Ware bekering bring vrugte voort.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-04-28
Teks: 
Dordtse Leerreëls 3
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 3,4 Art. 16,17

Ds C Kleyn - Sondag 28 April 2002

Lees:

Efésiërs 4:17-5:21; Dordtse Leerreëls Hoofstuk 3,4 Art. 16,17.
Sing: Ps 96:1,2; Ps 135:1-3; Ps 95:4; Ps 19:4,6,7; Ps 119:4,5.

Tema: Ware bekering bring vrugte voort.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wanneer u u geloofslewe bekyk, hoe sou u dit takseer? By elke kerkvisitasie word vrae gestel soos: sien die kerkraad vrug op die gebruik van die genademiddele? Verder word daar gevra na ’n christelik verantwoorde optrede by die gemeente in sake soos gesinsbeplanning, sosiale en politieke roeping en wêreldse vermaak. Daar word gevra na die beoefening van die gemeenskap van die heiliges en of die gemeente as geheel en die lidmate afsonderlik hulle lig so laat skyn dat die mense hulle goeie werke kan sien en God daarvoor verheerlik? Dis altyd moeilike vrae om te beantwoord. ’n mens kan ’n algemene beeld hê, maar by elke lidmaat is dit weer anders.

Ja, broeders en suster, elkeen sou vir homself ’n antwoord op die vrae moet gee. Hoe is u lewe met God en met God se volk? Floreer u geloofslewe? Word u geloof gekenmerk deur dankbaarheid en blydskap? Is u bly met u God en laat u dit ook blyk? Is dit werklik vir u ’n lus en liefde om in alles volgens die wil van God te lewe? Met ander woorde: Is u geloof ook werklik deel van u lewe, sodat u in die lewe van elke dag, by die huis, by die werk, by die skool of universiteit of waar ook al, die woord van die Here ook uitleef? Ja, laat u u lig so skyn vir die mense sodat hulle u goeie werke kan sien en u Vader wat in die hemele is, verheerlik? Moeilike vrae. Tog belangrike vrae.

Dit het mos alles met bekering uit te waai. Die kat noem die bekering, die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens. En dan word die afsterwing van die ou mens omskryf as: dit is ’n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het en daarom ook hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug. En oor die opstanding van die nuwe mens word gesê: dit is ’n hartlike vreugde in God deur Christus en ’n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe. Is dit wat ons by onsself opmerk. En wat miskien nog belangriker is: is dat wat mense rondom ons opmerk? Sien die mense dit aan ons?

So kom ons terug by die vraag wat ons weke gelede reeds gestel het: is ons ook werklik bekeerd? Wanneer die vrugte nie so sigbaar is nie, beteken dit dat ek dan nie bekeerd is nie? Bekering moet tog blyk uit my belydenis en lewenswandel. Inderdaad. Tog moet ons onthou dat die bekering ’n proses is wat ons hele lewe omvat. Die proses het ’n begin wanneer die Gees begin om ons hart en lewe te vernuwe. Die begin is vir ons dikwels verborge. Maar dit hou nie op sodra ons wedergebore is nie. Die begin is slegs ’n begin en moet nog verder groei, onderhou en versterk word. Daarom kan ’n mens nooit ’n gearriveerde houding aanneem nie. Daarom kan ons nooit maak asof die prediking en die vermanings slegs vir ander mense van toepassing is en nie vir ons bestem is nie. Elkeen van ons het die vermanings nodig, of ek nou bekeerd of onbekeerd is. Nie een van ons kan sonder die middels van genade nie. Dit is wat God steeds gee om die bekering te bewerk en te versterk.

