God laat die ware gelowiges in hul val nie verlore gaan nie.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-06-02
Teks: 
Dordtse Leerreëls 5
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 5 Art. 6 & 7

Ds C Kleyn - Sondag 2 Junie 2002

Lees:

2 Samuel 12:1-14; Lukas 22:54-62; Dordtse Leerreëls Hoofstuk 5 Art. 6 & 7.
Sing: Ps 34:1,2; Ps 34:4; Ps 34:6; Ps 25:2,4,6; Ps 31:17,18,19.

Tema:

God laat die ware gelowiges in hul val nie verlore
gaan nie.

  1. Hy bewaar ons; en
  2. Hy bring ons terug.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die gelowiges kan diep val. Dink maar aan die droewige val van Dawid en
Petrus. Dis ’n verskriklike ervaring. Daarmee vertoorn jy God vreeslik,
verdien jy die dood, bedroef jy die Heilige Gees, versteur jy die oefening in
die geloof, verwond jy die gewete en verloor jy soms vir ’n tyd lank die besef
van die genade. So het ons dit bely met art. 5 van die DL hoofstuk 5. Dis ’n
verskriklike ervaring wat Dawid in Ps 32 so verwoord het: "toe ek geswyg
het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; want u hand was dag en
nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed." ’n Ellendige
situasie. Maar gelukkig geen hopelose situasie nie. Ons bely mos met die
volgende artikels van die DL dat God die gelowiges nie heeltemal laat val nie
sodat hulle in die ewige verderf kom nie. Dis waarop ek vanaand u aandag wil
vestig.

Ek verkondig vir u: God laat die ware gelowiges in hul val nie verlore gaan
nie.

  1. Hy bewaar ons; en
  2. Hy bring ons terug.

In ons val as gelowiges is daar altyd ’n pad terug. Hoekom? Luister maar na
ons belydenis. "God, wat oneindig barmhartig is, neem, weens die
onveranderlike besluit van die uitverkiesing, sy Heilige Gees nie heeltemal van
sy eiendom weg nie, selfs nie in hulle jammerlike sondeval nie." Pragtige
woorde. Ek mag God ken wat oneindig barmhartig is. Wanneer ek in sonde val, laat
Hy my nie sommerso los nie. Sy barmhartigheid is groter as my sonde. Oneindig.
Hy bly innerlik oor my lot bewoë. Daarom neem Hy sy Gees nie heeltemal van my
weg nie.

Dit het alles te doen met sy verkiesende liefde. Soos ons dit bely:
"weens die onveranderlike besluit van die uitverkiesing." God het
besluit om sy uitverkorenes te red. Daarom sal hulle ook gered word. Niks kan sy
besluit ooit keer nie. Selfs nie my sonde nie. In sy brief aan die Filippense
dank Paulus God "omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ’n goeie werk
in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus."
(Fil 1:6). Wat ’n pragtige evangelie!

Wanneer ek in sonde val, kan ek op my God vertrou dat Hy my weer sal oprig.
Wat ’n houvas het ek in die God van barmhartigheid. Om in sonde te val is vir
my geen plesierige ervaring nie. Ek is swak. Ek het slegs ’n klein begin van
die gehoorsaamheid wat God van my vra. Ek word ook voortdurend aangeval deur
doodsvyande, die duiwel, die wêreld en my eie sondige natuur. Daarom is dit
geen verrassing wanneer ek in sonde val nie. Ek hoef egter nie radeloos te wees
nie, wanhopig. Asof alles nou verlore is. Geensins. Dink aan die pragtige woorde
van ons doopsformulier: "En as ons soms uit swakheid in sondes val, moet
ons nie aan die genade van God twyfel of in die sondes bly lê nie: die doop is
immers ’n seël en volkome betroubare getuienis dat ons ’n ewige verbond met
God het." Wanneer ek my sonde sien, hoef ek nie wanhopig te wees nie. Ek
weet mos wie God is. Die getroue verbondsgod wat sy woorde waarmaak, wat
oneindig barmhartig is. Wat ’n geweldige troos om dit te mag weet. Loof die
Here!

