Deur Abigail hou God Dawid op die messiaanse spoor.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-12-08
Teks: 
I Samuel 25
Preek Inhoud: 

1 Samuel 25

Ds C Kleyn - Sondag 8 Desember 2002

Lees:

1 Samuel 25.
Sing: Ps 91:1,2; Ps19:6; Ps 19:7; PS 37;1-6; Ps 37:23-25.

Tema:


Deur Abigail hou God Dawid op die messiaanse spoor.

  1. Dawid se wraaksugtige voorneme;
  2. Abigail se profetiese woorde; en
  3. Dawid se messiaanse antwoord.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die pad van Dawid na die troon gaan nie oor rose nie. Na sy opkoms, dink aan sy oorwinning op Goliat en sy militêre suksesse in diens van Saul, moet hy deur ’n diep dal heen. Saul sien hom as ’n bedreiging en probeer om hom dood te maak. So breek vir Dawid die tyd van omswerwing aan. Sy lewe is voortdurend in gevaar. Vir Hom geld dieselfde as later vir sy groot Seun en Here Jesus Christus geld: die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie (Mt 8:20). Dawid word voortdurend opgejaag. Sy eie volksgenote, selfs mense wat hy van vyande bevry het, soos die burgers van Kehila, is bereid om hom aan Saul oor te lewer. ’n Skynbaar hopelose situasie vir Dawid. Waarom moet dit so?

Broeders en susters, dis die Here God wat Dawid langs hierdie pad na die troon lei. Ons is geneig om net te let op wat mense hom aandoen. Maar God lei ook hierdie geskiedenis. Soos Hy vandag ook die geskiedenis van ons lei. Die Here wil Dawid oplei, vorm vir sy messiaanse koningskap. God wil hom oefen in gehoorsaamheid. Dawid word mos nie sommer ’n koning nie, nie sommer ’n vors oor ’n bepaalde volk nie. Nee, hy is gesalf tot teokratiese koning, dws God self wil deur hom sy volk regeer. Hy moet vorm gee aan God se koningskap sodat God se wil in Israel seggenskap het.

Dawid se koningskap mag nie in ’n fiasko uitloop soos die van Saul nie, wat deur eiemagtige optrede gekenmerk is. Daarom lei die Here hom via verdrukking na heerlikheid. God gee hom ’n proeftyd. Hy word daarin geoefen om op die Here alleen te bou. Om sy verlossing en sy kroning vol vertroue aan God self oor te laat. Hy moet leer om die Here te volg en alle eiemagtige optrede na te laat. So alleen word hy geskik om koning oor Israel te wees, soos een wat die septer nie volgens eie wil en tot sy eie voordeel swaai nie, maar in gehoorsaamheid aan die Here en tot Israel se voordeel.

Gemeente, die verhaal van ons hoofstuk kom na die geskiedenis waarin Dawid Saul se lewe spaar. Dawid het voor ons teks die proef deurstaan. Hy het ’n geweldige selfbeheersing getoon toe hy die slip van Saul se mantel afgesny het. Maar nou kom Satan hom op ’n ander manier versoek dmv Nabal. Die sataniese aanval kom onverwags. En Dawid gly byna uit. Ternouernood word hy deur God self vir ernstige sonde bewaar.

Ek verkondig vir julle:

Deur Abigail hou God Dawid op die messiaanse spoor.

  1. Dawid se wraaksugtige voorneme
  2. Abigail se profetiese woorde
  3. Dawid se messiaanse antwoord

In sy omswerwing kom Dawid in aanraking met die baie ryke boer Nabal. Dawid en sy manne verkeer reeds ’n rukkie in die omgewing van die herders van Nabal. Daar ontstaan ’n goeie verhouding tussen Dawid en die herders. Die herders baat baie van Dawid se aanwesigheid. In so ’n gebied word die kudde voortdurend bedreig deur wilde diere en rowerbendes. Maar nou vorm Dawid en sy manne ’n beskerming rondom hulle. Een van Nabal se knegte getuig daarvan teenoor Abigail: Hulle was ’n muur om ons, snags sowel as bedags, al die dae wat ons die skape by hulle opgepas het (vers 16). Dawid se manne het skynbaar selfs die herders begelei by die verwisseling van weiveld. Hulle is allermins soos ’n rowerbende. Pleks van bedreiging is daar beskerming: nie een skaap of bok word in daardie tyd vermis nie.

