Die hoofskap van die man moet deur die liefde gekenmerk word.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-10-01
Teks: 
Efésiërs 5
Preek Inhoud: 

Efésiërs 5:25-30
Ds C Kleyn - Sondag 1 Oktober
2000

Lees: Eségiël 16:1-14; Efésiërs
5:18-38.
Sing: Ps 147:1,2; Ps 45;1-6; Ps
45:9-14; SB 29:6-9; Ps 128:1,2.

Tema: Die hoofskap van die man moet deur die
liefde gekenmerk word.

  1. Die man moet sy vrou liefhê soos Christus
    sy gemeente;
  2. Die man moet sy vrou liefhê soos sy eie
    liggaam.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vorige week het ons stilgestaan by die posisie
van die getroude vrou. Haar posisie word gekenmerk deur
gelykwaardigheid voor God en onderdanigheid aan haar man. Die man
is die hoof van sy vrou soos Christus die hoof is van sy gemeente.
Die woord hoof spreek van gesag en verantwoordelikheid. Die vrou
moet haar dus onderwerp aan die gesag van haar man.

In hierdie geëmansipeerde tyd beskou mense dit
as iets wat uit die tyd is. By die woord gesag dink mense dikwels
aan mag en heerskappy. Hulle dink dan aan die outoritêre man wat
oor sy vrou domineer en haar geen enkele ruimte gee nie, maar
haar gevoelens en wil vermoor. Is dit die beeld wat God ons
voorhou? Is dit wat gesag en onderdanigheid beteken? Ef 5 praat
allermins van ’n heerssugtig optrede of van die versmoring
van die vrou se wil. Let maar op die opdrag wat die man ontvang.

Hoe omskryf Paulus die taak van die man in die
huwelik? Wat stel hy teenoor die onderdanigheid van die vrou? Nie
die gesag van die man nie, maar die liefde vir sy vrou. "Manne,
julle moet jul eie vroue liefhê." In die verse 25 tot 33
herhaal Paulus dit drie keer (in die verse 25, 28, 33). Liefde
moet die man se houding tipeer.

Inderdaad die hoofskap van die man impliseer
leierskap en gesag, maar dit moet gekenmerk word deur die liefde.
Paulus gebruik twee vergelykings om die man se liefdevolle sorg
vir sy vrou te illustreer. Eerstens moet die man sy vrou liefhê
soos Christus sy gemeente liefgehad het (die verse 25-27).
Tweedens moet die man sy vrou liefhê soos hy homself liefhet (die
verse 28,29). So kom ons tot die tema en verdeling van die preek:

Die hoofskap van die man moet deur die liefde
gekenmerk word.

  1. Die man moet sy vrou liefhê soos Christus
    sy gemeente
  2. Die man moet sy vrou liefhê soos sy eie
    liggaam

Voordat ons verder gaan wil ek u daaraan
herinner dat die woord van vanaand nie slegs vir getroude mans is
nie. Dis nie so dat die enkellopendes die kerksaal wel kan
verlaat omdat dit hulle tog nie aangaan nie. Nee, ook hierdie
skrifgedeelte oor die gehude mans is vir elkeen van u tot lering
gegee. Die woord het elkeen van ons iets te sê, ook die ongehude
vroue, ook die seuns en meisies. Onthou, ons leef almal binne
’n gemeenskap, waarvan huwelike en gesinne fundamentele
boustene vorm. Gaan dit sleg met die huwelike in die gemeente,
dan gaan dit met die gemeente sleg. Daarenteen is goeie huwelike
’n seën vir die hele kerk, vir getroudes en ongetroudes.
Sou u hulp en bemoediging kan verwag van slegte huwelike en
gesinne? U sou in die gemeente maar eensaam wees.

Bowendien, u word self ook geroep om ’n seën
vir ander te wees, onder ander vir die gesinne en huwelike in die
gemeente. Deur woord en daad, deur gebed en voorbeeld. Via die
woorde wat Paulus uitdruklik tot die gehude mans rig, leer hy ook
u ’n bepaalde vorm van gedrag, om soos Christus in sy liefde
te wees. Bowendien leer God u wat belangrik in die huwelike is en
waarvoor u moet bid, sodat die huwelike tog werklik mag wees wat
hulle behoort te wees, naamlik ’n weerspieëling van die
verhouding tussen Christus en sy gemeente.

