Die lewe is 'n geskenk van God

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 40
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 66: 1-3
Ps 107: 1, 2
Ps 107: 3, 4
Ps 149: 1-4
Skb 33: 1-3
Lees: Prediker 5: 17- 6: 12
Teks: Sondag 40 HK

Brs en srs, kinders,

Vanoggend bespreek ons die sesde gebod van die Wet van die Here. Jy mag nie doodslaan nie.

As ons nadink oor die betekenis van hierdie gebod vir vandag, dan kom ons onmiddellik op 'n hele paar etiese vrae af.

Vrae oor aborsie - Mag 'n mens ooit die lewe van 'n ongebore kind beeindig?

Vrae oor genadedood- Is daar situasies dinkbaar dat 'n mens iemand wat kennelik aan die einde van sy lewe gekom het maar liewers laat doodgaan, terwyl daar medies gesien nog wel moontlikhede sou wees om die lewe nog vir 'n tydjie te verleng?

Vrae oor oorlogsgeweld- As jy nie mag doodslaan nie kan jy dan wel in 'n oorlog vyande doodskiet?

Vrae oor die doodstraf- Is dit tereg dat aan sommige mense die doodstraf gegee word. Hoe verantwoord jy dit teen oor hierdie gebod?

Dit is nie so moeilik om hierdie vraelys nog 'n bietjie langer te maak nie. Want die sesde gebod is op baie terreine van die lewe van toepassing.

In 'n preek kan geprobeer word om aan al die punte aandag te gee. En dikwels word dit in preke ook gedoen.

Maar die effek daarvan is dat dan vanaf die preekstoel 'n soort etiese voordrag gegee word, waarin vir allerhande praktiese probleme 'n vinnige antwoord gegee word.

Vir die mense wat nie werklik met hierdie etiese vrae in die praktyk te doen het, is dit veels te moeilik om werklik te begryp waaroor dit gaan. Tegelykertyd is egter vir die mense wat self met die konkrete vrae in hul lewe te doen het, die vinnige antwoorde op sy minste onbevredigend en vir die praktyk in elk geval nie bruikbaar nie.

Dus eintlik gaan dit niemand verder help nie.

Daarby loop ons in die geval nog 'n heel ander gevaar, namelik dat ons die betekenis van die sesde gebod sou versmal tot 'n argument in 'n etiese diskussie. En dit kan seker die bedoeling nie wees nie.

Ons het hier vanoggend bymekaar gekom nie om 'n etiese verhandeling te hoor nie. Immers so 'n etiese verhandeling staan tog min of meer los van ons lewe. Ons kan daaroor al of nie aangenaam diskussieer, maar dit raak ons eie lewe nie so direk nie.

Nee ons het hier vanoggend gekom om die evangelie van Jesus Christus te ontvang.

En daardie evangelie het te doen met die lewe wat elkeen van ons ontvang het. En dus gaan dit hier oor die verantwoordelik-heid wat ons almal vir eie en vir andermans lewe het.

Die lewe is 'n geskenk van God

dit gee vir ons 'n roeping

  1. m. b. t. ons eie lewe
  2. m. b. t. andermans lewe

Die lewe is 'n geskenk van God. Dit is die eerste les waarby ons moet stilstaan. Dit klink miskien nogal vanselfsprekend, maar besef wel dat geen mens van nature so oor sy lewe voel nie. 'n Mens wat lewe, aanvaar gewoonlik die feit van sy lewe as 'n volkome vanselfsprekende saak. Hy leef en hy sal daarvan maak wat hy wil.

God het vir sy volk Israel 'n heel ander visie op die lewe bygebring. Onthou wanneer die Here hierdie sesde gebod afkondig. Die volk is dan sopas uit Egipte gelei.

In Egipte het die lewe van 'n Israeliet nie getel nie.

As 'n Farao aan bevolkingsbeplanning wil doen, dan laat hy sommer al die pasgebore seuntjies van die Hebreërs doodmaak. As 'n Egiptiese slawedrywer 'n slegte bui, het was dit vir hom niks om 'n Hebreeuse slaaf dood te ransel nie.

Daaronder het die volk eeuelank gesug. Wie kon hulle lewe red?

Wie kon as lewensredder vir hulle intree?

En toe kom die Here, met sy magtige verlossingsdaad.

Hy skenk vir hulle die vryheid. Ja, Hy skenk vir hulle die lewe.

Dit is vir Israel nog ekstra onderstreep in die feit dat toe die engel van die dood deur Egipte gegaan het, die huise van die Israeliete verbygegaan is. Al die eersgeborenes dood, maar die volk Israel se eersgeborenes het oorleef.

Sinds daardie indrukwekkende gebeurtenis het Israel nooit meer getwyfel nie, ons het ons lewe ontvang as 'n geskenk van God!

