Die verhoogde Christus kondig die uitstorting van sy Gees aan deur die tekens van wind en vuur.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-05-19
Teks: 
Handelinge 2
Preek Inhoud: 

Handelinge 2:2,3

Ds C Kleyn - Sondag 19 Mei 2002

Lees:

Handelinge 2:1-21; 32-36.
Sing: Ps 81:1,2; Ps 15:1-3; Ps 118:11,12; SB 13:1-5; Ps 118:13,14.

Tema: Die verhoogde Christus kondig die uitstorting van sy Gees aan
deur die tekens van wind en vuur.

  1. Die tekens wys op ’n Goddelike verskyning.
  2. Die tekens spreek van Goddelike toerusting.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat beteken die Pinksterfees vir ons? Die Pinksterfees is ’n fees van die
volheid. Die sleutelwoord is vervul wees. Almal is met die Heilige Gees vervul.
Die kerk kry nie in baie klein hoeveelhede nie. Die gelowiges word vervul. Hulle
raak heeltemal vol van die Heilige Gees. Ons kan rustig praat van oorvloed. Dit
loop so te sê aan alle kante oor. So moet die hele wêreld tot volheid gebring
word. Pinkster is die fees van Christus se volle sorg vir sy kerk met die oog op
die redding van die wêreld.

Die Jode het die fees as ’n oesfees gevier. Die hele oes is nou binne. Eers
was daar die gars oes. Daarna die tarweoes. Alles is nou van die land af. Gemaai
en gedors, kant en klaar. Pinksterfees is ’n dankfees vir alles wat die Here
vir hulle gegee het. ’n Deel van die eindproduk, twee tarwe brode is by die
fees aan die Here aangebied.

Die oesfees is ook genoem die fees van die weke of die fees van die 50ste
dag. Die fees word vanaf die Paasfees gedateer. Sonder Pasga sou daar geen
Pinkster wees nie. Presies 50 dae na die Paasfees breek die Pinksterfees aan.
Die dae daartussen is presies 7 maal 7 dae. Die tussenliggende periode word dus
deur die getal 7 bepaal, die getal van die volheid. Mens sou kan sê dat Pasga
met Pinkster tot sy volheid kom.

 

Dit geld ook vir ons Pinksterfees. Pase word daarin vervul, tot sy volheid
gebring. Met Pase het Christus uit die dood opgestaan. Nadat Hy Homself as ’n
Paaslam laat slag het tot versoening van ons sondes. Pase was die oorwinning oor
die sonde en die dood. Die regs- en lewensherstel vir u en my. Maar daarby het
dit nie gebly nie. Presies 7 maal 7 dae later giet Christus sy hemelse gawes
uit. Om die krag van sy opstanding te laat deurwerk in ons lewens. Pinksterfees,
dit is Christus se volle sorg vir die lewe van sy kerk. Die skatte van Christus
word ryklik uitgedeel en toegepas. Die werk van Christus kom so tot sy
hoogtepunt.

Wanneer die 50ste dag na Pase aanbreek, is Christus se volgelinge bymekaar.
Waar hulle byeen is weet ons nie presies nie. Ook nie hoeveel volgelinge daar
bymekaar is nie. Dit word nie uitdruklik genoem nie. In die vorige hoofstuk lees
ons wel van ’n groep van ongeveer 120 persone. Die volgelinge van Christus is
vergader rondom die apostels. Hulle leef in gespanne verwagting. Voor sy
hemelvaart het Christus hulle immers opgedra om te wag op die belofte van die
Vader. Hulle wag op die doop met die Heilige Gees.

En juis op die fees van die weke gebeur dit. Die Heilige Gees word op alle
aanwesiges uitgestort. Almal word met die Heilige Gees vervul. Die koms van die
Heilige Gees word met duidelike tekens aangekondig. Skielik kom daar uit die
hemel ’n geluid soos van ’n geweldige rukwind. Dit vul die hele huis waar
hulle sit. Bowendien verdeel tonge soos van vuur hulleself oor die aanwesiges.
Iets soos wind en vuur word verneem. Die Pinkster Gees kondig homself aan. En as
vrug van sy koms gaan die mense in ander tale spreek. Elkeen hoor hulle in sy
eie taal oor die groot dade van die Here spreek.

Vanoggend wil ek veral die aandag vestig op die tekens waarmee die koms van
die HG aangekondig word. Ek vat die teks as volg saam: die verhoogde Christus
kondig die uitstorting van sy Gees aan deur die tekens van wind en vuur.

