Die allerlaaste onderrig van die Here aan sy dissipels voor sy hemelvaart.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-04-21
Teks: 
Handelinge 1
Preek Inhoud: 

Handelinge 1:6-8

Ds C Kleyn - Sondag 21 April 2002

Lees:

1 Thessalonicense 5:1-11; Handelinge 1:1-11.
Sing: Ps 90:1,9; Ps 37:1-4; SB 28:1,2,4; Ps 87:1-5; Ps 67:1,2,3.

Tema: Die allerlaaste onderrig van die Here aan sy dissipels voor sy hemelvaart.

  1. Die aanleiding daartoe: die vraag na die wanneer van die koninkryk; en
  2. Die inhoud daarvan: hulle moet deur die krag van die Gees getuies wees.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Na sy opstanding verkeer Christus nie meer onder die mense soos voorheen nie. Hy verskyn slegs onder hulle. Christus praat ook nie meer tot die skare nie. Die tyd is verby. Hy konsentreer nou op sy dissipels. Verskeie kere verskyn Hy aan hulle. Hulle moet goed weet dat Jesus die lewende is. Dit is reeds ’n hele belewenis. Om die Gekruisigde voor jou te hê! En veral: dat Hy met jou praat. In vers 3 lees ons: "terwyl Hy gedurende 40 dae aan hulle verskyn het en oor die dinge van die koninkryk van God gespreek het.

Waar praat die Here dus oor? Oor die koninkryk van God. So het Hy voortdurend gedoen, vanaf die begin van sy publieke optrede. Hy het die land deurgereis en die koninkryk van God verkondig. In sy werk en onderrig het dit voortdurend oor die koninkryk gegaan. Die onderwys word nou afgerond. Die dissipels moet baie oor die koninkryk weet, oor God se koningskap en sy regte op die aarde. Met hierdie boodskap moet hulle straks die wêreld ingaan. So is die 40 dae tussen Pase en hemelvaart 40 dae van voorbereiding vir die dissipels. Hulle word voorberei op Christus se definitiewe afskeid van die aarde en op hul taak as gevolg daarvan.

Christus gee sy laaste instruksies. ’n Mens sou Christus se woorde kan vergelyk met die woorde van iemand wat vanaf sy sterfbed spreek, iemand se laaste beskikkings. Wat ’n gewig het die laaste woorde van ’n sterwende. Die sterwende weet dat hy min tyd en energie het. Met groot versigtigheid sê hy wat hy nodig en belangrik ag om te sê. Sulke laaste woorde maak indruk. Dit bly in jou geheue gegrif. Dit kan jou gedrag as oorlewende bepaal. So is dit in ieder geval met die woorde wat Christus kort voor sy hemelvaart gespreek het. Die woorde is van die grootste gewig. Dit bestempel die toekomstige lewe van die apostels. Dis woorde om nooit weer te vergeet nie. Die dissipels word daarmee op die spoor van God se koninkryk gesit, in diens van die koninkryk.

Laat ons nou nader let op die allerlaaste onderrig van die Here aan sy dissipels voor sy hemelvaart.

  1. die aanleiding daartoe: die vraag na die wanneer van die koninkryk
  2. die inhoud daarvan: hulle moet deur die krag van die Gees getuies wees.

Die onderrig van Jesus het baie gedagtes wakker geroep. Die dissipels stel hom daarom die vraag: "Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?"

Wat bedoel hulle met hul vraag? Dink hulle nog steeds in Joodse nasionalistiese terme? Verwag hulle nog van Christus dat hy hulle sal bevry van die mag van die Romeine? Droom hulle nog van ’n aardse koninkryk? Het hulle nog nie verstaan waaroor God se koninkryk gaan nie?

Verskeie verklaarders dink dat dit inderdaad die geval is. Die apostels sou nog in aardse terme dink.

Dis egter opvallend dat die Here hulle nie op hierdie punt teregwys nie. Indien hulle werklik so gedink het, sou Christus hulle gekorrigeer het, soos hy dit in die verlede meermale gedoen het, toe hulle met dwase vrae by Hom gekom het.

Laat ons dan nie te vinnig oordeel nie. Wat was mos die aanleiding tot hulle vraag? Christus het keer op keer tot hulle gepraat oor die koninkryk van God. Het die Skrifte nie geprofeteer van heil en vrede vir Israel nie? Lukas die evangelis het aan die begin van sy evangelie duidelik gemaak dat verskeie mense die vertroosting van Israel verwag het. Dit was in die dae van Christus se ontvangenis en geboorte. Die engel Gabriel het die geboorte aangekondig van Hom wat die troon van sy vader Dawid sal ontvang en oor die huis van Jakob koning sal wees tot in ewigheid. Sagaria het daarvan gesing. Ook Maria, Simeon en Anna. Die prediking van Joh die doper en van Jesus het hulle alle rede gegee om te vra na die herstel of oprigting van die koninkryk vir Israel.

