Die kerk is ’n liggaam, ’n liggaam van Christus.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-06-02
Teks: 
I Korinthiërs 12
Preek Inhoud: 

1 Korinthiërs 12:12,13,27

Ds C Kleyn - Sondag 2 Junie 2002

Lees:

1 Korinthiërs 12.
Sing: Ps 84:1,2; Ps 84:6; Ps 105:5; SB 27:4,5; Ps 133:1,2; Ps 115: 7,8.

Tema:


Die kerk is ’n liggaam, ’n liggaam van Christus

  1. Deur die samehang van die lidmate; en
  2. Deur die inwoning van die Gees.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe beskou julle die gemeente waarvan julle lid is? Watter plek neem julle in
die gemeente in? Hoe staan jy teenoor die ander lidmate? Na elke viering van die
heilige nagmaal sê ons vir die Here: "Ons loof U omdat ons deur die
Heilige Gees geniet het van die vreugde van die gemeenskap met U Seun, sowel as
met mekaar." Die gemeenskap met Christus en met mekaar word ’n vreugde
genoem wat ons geniet. Is dit hoe jy dit ervaar: as ’n vreugde wat jy geniet?
Klink dit nie te optimisties nie? ’n Genot om aan Christus en aan mekaar
verbonde te wees? Veral dit band aan mekaar. Dit kan soms onder druk kom te
staan. Dit blyk soms moeilik te wees om mekaar te waardeer. Laat staan dat jy
van mekaar sou geniet. Hoekom is dit so? Ons moet steeds weer leer om vanuit
Christus na mekaar te kyk. Dit verander jou perspektief heeltemal. Dan word jou
houding teenoor jou medelidmate ook anders.

Ek verkondig vir julle: Die kerk is ’n liggaam, ’n liggaam van Christus

  1. Deur die samehang van die lidmate; en
  2. Deur die inwoning van die Gees.

Paulus vergelyk die kerk met ’n menslike liggaam. Dis baie opvallend hoe hy
dit doen. Luister maar: "Want net soos die liggaam een is en baie lede het,
en al die lede van die liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook
Christus." Let op die onverwagse wending aan die einde van die vers:
"so ook Christus." Ons sou verwag het: net soos die liggaam een is, so
ook die kerk van Christus. Pleks daarvan lees ons: "so ook Christus."

Deur ‘Christus’ hier te noem benadruk Paulus die heerlikheid en eer van
die kerk. Die kerk word met sy hoof Christus vereenselwig. Die kerk is so te sê
Christus self. Wanneer jy met die kerk te doen het, het jy met Christus self te
doen. Wanneer jy die kerk smaad, smaad jy Christus self. Paulus het dit op pad
na Damaskus ervaar. Hy was besig om die kerk te vervolg. Maar wat sê die Here
Jesus wanneer Hy vir hom verskyn? Hy sê nie: Saul, Saul, waarom vervolg jy my
kerk? Maar: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Christus vereenselwig hom met sy
kerk. Die kerk is nie net ’n menslike organisasie nie. Dit is baie
belangriker, duursamer en kosbaarder. Dit is die liggaam van Christus.

Daarom, broeders en susters, besef waarmee julle te doen het wanneer julle
oor die kerk praat. Julle het te doen met die liggaam van Christus. En waar
julle sy liggaam aanraak, raak jy Christus self aan.

Tipies vir ’n liggaam is sy verskeidenheid en eenheid. ’n Liggaam is
saamgestel uit baie lede. Elke lid het sy onderskeie funksie. So is dit met die
liggaam van Christus. Elke lidmaat het sy/haar eie gawe en funksie. Jy het ook
jou eie gawe en funksie. Besef jy dit wel? Weet jy wel watter gawe en funksie
dit is? Elke lidmaat is uniek, verskillend. Sonder die verskeidenheid sou die
liggaam nie bestaan nie. ’n Liggaam wat slegs oë en ore is, is geen liggaam
nie. Verskille in vermoëns en funksionering moet daar wees. Anders sou die
liggaam ophou om te bestaan. Daarom moet jy die verskille waardeer en leer om
die te benut. Ons verskil van mekaar omdat God met die verskille ’n spesiale
eenheid wil laat vorm, die liggaam van Christus. Dit slegs omdat ons verskillend
is dat ons werklik binne die liggaam kan funksioneer, om die liggaam te dien.

