Ware gelowiges kan in groot sondes val.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-05-26
Teks: 
Dordtse Leerreëls 5
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 5 Art. 4 & 5

Ds C Kleyn - Sondag 26 Mei 2002

Lees:

Psalm 32; Matthéüs 26:31-46; Dordtse Leerreëls Hoofstuk 5 Art. 4 & 5.
Sing: SB 27; Ps 51:1,6; Ps 32:1-3; Ps 32:5,6.

Tema: Ware gelowiges kan in groot sondes val.

  1. Die werklikheid daarvan;
  2. Die ernstige gevolge daarvan.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Is julle ooit jaloers op christene wat geestelik so sterk en aktief lyk? Jy
voel jouself so swak en gewoon, ja selfs benede die maat. En die ander lyk
soveel beter as jy, so geestelik, so bly en aktief. Jy wil graag soos die ander
wees. Soos die ampsdraer, die pa van ’n vriend. Ja, soos die helde uit die
bybel. Jy wens dat jy so ’n geloof soos Abraham sou hê. Soveel werk in diens
van die Here kon verrig soos Paulus.

Van jongs af aan het ons die verhale uit die bybel gehoor en gelees. Die
verhale oor Noag, Abraham, Moses, Dawid en Petrus. Ons herinner veral hul
heldedade. Hoe Noag ondanks al die gespot van mense voortgaan met die bou van
die ark. Hoe Abraham vol geloof sy land verlaat en God se roeping volg. Hoe
Abraham later selfs sy seun Isak offer. Hoe Moses op indrukwekkende manier sy
volk uit Egipte lei. Hoe Dawid as ’n jongman die swaar gewapende reus Goliat
aandurf met slegs ’n slinger in sy hand en hom doodmaak. Hoe Petrus hom inset
vir sy Meester en na Pinkster leiding aan die christelike kerk gee. Dis
spannende verhale, wat indruk op ons as kinders gemaak het.

Ons vergeet egter dat daar ook ’n ander kant van hierdie mense is. Noag was
op ’n keer so dronk dat hy homself ontbloot het en so in slaap geval het.
Abraham word die vader van alle gelowiges genoem, maar by tye lyk hy eerder op
die vader van die kleingelowiges. Moses het ’n moord begaan. Hy het ’n
Egiptenaar doodgemaak en hom vinnig begrawe. Moses het ook verskillende kere
gedoen wat God nou juis nie wou hê nie. En wie ken nie die geskiedenis van
Dawid nie. Sy egbreuk met Bátseba, sy moord op Uria. En van Petrus weet ons dat
Hy die Here Jesus met ’n eed verloën het.

Die bybel ken geen geloofshelde nie, wel geloofsgetuies. En geloofsgetuies is
gewone mense wat deur God ingeskakel word om - ondanks hul eie sondes - tog
getuies te wees van God se krag en genade. Dit blyk gewone mense te wees, net so
gewoon soos jy en ek. Hulle was gewone gelowiges soos jy en ek. Wat geworstel
het met dieselfde sonde en swakheid.

Vanaand wil ek vir u verkondig: ware gelowiges kan in groot sondes val.

  1. die werklikheid daarvan
  2. die ernstige gevolge daarvan.

Ons art begin so mooi: "Die mag van God waardeur Hy die ware gelowiges
in die genade bevestig, is so groot dat hulle nie deur die sondige natuur oorwin
kan word nie." Die sonde bly ’n geweldige mag. Maar God se mag is baie
groter en sterker. Alle skepsels is so in sy hand, dat ook die duiwel hom sonder
God se wil nie kan roer of beweeg nie. In geloof bely ek dan ook: God se mag is
so groot dat ek deur die sondige natuur nie oorwin kan word nie.

