Jesus se vlug na Egipte waarborg ons uittog uit Egipte.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-01-12
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 15
Preek Inhoud: 

Sondag 15 n.a.v. Matthéüs 2:13-15

Ds C Kleyn - Sondag 12 Januarie 2003

Lees:

Hosea 11; Matthéüs 2:13-23; Sondag 15.
Sing: Ps 99:1,2; Ps 99:3,4,5; SB 7:1,2; SB 7:3-5; Ps 40:8.

Tema: Jesus se vlug na Egipte waarborg ons uittog uit Egipte.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Is dit wel gepas om so kort na die herdenking van Christus se geboorte te fokus op sy lyding en dood? Moet ons rond hierdie tyd nie juis fokus op Christus se grootheid en heerlikheid nie? Moet ons nie eerder roem in die vrede op aarde wat deur Hom kom bring nie? Rondom die kerstyd kon ’n mens allerlei sentimentele liedjies oor Jesus hoor. Liedjies wat die situasie van Christus by sy geboorte idealiseer. Het mense, het ons egter wel goed gelet op die berigte van Jesus se geboorte op aarde? Hoe het Christus gekom om vrede op aarde te bring? Het Christus in heerlikheid gekom? So heerlik en vredig was dit trouens nie rondom sy geboorte nie. Die Here Jesus het in vernedering op aarde gekom, as een wat verag was en deur die mense verlaat. Sy lyding het onmiddellik begin. Die duisternis wat op hom neergedaal het toe Hy aan die kruis gehang het, was reeds sigbaar in Betlehem. Daar was geen plek vir hom in ’n huis of herberg nie. Sy eie mense het nie klaargestaan om hom te verwelkom nie. Sy wieg moes ’n krip wees, ’n voerbak vir die diere. Terwyl lig die herders op die veld omring het, het duisternis die kindjie Jesus omring

Daarna moes hy as kind na Egipte vlug. Daarop wil ek vanoggend fokus as ek sondag 15 vir julle verkondig nav Mt 2:13-15. Ek verkondig vir julle: Jesus se vlug na Egipte waarborg ons uittog uit Egipte.

Na die vertrek van die wyse manne uit die Ooste verskyn ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en se: staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte. Die Here God neem sy maatreëls om sy plan van verlossing te vervul. Hy stuur een van sy engele na Josef. Engele is mos dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille wan die wat die saligheid sal beërwe (Hebr 1:14). Die saligheid van die wêreld is nou in geding. Daarom gryp die Here in. Hy gee vir Josef die nodige instruksies. Daar is geen tyd om te verloor nie. Josef, staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte.

Die kind word eers genoem. Dit gaan veral oor hom. ’n Kort rukkie gelede is Hy as die koning van die Jode geëer. Nou moet hy vlug. Die gebore koning van die Jode moet uit die beloofde land na die buiteland vlug. Dis nie onverskillig na watter land hy gaan nie. God stuur hom na Egipte toe. Die koning van die kerk moet van Betlehem, die stad van Dawid, na Egipte toe.

Waarom na Egipte toe? Nie omdat Egipte so naby is nie. Daar was toevlugsoorde naderby, oorkant die Jordaan. Die reis na Egipte is langer en baie moeiliker. Uit Mt 2 is dit duidelik dat God Egipte kies vanweë die betekenis van Egipte in die heilsgeskiedenis. Die Egipte waarna Jesus moet vlug, is dieselfde Egipte wat as slawehuis vir Israel gedien het. Dieselfde Egipte waaruit God sy volk bevry het, waaruit Hy sy seun geroep het, soos Hy sy volk genoem het. Elke keer dat God se volk die naam Egipte gehoor het is hulle herinner aan die slawerny en verdrukking uit die verlede waarvan hulle bevry is. Die aanhef van die wet het hulle voortdurend daaraan herinner: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.

Jesus Christus, die Seun van God, moet na die land van slawerny vlug. Blykbaar is hy veiliger daar as in sy eie land. Dit beteken nie dat die vlug na Egipte slegs ’n pad van ontkoming is nie. God stuur die Here Jesus op die pad van vernedering, op die pad van lyding. Hy moet uit Betlehem, die stad van Dawid, na Egipte vlug. Hy moet in Egipte as ’n vlugteling bly, as ’n vreemdeling sonder enige regte. Die koning van die Jode is aan die genade van die Farao van Egipte oorgelewer omdat hy in sy eie land geen genade vind nie. Ons verlosser moet uit die beloofde land vlug om as ’n vreemdeling ver van die tempel en van die heilige stad in Egipte te bly.

