Die 8e gebod: jy mag nie steel nie

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-02-11
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 42
Preek Inhoud: 

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

"Jy mag nie steel nie." Is dit wat ek moet hoor? Ek steel tog nie? Laat die gewetenlose skelms in ons land dit maar hoor. Die woord is vir hulle op sy plek.

Maar, broeders en susters, hierdie gebod is eerstens vir u bestem. Wie is immers aan die woord? Tog die Here u God, wat u uit die slawehuis uitgelei het? Tog die Here wat u uit die slawerny van die sonde verlos het? Die Verbondsgod rig Hom tot sy verloste kinders. Nie om ons daarmee ’n pluimpie te gee omdat ons dit so goed sou doen nie. Nee, die Here wil ons met hierdie gebod werklik aanspreek. Dit blyk ook nodig te wees. Wie homself ken, sy hart ken, weet hoe nodig dit is. Ek kan die vryheid sommerso inruil vir die slawerny.

Die Here open steeds weer u oë vir die juiste verhoudings. Hy leer u om die aarde met alles wat dit bevat op die juiste waarde te skat. Hy leer u om alles weer as sy skepping en gawe te sien. Die aarde en die volheid daarvan behoort nie aan ons mense nie, maar aan die Here. Soos ons dit sing met Ps 24:1: "Die ganse aarde, land en meer, met al wat leef, is uwe, Heer!"

Christus het ons vrygemaak van slaaf wees van geld en goed. Hy het ons bevry van die Mammon. Die mammon wat daarvoor sorg dat die geld my beheers pleks van dat ek daaroor heers. As Christus se verlostes mag ons weer konings wees, onderkonings, rentmeesters. Om ons by die vryheid en heerlikheid te bewaar, gee God ons sy gebod. Want ek kan sommerso weer koning af wees, in die greep van Mammon kom. Daarom die gebod: jy mag nie steel nie.

Die gebod kom in hierdie tyd van materialisme des te sterker na ons toe. Wanneer ’n mens redelik wat materieële besit het, word dit nie makliker om bo die materie te bly staan nie. As verloste kinders van God dra ons ’n groot verantwoordelikheid. Ons moet wys hoe ’n mens met sy geld en goed moet omgaan. As die verloste kinders dit nie doen nie, wat kan jy verwag van hulle wat nog in die greep van satan is?

Daarom broeders en susters, besef mooi die erns van hierdie gebod. Kyk nie na ander nie, nie na die skelms nie, maar let op uself dat u leer en lewe saamstem. Anders sou u as belyder van die vryheid sommer ’n slaaf van die sonde blyk te wees.

Ek verkondig aan u die 8e gebod: jy mag nie steel nie

  1. die verwoestende mag van die geldgierigheid
  2. die ryke wins van die godsaligheid.

Die bybel gee ’n realistiese tekening van die geldgierigheid. Paulus skryf daaroor in die 1 Tim 6. Dit nav valse leraars wat daarop uit is om hulself te verryk. Hulle wil aan hul sogenaamde wysheid dik geld verdien. Hulle soek nie eerstens die eer van God en die heil van sy volk nie, maar hulleself. ’n Mens sien dit nie onmiddellik nie. Hulle kan hulself as baie godsdienstige mense voordoen. Paulus lê die ware motiewe bloot, naamlik selfsug, geldsug.

Daarom ontstaan daar ook moeites rondom hul optrede. Hulle is die oorsaak van afguns, twis – wat anders kan ’n mens verwag as jy jouself soek en dus jouself wil handhaaf – lasteringe, bose agterdog en nuttelose stryery. Hulle is verdorwe in hulle verstand en die spoor van die waarheid byster.

