Die opstanding van die Here Jesus beteken: Hy leef en daarom mag ek ook lewe.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-08-06
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 17
Preek Inhoud: 

Sondag 17
Ds C Kleyn - Sondag 6 Augustus
2000

Lees: 1 Korinthiërs 15:1-34;
Sondag 17.
Sing: Ps 98:1,2; Ps 98:3,4; Ps 30:1-3;
SB 8:1,2; Ps 68:1,2.

Tema: Die opstanding van die Here Jesus
beteken: Hy leef en daarom mag ek ook lewe.

  1. Die noodsaak van die opstanding;
  2. Die bewys van die opstanding.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Christus het opgestaan. Dit is iets waaroor die
kerk van alle eeue gejubel het. Die opstanding van Christus is
vir ons immers iets geweldigs, iets triomfanteliks. Hy het die
dood oorwin. Sedert die sondeval het die dood gaan heers. Elkeen
het met die dood te make gekry. Die lewe van ons mense het ’n
konstante stryd teen die dood geword, ’n stryd wat
uiteindelik op ’n nederlaag sou uitloop. Ons kon nie aan die
dood ontkom nie. Dit het ons mense is sy greep gekry.

Met Pase het dit egter anders geword. Die dood
self moes ’n nederlaag ly. Die dood kan Jesus Christus nie
hou nie. Christus breek die bande van die dood stukkend en vir
goed. Die dood het geen mag oor Hom nie. Is dit, broeders en
susters, nie ’n geweldige berig vir die wêreld waarin die
dood nog steeds om hom heen gryp nie? Dit lyk asof die dood aan
alles ’n einde maak. Dood is dood, word soms gesê. Maar nou
blyk dit dat die dood nie die laaste woord het nie. Jesus
Christus het opgestaan. Hy is baas oor die dood. En Hy het nou
die sleutels van die dood en die doderyk.

Gemeente, die dood van Christus hang nou saam
met die skuld, die dood is die oordeel van God daaroor. Wat
beteken dan Christus se opstanding? Dit beteken dat die skuld en
die oordeel nou verby is. God verklaar Hom regverdig deur Hom uit
die dode op te wek. Die loon vir sy volbragte werk word aan Hom
uitgekeer. By sy dood het Jesus Christus uitgeroep: "dit is
volbring". By sy opstanding roep die Vader van sy kant as
‘t ware uit: dit is volbring. Christus het volkome aan my
reg voldaan. Ek sy Vader is nou tevrede gestel. Daarom mag my
Seun nou opnuut lewe. Christus staan op uit die dood.

Laat ons nou nader spreek oor die opstanding
van Christus.

Ek verkondig aan u: die opstanding van die Here
Jesus beteken: Hy leef en daarom mag ek ook lewe.

  1. Die noodsaak van die opstanding.
  2. Die bewys van die opstanding.

Dis opvallend dat die kat geen aandag gee aan
die feitlikheid van Christus se opstanding nie. Die kat vra
onmiddellik na die nut van die opstanding. Die kat gaan daarvan
uit dat Christus werklik opgestaan het. Daar is egter baie mense
wat twyfel aan die werklikheid van Christus se opstanding, ook
mense wat hulleself Christene noem. Die vraag word vandag gestel:
is dit eintlik wel so belangrik of Christus liggaamlik opgestaan
het? Maak dit saak of hy letterlik uit die graf gegaan het en of
die graf op die paasmore metterdaad leeg was? Daar word
gesuggereer: ek kan tog ewe goed ’n christen wees, ookal
ontken ek die egtheid van die opstanding?

Gemeente, die bestryding van Christus se
opstanding het al begin van die staanspoor af. Dink maar aan die
leuen van die Joodse Raad. Hulle het die soldate die berig die wêreld
laat instuur: "sy dissipels het in die nag gekom en Hom
gesteel terwyl ons aan die slaap was." In Korinte het Paulus
ook te make gekry met mense wat beweer het dat daar geen
opstanding van die dode is nie. Daarom noem Paulus ’n hele
klomp getuies aan wie die opgestane Here verskyn het. So het die
Sadduseërs ook ontken dat daar ’n opstanding uit die dood
is. Hierdie tipe "gelowiges" tussen aanhalingstekens
bestaan vandag nog steeds. Hulle glo nie in ’n opstanding
uit die dood nie en dus glo hulle ook nie in die opstanding van
Jesus Christus nie.

