PREEK OOR SONDAG 38 HK
LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 81: 1, 4, 6
Gebed
L. Exodus 31: 12-18 & Esegiël 20: 5-20
Ps. 81: 11, 13, 15
Prediking
Ps. 100: 2, 3
Geloofsbelydenis
Ps. 100: 1, 4
Gebed
Kollekte
Ps. 92: 1, 2, 3
Wat is die Sondag vir u, broeders en susters?
'n Feesdag, of 'n verveeldag?
Daar is baie kinders van die HERE vir wie die Sondag 'n taamlik vervelige dag is. Hulle voel hul op daardie dag opgesluit, ingeperk. Jy mag mos op die Sondag allerlei dinge nie doen nie wat jy die res van die week wel doen.
Dit kan die gevolg daarvan wees dat hulle, en waarskynlik ook alreeds hul ouers, by 'n negatiewe invulling van die rusdag bly staan het. Ek bedoel met "negatiewe invulling" dat ons wel weet, en daar met mekaar oor stry en die dominee daarna vra tydens die katkisasieklas, wat jy op die Sondag alles nié mag doen nie: nie sport beoefen nie, nie na die radio luister en na die televisie kyk nie, vroue en dogters mag geen naaldwerk doen nie..... Maar wat ons op die Sondag dan wél mag doen? Op dié vraag weet ons nie eintlik 'n positiewe en bevredigende antwoord te gee nie.
Jy gaan twee keer kerk toe, maar verder? Moet jy die res van die dag maar net bietjie lees en slaap?
Dan is dit begryplik dat die Sondag 'n verveeldag word; 'n lastige onderbreking elke week weer van ons lewensritme.
Die vrye Saterdag, of 'n af dag soos Krugerdag of Republiekdag is feitlik baie lekkerder.....
As ons só die rusdag ervaar, het ons ver verwyder geraak van God se positiewe bedoeling met die sabbatdag. Hierdie spesiale dag van die week is nie bedoel as 'n weeklikse versteuring van ons lewensritme nie- dié een dag elke week moet juis ons hele lewensritme bepaal.
Die Sondag moet nie 'n aparte dag, anders as al die ander dae, in ons lewe wees nie. Maar soos daardie een dag, so moet eintlik al die dae van ons lewe word.
Die Sondag is nie 'n dag waarop ons opeens niks meer mag doen nie. Dit is juis 'n dag waarop ons eindelik weer eens in alle rus dit kan doen waaraan ons die ander dae van die week veels te min toe kom.
Ek verkondig u vanaand:
DIE RUSDAG IS DIE FEESDAG VAN DIE VERBOND MET DIE HERE
ONS ONTVANG OP HIERDIE FEESDAG
- 'N HERINNERING AAN DIE OU PARADYS
- 'N VOORSMAAK VAN DIE NUWE PARADYS
1. Wie die bedoeling van die sabbat wil verstaan, moet na die Paradys teruggaan. Ja, na die eerste week van ons geskiedenis. Toe alreeds het God dié spesiale dag ingestel. Die teks van die Vierde Gebod in die Wet herinner nadruklik daaraan: "Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is; en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig".
Die eerste week van ons geskiedenis was vir God 'n week van werk. Hemel, see en aarde het onder sy hande tevoorskyn gekom soos 'n pragtige kunswerk. Met alles daarop en daaraan en daarin: land en see, son, maan en sterre, bome en blomme, voëls en visse, goggas en donkies en op die sesde dag die kroon op die werk: die mens.
Maar na daardie sesde dag het die HERE nie dadelik weer by een begin tel om 'n nuwe week te begin nie. Hy het aan die sesdaagse werkweek nog een dag toegevoeg, wat Hy sabbat, rusdag genoem het. En dié dag het eers die voltooiing van die skeppingsweek beteken, vertel Genesis 2
Was dit 'n ekstra dag om bietjie asem te skep? Was God moeg van die ingespanne werk?
