Die gebed is die herstelde kontak tussen God en Sy kinders

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 45
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 45 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 34: 2
Geloofsbelydenis
Ps. 34: 1
L. Psalm 50
Gebed
Kollekte
Ps. 50: 1, 4, 7, 11
Prediking
Ps. 125: 6, 7
Gebed
Ps. 66: 8, 9
Slotseën

Broeders en susters,

Ons is steeds besig met die derde deel van die Kategismus, die deel wat handel oor die dankbaarheid wat ons aan God verskuldig is.

Daardie woord "dankbaarheid" kan maklik misverstaan word.

Dit kan die indruk wek asof die HERE van ons 'n tipe van 'n teëprestasie verwag na alles wat Hy vir óns gedoen het. Sondag 45 ruim so'n moontlike misverstand egter radikaal op.

Hierdie Sondagsafdeling leer mos vir ons wat vir die HERE die allerbelangrikste is in die dankbaarheid wat Hy van ons verwag. Hy soek nie teenprestaties nie, Hy verwag geen opvallende aktiwiteite in die eerste plek nie. Hy wil knielende mense met gevoude hande sien. Kinders wat bid. Dit is die voornaamste blyk van dankbaarheid wat ons aan Hom kan betoon.

Weet u waarom vir die HERE ons gebed die belangrikste is?

Dit gaan ek vir u aanwys vanaand.

Ek kan my boodskap so saamvat:

DIE GEBED IS DIE HERSTELDE KONTAK TUSSEN GOD EN SY KINDERS

Ons sal in drie punte nader daarop ingaan:

  1. ONS SOEK VADER WEER
  2. ONS SOEK VADER DEUR SY SEUN
  3. ONS SOEK VADER SAAM MET DIE BROEDERS EN SUSTERS.

1. Waarom moet 'n mens eintlik bid, broeders en susters? Is dit nie 'n oorbodige besigheid nie?

Daar staan in my Bybel dat ons Here Jesus 'n keer gesê het (u kan dit lees in Matth. 6: 8): "Julle Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra".

Ons sing mos ook iets dergeliks in Psalm 139:

"Daar 's niks voor U bedek, o HEER.
U skou uit eeuge dieptes neer.
Ja, wat in my diep weggesink het-
U weet al wat my hart bedink het.
Geen woord het nog my tong ontval
of kyk, o HEER, U weet dit al..... "

Ons sal nooit iets aan die HERE vertel wat Hy nie lankal geweet het nie. Dit sal ook nooit gebeur dat ons iets van Hom vra waaraan Hy anders dalk nie sou gedink het nie.

Maar waarom moet ons dan nog bid?

Is dit nie eintlik sinloos om iets aan die HERE te vra of te sê wat Hy lankal weet nie?

Ons ontvang alreeds in die doop aan die begin van ons lewe die waarborg dat God al ons sondes sal wegwas deur die bloed en die Heilige Gees van ons Here Jesus Christus. Net so seker as wat u die water op u kop ontvang het, net so seker is daar vergewing vir al u sondes.

Maar waarom moet ons dan nog daagliks bid: "... en vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe"? Asof dit nog glad nie so seker is dat God ons ons sondes wil vergewe nie? !

Ons moet elke dag bid om ons daaglike brood. Maar as ons dit bid, lê dit gewoonlik al klaar voor ons op die tafel! Watter sin het dit dan nog om te vra: "Géé ons......... "? !

Christus het ons geleer om te vra: "Vader, laat u Naam geheilig word". Met ander woorde: "Sorg daarvoor dat ons en alle mense agterkom dat U alleen God is, en aan U die eer gee wat U toekom. As dit nie goedskiks is nie, dan maar kwaadskiks".

Maar sou die HERE die eer van sy heilige Naam nie hooghou as ons dit nie sou vra nie? ! In die profesieë van Esegiël lees ons keer op keer dat die HERE terwille van sy heilige Naam optree en ingryp.

Dus: waarom moet ons eintlik bid?

Ja, waarom is die gebed dan vir die HERE die belangrikste wat ons Hom kan aanbied?