Gemeente, let op die formulering van die DL par 16. Daar lees ons: die genade maak die wil geestelik lewend, genees, verbeter en buig dit tegelykertyd lieflik en kragtig. Dis normaal ’n proses wat hom oor ’n tyd uitstrek. Soos dit gaan met genesing van liggaamlike siekte. God kan skielik genees. Die Here Jesus het dit gewys toe hy op aarde baie wonders en genesings verrig het. Maar dis nie die normale patroon nie. Normaal volg die pasiënt ’n sekere kuur waardeur die herstel geleidelik intree. So is dit meestal met ons wedergeboorte. Ookal kan God skielik ingryp, soos by Paulus, laat Hy dit gewoonlik oor verloop van tyd groei.

As gevolg van die wedergeboorte noem die DL: "Terwyl sondige opstandigheid en verset vroeër volkome oorheers het, begin ’n gewillige en opregte gehoorsaamheid aan die Gees nou die oorhand kry." Ja, vroeër, voor my bekering, het sondige opstandigheid en verset volkome oorheers. Ek wou niks daarvan weet nie. So was elkeen van ons voordat die Gees ons harte sag gemaak het. Maar dit het anders geword.

Maar is dit eintlik wel so? Ook in my eie hart ontdek ek soms nog die sondige opstandigheid en verset. Ek wil die vermanings van die woord liewer nie hoor nie. Wanneer ’n gemeentelid my aanspreek op my woorde of my gedrag, oor die musiek waarna ek luister, oor die kleding wat ek dra, oor die houding wat ek aanneem, dan het ek nog steeds ’n natuurlike verset daarteen. Wanneer ampsdraers my teregwys, dan is daar in my hart opstand daarteen. Ek wil dit liewer nie hoor nie. Ek wil liewer hoor dat ek dit goed gedoen het. Ek wil liewer geprys word. Is ek dan onbekeerd?

Let op die formulering van die DL. Voor die bekering het die sondige opstandigheid en verset volkome oorheers. Is dit nog die geval? Dat dit volkome oorheers? Dat ek bly weier om te luister? Dat ek die sondige opstandigheid en verset koester en dit my houding en gedrag laat domineer. Indien dit die geval is, moet ’n mens inderdaad vra waaruit die bekering blyk, ja, of ek wel bekeerd is. Daarom het ons ook die tug in die kerk. Hulle wat in hul sondes volhard en, na herhaaldelike vermanings, nie van hul dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, word van die nagmaal afgehou en moet uiteindelik uit die gemeente uitgesluit word. Hulle wys nie dat hulle by God behoort nie, en kan slegs weer opgeneem word wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys. Bekering blyk mos hieruit dat ek myself nie meer deur die sondige opstandigheid en verset volkome laat oorheers nie, maar dat ’n gewillige en opregte gehoorsaamheid aan die Gees die oorhand begin kry.

Ja, let op die woorde ‘begin kry.’ Die gewillige en opregte gehoorsaamheid aan die Gees is nog nie volmaak nie. Soos ek reeds gesê het, moet ons dikwels nog ’n weerstand oorwin, wanneer ons deur die Gees vermaan word. Die gehoorsaamheid gaan nie vanself en onmiddellik van harte nie. Ons verkeer nog in ’n strydtoneel. Ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur hou nie op om ons aan te val. In onsself is ons so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie. Maar die Here het sy Heilige Gees gegee sodat ons in die geestelike stryd nie beswyk nie. Daarom sien ons ook dat ’n gewillige en opregte gehoorsaamheid aan die Gees nou die oorhand begin kry. Elke oorwinning, is ’n oorwinning deur die Gees. Deur die Gees word die natuurlike verset gebreek, laat ek dit vaar en onderwerp ek myself aan die wil van God. Die begin is daar. Daarvoor loof ek die Here. Maar dis nog nie die einde nie. Ons is nog nie volmaak in ons gehoorsaamheid aan die Gees nie. Ons het slegs ’n begin van die nuwe gehoorsaamheid.

Gemeente, let maar op wat Paulus skryf in Ef 4:20-24. Kom ons lees dit saam.

"Maar julle het Christus nie so leer ken nie, as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus: dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid."

