. Die Bybel praat nog altyd baie menslik oor die siele van die wat reeds gesterf het. Hulle is steeds persone met hul volle bewussyn. Hulle dra nog die name wat hulle op aarde gedra het. Hulle kan steeds praat en dink.

En hulle bly volop by God se wêreldwye werk betrokke.

Johannes vertel mos dat hulle saam met Christus mag regeer.

En daaruit mag ons maar rustig aflei dat die wat die hemel ingegaan het, regtig nie die aarde uit die oog verloor nie. Die hemel is glad nie die plek van volmaakte rus soos wat talle mense dink nie. Die hemel is Christus se regeringssentrum. En soos Christus na sy hemelvaart nie die rug vir die aarde gedraai het nie, maar vanuit sy hemelse troonsaal die geskiedenis op aarde begin regeer het, so mag die ontslape gelowiges Christus se regering van die aarde meebeleef. Hulle het 'n plek gekry in die krisissentrum.

Ek weet nie of hulle ons hier op aarde almal persoonlik kan sien en ken nie. Ek weet wel dat hulle 'n baie breër blik as vroeër op aarde gekry het. Hulle stel nie meer die meeste belang in hul eie klein familie- en vriendekring nie. Hulle het nie meer net 'n oog vir die moeites en probleme binne hul eie gemeente nie. Hulle weet nou hulself betrokke by Christus se wêreldwye werk van kerkvergadering. Hulle is nie tevrede met hul eie hemelse heerlikheid nie, maar hulle verlang na die heerlikheid van die ganse kerk. Hulle besef nou eers reg wat die gemeenskap van die heiliges beteken en hulle sien uit na die dag dat alle lede van Christus se liggaam vir goed by hul Hoof Christus sal wees. Hulle leef saam, hulle bid saam en hulle sien hoedat ons Here Jesus Christus met 'n groot haas sy terugkoms voorberei.

Maar dan het 'n mens in die hemel mos nog geen rus nie, dink u dalk. Dan is daar steeds spanning en verdriet.

Dis reg, ja. Die rus wat God se kinders na hul sterwe ontvang is slegs die rus van hul éie lewensstryd en lewensmoeites. Die stryd teen die sonde, teen kleingeloof en twyfel is vir hulleself klaargestry. Hulle het in die hemel boonop die rus dat hulle nou met eie oë mag sien hoedat die leiding van die geskiedenis veilig en Christus se hande lê. Maar hulle het terselfdertyd geen rus voordat die duiwel definitief oorwin en die kerk na die volmaaktheid gelei is nie.

Dit vertel God se Woord oor die lewe anderkant die dood, gemeente. Om u te troos m. b. t. die geliefdes wat u reeds oor die grens van die dood sien verdwyn het.

Hulle is steeds aktief by u betrokke.

Maar die Bybel vertel dit ook om u te troos m. b. t. u eie sterwe wat eendag gaan kom, as Christus nog nie terug is nie.

Die tyd kom vir ons almal dat ons die krag van die dood aan ons lewe voel knaag. Jy word oud, of skielik siek, jy voel hoedat jou kragte afneem, jou bewegingsruimte word beperk, jy raak aan huis gebind, aan jou stoel en op die ou end aan jou bed. Hoe hopeloos kan 'n mens homself dan voel. Uitgeskakel. Jy kan mos niks meer vir jou kinders en kleinkinders doen nie. Jy sien hoedat hulle in 'n gevaarlike wêreld opgroei, en nou moet jy hulle loslaat. Jy kan niks meer vir die kerk beteken nie.

Maar dan troos God se Woord: u kan ook na u dood nog baie vir u familie, vir Christus se kerk beteken. Wanneer Christus u net-nou van u aardse pos kom ontslaan, het Hy alreeds 'n troon vir u in die hemel gereedstaan. En vanaf daardie heerlike plek, naby u Here, mag u bly meeleef en met die wêreld, met die kerk, met u familie. U priesterdiens vir God en sy kerk is na u dood nie verby nie. Kyk maar Openb. 20: 6.

U word maar net verplaas na 'n ander deel van Christus se Koninkryk, regstreeks na die regeringssentrum, en waar kan u beter meeleef as daar?

Salig is dié wat deel het aan hierdie eerste opstanding, sê die Bybel. Maar dit is dus slegs hulle wat die getuienis van Jesus en die Woord van God geglo en bewaar en uitgedra het tydens hierdie lewe. Dit is slegs hulle wat die goddelose dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merkteken nie op hulle voorkoppe ne op hul hande wou dra nie. Dit is slegs die wat hulle deur die lewendmakende Gees van die Here Jesus Christus laat lei het; wat tot in die dood getrou was.

Hul dood sal hul eerste opstanding wees.

2. En dan het ook die tweede dood oor hulle geen mag nie.

Want die verblyf saam met Christus in sy regeringssentrum is natuurlik maar net 'n tussentyd. Die einddoel is die tweede opstanding.

En dié sal kom wanneer die periode wat in Openbaring 20 omskrywe is as "duisend jaar" volgemaak is. Dan word die duiwel uit sy tronk losgelaat en van sy ketting bevry. Maar dit sal maar net 'n skynverlossing wees. Want hy kry slegs die geleentheid vir 'n laaste stuiptrekking en word dan in die poel van vuur en swawel gewerp. En daarmee het hy sy rol vir ewig klaargespeel.

