God se liefde bind ons saam en maak ons mekaar se diensknegte.

Predikant: 
Ds RM Retief
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-11-26
Teks: 
Filippense 2
Preek Inhoud: 

 

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

In Christus se gemeente moet ons almal eensgesind wees, moet ons mekaar liefhê, onsself verloën, en in nederigheid mekaar se belange bo ons eie belange stel. Meer nog! Christus se liefde maak ons mekaar se diensknegte.

Christus self het ons kom dien in liefde en in nederigheid, nou beveel Hy ons om dieselfde te doen. In liefde en in nederigheid moet ons mekaar se diennaars word. Ons kan die boodskap dan ook saamvat deur te sê:

God se liefde bind ons saam en maak ons mekaar se diensknegte. Ons wil op drie sake let:

  1. God se liefde vir ons
  2. Ons liefde vir mekaar
  3. Christus se voorbeeld

God se liefde vir ons

Vers 1 sê dat ons getroos word deur die genade in Christus, die liefde van die Vader en die gemeenskap van die Gees. Maar eers moet ons weet waarom hier van troos gepraat word. Ons het geen troos nodig as dit goed gaan met ons nie. Troos word tog net gegee waar daar droefheid en ellende is. As ons getroos word, wat is dan die ellende? Ons ellende is dat ons almal gesondig het en die dood verdien. Ons ellende is dat God ons vyand geword het, omdat ons almal gesondig het.

Dit is ons ellende. Ons leer dit ken uit die wet van God. Ons is sondig en verdien God se oordeel. En omdat die gelowige dit goed weet, kan die apostel nou van die troos praat, sonder om weer uiteen te sit waarom ons die troos nodig het.

Elkeen van ons ken ons eie sonde en skuld. Wanneer ons dan hoor van die troos in Christus, weet ons wat dit beteken. Die troos is dat die Vader al ons sondes vergewe en ons aanneem as sy kinders deur Christus en dat Hy deur sy Gees ons herskep om in heilige gemeenskap met Hom te leef. Dit is die evangelie.

Wanneer ek deur die geloof sien dat God hierdie genade en liefde ook aan my persoonlik geskenk het, en die Gees saam met my gees getuig dat God my Vader is, dan is dít die troos wat my volkome vertroos. Ook al gaan dit sleg met my, en al ken ek baie moeite en verdriet, en al het ek daagliks ‘n stryd teen my eie sonde en teen die verleiding van die wêreld, dan is ek steeds volkome getroos.

Die Vader se liefde en genade wat Hy ons in Christus skenk is so groot, dat wanneer ons in die geloof daaraan vashou, dit al die pyn en lyding van hierdie lewe oorskadu en ons volkome vertroos.

Maar hoe het hierdie troos tot ons gekom? Vers 1 sê dat dit die werk is van die Vader, Seun en Heilige Gees. Ons word hier herinner aan die Here se seëngroet waar Hy sê: "Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal"(2Kor.13:13). Dit is ook wat ons hier in Fil.2:1 vind. Die genade van Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees.

Die troos in Christus is dat Hy vir al ons sondes gesterf het en ons beklee met sy volmaakte geregtigheid. Die liefde van God is dat Hy van voor die grondlegging van die wêreld besluit het om ons aan te neem as sy kinders en sy enigste Seun wat Hy liefhet vir ons sondes te offer. Die gemeenskap van die Gees is dat Hy ons die geloof skenk om ons so te laat deel in al die seëninge van die Vader wat Hy ons in Christus skenk. Die gemeenskap van die Gees is ook dat Hy ons herskep om in heilige gemeenskap met God te leef. Ons leef nou in ‘n innige liefdesverhouding met God. Daaraan herinner vers 1 ons.

Hierdie vertroosting het ‘n uitwerking op ons. God se liefde herskep ons, sodat ons self ook wil liefhê en dien. En daarop let ons nou in die tweede plek.