Paulus skryf hierdie woorde nie vir onbekeerde mense nie, maar vir die heiliges wat in Efese is. Paulus skryf vir mense wat uitverkies is, wat deur genade gered is en deur die Gees vernuwe is. Paulus leer hierdie heiliges om die oue mens af te lê en hulle met die nuwe mens te beklee. Dit is nie take wat die heiliges te Efese reeds voltooi het nie, maar take wat hulle gelas word om te doen. Dis ’n aanhoudende opdrag.

Maar, wat hou die aflê van die oue mens en die bekleding met die nuwe mens in? Paulus vervolg met ’n lys imperatiewe, bevele: "Lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste … Word toornig en moenie sondig nie. … Laat die een wat steel, nie meer steel nie. … Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie …Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. … Wees dan navolgers van God en wandel in liefde …Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse….Moenie dronk word van wyn nie…maar word met die Gees vervul." Almal bevele. Paulus beveel die heiliges in Efese om daaraan te werk dat hulle liefhê, nie steel nie, op hul taal oppas ens ens. Ons verkeer in ’n stryd waarin ons slegs begin om die oorhand te kry. Daarom moet ons daarin volhou. Paulus roep ons dringend op om daaraan te werk dat ons die wil van die Here ook werklik doen.

Broeders en susters, daar is een teks in die geheel van Paulus se vermanings wat opval. Ons lees in hoofstuk 4:30: "En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing."

Paulus skryf vir mense waarvan hy uitgaan dat hulle reeds die Gees ontvang het. Julle is mos deur die Gees verseël tot die dag van verlossing, sê Paulus. God het julle as sy eiendom gemerk, deur julle sy Gees te gee. Dit waarmerk julle as sy kinders. Die Gees is mos die Gees van aanneming tot kinders. Die Gees bewaar julle ook, stel julle veilig met die oog op die groot dag van verlossing.

Tog hoor ons in die teks ’n ernstige waarskuwing. Paulus roep op om die Gees, wat ons tot kinders van God stempel en ons bewaar voor die laaste dag, nie te bedroef nie. Het is opvallend dat die apostel van ‘bedroef’ praat. ’n Mens kan slegs iemand bedroef wat van hom hou. Jy bedroef nie ’n vyand nie. Die woord ‘bedroef’ wys hier op die liefde van die Gees vir God se kinders. Hy is voortdurend met julle besig. Hy wil jul lewe ryk en mooi maak voor God. Wanneer ek nie heilig lewe nie en allerlei sondes tolereer, dan bedroef ek die Heilige Gees. Oor die bedroef van die Gees lees ons ook in die Ou Testament. Israel het nie na God se stem geluister nie. Israel het sy genadebewyse vergeet. Daarin het hulle die Gees, wat sy liefde en sorg vir hulle gewys het, bedroef.

Gemeente, hoe ons die Gees kan bedroef word duidelik uit Ef 4. Die apostel praat van ’n wandel soos die heidene, oor leuen, diefstal, die spreek van vuil woorde, bitterheid, woede, toorn, geskreeu en laster, ens. Die Heilige Gees is die heilige Gees. Hy wil ons heilig maak. Sy werk aan ons is daarop gerig dat ons meer en meer na Christus se beeld vernuwe word.

Wanneer ek egter onheilige, onreine dinge in my lewe toelaat, dan bedroef ek die Heilige Gees. Seker, die Gees het baie geduld. Maar as ek onheilige praktyke vashou, dan kan Hy hom terugtrek. In Jes 63 lees ons daarvan. Die Gees, wat deur Israel bedroef is, het in ’n vyand verander.

Die Heilige Gees het ’n heilige verlange om ons lewe mooi voor God te maak. As ek aan die sonde vashou en met die wêreld meedoen, dan bedroef ek die Gees, dan staan ek sy heerlike werk teen. Dan kry ek met die oordeel van die Gees te make.