  1. Die tekens wys op ’n Goddelike verskyning.
  2. Die tekens spreek van Goddelike toerusting.

Wat kan dit tog wees? vra mense op die Pinkstermore. Hulle is verbyster en
met die saak verleë. Hulle begryp niks daarvan nie. In sy prediking gee Petrus
antwoord op hul vraag. Die antwoord lig ook ons in oor die merkwaardige tekens.
Luister maar na Petrus. "Nadat Hy (dis Jesus Christus) dan deur die
regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees
ontvang het, het Hy dit uitgestort, wat julle nou sien en hoor." Vers 33.

Ons weet nou presies wat daar gebeur het. Die verhoogde Christus het oor die
Heilige Gees beskikking gekry en het dit uitgestort. Hier het u ’n bewys
daarvan dat Jesus Here en Christus is. "Laat dan die hele huis van Israel
sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle
gekruisig het." (vs 36).

Pinksterfees is dus die fees van die verhoogde Christus. Dit is Hy wat hier
aktief optree. Hy het na die hemel opgevaar en gaan sit aan die regterhand van
die Vader. As hoof van sy Christelike kerk, deur wie die Vader alles regeer.
Vanuit die hemel gaan hy nou met sy werk voort. Om die eindes van die aarde tot
sy besit te maak. Op die pinksterdag lui Hy sy groot offensief in. Hy doen dit
met tekens. Soos Hy alle besondere heilsfeite met tekens aangekondig het.

Dis egter opvallend dat die tekens van Pinkster nie deur engele verklaar hoef
te word nie. Dit het wel met Kersfees, Pase en hemelvaart gebeur. Engele is toe
uitgestuur om die gebeure te verklaar. Met Pinkster is dit nie meer nodig nie.
God skakel mense self in. Juis deur die Pinkstergebeure stel Hy hulle daartoe in
staat. Ons sien daarin ’n groot vooruitgang in die heilsgeskiedenis. God se
volk word self mondig gemaak. Deur die Pinkstergees. Nou kan en mag hulle self
profeteer, sonder die tussenkoms van engele nodig te hê. Die engele, God se
knegte, mag nou swyg. God se kinders, sy seuns en dogters, gaan nou self spreek.

Die koms van die Gees word in die eerste plek gewys deur ’n geluid. Dit is
geen gewone geluid nie. Geen geluid van die aarde nie. Daar word uitdruklik
vermeld dat die geluid uit die hemel kom. Dit kom daar vandaan waar Jesus
Christus na toegegaan het. Christus laat uit die hemel van homself hoor. Die
geluid kan nie presies omskryf word nie. Dit is ’n geluid soos van ’n
geweldige rukwind. Dit lyk daarop. Die hemelse geluid kan slegs by benadering
omskryf word.

Vir hulle wat by die Skrifte leef, spreek die teken ’n duidelike taal. Hoe
was dit by die verskynings van die Here in die verlede? Het die Here toe ook nie
dergelike tekens gegee nie? Wanneer die Here by die berg Horeb aan Elia verskyn,
dan is daar eers ’n groot en sterk wind wat Elia hoor. Na die wind is daar
’n aardbewing en na die aardbewing is daar ’n vuur (1 Kon 19:11,12). Wanneer
Esegiël die gesig van die hemelse troon beskryf dan begin hy so: "Toe het
ek gekyk – en daar het ’n stormwind uit die noorde gekom, ’n groot wolk
met onophoudelike vuur; en ’n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die
vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter" (Es 1:4). In Ps 50 lees ons
dat die Here in ligglans verskyn. Daar lees ons: "vuur verteer voor sy
aangesig, en rondom Hom storm dit geweldig" (Ps 50:3).

In hierdie voorbeelde word beide tekens van Pinkster uitdruklik genoem: wind
en vuur. Tekens van die verskyning van die Here God. Tekens van God se
heerlikheid en heiligheid, van sy mag en majesteit. Ons lees ook dikwels van die
goddelike vuur. Dink maar aan die brandende doringbos en aan die verskyning van
die Here aan sy volk op die berg Sinai. "En die berg het met vuur gebrand
… en die Here het met julle uit die vuur gespreek." (Deut 4:11,12).

Op die Pinksterdag is daar ’n geluid soos van ’n geweldige stormwind en
daar is tonge soos van vuur. Wind en vuur, tekens van die verskyning van die
Here. Die Here laat daardeur hoor en sien dat Hy na ons mense neerdaal. So
getuig die tekens van ’n goddelike verskyning.

