Ps 5: 1, 2, 10, 11
Ps 25: 1, 2, 4
Geloofsbelydenis
Skb 35: 1, 2, 3
Lees: Titus 2
Teks: Sond 49
Brs en srs, sns en dgtrs,
Laat u wil geskied.
Dit is 'n woord van afsluiting van 'n gebed.
'n Mens kan in sy gebed sy wense en verlange by God bring, maar hy sal sy gebed so in die hande van die hemelse Vader moet lê, dat hy kan sê: Vader, nie my wil nie, maar u wil moet die voorrang hê.
Iemand wat so bid bevind hom in goed geselskap. Hy bevind hom in die geselskap van die Here Jesus. Jesus het in die hof van Getsemane in sy doodsnood so gebid: Vader as dit kan, laat hierdie beker aan my verbygaan. Maar nie my wil dog u wil moet geskied.
Dit is ongetwyfeld nodig om so jou wil van te vore reeds te onderwerp aan die wil van God.
Nou kan mens dink, maar as jy dan altyd so berustend moet wees in wat God wil, hoekom sal jy dan nog bid?
Wat maak jou wil dan nog saak?
God doen mos wat Hy self wil, en jy gee Hom van tevore jou instemming daarmee. Wat help dit dan om te bid?
Dan is jy mos heeltemal die voorwerp van God se wille. Jy kan jou daaraan maar net onderwerp en jy moet maar tevrede wees.
Raak jy so nie heeltemal passief en werkloos nie?
Maar dit is tog nie die geval nie.
In die derde bede leer die Here Jesus vir ons om ons te onderwerp aan die wil van God. Hy leer vir ons dat ons dit nie uit onsself kan nie, maar dat dit vir ons 'n gebedsaak is.
'n Gebed is nooit passief nie maar vra van ons aktiwiteit.
Ons sal eers ons moet inspan om die wil van God te verstaan.
En vervolgens sal ons ons moet inspan om daardie wil van God ook werklik te gehoorsaam.
Ons tema vir vanmiddag se preek:
Die derde bede is 'n gebed
- om God se wil te leer verstaan
- om God se wil te leer gehoorsaam
Laat u wil geskied. Dit is die derde bede uit die Onse Vader.
U wil. Wat is eintlik die wil van God?
Sondag 49 noem die wil van God: u wil wat alleen goed is.
Gee ons om aan u wil, wat alleen goed is sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees.
Ons sal daarmee almal ongetwyfeld kan saamstem.
'n Mens moet aan God se wil gehoorsaam wees, want Hy weet wat goed is.
Maar tog is hier 'n sekere probleem.
God weet wat goed is. Hy weet wat Hy wil.
Maar weet ons dit ook?
Daar is namelik talle probleme of vrae waarvan ons nie sommer dadelik kan sê, dit of dat is die wil van God.
Seker, in die algemeen kan ons wel sê, God het sy wil in sy Woord aan ons bekendgemaak.
Ons ken sy wil uit sy Woord en wet.
Pragtig, maar daarmee het ons nog nie 'n antwoord op tal van konkrete vrae nie.
Die Bybel is mos nie 'n wetboek vir 'n christelike lewenstyl nie. Ons kan nie by allerhande praktiese vrae sommer die Bybel oopslaan en sê: Kyk daar het jy die antwoord op jou vraag.
Jou probleem word bespreek en beantwoord op bladsy nummer soveel. En daar is die antwoord!
Nee, ons leef in 1992. En daarom kry ons op tal van praktiese vrae uit ons tyd nie sommer 'n antwoord nie.
Ook nie op die groot praktiese vrae wat nou jou lewe onmiddellik raak nie.
As dit b. v gaan om die vraag, watter beroep moet jy nou kies?
Het jy by so'n vraag met die wil van die Here te doen?
Seker maar wel, maar hoe dan? Hoe maak jy 'n afweging tussen wat jy wil en wat die Here wil?
Watter lewensmaat kies jy?
Is hierdie een die regte vir jou?
Raadpleeg jy die Here daarin? En wat is die antwoord dan?