Ons liefde vir mekaar

Verse 2-5 gee nou aan ons sekere opdragte. Ons moet eensgesind wees. In liefde en in nederigheid moet ons mekaar dien. Hierdie opdragte hou verband met vers 1. God se liefde wat ons vertroos (v.1), moet nou vrug dra in ons lewe (v.2-5).

In die eerste plek praat die apostel nou van sy eie blydskap. Terwyl die apostel hierdie brief skryf, sit hy in die tronk. Moontlik gaan hy die doodstraf kry. En tog is hy bly! Solank dit goed gaan met die kerk, is sy blydskap volkome. Sy eie belange is nie vir hom so belangrik nie, net solank dit goed gaan met die gemeente. As die gemeente eensgesind is, as hulle saamgebind word deur dieselfde liefde, een van siel, een van sin, dan is dit ‘n bewys dat die liefde van Christus werksaam is onder hulle. Dan is die apostel bly, al word sy eie lewe geoffer en al moet sy liefdesdiens tot in die dood strek (vers17).

Hy wil ons nou opwek om ook so gesind te wees. Daarom begin hy deur ons te herinner aan die troos van Christus se liefde. Die vraag is nou: ken jy die gemeenskap van Christus se Gees wat ons aan mekaar bind? Ken jy die innige teerheid wat sy Gees in ons wek, sodat ons in liefde ons oor mekaar wil ontferm? Ken jy die genade in Christus en die liefde van God wat deur die werking van sy Gees ons dring om mekaar lief te hê?

Ja, elke gelowige ken dit. Elkeen wat uit God gebore is, het ook die ander lief wat uit Hom gebore is (1Jh.5:1). Die gemeeskap van die Gees verenig ons met God. Deur die gemeenskap van die Gees word al die gelowiges ook met mekaar verenig – ons is een liggaam in Christus. Dieselfde Gees wat ons aan Christus bind, bind ons ook aan mekaar. Ons gemeenskap met Christus deur die werking van sy Gees maak ons een – een met Christus maar ook een met mekaar.

Hierdie liefde wat ons saambind is ‘n gawe, maar dit is ook ‘n opdrag. Ons moet mekaar liefhê. Ons moet eensgesind wees, ons moet mekaar dien.

Die eerste opdrag is dat ons eensgesind moet wees. Hy sê ons moet in ons siel verenig wees met mekaar, dit wil sê: tot in ons diepste wese moet ons een wees met mekaar – die hele gemeente! Ons moet ook een van sin wees. Een van sin beteken: ons moet dieselfde denke hê. Ons moet eenders dink! Die hele gemeente moet almal saam soos een man Christus navolg, ook in hul denke. Christus regeer ons deur sy Woord, dit is die norm vir ons denke. As ons wil weet hoe ‘n Christen moet leef, is daar net één antwoord – nie tien nie! In Christus se gemeente is daar geen plek vir individualisme nie – waar elkeen maar doen wat reg is in sy eie oë nie.

Wanneer ons saam Christus navolg, en sy Woord ons denke vorm, kan ons nie anders as om ook in ons denke eensgesind te wees nie. In elke opsig moet ons een wees, in liefde, in ywer, in selfverloëning en nederigheid, in dieselfde kennis van God se liefde en genade. Ons het immers net een geloof en een hoop.

Ons hart en siel en verstand is oorgegee aan een God, en daarom is ons een. Dieselfde Gees wat in Christus woon, woon nou in ons, en bind ons almal saam aan Christus. Ons het net een Hoof en ons wil almal saam Hóm gehoorsaam. Daarom is ons eensgesind. Daarom voel en dink ons eenders, daarom hoort ons saam, omdat ons in en deur Christus een geword het.

Hierdie eenheid bestaan in liefde. Dit is ‘n sigbare liefde wat oorgaan tot dade. Die liefde wil gee, die liefde wil dien. Die liefde soek nie sy eie belang nie.

Voordat hy egter daarby kom dat ons mekaar in liefde moet dien, wys hy eers op die innerlike gesindheid wat die liefde by ons moet wek.

