Die regte verering van die heilige God

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-12-31
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 35
Preek Inhoud: 

Sondag 35
Ds C Kleyn - Sondag 31 desember
2000

Lees: Johannes 4:19-24;
Hebreërs 12:14-29; Sondag 35.
Sing: Ps. 100:1,2; Ps. 101;
Ps. 67:1,2; Ps. 95:1-4; Ps. 149:1,2

Tema: Die regte verering van die heilige God.

  1. Die norm van die regte verering;
  2. Die erns van die regte verering;
  3. Die basis van die regte verering; en
  4. Die doel van die regte verering.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe ervaar u die manier waarop ons die Here
dien? Hoekom vereer ons Hom op die manier waarop ons dit doen?
Hierdie onderwerp kan vir baie mense moeilik wees. Miskien word
sommige voor hierdie vraag gestel deur familie of Christelike
vriende wat op ander maniere God aanbid. Miskien is daar iemand
wat met hierdie vrae worstel omdat hy in homself onseker oor sy
geloof voel. Kan die wyse waarop ons God vereer nie op ‘n
meer betekenisvolle manier gedoen word nie, meer vry, meer …,
wel, enigiets wat my kan help? Of jy is seergemaak deur ander
Christene wat die manier waarop jy God dien, belaglik maak. Hulle
noem dit te formeel, onvanpas, vervelig, ongemaklik. Ja, daar is
kerke wat dinge op ‘n ander manier doen, selfs tot die
uiterstes van ‘n "rock"-orkes in die jeugdienste.
Hoekom dien ons God op die manier waarop ons dit doen? Moet ons
dit miskien ook anders doen? Moet ons dalk meer fokus op die
relevansie, op die gebruikersvriendelikheid, om mense meer
gemaklik te laat voel? Ja, hoe moet ons God vereer?

Geliefdes, in die tweede gebod word hierdie
vraag aangespreek. In die eerste gebod het God gesê: jy mag geen
ander gode voor my aangesig hê nie. Daar het God afgodery, die
verering van ander gode, verbied.

In die tweede gebod sê die Here: jy mag My nie
deur beelde dien nie. Die tweede gebod wys dus op die manier
waarop God aanbid wil word. Die Kategismus wys ons daarop wanneer
dit sê dat ons God op geen ander manier mag vereer as wat Hy in
sy Woord beveel het nie.

Ek verkondig aan u: Die regte verering van die
heilige God.

  1. Die norm van die regte verering
  2. Die erns van die regte verering
  3. Die basis van die regte verering
  4. Die doel van die regte verering

Die Here Jesus het hierdie onderwerp met die
Samaritaanse vrou by die bron bespreek. In hierdie gesprek het Hy
dit duidelik gemaak dat met Sy koms die plek van
aanbidding (bv die berg Sion in Jerusalem of die berg Gerisim in
Samaria) nie meer belangrik is nie. Die belangrike vraag nou is hoe
die aanbidding moet plaasvind. Ons lees in Johannes 4: 23: "Maar
daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders
die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook
mense wat Hom so aanbid."

Die verering wat vir God aanvaarbaar is, moet
in gees en waarheid aangebied word.

Maar wat beteken dit?

Aanbidding in die gees beteken dat dit vanuit
die hart moet kom. Lewende hartediens is wat die Here soek. Nie
net lippediens of formele aanbidding nie. Dit mag nie net ‘n
kwessie wees van die navolging van sekere patrone nie. Nee, ons
moet in die gees God vereer. Dit beteken dat die ware verering
ook emosies betrek. Dit is nie net ‘n kwessie van
onaangeraak deur die roetine beweeg nie. Dit is nie net ‘n
uiterlike gebeure nie.

Broeders en susters, die apostel Paulus vertel
in Filippense 3 hoe hy vroeër, voor sy bekering, obsessief was
oor die uiterlike, die vleeslike – soos die besnydenis en
ander seremoniële rituele – eerder as om te let op die meer
belangrike, naamlik die toestand van sy hart. Sy bekering op pad
na Damaskus het dit alles verander. Sy oë het oopgegaan vir die
magtige waarheid van regverdigmaking deur die geloof. Hy het
geleer dat die volbringing van religieuse rituele – soos die
besnydenis en ander seremonies – alleen absoluut geen
geestelike waarde het nie. Paulus beskryf dit selfs as gemors,
letterlik, as drek (Filippense 3:8).