Kry jy wel 'n antwoord?
Wat vra die Here van my in die kerk?
Wat is sy wil?
In die opsig het die Here vir ons 'n groot verantwoordelikheid gegee. Ons sal self moet besluit wat ons meen dat God se wil is. Maar omdat dit 'n saak is van ons eie verantwoordelikheid sal ons ook bereid moet wees om van ons keuses verantwoording te doen. In die eerste plek teenoor die Here Self.
Hy roep jou ter verantwoording.
Hy vra van jou: Het jy gesoek na wat Ek wil?
En daarom is dit 'n ontwyk van jou eie verantwoordelikheid as jy verwag dat 'n ander vir jou steeds die antwoorde moet gee.
'n Tydlang sal jou ouers dit vir jou kan doen. Hulle neem verantwoordelikheid vir jou en daarom maak hulle ook dikwels keuses vir jou.
Maar eendag kom daar 'n tyd dat jy self verantwoordelik is. Dat jy self antwoorde moet gee.
Dat jyself teenoor die Here verantwoording moet doen.
Daardie verantwoordelikheid kan jy ook nie afskuif op jou ouderling of jou predikant nie. Die verantwoordelikheid kan jy ook nie wegskuif deur te doen wat almal doen. Dan ontwyk jy ook jou verantwoordelikheid.
Jy kan ook nie in verband met allerhande keuses wat jy moet maak, 'n Bybel neem en hom op 'n willekeurige plek oopmaak en die teks wat jy dan die eerste sien vir jou 'n antwoord laat gee. Ook so skuif jy jou eie verantwoordelikheid af.
Seker, jy het die Bybel nodig om God se wil te leer verstaan.
Maar dit werk op 'n ander manier.
Deur 'n intensiewe omgang met die Woord van die Here raak jy al hoe meer bewus van wat Hy wil.
Jy kry onderskeidingsvermoë.
Jy ontwikkel 'n fyngevoeligheid om te kan weet waarop dit aankom.
Daarby het ons ook mekaar nodig.
Nie om mekaar 'n wet voor te skryf nie.
Nie om almal in eenselfde dwangbuis te dwing nie, maar om saam te soek na die wil van die Here.
Dan moet daar by ons 'n bereidheid wees om na mekaar te luister en mekaar se argumente eerlik te oorweeg.
Dit kan ons doen in persoonlike gesprekke met mekaar.
Of ons kan dit doen in groepsverband op 'n vereniging of 'n bybelkring of 'n wyksaand.
Dan hoef ons nie te verwag dat ons op elke vraag 'n antwoord kry nie. Ook nie dat ons almal oor elke saak eenstemmig kan raak as ons maar lank genoeg praat.
Nee daar sal altyd verskil van insig bly. Nie almal voel dieselfde nie. Ook het nie almal dieselfde insig in sake nie. Nie almal kan die gevolge van sekere dade of uitsprake oorsien nie.
Maar ons kan mekaar help. Ons moet daarby veral nie verbygaan aan wat al eerder deur christene oor sekere sake geskryf is nie.
Daarom moet ook deur gereeld te lees onsself op hoogte hou.
En wat nou die belangrikste is is dit: juis hierdie saak om die wil van God te leer verstaan is 'n punt van voortdurende gebed.
As jy iewers 'n beslissing moet neem, doen dit altyd onder biddend opsien na die Here. Vra vir wysheid. Vra vir insig.
Vra daarom dat jy nie vaskyk in onbelangrike dinge nie, maar dat jy die hoofsaak mag bly sien.
In hierdie saak sal ons onsself steeds weer moet beproef.
Gebeur dit nie dikwels dat ons lankal beslissings van verstrekkende aard geneem het sonder daaroor die Here te raadpleeg?
Het ons nie dikwels net so ons eie wil gevolg voordat ons selfs gedink het om na die wil van die Here te vra?
Vir 'n kind van God behoort dit 'n lewenshouding te wees dat hy altyd vra: Here, wat wil U hê ek moet doen?
As ons dit steeds vra en daarvan werklik 'n lewenshouding maak dan sal die afstand tussen wat ons begeerte is en wat die Here wil al hoe kleiner word.