Moenie dink, gemeente, dat hierdie dwaling ver van u afstaan nie. Ons is gewoond daaraan om ons lewe en werk aan die Here op te dra. Ek bid voortdurend vir God se seën daaroor. Maar, waarom doen ek dit? Ek kan sommerso myself sentraal stel. Dan vra ek: Here wil my seën, sodat ek vooruitkom in die wêreld, wins maak, ’n gerieflike lewe lei. Oënskynlik is daar ’n duidelike verskil tussen die wêreld en my: hulle vertrou op hul eie krag, ek vertrou op die Here. Maar is daar in werklikheid wel so ’n groot verskil? In beide gevalle gaan dit oor onsself. Ek sê wel dat ek die Here die eer gee. Dit lyk baie godsdienstig. Maar dit gaan my in prinsipe tog oor my eie vooruitgang. Onder die mom van afhanklikheid van die Here gaan dit my tog om my eie welvaart. My geloof word dan ’n middel tot voorspoed. ’n Winsgewende saak. Vir myself. Ek gebruik dan my godsdiens om daar self beter van te word.

Paulus lê die verborge, sondige motiewe bloot. Hy vat dit saam met die woord geldgierigheid. Die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels. Omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor(vers 10). Paulus laat die verwoestende mag van die geldgierigheid sien. "Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat mense laat wegsink in verderf en ondergang" (vers 9). Sterkte woorde. Skrikwekkende woorde. Paulus spreek hier nie oor rykes as sodanig nie. Hy praat oor hulle wat ryk wil word. Hulle wat daarop gefokus is om ryk te wees. Hulle wat steeds maar meer aardse goedere wil besit. Die teenstelling word dus nie gemaak tussen ryk en arm nie, maar tussen tevredenheid en geldgierigheid. Reeds die wil om ryk te wees is sonde, ook al word die beoogde ideaal nooit bereik nie. Die fokus is verkeerd.

Paulus gaan egter verder deur daarop te wys dat uit die verkeerde wilsrigting sondige dade voortkom. Wie ryk wil word, wil met alle mag dit wat hy begeer ook bereik. So gaan ’n mens maklik oor tot die gebruik van ongeoorloofde middele om jou doel te bereik. So kom jy in versoeking. Jy soek rykdom, jy kry versoeking. Jy dink dat die godsaligheid ’n middel is om jouself te kan verryk, maar jy kom in versoeking tereg. Die satan trek jou van die Here weg.

En gemeente, as jy eenmaal toegee aan die versoeking, dan gaan dit van kwaad na erger. Jy raak daarin verstrik. Jy kom tereg in die strikke van satan. Jou vryheid verdwyn. Jy het jouself nie meer in beheer nie. Jy word ’n speelbal van ander magte. Jy word ’n slaaf van satan. Hy het jou in sy greep.

Die lewensverwoesting wat dit teweegbring blyk uit die vervolg. Met so ’n materialistiese ideaal maak jy jouself stukkend. Jy kom tereg in baie dwase en skadelike begeerlikhede. Die sonde stapel op, dit maak die mens steeds sondiger. Jou gees is dan gevang sodat dit nie meer heers en waarsku nie. Jy is koning af. Die dwase en skadelike begeerlikhede kry seggenskap in jou lewe. Dit laat jou wegsink in verderf en ondergang. Jy lewe na liggaam en siel word verwoes. Dit word ’n volkome verderf, ’n ewige verlies.

Ons ontvang ’n realistiese beskrywing van die gevolge van die geldgierigheid. Ons sien die baie slagoffers wat dit veral in die westerse samelewing gemaak het. Die geldgierigheid blyk inderdaad onversadigbaar te wees. As jy daardeur gevang word, dan verdwyn alle tevredenheid en dankbaarheid. Dit is nooit genoeg nie. Jy wil steeds meer. Paulus het hulle ook in sy tyd sien heengaan, met baie smarte deurboor. Hulle kon vir God en sy diens nie meer gered word nie. Hulle het ’n ander god agterna geloop, die mammon. Daarmee het hulle afgedwaal van die geloof. Hulle het daarmee hul geluk gesoek. Maar hulle het allermins geluk gevind. Het u ooit ’n slaaf van Mammon ewig gelukkig gesien?