Geliefdes, Paulus pas hierdie werklikheid toe op die situasie in Korinte.
Daar is mense wat hulleself oor ander verhef vanweë hul geestelike gawes. Hulle
wat die gawe van profesie of die onderskeiding van profesie het, of hulle wat in
tale kan spreek, beskou hulleself as eerste klas christene. Hulle het in ieder
geval ’n duidelike bewys daarvan dat hulle met die Gees vervul is. So laat
hulle diegene wat nie die gawes het nie, minderwaardig en ontoereikend voel. Die
mense word as tweederangs christene behandel. Jy kry dus groepe in die kerk:
’n geestelike elite wat selfvoldaan is en ’n groep wat neergehaal en
ontmoedig word.

Die kerk het so ’n houding en verdeling van die gemeente altyd al moet
bestry. Die charismatiese beweging maak hom skuldig aan dieselfde gees van
meerderwaardigheid. Met hul nadruk op die geestelike gawes ontmoedig hulle baie
opregte christene en diskwalifiseer hulle as tweederangs christene.

Maar geliefdes, laat ons nie dink dat iets dergeliks nie in ons gereformeerde
gemeente kan gebeur nie. Dis altyd verleidelik om bepaalde geestelik gawes in
die gemeente te benadruk ten koste van ander. Neem die gawe van kennis, die gawe
van verklaring van die skrifte, die gawe van onderskeiding van die geeste. Dis
pragtige gawes, baie belangrik in die kerk, selfs fundamenteel. Maar as ons dit
as die gawes in die gemeente gaan beskou waaraan ons alle lidmate gaan meet, dan
is ons skuldig aan dieselfde kwaad as die elite in Korinte. Dan laat ons diegene
wat nie die gawes het nie, minderwaardig en ontoereikend voel. Jy kry dan die
gevoel dat jy slegs ’n tweederangs christen is, onbelangrik en waardeloos. So
kry jy mense wat ontmoedig word. Mense wat die gevoel hê dat hulle nie nodig en
gewens is nie.

Dieselfde kan gebeur wanneer mense ander gawes oorbeklemtoon. Neem bv die
gawe van empatie of die gawe om met groot vrymoedigheid te getuig van die Here.
As daardie gawes as die kenmerk van ’n ware christen beskou word, wat gebeur
dan met hulle wat die gawes nie so duidelik wys nie? Is hulle dan minderwaardige
Christene?

Geliefdes, hoe reageer Paulus op so ’n verdeling van die gemeente in
meerderwaardige en minderwaardiger christene? In die vers 14-19 spreek Paulus
hulle aan wat hul minderwaardig voel. Wanneer die lyk asof jy minderwaardig is,
beteken dit dat jy nie daarby behoort nie? Beteken dit dat jy net so wel die
gemeente kan verlaat? Die voet is bv nie so handig as die hand nie. Jy kan as
voet teen die hand opkyk en jouself as waardeloos beskou: omdat ek nie ’n hand
is nie, is ek nie deel van die liggaam nie. Dis natuurlik dwaasheid. Die voet is
deel van die liggaam en maak die liggaam kompleet. Voete is ook baie waardevol.
Wat moet ’n liggaam sonder die voete? Daar is geen rede om ’n spesiale
geestelike gawe wat jy nie besit nie te beny nie. Daar is geen rede om jouself
te laat neerhaal nie. Jy hoef jouself nie ontoereikend te voel nie omdat jy ’n
sekere geestelike gawe nie het nie.

