Wat is ‘n ware geloof?

Predikant: 
Ds RM Retief
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-11-14
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 7
Preek Inhoud: 

Sondag 7

Prop. R.M. Retief - Sondag 14
November 2000

Lees: Matthéüs 13:1-23;
Romeine 10:9-17; Sondag 7.
Sing: Ps.118:1,7,14; Ps.19:4,5;
SB 27:1-5; Ps.119:15,22,25,26.

Tema: Wat is ‘n ware geloof?

  1. Geloof is in die eerste plek vaste kennis
  2. Geloof is tweedens ‘n vaste vertroue

 

Inleiding

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die vraag waarna ons vanoggend kyk, is: Wat is
‘n ware geloof? Die kategismus antwoord twee dinge. Eerstens
bestaan ware geloof uit kennis, ‘n vasstaande kennis, wat
die ganse Skrif aanvaar as God se Woord – die wete dat alles
wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het die volle waarheid is
en niks anders as die waarheid nie.

Tweedens bestaan ware geloof uit ‘n vaste
vertroue, ‘n vertroue wat deur die Heilige Gees in my hart
gewerk word. Maar die Heilige Gees werk hierdie vertroue deur die
evangelie, met ander woorde: deur middel van die Skrif. Die
Heilige Gees werk wanneer ons die Bybel oopmaak en lees, of
wanneer die Bybel in die erediens of tydens Bybelstudies
verkondig word. Die Helige Gees werk dus vertroue in ons harte
deur die inhoud van die Bybel.

Die evangelie wat ons in die Skrif vind, leer
dat God ons uit loutere genade alleen, slegs op grond van
Christus se verdienste, vergewing van sondes skenk en ewige
geregtigheid en saligheid. Die vaste vertroue is dan dat God dit
nie net vir ander geskenk het nie, maar dat Hy dit ook aan my
geskenk het.

In kort is ware geloof dan dié twee dinge:
kennis en vertroue. ‘n Vaste kennis en ‘n vaste
vertroue. Wat ons nou gaan doen, is om dié twee elemente van
geloof van nader te bekyk.

Geloof is in die eerste plek vaste kennis

Maak dit saak wat jy glo? Of maak dit net saak
dat jy glo? Is kennis belangrik? Moet ek weet wat ek glo, of is
dit genoeg om net ‘n gevoel van vertroue te hê? Dit sal
vanoggend vir ons duidelik word, dat jy geen vaste vertroue kan hê,
sonder vaste kennis nie. Want wat glo jy as jy nie weet wat jy
glo nie? Kan jy in Jesus Christus glo as jy nog nooit van Hom
gehoor het nie? Ons het vanoggend in Rom.10:13-17 gelees dat dit
onmoontlik is; want die geloof is uit die gehoor en die gehoor is
deur die woord van God – vers 17.

Kan jy in Jesus Christus glo as jy nie weet Wie
Hy is nie? Kan jy vertrou op sy verlossing as jy nie weet wat Hy
gedoen en geleer het nie? Kan jou geloof groei en vrug dra tot
eer van God, as jy nie sy wil vir jou lewe ken nie? U sien dus
dat kennis absoluut noodsaaklik is, daarsonder is geen geloof
moontlik nie.

Valse kennis, lei tot ‘n valse geloof.
Gebrekkige kennis, lei tot ‘n gebrekkige geloof. Geen kennis
beteken geen geloof. En onsekere kennis kan tot niks anders lei
as onsekerheid nie. Om ‘n vaste vertroue te hê, is vaste
kennis nodig.