Die vraag kan gestel word: Hoe sien hulle dan
die verhale van die evangelies, wat wel oor Christus se
opstanding skrywe? Hulle verklaar dit so: Christus het in die
harte van sy volgelinge opgestaan, Hy het slegs vir hul besef
opgestaan. Hoe gaan dit as ’n persoon wat baie vir jou
beteken, sterwe? So ’n persoon leef dan voort in jou
herinneringe. So beteken so ’n persoon nog baie vir jou,
ookal het hy gesterwe. Iets dergeliks sou dan met Jesus Christus
gebeur het. Hy sou voortleef in die harte van sy volgelinge, in
hul lewende herinnering. Hulle sou dan hul ervarings probeer
onderbou het deur te praat van ’n oop graf en van ’n
liggaamlike opstanding.

Gemeente, in so ’n wêreld, waarin baie,
ook sogenaamde Christene, ontken dat Jesus werklik opgestaan het,
klem die vraag: is die eintlik wel so belangrik of Jesus wel of
nie liggaamlik opgestaan het? Maak dit wel saak of Hy werklik uit
die graf gegaan het?

Geinspireer deur die Gees gee die apostel
Paulus ’n duidelike en skerp antwoord op daardie vrae: die
maak wel deeglik saak. Die hele christelike geloof staan of val
met die werklikheid van Christus se opstanding. As Jesus nie
opgestaan het nie, dan is alles verlore. Dan is die prediking
vergeefs, sonder inhoud. Dit is nogal wat! Die prediking spreek
tog oor meer as slegs oor die opstanding? Die prediking spreek
tog ook van verlossing, vergewing en versoening? Verdwyn dit
almal as die opstanding ontken word? Ja, sê Paulus, as ek die
opstanding daaruit wegneem, dan haal ek alles uit die evangelie
weg. Dan hou ek ’n boodskap oor waar niks insit nie. ’n
Boodskap wat niks voorstel nie. Dit is miskien wel mooi bedink
maar dit is leeg. Ek het niks daaraan nie. Die honger na
verlossing word nie versadig nie en die dors na die geregtigheid
word nie geles nie. Ek gaan dan leeg en arm die kerk uit, soos ek
leeg die kerk ingekom het. Ek het dan niks gekry nie.

Paulus gaan verder: ook u geloof is dan sonder
inhoud. Sonder Christus se opstanding beteken u geloof niks nie.
Ek maak myself en ander dan bly met iets wat nie bestaan nie. Die
geloof is dan leeg. Daar sit niks in nie. Dit het geen krag nie.
As Christus nie opgewek is dan is julle geloof nutteloos, sonder
vrug, sê Paulus verder. Julle geloof is dan sonder resultaat,
ydel. Julle het niks daaraan nie. Waarom het julle niks daaraan
nie? Wel, wat is, gemeente, dan die krag van die geloof? Die krag
van die geloof lê immers in Hom, aan wie ek my toevertrou, aan
Hom aan wie ek my verbind. Maar as ek my toevertrou aan ’n
dooie Jesus dan kan ek daaruit geen krag verwag nie. ’n
Dooie Jesus is ’n magtelose Jesus. En as ek my krag van
’n magtelose Jesus moet ontvang, dan bly ek ewe magteloos as
voorheen. My geloof is dan sonder krag. My geloof kan niks
uitwerk nie. Dit lewer geen vrug op nie. Dit is ’n magtelose
gebeure.

"Dan is julle nog in julle sondes", sê
Paulus verder. Julle lewe is dan nie versoen nie. Dan heers die
sonde nog volop in jul lewe. As Christus nie opgewek is nie, dan
is daar geen bevryding van die mag van die sonde nie. Dan sit ek
nog midde in die ellendige greep van die sonde. Dan is daar geen
vergewing nie. Ook geen heiliging nie. Ek bly slaaf van die sonde.