"Manne, julle moet jul eie vroue liefhê,
soos Christus ook die gemeente liefgehad het." Christus word
as model aan die mans voorgehou. Sy liefde is die groot voorbeeld.
Dit moet die man nou afspieël. Vind u dat onderdanigheid moeilik
vir die vrou is? Wat dink u dan van die liefde van die man? Dit
moet soos die liefde van Christus wees. Is dit nie veel moeiliker
nie? Probeer dit maar om soos Christus vir jou vrou te wees!

Die liefde wat God van die mans vra is
allesomvattend. Die hoogste standaard van die liefde word ons
voorgehou. Dmv 5 werkwoorde teken Paulus die liefde van Christus
vir sy kerk. Christus het sy gemeente liefgehad. Hy het homself
daarvoor oorgegee. Hy wil haar heilig. Hy wil haar reinig. Hy wil
haar in heerlikheid voor Hom stel. In vers 23 het Paulus reeds
daarop gewys dat Christus die verlosser van sy gemeente is. Met
al hierdie werkwoorde van die verse 25-27 beskryf Paulus wat die
verlossing omvat. Dit het begin by Christus se selfoorgawe aan
die kruis.

Liefde is dus: jouself oorgee soos Christus. Jy
is bereid om baie vir jou maat op te offer. Dit beteken nie dat
jy jouself heeltemal wegsyfer nie. Dat jy altyd die wil van die
ander doen nie. Dit beteken nie dat wat jy dink, wil of voel nie
belangrik is nie. Dat jy jouself as waardeloos moet beskou nie.
In so ’n geval sou die ander niks aan jou hê nie. Jy sou
dan ’n slaaf wees en nie ’n liefdevolle hoof nie. Die
man moet juis met sy gawes, as leier, volkome aan sy vrou
diensbaar wees. Liefde is jouself oorgee soos Christus. Liefde is
om jouself weg te gee aan jou vrou. Jou lewe is waardevol voor
God. Jou lewe is waardevol vir haar. Daarom beteken jou oorgawe
ook alles vir haar.

Christus het Homself vir sy Bruid oorgegee, nie
omdat sy so aantreklik was nie. Inteendeel! Dink maar aan wat ons
van God se volk gelees het in Esegiël 16. Toe God Hom aan sy
volk verbind het, was sy verlate en vuil. God moes haar nog mooi
maak. So lees ons in ons teks dat Christus Homself vir sy
gemeente oorgegee het "om dit te heilig, nadat Hy dit
gereinig het, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik,
sonder vlek of rimpel of iets dergeliks."

Christus se liefde het Hom tot ons uitgestrek
toe ons nog in sonde verlore was, vuil, verwerplik. Waarom het Hy
Hom vir ons oorgegee in die dood? Met watter doel? Om ons heilig
te maak, om iets spesials van ons te maak, ’n koninklike
priesterskap, ’n heilige volk, om ons voor Hom te kan stel,
verheerlik. Moontlik is dit ’n sinspeling op die bruid se
pragtige trourok. Hier op aarde is die kerk dikwels in vodde en
flenters, besoedel en lelik, verag en vervolg. Maar een dag sal
sy gesien word vir wat sy is, niks anders as die bruid van
Christus, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en
sonder gebrek. Mooi en heerlik.

Dit is wat Christus op die oog het in sy liefde
vir sy volk. Dit is waaraan Hy reeds gewerk het en waaraan Hy nog
steeds werk. Vers 26 noem dat Hy sy gemeente wil heilig "nadat
Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord."
Wanneer het Christus sy gemeente dan gereinig? Hy het dit gedoen
deur die woord. Toe hulle die gepredikte woord in geloof aanvaar
het, toe is hulle gereinig, toe het hulle vergewing van sondes
ontvang. Dit het hy ook laat uitbeeld in hul doop, ’n teken
van hul reiniging, naamlik die afwassing van hul sondes. So is
Christus in sy liefde ook vandag nog met u besig om u te heilig,
om u lewe te vernuwe, nadat hy u deelgegee het aan die vryspraak
van sondes deur geloof. Hy wil werklik iets moois van u maak,
iets waarop Hy trots kan wees, ’n heerlike bruid.

