Here, U deurgrond en ken my.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-01-05
Teks: 
Psalms 139
Preek Inhoud: 

Psalm 139:1-12

Ds C Kleyn - Sondag 5 Januarie 2003

Lees:

Psalm 139.
Sing: Ps 100:1,3; Ps 103:1,2; Ps 100:2,4; Ps 139:1-5; Ps 139:12.

Tema:


Here, U deurgrond en ken my.

  1. Wat beteken dit;
  2. In die gewone lewe; en
  3. In die wye wêreld.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons staan weer aan die begin van ’n nuwe jaar, ’n jaar waarin verder
geleef en gewerk moet word. ’n Jaar wat ons steeds nader aan die einde van
hierdie bedeling bring. ’n Jaar waarin Christus besig is om te kom en moontlik
sal kom. Hoe kyk ons na die tyd wat voorlê? Vol vertroue? Vol pessimisme? Met
gemengde gevoelens? Ja as ons eerlik na onsself en na die wêreld waarin ons
leef kyk, is daar alle rede om met gemengde gevoelens die toekoms tegemoet te
sien.

Aan die een kant is daar positiewe dinge in ons lewe, land en wêreld wat ons
moed kan gee. Dalk geniet ons van ’n betreklik goeie gesondheid. Van dag tot
dag ontvang ons wat ons nodig het, en dikwels selfs baie meer as dit. Wat die
ekonomie betref, heers ’n sekere optimisme in Suid Afrika. Daar is in ons land
nog allerlei geleenthede om te leef, om te studeer en om te werk.

Aan die ander kant leef ons in ’n gebroke wêreld waarin lyding en verdriet
God se kinders nie bespaar bly nie. Siekte en teëslag kan ons sommerso tref.
Ons aardse bestaan is broos en verganklik. En wat nog erger is: ons bly hier op
aarde nog steeds sondige mensekinders. Ook al het ek miskien allerlei goeie
voornemens, ek kan die sonde maar nie kwytraak nie. Ek sondig nog daagliks teen
God en my naaste. Die sonde sal ook in die jaar wat voorlê die verhoudings
bedreig, ja selfs die bestaan van die kerk bedreig. Wanneer ons net na onsself
en na die gebroke wêreld kyk, dan is daar rede om somber gestem te wees. Dis
ook die wêreld waarin ons kinders gebore word en waarin ons hulle moet
grootbring. Ons wat self ook sondig en gebrekkig is. Sou ons dan nie die moed
verloor nie, tou opgooi nie?

Gemeente, pleks dat ons op onsself fokus is dit beter dat ons op ons God
fokus. Teenoor al ons ontrou en tekorte, teenoor die verganklikheid en bederf
van hierdie wêreld, is daar ons getroue Verbondsgod op wie ons altyd kan
staatmaak. Wie sy toevlug by Hom soek, sal nie beskaamd wees nie. Dan mag jy met
vertroue die toekoms tegemoet sien, ook al is daar die sonde en gebrokenheid wat
jou pla. Dawid het die vertroue verwoord in Ps 139. Die hele psalm is eintlik
’n uitwerking van die eerste woorde: Here, U deurgrond en ken my.

Dis dan ook die tema van die preek:

Here, U deurgrond en ken my.

  1. Wat beteken dit
  2. In die gewone lewe
  3. In die wye wêreld.

Dawid bid tot die HERE: "Here U deurgrond my en ken my." Dit
beteken in die eerste plek: Here, U kyk dwars deur my heen. Niks is vir U
verborge nie. U peil my allerdiepste gedagtes en gevoelens.

Ons ken vandag die röntgenfotos. Met röntgenstrale kan hulle deur jou vel
dring tot jou inwendige organe en daar ’n foto van maak. Hulle kyk so dwars
deur jou heen. Dit kan soms ’n spannende saak wees. Sal hulle iets afwykends
vind, iets kwaadaardigs miskien.

