Wat Genesis 3 sê oor die verhouding tussen Adam en sy vrou tydens en na die sondeval.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-08-27
Teks: 
Génesis 3
Preek Inhoud: 

Genesis 3
Ds C Kleyn - Sondag 27 Augustus
2000

Lees: Genesis 3.
Sing: Ps 146:1,2; Ps 146:3,4; Ps
19:6,7; Ps 127; SB 49:3-7.

Tema: Wat Genesis 3 sê oor die verhouding
tussen Adam en sy vrou tydens en na die sondeval.

  1. Huwelik en seksualiteit verwoes deur die
    sonde;
  2. Huwelik en seksualiteit herstel deur
    Christus.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vorige Sondag het ons stilgestaan by huwelik en
seksualiteit in die paradys. Ons het gesien hoe God met opset ons
as man en vrou geskep het. Ons het gesien hoe verruk Adam was toe
God vir hom ’n vrou gemaak het en haar na hom gebring het.
Ons het ook gesien hoe God huwelik en seksualiteit gereël het:
"Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou
aankleef. En hulle sal een vlees wees."

Vanaand wil ek wys wat Genesis 3 sê oor die
verhouding tussen Adam en sy vrou tydens en na die sondeval.

Ons sien veral twee dinge:

  1. Huwelik en seksualiteit verwoes deur die
    sonde
  2. Huwelik en seksualiteit herstel deur
    Christus

Genesis 1 is een van die mees aangrypende
hoofstukke van die bybel. Wie is in staan om die diepte van die
hoofstuk te peil? Die sondeval het plaasgevind binne die
verhouding van die man en sy vrou.

Let op die taktiek van satan. Satan benader nie
Adam die hoof van die gesin nie. Adam dra immers die uiteindelike
verantwoordelikheid. God het oorspronklik aan hom die verbod om
van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet gegee. Pleks
van Adam te benader, benader Satan sy vrou, sy aanvullende hulp,
diegene vir wie Adam so lief is. Op ’n listige manier meng
satan in die verhouding. Satan wil die verhouding losmaak van die
verhouding met God. Hy wil hê dat hulle na mekaar sal luister
pleks van om na God te luister.

Waar dit op aankom is: sal hulle na God hul
skepper luister? Sal hulle begeer en geniet wat God binne die
verhouding vir hulle gee om te geniet? Of sal daar ander
begeertes wees? So is satan se aanval gerig op die mensheid in
hul verhouding. Hy val aan in die rug. Hy wil Adam, die
verbondshoof, kry. Maar hy val aan via sy vrou, via die persoon
vir wie Adam baie lief is. Is dit nie hoe satan nog dikwels
opereer nie? Via mense wat ons lief is probeer hy ons verweer te
deurbreek en ons van God weg te trek.

Hoor hoe satan te werk gaan. Sy eerste woorde
is ’n vraag. "Is dit ook so dat God gesê het: Julle
mag nie eet van al die bome van die tuin nie?" Satan gebruik
bewus die woord "al". Dit lyk asof satan sê: God het
julle in die tuin geplaas met al die pragtige bome. Is dit ook so
dat God gesê het dat julle van geen boom mag eet nie. Daarmee
suggereer hy versigtig dat God oormatig streng is deur Adam en sy
vrou te verbied om van enige boom te eet. Daarmee suggereer hy
dat God selfsugtig is deur al die bome vir homself te hou.

Tegelykertyd gee die satan die indruk dat hy
bereid is om verbeter te word as hy dit verkeerd sien. Natuurlik
het hy geen enkele behoefte om by die waarheid uit te kom nie. Hy
wil die vrou slegs mislei en haar sover kry om met hom in gesprek
te gaan.

Satan slaag daarin. Pleks dat die vrou haar
afwend van die slang, gaan sy met hom in gesprek. Sy besef nie
dat die slang haar vyand is nie. Sy neem hom ernstig op en laat
haarself van God weglei. Die saad van twyfel wat hy gesaai het
dra vrug. Satan kan nou met haar ’n stap verder gaan. Hy kom
nou met blatante leuens teen God. Dit loop daarop uit dat sy
satan glo pleks van God. Satan maak haar ontevrede. Hy wek in
haar sondige verlangens. Sy is nie meer tevrede om beeld van God
te wees nie, om sy onderkoning, sy prinses en verteenwoordiger te
wees nie. Sy wil soos God wees, sy wil eie baas wees, vry wees,
outonoom wees. Sy neem van die verbode vrugte en eet en gee ook
aan haar man by haar en hy eet.

