Die mag van die woord in die gemeente van Christus

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-11-26
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 31
Preek Inhoud: 

Sondag 31
Ds C Kleyn - Sondag 26 November
2000

Lees: Matthéüs 16:13-20,
Matthéüs 18:1-20; Sondag 31.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis;
Ps. 141:3-5; Ps. 19:6,7; Ps. 139:1,2

Tema: Die mag van die woord in die gemeente
van Christus.

  1. Die woord beslis oor die toegang tot die
    hemelse koninkryk; en
  2. Die woord bepaal die omgang binne die
    koninkryk.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wie wil vandag nog spreek oor die sleutelmag
van die kerk? Wie durf om vandag die sleutelmag nog te bedien? Om
dit te bedien moet jy stellig wees. Maar wie durf nog te kom met
stellige uitsprake?

Baie mense durf die tug nie meer te hanteer nie.
Baie wil dit ook nie meer nie. Mense vind dat hulle nie bevoeg is
om tug uit te oefen nie. Wie gee die kerk die reg om mense van
die nagmaal af te hou? Wie gee ons die reg om mekaar aan te
spreek op sondes? Wie gee ons die reg om iemand uit die gemeente
uit te sluit en om daarby te sê dat God self die persoon uit die
ryk van Christus sluit? Is dit nie baie hoogmoedig en aanmatigend?

Gemeente, laat ons luister na wat God self
hieroor sê. Uiteindelik is nie beslissend wat mense daarvan vind
nie, maar wat God daarvan vind. In die gemeente van Christus mag
nie die gevoelens van mense die toon aangee nie, maar die woorde
van Christus. So wil ek vir U verkondig:

Die mag van die woord in die gemeente van
Christus.

  1. Die woord beslis oor die toegang tot die
    hemelse koninkryk
  2. Die woord bepaal die omgang binne die
    koninkryk.

Mt 18 spreek uitvoerig oor die koninkryk van
die hemele. Die dissipels kom by Christus met die vraag: wie is
die grootste in die koninkryk van die hemele? Na aanleiding
daarvan gee Jesus hulle les oor die norme van die koninkryk. Hy
haal ’n kind daarby. Hy laat die kind in hul midde staan.
Aanskoulike onderwys. Die koninkryk is nie bestem vir mense wat
groot is na menslike maatstawwe nie, maar vir kleintjies. "Voorwaar
Ek sê vir julle," hoor ons die Here sê, "as julle nie
verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die
koninkryk van die hemele ingaan nie."

Christus laat sien hoe dwaas die vraag van die
dissipels is. Nie wie groot is gaan binne nie, maar wie erken dat
hy klein is. Dan gaan jy tog nie twis oor die vraag wie die
grootste in die koninkryk van die hemele is? So ’n twis is
hier onvanpas. Dit pas slegs buite die ryk. Jy kom die ryk van
God slegs binne langs die pad van bekering. Jy staan daar dan met
twee leë hande voor God, soos ’n klein kind, wat van genade
afhanklik is. Die evangelie van die koninkryk is nie vir mense
wat met hul eie grootheid en hul eie prestasies aan kom nie. Dit
is vir die armes, die armes van gees. "Salig is die wat arm
van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele."
(Mt 5: 3).

’n Kind is arm, afhanklik. ’n Klein
kind het geen pretensies nie. ’n Klein kind verwag dit nie
van homself nie, vertrou op ’n ander. Ek kom as ’n
klein kind in die koninkryk. En as ek eenmaal binne is, dan sal
ek slegs as so ’n kind kan lewe. Slegs so is ek groot in die
oë van God.

Maar, gemeente, waar sien ’n mens dan die
koninkryk oopgaan? Daar waar die Woord van die koninkryk gehoor
en aangeneem word. Die woord open en sluit deure. Deure tot die
hemelse koninkryk.

