Jy mag nie doodslaan nie!

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 40
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 40 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 15: 1, 3
Gebed
L. Matt 5: 21-24 en 38-48
SB.16: 6, 7, 8
Prediking
Gesonge geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
SB.21: 5, 6

Broeders en susters,

Wie bekreun hom vandag nog om die woord van God se Wet: "Jy mag nie doodslaan nie"?

Moord en doodslag is mos aan die orde van die dag.

Ons wêreld is vol haat en geweld. In een en dieselfde land moor mense mekaar uit in 'n burgeroorlog, gooi mense mekaar van 'n rydende trein af of skiet mekaar in roofaanvalle.

Ons is as mense nie veilig vir mekaar nie.

Ons benodig hoë hekke om ons huise. Die regering moet omheinings om hostelle plaas. Mense moet weggesluit word in tronke agter tralies.

Maar selfs daardie tralies en heinings bied onvoldoende beskerming teen die aanvalle op jou lewe deur jou naaste.

Selfs binne die tralies van 'n tronk kry gevangenes dit reg om 'n medegevangene dood te maak.

Selfs binne omheinde hostelle vermoor die bewoners mekaar.

Ja, binne die hekke wat hulle om hul huise plaas en binne die veilige mure van hul woonvertrekke vermoor mense mekaar nog. Mans skiet hulle vrou en kinders, vroue wreek hulle op hul mans, swart bediendes word verkleineer en uitgebuit.

'n Mens is deesdae selfs in 'n hospitaal jou lewe nie meer seker nie. Kwesbare klein kindertjies wat hulleself nie kan verdedig nie, word al voor hulle geboorte doodgemaak in die moederskoot. Hoogbejaardes wat ernstig siek is, en wat deur die dokter of die familie nog maar net as 'n las beskou word, word met 'n inspuiting uit die weg geruim.

En is dit in óns huis so veel beter, broeders en susters? Nee, dit gebeur gelukkig selde of nooit dat ons van mekaar moet hoor dat iemand sy vrou of sy kinders aangerand of selfs vermoor het nie.

Maar hoe dikwels verwond ons mekaar, met woorde, met blikke wat kan doodmaak, met lyfstraf wat nie in selfbeheersing nie, maar in drif gegee word?

Ook in ons huise gebeur dit dat mans hulle vrouens deur owerspel en egskeiding so seermaak dat hulle inwendig die merke daarvan die res van hulle lewe moet saamdra.

Ook binne die veilige beskutting van 'n Gereformeerde Laerskool gooi kinders met klippe na mekaar of kom mekaar met die vuiste by?

En hoe veilig is ons vir mekaar in die kerk? Selfs daar waar elke Sondagoggend die woorde van God se wet klink: "Jy mag nie doodslaan nie", gebeur dit dat mense mekaar die lewe moeilik maak, deur iemand te beswadder, deur iemand opsetlik nie meer te groet nie, deur konflikte jare lank te laat voortsleep.

Die mens is nie eens veilig vir homself nie. Hy speel dikwels roekeloos met sy eie lewe. En as hy nie meer lus is vir die lewe nie, beneem hy homself die lewe.

Ons mense vorm 'n aanhoudende bedreiging vir onsself en vir mekaar. Die menselewe is by die mens self nie in goeie hande nie.

Want die mens het van sy hart 'n moordkuil gegemaak. Diep in elke mensehart skuil daar 'n onberedeneerde haat teen God, en daarom ook teen die naaste.

Die mens wil aan God gelyk wees. Die duiwel het hom wysgemaak dat dit moontlik is. Die mens wil dus eintlik sélf God wees en God die HERE nie langer bo hom aanvaar nie.

Hy wil nie eers meer 'n medemens lángs hom aanvaar nie. Die mens het so selfgesentreerd geraak dat hy sy medemens as 'n lastige mededinger ervaar. Ja, eintlik as 'n vyand. Dus hou hy sy medemense op 'n veilige afstand, en as dit nie werk nie ruim hy hulle uit die weg. Daarvoor is die dood die mees definitiewe oplossing.