Deur die gesprekke met die Here Jesus het die dissipels opgewonde geraak in hul verwagting. Die groot verwagting het hulle beheers, soos dit die geval was by Maria en Josef, Sagaria, Simeon en Anna. Die apostels vra oor die oprigting van die koninkryk vir Israel. Hulle weet dat dit nog nie gekom het nie. En die Here bestry hulle nie daarin nie.

Wat van al die Ou Testamentiese profesieë? Gedeeltelik is hulle vervul in die terugkeer van Israel uit die ballingskap. Gedeeltelik in die koms en bediening van die Here Jesus op aarde. Maar het God die vervalle hut van Dawid weer opgerig soos Amos daarvan geprofeteer het? Het die koninkryk van vrede gekom? God se pragtige beloftes is nog nie volledig vervul nie. Die gespanne verwagting van die dissipels laat hulle die vraag stel: Here gaan dit alles nou gebeur? In hierdie tyd? Sal die koninkryk vir Israel nou volle werklikheid word?

Hulle het die groot Seun van Dawid voor hulle. Hul opgestane Here. Diegene wat alle mag in hemel en op aarde ontvang het. Hy is gereed om na die hemelse troon op te vaar. Om ’n naam bo elke naam te ontvang, sodat in die Naam van Jesus elke knie sou buig van die wat in die hemele die wat op die aarde en die wat onder die aarde is. Wel, word die beloofde koninkryk nou vervul? Christus het ook gepraat van die doop met die Heilige Gees. Die Heilige Gees is die gawe van die laaste dae.

Geliefdes, het ons enige rede om oor die vraag van die dissipels verras te wees. Ons wat agter die feite staan, weet dat daar eers eeue van kerkgeskiedenis moes wees, voordat dit so ver is. Die volkome vervulling van God se messiaanse beloftes moet wag op Christus se wederkoms. Die uitstorting van die Heilige Gees sou hierdie nuwe en laaste tydperk inlui. Dit sou dan lei tot die volledige vervulling van God se koninkryk en die koninkryk van God se uitverkorenes, die oorblyfsel van Israel.

Ons sien nou hoe die Ou Testamentiese profesieë sekere gebeurtenisse in een prentjie vaslê, hoewel baie tyd tussen die gebeurtenisse lê. Dit is wat ons die profetiese perspektief noem. Die profesie is soos ’n panorama. Gebeurtenisse van die nabye en verre toekoms word in een prentjie onmiddellik na of langs mekaar geplaas. So vloei Christus se eerste en tweede koms in mekaar oor, hoewel daar in feite ’n lange tyd tussen die eerste en tweede koms lê. Ons mag dit vandag weet. Maar mag ons van die dissipels verwag dat hulle dit reeds kon weet?

Daar is dus niks vreemds in hul vraag nie. Die opgestane Here staan voor hulle. Hy staan op die punt om op te vaar na sy hemelse troon en om die Heilige Gees uit te stort. Wie se verwagting sou deur sulke groot gebeurtenisse nie aangewakker word nie. Probeer om die situasie in te dink. Die Here het opgestaan uit die dood. Die gekruisigde Here ontvang alle mag in hemel en op aarde. En nou sal die Heilige Gees gestuur word. Dink hieroor na in die lig van die messiaanse profesieë.

Hoe raak dit u? Is u nog verwonderd oor die groot gebeurtenisse van Goeie Vrydag, Pase en Pinkster? Of is dit vir u heel gewoon, niks besonders nie? Dink u dit in: sulke magtige dade. En kyk maar na alles wat sedert die tyd gebeur het. Sou u dan nie vol verwagting moet wees oor die vervulling van God se beloftes, oor die oprigting van God se koninkryk nie? Ja, leef u nog wel in gespanne verwagting? Of het u uself hier op aarde heeltemal gevestig en het u vergeet van die geweldige beloftes? Dit kan nie bly soos dit is nie. Die Heilige Gees is nie verniet uitgestort nie. ’n Mens sou wens dat ons meer met die oprigting van die koninkryk besig sou wees, soos die dissipels dit was. Ons het tog des te meer rede daartoe.