Wel toe die Here dit vir hulle eens en vir altyd duidelik gemaak het, toe kon Hy verder praat. Noudat Ek vir julle die lewe gegee het, nou kan Ek ook regte op daardie lewe laat geld.

Nie dat Ek die lewe wil terugneem nie, inteendeel, maar nou wil Ek vir julle bepaal hoe om met daardie lewe om te gaan.

Julle lewe word nou 'n lewe met 'n roeping.

En dit is terwille van die roeping dat die lewe kosbaar is. Ek het mense gemaak met 'n doel.

Hierdie doel dat hulle moet lewe tot My eer.

Gemeente, so het God met Israel omgegaan. Dit was deel van die Verbond wat Hy met hulle gemaak het.

Maar dit gaan vanoggend nie net oor hulle nie. Dit gaan oor ons. Ons is gedoop. Ons het die teken van die Verbond ontvang. En daarom is daar in die lewe van elkeen van ons 'n roeping. Die lewe self is 'n roeping.

Wat maak ons met ons lewe? Voel ons daarin is 'n roeping van die kant van God? Of leef ons maar so'n bietjie an? Dit gaan nie te goed nie, dit gaan nie te sleg nie. Ons kannie kla nie. Maar dit is tog nie die vlak waarop 'n christen met sy lewe kan omgaan nie?

Jou lewe is 'n geskenk van God. God kyk met intense belang-stelling na wat jy met daardie geskenk gaan maak.

Seker, ek besef dat daar situasies in die lewe kan wees dat jy glad nie gelukkig voel nie. Of dat jy regtig nie kan insien watter betekenis jou lewe vir die Here sou kon hê nie. Jy kan selfs doodongelukkig voel oor jouself, oor jou uiterlik of oor jou innerlik.

Maar vergeet nie, die Here het dit die moeite werd gevind om vir jou die lewe te gee. Doen iets daarmee! Maak iets daarvan! Vra van die Here om vir jou die insig te gee om van jou lewe iets spesiaals te kan maak. As jy dit doen dan sal jy sien dat die Here jou nie alleen laat sukkel nie.

Bedink 'n slag hoe waardevol die Here die menselewe gevind het. Hy het Sy Seun die menselewe laat aanneem. Jesus Christus het mens geword!

God word mens! So waardevol is die lewe.

En wat doen die Here Jesus met sy lewe?

Wel Hy werk aan een ding, aan die vervulling van sy roeping in die lewe. Dit is dit wat vir Hom die lewe die moeite werd maak.

En dan is Hy selfs bereid om die lewe wat Hy ontvang het weer terug te gee. Hy is bereid te sterwe. Waarvoor?

Om ons die lewe te gee.

Sien U hoe groot die waarde van die lewe is?

Sien U wat Christus gedoen het om vir U die lewe te kan gee?

Die lewe word gegee om daarmee 'n roeping te kan vervul. Wat die roeping vir elkeen is kan ons so nie sê nie, maar dit gaan om die prinsiepe. God is die Gewer van die lewe en daarom bepaal Hy wat met die lewe gedoen moet word.

En vanuit hierdie algemene stelling moet ons die praktiese vrae benader wat daar kan opkom rond die begin en die einde van die lewe.

Neem by wyse van voorbeeld die kwessie van die sg genadedood. Ek is absoluut nie in staat om te kan beoordeel hoelank in 'n praktiese situasie lewensverlengende handelinge toegepas moet word nie. Maar hier is wel 'n prinsiepe in geding. Die vraag namelik: Wie bepaal wanneer die lewe nog die moeite werd is? Is dit die mens self? Kan hy op 'n sekere stadium sê ek stel nie meer belang nie, dus beeindig dit maar. Want dit is wat vandag hoe langer hoe meer gebeur. Die mens wil self bepaal oor sy lewe. Dit is sy lewe en niemand anders s'n nie, so voel hy.

Maar die Bybel sê anders: God is die Gewer van die lewe. Daarom moet ons in elke konkrete situasie terug na die God en vra: Hoe oordeel Hy as Gewer van die lewe in hierdie geval? Sien Hy moontlik nog 'n roeping?

Met hierdie prinsipiële stellingname het jy nog nie 'n antwoord op elke praktiese situasie nie, maar word wel 'n rigting gewys. Om 'n antwoord te vind moet jy by God wees. Daardie antwoord vind jy nie sonder gebed nie en daarom mag ons wel gereeld bid vir mense wat gereeld met vrae van hierdie aard gekonfronteer word en dan besluite moet neem. Daarby dink ek dan aan die dokters en die verpleegsters onder ons wat in die praktyk daarmee te doen het.