Maar broeders en susters, die HERE slaap of sluimer mos nooit, sê Psalm 121. En watter inspanning was daar vir Hom in die skeppingswerk? Hy het gespreek- en dit was daar.
Nee, God het op Goddelike wyse gerus. Nie as een wat moeg is nie, maar as een wat voldaan die voltooide werk in oënskou neem. God het 'n spesiale dag daarvoor geneem om daarvan te geniet dat sy skepping heeltemal klaar was. Vergelyk die Nederlandse Geloofsbelydenis in art. 2 die resultaat van God se skepping nie met 'n pragtige boek nie waarin alle skepsele, groot en klein, die letters is wat sy ewige krag en goddelikheid, sy wysheid en rykdom van gedagtes tot uitdrukking bring?
God wou self as eerste die boek van sy skepping 'n keer rustig bekyk en bewonder. En God was baie tevrede: dit was baie goed. Feitlik was die Skepper dus baie tevrede oor Homself. Hierdie hele wêreld is mos die ene blyk van sy almag en wysheid.
Met dié doel het Hy die wêreld ook tot lewe geroep. Tot meerder glorie van Homself! Die skepping was vir Homself een groot fees.
Maar dan betrek die HERE ook die mens in sy sabbatviering. Hierdie skepsel wat deur God as sy eie kind geskep is, moet, saam met God, 'n dag lank die boek van God se Skepping deurblaai. God het Adam en Mannin saamgeneem op 'n wandeling deur sy hof en alles aangewys: die skitterlig van die son met sy warmte, die massiewe rotse van 'n berg, 'n oog waaruit helder koel water opborrel, die wonderlike struktuur van 'n blom, die georganiseerde gekrioel van die miere, 'n rondfladderende skoenlappertjie, die lang kameelperd en die groot olifant...
En toe kon God se kind, diep beïndruk, maar net tot die selfde gevolgtrekking soos sy hemelse Vader kom: dat alles baie goed is; en dus: dat God baie goed is!! Ook vir die mens was dit een groot fees om in hierdie indrukwekkende wêreld van God te mag lewe en werk, ja, om met hierdie indrukwekkende God te mag lewe en saamwerk.
So het God daardie eerste sabbatdag ook uit mensemonde die eer en die waardering en bewondering vir Hom, hul Skepper en Vader gesoek! En Hy het dit ruimskoots ontvang.
Dit beteken dit ook as ons in die teks van die Vierde Gebod lees dat die HERE die sabbatdag "geheilig" het: God het hierdie dag spesiaal bestem tot die verheerliking van Homself. Op hierdie dag moes die mens daarvan deurdronge raak van die grootheid van die God wat sy Vader wou wees en met Wie hy voortaan as kind mog saamlewe.
Hierdie feesdag waarmee sy lewe mog begin, het vorentoe gesmaak.
Ons weet nie of die HERE na daardie eerste sabbat al dadelik elke week opnuut die mens die sabbat laat vier het nie. Ons weet ook nie of na die sondeval die sabbat gevier is deur Adam, Seth, Noag, Abraham en so meer nie. Dit word uit God se Woord nie mooi duidelik nie.
Ons weet wel dat die mens deur die sondeval die fees van die sabbat verspeel het. Die mens het mos sy eie besigheid begin. Hy wou sy eie wêreld en sy eie toekoms gaan bou, onafhanklik van God. Hy het sy eie eer gaan soek.
Maar daarmee het hy die fees van die lewe saam met God verspeel en God se vloek oor die skepping gehaal. Pleks van 'n vry en bly kind van Vader in die hemel, het hy 'n beklaenswaardige slaaf van sy eie hoogmoed geword. 'n Slaaf wat nooit meer egte rus vind nie, maar aanhoudend moet swoeg en sweet. Die skepping van God lewer vir hom nie meer net skatte op nie, maar ook dorings en distels, ongelukke natuurrampe, siektes en aan die einde van die dag die dood.
