Geldgierigheid teenoor Godsvrug.

Predikant: 
Ds RM Retief
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-08-30
Teks: 
I Timótheüs 6
Preek Inhoud: 

1Timótheüs 6:3-21

Tema: Geldgierigheid teenoor Godsvrug.

  1. Geldgierigheid lei na die verderf;
  2. Ware rykdom is net by God te vind; en
  3. Ons het die opdrag om skatte in die hemel bymekaar te maak.

 

Inleiding

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dit is onmoonlik om God en Mammon te dien. Die begeerte om hier op aarde ryk te word is in stryd met ware geloof.

  1. dat geldgierigheid na die verderf lei
  2. dat ware rykdom net by God te vind is
  3. dat ons die opdrag het om skatte in die hemel bymekaar te maak.

Geldgierigheid lei na die verderf

Wanneer ‘n baba gebore word, kom hy letterlik kaal die wêreld in. En net so verlaat ons die wêreld. Daar is niks wat ons uit hierdie wêreld kan wegdra nie. Al die besittings wat ons op aarde bymekaar maak, moet ons weer net so agterlaat; en uiteindelik sal die aarde met alles wat daarop is verbrand word. Die doel van ons bestaan is dus nie om aardse rykdom te vergader nie – dit sou sinneloos wees. Buitendien het niemand het dit al ooit reggekry nie. Almal wat dit probeer het, het na ‘n kort tydjie weer naak uit die wêreld uitgegaan – net soos hulle die wêreld ingekom het. Wat sou tog die sin daarvan wees? Dit is net ‘n gejaag na wind.

As dit nou maar al was, sou ons kon sê dat dit nie heeltemal so sleg is nie, want ten minste geniet ‘n mens dan die tydjie hier op aarde. Die aansien, weelde en gerief wat geld bring is tog nie te versmaai nie. Daarom is dit nie genoeg om net te wys op die kortstondigheid van aardse rykdom nie. Dit sou nie ons gierigheid kon temper nie. En daarom gaan die apostel voort om ons te wys op die skrikwekkende gevolge van geldgierigheid.

Eers stel hy in vers 8 wat ons gesindheid behoort te wees. Hy sê: "…as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees". Voedsel en klere verwys hier na die basiese lewensmiddele wat ons nodig het om van te leef. As jy genoeg het om van te leef moet jy daarmee tevrede wees.

"Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor."

Dit is ‘n toenemende verderf, soos ‘n vrug wat eers ryp word en daarna oorryp op die grond val. Eers is daar net die begeerte om ryk te word. Dan word dit ‘n versoeking wat die mens vasvang soos in strikke, sodat hy in sy desperaatheid dwaas word, sonder verstand, en meegevoer word deur begeertes wat sy siel skade doen, sodat hy wegsink in verderf en ondergang. Wie ryk wil word, dwaal af van die geloof en uiteindelik eindig dit in ewige smart. Dit is verskriklike woorde. Kan dit waar wees? Is dit regtig so erg as iemand ryk wil word?

Wat van Job? Hy was tog ‘n ryk man! Wat van Abraham, Isak en Jakob? Wat van koning Dawid en al die ander godsmanne wat skatryk was? Hulle geloof het tog nie skade gely deur rykdom nie? Di’s waar, maar vers 10 sê ook nie dat géld ‘n wortel van alle kwaad is nie, maar wel geldgierigheid.

Wat is geldgierigheid dan? Die Griekse woord kan vertaal word met "liefde vir geld". In die verband waarin dit hier gebruik is, is dit duidelik die begeerte om ryk te word. Iemand wat nie tevrede is met die nodige lewensmiddele nie.

Nou hoe kan die begeerte om ryk te word, ‘n wortel van alle kwaad wees? Die bedoeling is nie dat álle sonde begin by geldgierigheid nie, maar wel dat alle sóórte sonde uit die hart na vore kom waar daar geldgierigheid is: naywer, bedrog, moord, diefstal, selfsug. En wanneer die gierigaard sy rykdom verkry het, volg daar dikwels hoogmoed, roekeloosheid, losbandigheid en wat meer. Die sonde lê nie in die geld nie. Dit is nie sonde om ryk te wees nie. Dit is wel sonde om ryk te wil word. Die begeerte daarna is sonde.