Wat ’n verskil met die leer van die Remonstrante. Vir hulle is my
volharding in die geloof ’n voorwaarde waaraan ek self moet voldoen. Die
volharding is so ’n saak van die mens self, iets wat ek self moet presteer.
Maar ek kan nie aan die voorwaarde voldoen nie. Uit myself wil ek nie eers
daaraan voldoen nie. As ek op myself aangewese is, dan kom daar niks van my
verlossing tereg nie. Dan staan ek in die kou, sonder troos en sonder hoop.
Gelukkig is volharding God se saak. ’n Kwessie van sy trou. Hy neem sy Heilige
Gees nie heeltemal van sy eiendom weg nie. Hoeseer ek dit deur my sonde ook
verdien het. Hoeseer ek ook sy Gees bedroef het.

Waaruit blyk dit dat God sy Heilige Gees nie heeltemal wegneem nie? Dit blyk
bv uit die innerlike stryd wat die gelowige wat sondig dikwels ervaar. Jy weet
dat wat jy gedoen het nie reg is nie. Jy moes nooit die seun of dogter, die
broer of suster so behandel het nie. Maar jy durf dit nie eerlik te erken nie.
Tog bly die sonde jou pla. Jou gewete is onrustig. Dink maar aan die woorde van
Dawid uit Ps 32 wat ek reeds aangehaal het. Toe Dawid geswyg het, was hy in
feite verskriklik ongelukkig. Onrustig. Hy het geen vrede geken nie. Is dit nie
hoe ons dit dikwels beleef nie? Ons wil die herinnering aan ons sondes van ons
afskud. Maar solank die saak nie versoen is nie, bly dit ons pla. Hoekom? Dis
die Gees wat daarvoor sorg. Hy is nie heeltemal weg nie. Gelukkig maar! Anders
sou ons met die sonde vrede maak en nooit na God terugkeer nie.

Die Gees se aanwesigheid blyk ook daaruit dat die stem van God se woord tog
nog deurdring in ons harte. Die woorde laat my tog nie koud nie. Die Woord tref
my soms diep. As ’n skerp swaard steek dit in my siel. Roer dit aan dinge wat
ek juis wil wegsteek, verswyg. Dit lyk soms asof die predikant juis vir my
preek, ook al besef die predikant dit self nie. Hier sien jy die Heilige Gees
besig. God neem sy Gees nie heeltemal weg nie. Van tyd tot tyd wys Hy dat Hy
daar is en nog in my hart invloed uitoefen. Dis nie plesierig nie. Maar dank God
daarvoor. Hy maak jou hart nog oop daarvoor. Hy laat jou nog bereikbaar wees. Hy
sou jou ook kon gelos het, met as gevolg dat jy verhard in jou sonde en buite
die bereik van die evangelie kom.

Art 6 vervolg: "God laat hulle ook nie so diep val dat hulle uit die
genade van die aanneming en uit die staat van die regverdiging uitval nie."
Ek, sondaar soos ek is, mag ’n kind van God wees. Wat ’n genade! Om kind in
huis by God die Vader te wees! Om te geniet van die regte en pligte van ’n
kind van God. Besef jy nog wel wat dit beteken? Wat gebeur dan as ek diep in
sonde val, afdwaal? Werp Hy my dan uit die huis uit? Nee, sover laat Hy dit vir
die ware gelowiges nie kom nie. Miskien probeer ek Hom te vergeet en my aan sy
tug te onttrek, maar Hy vergeet my nie en onttrek hom nie aan my nie. Hy laat my
nie sover val dat ek uit die genade van die aanneming uitval nie.

So bewaar Hy my ook by die staat van die regverdiging. Dit sien op my
regsposisie, my nuwe status. Ek is iemand wat vrygespreek is. Vry van skuld en
straf. Ek het reg op die ewige lewe. Danksy Christus, my Borg. Dikwels leef ek
nie in ooreenstemming met die regsposisie nie. Maar God laat my nie so diep val
dat ek uit die regsposisie sou uitval nie. In Christus bly ek vrygespreek. Ook
al maak ek ’n gemors van my lewe. Ook al haat die Vader my sondes en keur Hy
dit ten sterkste af. Wat ’n ryke troos, terwyl ek in die moeras van die sonde
verkeer.

