Deur die nederlaag by Ai bepaal God Sy volk by die erns van Sy heilige aanwesigheid.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1998-10-25
Teks: 
Josua 7
Preek Inhoud: 

Josua 7

Ds. C Kleyn - Sondag 25 Oktober 1998

Lees: Josua 7
Teks: Josua 7:1, 10-12
Sing: Ps 66:1,2; Ps 31:1,3,5; Ps 62:5,7,8; Ps 99; Ps 20:1,2,4,5

Jerigo is verower, nie deur menslike krag of geweld, maar deur geloof in God se Woord. So ’n begin maak duidelik dat dit die stryd van die Here is. Hy kom afreken met die Kanaäniete. Maar hoe verskriklik eindig die eerste gewapende ontmoeting met die Kanaäniete by Ai.

Tema: Deur die nederlaag by Ai bepaal God Sy volk by die erns van Sy heilige aanwesigheid.

  1. Hy bewys Sy toorn oor Israel.
  2. Hy wys op die sonde van Israel.
  3. Hy beveel die suiwering van Israel.

Wat ‘n verpletterende nederlaag vir Israel. Die volk se hart het versmelt (vers 5). Dis die omgekeerde van Josua 1:5; 2:11; 5:1. Israel raak in verleentheid en in lewensgevaar (vers 9). Die Here wys die gejammer van Josua af. Sy belofte van Josua 1:3 &5 bly staan. Die Here het nie sy woord verbreek nie. Israel het homself nie gehou aan die afsprake nie (1:7,8). Uit die feit van die nederlaag kan Israel weet dat God toornig op hulle is. Kan ons vandag uit teenslae konkludeer dat God toornig op ons is? In die lig van God se belofte en voorwaarde kon Israel sulke gevolgtrekkings maak. Ons besit nie die belofte dat dit goed met ons sal gaan op al ons wee nie. Ook moeites en sorge is vir ons voorspel. Daarom kan ons nie sommer uit die teenslae konkludeer dat God toornig oor ons is nie. Alleen God se Woord kan ons laat praat van sonde en toorn.

Israel het God se verbond oortree deur iets van die bangoed te neem. God het Israel vantevore gewaarsku (6:18). So ’n vergryp sou Israel self onder die banvloek bring. God het gekom om radikaal af te reken met die sondes van die Amoriete. Daarom die totale banvloek. Agan negeer die feit dat dit ‘n ernstig stryd van die Here is. Hy dink alleen aan eie rykdom. Hy durf gemene sake met God se vyande doen en so die ongeregtigheid van die vyand binne-in die laer van God se eie volk te bring. Daardeur kom die banvloek op Israel. Waarom word Israel beskuldig terwyl Agan die skuldige is? Daar is ’n solidariteit in die skuld. God se volk vorm ’n eenheid. Ons kan nooit se: wat daardie gemeentelid doen raak my nie. So dink die indiwidualis. Agan se oortreding het die hele volk onrein gemaak. God se verbond is ontheilig en Sy toorn oor die hele gemeente opgewek.

Die gemeente is verantwoordelik om die kwaad te verwyder. Anders sal die Here nie meer met hulle wees nie. Jy kan aan die solidariteit van die skuld ontkom as jy die kwaad bestry en verwyder. Hy wat die ban in Israel se midde gebring het, moet self deur die banvloek getref word met sy gesin. Is dit wel regverdig dat die kinders van Agan saam met hom moet boet? Uit onsself besit ons geen enkele reg nie. As ons roem in God se genade wat ons kinders ontvang (doop), mag ons dit God kwalik neem as Hy vanweë die sondes van die vaders ook die kinders aan hul natuurlike lot oorlaat? Hulle het vanweë hul sondes tog niks anders verdien nie. God wil woon in die midde van Sy volk. Dit is ’n onbegryplike wonder. Maar ook lewensgevaarlik as jy geen erns met Sy heiligheid maak nie. Dan word Hy ’n verterende vuur. Ons moet vandag nie stenig of verbrand nie. Tog eis die inwoning van die heilige God dat ons die sonde in ons midde bestry en verwyder. Niemand sondig alleen vir sy eie risiko nie. Die hele gemeenskap het daarmee te doen.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Israel het Jerigo verower. Nie met dinamiet. Nie met ’n kanon. Nie deur menslike krag of geweld, maar deur geloof in God se Woord. So ’n begin met die verowering van Kanaän is natuurlik iets besonders. Dit sê heelwat. Waarom laat God dit so begin? Om duidelik te maak dat dit Hy is wat stry. Om duidelik te maak dat dit Sy stryd is. Dis nie Israel wat begin het met die stryd teen die inwoners van Kanaän nie. Maar die Here wil met die Kanaäniete afreken. Die maat van hul sondes is vol. Daarom gee die Here nou Sy rekening. Daarom kom die Here met Sy oordeel. Dit blyk duidelik by die verowering van Jerigo, die eerste en die sleutelstad. Uit hierdie geweldige, sprekende begin, kan Israel weet waaroor dit alles gaan. Hulle kan ook weet watter beskeie plek hulle self inneem. Met hierdie kennis kan hulle nou self aktief geplaas word in die stryd van die Here.