Geliefdes, waaraan dink u as u van erediens
praat? Dikwels het mense net die uiterlike dinge in die oog
– liturgie, seremonie, musiek en ander formele sake. Dit is
opvallend om te sien dat ’n aantal sogenaamde Evangeliese
Christene by die Rooms Katolieke Kerk aansluit. Waarom? Rome bied
meer formele rituele aan – die brand van kerse, beelde,
neerkniel, opsê van gebede, kruise slaan ensovoorts. Maar
hierdie dinge het niks te doen met die opegte aanbidding in gees
en waarheid nie. Inteendeel, as menslike uitvindings – en
nie Bybelse voorskrifte nie – is dit juis hierdie soort
dinge wat Paulus as "drek" beskryf.

Die geskiedenis bewys dat die neiging om
vleeslike rituele by te voeg by die verering wat God beveel het,
baie sterk is. Israel het dit in die Ou Testament gedoen, dit het
uitgeloop op die religie van die Fariseërs. Heidense religie
bestaan uit niks anders as vleeslike rituele nie. Sulke
seremonies is dikwels pragtig en ontroerend. Maar dit maak dit
nog nie ware aanbidding nie. God veroordeel dit as menslike
toevoegings. "Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe
te leer wat gebooie van mense is." (Mattheus 15:9). Pasop
vir hierdie leringe. Moenie aanneem dat wat tradisioneel aan God
in verering geoffer is, ook outomaties deur Hom aanvaar word nie.

Maar, broeders en susters, beteken hierdie
afwysing van die formele en uiterlike verering dan dat dit net
die houding is wat tel en dat uiterlike handelinge geen waarde
het nie?

Vandag is daar heelwat Christene wat gereeld
die uiterlike diens van verering afwys ten gunste van die
gelowige se houding. Dit word dikwels as ‘n deug gesien om
goedbewaarde vorms van verering aan te val en te vernietig. Dit
word gesien as puur tradisioneel, outyds, ‘n struikelblok
vir ware aanbidding. Die mense glo dat, solank as wat hulle
ernstig is met hulle aanbidding, God bly sal wees met hulle,
ongeag die manier waarop die verering plaasvind. Hulle vergeet
dat mens ook opreg en tog verkeerd kan wees. God is nie bereid om
uiterlike vorme te ruil vir die regte houding nie. Hy wil albei hê.
‘n Ydele gebruik van vorms is sonde (byvoorbeeld: Hosea 6:6
: "Want Ek het ‘n behae in liefde en nie in offerande
nie, en in kennis van God meer as in brandoffers."). Maar
net so is ‘n eerlike misbruik van die Bybelse vorms van
aanbidding ‘n oortreding van Sy gebod.

God wil hê dat ons in gees en in waarheid Hom
aanbid. Ja, ook in waarheid – met ander woorde in harmonie
met die waarheid wat God in die Skrif geopenbaar het.

Sonde bly altyd ‘n probleem, ook vir
gelowiges. Daarom moet ons nie vertrou op die tradisies of op ons
eie intuïsie om ons na die regte verering te lei nie. God verwag
van ons verering in gees en waarheid. Dan moet alle aanbidders na
die Woord van die Here kyk om op die regte pad gelei te word. God
se Woord is die waarheid en slegs daaruit kan ons leer wat die
regte aanbidding behels.

Dit het gelei tot die sogenaamde regulerende
beginsel van aanbidding. Volgens hierdie beginsel mag ons God nie
anders vereer as wat Hy in Sy Woord beveel nie. In die toepassing
van hierdie beginsel is daar verskille tussen Christene. Sommiges
gebruik dit byvoorbeeld om die gebruik van musiekinstrumente uit
die erediens te weer, terwyl ander nie ‘n probleem het met
‘n orrel in die kerk nie. Nie almal stem saam oor hoe
hierdie beginsel in elke klein besonderheid toegepas moet word
nie. Ons moet oppas vir groot geskille oor klein dingetjies.
‘n Obsessie om hierdie beginsel tot in die kleinste
besonderhede toe te pas, kan maklik ‘n destruktiewe vorm van
wettisisme word. Die Bybel skryf nie elke klein dingetjie voor
nie. Maar ondanks die verskille oor klein puntjies, mag ons
dankbaar wees vir die woorde van ons Kategismus: "Ons mag
God op geen ander manier vereer as wat Hy in Sy Woord beveel het
nie." Waarom mag ons daarvoor dankbaar wees? Omdat ons
dikwels aanneem dat ons persoonlike voorkeure en smake ‘n
genoegsame gids is om te weet wat God sal bly maak in ons
aanbidding. Die Woord van God is die enigste norm vir die ware
aanbidding.

Ja, geliefdes, die besorgdheid oor die regte
manier van aanbidding is nie ‘n klein sakie nie. Ware
aanbidding is ‘n ernstige saak. Dit is die tweede punt. Die
wat God anders vereer as wat in die Bybel voorgeskryf staan,
speel met vuur – letterlik.