Ja, gemeente, wat is no die wesenlike van die
sonde? Dit is die sug om soos God te wees, om jou eie god en
meester te wees, die sug na vryheid en selfstandigheid, "ek
wil self bepaal wat ek doen, wat goed en kwaad is," die
gebrek aan selfopofferende liefde vir God en die naaste, ja, die
selfsugtigheid is nog steeds die wesenlike van die sonde. Dit bly
ten diepste ook die oorsaak van huweliksprobleme. Die
selfstandigheid blyk egter ’n illusie te wees. ’n Mens
kan slegs ware vryheid vind in onderworpenheid aan God en sy
woord.

Adam en sy vrou beweeg beide weg van die
posisie wat God aan hulle toegeken het. Hulle gooi die orde wat
God ingestel het om. Die vrou luister na die slang pleks dat sy
luister na die instruksie van die Here wat sy via haar man
ontvang het. Die vrou wat God aan die man as ’n hulp gegee
het, word nou die middel vir sy val. Sy is nie ’n hulp nie,
maar ’n struikelblok. Sy bemoedig hom nie om God gehoorsaam
te dien nie, maar sy gee hom van die verbode vrugte. Nadat sy
self verlei is, verlei sy haar man en trek hom van God weg.

Adam laat na om die woorde van sy vrou te
onderwerp aan die woorde van die Here. Sonder verset laat hy
homself meesleep op die pad van sonde. Wat ’n pragtige hoof,
leier, onderkoning! Hy is nie minder skuldig as sy vrou nie. In
feite is hy die hoofskuldige. God het hom as hoof immers
regstreeks sy verbod gegee. Adam bied geen weerstand teen die
satan nie. Hy gryp nie in om sy vrou te red van satan se
verleidende mag nie. Sonder verset volg hy sy vrou in haar
ongehoorsaamheid. Adam is nie langer wat hy vir haar moet wees
nie, naamlik haar leier en redder.

Gemeente, sommige mense suggereer dat Adam sy
vrou wel moes volg om haar nie in die steek te laat nie, maar om
haar te ondersteun. Die teenoorgestelde is waar. Deur haar te
volg het hy juis nagelaat om haar te ondersteun. Hy sou ware
ondersteuning gegee het as hy nie na haar geluister het nie, maar
geluister het na God. Dan sou hy haar gered het. Dink aan twee
bergklimmers wat deur ’n tou aan mekaar verbind is. Skielik
gly een van hulle uit en val ’n end die diepte in. Die ander
persoon hou hom stewig aan ’n klip vas. Deur dit te doen,
kan hy die persoon wat geval het red. As Adam maar die woord van
God vasgegryp sou hê. Deur egter te luister na sy vrou het hy
’n mislukking geword as leier en redder.

Die gevolge van die sondeval word onmiddellik
sigbaar. Adam en sy vrou raak van mekaar vervreemd. Ons lees
reeds in vers 7: "Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word
gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk
en vir hulle skorte gemaak."

Toe Adam en sy vrou na satan geluister het, het
hulle gedroom van hul eie heerlikheid en grootheid. Dit sou
geweldig wees! Na hulle sondige daad blyk dit slegs ellende te
wees. Pleks om met eer en heerlikheid gekroon te word, ontdek
hulle dat hulle slegs naak, skandelike wesens is. Hulle skaam
hulle. Hulle voel hul ongemaklik met hul liggame. Hulle is
daarmee verleë. Hulle voel hulle bedreig, blootgestel in hul
sondigheid, kwesbaar. Iets het tussenbeide gekom. Dmv die skorte
van vyeblare probeer hulle om ’n pad te vind om met die
versteurde verhouding te lewe. Die verhouding is nie meer oop nie.
Hulle het iets om vir mekaar te verberg. Hulle probeer hul
verskille te verberg. Noudat hulle skuldig teenoor die Here is,
is hulle ook skuldig teenoor mekaar.