Vir ‘n Christen wat die Here liefhet, is
kennis belangrik, nie in die eerste plek om te weet hoe om in die
hemel te kom nie, maar om God se wil vir my lewe te ken sodat ek
tot sy eer kan leef – dit is deel van geloof. Die Christen
vra nie: Hoe kan ek in die hemel kom nie, maar: Hoe kan ek as
verloste, wat reeds gered is, tot God se eer leef deur die geloof.
Die evangelie verkondig nie net vergifnis van sondes nie, dit
verkondig ook heiligmaking – dit is deel van ons verlossing
en deel van ons geloof. Die evangelie sluit God se geopenbaarde
Woord volledig in. Daar is niks in die Skrif wat onbelangrik is,
of wat nie deel van die evangelie is nie. Selfs God se
geregtigheid en oordeel oor die sonde, is deel van die evangelie.
En die verloste is bly oor God se oordele.

Die evangelie is dus nie net om te weet: "Jesus
het my lief", nie. Dit is nie net om te weet dat Hy aan die
kruis vir my sonde gesterf het nie. Ja, dit is die kern van die
evangelie, maar dit het vir ons geen betekenis as ons dit los
maak van die res van die Skrif nie. Sonder die res van die Skrif
weet ons nie eens wat liefde is nie, want die Skrif het ‘n
totaal ander defenisie van liefde as die wêreld. Sonder die res
van die Skrif weet ons ook nie wat die kruis beteken of wat
genade is nie, want sonder die res van die Skrif weet ek ook nie
hoe verlore ek in myself is nie.

‘n Christen vra dus nie: Wat is die
minimum kennis wat ek nodig het om in die hemel te kom? nie, maar:
Hoeveel wil God hê moet ek weet om tot sy eer te kan leef?

En die antwoord daarop is dat God die hele
Skrif aan ons gegee het om ons geloof dáárvolgens te rig.
Sonder kennis van die Skrif is geloof nie moontlik nie. Sonder
kennis van die Skrif sal ons soos die res van die heidene wees
wat God nie ken nie. Dan sal elkeen van ons sy eie god aanbid op
sy eie manier soos hy goeddunk. Dit is afgodediens. Sonder kennis
van die Skrif is al ons godsdiens noodwendig afgodediens!

Geloof vereis dus kennis van die waarheid.
Geloof word gebou en groei vanuit die Skrif.

Hierdie kennis is egter geloofskennis. Hoe weet
jy dat God se Woord die waarheid is? Deur God te glo. Jy weet
deur te glo! Jy weet verseker, omdat jy glo. Dit is ‘n vaste
kennis deur die geloof. Daarom praat ons van geloofskennis wat
gegrond is op die ganse Skrif en die Skrif alleen. Geloof is op
God gerig deur die kennis van sy Woord. Hy het die Skrif aan ons
gegee as die voedingsbron van ons geloof, sodat ons Hom daardeur
kan ken, sy majesteit en heilige heerlikheid, sy regverdigheid,
sy genade en goedheid en trou en ook sy wil vir ons lewe. Daarop
word ons geloof gebou, op alles wat die Skrif ons leer. En
daaruit groei ons geloof tot volwassenheid, sodat ons nie tevrede
is om kinders in die geloof te bly nie, met so min as moontlik
kennis nie, sodat ons deur elke nuwe leer meegesleur word en so
God bedroef nie, maar dat ons kan kom tot die volle grootte van
Christus, tot ‘n volwasse man in die geloof.

1Petr.2:2 gee die opdrag: "…verlang
sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die
woord, dat julle daardeur kan opgroei…" Hy sê: Eet die
Woord, sodat jou geloof daardeur tot volwassenheid kan kom. Net só
sal jy ‘n vaste geloof kan hê, as jy weet wát jy glo en wáárom
jy dit glo. Sonder ‘n vaste kennis is vaste vertroue nie
moontlik nie.

Geloof is iets wat groei, of anders is dit dood.
Ons vertroue groei in dié mate wat ons kennis groei. Daarom kry
ons die opdrag: "Laat die woord van Christus ryklik in julle
woon in alle wysheid…"(Kol.3:16). Daarom die opdrag:
"Broeders, moenie kinders wees in die verstand nie, maar
wees kinders in die boosheid en wees volwassenes in die verstand"(1Kor14:20).