Ja, broeders en susters, wanneer my geloofslewe nie floreer nie, wanneer my gebedslewe stagneer, wanneer daar geen blydskap in my hart woon, moet ek myself beproef. Miskien is ek besig om die Heilige Gees te bedroef. Ons weet dat die Gees dit moet doen. En dat dit Gees dit ook wil doen. Maar ons het ook ’n groot verantwoordelikheid. Dis die heilige God wat in ons wil woon. Dan moet ons die sonde, alle onheiligheid ook haat en daarvan wegvlug.

Gemeente, Ef 4: 30 waarsku ons ernstig om nooit agter ons wedergeboorte of bekering te skuil nie. Moenie skuil agter woorde soos: eers bekeerd, altyd bekeerd. God bly onbekeerdes en bekeerdes aanspreek met sy woord. Ook vir die bekeerdes bedien Hy sy skerp tweesnydende swaard. God spreek elkeen van ons aan met sy belofte, bevel en dreiging. Ons het dit almal dringend nodig. Anders gaan ons geestelik dood.

Par 17 van die DL benadruk die noodsaak van gebruik van die middele. Ek lees die eerste gedeelte (p 575).

Ons weet almal dat God in sy voorsienigheid ons lewe onderhou. Tog is dit ook in die reël so dat ek om in lewe te bly ook moet eet en drink. God kan in sy almag dit natuurlik ook anders beskik, soos hy dit vir Moses op die berg gedoen het en vir Jesus in die woestyn. Maar dit is nie die reël nie. En God bind ons aan die reël. Wil jy gesond en wel hier leef en werk, dan moet jy goed eet en drink. Indien jy weier om te eet en te drink, dan sal jy sterf. So geld dit ook vir ons geestelike lewe. Vir die nuwe lewe. God het die evangelie gegee as die middel waardeur die nuwe lewe gewek word, maar ook as middel om die lewe te onderhou, bewaar en versterk. As ek geestelik wil groei, as ek geestelik sterk en vrugbaar wil wees, dan sal ek goed moet eet en drink van hierdie geestelike voedsel en drank. God bind my aan die middele.

So bely ons verder in par 17 (lees p 575,576).

"Die almagtige werking van God, waardeur Hy ons natuurlike lewe skep en onderhou, sluit nie die gebruik uit van die middele waardeur God na sy oneindige wysheid en goedheid hierdie krag van Hom wil uitoefen nie, maar eis juis dat hulle gebruik sal word. Net so sluit bogenoemde bonatuurlike werking van God, waardeur Hy ons weer gebore laat word, volstrek nie die gebruik van die evangelie uit en werp dit ook nie omver nie; inteendeel, die alwyse God het dit tot 'n saad van die wedergeboorte en tot voedsel vir die siel bestem. Die apostels en die leraars wat hulle opgevolg het, het dan ook die mense gelowig oor hierdie genade van God tot sy eer en tot onderdrukking van alle hoogmoed onderrig. Hulle het ook nie nagelaat om die mense ondertussen deur middel van heilige vermanings uit die evangelie onder die bearbeiding van die Woord, van die sakramente en van die kerklike tug te hou nie. Net so moet hulle wat nou in die gemeente onderrig gee, of die wat onderrig ontvang, hulle ook nie aanmatig om God te versoek deur die dinge te skei wat Hy na sy welbehae wou saamvoeg nie. Deur die vermanings word die genade immers gegee, en hoe gewilliger ons ons amp uitoefen, des te heerliker word die weldaad wat God in ons werk, openbaar. So vorder God se werk op die allerbeste manier. Aan dié God alleen kom al die heerlikheid van die middele sowel as van die heilsame vrug en die krag daarvan tot in ewigheid toe. Amen."

