Ons eenheid met Christus in sy dood en lewe.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-05-12
Teks: 
Romeine 6
Preek Inhoud: 

Romeine 6:11

Ds C Kleyn - Sondag 12 Mei 2002

Lees:

Romeine 6:1-14; Romeine 5:1-11 (1ste tafel); Romeine 6:15-23 (2de tafel); Romeine 8:1-11 (3de tafel).
Sing: Ps 18:1; Ps 18:14; Ps 31:15,17; Ps 63:2 (1ste tafel); Ps 63:3 (2de tafel); Ps 63:4 (3de tafel); Ps 92:6; Ps 92:7.

Tema:


Ons eenheid met Christus in sy dood en lewe.

  1. Ons eenheid met Christus se dood – ons legale of juridiese eenheid;
  2. Ons eenheid met Christus se lewe – ons vitale of geestelike eenheid.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Aan die nagmaal hoop ons ons verlossingsfees te vier. Wat die verlossing is
word mooi omskryf in die teks: So moet julle ook reken dat julle wel vir die
sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. In geloof
mag u sê: Ek is vir die sonde dood, maar ook lewend vir God in Christus Jesus.

Wat bedoel Paulus met die woorde: julle is vir die sonde dood? Let daarop dat
dit wys op iets wat reeds gebeur het. Dis nie iets wat ons nog moet doen nie,
maar iets wat reeds plaasgevind het. Elke ware gelowige is dood vir die sonde.
Later noem Paulus dat ons die sonde moet dood maak, maar dit is iets anders as
die dood vir die sonde waaroor Paulus in ons teks praat.

Let ook daarop dat ons vir die sonde dood is deur ons eenheid met Christus.
Daar staan: in Christus Jesus, onse Here. Paulus benadruk herhaaldelik ons
eenheid met Christus. Ons is in Christus se dood gedoop (vers 3). Ons is saam
met Christus begrawe deur die doop in die dood (vers 4). Ons oue mens is saam
met Hom gekruisig (vers 6). In vers 10 sê Paulus dat Christus vir die sonde
eens en vir altyd gesterwe het, terwyl hy in vers 8 sê dat ons met Christus
gesterf het. Daarom kan Paulus in vers 2 sê dat ons die sonde afgesterf het.
Toe Christus vir die sonde gesterf het, het ons ook vir die sonde gesterf.

Gemeente, hierdie eenheid met Christus is een van die belangrikste waarhede
van die Skrif. Hier het u die hart van ons christelike lewe.

Soos Adam in sy sonde ons verteenwoordiger was – wat namens ons opgetree
het, so was Jesus Christus ons verteenwoordiger in sy sondelose lewe en
versoenende dood. Hy het namens ons opgetree, as ons wettige verteenwoordiger.
Vanweë hierdie eenheid tussen Christus en sy volk rus al ons
verantwoordelikhede voor God op Hom en kom al sy verdienste op ons rekening te
staan. Jesus, ons verteenwoordiger, het al die eise van die wet namens ons
vervul. Sy gehoorsaamheid en sy dood as straf vir die oortreding van die wet is
eweseer ons gehoorsaamheid en dood, asof ons God se wet volkome gehoorsaam het
en op die kruis gesterf het. Vanweë ons eenheid met Christus kan u sê: wat
Christus gedoen het, het ek gedoen. Daarom toe Christus vir ons gesterf het, het
ons in Hom gesterf. Toe Hy vir ons gekruisig is, is ons met Hom gekruisig. Dit
is, broeders en susters, die mees opwindende leer van die Skrif.

Maar nou terug na die vraag: wat bedoel Paulus wanneer hy sê dat ons vir die
sonde dood is? Vanweë die sondeval in paradys was ons oorgelewer aan die sonde.
Die sonde het ons lewe opgeëis. Die sonde het geheers in die dood, skryf Paulus
in Rom 5:21. As ’n gevolg daarvan het ons onder die heerskappy van die sonde
gekom.

Om vir die sonde te sterwe beteken om vir die legale eise van die sonde te
sterwe en as gevolg daarvan om vir die heerskappy van die sonde oor ons te
sterwe.

Hoe het ons vir die sonde gesterwe? Deur ons eenheid met Christus. Paulus
skryf in Rom 6:10 dat Christus vir die sonde gesterf het en in vers 8 dat ons
saam met Christus gesterf het. Dat Christus vir die sonde gesterf het, is ’n
verrassende uitspraak. Christus het nie vir die heerskappy van die sonde
gesterwe. Hy was nooit onder sy heerskappy nie. Tog, toe Christus vir ons tot
sonde gemaak is, dws toe Hy met ons sondes belas was, het Hy onder die legale
eise van die sonde gekom en was hy onderworpe aan sy straf.

Toe Christus gesterf het, het Hy vir die juridiese heerskappy van die sonde
gesterf. Die sonde kon niks meer van hom eis nie. Deur ons eenheid met Christus
in sy dood, is ons ook dood vir die juridiese heerskappy van die sonde. Die
sonde kan niks meer teen ons eis nie. Die straf is reeds betaal. As gevolg
daarvan het ons ook gesterf vir die heerskappy van die sonde. Wat ’n groot
verlosser het ons! Hy het ons nie slegs van die straf van die sonde verlos nie,
maar ook van sy heerskappy.