Dit is die teiken waaraan Christus vandag in die hemel werk en waarna talloos veel kinders van God wat alreeds gesterf het, saam met Hom in die hemel uitsien.

Al hoe luider klink die roep van die siele in die hemel: "Hoe lank nog, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? ". Daardie roepers moet eendag tot rus gebring word. En dan kom die tweede opstanding waardeur Christus die lewe hier op aarde in sy volle luister sal herstel.

Daarvan vertel Openbaring 20: 11-15. Die dag sal kom waarop Christus sy regterstoel sal neersit en alle dooies opwek uit hul graftes orals in die wêreld, selfs uit die see. Dan sal die onvoorstelbare wonder gebeur dat Christus die vryspraak van ons skuld beseël deur die boeke oop te maak, dit wil sê: deur die bewysstukke van ons lewe-in-geloof op die tafel te lê, waarna Hy die mag van die dood vir altyd van die aarde af wegvaag. Dan kry ons nuwe liggame uit dieselfde grond waarin ons ou liggame begrawe en verteer was. Ons kry 'n verheerlikte liggaam soos Christus. Dit is 'n liggaam waarin die Heilige Gees van Christus voortaan 'n volmaakte beheer het sodat daar nooit meer plek vir die sonde sal wees nie.

En God vee alle trane van die oë af. Alle eensaamheid is oorwin. Alle stremmings van liggaamlike en geestelike aard het verdwyn. Die kreupele loop nou self en die blinde benodig nie meer iemand wat hom lei nie.

Die hele skepping met sy oorloë en aardskokke, met omgewingsbesoedeling en ongelukke, word weer met God versoen. Leeu en lam het dieselfde lêplek, Xhosa's en Zoeloes woon in vrede bymekaar, in Noord-Ierland sal daar nooit weer 'n bom ontplof nie. Die woestyne word 'n blommetuin en die paradys herower die aarde. Want God sal woon by die mens.

Sal ons mekaar dan herken van vroeër, gemeente?

In die gelykenis wat die Here Jesus vertel het oor die ryk man en die arm Lasarus, herken daardie twee mekaar na hul dood selfs in weerwil van die feit dat Lasarus in die hemel mag wees en die man wat vroeër ryk was, in die hel gewerp is. Sal twee kinders van God op die nuwe aarde, mekaar dan nie kan herken nie? Lasarus bevind hom in daardie gelykenis boonop in die skoot van Abraham. Mens mag dan tog aanvaar dat hy geweet het wie Abraham is?

Ja, waarom sou ons mekaar skielik nie meer herken nie? Waarskynlik ken ons mekaar dan beter as wat ons mekaar hier op aarde ooit geken het. Dalk beskik ons dan oor die gawe wat vandag net aan 'n enkeling gegee is: die gawe van die heldersiendheid sodat ons selfs mekaar se gedagtes kan lees. In ons verkeer met mekaar vandag, as sondige mense, is dit nie lekker as iemand anders selfs jou gedagtes kan lees nie. Ons het so baie vir mekaar om weg te steek! Maar in daardie nuwe lewe sonder sonde sal die kommunikasie gesuiwer wees en kan die lees van mekaar se gedagtes die verkeer alleen maar verryk.

Ons sal nie net ons familie en vriende van vroeër herken nie. Ons het geleer om al God se kinders as broeders en susters in die gemeenskap van die heiliges lief te hê. Ons leef nie meer in die klein verbande van vroeër nie, maar in die een groot verband van God se huisgesin waarvan Christus die middelpunt vorm. Ons leef saam met Sara en Ruth, met Moses en Hiskia, met Maria en Priscilla, met Augustinus en Calvyn, met daardie kind wat so jonk nog gesterf het en die broeder met wie ons in hierdie lewe 'n hele ruk in onmin geleef het.

Ons kan nie meer sonder mekaar nie, want ons Hoof Christus het ons as een liggaam onlosmakelik aan mekaar verbind. Een liggaam, geregeer deur die een Gees van Christus.

Wat alles ons dan gaan doen?

Ek weet nie, broeders en susters. Daarvan vertel nie Bybel nie so veel nie. Gaan ons nog steeds aan om die aarde verder te ontwikkel? Sal ons ook dan nog nuwe skatte uit God se skepping tevoorskyn haal? Dit sou nie onmoontlik wees nie, want daar is mos geen einde aan God se mag nie.

Of ontvang ons 'n ewige lewe die tyd om van die rykdom van God se gesuiwerde skepping te geniet? Mag ons in vliegtuie en ruimtetuig die verste uithoeke van God se wêreld bewonder? Sal ons Johann Sebastian Bach self hoor orrelspeel?

Ek weet nie.

Slegs dit vertel die Skrif, dat ons geen oomblik meer net aan onsself sal dink en met onsself sal besigwees nie, maar dat ons eindelik weer sal wees soos Adam was in die Paradys: mense wat in alles hul God en Vader soek en loof en prys. En ons het veel en veel meer redes om te loof en te prys as Adam: nie net oor God se Skeppingswerk nie, maar nog veel meer oor sy Verlossingswerk.

As ons vandag met verloste oë in God se skepping rondkyk en as ons vandag die wonder van God se genade in ons lewe opmerk, is ons alreeds ontroerd van verwondering. Hoe groot moet dan eendag ons vreugde en verwondering wees! Ons benodig dan ook regtig 'n éwige lewe om die HERE daarin ewig te kan loof en prys.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)