Die daaglikse sondes van swakheid preek.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-05-12
Teks: 
Dordtse Leerreëls 5
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 5 Art. 1 & 2

Ds C Kleyn - Sondag 12 Mei 2002

Lees:

Romeine 7:14-26; Dordtse Leerreëls Hoofstuk 5 Art. 1 & 2.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 111:1,2; Ps 111:5; Ps 19:6,7; Ps 139:1,12.

Tema:

Die daaglikse sondes van swakheid preek.

  1. die werklikheid van die daaglikse sondes in die lewe van die gelowiges; en
  2. die uitwerking van die daaglikse sondes op die gelowige.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Aan die tafel van die Here mog ons ons verlossing in Christus vier. Ons mog
geniet van Christus en al sy weldade. Wat is God tog goed vir ons! Ons mog aan
die tafel bely dat ons vir die sonde dood is, en lewend vir God in Christus
Jesus. Ons mog ons nuwe status, ons nuwe identiteit as Christene ervaar. Ons het
oorgegaan van die magsgebied van die sonde na die magsgebied van Christus.
Christus het ons verlos van die heerskappy en slawerny van die sonde. Ons is
reeds mense van die nuwe lewe.

Dit klink so mooi, amper te mooi om waar te wees. Is dit nie veel te
idealisties nie? Staan ons nog wel met ons beide voete op die grond wanneer ons
so oor onsself oordeel? Is dit wel reëel? Dit klink amper asof ons heeltemal
van die sonde bevry is, asof ons niks meer met die sonde te doen het nie. Wat
dan van die sonde in my lewe? As ek eerlik is dan moet ek bely: Die sonde is
allermins dood in my lewe. Die sonde is nog vol lewe. Tot my skande ervaar ek
dit nog elke dag.

Broeders en susters, let daarop Paulus het ook nie gesê het dat die sonde
dood is nie. Hy roep ons juis op om teen die sonde te bly stry. Om te sorg dat
die sonde nie in ons sterflike liggaam heers nie. Paulus erken dat die sonde nog
vol lewe is. Wat Hy gesê het in vers 11 was dat ons vir die sonde dood is. Dis
’n groot verskil. In Christus Jesus, in verbondenheid aan Hom, kan die sonde
geen regterlike aanspraak op my lewe meer maak nie. Christus het met die sonde
afgereken. Hy het betaal. Maar die sonde leef nog voort en bly my bestry. En as
gevolg daarvan is daar by my nog steeds die daaglikse sondes van swakheid.
Vanaand wil ek oor die daaglikse sondes van swakheid preek.

Ons let op twee dinge. Eerstens die werklikheid van die daaglikse sondes in
die lewe van die gelowiges en tweedens die uitwerking van die daaglikse sondes
op die gelowige.

Ons belydenis sê dat God ons wel verlos van die heerskappy en slawerny van
die sonde, maar dat Hy ons in hierdie lewe nie heeltemal van ons sondige natuur
en bestaan verlos nie. Dis ’n nugter konstatering. So beleef ons dit tog. Daar
word ’n duidelike onderskeid gemaak tussen die heerskappy van die sonde en ons
sondige natuur en bestaan. Die mag van die sonde is wel gebreek, maar ons leef
nog in ’n sondige wêreld, waarin sondige kragte werksaam is. En niemand is
daar immuun voor. Daarom bely ons dat God ons in hierdie lewe nie heeltemal
verlos nie.

Kyk maar na die skrifgedeelte wat ons gelees het. In Rom 6 het Paulus geskryf
dat ons dood vir die sonde is, vrygemaak van die sonde, nie langer diensknegte
van die sonde. Tog gaan hy aan in Rom 7 en skryf hy: maar ek is vleeslik,
verkoop onder die sonde. Vleeslik wil sê swak en sondig. Paulus en elkeen van
ons is nog swak en sondig. "Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil,
dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek." Die apostel verwoord die
frustrasie van die christen wat van die heerskappy van die sonde bevry is. Ek
wil nie weer sondig nie, tog bly die sonde ’n werklikheid. Ek kan nie doen wat
ek wil nie. "Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde
wat in my woon." Die sonde bly vir my ’n vyand waarmee ek moet stry. Want
ek is nog nie volmaak nie. In vers 23 gaan Paulus aan en praat van die stryd wat
die gelowige binne in homself stry. "Maar ek sien ’n ander wet in my lede
wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van
die sonde wat in my lede is." Daarom roep Paulus uit: Ek, ellendige mens!
Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Gelukkig is die verlossing
van die liggaam van die dood gewaarborg deur Jesus Christus. Daarom vervolg
Paulus: "Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! So dien ek self dan
wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die
sonde."