Iets dergeliks kan jy jou by Ps 139 voorstel. God kyk dwars deur my heen. Hy
bekyk my van binne. Dit maak dit spannend. Ja, is daar nie alle rede om bang te
wees nie? Wie kan mos sulke deurdringende oë van God verdra? Ek weet mos dat
daar binne in my allerlei kwaadaardige dinge te vinde is, sondige gedagtes en
gevoelens. Is dit dan geen benouende gedagte dat God reg deur my heen kyk nie?

Soms dink of sê mense: dis maar goed dat niemand weet wat ek ten diepste
dink nie, hoe ek voel oor sekere dinge, waaroor ek droom, hoe ek soms my
verhouding met God en my naaste ervaar. Daarmee sê ek eintlik: as jy dit
werklik sou weet dan sou jy waarskynlik niks met my te doen wil hê nie.
Toegepas op God sou dit beteken: as God alles sou weet wat in my omgaan, dan sou
Hy my wel moet los, en niks met my te doen wil hê nie. ’n Skrikwekkende
gedagte! Is dit wat die teks bedoel? Gelukkig nie.

Let maar op die naam van Hom wat my deurgrond. Die HERE, met hoofletters,
Jahwe, ons Verbondsgod. Die God wat Homself voorstel as: Ek is wat Ek is. By die
naam dink ons meestal aan God se trou in die verbond. En dis seker ook ’n baie
belangrike aspek van die naam. Tog beteken die naam baie meer. Dit praat veral
ook van die feit dat God aktief is in die verbond. God is geen passiewe
toeskouer nie. Hy is aktief by sy volk, by ons sy kinders, betrokke. Die Here
kom nie net met skitterende woorde van verlossing nie. Hy maak die verlossing
ook werklikheid. Hy vervul sy beloftes.

Wanneer Dawid hierdie naam 'HERE' uitspreek, dan dink hy aan God se
verlossingswerke van vroeër en van sy eie dae. Die Verbondsgod het homself toe
reeds bewys te wees wie Hy is. Dink maar aan die wonderbaarlike verlossing uit
die slawehuis Egipte en aan die intog in die beloofde land Kanaän. Ons mag
vandag meer sien. Ons het n rukkie gelede die geboorte van Christus gevier. Dit
was reeds Goeie Vrydag, Pase, Hemelvaart en Pinkster gewees. Die Here het verder
gekom met sy verlossingswerke. In Christus het Hy Homself baie duidelik aan ons
bekendgemaak, Homself bewys as die God wat die verlossing van sy volk soek en
bewerk. As die God wat in Christus naby sy volk is. As die God wat deur sy Gees
in ons woon en werk.

Wel, van hierdie verlossende Verbondsgod word gesê: Here, U deurgrond my. U
kyk deur my heen. Sou dit iets wees waarvoor ons moet vrees? Moet ons bang wees
daaroor dat Hy ons sondige gedagtes en drome sien? Nie as jy Hom in Jesus
Christus ken. U/Jy ken hierdie verbondsgod tog in Jesus Christus? Of nie? Jesus
Christus wil ons juis van die sonde verlos. Hierdie verbondsgod wil tog ons
sondes vergewe en ons lewe vernuwe? Dink aan die doop wat ons nou nou bedien
het.

Daarom noem Dawid hierdie alwetendheid van God nie as ’n skrikwekkende
gedagte nie, maar as ’n groot troos. Hy weet wie dit is wat Hom deurgrond. Hy
is nie ’n ongevoelige inkwisiteur wat sonder barmhartigheid die waarheid aan
die lig wil bring nie. Hy is nie die regter wat daarop uit is om ons vir ons
sondes te straf nie. Nee, Hy is ons genadige Verbondsgod. Daarom hoef ek nie te
vrees nie. Daarom mag ek troos put uit God se alwetendheid. Gelukkig, Hy weet
alles. Dan kan Hy ook alles vergewe en vir ewig wegdoen, van my skouers af.
Sodat die sondige gedagtes en drome my nie as ’n las hoef te bly neerdruk nie.
Die sondes wat ek die afgelope jaar verrig het, die geheime sondes waarvan
niemand weet nie. My verbondsgod, my verlosser weet dit. Gelukkig maar! Wat ’n
bevryding!