Die dissipels vra: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig? Hulle wil iets meer weet oor die wanneer van God se koninkryk. In antwoord daarop sê Christus: "Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie." Die herstel van die beloofde koninkryk gebeur inderdaad in fases. Maar die besonderhede, dit is Vader se saak. Laat dit aan Hom oor. Vra nie daarna nie. Hoe lank dit nog gaan duur en wanneer die beloftes vervul gaan word, is iets waarin u geen seggenskap of insig het nie. Dis Vader se saak. By Hom is dit tog in goeie, bekwame hande? Wanneer Hy sy tye of geleenthede bepaal, dan is dit altyd perfek op tyd. Niemand kan dit uit sy hande neem nie. Gelukkig maar. Dit sou slegs gevaarlik wees indien die Vader ons ’n gedetailleerde rooster van sy planne sou gee. Dit sou in ons hande nie veilig wees nie.

Kyk maar na wat die spekulasie aangaande die tyd van Christus se wederkoms teweeggebring het in die geskiedenis. Paulus waarsku die Thessalonicense teen ledigheid vanweë ’n oortrokke verwagting van Christus se onmiddellike wederkoms. Later was daar die Montaniste uit die 2e eeu, die anabaptiste uit die 16e eeu, die adventiste uit die 19e eeu en die Jehovasgetuies uit die 20e eeu. Al die menslike berekenings het in ’n groot teleurstellings uitgeloop.

Die woorde van ons teks is ’n les vir vandag. Elke spekulasie aangaande die tydstip van Christus se terugkeer moet afgewys word. Of Christus tydens ons lewe sal terugkom, is iets wat ons gewoon nie weet nie. Nie hoef te weet nie. Laat ons daarom ook nie begin om daaroor te spekuleer nie. Ons het iets anders om te doen. Dit wil ons sien in die tweede punt. Die inhoud van Christus se laaste instruksie: die dissipels moet deur die krag van die Heilige Gees getuies wees.

Die dissipels het die Here Jesus gevra: gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig? Hulle fokus op Christus se aksie. In sy antwoord fokus Christus op die aksie van die dissipels self. Hy wys hulle hul eie plek en verantwoordelikheid. "Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde."

Let daarop, gemeente, dat Christus eers die belofte van die Heilige Gees noem. Ook al wil Christus hulle leer dat hulle self aan die werk moet spring, pleks van bekommerd te wees oor die tye van God se koninkryk. Hy begin deur te sê dat hulle krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom. Christus begin met die belofte. Hy stuur sy dienaars nie sommerso die veld in met leë hande nie. Hy sê nie: julle moet my getuies wees en as julle dit gedoen het, sal ek my belofte vir julle gee nie. Hy begin nie met die opdrag nie. Nee, Hy begin met die belofte. Eers is daar die belofte, daarna die bevel. In daardie volgorde. Christus soek geen aktivisme nie. Sommige mense maak asof ons aksie die wêreld gaan verander. ’n Mens sou amper moet glo dat die wederoprigting van God se koninkryk van ons evangeliese ywer en insette afhanklik is. Dis asof die mens dit tot stand moet bring. Asof die toekoms in ons hande lê.

Maar geliefdes, Christus wil geen aktivisme nie. Nee, eers moet daar ’n seker passiwiteit wees. "Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom." Dit dui op passiwiteit. Jy ontvang krag. Die Heilige Gees kom oor jou. Jy moet eers passief wees, voordat jy aktief kan wees. Jy moet eers ontvang voordat jy kan gee, voordat jy kan werk. Daarom is dit goed om tyd te neem vir bybel studie en gebed voordat jy ’n evangelisasie projek gaan uitvoer. Spring nie onmiddellik in aksie nie. Vertrou nie op jou eie krag en wysheid nie. Dan sal dit nooit geluk nie. Ons kan dit nie self doen nie. Ons kan mense nie bekeer nie. Maak nie saak hoe vasberade en entoesiasties ons is nie. Slegs die Heilige Gees kan dit doen. Wanneer ek in my eie krag en wysheid uitgaan, dan werk ek in feite vir my eie saak en nie vir die saak van God se koninkryk nie.

Nee, wag vir die gawe wat die Vader beloof het, sê Christus. Wag vir die doop met die Heilige Gees. Laat die Gees jou eers instrueer en toerus. Vandag kan ons sê: Laat jou deur die Gees lei, soos Hy in die Woord tot jou kom. Dan sal God se Woord en Gees ook die metode en inhoud van jou evangelisasiewerk bepaal. Daardeur sal dit nie mens gesentree wees nie, maar God gesentreer.