Hier moet ons ook die werk van die Heilige Gees noem. Die Heilige Gees kom woon in ons na God se belofte. Hy sal ons lei in die waarheid. As ons oplettend luister na die roepstem van die Gees gaan ons leer waarop dit aankom.
Ons verstaan God se wil in ons lewe.
En dan gaan ons ook die wil gehoorsaam.
Daaroor in punt 2.
2. Dit is 'n gebed om God se wil te leer gehoorsaam
Die kategismusantwoord in Sondag 49 begin met: Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee.
Jou eie wil prysgee? Beteken dit dat jy niks mag wil nie?
Dat jy 'n willose mens moet word?
Maar dit kan mos nie. 'n Mens sonder wil of sonder wilskrag kom nêrens nie.
Gemeente, dit is nie die bedoeling dat ons moet probeer sonder wil van ons eie klaarkom nie.
Dit gaan hieroor dat ons as mense ons eie wil altyd met 'n sekere wantroue moet bekyk.
Ek kan dit nou wel wil, maar is dit reg?
Is dit wat ek wil ook in ooreenstemming met wat die Here wil?
Dit is glad nie vanselfsprekend, brs en srs, dat ons so met ons eie wil omgaan nie.
Diep in ons sit altyd die oortuiging: wat ek wil is reg.
Verkieslik selfs: My wil is wet.
Teen hierdie aangebore oortuiging van ons hart sê die Bybel Nee!
Jou eie wil is bederf.
Jou wil is deur die kwaad aangetas.
Nie net jou sondes as oortredings van die wet stel jou skuldig nie, maar die probleem lê ongelukkig dieper. Jou eie wil is reeds verkeerd gerig. Jou wil neig eerder na die sonde as na gehoorsaamheid.
En dit bedoel die kategismus as daar staan dat ons ons eie wil moet prysgee. Daarby word na 'n woord van Paulus uit Titus 2 verwys. Paulus skryf daar: Die genade van God leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën.
Hierdie woord verloën beteken dieselfde as die prysgee uit die kategismus. As gelowige moet jy leer om 'nee' te sê vir sekere sake waar jou sondige hart jou 'ja' influister.
Jy moet 'nee ' sê vir jouself om God se wil te kan volbring.
En dit kan vir 'n mens bitter swaar val.
Dit kan b. v. geweldig ingaan teen jou karakter om vergewingsgesind te wees. Dan het jy dit ekstra swaar om in die opsig jouself te verloën.
Of stel, jy het die moontlikhede om 'n groot loopbaan te volg in die musiek of in die filmindustrie, maar jy kan dit nie doen omwille van jou kerklidmaatskap. Dan het jy 'n stryd te voer.
So het elkeen maar sy eie stryd van die geloof om homself en sy eie wil te verloën en God se wil te doen.
Dit kan 'n swaar stryd wees. Die Here Jesus praat in die verband selfs van 'n kruis op jou neem.
Soos u weet val aan 'n kruis nie veel eer te behaal of veel vreugde te belewe nie.
Dit kan 'n mens daarom in die verleiding bring om jou kruis maar liewers nie op jou te neem nie.
Jy loop daaraan met 'n grooi draai verby.
Dit is maar die gerieflikste. Ek dink ons neiging na gerieflikheid laat ons dikwels vir die verleiding val om maar nie ons kruis op ons te neem nie.
Ons hou liewers maar op 'n breë as op die smal pad.
Maar om jouself te verloën kan jy net as jy die Here Jesus en die koms van sy ryk in die middelpunt van jou lewe stel.
En dan gaan dit werklik nie daarom dat jy altyd op soek moet gaan na groot opofferings terwille van die Koninkryk van Christus nie, maar dit gaan veral oor die heel gewoon dinge.
Die Kategismus noem hier dat elkeen sy amp en beroep gewillig en getrou moet uitvoer.
Gewillig en getrou wees in jou daaglikse werk en lewe.
In die lewe van elke dag jou 'n gehoorsame kind van die Here betoon. Dit is waaroor dit gaan in die stryd van die geloof.