So sien u, broeders en susters, dat Christus se
liefde volkome op die bevryding en volmaking van sy bruid gerig
is. Hy kan nie wag om haar voor Hom te stel in volle glorie. So
moet dan ook die man vir sy vrou wees. As hoof van my vrou wil ek
haar nie breek of onderdruk nie. Ek wil haar gevoelens en wil nie
versmoor nie. Ek wil haar nie in die pad staan nie. Inteendeel,
ek wil juis alles daarvoor doen om haar te bevry van belemmeringe,
dinge wat haar minder gaaf maak. Ek wil haar help om haar volle
potensieel te bereik in diens van God en die naaste. Ek wil sien
dat sy blom, dat sy gelukkig en mooi is, ’n vrou waarop ek
trots kan wees.

Dis opvallend, gemeente, dat die mans dikwels
die vrou ontvang wat hulle self gemaak het. ’n Man kan sy
vrou as ‘t ware maak of breek. Meestal kan hy haar mooi en
gelukkig maak, maar ook lelik en ongelukkig. Hier geld die woorde
van Paulus is Galasiërs 6:7,8: "wat ’n mens saai, dit
sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees
verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die
ewige lewe maai." As ek my vrou voortdurend as minderwaardig
behandel dan sal sy op die duur haarself ook as minderwaardig
gaan beskou en gedra. Jy hoef maar lang genoeg te sê: jy kan
niks en jy is niks nie, en jy sal sien dat sy met die tyd
inderdaad amper niks kan nie. As ek haar egter positief bly
benader en bemoedig, sal sy juis groei en bloei. As ek haar as
’n koningin behandel dan sal sy as ’n koningin wees.

In die huwelik gaan dinge dikwels verkeerd
vanweë die selfsugtigheid van een of beide eggenotes. Hulle soek
dan hul eie persoonlike geluk en bevrediging. So ’n huwelik
sal uiteindelik baie onbevredigend wees. Die geheim van ’n
goeie huwelik is immers om in selfopofferende liefde die geluk
van jou huweliksmaat te soek. Deur te gee, te gee, en nogmaals te
gee ontvang ’n mens meestal ook baie terug. Maar deur te eis,
deur te staan op eie regte, bly ’n mens uiteindelik
onbevredig.

So gaan dit met die man wat hom as ’n
tiran gedra en sy vrou op ’n harde en ongevoelige manier
regeer. Daar is geen ware liefde nie. Gehoorsaamheid word geëis.
Die vrou word misbruik en verneder. Sy word verhinder om te groei
na ’n gelukkige en volkome mens. Dit het niks te doen met
die hoofskap van die man waar die bybel oor spreek nie. Dit is
eerder ’n vloek as gevolg van die sonde.

Wanneer daar huweliks probleme is, dan kla die
man miskien oor ’n gebrek aan onderdanigheid van die vrou.
Wel, mans wil julle hê dat julle vroue aan julle onderdanig is
soos die gemeente aan Christus? Het haar dan lief soos Christus
sy gemeente. Ook al beteken dit dat jy jou lewe vir haar moet gee
of lyding moet deurstaan, veragting, verwerping, die opgee van
stokperdjies, die opoffering van bepaalde luukse of rykdom. Dis
nog min vergeleke by wat Christus gedoen het.

Die basiese roeping van die man is nie: regeer
jou vrou nie, maar: het jou vrou lief. Hierdie liefde is geen
eisende, selfsugtige liefde nie, maar ’n geeende liefde.
"Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook
die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het."
Dat Christus die hoof van sy gemeente is, beteken nie dat Hy haar
vir sy eie voordeel gebruik nie, maar dat Hy Homself vir haar
voordeel gee. In liefde het Hy gegee. Manne, beoefen dan julle
hoofskap in dienende liefde soos Christus dit gedoen het.

Natuurlik is dit nie moontlik om Christus in sy
liefde te ewenaar nie. Sy liefde was volmaak. Sy offer was die
versoening van ons sondes. Tog moet die mans Christus se
voorbeeld van ware liefde volg en hulself onselfsugtig aan hul
vroue gee. As ek dit doen sal dit werklik geen moeite vir my vrou
wees om haar aan my leierskap te onderwerp nie.