Ja, gemeente, skaamte het twee kante. Aan die
een kant wys dit die gebrokenheid as gevolg van die sonde.
Naaklopery en skaamteloosheid moet daarom afgewys word. Daarmee
verloën ’n mens die werklikheid van die sonde wat tussen
die mense ingekom het. Dit is ’n ontkenning van die
verdorwenheid van die mens. Dit is ’n illusie om te dink dat
ons tydens hierdie lewe die verlore paradys reeds kan terugkry.
In die paradys was die mens en sy vrou altwee naak maar hulle het
hul nie geskaam nie. Dit was toe moontlik. Die eerste mense was
mooi en rein. Hulle kon mekaar in die gesig kyk sonder skaamte,
soos God hulle geskep het. So lank as hulle God sonder skaamte in
die oë kon kyk, so lank kon hulle dit ook teenoor mekaar doen.

Van Genesis 3 weet ons egter dat die
oorspronklike situasie heeltemal bedorwe is. "Toe gaan
altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is."
Naaktheid word ervaar as blootstelling, kwetsbaarheid.. In die
paradys was hulle naak en tog gekleed as t ware. Hulle kon sonder
skaamte vorentoe kom. Die eerste ontdekking na die sondeval is
dat dit nie meer moontlik is nie. Ons klee onsself nie slegs om
ons teen die koue te beskerm nie, maar ook om ons teen die oë
van ander mense te beskerm. Die sonde het die mooie versteur,
bederf. Mense wat nou maak asof in Genesis 3 niks ernstigs gebeur
het nie, vra om moeilikheid. Selfs binne ’n christelike
huwelik, waar die man en sy vrou so naby mekaar is, ervaar ’n
mens nog iets van die vervreemding wat deur die sonde ontstaan
het. Skaamte wys dus op die gebrokenheid en verdorwenheid as
gevolg van sonde.

Aan die ander kant is skaamte ook ’n
natuurlike reaksie, ’n beskerming na die sondeval. ’n
Reaksie wat probeer om die verhouding tussen die geslagte so rein
as moontlik te hou. Ons mag daarvoor dankbaar wees dat die
gevalle mens besef het dat daar iets nie reg was nie, en dat hy
hom nie aan skaamteloosheid oorgegee het nie. Dit is die goedheid
van God dat Hy vir Adam en sy vrou klere gemaak het en dit aan
hulle gegee het (vers 21). Klere is ’n gawe van God om ons
skaamte te bedek, om ons te beskerm teen die koue en as ’n
soort sieraad.

Skaamteloosheid is ’n kwaad. Ek kan nie
die sonde oorwin en die verhoudings herstel deur skaamteloosheid
nie. Dis slegs liefde wat die skaamte kan oorwin. Slegs daar waar
opregte en intieme liefde is, dus binne die veilige grense van
die huwelik, voel ’n mens hom veilig teenoor mekaar. Daar
kan die skaamte oorwin word.

Skaamte herinner ons dus aan die vervreemding
vanweë die sonde. Die vervreemding word nog duideliker wanneer
God aan Adam en sy vrou verskyn.

Is dit nie opvallend, broeders en susters, dat
Adam en sy vrou, ondanks hul vervreemding van mekaar, tog een is
in hul vlug van God weg, een in hul dwaasheid. Hulle probeer om
hulself vir God te verberg tussen die bome van die tuin.

God roep eers Adam ter verantwoording. Wat doen
Adam dan? Hy erken nie ruiterlik sy eie skuld nie. Nee, hy gee sy
vrou die skuld, ja selfs God. So gaan dit sedert die sondeval.
’n Mens kry dan eggenote wat nie begin om self eerlik hul
skuld te erken nie, maar wat die ander die skuld gee. Hoor Adam
eers praat: "Die vrou wat u gegee het om by my te wees, sy
het my van die boom gegee, en ek het geëet." Vergelyk dit
met die liefdeslied wat Adam in verrukking gesing het in Genesis
2. Wat ’n vervreemding! Verwytend plaas Adam sy vrou op
’n afstand: nie ‘my vrou’ nie, maar die vrou wat u
gegee het, sy het dit gedoen. Ja, wat ’n vrou het U vir my
gegee! Hoe durf Adam om so te praat! Deur die sonde word alles
onderstebo gekeer. Daar is ’n afstand tussen God en die mens
en ’n afstand tussen die mens en sy vrou. Later kom daar ook
’n vervreemding tussen broers, gesinne en volke. ’n
Versteurde verhouding met God lei tot versteurde verhoudings met
ander.