Maar soos ek gese het, ek wil die preek oor die sesde gebod nie teveel laat opgaan in vrae oor die grense van die lewe nie. Vir ons almal is dit veel belangriker om met die lewe wat ons gekry het op 'n gelowige, christelike manier om te gaan.

Ons het vanoggend iets van die visie van die boek Prediker op die lewe gelees.

In die boek het hy baie relativerend gepraat oor tal van dinge waarmee die mens hom vermoei in die lewe. Jy kan jou inspan vir tal van sake maar op die ou end verlaat jy die lewe met net soveel as wat jy daarin gekom het, namelik met niks.

Tenslotte het hy op een ding afgekom wat hy as 'n voortreflike saak tipeer.

Namelik dat iemand eet en drink en die lewe geniet as 'n geskenk van God.

Gemeente, dit is die allereenvoudigste wat 'n mens in die lewe kan doen. Maar die wyse prediker het gesien dat hierdie tipe mens wat eet en drink en die lewe geniet as 'n geskenk van God, 'n uitsondering in die wêreld is. Want die meeste mense meen dat die ware lewensgeluk vorentoe lê. Hulle is gepla oor allerhande sake. Hulle is baie besig met die uitbreiding van hul besittings, maar hulle sien nie kans om die lewe te geniet as 'n geskenk van God nie.

Laat ons maar goed in hierdie spieël kyk, brs en srs, hoe besig is ons dikwels met die ydele dinge van die lewe. Ons is so gerig op wat ons alles nog wil bereik dat ons nie die rus het om te geniet van dit wat die Here vir ons gegee het nie.

Gemeente, letop, om te kan geniet van die eenvoud van die lewe is nie iets wat jy self kan of nie kan nie. Ook dit is 'n gawe van God. 'n Gawe wat geskenk moet word. Lees nog maar eens 'n slag vers 18 van Prediker 5.

Iemand kan in materiele opsig soms ver kom in hierdie wêreld, maar as God hom die gawe onthou om dit werklik te geniet dan is hy 'n arm man.

En sonder God kan jy nooit werklik die lewe geniet nie. God maak dit onmoontlik ook al voel jy self dat dit baie goed gaan sonder God.

God het jou mos ontwerp as iemand met 'n taak in die lewe. Met 'n sekere doel. Hoe kan jy gelukkig wees as jy aan die doel nie beantwoord nie?

'n Voorbeeld. 'n Motor is ontwerp om daarmee te ry. Die doel van die ding is om jou van die een plek na die ander te bring.

Maar as jy van die doel nie bewus is nie, en jy koop dan vir jou 'n pragtige motor en jy gee vir hom 'n ereplek iewers in jou huis, dan lyk dit alles heel blink, maar die eintlike ding mis jy.

Wel so mis die mens wat meen dat hy gelukkig kan wees met die lewe sonder God die eintlike ding. Aan hom ontbreek die doel van die lewe. Sy lewe maak nie eintlik sin nie. En as die jare toeneem verdwyn die glans tot niks daarvan oor is nie.

Prediker sou sê: 'n Misgeboorte is beter as hy.

'n Mens wat sy lewe nie as 'n geskenk van God ontvang nie is 'n doodgebore baba.

2. ons roeping m. b. t. die lewe van 'n ander

'n Doodgebore baba, so het ons die lewe van 'n mens sonder God getipeer.

Beteken dit dat so'n lewe ewesogoed weggegooi sou kon word?

Nee, tog nie.

Elke mens is volgens die Bybel 'n skepsel wat gemaak is na die beeld van God. Of hy aan die beeld beantwoord of nie, verander vir ons niks aan die beskermwaardigheid van so'n lewe nie.

Elke mens het van God 'n roeping in sy lewe.

Ons as mense en spesiaal ons as gelowige mense moet daaraan werk dat elke mens in die lewe aan die roeping kan beantwoord.

En dus is elke lewe van 'n mens die moeite werd. Daarom mag daar geen menslike bloed vergiet word nie.

Immers 'n moord, en daaroor gaan dit in hierdie gebod, maak 'n einde aan 'n menselewe.

Die ongelowige wat nie sy roeping vervul het in hierdie lewe nie, kry as hy vermoor word nie langer die kans om hom nog te bekeer nie.

En 'n gelowige wat deur moordenaarshand val kry nie die kans om verder God die eer met sy lewe te gee nie.

Dus wat 'n moordenaar doen is dit: Hy beroof God van sy eer.

Hy ontneem mense die kans om in die wêreld aan die beeld van God te beantwoord.

En daarom mag daar nie doodgeslaan word nie.

Maar vanhieruit kan ons ook in dieselfde rigting kyk as wat ons in die eerste punt gedoen het. Daar het ons gesê dat wanner jy die lewe as 'n geskenk ontvang het, dan ook die taak op jou rus om die lewe te geniet.

Wel dit geld ook met betrekking tot die lewe van jou naaste.