Die liefde is nie selfsugtig nie, vers 3. Wanneer Christus se liefde ons vertroos, en sy Gees ons ‘n innige teerheid skenk vir mekaar, sodat ons mekaar liefhet en ons oor mekaar wil ontferm, dan dryf dit die selfsug uit. Dan kán ons nie meer vir onsself leef nie. Dan wíl ek nie meer vir myself leef nie. Selfsug is net die teenoorgestelde van liefde. Daarom moet niemand in die gemeente iets doen uit selfsug of uit eie belang nie. Die ander se belange moet gedien word. My eie belange mag net in ag geneem word sover dit die ander se belange dien. Of beter gestel: die ander se belange moet my hoogste belange word.

Liefde soek ook nie na ydele selfverering nie, vers 3. Daar is niks wat die eenheid in ‘n gemeente so gou kan skade doen, as wanneer mense in selfsug hul eie eer soek nie. Dan is daar geen eensgesindheid nie, maar naywer en jaloesie.

Ydele eer verwys hier na alle eer wat vleeslik is. As jy iets in die gemeente doen om deur die mense gesien te word, vir eie eer, dan is dit nie liefde nie. Dan sal jou diens ook nie die gemeente bou nie, maar lei tot twis en tweedrag.

Vers 3 gee nog ‘n opdrag. In nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Al hierdie opdragte hou verband met mekaar. Hy spoor ons aan om te leef vanuit God se liefde en vanuit die gemeenskap wat ons met Hom het. Die opdrag is eenvoudig dat ons mekaar moet liefhê. Maar omdat ons in ons sondigheid nie meer mooi weet wat liefde is nie, word dit nou duidelik vir ons uitgespel. Die liefde bind saam, die liefde dryf selfsug uit, die liefde soek nie na ydele selfverering nie, die liefde is nederig. Die liefde soek nie sy eie belang nie.

Die nederigheid wat hier genoem word, is ‘n vrug van die Gees. Nederigehid spruit uit die genade van Christus, die liefde van God en die gemeeskap van die Gees. Vanuit vers 1 sien ons reeds dat alles wat ons is en het genade is. Wie geleer het om vanuit hierdie genade te leef en sy eie verdorwenheid en swakheid ken, kan nie anders as om nederig te wees nie. Die woorde troos en vertroosting in vers een dui juis op die genade wat ons ontvang het, op ons verlossing uit die slawerny van sonde. Dit dui op God se genade in Christus. As ek dan my eie verdorwenheid en skuld ken, dan maak dit my nederig.

Vers 3 gaan verder en beskryf vir ons wat nederigheid is. Wie nederig is ag ander hoër as homself. U sal miskien vra: Wat nou daarvan as iemand baie begaafd is en duidelik uitstaan bo ander mense; hoe kan hy dan homself laer ag as ander mense, terwyl hy weet dat hy hulle ver oortref? Hoe kan ek iemand hoër ag as myself, terwyl ek weet dat ek in werklikheid meer gawes en aansien het?

Sou iemand by uitnemendheid begaaf wees, moet hy twee dinge weet. Eerstens moet hy natuurlik sy eie nietigheid en doemwaardigheid voor God ken. Maar tweedens moet hy ook weet dat al die gawes wat hy het, nie sy eie is nie. Ons het niks wat ons nie ontvang het nie. En die gawes wat ons ontvang het, is nie ons eie nie, dit word maar aan ons geleen. Ons het rentmeesterskap ontvang, sodat ons met die gawes wat God ons verleen, mekaar daarmee kan dien.

Ons het níks goeds in onsself nie. Alle goeie gawes kom van God; ons ontvang dit van Hom. Alles wat ons het, is Syne. Hy leen dit net aan ons. En daarom moet ons dit in sy diens gebruik. As Hy ons dan beveel om mekaar te dien, dan is ons mekaar se diennaars. Soos die apostel in 1Petr.4:10 sê: "Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bediennaars van die veelvuldige genade van God." As ons dan rentmeesterskap ontvang het, om mekaar te dien met ons gawes, dan is ons mekaar se bediendes. Ek gebruik die woord bediende. Dit is dieselfde woord as dienskneg, maar die woord dienskneg het al so effens sy betekenis vir ons verloor. Ons weet darem almal wat ‘n bediende is. Die Griekse woord wat hier in vers 7 gebruik is, is selfs nog sterker. Ons kan dit vertaal met "slaaf".