Maar hoe verskriklik eindig die eerste gewapende ontmoeting met die Kanaäniete by Ai. As Israel self die inset lewer en die stryd aanbind, word Israel verslaan. Waar lê die fout? Het hulle die les van Jerigo miskien nie goed verstaan nie?

Laat ons nou stilstaan by hierdie geskiedenis van Josua 7. Deur die nederlaag by Ai bepaal God Sy volk by die erns van Sy heilige aanwesigheid.

  1. Hy bewys sy toorn oor Israel
  2. Hy wys op die sonde van Israel
  3. Hy beveel die suiwering van Israel

Op advies van die verkenners stuur Josua slegs ’n deel van sy leër uit om Ai te verower. Vir so ’n nietige stadjie hoef nie die hele volk uit te trek nie.

Die uitkoms van die stryd is egter beskamend. Die manne van Ai doen ’n uitval, hulle maak 30 Israeliete dood, hulle verjaag die manne van Josua sodat hulle vlug, hulle sorg vir ’n besliste nederlaag.

Wat ’n slag vir Israel. Toe het die hart van die volk gesmelt soos water, lees ons. Israel se geestelike krag is gebreek. Ons kry die omgekeerde wat die Here belowe het. Ook die omgekeerde van die situasie waaroor Ragab gepraat het. Het sy nie gesê dat die harte van die Kanaäniete gesmelt het en dat daar by niemand enige moed oorgebly het vanweë die Israeliete nie. Hoe anders is dit nou. Die Here het belowe: niemand sal voor jou kan stand hou nie. Hy stry vir jou, moenie bang wees nie. Maar nou sien ons dat die Israeliete self nie kan stand hou teen hulle vyande nie. Hulle draai hul rug op die vyand en word verslaan.

U sal verstaan dat dit ’n ingrypende en verpletterende saak vir die Israeliete was. Hulle het volgens menslike maatstawe voor ’n onmoontlike taak gestaan om Kanaän in besit te neem. Alleen omdat hulle geweet het dat die Here vir hulle stry, kon hulle die taak aanvaar. Maar nou, by hul eerste gewapende aanraking met die Kanaäniete loop dit uit op ’n nederlaag.

Die verleentheid van Israel en Josua kan ons verstaan. Die nederlaag het onverwags gekom en verskriklik ongeleë. Israel raak daardeur in lewensgevaar. Josua sê dit in soveel woorde in sy gebed: "Ag Here, wat sal ek sê nadat Israel vir sy vyande die rug gegee het? En as die Kanaäniete en al die inwoners van die land dit hoor, sal hulle ons omsingel en ons naam van die aarde af uitroei." (vers 8,9). Soos ’n goeie begin alreeds die helfte van die werk is, so kan ’n slegte begin fataal wees veral as jy teenoor so ’n oormag van vyande staan. Die vyande kan daardeur moed kry en dan is dit vir hulle ’n klein kunsie om God se volk van die kaart weg te vee, as God nie op wonderlike wyse ingryp nie.

Maar nou het die Here van Sy volk weggedraai. In gebed worstel Josua met hierdie situasie. Versigtig roer hy die moontlikheid aan dat die nederlaag te danke is aan die Here: "Ag Here HERE, waarom het u hierdie volk ooit deur die Jordaan laat trek om ons oor te gee in die hand van die Amoriete, sodat hulle ons kan vernietig?" (vers 7).

Die Here wys hierdie gejammer van Josua af. Asof Hy die skuldige sou wees. Josua moet beter weet. Het die Here hom nie belowe: "Elke plek gee Ek aan julle," en "Niemand sal voor jou standhou … want die Here jou God is met jou oral waar jy heengaan." Net alleen – en dit het die Here duidelik as voorwaarde gestel – alleen wees sterk en moedig en handel noukeurig ooreenkomstig die wet van Moses, want dan – ja dan alleen – sal jy op jou weë jul doel bereik en sal jy voorspoedig wees.