In Levitikus 10 lees ons van Aäron se seuns,
Nadab en Abihu, wat "vreemde vuur" voor die aangesig
van God gebring het, wat Hy hulle nie beveel het nie. Kom ons
lees hierdie gedeelte saam. Levitkius 10:1-3. Let daarop dat
Nadab en Abihu nie aan valse gode geoffer het nie, maar aan die
Here. Hulle was nie gewone burgers nie, maar priesters –
seuns van Aäron. Ons het geen rede om aan te neem dat hulle nie
opreg was of dat hulle verkeerde motiewe gehad het om tot die
Here te nader nie. Hulle het selfs na die regte plek gegaan
– na die heiligdom. Maar die offers wat hulle gebring het ,
was ongemagtig en die Here het hulle met vuur neergeslaan, omdat
hulle hom nie geëer het nie; hulle was nie gehoorsaam aan die
wette wat Hy gegee het vir die diens aan Hom nie. Kortliks, hulle
het God vereer op ‘n manier wat Hy nie van hulle gevra het
nie.

Nadab en Abihu was nie die enigstes nie. ‘n
Hele paar generasies later het Ussa dieselfde soort ervaring.
Dawid was besig om die ark na Jerusalem te bring, toe die ongeluk
gebeur. Ons lees daarvan in 2 Samuel 6:6,7 "En toe hulle by
die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand uitgesteek na die
ark van God en dit vasgehou, want die osse het gestruikel. Daarop
het die toorn van die HERE teen Ussa ontvlam, en God het hom daar
getref oor die vergryp, sodat hy daar by die ark van God gesterf
het." Hoekom was Ussa se handeling oneerbiedig? Hy het tog
probeer voorkom dat die ark val en beskadig word? Kan daar ‘n
meer opregte en toegewyde manier wees om te wys dat hy God
liefhet? Maar Ussa was nie ‘n priester nie en was daarom nie
toegelaat om aan die ark te raak nie – maak nie saak om
watter rede nie. Toe hy dit tog doen, het hy gesterf.

Gemeente was dit ‘n oorreaksie van God toe
Hy Nadab en Abihu en Ussa neergeslaan het? Ons mag dalk soms so
dink. Maar dit kom omdat ons nie so ywer vir die heilige Naam van
God soos wat Hy ywer nie. God is ‘n heilige God. Om in Sy
heilige teenwoordigheid te wees is nie ‘n klein sakie nie.
Besef wat jy doen. Besef hoe jy die heilige God aanbid. Doen wat
Hy beveel het!

Vandag sê Christene dikwels dat hulle "gemaklik"
wil voel in die kerk. Hulle verkies die soort dienste waarin
hulle lekker voel. Maar die gemak wat God aan sy vereerders skenk
is nie dieselfde as "om gemaklik te voel nie".

Ware aanbidding, volgens die Skrif, is alles
behalwe "gemaklik". Dink maar aan wat ons gelees het in
Hebreërs 12:22-25,29, veral die verse 25, 28 en 29.

Klink dit na ‘n "gemaklike plek"?
As die kerk op die regte manier die Here aanbid, dan word ons
gewetens aangespreek – dan word ons skuldig bevind aan
sondes en dan staan ons met ontsag en vrees voor die heilige God.
Dan verneder ons onsself voor Hom in geloof en bekering.

Nou die derde punt: die basis van die regte
verering.

Hoe kan ons ingaan in die teenwoordigheid van
die heilige God? Slegs deur die versoenende werk van Jesus
Christus. As sondaars het ons reiniging nodig. Sonder die
vergewing van ons sondes, kan ons God nie nader nie. Jesus
Christus het Sy eie bloed geskenk om ons skoon te was. Ons
aanbidding moet daarom baie sê oor die belydenis van ons sondes,
die berou daaroor en die soeke na God se vergewing.

Baie mense voel dat die beklemtoning van die
sonde "te negatief" is. Ons moet eerder klem lê op die
"positiewe" kant van aanbidding, sê hulle. Laat die
mense weet hoe bly die kerk is dat hulle daar kom aanbid en per
implikasie hoe bly God is dat hulle daar is. Konfrontasies oor
sonde en oordeel – in die preek of waar ook al in die diens,
word gesien as slegte maniere. Dit sal mense "afsit" en
hulle weghou. So word ons vertel.