Paulus onderstreep dit met die voorbeeld van die oor en die oog. Die funksie
van die oog lyk belangriker. Daarom sou die oor kan dink: Omdat ek nie ’n oog
is nie, is ek nie deel van die liggaam nie. Dis natuurlik dwaas. Om goed te kan
funksioneer het die liggaam alle lede nodig. Elke lid is belangrik. Ook jy, ook
al voel jy jou miskien ontmoedig, misken. Die kerk het ook jou nodig om goed te
kan funksioneer. Volhard as ’n lewende lid van die kerk. Waardeer en gebruik
die talente wat God vir jou gegee het en die talente wat God vir ander gegee
het.

Gestel dat die liggaam net uit die oog sou bestaan? Hoe belaglik! Dit sou
geen liggaam wees nie. So sou ook die kerk ophou om kerk te wees as alle lidmate
wat sekere gawes nie het nie, hulle sou onttrek. Dit sou ’n elite groep van
mense word en nie langer die kerk van Christus wees nie.

Gestel dat alle lidmate van die kerk presies gelyk sou dink, handel en praat.
Hulle sou slegs een bepaalde talent wys. Dan sou jy slegs een lid sien en nie
’n liggaam nie. Paulus vra letterlik: "As almal een lid was, waar sou die
liggaam wees? Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam." En
iets later: "Maar julle is die liggaam van Christus en lede
afsonderlik."

Hoe belangrik is dit, broeders en susters, om dit te onthou: elkeen van julle
is slegs ’n deel van Christus se liggaam. Jy is nie alleen nie, jou gawe staan
nie op homself nie. God gebruik meer geleenthede en moontlikhede as die gawes
wat jy kan inbring. Daarom: beoordeel ander nie na jouself nie. Jy is nie die
kerk nie. Jy is nie die model vir ander lidmate nie. Jy is slegs ’n deel van
die liggaam. Verhef dus nie jouself tot norm waaraan jy ander beoordeel nie.
Pleks daarvan gebruik die norm van God se woord om eers jouself te beoordeel.

Broeders en susters, in die verse 20-26 keer Paulus hom na die geestelik
hoogmoediges. Die lidmate praat nie meer vanuit ’n posisie van
minderwaardigheid, soos in die vorige verse nie. Hier praat die lidmate in ’n
vernederende toon vir diegene wat hulle as minderwaardig beskou. Geen woorde
maak meer seer as die opmerking: ek het jou nie nodig nie. Hier kan die
hoogmoediges enige groep in die gemeente wees. Dis die houding wat Paulus afwys.

As jy ’n bepaalde gawe het, het jy geen reg om jou mede gelowige wat ander
gawes het, neer te haal nie. Jyself is hulpbehoewend. Om goed met jou gawe te
kan funksioneer, het jy die ondersteunende bediening van die ander nodig. Binne
die gemeente het elkeen van ons mekaar nodig. Hoekom lyk dit soms asof bepaalde
lidmate met hul spesiale gawes in die gemeente nie goed tot hul reg kom nie? Dit
kan veroorsaak word deur die feit dat die gemeente die gawes gewoon nie waardeer
nie. Maar dit kan ook wees omdat jy geen waardering vir ander se gawes kan
opbring nie. Wanneer ek geen vertroue in die gawes van ander het nie, dan
beledig is nie slegs God wat die gawes uitdeel het nie, maar dan benadeel ek ook
myself. Dan weier ek mos die hulp wat ek van ander nodig het om behoorlik te kan
funksioneer. Dan kan my eie gawes hulle volle potensiaal nie bereik nie. Hulle
word muf en ineffektief. Dis slegs in die samehang van die liggaam dat ons kan
funksioneer soos ons behoort. Besef ons dit wel voldoende?