Die antwoord op hierdie vraag lê eenvoudig in die aanhef waarmee Christus ons geleer het om ons gebed te begin, gemeente. God wil ons Vader wees.

Hy wil nie soos 'n Koning wees wat êrens ver bo ons woon en troon en van Wie ons maar moet afwag wat Hy oor ons beskik nie. Hy is geen noodlot waarin ons maar fatalisties moet berus nie.

Hy wil ons Vader wees en ons mag sy kinders wees.

Maar 'n Vader en 'n kind práát mos met mekaar! Hulle luister na mekaar en hulle praat met mekaar. Hulle reageer op mekaar.

Wel, so'n omgang soek die HERE as ons hemelse Vader ook met ons.

Hy spreek tot ons. Dit tipeer Hom. Dit onderskei Hom van alle dooie afgode. Hy kom met sy Woord na ons toe en spreek ons aan. Hy sê vir ons Wie Hy is, wat Hy alles in die verlede vir sy kinders gedoen het. Hy sê Wie Hy vandag vir ons wil wees. Hy oorrompel ons nie aanhoudend met onverwagse dade nie. Hy verklaar sy doen en late en maak duidelik dat Hy alles vir ons beswil laat gebeur. Hy lok ons met sy beloftes, Hy bemoedig ons, Hy wys vir ons die regte pad, Hy waarsku ons ook en laat weet watter straf daar vir ons wag as ons ons rug vir Hom draai.

En nou wil Hy hê ons moet reageer. Nou moet ons ook ons mond oopmaak.

Ons moet Hom dank vir alles wat Hy vir ons gedoen het en steeds doen. Ons moet dit wat Hy aan ons beloof ook vrymoedig en vol verwagting van Hom vra. Ons mag Hom herinner aan alles wat Hy in die verlede vir sy kinders gedoen het en met 'n beroep daarop vra of Hy vir ons vandag dieselfde wil wees. Ons mag ons spanning en moeite en verdriet aan Hom voorlê. Ons moet Hom in ons blydskap en dankbaarheid laat deel.

Soos kinders met hul vrae, moeites, probleme, hul blydskap en vrolikheid hulle Vader soek (as die verhouding reg is), so wil die HERE hê moet ons Hom soek.

Dit is vir Hom die mooiste bewys dat die kontak tussen Hom en ons weer herstel is. Noudat Christus vir ons die pad na Hom toe weer oopgemaak het, moet ook ons tong weer losgemaak word. Daarom lok Hy met sy Woord ons antwoord uit. Hy bring ons so ver dat ons ons tong, wat deur die sonde 'n onbedwingbaar kwaad geword het, vol dodelike vergif, waarmee die meeste mense laster en vloek en skinder, dat daardie tong by ons weer gaan funksioneer in die omgang met ons Vader in die hemel. Ons tong gaan weer dank en prys, loof en kla, skuld bely en vergewing vra, smeek en pleit.

Die HERE wil dit aan ons hóór dat ons Hom weer as ons Vader ken.

Hy wil wil nie hê ons beskou Hom as 'n tipe van 'n lewensversekeraar wat verplig is om aan ons uit te betaal as ons van ons kant aan ons verpligtings voldoen nie. So het die volk Israel Hom meer as een keer beskou. Dit is ook sy groot klag in die Psalm wat ons gelees het: Psalm 50. God se kinders onder die ou verbond het gemeen hulle moet maar net op tyd die offers bring wat die HERE in sy wet geëis het. Asof dit die premie was wat hulle moes betaal om God te verplig om vir hulle 'n aangename en welvarende lewe te gee. Verder was daar glad nie 'n verkeer met die HERE nie.

Dan reageer die HERE: Ek soek nie daardie offers nie. Ek benodig hulle regtig nie asof Ek daarvan afhanklik sou wees nie. Ek soek iets anders: julle hart!

"Offer dank aan God. Roep My aan in die dag van benoudheid.... ".

Soek My nie as 'n versekeraar nie, maar as julle Vader.