Indien die prediking van die woord die middel is wat die Gees vir ons bekering gebruik, dan moet ek myself waar moontlik ook onder die prediking stel. As ek egter slap in my kerkbesoek is, en kies om slegs eenmaal per sondag kerk toe te gaan, terwyl ek tweemaal sou kan gaan, dan kies ek vir vrywillige armoede en swakheid. Dan moet ek nie verras wees as ek ondervoed raak en nie tot die stryd toegerus. My geloof kan daardeur vrugteloos word, ineffektief. Ek bedroef daarmee die Heilige Gees. Hy wil mos die prediking gebruik om my nuwe lewe te onderhou en te versterk.

Dit sal duidelik wees dat dit nie voldoende is om slegs in die kerk te sit nie. Net soos dit nie voldoende is om by die huis aan die tafel te sit, sonder om te eet nie. ’n Mens moet ook eet wat aangebied word. Die gepredikte woord met ’n sagmoedige gees aanneem. Luister na wat die Gees tot die gemeente wil sê. Jou deur die woord laat onderrig, vermaan, vertroos, versterk.

Gemeente, hoewel die kwantiteit van wat ek eet belangrik is, is vir die voeding van my geloof ook die kwaliteit van prediking belangrik. Drie maaltye per dag van ongesonde voedsel gee nie die nodige kragte nie. So is dit ook mbt my geloof, my geestelik groei en wedergeboorte. As ek nie eet nie, sal ek die stryd van die geloof nie oorleef nie. Indien ek kos bly eet wat geen voedings waarde het nie, sal ek die stryd ook nie kan hanteer nie. Daarom is dit so belangrik waar ek kerk toegaan. Ek moet daar wees waar God se woord na waarheid verkondig word. Waar nie slegs die liefde nie, maar ook die bevele en dreiging van God gehoor word. Anders sou ek in slaap gesus word, in ’n valse gerustheid. En die stryd opgee sonder om dit te besef. Daarom is die kerkkeuse van groot belang. Dit wys ook op die groot verantwoordelikheid van die predikante. Wee ons as ons die woord nie reg sny nie. Wee ons as ons mense wil behaag pleks van God.

Ja, ’n Mens wil nie graag vermaan word nie. Maar wat bely ons oor die vermanings in par 17? "Deur die vermanings word die genade immers gegee, en hoe gewilliger ons ons amp uitoefen, des te heerliker word die weldaad wat God in ons werk, openbaar. So vorder God se werk op dit allerbeste manier."

Watter kind wil deur sy vader vermaan word? Tog speel die vermaning ’n belangrike rol in ons opvoeding. So ook in ons geestelike ontwikkeling. Deur die vermanings word die genade gegee. God se woord bevat baie vermanings. Dink aan die voorbeelde wat ons reeds uit Ef 4,5 genoem het. God bly ons aanspreek met sy beloftes, maar ook met sy bevele en dreiging. In ons postmoderne kultuur, met sy nadruk op onafhanklikheid en toleransie, gaan hierdie woord teen die stroom in. Maar ons mag dit nie om hierdie rede nalaat nie. Terwille van u sieleheil nie. Wee ons as ons dit sou nalaat.

Gemeente, in sy woord vertel die Here in duidelike terme waar en hoe ons verkeerd gaan en hoe hy gedien wil word. Die kerk is nie die plek waar ’n mens ‘gemaklik’ kan bly sit nie. Die kerk is die plek waar die swaard van die Gees gehanteer word. En dit maak onrustig, maak seer. Die plek waar God se beloftes en bevele deur die Heilige Gees vir ons sondaars op die hart gebind word. God kom met genade en oordeel. Tot troos vir die ootmoediges. Sodat jy daardeur kan groei en bloei, daardeur sterk kan wees in die stryd van die geloof. Bly en dankbaar vir die Here kan lewe en stry. Maar tot oordeel vir die hoogmoedige wat nie wil luister nie. Wat sy sondige opstandigheid en verset nie wil prysgee nie.

Broeders en susters, Paulus skryf in 2 Kor 5:20: "ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: laat julle met God versoen."

"Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeente sê."

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)