Jy moet die Here liefhê ook met jou hele
verstand, jy moet jou beywer om toe te neem in die kennis van die
Here. Die apostel Paulus skryf aan Timotheus: "…bly jy
in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van
wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige
Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in
Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig
tot lering, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk
volkome toegerus…verkondig die woord; hou aan tydig en
ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en
lering (2Tim.3:14 – 17; 4:2).

Die hele Skrif, sê hy, is noodsaaklik om ons
wys te maak tot saligheid en ons op te bou in die geloof (nie net
Jh.3:16 nie!).

Ons word aan Christus gebind deur die geloof.
Die geloof is die enigste band wat ons aan Christus bind,
daarsonder kan ons geen gemeenskap met Hom hê of deel aan sy
sterwe en opstanding nie. Die Heilige Gees bind ons aan Christus
deur die waarheid van sy Woord aan ons harte te bevestig. In elke
opsig vereis geloof ‘n vaste kennis van God deur sy Woord.
Geloof is die oë en ore wat God ons skenk, sodat ons Hom in sy
Woord kan sien en hoor, sodat ons Hom kan ken.

Geloof is tweedens ‘n vaste vertroue

Dit is nou reeds vir ons duidelik dat die vaste
vertroue van geloof nie gebou is op emosie of gevoel of ervarings
nie, maar op kennis van die waarheid. Hierdie vertroue is nie
bloot gevoel nie, dit is geanker in vaste kennis. Want ons gevoel
is wisselvallig. Die een dag voel ek goed, die volgende dag voel
ek moeg en moedeloos. As jou geloof gebou is op jou gevoel, dan
sal jy die een dag soos ‘n gelowige voel en die volgende dag
voel soos ‘n ongelowige. Solank dit goed gaan by die werk en
jy voorspoedig is, sal dit vir jou voel dat daar ‘n God is.
Gaan dit sleg, verloor jy jou werk, beland jy in ‘n
motorongeluk, of sterf jou vrou, dan voel dit weer of daar nie
‘n God is wat vir jou omgee nie. Dan is die gevoel van
geloof weg, want die gevoel was net ‘n gevoel, dit was geen
ware geloof nie. Dit was nie geanker in God se geopenbaarde Woord
nie, maar ‘n oppervlakkige emosie-godsdiens.

Die Skrif praat daarvan. Ons het dit saam
gelees in Mt.13. Vers 5 sê dat ‘n deel van die saad op
rotsagtige plekke geval het waar daar nie baie grond was nie, m.a.w.
daar was ‘n rotsbank met net ‘n dun lagie grond bo-op.
Die saad wat op hierdie dun lagie grond geval het, het dadelik
opgekom, omdat daar geen diep grond was nie. Die saad het sommer
hier op die oppervlak bly lê, dit kon nie diep ingang vind nie.
M.a.w. die woord wat verkondig is, het nie diep ingesink nie.
Hierdie hoorders was maar oppervlakkig. En toe die son opkom, het
die plantjie van geloof verskroei, en omdat die plantjie geen
wortel gehad het nie, het dit verdroog.

Dan verklaar die Here dit verder in vers 20 en
sê: "… by wie op rotsagtige plekke gesaai is –
dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap
aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net
vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter
wille van die woord, struikel hy dadelik". Hierdie mense het
die woord dadelik met blydskap aangeneem! Hulle was in ekstase
oor die goeie boodskap. Maar toe daar swaarkry kom en die geloof
beproef word, was daar geen anker nie. Die plantjie was nie diep
gewortel nie. Daarom sê die Here in Kol.2:6: "Soos julle
dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom,
gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof, soos julle
geleer is…" Gewortel, opgebou, bevestig, geleer!