Hulle het hulleself met baie smarte deurboor. Om baie geld te wil kry en te behou, sorg vir baie ellende, baie onrus. Verhoudings kom onder spanning te staan en word daardeur verwoes. Daar is die angs vir verlies, gewetenswroeging. Geen rus en vrede nie. Geen ware geluk nie. U herken dit tog? Die jag na geld en goed blyk onversadigbaar te wees en verslind hulle wat daarna jaag. Ware dankbaarheid en tevredenheid verdwyn. Juis by mense wat soveel reeds besit. Hierin kan ons leer van baie armes in ons land wat amper genoeg het om van te lewe en tog dankbaar en gelukkig kan wees met die weinige wat hulle het.

Mense is baie besig om ryk te word hier op aarde. Hulle is bereid om daar dag en nag vir te werk. Die lyk asof hulle maar een doel het om die lewe hier en nou te voorsien van alle gemakke. Alles is gefokus op hierdie lewe. Paulus stel die strewe na baie besit aan die kaak. Nie om te wys na hulle wat buite is nie. Maar om juis hulle wat binne is te waarsku. Hebsug sit in ons aller hart. Die moderne reklame speel daarop in. Die begeertes word opgewek. Jy hoef vandag die geld daarvoor nie te hê nie. Alles kan immers op krediet gekoop word. Daarom, wees op u hoede. Laat u nie ten prooi val aan die verleidelike en verwoestende mag van Mammon. Jy kan nie twee here dien nie. Jy kan nie God en mammon dien nie. Dit die een of die ander.

Die lewe in selfsug is ’n lewe buite God. Waar u skat is, daar sal ook u hart wees. As ek my hart op geld en goed set, dan kan ek onmoontlik my hart ook aan God gee. As die gawe in die middelpunt kom te staan, dan word die Gewer na die agtergrond verdring. In feite beroof ek dan God van sy besit. Die aarde en al sy volheid is immers van die Here. As gevolg van die berowing van God beroof ek ook die naaste. Daarom: jy mag nie steel nie.

God roep ons almal ter verantwoording: "Wat doen u met die goed wat Ek aan u toevertrou het? Dink u wel aan My. Dink u wel aan die naaste? Alles behoort immers aan My, wat julle alles ryklik verleen om te geniet; dat julle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam."

Vir die geldgierige is dit dwaas. Dit lyk asof jy daarmee jouself skade aandoen. Jy gee immers weg wat jy self sou kan gebruik. Maar die Here leer ons dat dit tog groot wins beteken. Hy vervolg immers: deur dit te doen, deur vrygewig en mededeelsaam te wees, lê jy vir jouself ’n skat weg, ’n goeie fondament vir die toekoms, sodat jy die ewige lewe kan verwerf (vers 19).

Dit bring ons by die 2e punt: teenoor die verwoestende mag van die geldgierigheid staan die ryke wins van die godsaligheid.

Kan jy deur goeie werke, deur vrygewigheid vir jouself ’n toekoms verseker? Lyk die teendeel nie waar nie? As jy wat spaar dan het jy tog iets vir die toekoms? Ons spaar tog ook almal vir ons pensioen, sodat ons in die toekoms, wanneer ons nie meer kan werk nie, tog kan rondkom? Die Bybel wys so ’n verantwoordelikheidsbesef nie af nie. Tog dink die Here verder en plaas hy alles in die lig van die ewige toekoms. Aardse geld en goed help ons nie verby die graf nie. Ek kan hier allerlei dinge vergaar. Dit bied egter geen blywende sekerheid nie. Onthou, rykdom op aarde bly kwetsbaar, onseker. Vandag het ek miskien baie rykdom, maar more kan dit sommerso uit my hande geruk word. Aardse besit is grypbaar, verganklik.

Ek is self ook verganklik. Die Here Jesus het dit aan ons voorgehou in die gelykenis van die ryke dwaas. Die man dink dat hy alles vir mekaar het. Maar voordat hy van sy rykdom kan geniet, sterf hy. En al sy voorrade kom in hande van ander wat geen enkele moeite daarvoor gedoen het nie. Hy het self geen baat by al sy reserwes nie, want sê Paulus: "Ons het niks in die wêreld ingebring nie en dis duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie." (vers 7). Daarom kan jy jou hoop beter nie vestig op onsekere rykdom nie, maar op God. Dan pas bou jy werklik aan jou toekoms. Daarmee verseker jy jouself van ’n goeie fondament vir die toekoms. Want ware godsaligheid is winsgewend.