Kol.3:5 sê dat gierigheid afgodediens is. Dit gebeur dan dat Mammon in God se plek kom staan. Dit gebeur so maklik. As jy in die môre vroeg opstaan en tot laat werk, nie omdat jy die Here en jou naaste wil dien met jou arbeid nie, maar met die begeerte om ryk te word, dan het geld reeds God se plek in jou lewe ingeneem – as jou arbeid nie daarop gerig is om God en jou naaste te dien nie, maar bloot om geld te maak.

Of as jy reeds genoeg geld het om jou gesin te onderhou, genoeg geld vir ‘n betroubare voertuig, genoeg geld vir ‘n goeie huis, genoeg om van te leef; en jy dan elke aand tot so laat oortyd werk vir méér geld, dat jy oormoeg by die huis kom en nie tyd het om die nodige aandag aan jou vrou en kinders te bestee nie – wat dryf jou daartoe? Is dit jou liefde vir God of jou liefde vir geld? Hardwerkendheid en vlyt is mooi en dit word deur die Skrif aangeprys, werksywer is ‘n gawe van God. Dit is goed en noodsaaklik. Maar wanneer jou arbeid nie meer daarop gerig is om diensbaar te wees nie, maar om geld te maak, dan het die geldgierigheid jou reeds verblind.

Geldgierigheid is net so universeel soos die dood self. Ons het almal ‘n stryd om daarvan weg te vlug. Boonop het ons ‘n afsku aan armoede, selfs ‘n vrees daarvoor, sodat ons onsself daarteen wil wapen met soveel as moontlik. Is dit nie so nie? Wie van ons kan sê: "Ek het nog nooit die begeerte gehad om ryk te word nie"? Die sug na rykdom is nie net by ryk mense nie, di’s ook by arm mense. Alle mense, ryk of arm, is van nature geldgierig.

Nou moet ons verder ook erken dat iemand wat wil ryk word, altyd haastig is om ryk te word. Het u al iemand gesien wat baie geld wil hê, maar nie haastig is om dit te kry nie? Ek glo nie! Hy mag wel deur die realitiet gedwing word om nie té haastig te wees nie, maar u sal vind dat geldgierigheid altyd ‘n onrustigheid en ‘n onvergenoegdheid meebring. Wie ryk wil word is nie tevrede met wat hy het nie. En hoe meer ‘n mens kry, hoe meer wil ‘n mens hê. Daar is geen versadiging nie; inteendeel, die versoekings word net al groter.

Spr.28:20 sê: "…hy wat haastig is om ryk te word, sal nie ongestraf bly nie". Spr.23:4,5 sê: "Vermoei jou nie om ryk te word nie, laat staan jou slimheid. Sou jy jou oë daarop laat afvlieg? Maar weg is dit! want skielik maak dit vir hom vlerke en vlieg soos die arend na die hemel toe!". En as u nog steeds vra: "Maar wat van Abraham, Dawid en Salomo?", dan is die antwoord eenvoudig: hulle was nie geldgierig nie. Salomo, die rykste van almal, het nie gevra vir rykdom of eer nie, maar vir wysheid om die volk daarmee te kan dien. Die Here het besluit om dit aan hulle te gee. Daarom sê Spr.10:22 ook: "Die seën van die Here – dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie". Dit is nie in die mens se vermoë om homself ryk te maak nie, maar daarby kom ons later weer.