Wanneer daar in die boerebedryf van Nabal ’n groot fees is, die skaapskeerders fees, dan neem Dawid die vrymoedigheid om van Nabal ’n guns te vra. So ’n skaapskeerdersfees was meestal mos ’n uitbundige fees. En Dawid se manne moet in die woestyn tog ook kos kry.

Dawid se versoek aan Nabal is baie beleefd. Hy wens hom God se seën toe, wys op die besondere geleentheid, wys op die goeie dienste wat sy manne gelewer het. Hy stel homself voor as Nabal se mindere. Dawid praat van 'u seun Dawid' en laat die grootte van die gawe heeltemal aan Nabal oor. Gee tog wat u byderhand het, wat u kan mis. Dawid kom dus nie met onbillike eise nie, maar met ’n beleefd versoek op ’n geleë tydstip.

Dawid se beleefde versoek word op ’n growwe manier afgewys. Dawid word met diep beledigende woorde verneder. Minagting klink in die vraag: Wie is Dawid? En wie is die seun van Isai? Hy beteken niks vir my nie, dat ek my oor hom sou moet ontferm. Hy beledig Dawid verder deur hom te beskou as ’n slaaf wat van sy heer weggeloop het: "Daar is vandag baie dienaars wat hulle losskeur, elkeen van sy heer af." Dawid word groot onreg aangedoen. Hy is beslis geen opstandeling nie. Inteendeel, hy is ’n getroue dienaar van sy heer, koning Saul. Juis vanweë sy trou, haat en vervolg die koning hom.

Hoe durf Nabal vir Dawid so af te skeep, terwyl ook hy gehoor moet hê van Dawid se roemryke dade. Dit was mos algemeen bekend in Israel? Het die vroue nie in beurtsang gesing: Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende nie? Hier praat ’n gierigaard by wie alles rondom homself draai, sonder dat hy met God se saak rekening wil hou. Hier is een wat ’n groot mond teen God in die hemel opsit en op aarde mense tiranniseer soos hy lus is. Hier is ’n oormoedige ryke wat die gesalfde kneg van die Here verguis en hom tot ’n nikswerd wegloper verlaag.

’n Mens kan begryp dat Dawid deur so ’n behandeling diep gegrief is. Sou jy ook nie verontwaardig wees oor so ’n onreg nie? Dawid se regsgevoel is tereg beledig. Hy en sy manne het voortdurend vir Nabal se herders klaargestaan. Nabal, sy bedryf, sy personeel en vee het daarby goed gevaar. En nou kry Dawid en sy manne stank vir dank. Die baie ryke boer wil niks vir hulle afstaan nie, selfs nie tydens die rojale skeerdersfees nie. En wat nog baie erger is: hoe durf hy om so om te gaan met die gesalfde kneg van die Here? Hoe durf hy die toekomstige koning, wat God reeds aangewys het, as vuilgoed te behandel. So ’n man moet gestraf word.

Dawid laat geen gras daaroor groei nie. Hy gee onmiddellik die bevel om met Nabal af te reken. Nabal het minagtend gevra: wie is Dawid? En wie is die seun van Isai? Dawid sal Nabal laat sien wie hy is. Hy sal hom vergeld. En nie net Nabal nie, maar alle manne in sy huis en bedryf. Dawid is vasbeslote om hom op hierdie vyand te wreek. Hy is reeds op pad om sy wraaksugtige voorneme uit te voer.

Maar dan kom Abigail hom teë, ja, vergeet nie broeders en susters, dan kom die Here hom teë deur Abigail die vrou van Nabal.

Abigail blyk ’n baie verstandige vrou te wees. Daaronder verstaan die Skrif iets anders as die huidige geëmansipeerde wêreld daaronder verstaan. As ek die optrede van Abigail beoordeel volgens die wêreldse maatstawwe dan sal ek niks van Abigail se woorde verstaan nie. Mense kom dan ook tot teenoorgestelde konklusies. Die een prys haar vir haar selfstandige optrede, die ander spreek kwaad van haar: sy sou ’n sluwe, berekende eggenote wees wat haar eie man verraai en ’n gemeen spel speel om Dawid in te palm.

Abigail is ’n baie wyse vrou volgens die getuienis van die Skrif. Dws, sy het baie lewenswysheid opgedoen in God se leerskool. Sy sien raak wat God besig is om te doen en wat Hy van haar verwag. By al haar doen en late hou sy rekening met God. Sy laat haarself deur Hom onderrig en lei. Dit is ware wysheid. Wanneer een van die knegte haar die voorval met Dawid se manne meedeel, sien sy die situasie raak. Sy gaan onmiddellik in aksie.