En as ek nog volkome aan die sonde oorgelewer
is, dan is ek ook nog onderworpe aan die dood, aan die ewige dood.
"Dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore."
(vers 18). Ewig verlore! Hulle het dan mos in hul sonde gesterwe.
En die loon wat die sonde gee is die ewige dood. Hulle het gehoop
dat hulle gered sou word. Maar as Christus nie opgewek is nie,
dan is niks daarvan waar nie. Hulle is verlore. Hul hoop was
’n vergissing, ’n tragiese vergissing.

Gemeente, die apostel is hier skerp en duidelik.
Die vraag kan gestel word: waarom is dit alles afhanklik van
Christus se opstanding? Christus het die sonde tog reeds deur sy
versoenende dood oorwin? Hy het tog reeds deur sy dood vir ons
die lewe verwerf? Hoe kan ’n mens dan sê dat as Christus
nie opgewek is nie, ons nog onder die heerskappy van die sonde
verkeer en verlore is? Het Christus die bevryding van die sonde
en oordeel nie deur sy plaasvervangend lyding verwerf nie?

Ja, gemeente, die verwerwing van die heil het
voor Christus se opstanding reeds plaasgevind. Waarom hang dan
alles af van sy opstanding? Omdat Christus as die lewende Here
die heil wat Hy verwerf het ook nog moet uitdeel, toepas. Hy moet
die bate van sy dood nog aan sondaars ten goede laat kom. Hy moet
dit aan hulle toe-eien.

Deur sy dood het Christus die geregtigheid vir
die syne verwerf. Hy het die volle bedrag aan Vader betaal. Aan
God se reg voldaan. So het Hy die geregtigheid vir ons verkry. Hy
het dit in sy besit gekry. Hy het as ‘t ware die kwitansie
in hande gekry. Op grond daarvan kan daar vryspraak van skuld en
straf wees.

Die verworwe heil, in Christus se besit, moet
egter ook in ons besit kom. Dit is wat ons die toe-eiening van
die heil noem. Dit moet aan die gelowige uitgedeel of toegedien
word. Ek, as mens, is egter nie in staat om die werk self te doen
nie. Ons is almal onbekwaam om ons verlossing te verwerf, om dit
te verdien, maar ons is ook totaal onbekwaam om die verworwe
verlossing ons toe te eien. Sowel vir die een as vir die ander
het ons Jesus Christus nodig. Selfs as die rykste skatte van heil
vir ons gereed lê in die hande van Christus, dan sou ons nog nie
in staat of geneig wees om dit aan te gryp nie. Sonder die
opgestane, Christus sou die verworwe verlossing buite my bereik
bly. Sou Jesus Christus in die graf gebly het, dan sou niemand
enige nut aan sy verdienste gehad het nie.

’n Dooie Christus, daar het ek niks aan
nie. Die enigste wat ek dan oorhou is ’n voorbeeld. Maar
daarmee sou ek nog niks kan doen om my te vernuwe nie. Wat
verbeel die moderne teoloë hul wel wanneer hulle dink dat die
voorbeeld van Christus genoeg is om hulle te kan inspireer om hul
eie lewe te versoen en te vernuwe. ’n Dooie Christus, daar
het ’n mens niks aan nie. Sou hy in die graf gebly het, dan
sou ons nog slawe van die sonde gebly het, in skuld en vloek voor
God verlore.

Laat u, broeders en susters, dan ook nie mislei
deur die gedagte wat dikwels gehoor word dat ons self moet en kan
sorg vir die toe-eiening van ons heil. Dit is ’n leuen om te
sê dat Christus die heil aan elkeen aanbied en dat dit dan in
elkeen se mag is om dit self aan te neem of te verwerp. Die
gedagte getuig van menslike hoogmoed. Asof die mens uit homself
in staat sou wees om die verworwe heil aan te gryp en toe te eien.
Asof die mens in staat sou wees om die uiteindelike beslissing
mbt die heil self te neem. Hierdie pelagiaanse dwaling blyk
’n hardnekkige dwaling te wees, en is nog springlewendig. In
die Dordtse Leerreëls vind u ’n baie aktuele bestryding
daarvan. U mag die verwerwing van die verlossing – dat
Christus dit in sy besit kry – nie skei van die toe-eiening
van die verlossing – dat die gelowige dit in sy besit kry -
nie. Ook by die toe-eiening is Christus onmisbaar. As dit aan my
oorgelaat sou word, dan sou Christus se werk vrugteloos gebly het.
Niemand sou gekom het nie. Niemand sou die heil ontvang het nie.