"As U, o Heer, die sonde,
na reg wou gadeslaan,
wie sou een enk’le stonde
voor U, o Heer, bestaan?
Maar nee, daar is vergewing,
altyd by U gewees;
daarom word U met bewing,
reg kinderlik gevrees."
Ps 130:2 volgens die eerste beryming.

Maar, gemeente, wat dan van die sonde tot die dood of die sonde teen die
Heilige Gees? Die Bybel praat van sonde tot die dood of teen die Heilige Gees
waarvoor daar geen vergewing is nie. Of van sonde waarby daar geen pad terug is
nie. Kyk maar na Hebr 6:4-6. Kom ons lees dit saam. "Want dit is onmoontlik
om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige
Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte
van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het – om die weer tot bekering
te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig
en openlik tot skande maak."

As jy dit so lees, lyk dit asof jy as gelowige tog kan afval en verlore kan
gaan. Daar word gepraat van mense wat eenmaal verlig geword het, die hemelse
gawe gesmaak het, die heilige Gees deelagtig geword het en die goeie woord van
God gesmaak het. As hulle afval, dan is dit onmoontlik dat hulle weer tot
bekering kom. Praat God hier nie van gelowiges nie? Laat ons nader let op die
verskillende uitdrukkings.

Die wat eenmaal verlig geword het. As jy hierdie teks met Hebr 10:26 vergelyk
dan sien jy dat dit wys op hulle wat die kennis van die waarheid ontvang het.
Hulle het die evangelie dus gehoor en God en sy diens leer ken. Hulle het die
hemelse gawe gesmaak. Hulle het hul geloof bely. Hulle is gedoop, het nagmaal
gevier. Hulle het die gebroke brood geproe en uit die beker gedrink. Vervolgens
word gesê dat hulle die Heilige Gees deelagtig geword het.

Kan iemand wat die Heilige Gees deelagtig geword het, dan tog die Heilige
Gees heeltemal verloor? Nie werklik nie. Ander gedeeltes van die Skrif is
duidelik genoeg daaroor. Ons hoop volgende keer daar meer aandag aan te gee.

Wat word dan bedoel met hulle wat die Heilige Gees deelagtig geword het? Hier
word gewys op mense wat in die kerk verkeer het en voor die oog saam met die
ander lidmate deel gehad het aan die gawes wat Christus vir sy kerk gee. Dalk
kan hulle ook bepaalde tekens verrig. bv die praat in tonge of genesings.
Dieselfde geld vir die ander kenmerke wat genoem word. Oënskynlik is hulle soos
die ander lidmate. Jy sien aan die buite kant geen verskil nie. Hulle is
volwaardige lidmate van die gemeente. Hulle was aanvanklik ook bly met die woord
van God. Maar later word hul ware gedaante openbaar. Hulle hart was daar tog nie
by nie. Dit was slegs skyn. Hulle het wel baie verstandelike kennis van God,
maar geen ware verhouding met God nie. Hulle blyk dus geen ware gelowiges te
wees nie. Hulle keer hulle bewus teen die God wat hulle leer ken en bely het.
Hebr 10 benadruk dat hulle opsetlik sondig. Hulle weet beter. Hulle het mos
onder die prediking verkeer. Maar hulle verander opsetlik in ’n vyand van God
en sy woord. Vir hulle is daar geen vergewing meer nie, maar ’n verskriklike
oordeel Hulle het mos die Seun van God vertrap, die bloed van die testament
waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad (Hebr
10:26-29).

Wie kan dus skuldig wees aan ’n onvergeeflike sonde? Nie buitestaanders
nie. Nie mense wat nooit van God gehoor het nie, of nooit in die kerk verkeer
het nie. Nee, juis in die kerk, onder God se gemeente kan hulle voorkom. Dis mos
mense wat die waarheid weet, maar opsetlik hulle daarteen verset.

Maar ondermyn hierdie moontlikheid nie die sekerheid en troos wat ons bo juis
benadruk het nie? Dalk is ek ook een van hulle wat uiterlik tot die gelowiges
behoort, maar nie ’n ware gelowige is nie. En as ek dan diep val, wie sê dat
ek dan ook nie buite die bereik van vergewing en bekering kom nie? Dalk het ek
ook die sonde tot die dood of teen die Heilige Gees gedoen? Ja, daar is mense
wat in hul sonde met hierdie vraag worstel en geen lig sien nie.