In hierdie wêreld vol geweld van die een mens teen die ander klink God se gebod: "Jy mag nie doodslaan nie!".

God lê hom by ons moordsug nie neer nie. Hy gee ons nie aan mekaar se gewelddadige hande oor nie.

Hy plaas met sy wet 'n sekuriteitshek om die lewe van elke mens.

Soos ons bepaalde diere tot beskermde diersoorte verklaar, het God sy mens tot "beskermde skepping" verklaar. Hy het die mens eendag na sy beeld en gelykenis geskep. En al lyk die mens ook glad nie meer op daardie gawe eksemplaar uit die Paradys nie, kan God daardie goeie begin nie vergeet nie. Hy het nog planne met sy skepsel mens. Hy wil na die Paradys toe terug.

Dis dié dat Hy 'n bord by ons medemens geplaas het en elkeen gebied om sy hande tuis te jou.

Hy het ook 'n owerheid ingeskakel wat mag ingryp as iemand dit waag om daardie bord te negeer en deur die omheining van sy wet heen breek. Dan is daar 'n polisie en 'n justisie wat aantasting van die medemens met 'n regverdige straf mag bestraf. Hulle mag doodslag selfs met die doodstraf beantwoord.

Maar soos ek reeds gesê het, gemeente: daardie hek van God se wet alleen is nie eers 'n afdoende beveiliging van die een mens teen die ander nie. Want wie in hierdie wêreld bekreun hom om God se verbod? Nog breek mense aanhoudend deur die hek heen en vergryp hulle aan dit wat God wil beskerm.

En die polisie en justisie kan ook nie oral tegelyk wees nie. Hulle kan nie alles sien wat binne die mure van ons huise afspeel nie.

Ja, die owerhede eerbiedig sélf soms nie eers God se verbod om dood te slaan nie. Staatshoofde vermoord soms self in magswellus die onderdane wat hulle moet beskerm. Polisie gebruik onnodige geweld teen mense wat op 'n oortreding betrap is. En pleks dat 'n regering wette om die ongebore en hoogbejaarde en ongeneeslik sieke lewe te beskerm, handhaaf, vaardig hy wette uit waarin die moord op sulke lewens legaal gemaak word.

God se wet alleen is dus nie afdoende om die mense se moordneigings te laat verdwyn nie.

Is daar dan nie 'n enkele middel om die mens se haatgevoelens aan bande te lê nie? Is daar dan nie 'n manier om die mens 'n ander, 'n beter houding teenoor sy medemens aan te leer, sodat hy weer liefde vir die mens as God se skepping voel nie?

Ja, daar is, broeders en susters.

Ons haatgevoelens smelt eenvoudig weg as God ons met sy liefde konfronteer.

Wat sy wet alleen nie kon bewerk nie, kry sy liefde reg.

God kón ons almal doodgemaak het. Soos in die sondvloed.

Hy kon ons ook mekaar laat doodmaak het deur ons aan mekaar se wrede hande oor te gee.

Maar Hy het ons, sy skepsel wat Hy eendag na sy beeld en gelykenis geskep het, so liefgehad dat Hy sy Eniggebore Seun uit die hemel in ons plek doodgemaak het sodat ons deur Hom sou lewe.

Ons het die ewige doodstraf wel verdien. Maar God het Christus dié straf laat dra om sodoende vir ons die lewe terug te verdien. Só lief het God ons!

Ons het vandag daardie beskamende liefde van God aan die Nagmaaltafel gevier.

Ons is weer sigbaar daaraan herinner deur brood en wyn.

Daardie brood en wyn leer ons wat ons lewe vir God werd is: Ons wat mekaar op alle moontlike maniere onteer, haat, beledig en doodmaak met gedagtes, woorde en gebare, verdien dit om almal doodgemaak te word soos Christus aan die kruis doodgemaak is. Ons moes eintlik daar aan die kruis gehang en gesterf het. Ons moes vervloek gewees het. Dit sê die gebreekte brood en die beker met bloedrooie wyn allereers vir ons.

