Die teenstelling tussen kerk en wêreld beheers ons geskiedenis.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-10-08
Teks: 
Openbaring 12
Preek Inhoud: 

Openbaring 12:13-17
Ds C Kleyn - Sondag 8 Oktober 2000

Lees:

Openbaring 12:1-17.
Sing: Ps 68:1,2; Ps 77:7,9; Ps 43:1-3; Ps 46:1-4; Ps 97:6,7.
Tema: Die teenstelling tussen kerk en wêreld beheers ons geskiedenis.

  1. Die teenstelling gestel;
  2. Die teenstelling bedreig; en
  3. Die teenstelling verskerp.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons mag die 50 jarige bestaan van die gemeente gedenk. Daarby mag dankbaarheid die botoon voer. Dankbaarheid vanweë God se bewarende hand. Hy het ons deur verskillende moeites heen gehelp.

By so ’n herdenking is dit goed om die breë verbande in die oog te hou. Die breë verbande waarin die geskiedenis van die kerk hom afspeel. Niks staan op homself nie. Ook nie die bestaan en voortbestaan van hierdie gemeente nie. As ek dit los van die verbande sou sien, dan sou ek die kerk kan gaan idealiseer. Dit sou lewensgevaarlik wees. Hoogmoed kom voor die val. Ek moet waaksaam bly. Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie (1 Kor 10:12). Die stryd is nie verby nie. Ons is nog nie daar nie. Nee, ons moet nog ’n pad van stryd volg.

Via Joh op Patmos laat die Here Jesus ons die breë verbande sien waarin die geskiedenis van die kerk hom afspeel. Die geskiedenis van kerk en wêreld word beheers deur die aloue stryd tussen die kerk en satan, tussen die saad van die vrou en die saad van die slang, tussen gelowiges en ongelowiges. Joh mag as ‘t ware in die hemel kyk. Hy mag die geskiedenis van bo af bekyk. Wat sien hy? Nie die besonderhede nie, maar die groot lyne. Die groot lyne wat alles beheers kan van bo af skerp gesien word.

Wat is dan die groot lyne? Joh sien ’n vrou en ’n draak. Die vrou, wie is sy? Sy is die kerk. En die draak? Dit is Satan. Eers veg die draak teen die vrou wat dit kind Jesus moet baar. Daarin het hy geen sukses nie. Die kind word gebore en bestyg uiteindelik sy hemelse troon. Daarna kom die stryd in die hemel in die midde van die geskiedenis. Ook daarin is satan die verloorder. Satan word op die aarde neergewerp. Hy kry geen toegang meer tot die hemel nie. Na Christus se troonbestyging het hy geen reg om te praat nie.

Hierdie tweede nederlaag het duidelike gevolge vir die aarde. In die hemel is daar fees: "daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon." Maar vir die aarde geld: "Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het." So begin dan die 3e fase van die stryd: die stryd hier op aarde sedert hemelvaart. Ons ontvang ’n voëlvlug van die geskiedenis van hierdie periode.

So verkondig vir U: die teenstelling tussen kerk en wêreld beheers ons geskiedenis.

  1. Die teenstelling gestel;
  2. Die teenstelling bedreig; en
  3. Die teenstelling verskerp.

Na die twee groot nederlae van satan, breek daar wat los hier op aarde. Nie sonder rede roep ’n stem uit die hemel: Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het." In beginsel het Satan die stryd reeds verloor. Christus het die beslissende slag gelewer. Satan se dae is getel. Tog gee hy nie sommer op nie. In sy woede word hy juis feller. Hy kan die Seun nie meer tref nie. Christus is buite sy bereik. Hy is in die hemel. Hy is besig om die geskiedenis te ontvou. Die Seun is dus buite Satan se bereik.

Dit geld egter nie vir die vrou, die kerk nie. Daarom werp satan hom nou heeltemal op die vrou. Hy wil tog nog probeer om die bruilof van die Lam te verhinder. So lees ons van die draak wat die vrou vervolg. Nou satan op die aarde neergewerp is, is die kerk hier nie meer veilig nie. Die vyand van weleer, gaan teen haar te keer. En ons kan nie met sy mag spot nie. Hy word geteken as ’n groot vuurrooi draak. ’n Skrikwekkende verskyning. Hy het sewe koppe – wat ’n intelligensie! Hy het 10 horings. Wat ’n krag! Niks kan hom ewenaar nie.

Is daar dan nog wel uitkoms vir die kerk? Nee, nie uit onsself nie. Dan was ons gou verlore. Tog is daar ontkoming. Hoe dan? Ons lees dat die twee vlerke van die groot arend aan die vrou gegee word, sodat sy na die woestyn kan vlieg. God gee die twee vlerke aan haar. God laat haar ontkom.