Maar, gemeente, onthou: mense wat die onvergeeflike sonde doen, worstel
allermins met die sonde. Hulle het geen enkele gewetenswroeging daaroor nie.
Kenmerkend is juis dat hulle opsetlik teen God opstaan, terwyl Hy homself nou so
ryklik deur sy Heilige Gees aan hulle bekendgemaak het. Daar is by sulke mense
geen spyt of berou nie. Berou is mos die vrug van die Heilige Gees. Daarom is
mense wat teen die Heilige Gees sondig altyd verhard. Ons kan rustig sê: as jy
worstel met die vraag of jy moontlik die onvergeeflike sonde gedoen het, jy dit
dan nie kan gedoen het nie. Sulke verharde sondaars wat opsetlik God laster,
worstel nie met sulke vrae nie. Inteendeel!

As ware gelowige mag jy jouself vertroos met die gedagte dat jy daardie sonde
nie kan bedryf nie, hoe diep jy ook al val. Die ware gelowiges word daarvoor
bewaar. Danksy die trou van God. Waar die Here begin, daar voltooi Hy ook. Die
Here sorg vir sy werk. Hy laat die ware gelowiges nooit so ver afgly nie. Die
Heilige Gees bly. En waar die Gees bly, kan Hy nie gelaster word nie. Daar kan
ons onsself nie in die ewige verderf stort nie.

Maar as ’n kind van God selfmoord pleeg, wat dan? Stort hy homself dan nie
in die ewige verderf nie? Dit gebeur dat mense, wat as gelowiges bekend gestaan
het, in psigiese nood ’n einde aan hul lewe maak. ’n Groot skok en verdriet
vir die naaste familie en vriende. Wat moet ’n mens daarvan sê? Laat ons in
ons oordeel versigtig wees en nie te vinnig veroordeel nie. God verlos sy
kinders in hierdie lewe nie heeltemal van hulle sondige natuur en bestaan nie.
So kan ’n kind van God ook in ’n sware depressie en geestelike insinking
teregkom.

Soms word ons, onder die regverdige toelating van God, tot groot en gruwelike
sondes verlei. Dit maak die sondes nie goed nie. Maar dit is wel die
werklikheid. Waarvoor die bloed van Christus moes vloei. So kan dit gebeur dat
’n kind van God as gevolg van roekeloosheid in ’n ongeluk omkom. So kan dit
ook gebeur dat ’n kind van God as gevolg van ’n slegte gewoonte, soos die
rook van tabak, vroegtydig aan kanker sterf. Is daar prinsipieel gesien veel
verskil met die situasie van iemand wat selfmoord pleeg? In alle drie gevalle
eindig die lewe as gevolg van eie sondes. Sou daar vir sulke mense geen genade
wees nie? God se genade is gelukkig nie afhanklik van ons laaste woorde of dade
nie. In sulke situasies bepaal God ons juis daarby dat ons slegs uit genade
gered word, sonder enige prestasie van ons kant.

Maar, waar is dan die bewarende hand van God in so ’n situasie? God het mos
belowe dat Hy die ware gelowiges nie so diep sal laat val dat hulle uit die
genade van die aanneming en uit die staat van die regverdiging uitval nie. Hy
het mos beloof dat Hy nie sal toelaat dat sy gelowiges hulleself in die ewige
verderf sou stort nie? Stort ’n mens deur selfmoord homself in die ewige
verderf? ’n Mens stort homself wel in die tydelike en liggaamlike verderf.
Daar is ’n groot verskil tussen beide, tussen die liggaamlike dood en die
ewige dood.

Gemeente, God het nie belowe dat Hy ons vir geestelike insinking, ongelukke
of vir die ernstige gevolge van ons sondes sal bewaar nie. Wel dat Hy ons vir
die ewige verderf sal bewaar. Sou God se bewarende hand dan skielik nie aanwesig
wees wanneer iemand in nood ’n einde aan sy lewe maak nie? Ook dan kan God se
bewarende hand die persoon nog vir ’n ewige ramp bewaar. God bewaar alle
gelowiges in nood en dood. God laat nie toe dat sy kinders, hoe hulle ook
sondig, so ver afgly dat hulle hulleself in die ewige verderf stort nie.