Adam se vrou probeer ook om die skuld af te
skuif. Dis ’n reaksie wat ons nog so dikwels sien in ons
sondige lewe en wêreld. Hoe moeilik is dit nie om die volle
verantwoordelikheid vir ons eie dade te aanvaar, om eie skuld
volmondig te bely nie. Adam se vrou probeer agter die satan weg
te kruip. "Die slang het my bedrieg, en ek het geëet."

Daarna keer God Hom na die slang. Let goed
daarop, gemeente, dat God in sy toorn ook sy genade wys. In die
duisternis gee Hy lig aan Adam en sy vrou. Die vloek vir die
slang, behels ’n belofte vir die mensheid. Die saad van die
vrou sal uiteindelik seëvier. Satan se kop sal vermorsel word.
Dit sal ’n voortdurende stryd wees tussen geloof en ongeloof,
tussen gelowiges en ongelowiges. ’n Stryd wat ook die
menslike verhoudings, ook die huwelik verhoudings onder spanning
sal bring.

Wel gemeente, terwyl God die slang vervloek,
vervloek Hy nie Adam en sy vrou nie. Hy maak wel sy oordeel
bekend. Die gevolg van die sonde sal wees dat die vrou baie pyn
en moeite sal ervaar rondom die kry van kinders. Bowendien sê
die Here: "na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor
jou heers." Hierdie woorde moet ons nie slegs negatief opvat
nie. Hulle bevat ook ’n positiewe herinnering aan hoe dit
was in paradys. God verwys die vrou terug na haar posisie onder
die beskerming en leierskap van haar man. Sy het die grense
oorskry toe sy met satan onderhandel het en haar man op die pad
van sonde gelei het. God roep haar tot die orde. Tog beteken die
woorde meer as dit. Na die sondeval is dit onmoontlik om oor die
onderdanigheid van die vrou en oor die heerskappy van die man op
’n volmaakte en reine manier te praat. Slegs deur geloof in
Christus kan dit weer reg verstaan word.

In Genesis 3:16 word ons dus gekonfronteer met
pyn en moeite. Die onderdanigheid van die vrou sal dikwels
vervang word deur slaafse gehoorsaamheid. Die leierskap van die
man sal dikwels vervang word deur tirannie, onderdrukking en
misbruik van die vrou. Manne domineer dikwels oor hul vroue. In
baie kulture het die rol van die vrou verword tot die van ’n
slaaf. Dit is nie hoe dit behoort te wees nie. Dit is nie hoe die
Bybel dit wil hê nie. Dit is ’n gevolg van die sonde.
’n Vloek.

Slegs die evangelie van Jesus Christus kan
’n egte verandering in die situasie tot stand bring. Vir
Adam en sy vrou het dit maar somber gelyk. Adam se vrou en vroue
in die algemeen staar pyn, moeite en vernedering in die gesig.
Adam self kry te make met moeite, sweet en trane. Deur
moeitevolle arbeid moet hy nou in sy node voorsien totdat hy na
die aarde terugkeer. Ja, dood is die laaste woord wat God noem in
sy oordeel oor Adam en sy vrou.

Tog, gemeente, wat doen Adam onmiddellik hierna?
Adam gee sy vrou ’n ander naam, Eva, die een wat lewe gee,
of slegs ‘lewe’. Gemeente, hoe kan Adam nou sing van
lewe, nadat God gespreek het van ’n vervloekte aarde en van
die dood wat hom sal tref? Het Adam wel goed geluister? Ja seker,
Adam het juis baie goed geluister! Adam het alles gehoor, van die
begin tot die einde. Vanweë die laaste woorde van God, het hy
nie die eerste woorde vergeet nie. Hy het die woorde in sy hart
gegrif. Die woorde wat God vir die slang gespreek het. Die woorde
oor die saad van die vrou wat die kop van die slang sal vermorsel,
deur wie God die oorwinning sal gee. Daarom is daar nog uitsig
uit die dooie dal, oorwinning, lewe. Die toekoms sal ontstaan
deur die saad, die nageslag van die vrou. Daarom noem Adam sy
vrou Eva, lewe, want sy sou moeder van alle lewendes word.