Hoe kan ’n mens groei in so ’n
selfopofferende liefde? Deur God vir wysheid en fyngevoeligheid
te vra, sodat ek kan weet wat in my liefde ontbreek. Daarby moet
ek die verlange hê om my gedagtes, woorde en dade deur die woord
van God te laat vorm. Om die liefde te kan gee, moet ek steeds
meer en meer deurdrenk wees van God se woord en Gees.

Nou die tweede gedagte. Die man moet sy vrou
liefhê soos sy eie liggaam.

Deur die huwelik het man en vrou volkome een
geword. Hulle is nie meer twee nie, maar een. Soos ons lees in
die reël wat die Here in paradys reeds gestel het: "Daarom
moet die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef en
hulle twee sal een vlees word." Hulle moet die intensiewe
omgang met die ouers verlaat, mekaar aankleef, soos twee stukke
papier wat aan mekaar vasgelym is, en een vlees word. Saam vorm
hulle as ’t ware een organisme, een liggaam. Hulle is nie
meer twee nie, maar een.

Daarom kan ’n mens die huwelik nie
vergelyk met twee partners wat ’n kontrak opstel om saam
’n besigheid te bedryf nie. Die eenheid van die huwelik is
veel dieper en intensiewer. Dit het nie slegs betrekking op
bepaalde gemeenskaplike belange nie. Dit is allesomvattend. Dit
raak alle fasette van die lewe. Dis normaalweg onverbreeklik. As
’n mens dit wel verbreek dan is die pyn en skade veel groter.
Twee partye word dan van mekaar losgeruk, stukkend geskeur.
Hierdie hegte eenheid moet die verhouding binne die huwelik dan
ook bestempel.

Vandaar dat Paulus in vers 28 sê: "so
behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame.
Wie sy vrou liefhet, het homself lief." Hulle vorm immers
een onverbreeklike eenheid. As ek my vrou mishandel dan mishandel
ek nie slegs my vrou nie, maar in feite myself. Ek maak nie slegs
haar seer nie, maar ook myself. As ek my vrou nie liefhet en
versorg nie, dan verwaarloos en skaad ek my eie liggaam. Manne,
vergeet dit nooit nie.

Dis ’n natuurlike verskynsel dat mense
hulself liefhê. Behalwe enkele uitsonderings, probeer ons almal
die beste vir onsself te soek. Dieselfde houding moet ek teenoor
my vrou hê. Sy is immers ’n deel van my, vlees van my vlees.
Paulus skrywe: "wie sy vrou liefhet, het homself lief; want
niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester
dit, net soos die Here die gemeente."

Ons vlees, ons liggaam het versorging nodig.
Daarom voed en koester ons dit. Ons wil alles daarvoor dat ons
liggaam gesond en wel is. Dit is die mees natuurlike saak van die
wêreld. So moet dan die vrou gevoed en gekoester word, sodat sy
haar gelukkig voel en kan blom. Wat die man met sy eie liggaam
doen, moet hy ook met sy huweliksliggaam, sy vrou, doen.

Op dieselfde wyse handel Christus met sy kerk.
Soos ’n herder omring Hy sy kinders met sy goeie sorg. Hy
voed en verkwik ons met sy Woord en sakramente. Hy vergewe en
vernuwe ons deur sy bloed en Gees. Hy gee kragte na kruis sodat
ons in alle omstandighede ons in Hom kan verbly, sodat ons
werklik gelukkig kan wees. So moet ek my vrou versorg. Ek moet
vir haar ’n profeet, priester en koning wees. Haar goed
versorg, liggaamlik, geestelik en emosioneel. Haar bemoedig en
versterk. Haar vermaan en vertroos. Haar die vrou laat wees wat
God wil hê dat sy sal wees. ’n Vrou waarop God en mens
trots kan wees.

Gemeente, een van die probleme wat ’n mens
soms in huwelike sien is dat die eggenotes maak asof hulle nog
twee selfstandige individue is, asof hulle nog ongetroud en vry
is. Beide leef hul eie lewe, langs mekaar heen. Hulle het hul eie
ambisies, hul eie belangstellings, hul eie vermaak en
stokperdjies, wat hulle dan op hul eie nastreef. Hulle ken mekaar
nie in wat hulle doen of in wat hulle wil doen nie. Hulle gaan
gewoon hul eie gang.