Gemeente, wanneer die DL praat van ons sondige natuur en bestaan, waarvan God
ons nou nog nie heeltemal verlos nie, dan is dit ’n verwysing na hierdie
gedeelte van Rom 7. In die oorspronklike teks word ook letterlik gepraat van ons
sondige vlees en liggaam. Die sonde werk nog in ons vlees en liggaam. So selfs
dat die lyk asof ons vlees en ons liggaam deur die sonde beheers word. Maar die
vlees en liggaam is die gebied waarop die sonde opereer. En ons swak deur die
sonde geskonde liggaam is vatbaar vir die verleiding tot sonde.

Die sonde is geen oorwonne stadium in die lewe van die christen nie. Die
sonde is en bly ’n werklikheid. Ons word steeds weer met die verleiding tot
sonde gekonfronteer. Dit woel in ons menslike hart, in ons denke, in ons woorde
en kom soms ook tot uiting in ons dade. Al die lede van ons liggaam word
aangeval. Ons oë en ore, hande en voete, emosies en verstand ens. Dit is die
werklikheid. Nee, geen oorheersende werklikheid nie. Geen werklikheid waarvoor
geen vergewing sou wees nie. Maar wel ’n werklikheid wat elke christen tydens
hierdie lewe diep raak.

Daar is mense wat anders hieroor dink. Mense wat vind dat jy die verlossing
te kort doen as jy sê: ons is en bly sondaars. Ja, daarmee sou jy God te kort
doen. Ons sou eerder moet benadruk: nou geen sondaar meer nie.

Gemeente, wanneer ons dink aan ons regsposisie voor God dan sou ons met reg
so kan praat. Die Here sien my as ’n gelowige, nie meer as ’n sondaar aan
nie, maar as ’n geregverdigde, wat reg staan teenoor God: vrygespreek van
skuld en straf. Luther het dit so geformuleer: die gelowige is tegelykertyd
geregverdig en sondaar. Regtens geen sondaar meer nie, maar prakties wel ’n
sondaar. My status is die van ’n kind van God wat vrygespreek is. Maar my
stand – my daaglikse gesteldheid – is die van ’n sondaar.

As gelowige leef ek nie in die sonde nie en is ek nie daarin in my element
nie, maar ek val wel telkens in die sonde. Dit kan in my lewe baie stryd gee.
Maar kenmerkend is altyd weer: as ’n gelowige kan ek dit in die sonde nie
uithou nie. Ek het geen vreugde in die sonde nie, want daar is altyd weer die
skaduwee: dit kan nie, dit mag nie, dis nie goed nie. Hoe sou ek die sonde met
vreugde kan doen, as dit vir Christus sy lewe gekos het? As gelowige kry ek na
korter of langer tyd dan ook altyd berou oor die sonde. Dit is slegte tye vir my
wanneer ek herinner word aan die oorblywende sonde in my lewe.

Die christelike lewe is ’n lewe van verlossing. Dit beteken: die sonde het
geen heersende en bindende mag meer in die lewe nie. Ek weet dat ek geroep is
tot ’n heilige lewe. Ek haat die sonde. Maar die sonde is nog steeds daar. Die
verlossing is iets wat daar reeds is en wat nog moet kom. In beginsel is ek
reeds verlos maar ek sal eenmaal volkome verlos word.

Gemeente, die bybel gee ’n baie realistiese beeld van die heiliges. Hulle
was geen sondelose mense nie. Dink maar aan die geskiedenis van Abraham, Jakob,
Simson, Dawid en Petrus. Hul sonde word eerlik genoem. Paulus wat so kragdadig
deur God bekeer is, sê van homself: as ek die goeie wil doen is die kwaad by my
aanwesig (Rom 7:19). Paulus teken homself ook as iemand wat na die volmaaktheid
jaag in die besef dat hy dit nog nie verkry het nie, hoewel hy reeds deur
Christus gegryp is (Fil 3:12).