Wanneer ons die art. oorsien, dan is dit wel ontdekkend wat ons hier bely.
Dit kan ver gaan met ’n kind van God. Ons kan op ’n gruwelike manier val.
Maar God bemoedig ons deur te sê: die gelowiges kan nie uit die genade uitval
nie. God is en bly die Getroue. Hy hou sy werk in stand. Sy liefde het my
gesoek, my gekoop. Sy liefde bewaar my en bring my terug.

Oor die laaste kan ons baie kort wees. Ons lees daarvan in art 7 van die DL.
Ek volstaan met enkele opmerkings daaroor.

Ons lees: "Wanneer hulle so in die sonde val, bewaar God eerstens in
hulle sy onverganklike saad waaruit hulle weergebore is, sodat dit nie vergaan
of vernietig word nie."

God het in my hart ’n nuwe lewensbeginsel gewerk. Deur sy woord en Gees.
Die beginsel kan nie stukkend gaan nie. Ook al lyk dit soms op die agtergrond te
raak. God bewaar dit. Daarom is daar nog die innerlike stryd en onrus oor die
sonde wat ek in die begin van die preek genoem het. God se woord en Gees bly my
in my sonde tog nog aanspreek, invloed op my uitoefen. Gelukkig maar! Die nuwe
begin van God bewaar my vir totale verharding in sonde. Daar gaan ’n geheime,
kragdadige en beslissende werking van uit.

So bring God die gelowige weer terug. Ek haal aan uit die art: "Ten
tweede vernuwe Hy hulle deur sy Woord en Gees seker en kragtig tot
bekering." Wie in sonde val moet vernuwe word. God sorg daarvoor deur sy
Woord en Gees. Hy bewerk uiteindelik ’n hernieude bekering, ’n terugkeer na
God en sy woord. Dink aan die bekering van Dawid en Petrus waaroor ons gelees
het.

Die art gaan verder: "Die gevolg is dat hulle oor die sondes wat hulle
gedoen het, van harte en volgens die wil van God berou het en deur die geloof,
met ’n gebroke hart, vergifnis in die bloed van die Middelaar begeer en
verkry." Geen oppervlakkige en goedkoop berou nie. Geen berou omdat jy
betrap is of vanweë die nadelige gevolge vir jouself nie, die skade wat jy jou
eie naam aangedoen het. Berou na die wil van God: "teen U alleen het ek
gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë. Ek het u naam skade aangedoen. Dit
is vir my die ergste." En: "vergeef my my sondes. Om Christus ontwil.
Op grond van sy lyding en dood. Gee my weer die vreugde van u heil. Deur
Christus se Gees."

Die DL sluit die art af met die woorde: "So besef hulle weer die genade
van God, wat nou met hulle versoen is, aanbid hulle sy ontferming en trou om
daarna met groter ywer hulle eie heil met vrees en bewing uit die werk." So
besef ek opnuut hoe groot God se genade is. Ek roem in sy ontferming en trou.
"Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en groot van
goedertierenheid."

"Loof Hom wat jou, van skuldelas onthewe,
genadiglik die sondes wil vergewe,
jou krankheid ken en liefderyk genees;
wat van die dood jou lewe weer verskoon het,
met goedheid en ontferming jou gekroon het,
en in die nood is Hy jou hulp gewees." Ps 103:2

Wanneer jy so deurdring is van die erns van die sonde en van die grootheid
van God se genade, dan wil sy met des te meer ywer vir die Here lewe, jouself
wys as ’n verloste kind van Hom. Dan gaan jy die sonde des te meer haat en
ontvlug. En volgens die wil van God lewe. Ootmoedig, versigtig en
verantwoordelik, in vertroue op Hom.

Gemeente, hoe skriftuurlik, ryk en prakties is ons belydenis. Dis mos hoe ons
wat glo dit beleef? Hoe diep ek ook al val, God is daar om my weer op te ris. En
Hy doen dit ook. Kyk maar na die pad wat Hy reeds met my geloop het. Hy het my
nie vir goed laat lê nie. Hy bring my steeds weer terug. Deur sy woord en Gees.
Sal ons God se genade en trou nie aanbid nie?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)