As ons mekaar se bediendes is, dan stel ons gawes ons soveel te meer in staat om mekaar te dien. M.a.w. hoe meer begaafd ek is, hoe groter is my plig om ander se dienskneg te wees. Dit is waarvoor ons die gawes ontvang het; om mekaar daarmee te dien, en nie om onsself te dien en te verhoog nie.

Wanneer ons boonop weet dat daar in ons, dit wil sê in ons vlees, niks goeds woon nie, maar net boosheid en verdorwenheid, het ons werklik nie rede om trots te wees op onsself nie. Ons kan maar net in nederigheid dankie sê vir God se genade en die gawes wat Hy ons leen in sy diens gebruik, om mekaar daarmee te dien.

Ons is egter so vinnig om ander se foute raak te sien en onself met ander te vergelyk. Dan lyk ons vir onsself soveel beter en belangriker as ander. Maar liefde bedek die ander se oortredinge, sodat ons mekaar se foute in liefde begrawe, en net die goeie werk van God in mekaar raaksien en waardeer. Dan sal ons geen moeite hê om ander hoër te ag as onsself nie.

Dan gee vers 4 nog ‘n opdrag: "Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n". Die liefde soek nie sy eie belang nie. Die liefde wil gee. Die liefde wil dien. Ons eie belange moet plek maak vir die belange van ander. Dit is selfverloëning. Dit is net die liefde van Christus wat ons daartoe kan bring om onsself te verloën, sodat ons nie meer vir onsself leef nie, maar om een van siel, een in denke en strewe, en in alle nederigheid, mekaar se diennaars te word.

Christus se voorbeeld

Ons het nou gehoor dat die liefde nie sy eie belang soek nie. Ons het gehoor dat ons mekaar hoër moet ag as onsself, sodat ons mekaar in liefde kan dien. Nou sê vers 5: "…hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was". Ons het dus die opdrag om Christus hierin na te volg.

Dit is natuurlik nie sy voorbeeld wat ons red nie; maar as mense wat reeds gered is, moet ons sy voorbeeld navolg.

Die Skrif hou voortdurend Christus se lewe aan ons voor met die opdrag dat ons sy voorbeeld moet navolg. Christus sê byvoorbeeld: "Soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê (Jh.13:34). Paulus sê in Kol.3: "Soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen"(:13b). Christus was sy dissipels se voete en dan sê Hy: "Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen"(Jh.13:15). Die apostel Paulus sê: "Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is" (1Kor.11:1).

En nou word Christus se voorbeeld weer aan ons voorgehou met die opdrag om Christus na te volg: "…hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was".

Christus het in nederigheid ons Diennaar geword! "Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie…" Hy het sy goddelike heerlikheid vrywillig neergelê. Hy het Homself vrywillig verneder t.w.v. ons. Hy het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word. Die heerlikheid wat sy regmatige besit was, het Hy vrywillig verruil om ons te kom dien! Sy liefde was vrywillig, Hy het onder geen verpligting teenoor ons gestaan nie. Sy liefde het gemaak dat Hy ons vrywillig kom dien het asof Hy ons dienskneg is! Van die hoogste heerlikheid – die heerlikheid van God self wat ons verstand ver te bowe gaan – het Hy neergedaal tot die diepste vernedering.

Hy het Homself beroof om ons ryk te maak. Hy het Homself verneder om ons te verhoog. Waarom het hy dit gedoen? Kon Hy iets daarby baat? Kon Hy Homself daardeur verryk? Nee! Hoe kan God ryker word? Wat kan die mens vir God gee wat Hy nie reeds het nie? Nee, Hy het dit nie gedoen om sy eie ontwil nie, maar om ons ontwil. Dit is selfverloëning. Dit is liefde.