Ervaar u dit ook nie so in u lewe nie? Hoe dikwels val ek nie myself teen
nie? Soms kan ons baie ontmoedig wees en sug: het my lewe eintlik wel verander?
Is God nog wel met my besig? Ons kan soms so opstandig wees teen God se leiding
in ons lewe, die pad wat Hy met ons volg. Ons kan soms so liefdeloos wees,
onvriendelik, ongevoelig en ongeduldig. Daar het ons weer die nare karakter
trekke wat openbaar word. Die selfsug, die hoogmoed, die negativisme. Wat van
die sondige begeertes, die sondige blik, die drang om dinge te lees of te hoor
of te sien waarvan ek weet dat dit my gees sal besoedel. Ja selfs my allerbeste
werke is nog gebrekkig. Wat van my gebede, my bybellees, my kerkgang, my viering
van die nagmaal, my luister na die preek, my sing, my gee van offergawes. Moet
ons nie met Paulus konkludeer: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my
aanwesig?

Gemeente, watter uitwerking het die daaglikse sondes van swakheid op U as
gelowige? Ons wil hierop let in die tweede punt: die uitwerking van die
daaglikse sondes op die gelowige.

Ons belydenis noem as eerste verootmoediging. Daarom moet die heiliges hulle
voortdurend voor God verootmoedig. Dit is die gepaste reaksie van ’n gelowige
wat sy daagliks sondes sien. Verootmoediging, dit staan teenoor hoogmoed. Om jou
te verootmoedig is om klein te word, om klein van jouself te dink. Jy herken jou
eie swakheid en sonde. Dit maak ’n mens klein. Daardeur laat ek al my
grootspraak wel na. Wie is ek om my te verhef? Ek is slegs ’n smekeling voor
God, ’n swak en sondige mensekind, volkome afhanklik van God se genade. Van
dag tot dag, ja van uur tot uur.

Ek moet my voortdurend voor God verootmoedig. Ja, voor God. Ek het in die
eerste plek met die lewende God te doen. Wanneer ek in myself teleurgestel is
vanweë my sonde, dan mag en moet ek na God gaan. Hoe kleiner ek in eie oog
word, des te groter word God se genade vir my. Ek is klein, God hou my klein.
Sodat ek in Hom ryk kan wees.

Hoe groot is God dat Hy die kwaad van die daaglikse sondes ten goede laat
meewerk. Dit word tot sy verheerliking gebruik. Deur ons nie nou reeds heeltemal
van die mag van die sonde te bevry nie, hou God ons klein. Anders sou ons dalk
onsself gaan verhef, hoogmoedig wees. En daar is niks minder wat by genade pas
as hoogmoed. God wil ons daarvoor bewaar. Wanneer ek deur swakheid in sonde val,
dan leer ek die hoogmoed af. Dan moet ek my wel verootmoedig. Ware selfkennis
kan nie anders as tot ware verootmoediging voor God en voor ander lei. Ek weet
en sien mos dat ek uit myself niks beter as die ander is nie.

As tweede uitwerking van die daaglikse sondes noem ons belydenis dat ons ons
toevlug tot die gekruisigde Christus neem. Alweer wins. Die duiwel dink dat hy
baie slim is deur die uitverkorenes tot sonde te verlei. Hy behaal ook behoorlik
wat wins. Hy besorg die kinders van God en God self baie verdriet. En tog, teen
sy bedoeling in, dryf hy ons daardeur weer na die gekruisigde Christus toe. Met
my sonde en skuld neem ek steeds weer my toevlug tot Christus en sy soenoffer
aan die kruis. Ek kan geen oomblik sonder Hom nie. Deur my daaglikse sonde besef
ek des te skerper hoe onmisbaar en dierbaar Hy is. Ek verlang na die vergewing
van sondes en die lewe in Hom. Ek verlang na Hom die gekruisigde.

Ja, juis my sondes dryf my weer na die kruis toe. Die kruis bly die groot oriëntasie
punt tot die einde van ons lewe. Daarom vier ons steeds weer die heilige Nagmaal
om, in die stryd teen die sonde, van Christus verlossingswerk verseker te wees.
Hy is en bly die enigste grond van ons heil. Dit is God se wyse leiding om ons
dit in die praktyk van ons lewe steeds weer te leer. Deur middel van ons
daaglikse sondes.

Dit beteken egter nie, broeders en susters, dat ons die sondes nou moet gaan
verhef nie, asof ons maar moet aangaan om te sondig om des te meer ons te kan
verootmoedig en tot Christus te vlug. Sal ons in die sonde bly, dat die genade
meer kan word? Nee, stellig nie, sê Paulus. Ons wat die sonde afgesterf het,
hoe kan ons nog daarin lewe? Dis onmoontlik. Ook al gebruik God self die sonde
ten goede, daarom is en bly die sonde iets verskrikliks en skuld voor God.
Moenie ooit ligvaardig oor die sonde dink nie. Daarmee skend ons die
allerhoogste majesteit van God. Die feit dat God die kwaad ten goede laat
meewerk, maak die kwaad nog nie goed nie.