Broeders en susters, wanneer ek God egter nie in Jesus Christus as my
verbondsgod ken nie, dan het ek wel alle rede om vir sy deurdringende oë bang
te wees. Wanneer ek heimlik in my hart sonde bly koester en nie daarmee wil
breek nie, dan sal dit inderdaad ’n verskriklike werklikheid wees. Dan sal ek
dit nie kan verdra dat God reg deur my kyk nie. God kan my dan mos nie in Jesus
Christus aansien nie. Hy moet vir my dan wel al my skuld toereken, ook die
verborge skuld wat voor sy oë aan die lig kom.

Wanneer ek egter deur die geloof aan Christus verbind is, dan hoef ek nie te
vrees nie. God sien my in Christus Jesus aan. Hy reken my toe, nie my skuld nie,
maar Christus se lewe en werk, Christus se betaling. Dan put ek troos uit God se
deurgronding van my lewe.

Gemeente, Dawid sing nie slegs: Here, U deurgrond my nie, maar ook U ken my.
Die werkwoord ken is in die verbond ’n ryke term. Dit wil nie net sê dat die
Here van alles op die hoogte is nie. Nee, hierdie kennis beteken veral dat die
Here in my belangstel, dat Hy met my meeleef, dat Hy met my lot bewoë is. Die
Here trek hom die verdriet, stryd, gebrokenheid en nood van sy kinders aan. Dit
laat Hom nie koud nie, dit raak hom diep. In al hulle benoudheid was Hy benoud
(Jes 63:9).

So mag ek in die geloof sê: Here, U deurgrond en ken my in bewoënheid, in
liefde. Die sorge en stryd in my lewe laat u nie koud nie. U staan nie
onverskillig teenoor die spanning en onsekerheid waarin ek lewe nie. U verloor
my geen oomblik uit die oog nie. Ja, dis so baie persoonlik. U deurgrond en ken
my. Alles wat my raak, daarin stel u belang. Dis asof ek vir U die enigste is.
Asof U niemand anders het tot wie u liefde en sorg uitgaan. Ek is nou nooit meer
alleen nie, ook nie wanneer ek sonder my vriende, sonder my ouers, sonder my man
of vrou, ja, sonder broeders en susters deur die lewe moet. U is daar altyd
aktief aanwesig tot my verlossing.

Gemeente, in die vervolg van die Psalm werk Dawid hierdie tema, wat die
rykdom van die verbond wys, verder uit. In vers 2-6 praat hy van die lewe van
elke dag, die gewone lewe. Die Here deurgrond en ken my in die gewone lewe. Wat
doen jy as mens op ’n gewone dag? Jy begin om op te staan. Jy sit ’n rukkie,
jy loop ’n bietjie, jy staan, jy ry jou fiets of motor. As die dag verby is
gaan jy weer lê om te rus. Ondertussen doen jy allerlei dinge, dink jy oor
allerlei dinge en reël jy allerlei dinge.

Hoofsaaklik is jou gewone lewe ’n kwessie van sit en staan, gaan en lê,
dink en doen. Daarom sê Dawid: U ken my sit en my opstaan. U verstaan van ver
my gedagte. Ja, ook my gedagtes wat ek nog nie onder woorde kon bring nie. Soms
weet ons nie eers goed wat ons werklik dink nie. Laat staan dat ons dit in
woorde kan uitdruk. Tog sê Dawid: "Want daar is nog geen woord op my tong
nie - of U, Here, U ken dit geheel en al." U verstaan en ken my beter as ek
myself ken, beter as enige ander mens my ken. U ken ook my gedagtes wat geen
oomblik stil staan nie. U ken al die dinge wat my besig hou, dinge waaroor ek
pieker, dinge wat my uit die slaap hou, waarvan ek moeilik kan loskom, my
eensaamheid, bekommernis oor my gesondheid of die gesondheid van ’n geliefde
van my, sorge oor die huwelik, oor die kinders, spanning en onsekerheid by die
werk. U Here, U ken dit volkome, U leef daarin mee.