Joh die Doper het die koms van die hemelse ryk
aangekondig. Jesus Christus het die ryk naby gebring. Hy vergader
die burgers van die ryk. Hy gaan sy gemeente bou en bewaar. Die
poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Die magte van
die dood moet wyk. So breek sy koninkryk baan in hierdie wêreld.

Na die werk van Christus self, kom daar die
werk van Petrus en die ander apostels. Christus sê immers vir
Petrus: "op hierdie rots sal Ek my gemeente bou."
Petrus kom as eerste van die dissipels na vore met die belydenis
van die Christus, die Seun van die lewende God. Die Vader het hom
die geloofsinsig gegee. Daarom spreek Petrus die definitiewe
geloofswoord van die kerk. As eerste. So kry sy naam Petrus sy
volle gewig. Hy is met sy belydenis die rots waarop Christus sy
gemeente sal bou.

Hier sien u, broeders en susters, ’n
belangrike voortgang van Christus se werk op aarde. Christus
skakel ’n mens in en plaas hom op ’n fundamentele plek.
God het reeds jare lank gespreek deur sy Seun. Sy Seun, wat vol
gesag spreek. Wat sondes vergewe. Wat lewe skenk.

Mt 16 wys die oomblik aan waarop Petrus in
Christus se werk volkome betrokke word. So kry God se
verlossingswerk vaste voet op die aarde, ook wanneer Christus na
die hemel gaan. Daar kom perspektief. Die gemeente van Christus
sal op hierdie petra verrys. Via die getuienis van die man Petrus
en van die ander apostels sal God se ryk gebou word. Niemand kan
om die apostels heen nie. Hulle ontvang as predikers van die
evangelie, wat in Christus geopenbaar is, ’n sleutelposisie.
Christus beklee Petrus en in hom ook die ander dissipels met
hierdie volmag: "Ek sal jou die sleutels van die koninkryk
van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in
die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind,
sal in die hemel ontbonde wees."

Petrus kry die bevoegdheid om in die naam van
Christus die sleutels te bedien. Hy ontvang as ‘t ware
’n sleutelbos. Wanneer die Bybel sê dat jy van jou heer
sleutels ontvang, dan beteken dit dat jy ’n
vertrouensposisie in die huis van jou heer ontvang. Jy is dan die
vernaamste kneg. Jy ontvang dan groot seggenskap oor die sake van
jou Heer. Niemand kan om die sleuteldraer heen nie. Die kontakte
met die Heer en die toegang tot sy skatte loop via die een
persoon. So word Petrus aangestel tot beheerder van Christus se
ryk. Hy word nie slegs ’n soort portier nie. Hy is God se
intieme kneg, sy saakgelastigde. Hy kan die skatkamers van sy
Heer open en sluit. Hy mag oor die heil beskik, oor die skatte
van God se ryk. As jy daaraan wil deelhê dan moet jy by hom wees.
Christus het vir hom die sleutelbos gegee.

Petrus ontvang geen maklike taak nie. Veral nie
as die Here straks op sy troon in die hemel sit. Daarom gee die
Here sy dissipels as ‘t ware sy seëlring. Hy bemoedig sy
dissipels met die belofte: "wat jy ook op die aarde mag bind,
sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde ontbind,
sal in die hemel ontbonde wees." Christus verseker Petrus:
jou woorde sal voor die troon van God geldig wees.

Om te bind en ontbind wys hier op regsgeldige
woorde in negatiewe of positiewe sin. Dit is bekende rabbynse
uitdrukkings. Die wetgeleerdes het in hul onderrig ook gepraat
van bind en ontbind. Om te bind het dan ongeveer die betekenis
gehad van: om iets te verbied, terwyl om te ontbind die betekenis
gehad het van om iets te veroorloof. Jy verbied dus iets of jy
staan iets toe. Jy sluit of jy open.

Wanneer u goed let op die woorde van Christus
dan sal u ontdek dat daar nie gepraat word van ’n bind of
ontbind van mense nie. Die onbepaalde woord "wat" word
gebruik. "Wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel
gebonde wees." Dit gaan hier veral oor Petrus se leer
onderrig. Sy woorde sal regsgeldig wees. Die woorde wat hy hier
op aarde namens God spreek sal voor die troon van God geldig wees.
Via Petrus spreek God self, die hoogste Regter.