Wanneer die geloof beproef word deur
verdrukking en vervolging, dan is die geloof skielik nie meer
lekker nie. En as die geloof nie diep gewortel is nie, dan
verdwyn die ekstase. Dan is die gevoel nie meer lekker nie, en
dan bly daar niks oor om die plantjie te voed nie. Die blydskap
oor die woord duur dan net so lank as wat die gevoel lekker is.

Natuurlik is ‘n vaste vertroue nie sonder
gevoel nie. Ware geloof lei tot ware blydskap, liefde en vrede.
Ware geloof lei tot oorvloedige emosie. Maar waar kom hierdie
emosie vandaan? Hierdie emosie word nie opgewek deur dromme en
kitare nie! Ware en blywende vreugde word net gewek deur kennis
van die waarheid. Dink aan die Emmausgangers. Hulle harte was
brandend toe die Skrifte vir hulle oopgaan. Wanneer die Woord vir
ons oopgaan en ons die rykdom van God se genade en liefde ontdek
en die wonders van sy wet, dan wil ons neerval in aanbidding. Dan
wil ons opspring van blydskap. Dan het ons ware en blywende
vreugde, selfs te midde van verdrukking en vervolging.

Geloof is nie net kennis nie; dit is ook nie
net ‘n gevoel van vertroue nie. Vaste kennis en vaste
vertroue is onskeibaar – die een kan nie sonder die ander
nie.

Ons hele hart, ons hele menswees, is aktief in
geloof, d.w.s ons denke, wil en emosie. Die een moet nie
beklemtoon word ten koste van die ander nie. Want dan kry ons
‘n valse geloof.

‘n Eensydige beklemtoning van die verstand
sou wees om te sê dat kennis die een en alles is van geloof. As
ek maar net met my verstand instem met al die feite, is ek gered!
Nee, dit sou ‘n valse geloof wees.

‘n Eensydige beklemtoning van emosie sou
wees, as my gevoel die een en alles is. Ekstase en opwinding wat
bloot berus op gevoel, sonder kennis. Sodra daar dan verdrukking
en vervolging kom ter wille van die waarheid, bly daar niks van
so ‘n oppervlakkige emosie-godsdiens oor nie.

God self is die voorwerp van ons vertroue. Om
vas op Hom te vertrou, moet ons ‘n vaste kennis van Hom hê.

Wat ons vertroue betref, moet ons daarop let
dat ons vertroue nie berus op enige iets in onsself nie. Ons
vertrou ook nie op ons eie geloof nie. Dit is nie jou groot of
goeie geloof wat jou red nie. God red jou. Hy skenk jou die nuwe
lewe en die geloof. Jou vertroue is dus op Hom en op Hom alleen,
op sy genade wat Hy deur Christus aan ons geskenk het.

Ons geloof verdien niks by God nie; inteendeel,
dit is ‘n gawe wat ons uit genade geskenk word.

Verder moet ons daarop let dat die vertroue
‘n vaste vertroue is. Dit is die Here se wil dat ons volkome
seker is van die redding wat Hy aan ons persoonlik geskenk het.
Hy sê in 1Jh.5:13: "Dit het ek aan julle geskrywe wat glo
in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle
die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God".
Hy sê dit is die doel van sy skrywe dat die gelowiges in
Christus kan wéét dat hulle die ewige lewe het.

Die Heilige Gees verseël ons verlossing (Ef.1:13;
4:30) en getuig saam met ons gees dat ons aan God behoort (Rom.8:15,16;
Gal.4:6). Dit is God se wil dat ons verseker sal weet dat ons die
ewige lewe het. Hierdie sekerheid is ook iets wat moet groei en
toeneem by elkeen van ons. Hebr.6:11 sê: "…ons verlang
dat elkeen van julle dieselfde ywer mag toon om te kom tot die
volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe…"
Daarom praat die Skrif ook van geloofsversekerdheid. Hebr.10:22 sê:
"laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle
geloofsversekerdheid…"

‘n Mens kan net bly wees oor die Here se
verlossing, as jy weet dat Hy jou verseker verlos het. Ware vrede
en vreugde is dus die vrug van geloofsversekerdheid. Hierdie
versekerdheid, of vaste vertoue, is op God gerig en op sy genade.