God verskyn in heerlikheid. Wat ’n verskil met God se verskyning by die
Sinai. Toe moes die volk juis of ’n afstand bly, weg van die Here vandaan. Sou
iemand te naby die berg kom, dan sou die heerlikheid van die Here hom verteer
het. Die wind sou jou weggeblaas het en die vuur jou verteer het. God is mos
’n verterende vuur. Maar wat sien ons met Pinkster gebeur? God verskyn in sy
heerlikheid, maar Hy hou sy volk nie op ’n afstand nie. Inteendeel! Hy kom na
gemeente toe, en daal selfs op hul neer. Hy kom woon by hulle. Sonder dat iemand
weggeblaas of verteer word. God se volk word van nou af aan die tempel van die
lewende God. Besef u nog wel wat dit beteken? Dat God self hier in u midde wil
woon deur sy Gees? Dis die voorreg van ons as Nuwe Testamentiese kerk.

Ons het dus gesien dat die tekens van wind en vuur wys op ’n goddelike
verskyning Nou wil ons daarop in die tweede plek let dat die tekens spreek van
goddelike toerusting.

Die tekens spreek nie slegs van die heerlikheid van die Here nie, maar ook
van die Heilige Gees. Eintlik kan jy die twee saamtrek. Die Here wil mos in sy
Gees onder sy volk woon. Ons het te doen met die verskyning van die Heilige
Gees. Op hierdie manier kom Christus na ons toe en bly Hy by ons. Soos Hy belowe
het. Hy laat ons nie as wese agter nie. Hy stuur die Trooster vir ons.

In die bybelse taal kan die woorde wind en gees met dieselfde woord weergegee
word. Uit die verband moet dan duidelik word of daar oor die Gees of oor wind
gepraat word. In ons teks gebruik Lukas ’n ander woord vir wind sodat
oorduidelik kan wees dat hy in vers 2 nie oor die Gees self praat nie, maar oor
’n rukwind. Dit moet duidelik wees dat dit hier gaan oor ’n teken van die
Heilige Gees en nie oor die Heilige Gees self nie. Eers in vers 4 sal letterlik
oor die koms van die Gees gepraat word.

Die teken spreek dus van die Heilige Gees. Wind en Gees word aan mekaar
verbind. Soos ook blyk uit die gesprek van Jesus met Nikodemus. Daar sê Jesus:
"Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar
hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is."
(Joh 3:8). So maak op Pinkster die geluid soos van ’n geweldige rukwind die
aanwesigheid van die Heilige Gees kenbaar.

Dieselfde geld vir die vuur. Joh die doper het gesê: Ek doop julle wel met
water, maar Hy kom wat sterker is as Ek, wie se skoenriem Ek nie waardig is om
los te maak nie – Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Hier
word die Heilige Gees en vuur nou met mekaar verbind. Die werk van die Heilige
Gees word deur vuur nader omskryf. Wat is mos die funksie van vuur? Tog om dinge
te verbrand. Om minerale te smelt sodat die onsuiwere bestanddele verwyder kan
word. Vuur reinig deur verbranding. So moet die Heilige Gees ons reinig. Die
Gees moet alle onsuiwere bestanddele, ons sondes wegbrand, sodat ons as
gelowiges gelouter voor die Here kan verskyn. Aan die ander kant word hulle wat
hulle nie bekeer nie deur die vuur verteer. Vir hulle is God ’n verterende
vuur.

Met Pinkster verskyn die goddelike vuur in die vorme van tonge wat hulleself
verdeel. Ons kan hier die beste dink aan vlamme wat die vorm van tonge aanneem.
Die tonge versprei hulleself en gaan op elkeen van die aanwesiges sit. So word
elkeen gedoop met die vuur van die pinkstertonge. Die baie aktiewe tonge rus op
elkeen van hulle. Wat wil die Here daarmee sê?

Die verhoogde Christus wil sy volgelinge bekragtig, toerus tot hul taak. Voor
sy heengaan het Christus die program van die Pinksterbedeling deurgegee. Die
evangelie moet na die eindes van die aarde toe. Daarom moet die tonge loskom.
Die tonge moet die groot dade van God aan die hele skepping verkondig. Die
Pinksterbedeling is juis die bedeling van die verbreiding van die evangelie.

Maar om dit te kan doen moet die tonge eers losgemaak word. Ons is mos van
nature onrein van lippe. Hoe dikwels het die Here sy volk nie gewys op die sonde
van die tong nie. Die tong speel ’n belangrike rol in die geskiedenis. Die
vader van die leuen vind in die tong ’n kragtige wapen. Hy neem die tong in sy
diens om God se werk af te breek. Jakobus noem die tong ’n vuur, die wêreld
van ongeregtigheid. Dit word uit die hel aangesteek. Dit is ’n onbedwingbare
kwaad, vol dodelike gif.

Wel, om die tong in diens van Christus te kry, moet daar heel wat gebeur. Die
onreine tong moet geheilig word. Die tong wat uit die hel aangesteek word, wat
vol dodelike gif is, moet nou uit die hemel aangesteek word. Dit moet nou in
diens van God kom te staan. Ons sien die met Pinkster gebeur. Daar word tonge
soos van vuur gesien. Die mense word aangesteek deur die hemelse vuur en gaan in
ander tale spreek.