Maar daardie einste simbole sê vervolgens: Nogtans wil God hê ons moet léwe!

So lief het Hy ons lewe. Daarom het Hy sy Seun in ons plek die dood laat sterf. Sodat ons sou lewe.

Brood en wyn is mos lewensmiddele: God sê aan die nagmaaltafel: Neem, eet en drink en lééf!

Eers as hierdie wonderlike liefde van God tot 'n mens deurdring, kry jy 'n ander kyk op die lewe, gemeente. Eers dan begin jy besef wat die lewe God werd is. En wat dit dus ook ons werd moet wees.

Want wie Christus aan die kruis sien hang en bloei het, kan 'n menselewe mos nie langer as waardeloos behandel nie?

Die word inteendeel suinig op die menselewe waarvoor God die hoogste prys wou betaal.

Die word suinig op sy eie lewe. Ek kan tog met my lewe wat vir God so kosbaar is, nie speel nie?

Speel: deur my longe met nikotine te vergiftig; of deur my brein en lewer met alkohol te verwoes.

Speel: deur roekeloos my motor te bestuur en gevaarlike toertjies uit te haal; of deur my maats by die skool my bloedtoevoer na die brein op so'n manier te laat onderbreek dat ek omkap en 'n oomblik my bewussyn verloor.

As jy weet dat Christus ook vir aan die kruis wou sterf, durf jy jou lewe tog nie sommer in eie hande te neem en jouself te skiet as jy nie meer lus vir die lewe is nie?

Die wat Christus aan die kruis sien sterf het, begin tog besef dat selfs lewe wat in ons oë waardeloos is, vir God nog belangrik kan wees?

Maar mag ek dan ongebore babas in die moederskoot laat doodmaak omdat ek die belang van sy lewe nie kan insien nie? Mag ek gestremde en aftakelende lewens beëindig omdat ek in my kortsigtigheid die waarde van sulke lewens nie aanvoel nie. Waarin verskil voor God my lewe van so'n lewe?

Die wat aan die Nagmaaltafel die lewensmiddele uit God se hand ontvang het, kan tog ook nie langer sy broeders en susters langs hom in die kerk partymaal dood wens nie? Hulle het van dieselfde brood geëet en uit dieselfde beker gedrink. God het ook vir hulle gesê: Hier, neem, eet en drink. Ek wil hê jy moet leef

Ja, u, broeders en susters, het self die skaal met brood vir hulle aangereik, en daarna die beker. Met daardie veelseggende gebaar sê ons tog vir mekaar aan tafel: Hier, ék wil óók hê jy moet leef!

Maar dan kan ons tog nie by die uitgaan uit die kerk mekaar ignoreer en weier om te groet nie. Dan kan ons tog nie op die kerkplein mekaar alweer beskinder en beswadder nie?

Dan dwing die konfronfasie aan tafel met Christus ons tog om mekaar te soek en om ou rusies eindelik heeltemal op te ruim?

As ons aan die Nagmaaltafel in Christus se oë gekyk het, kyk ons voortaan by die huis tog ook met ander oë na mekaar? As man en vrou, as ouers en kinders en as kinders onder mekaar? Dan kan ons blikke tog nie langer doodmaak nie? Dan kan ons mekaar tog nie meer woorde toevoeg soos: Ek slaan jou vrek, of: Ek donder jou as jy nie jou bek hou nie?

Ja, as ons aan die Nagmaaltafel gesien en geproe het hoe lief God die menselewe gehad het, kan ons tog nie anders as om ook die lewe van die mense om ons heen in hierdie wêreld lief te hê nie? Selfs al betref dit ons vyande?