Hierdie vaste vertroue op God en sy Woord
spruit uit ‘n rein hart. Ongeloof is nie net die afwesigheid
van geloof nie, ongeloof is aktiewe vyandskap teen God. Die
natuurlike mens kan nie op God vertrou vir sy verlossing nie, en
vertrou eerder op homself.

Die ware en vaste vertroue van ‘n ware en
vaste geloof is nie gebou op emosie of gevoel nie, maar op ‘n
vaste kennis van die waarheid soos God dit in sy Woord aan ons
openbaar het. En juis daarom het ons ‘n verantwoordelikheid.
Dit is die Here se wil dat ons sy Woord sal ken en ondersoek,
sodat ons daardeur sal groei in die geloof. Jud:20 sê: "…
julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste
geloof…" Ons het die opdrag om te groei in die geloof
en ons geloof op te bou.

Geloof is nooit passief nie, dit groei en dra
vrug. Geloof sonder werke is dood. As ons geloof nie groei in
vaste kennis en in vaste vertroue nie, en as dit nie vrug dra nie,
is dit ‘n valse geloof, wat lei tot ‘n valse
geloofsekerheid. Ja, daar is ook ‘n valse geloofsekerheid.
Daar is mense wat geen oomblik twyfel of hulle gered is nie, maar
wat verlore gaan, omdat hulle sekerheid op verkeerde gronde berus.
Valse kennis lei tot ‘n valse vertroue.

Ten slotte

Broers en susters in die Here, ons het ‘n
gemeenskaplike geloof. Elkeen glo nie maar op sy eie soos hy wil
nie. Ons deel een geloof in Christus. Hierdie geloof kom volledig
vanuit die Skrif, daar is geen ander ware geloof nie. En ons het
die opdrag om onsself elkeen persoonlik en as gemeente saam op te
bou in hierdie geloof.

Hierdie geloof word nie gebou op emosies en
ervarings nie, maar op vaste kennis van die waarheid, die kennis
van God se geopenbaarde Woord. Daaruit groei ons vertroue.

Aan die ander kant het ons gesê, hoe belangrik
die kennis ookal is, dit is nie genoeg nie. Dit help nie as ons
die Skrif van buite ken, soos die duiwel dit ook ken, maar ons
vertou nie op die Here nie. ‘n Vaste kennis en ‘n vaste
vertroue gaan saam, die een kan nie sonder die ander nie.

Ons leef in ‘n tyd met ‘n bepaalde
tydsgees. Die tydsgees waarin ons nou leef is die postmodernisme.
Die belangrikste kenmerk van hierdie gees, is dat niks meer as
absoluut gereken word nie – alles is relatief. Daar is geen
vaste waarheid of vaste norm nie. Ons is maar almal soeker na die
waarheid en niemand is reg nie en niemand is verkeerd nie. Elkeen
sal maar op sy eie manier gered word deur sy eie geloof. As
iemand dan daarop aanspraak maak dat hy ‘n vaste kennis het
en ‘n vaste vertoue gegrond op die absolute waarheid, dan
word hy gereken as verwaand en onkundig.

In hierdie tydsgees word iets soos katkisasie,
die diepgaande bestudering van die Skrif en getroue huisgodsdiens
gereken as ‘n onnodige beklemtoning van kennis. Daar word
dan eerder gesoek na ervarings en emosionele ekstase en vermaak
in die godsdiens.

Juis in hierdie tyd moet ons dan daarvoor sorg
dat ons geloof volledig op die Skrif gegrond is, sodat ons
daaruit kan leer wie God is, daaruit sy genade in Christus kan
leer ken en daadeur kan kom tot ‘n vaste vertroue, ja, tot
volkome geloofsversekerdheid.

AMEN

 

Liturgie: 

(kyk in preek)