Maar gemeente, hoe kan die woorde van mense, in
hierdie geval van Petrus so ’n gesag hê? Dit is moontlik
omdat die evangelie wat hierdie man spreek ’n woord van bo
is. Die evangelie van Christus, die Seun van die lewende God, kom
nie van benede uit nie. Vlees en bloed het dit nie aan Petrus
bekendgemaak nie, maar die Vader wat in die hemele is. Die
evangelie kom dus van bo. Daarom kan hierdie evangelie wat op
aarde verkondig is, in die hemel geldig wees.

So het die woorde van die troue kerk van
Christus geldigheid. Die woorde wat in Mt 16 aan Petrus gerig is,
word in Mt 18 op die gemeente toegepas. Christus wys immers op
die bevoegdheid van die gemeente om op te tree. As iemand nie
luister na die broederlike vermaan dan moet jy dit aan die
gemeente sê, sê Christus. As hy na die gemeente ook nie luister
nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.
Onmiddellik daarna lees ons die bekende woorde: "Voorwaar Ek
sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die
hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal
in die hemel ontbonde wees." Die sleutelmag word hier aan
die gemeente toegeken. Die gemeente mag met gesag spreek. Hoekom?
Omdat die woord van God aan die gemeente is toevertrou.

Petrus het die fondament gelê, saam met die
ander apostels. Met hul apostoliese getuienis. Met die
definitiewe woord van verlossing in Jesus Christus. Die gemeente
wat op die fondament verrys, kry ook self die sleutelmag. Dit
hoef u nie te bevreemd nie. Die woord van Petrus en die ander
apostels het immers die woord van die gemeente geword. Die mag om
die woord van Christus op aarde te bedien het nie verdwyn met
Petrus nie. Die mag bly oral waar gelowiges in ooreenstemming met
die apostoliese woord vergader word en waar die woord trou bedien
word. Waar die evangelie van die koninkryk aanwesig is, daar is
ook die volmag om die toegang tot die koninkryk te open of te
sluit. Die woord wat hier in getrouheid bedien word is geldig in
die hemel voor die troon van God.

Dit is, broeders en susters, die krag van die
woord wat aan ons as gemeente is toevertrou. Hier word die deure
tot die skatkamers van God se ryk geopen. Hulle word geopen vir
elkeen wat hom bekeer en die evangelie van harte aanneem. Die
prediking is geen vryblywende saak nie. Dit het die krag van
’n ultimatum. U het daarin te doen met die goddelike Regter
op sy troon. Hier en nou val beslissings wat regskragtig is voor
God in die hemel. Wie glo soos ’n kind en hom bekeer, tot
hom word gesê: "Kom, julle geseëndes van die Here, beërf
die koninkryk van die hemele."

Die kragtige woord van Christus beslis nie
slegs oor die toegang tot die hemelse koninkryk nie. Dit bepaal
ook die omgang binne die koninkryk. Dis die tweede gedagte.

In Mt 18 tipeer Christus die gemeente dus as
’n gemeenskap van kleines, van mense wat besef dat hulle
klein is teenoor God, soos ’n kind. Vervolgens praat
Christus oor die kragte wat die gemeenskap bedreig. Hy wys op die
verleidende mag van die sonde. ’n Ontbindende krag. Binne
die gemeente mag dit nie so wees dat ek in wedywer probeer om die
ander te oortref nie. Ons moet saam klein wees en afhanklik van
die Here. Naas mekaar staan en vir mekaar daar wees. Met die
magtige woord van Christus.