Mense is altyd maar geneig om aan heel groot dinge te dink as dit gaan om Jesus Christus te volg.
Maar dit is nie so nie.
Ons hoef nie uit die wêreld te gaan om gehoorsaam die wil van God te kan doen nie.
Inteendeel. Juis in ons gewone dagtaak gee God die geleenthede om 'n kind van Hom te wees. En op daardie plek het elkeen sy stryd te voer.
Kyk maar 'n slag na die aanbevelings wat Paulus vir Titus gee.
In vers 1 van hoofstuk 2 sê hy vir Titus dat hy moet leer wat by die gesonde leer pas.
En wat pas by die gesonde leer?
Dat almal die hele dag moet sit en bybellees?
Dat elkeen sy gewone werk moet opgee om as evangeliste deur die wêreld te trek?
Dat jy maar liewers die hele dag geestelike liedere moet sing in plaas daarvan om 'n werk in die wêreld op jou te neem?
Welnee, die aanbevelings van Paulus wat ons hier lees val op deur hul gewoonheid.
Hy spreek eerste die ou broeders aan: Wees nugter, gedra jou waardig en ingetoë, wees gesond in die geloof, in die liefde en in die lydsaamheid.
Die dinge het 'n mens wanneer hy ouer word blykbaar nie vanselfsprekend nie. Ook die ouer wordende mmens moet sy stryd bly stry en nie meen dat hy dit agter die rug het nie.
Vir die ouer susters geld soortgelyke dinge. Hulle gedrag is ook nie vanselfsprekend op die peil soos dit behoort nie. Om kwaad te spreek of op partytjies baie wyn te drink, dit gaan sommer vanself. Maar wie van die ouer susters is 'n lerares van wat goed is?
Wie kan vir die jonger vroue leiding gee om hul lewe so te gebruik dat hul man en kinders daarby baat vind en die woord van die Here sy regte plek ontvang?
Jong manne behoort ingetoë te wees. Hulle moet leer om te onderskei waarop dit aankom in die lewe. Hulle moet hul nie besig hou met gejaag na wind asof hul maatskaplike posisie en hul salaris in hierdie wêreld die belangrikste is waarvoor alles eenkant geskuif moet word.
Hoor u wel dit is almal so heel gewone dinge.
Die gemeente waaroor Titus aangestel is is blykbaar 'n heel gewone gemeente waar maar net dieselfde dinge verkeerd gaan as in ons gemeente.
Gewillig en getrou. Dit is die woorde wat die kategismus hier gebruik. Met hierdie twee woorde word die kern van die christelike lewe aangedui.
Dit is waaroor dit gaan. As jy gelowige is dan behoort by jou die twee dinge uit te staan. Dat jy gewillig is om jou taak te doen. By die huis, in die kerk, op die werk.
En dat jy getrou is. Getrou aan jou gesinslede, getrou aan jou broeders en susters in die kerk, getrou teen oor jou medemens in die algemeen. Want dan word die naam van die Here die meeste geprys.
Iemand kan homself uitsloof in groot dade van evangelisasie aksie, of in voortdurende praat oor die Naam van die Here, maar as hy teenoor sy medemense nie getrou is nie, as hy hulle netso drop wanneer dit vir hom pas, dan beteken dit alles niks nie.
Want jy het nie goeie trou betoon nie.
'n Christen behoort in die maatskaplike lewe uit te staan as 'n staatmaker, as iemand op wie jy nooit tevergeefs 'n beroep doen nie.
So sien ons die terrein waarop ons aan die wil van God gehoorsaam moet wees is heel groot en heel breed.
Maar dit is tegelykertyd heel naby huis.
Dit gaan hier oor die gewone lewe.
Maar juis in die gewone lewe, in die daaglikse keuses wat ons maak, doen ons die meeste sondes. En daarom benodig ons juis daar die dringendste gebed.
Here laat u wil geskied.
Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee om aan u wil wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees, sodat elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan uitvoer soos die engele in die hemel.
Amen.
30 Augustus 1992
(kyk in preek)