Josua, Israel is nou egter nie voorspoedig nie. Watter konklusie moet Josua nou hieruit trek? Dat die Here Sy Woord verbreek het? Wees nie so dwaas nie. Sou die Here Sy Woord nie hou nie? Nee, Josua moet besef dat Israel sy woord nie gehou het nie. Josua moet besef: hier het ons te doen met sonde, met oortredings van die kant van die volk. Het die Here nie reeds deur Moses laat sê: as jy getrou bly aan die verbond dan sal jy jou vyande laat wegvlug. Maar indien nie, dan sal die omgekeerde ook waar wees. Dan sal jyself wegvlug voor jou vyande.

Wel, op hierdie oomblik is die Israeliete weggejaag deur die manne van Ai. ’n Nederlaag van God se volk, wat sulke ryke en duidelike beloftes besit, kan nie anders wees as ’n bewys van God se toorn vanweë oortredings.

So verklaar die Here dan ook die feite aan Josua. Israel het gesondig. Daarom kan hulle nie staande bly teen hul vyande nie. Die Here is toornig op Sy volk weens hulle oortredings.

Maar, gemeente, hoe lyk dit vandag? Kan ons nou ook uit die feite weet dat God toornig op ons is? Moet jy by teenslae tot die slotsom kom dat God iets teen jou hou? Kan jy by siekte byvoorbeeld sê, ek moet wel iets verkeerd gedoen het, anders het God nie vir my hierdie siekte gegee nie? Broeders en susters, u moet goed onderskei tussen die situasie van Israel in Kanaän en ons situasie nou. Israel moes wel sulke gevolgtrekkings raaksien uit die feite. Waarom? Omdat God vir hulle duidelike beloftes gegee het. God het uitdruklik belowe dat hulle hul vyande sal oorwin. En God het daarby ’n duidelike voorwaarde gestel. Dit lê vandag anders. As Nuwe Testamentiese gemeente besit u nie die belofte dat dit goed met u sal gaan op al u weë nie. Inteendeel. Moeites en sorge is vir u voorspel. Daarom kan u nou ook nie sommer uit die teenslae konkludeer dat God toornig is oor u persoonlike sondes. Net alleen God se Woord kan ons konkreet laat praat van sonde en toorn.

Gemeente, God Self wys op die sonde van Israel. Dit is die 2e gedagte. Wat die sonde van Israel was, word nou nader verklaar. In kort en kragtige sinnetjies hoor ons die aanklag in vers 11, met ’n opeenstapeling van die sondes, "Israel het gesondig en het ook My verbond oortree wat Ek hulle opgelê het, en ook geneem van die bangoed en ook gesteel en dit selfs heimlik by hulle goed gevoeg."

Eers hoor ons die algemene woord vir sonde wat letterlik beteken: die doel mis. Hierdie misdaad word nader omskryf as ’n oortreding van My verbond wat Ek hulle opgelê het. Hier word die verbond hoofsaaklik gesien vanuit die bindende en verpligte karakter. Die onderhouding van die verbond bestaan uit gehoorsaamheid aan God se gebooie. Israel het die verpligtinge van die verbond langs hom neergelê. Hulle het die verbond verag. Hulle het gemaak asof dit nie bestaan nie. Dit is hier dus nie die Here wat sy volk Israel in die steek laat soos Josua beweer nie, maar hier is dit Israel wat die Here in die steek laat.

Watter sonde presies gedoen is, word vervolgens aangedui. Israel het iets van die bangoed geneem om vir eie gebruik te bestem.

Is hierdie sonde dan so swaar dat daarmee God se toorn teen die hele Israel opgewek word? Wat is dan presies die karakter van die sonde?

Josua het al reeds voor die inneming van Jerigo op die erns van die saak gewys. Eers het hy uitdruklik verklaar dat die stad en alles wat daarin is deur die banvloek aan die Here gewy sou wees. Daarna waarsku hy die volk met die woorde: "Maar neem julle net in ag vir die ban, dat julle nie, terwyl julle met die banvloek tref, tog van die bangoed neem en die laer van Israel onder die ban bring en dit in die ongeluk stort nie." Die fatale konsekwensies van so ’n daad was dus alreeds bekend. Die laer van Israel sou daardeur self onder die banvloek kom en in die ongeluk gestort word.