Dit moet u besef, gemeente; dan verstaan u ook hoe groot God se genade is dat Hy ons nogtans vandag weer oproep om saam met Hom 'n rusdag te vier.
Die HERE het na die sondeval nie die Paradys vergeet en losgelaat nie.
Die HERE het nie die mens aan sy hoogmoed en selfsug prysgegee nie. Maar Hy het aan die verlossing van die lewe en die terugkeer van die Paradys begin werk.
En dit was 'n groot moment toe die HERE die sabbatdag weer ingestel het deur eiehandig op 'n kliptafel te skrywe: "gedenk die sabbatdag dat jy dit heilig... ".
Dit was nadat God Israel weggeroep het uit die slawerny. Daardie slawerny was veel meer as net die slawediens aan die Farao. Ons het in Esegiël 20 gelees dat Israel daar in Egipte ook verslaaf was aan die verfoeisels en drekgode van daardie land, soos die HERE dit noem. Die tirannie van die afgodediens het hul lewe in sy dodelike greep gehad. Die lewe in Egipte was die teenoorgestelde van die lewe in die Paradys.
Maar God haal hulle daaruit. Al is hulle ook glad nie gewillig om saam te gaan nie. Net in sy genade en vanweë die eer van sy Naam neem Hy hul saam.
En dan noem God in die woestyn daardie wederstrewige volk weer sy kinders. En Homself hul Vader.
Hy reël ook die hele lewe weer volgens sy ou Paradyswet: die lewe moet voortaan weer vol liefde vir Hom, hul hemelse Vader en vir mekaar as broeders en susters wees. In Tien Gebooie word dit deur die HERE gekonkretiseer. Met daarby allerhande aanvullende bepalings om van die lewe weer die ene erediens vir Hom te maak. Want Hy het hulle nie uit die slawediens bevry om hulle nou die reg van selfbeskikking te gee nie. Erediens moet die plek van die slawediens gaan inneem. Hom weer eer- slegs dit sal die lewe weer tot 'n fees maak.
Maar dan word daardie hele reeks bepalings m. b. t. die erediens afgesluit met 'n ekstra herinnering aan die sabbatgebod, gemeente: Eksodus 31.
Israel moet nou elke week 'n dag lank alle geswoeg en gesweet wat daar as gevolg van die sonde gekom het, nalaat en, net soos die mens aan die einde van die skeppingsweek, net besigwees met die feit dat die God van die hemel en die aarde hul Vader wil wees. 'n Dag lank hulle verwonder oor die werk van sy hande- skeppingswerk, maar nou ook verlossingswerk. En Hom eer oor sy grootheid en goedheid.
"'n teken" noem die HERE die sabbat: "'n teken tussen My en julle". Hierdie dag wat voortaan weekliks gevier moet word, sal die sigbare bewys wees van die verbond tussen God en Israel, die bewys dat Israel met die HERE weer mag lewe soos in die Paradys.
Daardie weeklikse feesdag sal van God se kant af 'n demonstrasie vir sy volk en die hele wêreld wees van sy genade oor Israel. Hulle mág weer as God se kinders lewe! Hulle kán dit ook weer, ten spyte van al die sondigheid wat daar in hul lewe is. "Want Hy, die HERE, is dit wat hulle heilig. "
So sê die HERE dit in Eksodus 31, en ons het dit ook in Eseg. 20 gelees. Opnuut klink daar die woord heilig. Die HERE bedoel: Dis nie aan julle self te danke dat julle weer as My kinders mag lewe nie. Julle kan en wil mos nie meer alleen tot my eer lewe nie. Nee, Ek het julle weer na My toe teruggeroep, Ek het Self julle lewe weer tot 'n erediens gemaak en sal dit vorentoe bly doen.
God bepaal Israel deur die sabbat dus weekliks by die wónder van die verbond.