Paulus het reeds daarop gewys in die verse 6-9. Die godsaligheid saam met vergenoegdheid is inderdaad ’n groot wins. Watter wins, sê Paulus hier nie. Daaroor het hy geskrywe in hoofstuk 4:8. Daar skryf hy immers: "Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het." Dit is wel iets anders as die wins wat die valse leraars en ons soms soek. Dit het hulle gegaan en dit gaan ook ons dikwels slegs om die hier en nou. Dan soek ons slegs ’n tydelike en verganklike materiële wins. Die ware godsaligheid bring egter wins in onbegrensde omvang. Die teenwoordige en die toekomende lewe. Jy gryp daarmee die ewige lewe.

Die godsaligheid moet dan wel met vergenoegdheid saamgaan. Godsvrug en tevredenheid kan ’n mens nie skei nie. Tevredenheid. Daarmee word iets anders bedoel as wat mense vandag daaronder verstaan. Tevredenheid is vandag iets wat ontstaan wanneer al jou wense vervul is. Die reklame wys ons die tevrede mense aan. Hulle ry in die dure kar. Hulle lewe in die luukse huis. Hulle dra die en die klere. Hulle gebruik die parfuum. Hul liggaam is slank en mooi ens ens.

Sou Paulus aan dergelike tevredenheid dink? Bring die godsaligheid wins, as ons alles besit en kan doen wat ons wil? Paulus gebruik hier ’n woord wat beteken dat jy genoeg het aan wat jy ontvang. Vertaal met vergenoegdheid. Jy het dan genoeg aan wat God vir jou gee. Dan het jy alles. Dit is wins. Dit maak skatryk. Om onder die guns van die Here te lewe. Dit maak ryk en werklik tevrede. Vanuit die vrede van God.

Dit sê Paulus. ’n Man wat rykdom en armoede geken het. Hy het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin hy is (Fil 4:11). Daar skryf hy verder: "Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee" (Fil 4:12,13). Daarom is sy lewe onder alle omstandighede ’n fees. Met Vader die sorg. Met die Gees wat krag gee. Sy genade is vir hom genoeg. Hy het alles: vergewing van sondes en ewige lewe. Wat wil ’n mens nog meer! Hy het God. Die Here self is sy loon, soos God reeds vir Abraham gesê het: Ek is vir jou ’n skild en jou loon is baie groot (Gen 15:1).

U mag, broeders en susters, as tevrede mense lewe. Kan u dit ook? Of laat u u opjaag deur die hebsug? Dit maak slegs ontevrede, rusteloos. Dit is ’n groot gevaar vir ons lewe met die Here God. Ek raak sommerso my vryheid in Christus kwyt om ’n slaaf van my werk of van my geld te word. Daarom hoor die woord van die Here: jy mag nie steel nie. Vertrou op My. Wees tevrede met wat Ek u gee. Ek verseker u van die nodige lewensonderhoud solank u dit hier op aarde nodig het. Ook al sou dit via familie, vriende of via die diakens kom. Ek sorg. As u voedsel en klere (oftewel onderdak) het, moet u daarmee vergenoeg wees. Indien u meer as dit het, dan is dit om goed te doen, ryk te wees in goeie werke, vrygewig en mededeelsaam. Oefen u dus in die godsaligheid. Dws wandel ootmoedig met u God. Geldgierigheid beteken verlies. Godsaligheid bring groot wins. Die ware lewe in hede en toekoms. U het die Here. Dit is alles.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

Lees: 1 Timótheüs 6:3-21; Sondag 42.
Sing: Ps 9:1,7; Ps 77:6,7; Ps 62:1; Ps 62:5; Ps 95:4; Ps 62:7,8; Ps 24:1-3.