Onherroeplik bring dit probleme in die huwelik.
Miskien dat die broodwinner daaroor verras is. Hy sorg tog goed
vir sy vrou en kinders. Materieel gesien ly hulle geen gebrek nie.
Hy kan nie begryp dat sy vrou haar ongelukkig voel nie. Maar die
oorsaak lê in die selfstandige lewe. Miskien dat die man amper
nooit by die huis is nie. Hy is dan besig met sy werk, of met sy
vriende op stap of gewoon op homself. Of hy is wel by die huis
maar praat nie met sy vrou nie, of dit nou gaan oor sy
persoonlike lewe of oor dinge van gemeenskaplike belang. Hy is so
besig met sy eie dinge dat hy amper niks met sy vrou deel nie.

Die groot probleem is dat hy dink ( en dit kan
natuurlik ook vir die vrou geld) dat ’n getroude man nog
onafhanklik kan wees. Dit is egter onmoontlik vir ’n
getroude paar. Hulle is immers een. So ’n onafhanklikheid is
in stryd met God se ordening van die huwelik en met die posisie
van ’n gehude man of vrou. Christus is die model waarna
hulle moet kyk. Christus het nie gelewe en sal nooit lewe los van
sy kerk nie, sy kerk wat sy liggaam is. As ewige Seun van God het
hy niemand nodig gehad nie. Van Hom kan nooit gesê word dat Hy
’n hulp nodig gehad het wat by Hom pas nie. Maar uit vrye
genade het Hy gekies om Hom aan sy kerk te verbind. Hy voed en
koester haar. Hy lewe vir sy kerk. Hy doen niks sonder rekening
met sy kerk te hou nie. Dit is die patroon wat God die gehude man
voorhou.

Daarom: "So behoort die mans hul eie vroue
lief te hê soos hul eie liggame.….Want niemand het ooit sy
eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die
Here die gemeente. Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees
en van sy bene." Ja, ons behoort aan Christus, deur die Gees
is ons een met Hom, sy geliefdes, sy wederhelf as ‘t ware.
Daarom mag ons van sy allesomvattende sorg geniet. Daarom word
ook van ons verwag dat ons die sorg ook wys vir ons eggenotes.
Christus se sorg vir u, sy geliefde, is beide die bron en die
norm vir u sorg jeens u huweliksmaat. As gehudes behoort u by
mekaar, is u as een liggaam. Nie meer twee nie, maar een.

Daarom is dit onuitstaanbaar dat gehudes mekaar
misbruik. Dit is in stryd met die aard van ’n huwelik. Ek
gaan tog nie my eie vlees misbruik of beseer nie? Wie die huwelik
as instelling van God honoreer, sal as gehude man of vrou nooit
lewe of handel asof sy vrou of man nie bestaan nie. Nee, sedert
die bevestiging van my huwelik is my lewe gewoon ondenkbaar
sonder my wederhelf. Ons is aan mekaar vasgelym, van mekaar
afhanklik. Ons is daar vir mekaar. Dan doen ek nie dinge sonder
om my wederhelf daarin te ken nie. Wat my raak, raak immers ook
my wederhelf. Ons doen dan soveel as moontlik die dinge saam. Ons
praat dan nie steeds van ek en jy nie, maar van ons. Nie my kind,
of my besigheid, of my huis, of my geld nie, maar ons kind, ons
besigheid, ons huis, ons geld, ens. Ek is immers ’n gehude
man of vrou, ons is deel van mekaar, twee helfte van een liggaam.
Daarom kan en mag ons nie langs mekaar heen lewe nie. Ons is daar
vir mekaar, om mekaar aan te vul, om mekaar kompleet te maak.

Sien daar die taak van die gehude man en vrou.
Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus, en soos
jul eie liggaam. En vroue, wees aan julle eie mans onderdanig,
soos aan die Here. Is dit moeilik om onderdanig te wees? Hoeveel
moeiliker is dit nie om soos Christus lief te hê nie? Slegs deur
geloof en bekering sal dit moontlik wees.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)