Wanneer ons nou hier in 1Tim.6 gewaarsku word dat die begeerte om ryk te word ons sal laat wegsink in verderf en ondergang, kan ons dit miskien nie so goed begryp nie, juis omdat ons dit moeilik wil aanvaar. Hoe jonger ons is, hoe minder kan ons dit verstaan. Maar ons kan dit wel glo omdat God so sê. Wie hier op aarde ryk wil word, sal verseker verstrik raak en wegsink in verderf en ewige smart. Dit is onmoontlik vir die wat ryk wil word om die goeie stryd van die geloof te stry.

Ware rykdom is net by God te vind

"…jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid." Hy praat met Timotheus, ‘n herder wat die gemeente moet versorg. Maar hy praat beslis ook met ons, met elkeen wat godvrugtig wil leef. Aan die een kant kry ons die opdrag om te vlug van geldgierigheid. Aan die ander kant kry ons die opdrag om ware rykdom na te jaag. Ons móét na rykdom verlang en dit najaag in hierdie lewe, die ware rykdom wat net by God te vind is. Daarom word ons opgeroep om "die goeie stryd van die geloof" te stry, om te "gryp na die ewige lewe" waartoe ons geroep is. Om in die vrees van die Here ons roeping te vervul met die oog op "die verskyning van ons Here Jesus Christus". Dit is ons verwagting dat Hy weer sal kom, wanneer die "eenigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here" Hom in heerlikheid sal openbaar. Dit is hierdie verwagting wat ons vry maak van geldgierigheid.

Hier kom ons nou by die krag van die evangelie. Want wat sou dit ons help as ons hoor dat aardse rykdom verganklik en onseker is? Die heidene weet dit ook. Die heidense filosowe sê ook vir ons: Die rykdom van die wêreld is nietigheid, dit kan geen geluk of versadiging gee nie. Die lewe self gaan soos ‘n droom verby en ons keer terug tot stof. Ja, die goddelose weet dit ook, maar dit help hulle niks dat hulle dit weet nie. Die realiteit en die ervaring leer dit vir hulle en hulle aanvaar dit, en tog vind hulle geen uitweg nie. Hulle bly maar steeds slawe wat swoeg en sweet vir wind.

Selfs die wete dat geldgierigheid na die verderf lei, kan ons nie vrymaak nie. Ons het nodig om meer as dit te verneem, iets wat ons tevergeefs by die wêreld sal soek. Dit is die boodskap dat die God wat hemel en aarde gemaak het, en teen wie ons swaar gesondig het, dat Hy ons met Homself versoen het deur sy Seun en dat Hy ons roep om syne te wees. Hy roep ons tot die ewige lewe. Hy roep ons op tot die goeie stryd van die geloof – ‘n goeie stryd omdat die oorwinning vas en verseker is, waarin Hyself vir ons voorgaan.

Maar dit is ‘n stryd. Timotheus, man van God, vlug vir die geldgierigheid. Jy het ‘n goeie stryd om te stry, en die sug na rykdom sal jou bene lam maak en jou hande bind. Jy sal in strikke val en wegsink in verderf – vlug daarvoor. Die goeie stryd van die geloof is nie vir iemand wat lief is vir gemak en die eer van mense nie, of wat gebind kan word deur die glans van goud nie.

Dink aan Gehasie. Hy was ook in diens van die Here, maar het melaats geword. Elkeen wat ryk wil word is besmet met dieselfde melaatsheid. Dit is ‘n dodelike siekte wat die siel verderf. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. As jy besig is om vir jou skatte op aarde bymekaar te maak, sal jou hart nie meer wees by die skatte in die hemel nie. Jy kan nie God en Mammon dien nie.

Die kern van die saak is dat die Here ons leer om Hóm lief te hê met ons hele hart en siel en verstand en met al ons krag – met ál jou tyd, ál jou energie en vermoëns, ál jou liefde. Hy is ‘n jaloerse God wat nie ons liefde deel met afgode nie. Ons moet op Hom alleen vertrou, Hy sal vir ons sorg. Ons moet Hom alleen liefhê en Hom alleen dien, Hy sal vir ons sorg. Soos Hebr.13:5 sê: "Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie".