Ons word herinner aan Israel se verlossing uit Egipte en sy verblyf in die woestyn. Farao word in die Bybel as ’n draak geteken, as ’n groot seemonster wat gereed staan om Israel sy prooi te verslind (Eseg 32). Maar die Here gryp in en red sy volk.

Die draak is nou ook so ’n seemonster soos Farao. Alleen hy is baie indrukwekkender en huiweringwekkender. Na Christus se hemelvaart wil hy die kerk finaal verpletter. Alleen die Here is in staat om te red. Hy bring sy volk in veiligheid. Deur haar die twee vlerke van die groot arend te gee. Vergelyk dit maar met Israel sy tyd in die woestyn. Ons lees in Deut 32: 11: "Soos ’n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels – die Here alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie."

So is dit ook hier. Die Here bring die vrou, sy volk, na haar plek, die woestyn. Let daarop: die woestyn word hier haar plek genoem. Dws hierdie plek het God vir haar berei, hier is sy op haar plek, solank die draak op aarde is.

Soos die pad van Israel na die beloofde land deur die woestyn gegaan het, so loop nou ons pad na die beloofde erfenis via ’n woestyn. Maar wat word met die woestyn bedoel? In elk geval moet u dit nie letterlik opvat, soos dit in die Ou Testament wel die geval was nie. U kan die woestyn nie op die wêreldkaart aanwys nie. Dit is beeldspraak wat pas by die visioen.

Wat is dan die woestyn? Wys dit op ontbering, groot nood, lyding? Ons lees egter dat die Here die vrou in die woestyn onderhou. God sorg vir dit wat nodig is. Tipies vir die woestyn is dat dit buite die bewoonde wêreld lê. Dit staan buite die bruisende lewe, buite die stede van die wêreld. Die woestyn beteken iets soos afsondering, isolement. Die Here haal kerk en wêreld uit mekaar. In die isolement van die kerk lê sy veiligheid.

U moet dit, broeders en susters, egter nie verkeerd verstaan nie. Die isolement van die kerk beteken nie dat die kerk hom uit die lewe moet terugtrek nie. Dit beteken nie dat die kerk alle terreine van die lewe, soos handel, ekonomie, politiek aan die wêreld moet oorlaat nie. Dis geen wêreldmyding of kultuurveragting wat bedoel word nie. Die kerk is gestel tot ’n lig van die wêreld. En as ons onsself as kerk terugtrek, as ons die wêreld, wêreld sou laat om op te gaan in eie geestelikheid, dan sou ons ons roeping versaak. So ’n kerk is geen kerk nie. So ’n kerk hoef ook nie deur die wêreld gehaat te word nie. Sy los die wêreld immers uit. Watter kwaad sou satan hoef te vrees van ’n kerk wat hom vrywillig uit die lewe terugtrek?

Isolement sien dus nie op wêreldmyding nie. Dit sien op die skeiding met die wêreld. Die kerk is wel in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. Vergelyk dit maar met die situasie in die Ou Testament. Toe het die kerk, Israel, nog van ’n eie staatkundige bestaan gehad. Toe het God sy volk nog ’n eie plek op die wêreld kaart gegee. Palestina was haar land. Daar was sy veilig. Na Christus se hemelvaart is dit anders. Satan is op die aarde neergewerp. Nou is die kerk nêrens meer veilig. Behalwe in haar woestyn, dws behalwe in haar afsondering, in haar bestaan as kerk van Christus, geskei van die wêreld en van die staat. Die kerk is nêrens veilig, behalwe waar sy werklik vir die Here afgesonder is. Solank as sy werklik kerk bly. Solank as sy op haar plek bly staan, op haar eie fondamente, solank is sy veilig, uit die gesig van die slang. Solank sy die gestelde antitese tussen kerk en wêreld handhaaf. Solank sy dit van bo verwag en nie van benede nie. Solank sy nie opgaan in die skatte van benede nie, maar van bo.

’n Mens sou die woestyn tyd van Israel kan vergelyk met ’n verlowingstyd. So is dit ook nou. Ons is as kerk op pad na die bruilof. As Christus se verloofde moet ons ons voorberei op die bruilof. Hoe doen ons dit? Deur ons volledig te rig op die bruidegom.

Om dit te bewerk gee die Here ons dikwels beproewings. Die verloofde mag haar bruidegom nie vergeet nie, deur op te gaan in ander, aardse, dinge nie. So wys die woestyn ook op die volkome afhanklikheid van die Here. Waarom het die Here sy Ou Testamentiese volk deur die woestyn laat trek? Hulle moes op pad na die beloofde land leer om volkome van God afhanklik te wees. Hulle moes leer om te lewe van elke woord wat uit die mond van die Here uitgaan. So ook nou vir ons as kerk van die nuwe bedeling. Ons moet leer om te lewe van elke woord wat van God uitgaan. Die waarborge vir die kerk lê nie hier benede nie, maar bo. Die kerk wat dit bely, wat homself geheel aan God toevertrou, die kerk is veilig, te midden van die rumoer van die volke. God self sorg vir hom. Hy onderhou haar die volle tyd van haar vreemdelingskap, ’n tyd en tye en ’n halwe tyd. ’n Onvoorstelbare lange tyd. Maar nie te lank nie. Skielik sal dit klaar wees.