Maar Christus is opgewek uit die dode. Hy leef.
En as lewende Here voltooi Hy sy werk. As lewende Here laat Hy u
deel in die geregtigheid wat Hy deur sy dood vir u verwerf het.
Hy haal u daarby. Hy maak u ontvanklik vir die evangelie. Hy roep
u tot die bruilof. Hy laat u kom. Hy skenk geloof. Sodat u die
skatte in ontvangs kan neem.

Sonder Pase sou die skatte wat op Goeie Vrydag
verwerf is, niemand bereik het nie. Hierin sien u, gemeente, die
noodsaak van Christus se opstanding.

In die tweede plek wil ons let op die bewys van
die opstanding.

Hoe kan ons weet dat Christus opgestaan het?
Wat is die bewys daarvan? Ek sou kan wys op die verskyninge van
Christus na sy opstanding. Christus het nie onmiddellik na die
hemel gevaar nie. Ons lees in Hand 1:3 dat Hy Hom na sy lyde
lewend vertoon het deur baie kentekens, terwyl Hy gedurende
veertig dae aan sy dissipels verskyn het en oor die dinge van die
koninkryk van God gespreek het. Hierdie verskyninge was geen
visioene of inbeeldinge nie. Die mense mog Hom sien en tas.
Thomas is self uitgenooi om sy vinger in die plek van die naels
en sy hand in Jesus se sy te steek. Dit was vir die apostels
ontwyfelbare bewyse van die werklikheid van die opstanding. Hulle
mog en moes dit sien ter wille van u en my. Hulle moes immers die
wêreld ingaan om te getuig van hul opgestane Here. Hy leef. In
die Bybel besit u hul apostoliese getuienis.

As iemand dan vra: watter bewys het u van
Christus se opstanding, dan kan ons sê: dit staan in die Bybel.
Dis my bewys.

Ongelowiges sal egter geen waarde aan so ’n
bewys heg nie. Wil u meer bewys hê? Wel, u geloof self is ’n
bewys van die feit dat Christus leef. Ons lees in Hebr 11:1:
"Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat
ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie".
Om die opstanding te aanvaar is nie in die eerste plek ’n
kwessie van sien nie, maar van glo. En die geloof is nou ’n
bewys van Christus se opstanding. Sonder die lewende Heer sou
niemand immers gehoor gee aan die apostoliese getuienis nie. As
ek nie deur die lewende Heer getrek en gegryp word nie, dan bly
die evangelie vir my ’n dwaasheid.

Gemeente, die kat sê dat ons deur Christus se
krag tot ’n nuwe lewe opgewek word. ’n Gelowige is
’n nuwe mens. Jy lewe dan uit ’n ander beginsel. Die
wissel van jou lewe is omgesit. Jy vertoon ’n ander
gerigtheid. Jy soek die dinge wat bo is, waar Christus is aan die
regterhand van God. Jy rig jou weer op God. Jy verwag alles van
Hom en jy doen alles vir Hom.

Hierdie vernuwing is, broeders en susters,
egter nie iets wat in een oomblik hom voltrek nie. Christus het
as eersteling opgestaan. Hy is die eerste in ’n reeks. Die
ander moet volg. Die ander sal volg. Hulle kom. Nou is daar nog
nie die opstanding van die liggaam nie. Maar ’n mens kan die
tekens van die nuwe lewe reeds hier en nou sien. Dit kan nog
’n lange tyd vat voordat die proses van vernuwing voltooi is.
Daarvoor het ek my hele lewe nodig. Ja, selfs die hele nuwe
bedeling. Eers aan die einde van hierdie bedeling sal die
opstanding van die eersteling deur die voltooide opstanding van
sy volgelinge gevolg word. Dan eers sal die gelowiges na siel en
liggaam aantree in die volkome, onverderflike nuwe lewe.