Tegelyk moet die viering van die sabbat van Israel se kant af 'n demonstrasie aan God en aan die hele wêreld wees: ons soek weer die lewe buite onsself, by God. Ons het in onsself geen lewe nie. Ons was slawe. Maar ons mag weer kinders wees en ons wíl ook weer kinders wees. Ons leef nie meer vir ons eie plesier en tot ons eie eer nie. Ons wil weer leef tot eer van die HERE. Want Hy alleen maak van die lewe 'n fees. Hy alleen skenk rus.
So het God die sabbat teruggegee in 'n sondige wêreld. Om weer iets van die Paradys hier op aarde terug te kry.
U kan dan ook verstaan, gemeente, dat 'n skending van die sabbat vir die HERE nie minder nie as 'n skending van die verbond beteken het. Hoe verontwaardig klink die verwyt van die HERE in Eseg. 20 dat Israel selfs die sabatte ontheilig het. Die sabbat was mos die weeklikse waarborg van God se goedheid oor hul lewe! God wou die Paradys in hul lewe teruggee. Maar hulle is so dwaas en so kortsigtig om selfs die God van die Paradys te verwerp!
2. Toe die Israel die sabbatsgebod verwerp het, het hulle Christus verwerp, broeders en susters. Die sabbat was mos die teken dat die HERE Self sy volk wou heilig. Maar daardie heiliging sou nooit volkome kon word solank die sondes nie volkome versoen sou wees nie. En daardie versoening sou eers deur God se eie Seun uit die hemel kon bewerk word.
Daarom was die sabbat aan die einde van elke week 'n skaduwee van Christus, soos Paulus dit in een van sy briewe genoem het. Christus het sy skaduwee alreeds vooruitgewerp in die sabbatsviering. Daardie rus- en feesdag aan die einde van elke werkweek het die belofte ingehou van die totale verlossing in 'n nuwe Paradys deur Hom.
Ons weet inmiddels dat ons Here Jesus Christus die volkome versoening van ons sondes by God bewerk hét. Hy het in ons plek soos 'n Paradysmens hier op aarde gelewe en dag vir dag as Kind sy Vader geëer en bewonder. Hy het die ondraaglike straf oor ons verbondsontrou gedra. En 'n nuwe en beter verbond met God moontlik gemaak. Hy het die nuwe Paradys moontlik gemaak.
En daardie nuwe lewe met God het Hy begin ontsluit op die eerste dag van die week toe Hy uit die graf opgestaan het.
Dis hoekom sy kerk op die daad die eerste dag van die week voortaan tot die feesdag van die verbond gemaak het. Ons hoef nie meer na die verlossing toe te lewe soos onder die ou verbond en daarom ons werkweek met 'n rusdag eindig nie. Ons mag elke week vanuit die verlossing ons werkweek begin.
Want danksy Christus se versoeningswerk lê die lewe weer oop vir ons en proe ons alreeds die voorsmaak van die nuwe Paradys.
Hierdie wêreld kan weer ons tuiste wees. Die blomme in ons tuin geur vir ons weer soos die tuin van Eden. Ons hoor in die gesang van die voëltjies weer die loflied op ons Skepper en Vader en ons val met ons eie loflied in by daardie koor.
Elke nuwe môre sien ons Vader se goedheid oor ons lewe in die nuwe sonlig en die kos op ons bord.
En selfs natuurrampe en ongelukke en oorloë verskrik ons nie meer nie, want dit is die voorbodes van die totale verlossing wat Vader voorberei.
Ons mag weer aan die werk in Vader se wêreld.
En ons mag weet dat ons inspanning, hoe gering en hoe eenvoudig ook al, nie sinloos en doelloos is nie, maar deur Vader ingeskakel word by die voltooiing van sy skepping. Van onsself is ons volkome onbruikbaar, maar Christus se Heilige Gees wy ons lewe weer aan Vader toe en maak ons weer produktief vir Hom en sy Koninkryk.