Maar waarom blyk God se mag nie duideliker en kragtiger in my lewe nie?
Waarom lei ek dan tog steeds weer nederlae in die stryd teen die sonde? Ons art
vervolg: "Tog word die bekeerdes nie altyd so deur God gelei en beweeg dat
hulle – deur hulle eie skuld – in sommige besondere gevalle nie van die
leiding van die genade sou kon afwyk en deur die begeerlikhede van die sondige
natuur verlei word en dit navolg nie."

Ons bid: "Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die
bose." God lei ons lewe. Hy kan ons so lei dat ons nie in versoeking kom
nie. Maar Hy kan dit ook so lei dat ons in situasies teregkom waarin die sonde
sterk aan ons trek. In sy wysheid doen Hy dit soms ook so, om ons op die proef
te stel. En dan kan dit gebeur dat ons in sonde val. Hy kan jou byvoorbeeld
armoede gee terwyl jy jaloers van aard is; of rykdom & voorspoed terwyl jy
geneig is om hoogmoedig of eersugtig te wees.

Dit gebeur dan deur eie skuld, lees ons. Ons bly self verantwoordelik. God
wat die lewe lei, wil nie dat ek sondig nie en sit my nie tot sonde aan nie. Dit
is my eie skuld wanneer dit gebeur. Ek was nie waaksaam genoeg nie. Of ek het
weer toegegee aan bepaalde verkeerde karaktereienskappe. Of ek het my deur die
mooie woorde van ander laat inpalm. Of ek het myself oorskat en gedink dat die
sonde my nooit sou kry nie.

Die belydenis noem dat ons deur die begeerlikheid van die sondige natuur
verlei word en dit navolg. Ons dink gou aan allerlei seksuele sondes.
Seksualiteit kan ’n enorme mag wees in die lewe van seuns en dogters, manne en
vroue, ongetroudes en getroudes. Mense van aansien het op hierdie punt geval.
Politieke leiers, ampsdraers, predikante. Maar laat ons nie dink dat dit die
vernaamste en enigste moontlikheid is om in sonde verlei te word nie. Geld, mag
of eer is nie minder verleidelike magte nie, wat tot onbegryplike dade kan
bring. Laat ons die drank en ander verslawing ook nie onderskat nie. Dit kan
’n mens dinge laat dink, sê en doen waarvoor jy jou later diep skaam. Jy kan
daardeur dinge stukkend maak wat nie meer herstel kan word nie.

Nee, ek kan dan nie God die skuld gee nie, so van: U het my in die moeilike
situasie gelei. Ek is self verantwoordelik vir my sondes. Moet ook nie vinger na
ander wys nie, na jou maats of die groep. Wanneer ek sondes doen, dan is dit my
eie skuld. Maak nie saak wat die aanleiding daartoe was nie. Ek het gesondig.
Was my oog blind en my ore doof toe ek die sonde gesien en die verleidende stem
gehoor het?

Die art praat van groot en gruwelike sondes. As ons nie voortdurend waak en
bid nie, kan ons deur ons sondige natuur, die wêreld en Satan tot groot en
gruwelike sondes verlei word. Die drie doodsvyande, ons sondige natuur, die wêreld
en Satan hou nie op om ons aan te val nie, om ons in die val te lok. Dan kan dit
kom tot ’n groot en gruwelike sonde. Sonde wat die kroon van my hoof afneem.
Sonde wat ’n skande vir my en my familie is, wat God se naam smaad aandoen en
wat elkeen wat die Here liefhet verdriet doen. Is dit nou ’n kind van God? Is
dit die persoon waarna ek so opgesien het en wat dit so goed vir ander kon
vertel? Die mense buite die kerk spot met die christene. Watter verskil maak die
geloof? Gelowiges is niks beter as die ongelowiges nie. Soms selfs erger. Kyk
maar! Ag, die christene het dit reeds geweet. Hulle is uit hulleself nie beter
as die ongelowiges nie. Die verskil is dat die gelowiges weet dat hulle sondaars
is en vergewing nodig het, terwyl die ongelowiges dit nie erken nie.