En wanneer sy Dawid ontmoet, dan moet jy haar eers hoor, dan blyk sy ’n profetes te wees. Slegs deur die verligting van God se Gees kan sy so praat. Dawid word deur hierdie vrou tereggewys en op die messiaanse spoor gehou. Hiermee is ons by die tweede punt: Abigail se profetiese woorde.

Gemeente, uit haar woorde blyk dat Abigail nie soseer uit eie belang optree nie. Sy is nie allermees bekommerd oor haar man en haar huis nie. Sy is veral bekommerd oor Dawid. Sy sien Dawid in gevaar, die man op wie die guns van die Here rus. Dit gaan haar veral om Dawid se amp en huis.

Ja, sy blyk uitstekend op die hoogte te wees van wat in haar tyd gebeur. Sy begryp waaroor dit in Israel gaan in daardie dae. Sy het, waarskynlik met baie ander, verstaan dat hierdie man Dawid deur die Here bestem is om die toekomstige koning van Israel te word. Die feite praat ’n duidelike taal. Tenminste wanneer jy ore het om te hoor en oë om te sien. Die Here het van Saul gewyk en sy guns blyk op ’n besondere wyse op Dawid te rus, ookal word hy tans vervolg. Die getroues onder Israel sal met die vraag van die koningskap geworstel het. Hulle het mos God se beloftes vir sy volk geken. En hulle sal uitgesien het na die man wat Israel nodig het. So sal hulle die taal van die feite verstaan het in die lig van God se beloftes.

Abigail ken die toesegging aan Dawid. Sy praat oor sy aanstelling as vors oor Israel. Sy noem dat die Here hom ’n bestendige huis sal stig en dat hy die oorloë van die Here voer. In hierdie lig beoordeel sy haar man Nabal. Wat sy oor haar man sê is geen oppervlakkige verwyt om Dawid te paai nie. Nee, in die situasie moet sy so praat. Nabal het ’n groot mond opgesit teen die Here en sy gesalfde. Hy hou geen rekening met God nie. Dit is sy dwaasheid. Dawid voer die oorloë van die Here. En wie hom vyandig teenoor Dawid opstel, stel hom vyandig op teenoor die Here. In die konflik moet die gelowige Abigail wel party vir Dawid kies. Sy kies vir die Here en sy gesalfde. ’n Keuse wat elke man of vrou vandag steeds moet maak, ook al moet jy dan teen jou eie vrou of man opstaan.

En juis omdat sy die gesalfde van die Here voor haar sien, moet sy optree soos sy doen. Die gesalfde verkeer in ’n kritieke situasie. Hy is besig om van die messiaanse spoor af te wyk. En hy besef nie die erns van die situasie nie. Abigail stel alles in die lig van Dawid se toekomstige koningskap. Daar draai alles om. En dit maak die kwaad wat Dawid in gedagte het so ernstig.

Nabal het dwaas gehandel, inderdaad. Maar laat hierdie dwaasheid Dawid tog nie verlei om ook dwaas te gaan handel nie. Nabal het God se reg met die voete vertrap en God se gesalfde groot onreg aangedoen. Maar laat die gesalfde nou nie in dieselfde sonde verval nie, deur die reg in eie hande te neem. Dawid se reaksie is begryplik. Sou ons anders reageer? Indien iemand jou diep beledig, wat doen jy dan? Is daar dan nie die neiging om die ander te verguis nie? Tog is so ’n reaksie puur wêrelds, sondig. Dawid sal Nabal terugbetaal. In woede wil hy Nabal laat sien wie hy is. Hy wil met hom handel volgens die styl van hierdie wêreld.

Abigail ontdek Dawid aan die vleeslike denke. Met nadruk praat sy van bloedskuld. Dawid sou onskuldige bloed vergiet het, dink aan al die manne wat hy wou doodmaak terwyl hulle sonder skuld is. Selfs vir so ’n onbeskaamde gierigaard Nabal geld volgens die wet nie die doodstraf nie. Dawid sou dinge gedoen het waartoe hy nie bevoeg is nie. Hy sou aan God ongehoorsaam gewees het. Hy sou die proef tot die koningskap gedruip het. Hy sou die pad na die troon blokkeer. Dit sou vir hom ’n struikelblok wees vir die koningskap.