Timotheus, die skatte wat jy moet najaag is geregtigheid, godsvrug, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Dit is hoe jy die goeie stryd van die geloof moet stry. Moenie daarin verslap nie. Gryp na die ewige lewe!

Jou hele lewenswandel getuig reeds van jou geloof, almal sien dit en getuig daarvan. Maar moenie nou verslap nie. Dink aan Christus se belydenis voor Pilatus. Toe Hy voor Pontius Pilatus gestaan het, was Hy die vors wat kon aanspraak maak op goddelike majesteit en eer, die Koning van die Jode. Maar Hy getuig voor Pilatus en sê: "My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my diennaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie."

Dink daaraan Timotheus, ons het dieselfde belydenis – ons burgerskap is nie van hierdie wêreld nie. Dink daaraan dat ons Here Jesus Christus weer sal kom, nie in vernedering nie, maar in die heerlikheid van sy Vader, die "enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here". Moenie jou laat verblind deur die glans van hierdie wêreld nie. God alleen besit onsterflikheid. Hy bewoon ‘n ontoeganklike lig, sodat geen mens Hom al ooit gesien het of kan sien nie. Met hierdie woorde herinner die apostel vir Timotheus daaraan dat daar geen lewe of heerlikheid buite God is nie.

God alleen besit onsterflikheid. Wat beteken dit? Is die menslike siel nie ook onsterflik nie? En wat van die engele? Dat God alleen onsterflikheid besit, beteken dat ons en alle ander lewende wesens geen lewe in onsself het nie, God leen dit aan ons. Selfs sy besluit om die lewe vir ewig aan ons te leen, beteken dat ons vir ewig van oomblik tot oomblik die lewe van Hom moet ontvang – Hy alleen besit die lewe. Onsterflikheid is in sy mag, hy leen dit aan wie hy wil, geen skepsel het dit in homself nie. Sou Hy sy lewegewende krag na Homself laat terugkeer, sou alle skepsels in die niet verdwyn. Ons siel is onsterflik, nie omdat dit in sigself nie kán sterf nie, maar omdat God besluit het om dit ewig in stand te hou. In Hóm lewe ons, beweeg ons en is ons.

Waarom sê die apostel Paulus dit hier? Om aan te toon dat daar geen lewe, geen waarde, geen heerlikheid of vreugde buite God te vind is nie, sodat ons dit nie te vergeefs in die dinge van hierdie wêreld sal soek nie.

Dan sê hy verder dat God ‘n ontoeganklike lig bewoon. Dit beteken dat Hy vir ons verborge is, nie omdat Hy in duisternis is nie, maar omdat ons oë nie die glans van sy heerlikheid kan aanskou nie. Ook die oë van ons verstand is nie in staat om sy heerlikheid te begryp nie. Daarom moet ons in die geloof na Hom kom, omdat ons vleeslike oë Hom nie kan sien nie en ons sy grootheid nie kan begryp nie.

Ons kyk so maklik vas teen die glans van hierdie wêreld, die dinge wat ons met ons oë kan sien, wat ons fisies kan tas en ervaar. Nou leer die Here ons om ons oë op Hom te rig al kan ons Hom nie sien nie, en al is ons begrip te beperk om deur te dring tot die glans van sy heerlikheid. In die geloof moet ons wegkyk van die sigbare skatte van hierdie wêreld om ons oë te vestig op die onsigbare ewige heerlikheid wat net by God te vind is. Aan Hom alleen kom alle eer toe en ewige krag. As ons ware rykdom en heerlikheid soek, is dit net by Hom te vind.

Ons het die opdrag om skatte in die hemel bymekaar te maak

"Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ‘n skat weglê, ‘n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf."