Nogmaals die vraag: wat was dan die besonderheid van die sonde? Ons het al eerder daarop gewys dat die stryd teen die Kanaäniete ’n stryd van die Here was. Hy het kom afreken met die Amoriete noudat die maat van hul sonde vol was. Dat dit die karakter van die stryd was, het die Here laat uitkom in die veelseggende begin van die inneming van Jerigo. Israel het nie nodig gehad om die stad te bestorm nie. Die Here het die stad in hul besit gegee. Verder laat die Here hulle dit weet deur hierdie eerste stad met alles wat daarin was met die banvloek te tref. Hierdie totale banvloek het ook tot die karakteristieke begin behoort van die inname van die beloofde land. Die banvloek was immers ’n simbool van God se heilige vuur, simbool van die helse vernietiging. God se toorn was besig om te ontlaai teen die ongeregtigheid waarvan die land vol was.

Die oorlog was dus geen politieke stryd nie, maar ’n godsdienstige stryd. Daarom moes hulle wat oorwin is met al hul besit in totale verwoesting aan God gewy word.

Wel, by so ’n karakteristieke begin, waaruit blyk dat die Here radikaal afreken met die sonde van die Kanaäniete, durf Agan die saak van die Here verraai. In ons tekshoofstuk word die sonde van Agan beskryf as ’n daad van growwe troubreuk. Dit gaan nie maar net om woordbreuk nie, maar die Here word in die steek gelaat as Hy Sy vyande oordeel. Noudat die Here met Sy gerigte oor die ‘volkome’ ongeregtigheid van die Kanaäniete kom, sien Agan net alleen maar die rykdom en nie die Here nie. Gaan dit ook nie gemakkelik so by ons nie. Ons vergeet dat ons in die stryd van die Here betrokke is. Ons vergeet te sien op die Here. Ons sien alleen die aardse besittings. Agan maak hieroor sy eie stryd. Hy wil sake doen. Daardeur verraai hy die saak van die Here. Het die Here nie uitdruklik beveel dat daar vir Israel geen besigheid in Jerigo is nie. Alles moes deur die vuur van God se oordeel getref word. Maar nou gaan Agan iets daarvan aan die vuur van God onttrek. Agan gaan in prinsipe gemene sake met die Kanaänitiese vyande doen, waarteen die Here ’n uitroeiings-oorlog begin het. Daardeur kom die ongeregtigheid van die vyand, binne-in die laer van God se eie volk.

Israel word geïnfekteer met die goddeloosheid van Jerigo. Israel word daardeur net so verfoeilik voor die Here. Die banvloek wat op Jerigo gelê het kom en lê nou op Israel. Hulle wat met die banvloek moes slaan kry nou self daarmee te doen. Die heilige God kan nie langer so met sy volk optrek nie. Die ongeregtigheid van die Kanaäniete moet eers uit hulle midde verwyder word. Israel moet eers gesuiwer word.

Maar, broeders en susters, waarom word "Israel" voortdurend beskuldig van ’n oortreding? Let maar op die formulering in vers 11: "Israel het gesondig en het ook my verbond oortree, ens." Agan is tog die skuldige? En nie Israel nie? Waarom kla God tog vir Israel aan? As een van ons gemeentelede in sonde lewe dan kan ’n mens tog nie die hele gemeente verantwoordelik hou nie? As iemand van ons die verbond oortree deur ’n wêreld se lewe te lei dan kan ons tog nie sê: die gemeente het die verbond verbreek nie?

Die Here wys ons daarop dat daar ’n solidariteit in die skuld is. God se volk vorm ’n eenheid. ’n Mens kan nooit sê: wat daardie een gemeentelid doen het niks met my uit te waai nie. Dit raak my nie. Daar word in ons tyd van individualisme heelwat kere so daaroor gedink. Moet ’n mens mekaar met rus laat? Moet elkeen maar self besluit wat hy doen met God se voorskrifte? Is elkeen slegs persoonlik verantwoordelik vir sy dade?

Vergeet dit maar gemeente. Wat jy as individuele lid doen raak die hele gemeente. Of ’n mens wil of nie, dit het alles met die hele gemeente te doen. Deur Agan se oortreding het die hele volk onrein geword. Deur een oortreding het die hele volk onder die banvloek gekom. Die hele volk gaan gebuk onder die gevolge van die sonde wat gepleeg is. Israel word verneder. God se verbond is ontheilig en Sy toorn oor die hele gemeente is opgewek.