Gemeente, u mag daagliks die onderhouding van die Here ervaar. Ook al is ons nie van die wêreld nie, ons ontvang nog steeds dit wat ons nodig het, en dikwels baie meer as dit. Wat ’n moontlikhede bly die Here ons nog gee. Nie van die wêreld nie. Maar tog versorg, onder die skild van die owerheid. In ’n wêreld wat van God vervreemd is, kom die geld nog steeds in vir die kerk, sending, skool ens. Deur ’n wonder van bo. Die vrou word in die woestyn op haar plek onderhou uit die onmiddellike bereik van satan. God sorg vir die teenstelling tussen kerk en wêreld. God hou hulle uit mekaar.

Dit beteken egter nie dat die draak nou rustig toekyk nie. Dit sien ons in die tweede punt: die teenstelling bedreig.

Na die mislukking van die eerste opset van die draak volg hy ’n nuwe taktiek. As dit nie luk via ’n direkte metode dan maar probeer met ’n indirekte metode. Hy gooi uit sy bek water soos ’n rivier agter die vrou aan, om haar te laat wegvoer deur die rivier. Satan wil die kerk uit haar isolement uithaal. Hy wil probeer om die teenstelling op te hef. Daarom probeer hy die woestyn te neutraliseer. Hy gooi water in die woestyn. Hy sal die probleem van die woestyn ophef. Hy sal aanbied juis dit wat die woestyn nie het nie. So probeer hy om die vrou, die kerk, mee te sleep met sy verleidelike waterstroom. As die vrou dit van bo verwag, hy sal haar wys: hier benede is alles voorhande. Jy hoef nie van God afhanklik te wees nie.

Broeders en susters, die stroom, dit kan allerlei dinge wees. Dit kan sien op eer en mag, dit kan sien op wetenskap en kultuur ens. Alles wat kan dien om die woestyn op te hef en die kerk in die stroom van die wêreld mee te kry. Sodat die kerk in feite opgaan in die wêreld. Daarby hoef geen bloed te vloei nie. Maar wat ’n lewens word meegesleur, in die verderf.

Wie die kerkgeskiedenis ’n bietjie ken, weet dat die suigkrag van die waterstroom nie onderskat moet word nie. Dink maar aan die tye waarin die kerk mag en eer verwerf het, waarin die kerk selfs ’n politieke mag gevorm het. Hoe het die stroom van die slang die kerk van die ME nie meegesleur nie. Daardeur het dit amper gelyk asof daar geen kerk oorgebly het nie. Dink ook maar aan die tye waarin die kerke staatskerke was. Dit was tye van verval. Die kerk is meegevoer met die stroom. As satan nie via ’n direkte konfrontasie slaag nie, dan probeer hy dit op ’n lieflike en bedrieglike manier. Om sy miljoene mee te sleur. Alliansies word gevorm. ’n Wêreldraad van kerke word opgerig en so ook nasionale rade van kerke. Die kerke moet saamwerk en saamstaan, ook al stem hulle nie saam nie. Eenheid word belangriker as die waarheid. So word massas losgeruk van hul fondament.. Die teenstelling tussen kerk en wêreld word opgehef.

Gemeente, wat het die geweldige ontwikkeling van wetenskap en tegniek ook nie ’n skade agtergelaat nie. Die mens het homself meer en meer onafhanklik gaan voel. Die lyk asof amper alles nou van benede uit beheers kan word. Waarom sou ’n mens nog na bo kyk? Die mondige mens sal homself wel red. Die kerk op aarde word opgeneem in die proses van verwêreldliking.

As daar iets is wat kenmerkend is vir die laaste 50 jare, dan wel dat satan sy massas veral in die westerse wêreld meegesleur het. Dit is beskamende slotsom van 50 jare wêreld geskiedenis. Vir 55 jare geen wêreld oorlog nie. Vryheid in baie lande. Maar massas mense het vergeet dat satan meer pyle op sy boog het. Die verleidende stroom uit sy bek word deur baie nie gesien nie. Kerke en christene word meegesleur in die stroom. Die huidige ontkerstening en verwêreldliking is daarvan ’n duidelike teken. Dit teenstelling word deur satan bedreig en in baie gevalle opgehef. Die kerk word wêreld. Daarom moet die skriftuurlike leer van God se voorsienigheid en soewereiniteit dit ontgeld.