Die vuur uit die hemel verteer hulle nie. Net soos die vuur in die brandende
doringbos die bos nie verteer het nie. Die Here kom nie om sy kerk te oordeel
nie, maar om ons te bekwaam. Hy wil by ons woon. Hy verleen die nodige kragte.
Hy stel in staat om te doen wat die tonge soos van vuur uitbeeld. Die tonge van
die gelowiges kom los oor die groot werke van God Hulle word almal met die
Heilige Gees vervul en begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee
het om uit die spreek.

Hulle spraak wys hulle as dissipels van Jesus Christus. Die krag van omhoog
word in hulle openbaar. Dis geen onsinnige, onverstaanbare klanke nie. Hulle
praat in die alledaagse taal wat Jode en Jodegenote praat. Hulle spreek die taal
van die Skrifte, die boodskap van Moses, die profete en die psalms. Hoor Petrus
eers preek. Hy open die Skrifte, die Skrifte wat van Christus getuig. Die
Pinkstergees skenk hom diepe insig in die Skrifte, in die messiaanse karakter
van die Skrifte. Die gees gee hom vrymoedigheid. Hy kan nou die groot dade van
die Here verkondig, die werke wat Hy in die lewe en dood van Jesus die Nasarener
verrig het. Dis woorde wat nou soos ’n vuur die wêreld in moet gaan. Om te
louter en om te verbrand; tot lewe of tot die dood.

Op die Pinkstermore word duidelik dat die evangelie vir alle tale bestem is.
Elkeen hoor die dissipels praat in sy eie taal. Die spraakverwarring van Babel
word vir ’n oomblik opgehef. God soek weer die eenheid van sy hele skepping.
Hy wil die wêreld verenig rondom die boodskap van Christus se apostels. Hy
beperk hom nie langer tot een uitverkore nasie nie. Hy gaan so te sê terug
agter Babel en werk heen na die groot skare uit alle volke en tale. Die groot
dade van God moet vir mense uit alle tale verkondig word. Dis vir die wêreld
bestem.

Die verhoogde Christus het sinds daardie tyd verder met sy werk gegaan. Van
land tot land. Wat Hy met Pinkster op gang gebring het, gaan nog steeds voort.
Onstuitbaar. Met groot krag! Deur vanuit die hemel in te gryp, word daar nog
voortdurend harte en lewens van mense gelouter en geheilig. So word ook ons
geroep en geheilig. In diens van die Here Christus. Om die groot werke van God
te verkondig in woord en daad. Dit moet telkens weer verkondig word. Sodat alles
tot volheid gebring sal word.

Broeders en susters, wat doen u met die vuur wat Christus met Pinkster
aangesteek het? Die Gees het die apostels en so ook die kerk gelei tot die volle
waarheid. ’n Volheid van kennis en krag gegee. In die voltooide Bybel. Paulus
waarsku die Thessalonicense: Blus die Gees nie uit nie (1 Thess 5:19). Die vuur
van die Gees moet bly brand. Ons mag dit nie uitblus nie. Gevaarlike vuur moet
uitgedoof word, want dit bedreig die lewe. Maar die vuur van die Gees moet nie
geblus word nie, want dit red juis die lewe. As jy die Gees self uitblus, dan
graaf jy as gelowige of as kerk jou eie graf. Dan ontneem jy jouself die lewe.
Die Heilige Gees is mos die lewendmakende Gees, die Gees van die lewe.

Hoe kan ’n mens dan die Gees uitblus? Deur die woord van Christus te
weerstaan. Onmiddellik na die woorde "blus die Gees nie uit nie" skryf
Paulus: "verag die profesieë nie." Deur die profesieë, wat nou in
die Skrif vasgelê is en wat ook in die prediking tot ons kom, te verag, blus
’n mens die Gees uit. Jy staan dan God se werk teen. Pleks van die koninkryk
van God te bevorder, verhinder jy die koninkryk.

Broeders en susters, besef tog u rykdom as Nuwe Testamentiese gemeente. Ons
het die volheid van die Gees ontvang. Alles is sedert Pinkster nou veel ryker en
voller. Die Gees van Christus het in die gemeente kom woon. Ons het die woord
van Christus ontvang; die volle openbaring van God. Maar dit skep ook groter
verantwoordelikheid. Laat die woorde van Christus dan tog ryklik in julle woon;
leef daaruit. Spreek daarvan onder mekaar. Verkondig God se groot
verlossingsdade in woord en daad. Sodat die vuur van die Gees steeds verder mag
uitkring. Totdat God uiteindelik alles in almal kan wees.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)