U sal verstaan dat die HERE dan méér verwag as net die uitspreek van 'n vaste formule wat jy vroeër 'n keer geleer of van jou pa oorgeneem het. Ook die gebed mag geen tipe van verpligte bydrae word wat die HERE nou maar eenmaal verlang voordat Hy sy hand oopmaak nie. U moet in u gebede telkens u hart blootlê vir u Vader in die hemel. U moet tot Hom vlug met u moeites, en u na Hom uitgedrywe voel met u dankbaarheid. U gebed moet die spontane reaksie in selfgekose bewoordings wees op dit wat die HERE eerste tot u gesê het.

Dit is vir die HERE so belangrik dat Hy ook slegs aan ons wil gee, as ons van Hom vra. Sonder daardie mondelinge kommunikasie moet ons maar niks van Hom verwag nie. Die hele verhouding tussen Hom en ons is van daardie hartlike kommunikasie afhanklik.

Ja, Hy het alreeds aan die begin van ons lewe die vergewing van sondes aan ons toegesê. Maar u kry dit nie outomaties nie. So was die gedagte van die volk Israel waarteen die HERE in Psalm 50 stry. So is steeds die gedagte in die Roomse sakramentsleer. En so reken ook talle gereformeerdes ten onregte.

Maar God het ons deur ons doop feitlik alleen maar ekstra bemoedig en aangespoor om die volkome vergewing van ons sondes by Hom daaglik te kom háál. Om dit gelowig te vrá. Maar as u dit nie vra nie, as u die noodsaak om daagliks vergewing oor u sondes te vra, nie eens raaksien nie, was u doop vir u nie tot voordeel nie maar tot oordeel!

Ja, die HERE gee ons elke dag nog ons maaltye op tafel en ons kan ruimskoots eet en drink. Maar Hy verwag wel dat ons nogtans elke dag ons lewensonderhoud vol verwagting van Hom vra en Hom vervolgens ook daarvoor dank. As u sonder opreg te bid en te dank u tande daarin sit, kan u u aan u eie etenstafel by die huis 'n oordeel eet en drink.

Vader soek ons met sy Woord. En sy Heilige Gees soek daarmee ons antwoord.

As ons nie, of slegs skaars, reageer, trek die HERE Hom algaande ook terug. Dan word sy Woord ook skaarser. Maar hoe meer ons reageer, des te meer sal Vader sy nabyheid as 'n lewende werklikheid aan ons blyk.

2. Die tweede ding waarop ek u vanaand sou wys, is dat ons altyd daarvan bewus moet bly, broeders en susters, dat ons alleen danksy God se groot Seun, ons Here Jesus Christus, weer met die heilige God as ons Vader kan kommunikeer.

Christus het die pad na die Vader toe vir ons weer oopgemaak. Eintlik is ons Here Jesus Christus sélf die Weg. Sy bloed het die pad gebaan en die kommunikasie herstel. En Hyself is vandag in die hemel voor die aangesig van Vader ons Voorspreker wat Vader vir ons gebede ontvanklik maak.

Buite Christus om vind u by God geen gehoor nie.

Dit was ook die groot fout wat die Israeliete in Psalm 50 gemaak het. Hulle het wel nougeset die voorgeskrewe aantal offers aan die HERE gebring. Maar hulle het die betékenis van die offers glad nie meer verstaan nie. Daardie offers was geen soort premiebetalings aan die HERE nie. Dit was slegs 'n daaglikse herinnering aan die sonde wat geroep het om 'n beter, 'n egte versoening. 'n Versoening wat alleen God se eie Seun uit die hemel kon bewerk.

Die Israeliete het nogal selfversekerd hul offers gebring. Dit was hulle bydrae aan God. Nou was God verplig om ook sy deel by te dra.

Maar die offers was juis bedoel om hulle ootmoedig en skuldbewus te maak. Hulle moes daardeur daagliks leer besef: ons het alle regte verspeel. Ons leef nog slegs van genade.

Dié houding verwag Vader in die hemel van ons vandag nog, broeders en susters. Ons leef daagliks van genade. En ons weet mos hoe hoog die prys was wat daar betaal moes word om die kontak tussen God en ons te herstel.