Tog lees ons dat die vrou van Openb 12 gered word. Die troue bruid van Christus sal volhard. Nie deur eie krag nie. Maar danksy die ingryping van God. Nou via die aarde. Ons lees: "En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het." Die aarde kom die vrou te hulp. Telkens gebeur daar dinge waardeur die woestyn situasie vir die kerk skielik gehandhaaf bly. Satan probeer om die woestyn te neutraliseer. Hy wil laat sien: hier op aarde is alles voorhande. Jy hoef heeltemal nie na bo te kyk nie. Maar God sorg daarvoor, soms op ’n baie pynlike manier, dat die kerk haar afhanklikheid bly ervaar. Menslike sekerhede word telkens stukkend gebreek. Daar kom plaaslike oorloë, daar kom kerkstryd. Ons word teruggewerp op ons God. Daar ontstaan ekonomiese krisisse, velerlei verdrukking. Die geloof word beproef en die beproewinge van die geloof werk volharding. Die stroom word verswelg.

En daarom, gemeente, as ons baie of alles skielik kwytraak, dan bly ons nie in sak en as nie. Ons weet: God is met ons besig. Dan kan ons selfs vir sekere kerkstryd dank – ondanks al die menslike tekorte en die seerkry. Daardeur het ons opnuut besef wat ons plek is en dat ons volkome afhanklik is van God se genade. Die woestyn het so vir ons woestyn gebly. Ons kan ook dank vir ekonomiese agteruitgang. God wil ons beskerm teen materialisme, teen die vertroue op aardse sekerhede, met verloëning van Hom. God laat die woestyn, woestyn bly. Hy sorg daarvoor dat die antitese tussen kerk en wêreld gehandhaaf bly. Tot ons behoud.

En gemeente, as satan nie slaag via die indirekte metode teen die kerk, dan word hy woedend. Dit stryd word verskerp. Die teenstelling word verskerp. Dit ly ons tot die derde punt.

Satan kom tot ’n nuwe aanval. As die verleidinge nie luk nie, dan maar opnuut die direkte konfrontasie. Hulle wat trou gebly het, moet nou boet. Julle wat die gebooie van God bewaar, ondanks die massale verlating daarvan. Julle wat nie slegs sommige gebooie nie, maar alle gebooie van God ernstig neem. En dit in ’n wêreld waarin die massa uitgaan van die wil van die mens, en waar ook massas teoloë en christene meeloop of soms selfs voorop loop. Teen die stroom van die publieke opinie in, rig ons ons lewe in na die gebooie van God. Maak nie saak hoe belaglik, ouderwets mense die gedrag ook vind. Ons het tog die getuienis van Jesus Christus. Ons is tog profete van God in woord en daad. Ons bly die woord van Christus uitdra solank dit nog moontlik is.

Sulke christene moet dit ontgeld. Hulle is vir satan ’n doring in die oog. Daarom die hewige aanval. Die mense wat nou nog steeds aan God trou bly, moet nou maar boet. En dit beteken wat vir u, broeders en susters. Want die stryd word ook baie persoonlik. Satan soek nie slegs die kerk as geheel nie, maar ook elke lidmaat afsonderlik, "haar ander nakomelinge." Hy rig hom teen hulle stuk vir stuk, elkeen van hulle is vir hom hinderlik. Hy sal hulle kry, die getroues, een vir een. Hy sal hulle kry, die seuns en meisies van die kerkgesinne. Hy sal hulle kry die vaders en moeders by die huis of by die werk. Hy sal hulle kry die ongehudes, die weduwees en wewenaars, elkeen afsonderlik. Hulle sal dit voel, die antitese. Hulle sal uitgelag word, gepla, verneder, gediskrimineer, aan die kant gesit, vervolg.

Broeders en susters, u mag die 50 jarige bestaan van die gemeente herdenk. U ken die ontwikkelinge in ons land en in die wêreld oor die laaste 50 jare. Die Skrif kan u oë daarvoor oopmaak. U is as kerk veilig, inderdaad, maar dan moet u wel kerk bly. Dan moet u die antitese wel handhaaf.

Gemeente, let op u stryd. Laat die wins van die betreklike rus werklik wins vir u bly. Dit beteken dat u moet bly stry teen die vyand van weleer. Hy gaan inderdaad teen ons te keer. Maak geen fout daarin. En die woestyn is vir ons vlees allermins aantreklik. Wie kies nou vir die woestyn. Ons wil tog ook meetel? Die jong mense wil tog ook meedoen. Maar broeders en susters, seuns en meisies as jy jou deur die wêreld in beslag laat neem, dan beteken dit wel jou ondergang. Aanvaar die stryd, ook al sou dit feller word, die stryd vir die lewe. Immers, julle pad na die beloofde ewige erfenis loop via die woestyn.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)