Christus sê: "elkeen wat een van sulke
kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My." Om te ontvang
beteken hier soveel as: jou hart vir iemand oopstel,
verantwoordelikheid vir ’n ander aanvaar. Dit wys op liefde
en sorgsaamheid vir mekaar. Wedywer isoleer. Daardeur staan
’n mens uiteindelik alleen, eensaam. Wedywer is ’n
teken van selfsug en verbreek die gemeenskap. Liefde daarenteen
bind saam. Dit hou die kwetsbare gemeenskap in stand.

Die grootste vyand van die gemeente is daarom
die sonde. Sondige gedagtes, sondige woorde, sondige dade. Dit is
besmetlik. Dit kan ander aansteek. Wie so die kerklike samelewing
afbreek, verdien ’n eweredige straf: "Maar elkeen wat
een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is
vir hom beter dat ’n meulsteen aan sy nek gehang word en hy
wegsink in die diepte van die see."

Dan is daar die rigoreuse maatreëls van die
verse 8 en 9 "As jou hand of voet jou laat struikel, kap dit
af en gooi dit van jou af; dit is vir jou beter om in die lewe in
te gaan, kreupel of vermink, as om twee hande en voete te hê en
in die ewige vuur gewerp te word."ens. Daarmee benadruk
Christus die erns van die saak. Besef wat hier op die spel is.
Dis die ingaan in die lewe. As ek sagsinnig teenoor myself is,
teenoor die sonde in my lewe, as ek dit nie uit my lewe wil
wegsny nie, dan word ek ’n slaaf van die sonde. Dit sal dan
eindig in die dood, die ewige dood.

Ek moet steeds weer my lewe suiwer deur die
Woord van God. Om in die aanwesigheid van die heilige God te
verkeer moet die Heilige Gees in my woon. En wat impliseer dit
volgens Paulus se briewe? Dit impliseer dat die woord van
Christus ryklik in ons woon in alle wysheid. So kan ons mekaar
leer en vermaan met psalms en lofsange en geestelike liedere (Kol
3:16). Die gesaghebbende woord van Christus maak ons omgang
moontlik, so kan ons mekaar werklik help opbou, sodat ons saam op
koers mag bly op pad na die volkome saligheid, die volkome
inwoning by die heilige God.

Wat doen ek dan as ek ontdek dat die sonde in
die lewe van ’n lidmaat ingedring het? Kan ek dit dan so los?
Kan ek dan die persoon sy ongeluk tegemoet laat gaan? Kan ek dit
aansien dat hy of sy verongeluk. Wat doen ’n mens as jy
’n kind op ’n besige pad sien loop, presies op die pad
van ’n vragwa? Dan probeer jy tog om in te gryp, voordat dit
te laat is? Jy wil die ongeluk voorkom. Jy wil die kind red. Is
dit hoe ons ook voel mbt die redding van mekaar, die redding van
sonde?

In Mt 18 ontvang ons die bekende reël: "As
jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom
alleen." Let daarop, jy wil dit onder vier oë afhandel. Jy
wil die persoon sy naam nie bederf nie. Jy wil die persoon juis
red. Daarom sal jy ook nie uit die hoogte so ’n persoon
benader nie. In Gal 6 wys die Here hoe ons dit moet doen. Ek
siteer: "Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander
misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp
met die gees van sagmoedigheid (NB), terwyl jy op jouself let,
dat jy ook nie versoek word nie." Met die gees van
sagmoedigheid. Nie met die botte byl nie. Nie op ’n
vernederende afstotende manier nie. Maar op ’n trekkende
manier waarin die hart van ’n soekende herder klop.

Een van die beste maniere is dikwels om nie met
beskuldigings te begin nie, maar om in die lig van die woord vrae
te stel. Vrae wat die persoon dwing om self daaroor na te dink.
Vrae wat die persoon kan help om self die konklusie te trek dat
hy verkeerd is. Bv Hoe ervaar jy wat jy gedoen het? Hoe sien jy
dit in die lig van die of die woord van God? So kan ’n mens
al vragenderwys verder kom tot die besef en erkenning van die
sonde. Hopelik lei so ’n gesprek tot ’n afhandeling van
die saak, die berou van die sondaar. Dan het jy die broeder gewin.
Daar gaan dit immers om.