"U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend."
Ook as ek vol sorge rondstap of wanneer ek bed toe gaan en maar moeilik in die
slaap kan kom, leef U met my mee.

"U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my." U
beskerm my aan alle kante, agter my: U dek my in die rug. Voor my: U vang die
klappe vir my op. U sluit u arms om my heen. U is ook bo my. U lê u hand op my.
’n Kind kan soms bedreig en verwar voel. Wat ’n rus en vrede gee dit dan om
die hand van pa of ma te voel. Dit gee opnuut ’n gevoel van geborgenheid. Jy
besef opnuut dat jy in veilige, vertroude hande is. So is dit ook met die Here.
By alle verwarring en onsekerheid laat Hy sy aanwesigheid voel. Hy gee die vrede
wat alle verstand te bowe gaan. Ek ontvang weer rus ondanks alle onrus rondom
my. "Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by
nie."

Miskien dink U: Dawid kan maklik praat. Wat hy sê, is op sigself pragtig,
maar is dit wel realisties? Kan ons wel praat van die rus en vertroue terwyl ons
midde in die harde en dikwels teleurstellende werklikheid van die lewe staan?
Terwyl ons worstel om die pot aan die kook te hou? Terwyl ons worstel met
versteurde verhoudings in die huwelik, in die gesin, in die kerk of by die werk.
Terwyl ons die dood in die oë staar? Kan ons dan so ’n verhewe lied sing,
’n lied van vrede en vertroue? Weet Dawid wel wat in die alledaagse lewe
aangaan? Weet hy wel van die onrus en onsekerheid van ons bestaan, van die sake
wat ons kan benou?

Gemeente, Dawid staan werklik nie buite die lewe nie. Dis juis die krag van
hierdie Psalm dat die Psalmis vanuit die harde en bloedige werklikheid van die
lewe sing. Die psalmis is nie iemand wat vanuit ’n luukse en veilige plek sy
lied sing nie. Wanneer jy verder lees, dan merk jy dat hy beslis nie maklik
praat nie. Hy is omring deur manne van bloed. Hy staar die dood in die oë. Sy
lewe staan op die spel. Hy het dus ’n oop oog vir die benouende werklikheid
van die lewe. Tog kan hy vanuit die bedreigde posisie sing: Here, U deurgrond en
ken my. Hoekom? Omdat hy in geloof God se beloftes aanvaar. Die beloftes wat ook
vanoggend aan Daniel verseël is. Dawid weet dat die Here, sy Verbondsgod, naby
hom is, watter pad hy ook al moet stap. Waar hy hom ook begeef in hierdie wye wêreld,
die Here is naby.

So kom ons by die derde punt: Here U deurgrond en ken my nie slegs in die
gewone lewe nie (die tweede punt), maar ook in die wye wêreld (die derde punt).

Dawid vervolg: "Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u
aangesig? Hoever ek ook weggaan, U Gees verloor my nooit uit die oog nie. Ek kan
u nooit ontvlug nie. Niemand kan U ooit ontvlug nie. God se Gees is orals. Die
enigste uitweg is om na God self te vlug. Want alleen in God vind ek ontkoming
van die straf wat my sondes verdien.