Noudat ons geleer het hoe lief God die lewe op aarde gehad het, en dat ook ons van hierdie liefde in Christus mag lewe, wil ons dié liefde tog uitdra in hierdie wêreld en oordra op ons medemense?

So bely 'n mens nou konkreet in die openbaar jou geloof in God en in Christus, gemeente. Deur 'n houding wat die ene liefde uitstraal.

(En nou kyk ek ook spesiaal na julle wat vanaand julle openbare geloofsbelydenis afgelê het. Julle het dit so pas gedoen binne die veilige mure van hierdie kerkgebou. Maar julle belydenis hier moet voortgesit word buite die mure van die kerk) in hierdie wêreld: by julle/u werk, in die hospitaal, in die Universiteit, by Technikon... Almal mag dit nou mos weet dat julle/ons van Christus se liefde leef?

Die mense moet dit egter nie net uit julle/u monde hóór nie. Hulle moet dit ook aan julle/u houding kan agterkom. Hulle moet dit veral hierin agterkom dat julle/u as gevolg van God se liefde vir sy skepsel self ook die ene liefde teenoor julle/u medemense geword het. Geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik. Selfs teenoor mense wat julle die lewe bra moeilik maak.

Christus het ons daarop voorberei dat ons baie van sulke mense sal raakloop. Mense wat jou vanweë jou christen-wees op die wang sal slaan, wat jou goed sal vat, wat jou tot dwangarbeid sal dwing en jou eiendomme sal opeis. Hyself het dit ondervind, sy kerk moes dit regdeur die eeue verduur. Hoekom sou dit jou dan bespaar bly?

Mense kan jou bloed laat kook. En hoe menslik is dit in so'n geval om kwaad met kwaad te vergeld.

Maar die wat Christus bely, moet juis in so'n geval in sy houding wys Wie Christus is- die bewys dat God aan ons kwaad met goed vergeld het. Omdat God nie 'n behae in die dood van mense het nie, maar juis wil hê hy moet leef.

Met dié opdrag stuur God ons vanaand almal weer in die wêreld in, gemeente.

Ons mog saam aan sy tafel sit. Ons mog sy liefde vir mense wat die dood verdien het, proe. Ons mog die lewe wat Christus vir ons terugverdien het, as 't ware weer uit sy hand ontvang.

Ons mag daardie lewe nie net vir onsself hier in die kerk hou nie. God stuur ons daarmee na buite toe, na ons medemense toe. Hulle moet dit weet dat die kerk die enigste plek in hierdie wrede wêreld is waar mense nie agter hekke en omheinings wegkruip nie. Kerkmense kom juis na buite toe en durf hulle kwesbaar op te stel.

Want ons het van ons God 'n lewe ontvang wat niemand ons meer kan ontneem nie. Ons lewe staan onder die direkte beskerming van God wat dit vir 'n hoë prys gekoop het. En hierdie lewe wil ons met ons medemense deel. Juis ook met die mense wat nog deur haat en geweld beheers word. Ons betaal sulke mense nie met gelyke munt nie maar hoop vurige kole op hulle hoofde op. Ons beantwoord hul haat nie met haat en hulle geweld nie met geweld nie, maar ons kry hulle jammer en bid vir hulle. Want ons weet hou benouend hul selfgesentreerde en wraaksugtige lewentjie is. Jy sien alleen nog maar vyande en verraaiers om jou heen en moet jou voortdurend verskans in jou veilige vesting.

Ons is mos self van nature ook maar so.

Maar die HERE het ons uit daardie benoude lewe weggehaal. Hy het ons in die ruimte geplaas.

En ons is agter Hom aan op pad na 'n lewe sonder vestings en loopgrawe, sonder hekke en omheinings toe. Na 'n lewe waarin selfs God se wet nie meer as 'n sekuriteitshek tussen die een mens en sy naaste nodig is nie. Want in daardie lewe dra almal deur die Gees van Christus die negatiewe gebod: "Jy mag nie doodslaan nie" in positiewe bewoordings in hul hart saam: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself". AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)