Gemeente, Paulus wys daarop dat juis die dele van die liggaam wat die swakste
lyk noodsaaklik is. Dit kan bv gebeur dat ’n stil en teruggetrokke persoon
genegeer word deur hulle wat meer ekstrovert is en wat meer in die publiek
optree. Tog kan dit wees dat so ’n rustige persoon kragtig in die gebed is en
’n held in die geloof. Hy of sy is ’n onmisbare lid van die christelike
gemeente en keer skynbare swakheid in krag. Laat niemand enige lidmaat verag
deur hom of haar af te skryf nie, want die mense is noodsaaklik vir die welsyn
van die gemeente.

Paulus vervolg: "Die lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar
lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger
sierlikheid, terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie". Ons kan dus sê
dat die lidmate van die gemeente wat onbelangrik lyk, in ’n sekere sin juis
die belangrikste is. Hulle ontvang groter sorg en eer. Is dit so in hierdie
gemeente? Ontvang hulle wat minder belangrik lyk of swak is, groter sorg en eer?
God se bedoeling is om hulle te eer wat ander onteer.

Die sogenaamde swak broeders en susters is feitelik onmisbaar vir die
gesondheid van die liggaam. Diegene wat hulp ontvang is feitelik daar om hulle
wat hul hulp gee, te help. Ervaar ons dit soms nie wanneer ons mense wat in
moeite verkeer, opsoek nie? Ons gaan om die ander te troos. Ons ervaar dat
onsself getroos word. Hulle wat besondere sorg nodig het, bv die siekes, het dus
hul eie spesifieke taak en funksie ook vanuit ’n siek of sterfbed. Laat hulle
hul gawes dan ook gewillig en met vreugde gebruik tot nut en saligheid van die
ander lede. So is beide hulle wat hulp ontvang en hulle wat hulp gee ’n seën
vir mekaar. Deur die verskillende dele van die kerk saam te voeg, skep God iets
wat mooi en sterk is.

Soos in ’n liggaam, is die pyn van een lidmaat die pyn van almal. Wanneer
ek myself met ’n hamer op my duim slaan, dan voel my hele liggaam dit. Ek kan
dan sê: ek het my duim seergemaak. Maar ek kan ook sê: ek het myself
seergemaak. Dieselfde beginsel geld wanneer ’n lidmaat geëer word. Paulus sê:
"As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die
lede saam bly." So behoort dit in die kerk te wees. Omgee vir mekaar word
gewys deur saam te deel in die vreugde en verdriet van ander lidmate.

In ’n natuurlike, fisiese liggaam gaan dit outomaties. Jy moet maar ’n
hewige kiespyn hê. Jou hele liggaam voel dit. Wanneer daar nie so ’n gevoel
is nie, dan is daar iets fout. Ervaar julle dit ook so in die gemeente? Ja, ken
ons mekaar goed genoeg om bly te kan wees saam met hulle wat bly is, en om te ly
saam met hulle wat ly? Wat doen ons as individuele lidmate met hulle wat op een
of ander manier worstel? Wys ons dat ons saam met hulle worstel, dat ons werklik
omgee?

As ’n gelowige behoort ek nie in individualistiese terme te dink nie, maar
in terme van die liggaam. Julle is almal lede van ’n liggaam, Christus se
liggaam. Dit behoort jou ervaring en reaksie te bepaal. Elkeen van julle is deel
van die een liggaam van Christus.

So kom ons by die 2de gedagte van die preek. Die kerk is ’n
liggaam, die liggaam van Christus deur die samehanging van die lidmate (dit was
die 1ste gedagte) en deur die inwoning van die Gees (dit is die 2de
gedagte).

Geliefdes, die bestaan van die kerk as liggaam van Christus is werklik uniek.
Waar anders kan jy so ’n liggaam vind? Dit was in die vroeg christelike kerk
nog meer opvallend. Die kerk het mos bestaan uit mense van verskillende rasse,
kulture en sosiale posisies. Jode en Grieke, slawe en vryes het saamgekom. Mense
wat anders in die samelewing niks met mekaar te doen sou wil hê nie. Die
eenheid van sulke verskillende mense was ongehoord. Tog was hulle verenig in die
kerk van Christus.