Daarom vervolg ons belydenis dat ons die sondige natuur hoe langer hoe meer
moet doodmaak deur die Gees van die gebed en heilige geloofshandelinge. Ek moet
die sondige natuur doodmaak. Dis my oue bestaan. Wat ek in Christus is en het
moet in praktyk gebring word. Deurdat ek hoe langer hoe meer nee teen die sonde
sê en ja vir God. Die sonde haat en daarvan wegvlug. En God se wil najaag.

Ons kan dit nie self nie. Ons doen dit nie uit onsself nie, ook al is ons
self wel daarby betrokke. Dit kan slegs deur die Gees. Daarom word die Gees van
die gebed genoem. Die Gees leer my om te bid en laat my bid. Die Gees bewerk die
afsterwing van die sondige natuur. Dink aan die verklaring van die 6e bede in
die HK. "En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.
Dit is: Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie.
Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur
nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees
staande hou en versterk sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in
hierdie geestelike stryd nie beswyk nie totdat ons eindelik die oorwinning ten
volle behaal." Let op die woorde: wil ons tog deur die krag van u Heilige
Gees staande hou en versterk.

Naas die Gees van die gebed noem die DL die heilige geloofshandelinge. Die
Gees laat ons nie passief nie. Die Gees sit ons ook juis aan die werk. Sodat ons
ons geloof uitleef. Daarby behoort dat ons opsetlik die Skrifte lees en oordink
en daarna lewe. Geestelike oefeninge. Neem ons wel genoeg tyd daarvoor? Tyd om
oor God, sy woord en sy wil na te dink? En om dit prakties toe te pas in die
lewe van elke dag? ’n Mens kan dit vergelyk met asemhalingsoefeninge. Ons moet
so te sê die Gees van God bly inasem. So alleen kan ons groei in ons
heiligmaking. Hoe besiger ons is, des te meer rede is daar vir die geestelike
oefeninge.

Waarom sou daar dikwels so min van ons as christene uitgaan? Kan dit wees
omdat ons te min met die geestelike oefeninge besig is? Sonder die oefeninge bly
al ons bedrywigheid diens aan die vlees en nie diens aan God nie. Onvrugbaar in
God se koninkryk. Neem u nog wel die tyd vir gebed en besinning aan die hand van
die Skrif? Plaas u u lewe nog onder God se soeklig? Weet u waar u sonde lê en
waar die openinge vir die sonde is, waardeur die sonde in u lewe binnekom? Deur
geestelike oefeninge kom daar die geestelike groei en word u geestelik sterker.

Gemeente, daar is ook nog ’n vierde uitwerking van die daaglikse sondes op
ons lewe. Dit spoor ons aan om vurig na die bereiking van die volmaaktheid te
verlang. Soos Paulus dit verwoord in Fil 3:12: "Nie dat ek dit al verkry
het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek
ook deur Christus Jesus gegryp is." Ek sien daar die begin van my
verlossing. Christus Jesus het my deur sy Gees gegryp. Hy het oorwin. Maar ek
lei nog voortdurend die nederlae in my stryd teen die sonde. Ek is nog nie
volmaak nie. Daar is nog die sonde in my eie lewe en in die wêreld. Dit laat my
met des te meer krag uitsien na die groot dag van Christus.

Dit is dan ook die verlange waarmee die bybel eindig en waarmee ons
nagmaalsformulier eindig. Die ervaring van die sonde en sy gevolge in ons eie
lewe laat ons met die bruidsgemeente uitroep: Kom, Here Jesus, kom gou. Of soos
die nagmaalsformulier dit sê: Ons sien met groot verlange uit na sy verskyning
in heerlikheid, na die bruilofsmaal van die Lam, wanneer Hy die wyn saam met ons
sal drink in die koninkryk van sy Vader. Dan sal die stryd verby wees. En die
verlossing volkome. Wie sou nie daarna verlang nie? En hom nie daarop voorberei
nie? Wie die begin geproe het, verlang na meer, na die voltooiing daarvan. Die
verlange gee krag, vreugde en volharding in die stryd van die geloof. Christus
is reeds besig om my van die sonde te bevry en Hy sal dit voltooi. Deur stryd na
die volkome oorwinning.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)