Dit is, broeders en susters, daarom nie reg om
te dink dat ons as wedergebore mense hier reeds die volle nuwe
lewe kan besit nie. Dink maar nie dat wedergebore mense niks meer
met die ou sondige lewe te make het nie. Die apostel Paulus leer
ons wel anders. Ek word as wedergebore mens nie skielik van my
hele sondige lewe bevry nie. Dit is nie so dat ek dan nooit meer
sondige begeertes ken nie. Die sonde kan selfs nog so sterk wees,
dat ek my besorg kan afvra of daar wel sprake is van ’n nuwe
lewe. Die begin van die nuwe lewe is soms nog so klein.

Dat ons te doen het met ’n proses blyk ook
uit die kat. U moet, broeders en susters, let op die woord ‘word’.
"Ons word nou ook deur sy krag tot ’n nuwe lewe opgewek."
Dit is geen voltooide tyd nie, geen saak van die verlede nie,
maar ’n saak wat nog voortdurend aan die gang is. Ek sit nog
steeds in die proses van opgewek word tot ’n nuwe lewe. U
het daar elke dag mee te make. Elke dag is daar die stryd. Solank
as ek hier lewe is ek daar nooit mee klaar nie. Die volmaaktheid
bly nog ver soek. Die nuwe lewe is slegs in beginsel te sien.
Maar die begin is daar. En in die begin het u ’n bewys van
Christus se opstandingskrag.

Sonder die lewende Christus sou immers selfs
die begin daar nie wees nie. Met ’n dooie Christus sou ek
nog volkome in die sonde bly lewe. Ek sou dan nooit van my sonde
geweet het nie. Ek sou sonder die lewende Here nooit van berou en
bekering geweet het nie. Ek sou nooit daartoe oorgegaan het om op
Hom te vertrou nie. Ek sou nooit die begeerte gehad het om
volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe nie.

Niemand kan selfs met die beste voornemens ooit
’n nuwe lewe begin nie. As dit uit eie krag moet gebeur dan
loop dit uit op ’n mislukking en teleurstelling. Die nuwe
lewe is slegs moontlik in die daaglikse gemeenskap met Christus.
Die nuwe lewe is slegs moontlik deur die krag van die opgestane
Christus.

Broeders en susters, seuns en dogters, hoe weet
julle dat Christus opgestaan het en leef? Julle weet dit uit die
Bybel. Inderdaad. Maar watter bewys het jy nog meer dat Jesus
lewe? Dit sien jy aan die gelowiges. Christus leef en daarom leef
ek ook ’n nuwe lewe. Daarom is ek anders as die ongelowiges.
Christus leef. Kyk maar na jou geloof. Kyk maar na jou liefde tot
God, na jou verlange om na sy wil te lewe. Sonder die lewende
Christus sou jy nooit daartoe gekom het nie.

Dit het, broeders en susters, ook ’n
duidelike keersy. Indien u bely dat Christus opgestaan het, dan
moet dit ook in u lewe gesien word. Ek kan nie glo in die
opstanding en gelyktydig lewe asof Christus dood is nie. As ek op
die ou sondige pad verder gaan, dan wys ek dat ek Christus nie
werklik ken nie. Waar is dan Christus se opstandingskrag in my
lewe?. So ’n belydenis is dan slegs ’n holle frase,
’n cliché, ’n ydele wens.

Broeders en susters, laat ons daarom erns maak
met die belydenis dat Jesus leef. Die belydenis is onmisbaar.
Sonder ’n lewende Christus is alles verlore, ydel,
kragteloos. Glo u dat Christus leef? Dan mag u en dan moet u self
ook leef. Verbind aan Hom kom u lewe tot nuwe bloei. Sy kragte
word openbaar. Dit kom tot volle ontplooiing. Dit loop uit op die
opstanding in heerlikheid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)