"…en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis." Die Koning van die konings word ‘n dienskneg, verneder Homself, en sterf ‘n skandelike dood. Waarom sou Hy dit doen? Hy doen dit vir ons bloot omdat Hy ons liefhet. Hy gee alles vir ons, Hy gee Homself, Hy gee sy lewe. Meer nog, Hy neem ons vloek op Hom, sodat Hy as vervloekte aan die kruis sterf! Waarom? Omdat Hy ons liefhet!

"Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê"-1Jh.3:16. Ons het die opdrag om Christus hierin na te volg. Dit is die oproep wat ons hier in Fil.2 kry: "Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. Ons ís mekaar se diensknegte. In ons diepste wese en in ons denke moet ons een wees met mekaar, en mekaar se belange op die hart dra. Dit is ‘n bevel. Die gesindheid wat in Christus was, moet ook in ons wees.

Christus se vernedering en verhoging is uniek. Ons kan dit nie naboots nie, want ons is nie God nie. Ons het geen goddelike eer en majesteit om neer te lê nie; ons is reeds in die vernedering van ons eie sonde. Christus se voorbeeld word nie hier aan ons voorgehou sodat ons sal probeer om sy vernedering en verheerliking na te doen nie, maar dat dieselfde liefde en gesindheid by ons sal wees wat in Hom was.

Verder kan ons gerus onthou wat Christus op verskeie plekke gesê het: "Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word (Mt.23:12; Lk.14:11; 18:14 ens.). Ook hierin dien Christus vir ons as voorbeeld.

Ten slotte

Christus se liefde bind ons saam en maak ons mekaar se diensknegte. Dit is sy genade werk in ons, maar dit is ook ‘n opdrag. Omdat ons alles uit genade ontvang, het ons geen reg om vir onsself te leef nie. Ons behoort nie aan onsself nie. En hoe meer gawes ons van Hom ontvang, hoe groter is ons plig om mekaar daarmee te dien.

Wanneer ons God se liefde leer ken, sy genade in Christus ontvang en deur sy Gees saamgebind word tot ‘n volkome eenheid, dan moet ons mekaar liefhê. Ons het die opdrag om een van siel te wees, een in denke en strewe, sodat ons in alles eensgesind is.

Hierdie eenheid moet bewaar word. Dit kan so maklik versteur word en selfs geskend word, deur selfsug en ydele selfverering in die gemeente. Daarom word ons opgeroep om in nederigheid ons broers en susters in die geloof hoër te ag as onsself, om niks te doen uit selfsug en eersug nie; maar om onsself te verloën, sodat ons vry is in ons gemoed om mekaar se diensknegte te wees.

Ons word opgeroep om mekaar se bediendes te wees. Daarvoor word Christus aan ons voorgehou wat Homself verneder het en ons kom dien het. Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien. Christus se voorbeeld is tot aansporing vir die wat hierdie liefde ken, en tot beskaming vir die wat net hul eie belang soek.

Laat ons nie moeg word om goed te doen nie. Laat ons mekaar dien in die vrees van die Here, een van siel een van sin, met innige teerheid en ontferming. Ons moet toelaat dat hierdie liefde wat God self in ons werk besit neem van ons lewe. Ons moet ons hele lewe daarvolgens inrig. Ons lewe het géén sin en géén betekenis solank ons vir onsself leef nie.

Laat ons leef vanuit ons gemeenskap met God, vanuit sy vertroosting en liefde. As ons gemeenskap het met God en vanuit sy liefde leef, en as ons saam verenig word in Christus deur sy Gees, laat ons dan ons vreugde daarin vind om mekaar se diensknegte te wees, en so Christus navolg.

AMEN

Liturgie: 

Prop. R.M. Retief - Sondag 26 November 2000
Lees: Filippense 2:1-18.
Sing: Ps.84:1,2,5,6; Ps.25:3-6; Ps.133:1,2; SB 21:1-6.
Tema: God se liefde bind ons saam en maak ons mekaar se diensknegte.
God se liefde vir ons;
Ons liefde vir mekaar; en
Christus se voorbeeld.