Wat het hierdie mense by mekaar gebring? Ja, wat bring ons by mekaar? Nie die
natuurlike aantrekkingskrag na mekaar toe nie. Is ons ’n gemeente omdat ons so
goed met mekaar oor die pad kom? Of vanweë ons gemeenskaplike belange en
ideale? Daar is in die wêreld genoeg van sulke belangegroepe, genootskappe,
verenigings, klubs. Maar dis nie die kerk van Christus nie. Die bestaan van die
kerk kan nie uit die gedrag van mense verklaar word nie. Sosiologie kan nie die
geheim van die hierdie gemeenskap verklaar nie.

Nee, slegs God se aksie kan die kerk van Christus verklaar. Jy sal nooit die
bestaan van so ’n liggaam, met so ’n verskeidenheid van mense, kan verstaan
en waardeer sonder dat jy die werk van Christus se Gees erken nie. Paulus verwys
daarna in vers 13: "Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een
liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne."

Hulle wat tot geloof gekom het, Jode of heidene, het die doop ontvang as
teken van hul inlywing in die christelike kerk. Hulle is gedoop tot een liggaam.
Nie dat die doop self die inlywing bewerk het nie. Die doop is slegs ’n teken
daarvan. Dit is die Heilige Gees wat ons in Christus se kerk inlyf. Deur die
Gees vorm mense van sulke verskillende agtergronde en posisies een liggaam, die
liggaam van Christus. Dis die geheim van die kerk. Die Gees verenig sulke
verskillende mense in een liggaam. Dis werklik ’n groot wonder, ’n wonder
van genade. Mense wat van nature almal sondaars is, egoïste, wat slegs hul eie
belange en eer najaag, word saamgevoeg. God die Heilige Gees keer ons natuurlike
neigings om, oorwin ons natuurlik en gee ons ’n gemeenskapsgees. Hy bind ons
as sondaars saam in onderlinge liefde. Hy bind ons aan Christus en aan mekaar.

En gemeente, al die lidmate wat deur een Gees gedoop is tot een liggaam het
ook die een Gees ontvang. Ons is mos almal van die een Gees deurdrenk. Die Gees
is met Pinkster op die kerk uitgestort. Elkeen wat glo, deel in die vrugte van
die uitstorting van die Gees. Hulle word met die Gees deurdrenk.

Elke lidmaat het sy eie gawes en kragte ontvang om sy of haar plek en funksie
binne die liggaam te kan opneem. Paulus het die geestelike gawes netnou genoem
in die woorde wat aan die teks voorafgaan. Hy noem die gawes opnuut in die verse
28-31. Die kerk word deur die Gees saamgevoeg en deur die Gees toegerus tot
onderlinge diensbetoon. Dit verklaar die unieke karakter van die kerk van
Christus. ’n Wonder van genade. ’n Nuwe skepping. Nie afhanklik van jou of
my keuse of voorkeure nie. Maar ’n gevolg van God se keuse. Dit het God behaag
om jou en jou kinders af te sonder vir homself. Dit het Hom behaag om jou in die
christelike kerk in te lyf. Hy wou jou met geestelike gawes begiftig. Jy is vir
God dierbaar. Gekoop met ’n dure prys. Christus se eie bloed. Daarom ook
dierbaar vir mekaar. Saam is julle Christus se liggaam, elkeen afsonderlik is
deel daarvan.

Gemeente, laat hierdie bybelse beeld van die kerk as liggaam julle houding en
reaksie teenoor mekaar bepaal. Waardeer die eenheid wat God in Christus tot
stand gebring het. Ondanks alle swakhede en gebreke. Waardeer die gawes wat God
vir jou gegee het. Neem met vreugde jou plek in in die gemeente. Waardeer die
plek wat ander ontvang het. Dien mekaar in liefde. Dan kan jy werklik geniet van
die vreugde van die gemeenskap met Christus en met mekaar.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)