Adam het die evangelie van Jesus Christus, die
saad van die vrou, gehoor, die evangelie van lewe in die skadu
van die dood. Adam het ook die evangelie gehoor in die woorde van
oordeel wat God vir hom en sy vrou genoem het. Sy vrou sal pyn en
moeite ondervind rondom die kry van kinders. Maar sy sal in elk
geval nog die kinderseen ontvang. Sy mag van die Here tog nog
’n ware vrou en moeder wees. En Adam moet wel werk op ’n
vervloekte aarde en die dood in die gesig staar. Maar God gaan
tog nog voort met hom. God wil hom tog nog gebruik in sy diens as
sy onderkoning en medewerker.

Adam en sy vrou ontvang nie die vonnis wat
hulle verdien nie, naamlik onmiddellike dood. Nee, God gee hulle
nog lewe en take. Die ou kultuur mandaat word gehandhaaf. Daar is
genade, vergewing. God rig die verbond van genade op. Adam en sy
vrou mag die aarde vul en onderwerp vir God. En as die dood
intree, dan is dit so anders as die mens verdien het. Nie as
’n onverbiddelike einde van alle lewe nie. Maar as ’n
grens aan sy werk hier op aarde. Hy sal werk en eet totdat hy
terugkeer na die aarde.

Dit bly natuurlik ’n moeilike pad, ’n
pad vol dorings en distels, ’n Pad van agteruitgang en
verval van die lewe. Maar as ek glo in die evangelie van Jesus
Christus, soos dit reeds in die paradys geopenbaar is, dan weet
ek dat die dood nie die laaste woord het nie. Die dood is vir
hulle wat glo nie ’n betaling vir hul sonde nie, maar slegs
’n afsterwing van die sonde en ’n deurgang tot die
ewige lewe (HK, sondag 16). Die saad van die vrou sal die dood en
graf oorwin.

Daarom kan Adam, ondanks die dood, sing van
lewe. Hy noem sy vrou Eva. Noudat hy die evangelie gehoor het,
laat hy die wrewel teenoor sy vrou vaar. Sy hart is weer vol
liefde vir sy vrou, wat God vir hom gegee het. Huwelik en
seksualiteit is nie slegs deur die sonde verdorwe nie. Dit word
ook deur Christus herstel. Die verhouding van Adam en sy vrou
word herstel. Adam waardeer sy vrou weer. Hy fokus nie slegs op
haar swakheid en sondes nie. Hy fokus juis op haar krag. Hy
waardeer haar as sy wederhelf, ja, as sy redder. Via haar
moederskap sal die mensheid immers gered word.

Adam aanvaar ook weer sy posisie as hoof van sy
vrou. Hy neem weer die leiding. Hy wys sy vrou weer haar eervolle
plek. Hy troos haar deur haar te wys op die lig in die duisternis,
die son agter die wolke. Hulle vind mekaar weer in die belydenis
van hul skuld, deur hulself voor God te verneder. Hulle moet
immers beide uit genade lewe. Sonder die genade van God sou daar
geen lewe of toekoms wees nie.

Adam herinner haar aan die betroubaarheid van
God se beloftes. "Vrou, jy sal nie langer na my genoem word
nie, maar na die kind. Nie langer mannin, maar Eva, moeder, bron
van lewe. Adam omhels dus weer sy vrou en lei haar van die
verlore paradys op pad na die nuwe paradys van God.

Christus die saad van die vrou herstel huwelik
en seksualiteit. Ondanks die skaduwees van sonde en pyn word het
tog weer iets moois. Daarom lees ons in Genesis 4:1: "en die
mens het sy vrou Eva beken en sy het swanger geword en Kain
gebaar.

Seksualiteit bly ’n gawe van God. Om
moeder te wees bly ook ’n gawe van God. Ookal het die sonde
daartussen gekom. God wil die gawes vir sy doel gebruik. Laat ons
nie die skaduwees van die sonde onderskat of negeer nie. Die
sonde doen nog steeds groot skade. Elke huwelik staar in feite
probleme in die gesig. Die sonde maak nog so veel stukkend. Laat
ons dan die sonde in eie lewe onderken en kragtig daarteen stry.
Ons kan die huwelik nie in eie krag red nie. Ons kan dit slegs in
Christus se krag. Soos Paulus dit skrywe in Fil 4:13: "Ek is
tot alles in staat deur Christus wat my krag gee." Sy bloed
bedek my skuld. En sy gees stel my in staat om weer vir Hom en
vir mekaar te lewe, in liefde.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)