In die eerste plek moet ons daarop let dat die rykes wat aangespreek word gelowiges is. Dit is mense wat deur God geseën is met rykdom. Hy het hulle die gesondheid en die krag en die vermoëns gegee om hard te werk en met kundigheid. Hy het ook die geleenthede daargestel wat nodig was, en sy seën op hul arbeid geplaas, sodat hulle ryk geword het. Dit is ‘n gawe van God wat Hy ryklik verleen om te geniet. Dit is goed en mooi en hulle kan God daarvoor dank. Daar is dan niks daarmee verkeerd om ‘n groot inkomste te hê en ryklik van die gawes te geniet nie.

Nou noem hy net twee gevare waarteen hulle moet waak: hoogmoed en vertroue op hul rykdom. Daarteenoor moet hulle hul vertroue op God stel en weet dat dit Hy is wat alles ryklik aan ons verleen om te geniet. Let op die woord "verleen". Ons kan nie onsself ryk maak nie – ons het netnou ‘n vers uit Spreuke aangehaal wat dit duidelik sê (10:22). Net God kan ons ryk maak deur sy seën op ons arbeid te plaas. Dikwels gee Hy dit aan ongelowiges en weerhou hy dit van gelowiges wat ook hard werk. Dit gaan nie oor wie is die beste, die slimste of die getrouste nie. Hy gee dit volgens sy eie goeddunke aan wie Hy wil, wanneer Hy wil en soos Hy wil, en daarby moet ons berus.

As ons dít nou verstaan, dan weet ons dat dit van Hom kom en daarom ook aan Hom behoort. Hy leen dit maar aan ons. En daarom verwag Hy dat dit in sy diens gebruik sal word. Die goeie werke wat hy hier noem is om vrygewig te wees, mededeelsaam, en om só ‘n skat weg te lê vir die toekoms, ‘n goeie fondament vir die ewigheid, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.

Die armes kan natuurlik ook vrygewig wees en mededeelsaam. Die rykes kry egter hier die opdrag omdat dit juis hier om hulle gaan, dat hulle rykdom van God kom en dat Hy dit aan hulle verleen om Hóm daarmee te dien. Hoe meer die Here jou inkomste vermeerder, hoe groter is jou verantwoordelikheid om Hom daarmee te dien. Die armes kan ook vrygewig wees en mededeelsaam sover dit in hulle vermoë is, maar dit is iets wat soveel meer en oorvloedig gedoen kan word deur die rykes. Hulle het die voorreg van God gekry om ryklik aan ander mee te deel. Dit is beslis ‘n voorreg, want dit is inderdaad saliger om te gee as om te ontvang. Wie met ‘n blymoedig hart uitdeel sal ook loon ontvang, skatte in die hemel.

Laat die rykes dan nie hoogmoedig wees, asof hulle self deur hul eie vermoë ryk geword het nie. Dit was nie jou slimheid of kundigheid nie, dit was nie deur jou eie krag of vermoë nie. God het besluit om dit ryklik aan jou te verleen. Moet ook nie vertrou op jou onsekere en verganklike rykdom nie; weet dat dit geen ware rykdom is nie, sodat jou vertoue steeds op God sal wees en jy jou sal beywer om ryk te wees in goeie werke.

As ons nie die res van die Skrif gehad het nie, sou ons kon dink dat die rykes in vers 19 beveel word om die ewige lewe te verkry deur hul vrygewigheid en mededeelsaamheid. Nee, ons weet dat ons nie gered word op grond van ons goeie werke nie. Die ewige lewe is ‘n gawe wat God ons skenk uit genade sonder dat ons werke dit verdien. Wat beteken verse 18 en 19 dan?

Dat dit die vrug van ware geloof is. Wie ryk is en nie mededeelsaam is nie, sal nie gered word nie. Sy werke sal teen hom getuig. Ware geloof leef en groei en dra vrug. Ware geloof lei tot die ewige lewe, maar nie sonder werke nie. Wie in Christus is dra veel vrug. Daartoe word ons ook opgewek en vermaan, om nie daarin te verslap nie, met die belofte van ewige en onverganklike loon in die hemele. Dit is dan nie loon asof ons dit self verdien nie; Eintlik beloon Hy die werk wat Hy self in en deur ons doen! Hy het besluit en beloof om sy eie genadewerk in ons ook te beloon, sodat ons daardeur nog meer aangespoor kan word om ons eie heil uit te werk met vrees en bewing – vergelyk gerus Rom.2:6,7 en Fil.2:12,13.