Dié besef moet in ons gebede altyd deurklink. Dit moet die toonhoogte bepaal.

Ons mag weer as kind met Vader praat. Maar ons sal nooit 'n groot mond kan opsit nie.

Dit sal dan soos vanself ook die inhoud bepaal.

Die wat so tot God nader, voel wel aan wat hy wél en wat hy nie van die HERE mag vra nie. As u deur die Seun na die Vader gaan, kan u gebed nooit meer selfgesentreerd wees nie. U weet mos hoeveel God se Seun moes doen om ons weer kinders van Vader te kan laat wees. Dus wíl ons ook weer kind vir Vader wees. Ons soek nie meer onsself nie. Ons soek saam met Vader die eer van sy Naam, die koms van sy Koninkryk, die onderwerping aan sy wil. Ons vra geen welvaartswêreldjie vir onsself nie. Ons vra slegs soveel lewensonderhoud as wat ons benodig om as kind van Hom te kan lewe en werk. Ons vra hulp in die stryd teen die Bose......

Ons weet hoeveel die Seun deur ons skuld moes ly om vir ons die lewe weer moontlik te maak. Ons het gesien hoedat God daardie lyding vir ons ten goede laat meewerk het. Daarom aanvaar ons ook die lyding wat Vader vandag oor ons lewe nog uitstort, omdat ons weet dat Hy ook dít vir ons ten goede laat meewerk. Dus maak ons die HERE nie opstandig allerhande verwyte nie, maar vra wel van Vader die krag en die volharding om in die beproewing nie kortsigtig te raak nie. Ons vra die geloofskrag om ook in moeilike dae die lof van die HERTE te kan bly sing in die verwagting dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat Vader in die vooruitsig gestel het nie.

Wie deur die Seun tot die Vader gaan en besef dat Hy self by die HERE geen regte het nie, kan dit ook aanvaar as Vader in sy wysheid iets aan jou onthou wat jy wel graag wou gehad het: 'n lewensmaat, eie kinders, 'n sterker gesondheid...

So'n kind van die HERE sal sy gebed nie gebruik as 'n middel om Vader te probeer dwing om tog te gee wat Hy nie gegee het nie, maar in sy gebed die berusting vra om ook sonder hierdie geskenk bly te wees met die ander geskenke wat Vader wel gegee het.

Kortom, omdat ons slegs deur die Seun tot die Vader kan gaan, moet ons gebed altyd deur nederigheid en die besef van eie kleinheid gedra word.

Wys dit ook maar in u liggaamshouding.

Wie van u kniel nog ten minste een keer 'n dag tydens u gebed?

Die meeste van ons het dit as klein kind geleer om te kniel voor ons bed toe gegaan het. Baie van ons doen dit inmiddels lank al nie meer nie omdat hulle groot geword het.

Maar kan 'n mens te groot word om voor Vader in die hemel te kniel, broeders en susters? As u uself te groot daarvoor voel, is u dan nog wel klein genoeg om te kan bid? !

Moet maar kyk in die Bybel: groot mense in die kerk het ons voorgegaan in 'n geknielde houding tydens hulle gebed: Salomo, Daniël, Esra, Paulus....

Want wie nie word soos 'n kind nie, kan met vader nie verkeer nie.

3. Daar is tenslotte nog 'n derde ding waarop ek wil wys. Dis 'n ding wat in Sondag 45 nie met soveel woorde genoem word nie. Maar ek gaan darem nie my boekie te buite nie want dié Boek, die Bybel praat wel op meer as een plek nadruklik hieroor.

Ek bedoel dit: as ons in ons gebede na die Vader gaan, mag dit geen individualistiese verkeer met Vader wees nie. Ons moet besef dat ons saam met Vader se ander kinders, ons broeders en susters, na Hom toe gaan.

Dit beteken dat ons 'n oog moet hê vir ons broeders en susters. Ons moet 'n hart vir hulle hê! Ook hulle moeites en aanvegtinge moet in my gebede 'n plek kry. En hulle dankbaarheid klink ook in my gebede deur.