As gelowige bly ek swak, volkome afhanklik van God se genade. Daarom moet ek
voortdurend waak en bid dat ek nie in versoeking gelei word nie. Dis wat die
Here Jesus uitdruklik vir sy dissipels gesê het. In Mt 26 lees ons hoe Jesus
saam met sy dissipels in Getsemane is. Hy vra van sy dissipels: bly hier en waak
saam met My. Wanneer Hy sy dissipels aan die slaap vind, sê Hy: "Waak en
bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die
vlees is swak" (Mt 26:41). Ons wil wel doen wat reg is, maar die vlees is
swak.

Ek moet daarom waak en bid. Voortdurend waak. Wakker wees. Oplettend wees vir
die aanvalle van Satan wat as ’n brullende leeu rondgaan op soek na prooi. Vir
satan wat hom ook dikwels as ’n lam voordoen. Bewus wees van my swak plekke.
Nie die geleenthede opsoek wat ek nie kan hanteer nie. Nie dink: dat sal my
nooit oorkom nie. Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Soos
Petrus met sy oormoedige woorde: "Al moes ek ook saam met U sterwe, ek sal
u nooit verloën nie." Daardie selfde nag verloën Hy sy Here drie maal en
bekragtig dit selfs met ’n eed. Hoe dikwels gebeur dit nie dat as ons dink dat
ons geestelik sterk is, die versoeking om die draai is, verkeerde woorde word
gesê, ’n sondige houding word gewys, daar word gebaklei oor niks.

Waak en bid. Ja, bly ook bid. Laat jou lewe tog een deurlopende gebed wees.
Bid met oop oë. Bid om nie in versoeking te kom nie. Here, bewaar my. My krag
is swak. Here, lei my. Lei my nie in versoeking nie, maar verlos my van die
Bose. Hou my staande.

So kan ons steeds weer sterk staan in die Here. In sy krag en wysheid. So kan
die sonde voorkom word. Hoekom word Dawid, ’n man na God se hart, tot sonde
verlei, wanneer hy vanaf die dak van sy paleis Batseba ’n bad sien neem? Hy
vergeet om te bly waak en bid. Hy het reeds verskeie vroue. Maar niemand so mooi
as hierdie vrou nie. Hy wil haar onmiddellik vir homself hê. Hy is mos koning!
Hy laat haar haal, slaap by haar. Sy raak swanger. Dit gaan van kwaad tot erger.
Eers probeer hy via lis die kind op Uria se naam te plaas. Wanneer dit nie luk
nie, omdat Uria weier om tydens die oorlog by sy vrou te lê, dan sorg Dawid vir
Uria se dood sodat hy Batseba tot vrou kan neem. Is dit die man na God se hart?
As Dawid voortdurend gewaak en gebid het, dan sou dit nie sover gekom het nie.
Dan sou hy sy oë afgewend het en homself beheers het. Dieselfde geld vir
Petrus, die rotsman van die kerk. Hy het nagelaat om te waak en te bid. Hy het
gedink dat hyself wel sterk genoeg was teenoor die versoeking. Hoogmoed kom voor
die val. Daarom, bly waak en bid dat jy nie in versoeking gelei word nie.
Oorskat jouself nie. Onderskat nie die verleiding van die bose nie. Maar vertrou
jouself toe aan die mag van God. Elke more wanneer jy die dag begin, voordat jy
op pad gaan, skool toe of werk toe. Ja, voortdurend. Sodat jy in God sterk kan
staan op die oomblik van versoeking. En nee kan sê teen die sonde en ja vir
God.

Gemeente, sulke groot sondes het ook ernstig gevolge. Dis die tweede gedagte
van die preek: die ernstige gevolge van die val.

Par 5 som die gevolge van sulke ernstige sondes op: Met sulke growwe sondes
vertoorn jy God vreeslik, verdien jy die dood, bedroef jy die Heilige Gees,
versteur jy die oefening in die geloof, verwond jy die gewete ernstig en verloor
jy soms ’n tyd lank die besef van die genade.