"Klim ek op na die hemel, U is daar. Of maak ek die doderyk my bed, kyk,
U is daar!" U is in beheer van die hemel en van die doderyk. U is in beide
aanwesig. Wat ’n troos vir die gelowiges wat die dood in die gesig staar. God
is daar om hulle in die hemel op te neem. Dis soos Paulus dit later formuleer:
nog hoogte of diepte kan my skei van die liefde van God wat daar in Christus
Jesus is.

"Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die
see woon, ook daar sou U hand my lei en u regterhand my vashou." By
sonsopgang sien ’n mens hoe skielik en vinnig die lig hom versprei oor die
aarde na die weste toe. Al sou ek met dieselfde spoed my wegbeweeg en my gaan
vestig sover in die weste as maar kan, dan sou ek nog nie uit God se
teenwoordigheid uitkom nie. "Ook daar sou U hand my lei en u regterhand my
vashou." Maak nie saak hoe ver ek van my huis verwyder is, God wil my as
’n herder lei en as ’n Vader vashou.

Gemeente, in ons eeu van globalisering, lyk dit asof die afstande tussen die
lande weggeval het. Tog bly die afstande wel deeglik daar. U moet maar
geliefdes, bv. u ouers of kinders, hê wat oorsee woon. Jy kan jouself troos met
die gedagte dat jy binne ’n paar dae na hulle toe kan vlieg. Maar die
werklikheid bly dat die geliefdes wat oorsee bly tog ver weg is. As daar skielik
iets met hulle gebeur dan kan jy daar nie onmiddellik wees nie. Jy kan mekaar
nie daagliks sien en ondersteun nie. Die enigste werklike troos is dat God se
hand hulle daar vashou, soos Hy ons hier ook vashou. Hulle en ons is nooit
alleen nie, waar ons ook mag wees. Hier by die huis, in ons geboorteland of nuwe
vaderland, is God by ons en lei Hy ons met sy Woord en Gees. Maar ook in hierdie
wye wêreld wil Hy ons vashou en lei. Ons kan mekaar dus aan sy sorg toevertrou.
Dit is wat ons kan bemoedig, ook al word ons deur groot afstande van mekaar
geskei. Daar is geen rede om te vrees nie, want God is aanwesig en lei sy
kinders soos Hy dit ook doen wanneer hulle by die huis is.

"En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees
tot my beskutting, dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag
gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig." Vir ons mense
beteken duisternis isolasie, afsondering, verberging. Jy staan alleen en kan
niks of niemand sien nie en niemand kan jou sien nie. Hoe dik die duisternis ook
al mag wees, dit kan egter nooit so dik wees dat God nie daar deurheen kan kyk
nie. Vir God is dit asof die duisternis nie bestaan nie., dis soos die lig.
Duisternis kan my dus nooit van God skei nie. God het albei lig en duisternis
geskep en is nie van hulle afhanklik nie. Hy staan daarbo. Dit lig van die son
gee Hom geen lig nie en die duisternis van die nag dwing Hom nie om te gaan rus
nie. Hy bewoon ’n ontoeganklike lig. Hy is self lig. Geen aardse lig of
duisternis is vir Hom nodig nie. Wat ’n troos om te weet dat ons duisternis
vir Hom lig is. Hoe donker my lewenspad ook al mag wees, vir Hom is dit lig. Hy
gaan aan met sy werk tot my verlossing. Hy laat alles, ook die kwaad wat my
tref, ten goede meewerk.

Broeders en susters, wat ’n pragtige en troosvolle werklikheid beskryf die
teks vir ons. Dit wys op die rykdom van die verbond. Here, U deurgrond en ken
my, in die gewone lewe van elke dag, ook in hierdie wye wêreld. U ken my soos
geen ander my ken nie. U ken my in liefde. U is altyd en orals daar tot my
redding. U lei my en hou my vas. Sou ek dan nie met vertroue die toekoms
tegemoet gaan. Wat en waar die toekoms my ook al mag bring, die Here gaan met my
saam as my almagtige en getroue verbondsgod.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)