Jy as gelowige moet vir hom die geleentheid gee om die lewe te kan geniet.

In die eerste plek beteken dit dat jy hom as gelowige in aanraking moet bring met die Here. As dit vir jou die grootste rykdom in die lewe is om aan jou doel te mag beantwoord dan kan jy teenoor jou naaste daaroor nie swyg nie.

In sondag 40 word die gebod so omskryf dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself.

Van die uitdrukking wil ek tenslotte nog iets sê.

Jy moet hom liefhê soos jouself. Die uitdrukking roep by mense soms die vraag op, maar mag dit dan? Jouself liefhê?

Dit is tog altyd verkeerd?

Wel, ek dink nie so nie. Seker, selfliefde kan ontaard in egoisme. Maar dit is nie waaroor dit hier gaan nie.

Geen mens kan lewe sonder 'n gesonde dosis selfliefde nie. Hier gaan dit oor die natuurlike vanselfsprekendheid waarmee die mens vir homself sorg. Jy ken van jouself jou behoeftes en dit is volstrek natuurlik om te soek vir bevrediging van die behoeftes. As jy dors is soek jy water. As jy honger is soek jy kos. Dit is heeltemal vanselfsprekend.

Wel so vanselfsprekend as jy na jou eie belange kyk moet jy ook na die van 'n ander kyk. En dit is natuurlik al minder vanselfsprekend. Dit vra selfs selfverloening. Dit kan offers vra van jou kant. Maar dit gaan so met naasteliefde.

Nog 'n veelgestelde vraag in die verband. Is iemand liefhê dieselfde as van iemand hou?

Op die vraag sou ek 'nee' wil antwoord. God vra van ons om ons naaste lief te hê. Nie om van hom te hou nie.

Want van wie hou jy? Dit is van mense wat jy aantreklik vind.

Dit is natuurlik nie moeilik nie. Ek hou van alle mense wat ek aantreklik vind. Om vir hulle lief te hê is vir my net so vanselfsprekend as om myself lief te hê.

Maar om my naaste lief te hê gaan nie vanself nie. Dit is 'n opdrag, 'n roeping in die lewe.

Nog iets, om jou naaste lief te hê soos jouself beteken nie dat jy hom altyd waardeer nie. Ek kan myself tog ook nie altyd waardeer nie. Soms het ek 'n hekel aan myself. Soms kan 'n mens walg van homself en sy eie woorde of dade.

Dit kan ook teenoor jou naaste so wees. Jy kan 'n groot afkeer hê van wat hy gesê of gedoen het, maar nog steeds is dit jou roeping om hom lief te hê.

En nou is daar nog een meganisme wat ek u nie wil onthou nie: Dikwels gebeur die volgende: as jy begin om jou naaste lief te hê, ook al hou jy nie juis van hom nie, tog is daar 'n goeie kans dat jy op 'n stadium hom ook begin waardeer.

Dan het jy hom nie meer net lief volgens jou roeping nie, maar jy gaan selfs van hom hou.

Want jy het 'n ding geleer. Waarom het jy begin om jou naaste lief te hê?

Omdat die Here dit van jou gevra het.

En waarom vra die Here dit van jou?

Omdat die Here sowel jou as jou naaste liefhet.

As jy nou uit liefde tot Hom die naaste gaan liefhê, dan gaan jy tenslotte net soos die Here oor hom voel. Jy wil graag iets beteken. Jy wil sy lewe mooier maak.

Jy wil help om die ander meer aan sy roeping te laat beantwoord.

Hoe meer jy daarmee besig is hoe meer jyself jou lewe begin geniet as 'n geskenk van God.

Jy word al hoe dankbaarder vir jou verlossing.

Jy besef al hoe meer dat die lewe geen vanselfsprekendheid is nie, maar 'n kosbare geskenk.

'n Geskenk waarvoor die Here Jesus duur betaal het.

Onthou, sy dood vir jou lewe!

Maar as jy die ander pad kies, die pad dat jy net kyk na jou eie belang dan sal jy tenslotte agterkom dat die lewe nie meer die moeite werd is nie. Jou lewe word sinloos en doelloos.

Jy vereensaam al hoe meer.

Totdat God tenslotte jou lewe terugneem.

Want wie die lewe as geskenk ontvang het, vir hom word 'n ewige lewe gegee. Maar wie die aardse lewe as die een en die al beskou het, hy kry wat hy gesoek het. 'n Lewe op aarde en nie meer nie.

Erger nog hy moet klaarkom met die toorn van God oor 'n lewe wat nie aan sy doel beantwoord het nie.

En so staan ons met hierdie gebod by die kern van die geloof.

Om te leef met 'n roeping van God in jou lewe is inderdaad 'n saak van lewe of dood!

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)