Maar as ons vir die sonde se heerskappy dood is, waarom is daar nog die stryd
teen die sonde in my lewe? Paulus skryf in vers 2: "Ons wat die sonde
afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?" Daarmee praat Paulus nie van
sonde doen nie, maar van voortlewe onder die heerskappy van die sonde. Dit wys
op ’n gevestigde leefwyse. Die ware gelowige kan nie aanhou sondig nie. Ons
leef nie langer onder die heerskappy van die sonde nie. Ons het vir die sonde
afgesterf. Inderdaad, ons doen nog wel sonde. Selfs ons beste werke is met sonde
bevlek. Maar ons houding teenoor die sonde is wesenlik anders as die van ’n
ongelowige. Die sonde is vir ons ’n las wat ons bedroef en nie ’n vreugde
waarin ons ons verheug.

Wat Paulus op die oog het is die breuk met die sonde eens en vir altyd. Die
breuk met die sonde vorm die identiteit van ons as gelowiges. Gelowiges kan
daarom nie in sonde lewe nie, slawe van sonde wees nie. As ek nog onder die
heerskappy en slawerny van die sonde leef, dan is ek nie ’n gelowige nie. Dit
is die beslissende verlossing van die heerskappy van die sonde deur die eenheid
met Christus dat ons bevry van die sorgelose houding van: Sal ons in die sonde
bly, dat die genade meer kan word?

Daar is egter nog meer. Die teks praat ook van ’n lewend wees vir God in
Christus Jesus. Wat beteken dit? Ons het reeds gepraat van ons legale, juridiese
eenheid met Christus. Hy het as ons legale verteenwoordiger namens ons opgetree.
Daar is ook ’n ander aspek aan ons eenheid met Christus. Dit is wat ons die
vitale of geestelike eenheid noem.

Hierdie eenheid is ’n organiese of lewende eenheid van die gelowige met
Jesus Christus. Jesus het ons die beste illustrasie van hierdie organiese
eenheid gegee toe Hy Homself in Joh 15 die ware wynstok genoem het en ons die
lote. Dis duidelik dat die lote aan die wynstok verbind is deur ’n organiese
of lewende eenheid. Op gelyke wyse is gelowiges aan Christus verbind. Soos die
lote in die lewe van die wynstok deel hê, so het ons deel in die lewe van
Christus self. Daarom is dit so belangrik vir Paulus dat ons in Christus is. Dit
is nie slegs ’n teologiese konsep nie. Dis die wese van ons christelik lewe.
Dis baie meer as ’n innige verhouding tussen twee vriende. Dis ons lewe. Ons
leef soos ’n loot wat in die lewe van die wynstok deel hê. Ons leef elke dag
as mense "in Christus."

Broeders en susters, ons is nie slegs in Christus nie, Hy is ook in ons. Hy
woon in ons deur sy Gees. Hy doen dit om ons te vernuwe, om ons meer en meer tot
sy ewebeeld te maak. Hierdie teenwoordigheid van Christus in ons sorg daarvoor
dat ons as gelowiges nie kan voort gaan om in sonde te lewe nie of om
onverskillig teenoor die sonde te wees.

Die juridiese eenheid met Christus waarborg vir ons die geestelike eenheid
waaroor ons nou praat. Christus se dood, sy voldoening aan God se reg, het die
pad geopen vir die heerskappy van genade in ons lewe. So skuif Paulus van ons
regverdiging na ons heiligmaking.

As ’n christen glo ek dat ek deur genade gered is. Verlossing omvat redding
van die straf op die sonde en bevryding van die heerskappy van die sonde. Dit
lei weer na die vernuwing van ons lewe. Ons juridiese eenheid met Christus in sy
dood en opstanding verseker ons geestelike eenheid met Hom. Deur die geestelike
eenheid ontvang ons die krag om die christelike lewe te lei.

In Rom 6:11-13 sien u hoe Paulus dieselfde uitdrukking beide in die
indikatief en in die imperatief gebruik. Paulus het netnou verklaar dat ons vir
die heerskappy van die sonde afgesterf het. Maar in vers 12 roep hy ons op: Laat
die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers nie.

’n Mens sou kan vra: as ons dood is vir die heerskappy van die sonde waarom
moet ons dan nog opgeroep word om die sonde nie in ons te laat heers nie? Paulus
sê hier feitelik: Wys die werklikheid van die evangelie in jou lewe, leef uit
die genade wat God gee.

In vers 11 skryf Paulus: reken dat julle vir die sonde dood is, maar lewend
vir God in Christus Jesus. Eintlik is vers 11 ’n imperatief, maar dit is ’n
oproep om iets te glo, nie om iets te doen nie. Jy moet daarmee reken of dit glo
dat jy feitelik vir die sonde gesterf het. Ja, jy moet ook glo dat jy lewend is
vir God in Christus Jesus, deur jou eenheid met Hom. Die geloof in hierdie
werklikheid gee u moed om die sonde nie in u lewe te laat heers nie. Dit gee ook
die krag van Christus se Gees om die sonde te weerstaan.

Is dit, broeders en susters, nie waaroor die heilige nagmaal gaan nie? Vier
aan die tafel u juridiese en geestelike eenheid met Christus. Vier daar u
verlossing, u regverdiging en heiligmaking. Die vergewing van u sondes deur
Christus sy bloed en die vernuwing van u lewe deur Christus se Gees.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)