Die rede van die vlug is dat Herodes die kind wil opspoor en doodmaak. Herodes die Edomiet wil die koning van die Jode doodmaak voordat hy sy messiaanse koninkryk kan oprig. Hy wil die kroonprins verwyder voordat hy die kroon kan ontvang. Herodes die Edomiet sal geen risiko's neem nie. Hy sal al die seuntjies in die omgewing van Betlehem van twee jaar oud en daaronder doodmaak. Deur Herodes wil satan die beloofde saad van die vrou vernietig. Die beloofde kind is nie veilig is die beloofde land nie. Die aartsvyand is binne die eie gebied. Herodes die koning is soos ’n onderdrukkende Farao.

Josef volg onmiddellik die Here se instruksies op. Snags vertrek hy met die kind en Maria na Egipte toe. Hy het die beskerming van die donkere nag nodig. Daar gaan hulle deur die sandwoestyn na Egipte toe, ’n warm en gevaarlike reis. Ja, daar gaan die Redder van die wêreld as vlugteling.

Gemeente, wat ’n vernedering vir ons Here Jesus Christus. Die redder van die wêreld moet van die wêreld gered word. ’n Vlugtende koning, ’n vlugtende Messias. ’n Struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die heidene. Daar gaan die redder van die wêreld.

Maar, geliefdes, alles is in beheer. In God se beheer. God self stuur Jesus op die pad van vernedering en lyding. Op daardie manier is God besig om sy plan van verlossing te vervul. Wanneer Mt oor hierdie geskiedenis in sy evangelie skryf, vertel hy ons dat hierdie vlug na Egipte plaasgevind het "sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep."

God lei alles opsetlik op hierdie manier om sy plan van verlossing te vervul. So sien ons dat Herodes - ondanks homself - bydra aan die vervulling van God se planne. Dis nie so dat God ondanks die vlug na Egipte sy voornemens vervul nie. Nee, juis deur die vlug vervul God sy voornemens. Die Here het die verlossing van sy volk uit Egipte op die oog.

In Mt 2 word die woorde van Hosea 11:1 aangehaal. Daar lees ons: "Toe Israel ’n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep." Die profeet verwys hier na die begin van Israel se volksbestaan, na die dae van sy jeug toe Israel nog as 't ware ’n kind was. Toe het die Here die volk uit die slawehuis Egipte geroep. God het hulle op die pad van vryheid gelei na die beloofde land. Daardie tyd het God sy volk sy seun genoem. ’n opvallende benaming om sy intieme band met sy volk aan te gee. Moses moes vir Farao sê: "So spreek die Here: my eersgebore seun is Israel. Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien" (Ex 4:22,23). Die profeet Hosea verwys dus na die exodus van God se volk - wat hier God se seun genoem word - uit Egipte onder leiding van Moses.

Gemeente, dis egter nie al waarna verwys word nie. Daarom spreek die woorde ook ons vandag nog aan, elke sondag oggend wanneer ons die aanhef van die wet hoor: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het. Waaraan dink u dan? Dan dink u, as Nuwe Testamentiese volk van God, tog nie slegs aan die uittog uit Egipte nie. Die woorde is ook ’n profesie van die volkome verlossing van alle slawerny. Die woorde verwys ook na die finale verlossing van die slawerny van sonde en sy gevolge. So besef ons dat die volkome vervulling van Hosea se profesie nog ’n kwessie van die toekoms is. Iets waaraan ook ons deel mag kry. God se roeping van sy seun uit Egipte na Kanaän is mos beeld van iets baie groter. Die historiese exodus uit Egipte is ’n beeld van die volmaakte bevryding van God se volk in die hemelse Kanaän. Dit is waaroor dit uiteindelik gaan. Die bevryding uit die slawehuis Egipte is ’n simbool van die bevryding van die slawerny van die sonde. Soos die intog in die aardse Kanaän ’n simbool van die intog in die hemelse Kanaän. Die vaders wat Kanaän binnegetrek het, het daarin die aanvanklike vervulling van God se belofte gesien, maar hulle het ook nog uitgesien na ’n beter, dit is ’n hemelse vaderland.