Die gemeente word verantwoordelik gehou. Die gemeente moet dan ook sorg vir die verwydering van die kwaad. Dit is die 3e gedagte: Die Here beveel die suiwering van Israel.

Israel moet homself reinig. Die Here sê dit uitdruklik: Ek sal van nou af nie meer met julle wees nie, behalwe as julle die ban uit jul midde uitroei. Daar is uitkoms. Die solidariteit van die skuld is dus nie absoluut en onontkombaar nie. Jy kan daaraan ontkom as jy die kwaad wat gedoen is bestry en verwyder. So is daar uitkoms vir Israel wanneer die oorsaak van die ban verban word. Die skuldenaar moet met sy gesin en alles wat hy het met vuur verbrand word.

Hy wat die ban in Israel se midde gebring het, moet self deur die banvloek getref word. Hy wat die ongeregtigheid van die Kanaäniete in sy huis haal, moet die lot van die Kanaäniete deel. Hy moet die teken van God se ewige vervloeking ondergaan.

Maar is dit wel regverdig dat die kinders van Agan saam met hom moet boet? Moes God nie vir Agan alleen straf nie? Gemeente, wie is ons om God van onreg te beskuldig? Ons wat uit onsself geen enkele reg besit nie. Wil ons wel die genade in die geslagte ontvang en nie die straf nie? Is dit nie pragtig as ouers met hul kinders by die doopvont staan nie? Deur middel van die ouers ontvang die kinders genade. ’n Wonder van God. Waar die kind geen reg op het nie, so sondig as wat hy is, van natuur onderworpe aan die oordeel van die Here. Het ons dit vorige Sondag nie gehoor nie by die doopsbediening. Maar God wil dit so hê dat die kinders deel het in die heil wat hul ouers besit.

Wel, as ons roem in God vanweë die onverdiende genade wat ons kinders ontvang, mag ons dit God kwalik neem as Hy vanweë die sondes van die vaders ook die kinders aan hul natuurlike lot oorlaat? Hulle het vanweë hul sondes tog niks anders verdien nie. Dit was tog net genade dat hulle daarby behoort, genade deur middel van die ouers verkry? So tref God nie alleen Agan, maar ook sy gesin. By so ’n verskriklike oortreding – waarby die fondamente van Israel se bestaan aangetas is – beskik die Here dat die kinders moet saamboet. Dit is die goddelike reg by die banvloek. Die vervloekte mag selfs nie voortlewe in sy nageslag nie.

Agan en alles wat aan hom behoort, ook sy mense, word gestenig en met vuur verbrand. ’n Verskriklike gebeurtenis so kort na die pragtige begin in Kanaän. God bepaal Sy volk en so ook u by die erns van Sy heilige aanwesigheid. Die HERE wil woon in die midde van Sy volk. Die HERE wil ook as die Aktief-aanwesige stry vir sy volk. Maar dan moet die volk wel besef wat dit inhou. Want die heilige God kan geen ongeregtigheid verdra nie. Dit is natuurlik pragtig dat God onder Sy volk wil woon. Dit is ’n onbegryplike wonder. Maar dit is ook lewensgevaarlik as jy geen erns met sy heiligheid maak nie. Dan word Hy soos ’n verterende vuur.

Vandag word u, broeders en susters, nie opgeroep om sondare te stenig en te verbrand nie. Die maatreëls behoort tipies tot die Ou-testamentiese bedeling. Tog moet ook u erns maak met die sonde. Tog moet ook u die sonde uit u midde verwyder. Die inwoning van die Heilige Gees eis dit van u. Wil u God in u midde hê en hou, dan moet u uself voortdurend suiwer van die kwaad. Die heilige God en die sonde kan onmoontlik saamwoon in een woning.

En laat niemand dink dat hy enkel en alleen vir sy eie risiko sondig nie. Niemand van u staan op homself nie. Elkeen is opgeneem in ’n bepaalde samehangende lewensverband. U dade het altyd gevolge vir die gemeenskap waarin u lewe. U gesin, ja die hele gemeente het daarmee te doen. Laat hierdie besef van samehorigheid in gesin en gemeente u almal des te meer dwing om erns te maak met die verbond met die Here. Die stryd teen die verwoestende mag van die sonde is ’n stryd waarvoor ons onsself almal moet inspan. Die hele gemeente is verantwoordelik.

Neem so die les van die geskiedenis van Agan ter harte. Besef wie in u woon, en wie vir u wil stry. Bly Hom hoog hou. Bly Sy verbond hooghou. En die Almagtige, troue God van die verbond sal met u wees.

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)