Dis duidelik dat ek deur sulke sondes my verhouding met God ernstig versteur.
Dawid en Petrus het dit albei geweet en gevoel. Lees maar Ps 32. Daar teken
Dawid in alle eerlikheid hoe erg dit is wanneer daar sondes tussen God en
jouself kom. As kind van God sondig jy nie goedkoop nie. Dit het ernstige
gevolge. Vergelyk dit maar met die situasie waar jy teen jou ouers sondig. Dit
versteur die verhouding op ’n ernstige manier. Net so word ons verhouding met
God versteur as jy teen Hom sondig.

Laat ons kyk na die verskillende gevolge wat genoem is. Met die sondes
vertoorn ek my God vreeslik. God is mos ’n heilige God. Hy haat die sonde. Die
sonde het die dood van God se Seun gekos. Daarom kan God nie maak asof die
sondes van sy kinders niks is nie. Hy kan die sondes nie deur die vingers sien
nie.

Maar is God nie ’n God van liefde vir sy kinders nie? Hoe kan ons dan praat
van sy toorn? Die keersy van ware liefde is altyd toorn wanneer die liefde
versmaad word. Sou die Here dan nie vertoorn wees wanneer sy liefde versmaad en
beledig word nie? Moenie egter dit verkeerd verstaan nie. Die Here vertoorn hom
nie as ’n strenge regter nie, wat voldoening eis. Hy het sy Seun reeds
daarvoor laat betaal. Maar God vertoorn hom as ’n liefhebbende Vader, wat deur
die growwe sonde van sy kind diep beledig is.

Vader kan dit wys deur sy aangesig van my te verberg of deur teenspoed te
gee. Hy laat voel dat dit nie goed tussen Hom en my is. Ek ervaar dan nie die
troos van sy nabyheid nie. Dit dring my tot selfondersoek. Is daar by my ’n
sonde wat my verhouding met God versteur? ’n Liefling sonde, magsmisbruik,
’n onversoende verhouding met my man of vrou, met my ouers of kinders, gebrek
aan vergewensgesindheid jeens iemand wat my swaar beledig het ens?

Met die sondes verdien ek die dood. So ernstig is my sonde. Daarom, Here,
wees my sondaar genadig. Sien my tog aan in Christus se bloed.

Met sulke sondes bedroef ek die Heilige Gees. Die Heilige Gees het baie sorg
en liefde vir my gewys. Die meeste van ons mag terugsien op die sorg van die
Gees vanaf ons geboorte in ’n christelike gesin. Die Gees het my by die hand
gelei. My gevorm deur die Christelike opvoeding en onderwys. Om dan vir die
sonde te kies is ’n belediging in sy gesig. Pleks van self bedroef te wees oor
my sondes, bedroef ek die Gees met my sondes.

Met sulke sondes versteur ek die oefening in die geloof. Ja, die geloof is
daar nog wel. Maar dit word op nonaktief gesit. My gebedslewe verskraal. Dis
asof daar geen kontak meer is nie. Die kerkgang word ook ’n sleur of ’n las.
Ek gaan dan die kerk uit soos ek die kerk ingekom het. Die lees van die bybel en
die prediking raak my nie. Ja, die hele diens staan my teen. Die dominee of
ander lidmate kry die skuld. Maar diep in my weet ek wel beter: dis my eie
skuld. Ek wil nie luister nie. Dis dorre tye in die geloofslewe. Donker tye.

Wanneer ek so sondig verwond ek vervolgens my gewete ernstig. My gewete word
verteer deur wroeging. Die geestelike rus verdwyn. Ek weet dat ek verkeerd
gehandel het, maar ek wil dit nie erken nie. Ek weier om my te bekeer. Ek gaan
maar aan. Ek probeer om my gewete te sus deur my sondes te regverdig deur
rasionele argumente. Ek kon mos nie anders nie. So is ek nou eenmaal. Ander
mense doen dit tog ook? Ens, ens. Maar diep in my, bly my gewete my pla.