Gemeente, Dawid moet as die gesalfde juis wys dat hy alles van die Here verwag. Die Here sal die pad na die troon baan. Dawid mag dit nie self forseer nie. Dawid moet op die Here wag. Hy mag die reg nie in eie hande neem nie. Homself nie wreek nie. Dan sou hy afwyk van die messiaanse spoor. En sou hy die styl van een of ander bendeleier vertoon. Die styl van God se koninkryk, die styl van die messias, die styl van die christen lui: "Moenie julle wreek nie, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here" (Rom 12:19). "Want die toorn van ’n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie" (Jak 1:20). Deur die toorn word die volk nie verlos nie. Dit moet Dawid die toekomstige koning goed weet. Hy moet plek gee vir die toorn en die wraak aan die Here oorlaat. Die Here sal met sy en Dawid se vyande afreken op sy tyd en wyse.

Abigail open Dawid se oë vir hierdie messiaanse styl. Tewens bemoedig sy Dawid deur oor God se beloftes te praat. Laat Dawid voortgaan op die goeie christelike spoor. Dan sal hy op God se beskerming kan reken, ook teenoor Saul. Dan sal Dawid soos ’n edelsteen saamgebind wees in die bondeltjie van die lewendes by die Here. Dan sal sy vyande soos ’n waardelose klip uit die holte van God se slinger weggeslinger word.

Broeders en susters, hoe reageer Dawid op Abigail se woorde? Gaan hy koppig deur met sy voornemens? Nee, hy laat hom deur die profetiese woorde van Abigail terugroep. Hy verset hom nie daarteen nie. Hy voel hom nie beledig nie deur die woorde van hierdie vrou nie. Hy verhard hom nie in sy wêreldse denke nie. Hy laat hom terugroep na die messiaanse spoor. Hoor maar sy messiaanse antwoord. Dit bring ons by die derde punt van die preek.

As eerste dank hy die Here, die God van Israel. Hy sien agter die vrou die Here. "Geseënd is die Here, die God van Israel, wat jou vandag my tegemoet gestuur het. Hy prys die Here vir sy leiding waarby Hy hierdie vrou gebruik het om hom van groot sonde te weerhou. Haar woorde was vir Dawid die woorde van die Here.

Dawid praat van die Here, die God van Israel. Hy erken dat die saak in geding, heel Israel aangaan. Die Here wys homself as die God van Israel wat aan die toekoms van Israel dink, wanneer Hy sy gesalfde terugroep.

Dawid prys ook Abigail, God se goeie instrument. Hy erken openhartig teenoor Abigail dat hy inderdaad van plan was om Nabal en sy manne dood te maak. Hy verdoesel sy sondige voorneme nie. Hy dank God wat hom van die uitvoering daarvan weerhou het. Abigail se optrede blyk bitter nodig te wees. Anders sou hy uitgegly het.

Broeders en susters, daar word gou gedink dat Dawid so ’n held in die geloof was. Jy kan nooit so ’n man na God se hart ewenaar nie. Hierdie geskiedenis laat egter sien dat ook Dawid ’n mens was soos u en ek en dat hy ook gekrenkte gevoelens ken en die neiging om self eiemagtig met sy vyande af te reken. Die versoeking was ook vir hom te swaar. Indien God hom nie teëgekom het nie, sou hy beswyk het. Dis uitsluitend God se genade en trou wat Dawid op die goeie spoor gehou het.

En gemeente, die afloop van die geskiedenis laat sien dat Dawid werklik nie vir homself reg hoef te verskaf nie. Die Here verskaf vir hom reg. Nabal sterf deur die hand van die Here. Daar hoef Dawid se swaard nie aan te pas te kom nie. Die Here slinger sy vyand weg soos ’n waardelose klip uit die slinger holte.

Die Here het Dawid op die messiaanse spoor bewaar. So het God ’n stap verder gekom op pad na die koningshuis van Dawid. Ja, so het God ’n stap verder gekom op pad na Jesus Christus, Dawid se Seun en Heer. God moet self die pad vir die Verlosser baan. Dawid mog die beeld van die Christus vertoon. Van Hom oor wie geskrywe is dat Hy sy reg van God verwag het; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel (1 Pt 2:23). Dit is die styl van God se Messias, die Christus.

Dis ook die styl wat van ons christene verwag word. Hoe hou ek in hierdie tyd en wêreld die goeie spoor? Slegs deur die profetiese Woord, deur die Woord van ons lewende God. Maak nie saak wie die Woord vir my bring nie. Daar, by die woord word die rus geskenk. Ook die rus van ’n gekrenkte siel.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)