En terselfdertyd hoef ons nooit meer slawe van ons werk en van die maatskappy te wees nie. Ons hoef nie meer te leef in die krampagtige spanning dat ons sélf 'n lewe en 'n toekoms moet opbou nie. Vader sal sy en ons toekoms wel bou!
En hoeveel ons ook struikel, tekortskiet en sondig- ons mag altyd weer opstaan en aangaan en weet dat al ons sondes klaar vergewe is om Christus ontwil.
Christus laat ons ook leef in 'n gemeenskap van heiliges: almal kinders van God, broeders en susters van my wat saam met My deur God geheilig is om weer met Hom te lewe. Ek staan nie alleen in hierdie wêreld nie. God het My in 'n kerkgesin geplaas waar ek baie liefde en meelewe, steun en bemoediging ondervind. Nie alleen met woorde nie, maar ook met die daad.
En kyk, gemeente, by dit alles laat die HERE ons nou elke Sondag 'n dag lank spesiaal stilstaan. Om die hele lewe die ene fees te laat wees, laat Hy ons elke week met 'n spesiale feesdag begin.
Hy dwing ons om nie in 'n groef te raak, kortsigtig te word en tog weer 'n slaaf van die sonde, van onsself van ons huishouding, van ons eie planne en besighede te word nie. Hoe maklik word ook ons weer mense by wie alles draai om geld en geldverdien, om eer en hoë slaagsyfers.
Op die Sondag roep God ons daarvan weg en bepaal Hy ons weer heel nadruklik by die glans van sy genade oor ons lewe sodat ons ons daarin sal bly verheug.
Hy roep ons saam in sy huis en begroet ons met sy genade en vrede. Hy herinner ons in sy Verbondswet aan die suiwere Paradysklimaat. Hy hou sy Evangelie van verlossing aan ons voor en korrigeer deur sy Gees ons kortsigtighede en dwalings. Hy gee ons die geleentheid om al ons node en moeites, ons stryd en spanninge in die gebed aan Hom voor te lê en in ons Psalms uit te sing....
So is die rusdag vandag steeds van sy kant 'n teken tussen hom en ons dat Hy vir ons weer die God van die Paradys wil wees.
Maar daarom wil Hy ook hê dat ons onderhouding van die rusdag ook 'n teken van ons kant af vir Hom is. Ons moet in ons sondagsviering nou ook wys dat ons die lewe nêrens anders meer soek as by Hom nie.
Hy moet dit nou ook aan ons kan agterkom, ja, die hele wêreld moet dit aan ons kan agterkom dat ons ons lewe elke week opnuut by die HERE begin.
Dus moet ons elke eerste dag van die week duidelik afstand neem van al die spanning en onrus waarmee die ander dae van die week meestal maar gevul is.
Dit beteken: geen werk aanvaar waarin hulle van jou verwag om ook op die Sondae nie noodsaaklike werk te verrig nie.
Maar ewegoed: nie nog gou 'n bietjie na jou huiswerk kyk nie, nie nog gou 'n paar saaklike telefoongesprekke voer vir jou besigheid of 'n paar papiere inkyk nie. Maar heerlik ontspan en geniet van die feit dat ons geen slawe van die skool of van ons besigheid is nie, maar kinders van God. Sal julle, seuns en dogters, dan ook 'n bietjie aan julle ma dink? Sy moet ook haar sondagsrus kry. Dit mag nie so wees dat sy op die Sondag bykans nog harder moet werk as die ander dae van die week nie!
En waar kan ons die rus en die versoening met God beter beleef as in die Kerk?
Die HERE roep ons elke Sondags kerk toe om onder die Woordbediening te wees en met oop ore en oop harte die Evangelie in ons op te neem. Ons moet ons geloof laat versterk deur die sakramente en saambid met die gemeente wanneer ons onsself in die diens van die gebede totaal aan die HERE uitlewer.