As die persoon nie wil luister nie, dan moet
die geding met toenemende krag aangaan. Daarvoor moet een of twee
persone ingeroep word. Persone wat getuies kan wees van die
vermaan, om te sien of dit wel korrek is, en of dit wel met
wysheid en broederlike liefde gebeur. Getuies wat die vermaan kan
versterk, indien nodig. So wil die Heilige Gees nog kragtiger die
sondigende broeder aanspreek. Sodat hy van die sonde gered kan
word. Sodat pleks van die sonde, God se woord en Gees ryklik in
sy hart mag woon.

Om dit aan die gemeente te sê, is die uiterste
maatreël waaroor ons op aarde beskik. So kan die proses van die
volharding teengegaan word. As die persoon dan nog nie luister,
dan het die sonde kennelik besit geneem van die broeder. Hy wil
kennelik liewer deur die sonde as deur die Gees van God gelei
word. So ’n persoon kan dan nie meer verkeer in die heilige
aanwesigheid van God nie. Hy behoort nie langer in die ryk van
God nie. Hy leef onder ’n ander heerskappy, naamlik die
heerskappy van die duiwel en die dood. Vandaar die noodsaak van
die afskeid, die ekskommunikasie. "Laat hom vir jou wees
soos die heiden en die tollenaar."

Broeders en susters, hoe normaal is die
nalewing van die reël van Mt 18 in ons midde? Dit sou die
normaalste saak van die wêreld moet wees. Altans indien die
Woord en Gees van Christus in ons midde woon. Hoe normale dit
word, hoe makliker dit ook word. As ons onsself oopstel vir die
teregwysing van ander, dan sal ons ook makliker die ander kan
teregwys in ’n gees van sagmoedigheid, terwyl ons op onsself
sien. Laat ons nie wag tot iemand in groot sondes val nie.
Weerstaan die duiwel in die begin. Help mekaar reeds by die begin.
En toon waardering vir die pogings van ander om u aan te spreek.
Dit getuig immers van liefde, dat die persoon werklik vir jou
omgee. Gaan nie teenoor mekaar staan nie, maar naas mekaar in die
stryd teen die sonde, die sonde in die lewe van elkeen van ons.
Ons het mekaar nodig. Ons het almal korreksie nodig. Wees daarom
vir mekaar wat God wil hê dat u vir mekaar moet wees. As brs en
srs wat omgee. Hy wil immers dat die woord van Christus ryklik in
ons midde woon en funksioneer.

Dis geen maklike taak nie, veral nie in hierdie
tyd van individualisme. In die tyd waarin mense hul eie vryheid
beklemtoon. Mense wil self bepaal hoe hulle sal lewe. In ’n
tyd waarin alles as betreklik en persoonlik beskou word. Wie durf
dan nog met stelligheid te sê dat ’n ander dit verkeerd
sien of doen? Tog, broeders en susters, is die onderlinge vermaan
sedert die uitstorting van die Gees des te meer moontlik. U het
die woord van Christus ontvang. God se definitiewe woorde, wat
waar en vas is. God se gesaghebbende woorde. Dit stel u in staat
om in alle wysheid mekaar aan te spreek en tereg te wys. Dit is
en bly u krag.

Broeders en susters, wees dan dankbaar vir die
woorde wat u van bo geleer het. Die apostoliese woorde wat nou
aan die gemeente is toevertrou. Wees dankbaar vir God se uiterste
sorg vir die behoud van sondaars. Hy wil nie hê dat een van
hierdie kleintjies verlore gaan nie. Hy soek die verlorene op. Hy
roep die dwalende terug. Bly dan die woord van Christus bewaak en
hanteer. God het dit nie verniet aan u toevertrou nie. Hy wil dat
die woord gehoor word. Dat die woord die hoogste gesag behou. Dat
die woord die onderlinge omgang bepaal. Sodat elkeen die skatte
van God se ryk mag bly geniet.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)