Slegs na die belofte van die Gees, ontvang die dissipels die opdrag: julle moet my getuies wees.

Wat is ’n getuie? ’n Getuie is ’n persoon wat iets gesien of gehoor het en daarvan moet getuig. ’n Getuie word geroep om verslag te doen van die feite. Op die manier moet die dissipels Jesus se getuie wees. Hulle het saam met Hom gereis tydens sy publieke bediening. Hulle het self sy tekens en wonders gesien, sy lyding, dood en opstanding. Hulle ken die feite, die feite van ons verlossing. Dit was nie verniet dat Christus vir Thomas die littekens van die kruisiging gewys het. Hulle het almal sy woord gehoor en sy dade gesien. Dit is waaroor hulle moet praat. Die heilshistoriese feite moet deurgegee word.

Om Christus se getuie te wees is daarom nie dieselfde as om oor ons eie persoonlike ervarings te praat nie. Getuies moet nie praat oor wat hulle ervaar het nie. Getuies moet praat oor Christus se woorde en werke. Dit gaan nie daaroor dat ons onsself interessant moet maak nie, maar Christus. Hy moet in die lig geplaas word. Getuies is mos nie daar om oor hulleself te praat nie, maar oor iemand anders.

Broeders en susters, dit is iets wat ons in gedagte moet hou in ons werk van evangelisasie. Verskeie evangelisasie veldtogte het op hierdie punt verkeerd gegaan. Die mens met sy ervarings en kwaliteite het te veel aandag gekry, ten koste van die ware getuienis, ten koste van die getuienis van Christus. Slegs die getuienis kan mense red. Nee, hierdie getuienis is nie na die mens nie, na sy smaak nie. Vergeet dit maar. Maar dit is wel vir die mens. Daar is niks beters in die wêreld wat jy vir die mense kan gee nie.

Geliefdes, om Christus se getuies te wees is nie ’n maklike taak nie. ’n Getuie is ’n persoon wat geroep word om in ’n regsgeding te getuig vanweë sy kennis van die feite. Jou getuienis kan vir of teen iemand wees, kan tot vryspraak of veroordeling lei. Dis ook die gewig van die getuienis van Christus se getuies. God het ’n geding met hierdie wêreld. In die geding moet die feite op tafel kom, feite wat hulle wat glo vryspraak kan gee, maar wat die ongelowiges veroordeel.

Die apostels en, op die basis van hul getuienis, die kerk ontvang ’n groot verantwoordelikheid. Hulle en ons is betrokke by God se regsgeding met die wêreld. Hulle en ons moet die bevrydende of die veroordelende woord spreek. U moet getuienis aflê. Waarvan? Van God se magtige dade. Sy magtige verlossings dade in Jesus Christus. Wat vir die sondes van die wêreld gesterf het, wat nou leef en wat sal terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel.

Die getuienis moet eerstens in Jerusalem gehoor word, Jerusalem die Ou Testamentiese godsdienstige sentrum. Dan in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde. Die getuienis moet steeds verder uitgaan totdat dit die ver afgeleë plekke van die wêreld bereik. Die evangelie is mos vir die wêreld bestem.

Die bybelboek Handelinge vertel ons hoe die apostels na Pinkster met hul taak begin het. Die evangelie het van Jerusalem uitgegaan, die eerste hoofstukke, na Rome, die laaste hoofstuk.

So het die evangelie ook ons voorouers en ons bereik. Die vervalle hul van Dawid word herstel in die wêreldwye kerk. Die profesieë is besig om vervul te word. God is besig om die koninkryk onder die heerskappy van Jesus Christus weer op te rig.

Wanneer dit voltooi sal word, weet ons nie. Hoef ons nie te weet nie. Wat ons wel weet en wat wel belangrik is is: God se belofte en sy bevel.

Eers sy belofte: die krag van die Heilige Gees.

Daarna sy bevel: om sy getuies te wees. Die Heilige Gees sorg vir die voortgang van God se koninkryk. Hy alleen kan dit doen. Nie ons nie. Laat ons onsself nie oorskat nie.

Tegelykertyd: die Gees wil wel van mense gebruik maak, eers die apostels en, op die basis van hul getuienis, die Nuwe Testamentiese kerk. Laat ons almal tog die Gees volg en ons tot bruikbare instrumente van die Gees laat maak vir die verbreiding van die evangelie, elkeen volgens sy eie gawes. Sodat die getuienis van Christus gehoor word, naby en verder weg, oor die hele wêreld. Sodat God se regsgeding met die wêreld afgesluit kan word en die volheid van sy koninkryk kan kom.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)