Maar, geliefdes, God verbied sondaars toegang
tot Hom op grond van hulle sonde en Sy oordeel daaroor. As ons
daarom sondaars aanmoedig om Hom te nader sonder ‘n diep
besef van hulle skuld en van die vergewing deur Christus alleen,
dan het ons hulle nie werklik ‘n guns gedoen nie. Hoe sal
ons die ware vrede met God ervaar. Slegs wanneer die besef van
ons sonde ons meer en meer verneder voor God, en dit ons lei om
die kruis van Christus met vertroue te omarm. Dit mag dalk
teenstrydig klink, maar die enigste troos kom nie daarvan om die
probleem van sonde in ons lewe te minimaliseer nie, maar deur dit
te konfronteer in al sy diepte. Dan sal daar nog ‘n dieper
waardering vir die vergewende werk van Christus wees.

Geliefdes, die hart van die erediens is dat God
na ons toe kom met die boodskap van versoening in Jesus Christus.
God kom na sondaars toe, Hy praat met sondaars: "genade en
vrede vir julle van God die Vader en die Here Jesus Christus."
God kom na ons toe met die verkondiging van die vergewing in
Jesus Christus.

Hierdie inisiatief van God en Sy woorde maak
die Christelike geloof so uniek. In heidense religies en
eiewillige Christelikheid kom die inisiatief van die aanbidders
self af en hulle gode kan nie praat nie. Hierdie aanbidders moet
presteer om die guns van hulle gode te wen. Dink maar aan die Baälpriesters
op die Karmel. Hulle het al hoe harder en harder geskree en hulle
self met spiese en swaarde gesny om die aandag van Baäl te trek
(1 Konings 18).

In die moderne, eiewillige gemeenskap sien ons
iets soortgelyks gebeur. Dit lyk asof musiek ‘n nuwe
sakrament geword het. Deur middel van intense en langdurige
gesing soek die mense ‘n ervaring met God en soek hulle God
se seën. Asof God ingeroep kan word deur menslike optredes.
Hierdie ervaring word deur baie mense so belangrik geag dat die
kerk beoordeel word op grond van die karakter en die kwaliteit
van die musiek.

Musiek op homself mag ons soms ontroer deur die
prag daarvan, maar so ‘n sentiment is nie aanbidding nie.
‘n Emosionele verhaal kan ons raak en beroer. Maar wanneer
die boodskap nie in lyn met die Bybelse waarheid gebring word nie,
is die emosies wat opkom, van geen nut vir ware aanbidding nie.
Hooglopende emosies is nie noodwendig ‘n getuienis dat ware
aanbidding plaasvind nie.

Egte aanbidding is ten eerste die luister na
God se Woord en dan die reaksie daarop. Om na die heilige God te
luister is die grootste ervaring wat ‘n mens kan beleef. Jy
het nie nodig om allerlei dinge te doen om God in te roep nie. Jy
het nie nodig om jouself op te sweep deur middel van emosionele
liedere nie. Nee, God het gekies om na jou te kom en met jou te
praat. Al wat jy hoef te doen is om te luister en in geloof en
bekering te reageer.

Met ander woorde die Bybellees en die preek
moet in die middelpunt van die erediens bly. Die regte aanbidding
kan nie daarsonder nie. Alles draai om die bediening van die
Woord, om die bediening van versoening. Die res van die erediens
is of voorbereiding daarvoor of ‘n antwoord op die opening
van die Woord.

Die basis van die ware aanbidding gee ons
‘n heilige vrymoedigheid en geloofsvertroue. God het Hom met
ons versoen deur Christus. Die Heilige God is teenwoordig. Ek
hoef nie met die vraag te worstel hoe ek ‘n goeie verhouding
met God kan kry nie. God het alreeds ‘n verhouding met my in
die genadeverbond. Al wat ek hoef te doen is om te luister en te
glo.

Dan word die erediens ‘n tyd van
vreugdevolle feesviering. Vreugde oor die bevryding van ons
sondes. Vreugde oor God se verhouding met ons.

Dit bring ons by die vierde punt: die doel van
regte aanbidding.

As God die belangrikste is in die erediens en
alles in die diens rondom Sy Woord draai, dan is dit duidelik wat
die doel van die verering is.

Dit gaan nie oor vermaaklikheid nie. Dit gaan
nie daaroor om die veronderstelde behoeftes van die mense te
vervul nie. Dit gaan nie daaroor om mense goed te laat voel oor
hulle self nie. Dit gaan daaroor dat God gedien word met eerbied
en ontsag.

Die regte verering is God-gesentreerd en nie
mens-gesentreerd nie. God se oproep om Hom te eer, is ‘n
oproep om Hom te eer en te prys as ons magtige Skepper en
genadige verlosser. Psalm 95: 1-7 formuleer dit vir ons met die
pragtige woorde:

Broeders en susters, wanneer ons God op so
‘n manier aanbid, dan sal ons die seëninge wat Hy in die
Skrif aan ons beloof het, ontvang.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)