As laaste gevolg van sulke growwe sondes noem ons belydenis dat ons soms ’n
tyd lank die besef van die genade verloor. Nee, God se genade self verdwyn nie
definitief uit die lewe van God se kinders nie. Maar wanneer ek in sonde bly
lewe dan verloor ek die gevoel, die besef van die genade. Ek ervaar nie meer dat
genade genade is nie. Of dat ek daaraan deel het nie. So kan dit gebeur dat ek
aan my posisie as kind van God gaan twyfel. Is ek nog wel ’n kind van God? Dan
sou ek tog nie sulke sondes doen nie? En dan kom die duiwel met sy aanvegtings
en sê: is jy, wat sulke dinge doen, ’n kind van God? Dis ’n leuen. Dan word
my siel heeltemal onrustig in my. Dit kan kort duur, maar ook lank. So verloor
ek soms ’n tyd lank die besef van genade.

Gemeente, ons kan die woorde van Dawid verstaan wanneer hy die gevolge van
’n versteurde verhouding met God teken: "Toe ek geswyg het, het my
gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; want u hand was dag en nag swaar
op my; my murg het verander soos deur somergloed." Ps 32:3,4. Dawid was
daar sleg aan toe.

Die gevolge van die sonde is nie plesierig nie. God lyk dan ver weg. Jou
geloof verloor sy krag en vreugde. God se hand druk swaar op jou. Totdat jy jou
sondes bely. Dawid was neergedruk totdat hy sy sonde voor God bely het. Toe kon
hy weer God se seën ervaar. So vervolg Dawid in Ps 32: "My sonde het ek U
bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil
aan die Here my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde
vergewe." (vers 5). Slegs na sy belydenis van skuld kan Dawid sing:
"Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is.
Welgeluksalig is die mens aan wie die Here die ongeregtigheid nie toereken nie
en in wie se gees geen bedrog is nie." (verse 1,2). Slegs nadat jy jou
sondes bely het en God jou opnuut van sy vergewing en verlossing verseker het,
kan die gelowige weer in vrede en blydskap lewe.

Gemeente, so wys ook ons belydenis aan die slot van par 5 op die pad terug.
"Dit gebeur totdat God, wanneer hulle deur ’n opregte berou op die regte
pad terugkeer, weer die lig van sy vaderlike aangesig oor hulle laat skyn."
Daar is ’n pad terug. Dit kan nie so erg wees nie of jy kan terugkeer. En elke
ware gelowige sal ook terugkeer. Danksy God se mag en trou. Dit gaan egter nie
vanself nie. Dit kos bloed en trane. Dit begin met opregte berou. "Teen u
alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë."

Langs die pad van opregte berou en bekering word die verhouding met God weer
herstel. Vergelyk dit met die verhouding tussen ouers en kinders of ouers
onderling. Solank daar skuld is wat nie bely is nie, staan dit die verhouding in
die pad. Maar sodra jy die skuld eerlik bely en die saak versoen is, dan leef jy
weer op, dan word die verhouding weer goed en oop, ja jy ervaar dit selfs as
ryker en heerliker as voorheen. Jy geniet weer ten volle van mekaar se liefde en
geneentheid. So ervaar jy na opregte berou en bekering die liefde van God des te
sterker. Jy besef opnuut hoe groot die liefde is. Hoe geweldig dit is om omgang
te mag hê met die lewende God. Hoe groot ’n wonder dit is. Dis allermins
vanselfsprekend. Kyk maar watter sondaars ons is. God se vaderlike aangesig skyn
weer oor jou lewe. Dit gee vrolikheid en lig. Die verhouding is weer goed.
Danksy God se genade en Gees.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)