Ons het die opdrag om skatte in die hemel bymekaar te maak, ‘n ewige en onverganklike rykdom wat God ons sal skenk, aan elkeen volgens sy werke.

Wat die Here hier deur die apostel Paulus aan Timotheus geskryf het, word ook kort en kragtig geleer in 1Jh.2:15-17 waar Hy sê: "Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

As dit die Here is wat vir jou sorg, dan moet jy tevrede wees met die lewensmiddele wat Hy jou skenk, selfs al sou jy geen oorvloed hê nie. Hy sorg vir jou en beloof jou ‘n ewige rykdom in die hemele. Vertrou dan op Hom en wees tevrede met wat jy het.

Maar sou Hy jou inkomste vermeerder sodat jy ryk word, weet dan dat dit nie deur jou eie krag is nie. Selfs koning Nebukadnésar moes dit erken. Want toe hy roem dat hy deur die sterkte van sy eie vermoë die stad Babel opgebou het, het sy heerlikheid in ‘n oomblik van hom gewyk en sy verstand hom verlaat, sodat hy saam met die wilde diere van die veld moes leef en gras eet soos ‘n bees, totdat Hy erken het dat God die enigste Een is wat in beheer is, dat Hy gee en neem soos Hy wil, dat die bewoners van die aarde in sy hand is, om met hulle te doen soos Hy wil.

As jy dan weet dat jou aardse rykdom van Hom kom, dan weet jy dat dit nie jou eie is nie, dat Hy dit aan jou leen om dit in sy diens te gebruik. Hoe meer Hy jou inkomste vermeerder, hoe meer oorvloedig kan jy ander daarmee dien. Hy spoor jou juis daartoe aan met ‘n belofte van onverganklike rykdom in die hemele.

Ten slotte

Die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins. Wanneer ons geleer het om alles van God te ontvang, om op Hom te vertrou en in Hom berusting te vind, dan het ons waarlik ‘n groot wins verkry. Dan is ons ryk. Dan is die begeerlikhede van hierdie wêreld veragtelik in ons oë en strek ons ons uit na ‘n ewige heerlikheid.

Aan die een kant hoor ons die dringende waarskuwing: Vlug vir die geldgierigheid, sodat jy nie versoek en verstrik raak en wegsink in verderf en ondergang nie. Jou gedrag moet vry wees van geldgierigheid, wees tevrede met wat God jou skenk.

Aan die ander kant hoor ons ‘n kragtige aansporing om die goeie stryd van die geloof te stry, om nie daarin te verslap nie, maar ons oë te vestig op die wederkoms van ons Here Jesus Christus, wanneer God se onbeskryflike heerlikheid en mag geopenbaar sal word, en Hy elkeen sal vergeld volgens sy werke. ‘n Oproep om te gryp na die ewige lewe, om die geregtigheid na te jaag, die godsvrug, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Om die goeie stryd van die geloof te stry en so ‘n skat weg te lê – ewig in die hemele, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie.

Of ons arm of ryk is, ons word almal opgeroep om in die geloof ons oë te vestig op die onsigbare beloftes van heerlikheid, wat ons in Christus het en waartoe Hy ons opwek. Moenie dat die glans van hierdie wêreld jou oë verblind nie. Hierdie wêreld en sy begeerlikheid gaan verby, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Jaag daarna om ryk te wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en lê so vir jou ‘n skat weg in die hemel, ‘n goeie fondament vir die toekoms.

AMEN

 

Liturgie: 

Prop. R.M. Retief - Sondag 30 Augustus 2000
Lees: 1Timótheüs 6:3-21.
Sing: Ps.146:1,5,8; Ps.25:3,6; Ps.119:6,7,11; Ps.131:1-3.