Maar ek wou vanaand veral daarop wys dat u gebede geblokkeer word as u verhouding met 'n broeder of suster nie reg is nie.

Ek het gesê: die Bybel noem dit op meer as een plek. Moet byvoorbeeld maar kyk in 1 Tim. 2: 8: "Ek wil dan hê dat die manne moet bid en heilige hande ophef, sonder toorn en twis". Met ander woorde: toorn en twis, hetsy by die huis, hetsy in die familiekring, hetsy op saaklike terrein met 'n broeder, vorm 'n verhindering om te kan bid. Waar mense hulle teenoor mekaar verhef en nie saam klein kan wees voor God, bemoeilik hulle ook die kommunikasie met God.

Die apostel Petrus wys dit spesiaal aan vir die huweliklewe (1 Petr. 3: 7): as man en vrou nie meer saamleef as mede-erfgename van die ewige lewe nie, maar as kat en hond met mekaar verkeer, word hulle gebede verhinder. Petrus bedoel daarmee nie allereers dat dit dan vir hullesélf moeiliker word om te kan bid nie, al is ook dit wel die geval. Maar hy bedoel: dalk gaan hulle nog gewoon aan met die gebed voor die maaltye en met hul aandgebed. Maar hulle vind by Vader geen ontvanklike oor meer nie.

Het ons Here Jesus Christus ook nie nadruklik op hierdie kant aan ons gebedslewe gewys nie? Ons lees in Markus 11: "Wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredings mag vergewe. Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader ook julle oortredings nie vergewe nie".

U sal verstaan: vergewe impliseer hier ook: na jou broeder of suster toe gaan en die ding tussen julle twee opruim.

Ek wonder of u wel almal hiervan ten volle bewus is. As ons, om watter rede ook al, mekaar nie meer in die oë kan of wil kyk nie, kan ons ook nie onder God se oë kom nie. Dan is ons gebed by voorbaat kragteloos. Wie sy broeder of suster ontloop, sal God nie meer vind nie. En dit is veral so as u so'n aaklige situasie maar rustig laat voortbestaan sonder om u van u kant te beywer om tot versoening te kom.

En wat is daar onder ons baie van sulke situasies, gemeente! Met verdriet en skaamte moet ek dit sê: mans en vrouens wat in hulle huwelik aan bewus mekaar verby leef, ouers en kinders wat uit mekaar gegroei het, familie wat mekaar nie eers meer wil groet nie, broeders wat vanweë saaklike moeilikhede in die verlede mekaar ignoreer........

Hoeveel verdriet doen ons mekaar daarmee aan!

Maar besef u wel hoeveel verdriet u ons hemelse Vader daarmee aandoen? En meen u u kan dan maar onbekommerd voor sy troon verskyn en maak asof daar niks fout is nie?

Soms sê mense, in 'n bepaalde kwessie: so kan ons nie saam nagmaal vier nie! En hulle kan daarin reg wees. Die kerkraad sal dan ook maatreëls moet neem.

Maar in daardie geval moet ons maar gerus 'n stap verder gaan en vir mekaar sê: so kan ons nie meer bid nie! Dan lê daar nie net tydens die nagmaalsondag 'n ban nie, slegs elke derde maand een keer. Dan lê daar elke kerkdiens 'n ban, elke Sondag twee keer. Dan is ook by die huis ons gebede geblokkeer.

Broeders en susters in die Here, Vader het vandag sy hart weer vir ons oopgemaak. Ons mag sy kinders wees. En Hy kom nie net my sy Woord na ons toe nie. Hy wil ook een en al ore wees vir ons woorde waarmee ons na Hom toe kom. Maar dan moet ons ons mekaar se broeders en susters wil wees. En dit nie net met mooie maar skynheilige woorde nie, maar meer moedige en konkrete dade aan mekaar bewys.

Mag ons almagtige en barmhartige God en Vader ons hierby help deur sy Heilige Gees.

Dan sal daar dankbaarheid wees, in die hemel en op die aarde.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)