Ons moet ons hart lê in die lof- en smeek- en boetepsalms wat ons saam laat opklink vir Hom.
En ons moet met 'n liefdevol hart rojaal ons deel bydra in die kollekte om die gemeenskap van die heiliges ook daarmee instand te hou.
Ons moet ook saam daarvoor sorg dat die Evangelie van God se genade bly klink in hierdie wêreld. Ons moet die opleiding tot die diens van die Woord instandhou en daarvoor sorgdra dat daar jongmanne is wat hulle aan daardie skool wil laat vorm tot bedienaar van God se Woord. Deur daardie Woordbediening bewerk God mos die verlossing en heiliging van ons lewe!
Ons moet ook ons kerklike bydrae ruimskoots betaal en daarvoor sorg dat die FK nie aanhoudend hoef te sukkel om ons kerklike lewe draaiende te hou nie.
In dit alles moet ons vir die HERE, maar ook vir die wêreld rondom ons wys dat daar vir ons geen lewe meer moontlik is buite die verbond met ons God nie.
Mag ons op die Sondag ook geniet van die natuur en van spel en sport?
Hoekom nie? Natuurlik mag ons juis ook op die Sondag God se wonderlike natuur intrek en weer onder die indruk raak van dié werk van sy hande. Natuurlik mag ons en ons kinders saam plesier maak met 'n bal of iets dergliks. Maar al ons besigwees op die Sondag moet hierdie doel hê: dat ons saam in die gemeenskap van die heiliges ons weer besin op die fees van die verlossing van ons lewe.
Kinders vra tydens die katkisasieklas soms: Maar as ek my nou verveel, hoekom mag ek dan nie dit of dat gaan doen nie...?
En dalk vra grootmense hulself ook wel eens die vraag af.
Maar broeders en susters, bly daar ooit tyd op 'n Sondag oor om ons te verveel??
Hoeveel agterstand het ons in kennis van die Skrif, van die Belydenis, van die Kerkgeskiedenis, omdat daar in die week so min tyd oorbly om daaraan aandag te gee! Wat lees ons maar min opbouende lektuur, want ons is so besig!
En praat ons in ons gesinne nie veels te min met mekaar oor die lewe met die HERE, oor die probleme in die opvoeding van ons kinders nie, want daar is soveel dinge wat ons aandag in beslag neem.
En hoeveel daadwerklike aandag bestee ons aan ons broeders en susters in die gemeenskap van die heiliges?
Op die Sondag roep die HERE ons weg uit al daardie ander dinge, sodat ons juis vir hierdie tipe van dinge eindelik weer eens tyd sal hê.
Sodat die lewe 'n fees sal bly waarin Hy met sy verlossing sentraal staan.
Ons moet op die Sondag die styl telkens weer leer waarvolgens ons al die dae van ons lewe moet lewe: die styl van die kind van God. Die styl van 'n Paradysmens. Ons moet die rus en die glans van God oor ons lewe ook nie dadelik op Maandagoggend weer vergeet nie, maar dit saamneem ons werkweek in. Tot saterdagaand toe.
En as u agterkom dat u van Maandag tot Saterdag so besig is dat daar skaars tyd oorbly vir die luister na God se Woord, die besigwees met die diens van die HERE, die christelike opvoeding van u kinders, word dit regtig tyd vir besinning. Leef u nog wel as 'n kind van die HERE? !
Ons hele lewe moet regdeur die week vol wees van die voorsmaak op die nuwe Paradys word. 'n Begin van die ewige sabbat.
En nou vra ek nogmaals: is die sondag vir u 'n feesdag of 'n verveeldag?
Indien dit 'n verveeldag is- is die lewe in die verbond met die HERE op die ander dae van die week dan nog wel 'n fees vir u? Of is u besig om weer 'n slaaf te word?
AMEN
[Ds FJ Bijzet]
(kyk in preek)