Kom ons gaan terug na die aanhaling van Hosea in Mt 2. Dis belangrik om noukeurig te lees wat daar staan. In ons vertaling word die woord seun ( Uit Egipte het Ek my Seun geroep) met ’n hoofletter geskryf. Die veronderstelling is dat dit verwys na Jesus Christus. Hosea sou dan geprofeteer het van die exodus van God se eniggebore Seun uit Egipte. Maar geliefdes, is dit tereg? In sy profesie verwys Hosea duidelik na die geskiedenis van Israel se uittog uit Egipte. Die seun wat in Hosea genoem word en wat in Mt 2 aangehaal word, verwys duidelik na Israel wat God se seun genoem word. Daarom is dit nie reg om die word seun hier sommer met ’n hoofletter te vertaal, asof dit onmiddelik na Jesus Christus verwys nie.

Sommige verklaarders beskou Israel se uittog uit Egipte as ’n voorafskaduwing van Christus se uittog uit Egipte. In daardie geval sou Hosea na Israel se uittog uit Egipte verwys, terwyl Mt dit sou deurtrek en toepas op Christus se uittog. Dis egter opvallend dat die teks in Mt 2 nie staan in die verband van ’n uittog van Jesus Christus uit Egipte nie. Let op die plek waar Hosea aangehaal word. Wat word verbind met Israel se uittog uit Egipte? Nie Christus se uittog uit Egipte nie, maar Christus se vlug na en sy verblyf in Egipte. Die aanhaling uit Hosea, "uit Egipte het Ek my seun geroep" volg onmiddellik die berig van Jesus se vlug na Egipte toe. Christus moet vlug na Egipte sodat vervul sou word die woorde van die Profeet: Uit Egipte het Ek my seun geroep.

Mt sê nie dat Jesus se vlug na Egipte die vervulling is van die seun se uittog uit Egipte nie. Hy skryf nie: so is dan vervul die woorde van die profeet nie. Wat Mt sê is dat die Here Jesus na Egipte moes vlug sodat die profesie van Hosea sy volkome vervulling sou kan kry.

Want God kon nie sommerso sy sondige volk uit die slawerny van Egipte lei nie. God kon sy volk ook nie sommerso die volle bevryding van die slawerny van sonde en satan gee nie. Die volk, ja elkeen van ons, verdien dit nie. Dis opvallend dat Hosea 11 praat van ’n nuwe slawerny van God se volk omdat hulle geweier het om hulle te bekeer. God se roeping van sy seun Israel uit Egipte vereis die koms van sy eniggebore Seun. Die sondige volk het uit homself geen regte op die bevryding nie. Die sondige volk het die bevryding steeds weer ongedaan gemaak as 't ware. Luister maar na God se woord vir Hosea: "Hoe meer die profete hulle geroep het, des te meer het hulle van hulle af weggeloop; hulle het aan die Baals geoffer en vir die gesnede beelde rook laat opgaan. En Ek self het Efraim leer loop. Hy het hulle op sy arms geneem, maar hulle het nie erken dat Ek hulle genees het nie (Hosea 11:1,2).

Omdat Israel nie met die Here wou reken nie, sal die Here hulle opnuut in slawerny stuur. Egipte en Assur word op een lyn gestel. Die Assiriese ballingskap, die Babiloniese ballingskap beteken dat die exodus ongedaan gemaak word. Hosea 11 maak egter ook duidelik dat die Here nie tevrede is met die omkering van die uittog nie. Kyk maar na die verse 8-11. Die Here sal nuwe paaie oopmaak om die woord van profesie dat hy sy seun uit Egipte geroep het, te vervul. God sal ’n vaste basis onder die uittog lê. Hy sal die uittog nie ’n mislukking laat word nie. Hy gaan die exodus waarborg, die exodus uit Egipte, maar ook ons exodus uit die slawerny van sonde en satan. Daarom stuur God sy Seun na Egipte toe sodat die profesie van die uittog sy volle vervulling mag ontvang in die intog van die kerk in die hemelse Kanaän.

Geliefdes, juis die kontras wat Mt noem tussen Israel se exodus uit Egipte en Christus se vlug na Egipte is die evangelie van julle verlossing. Jesus vlug na Egipte, die slawehuis, sodat die profesie van julle uittog uit die slawehuis vervul kan word. Net op die grond van Christus se lydensweg het die Here toentertyd sy volk uit Egipte geroep en sal Hy eendag die roeping tot sy volkome vervulling bring.

Want, gemeente, in die vlug na Egipte volg Christus die pad van vernedering, om julle te kan verhoog. Christus moes Homself as Paaslam opoffer. Deur sy offer as vlekkeloos Lam waarborg Hy die bevryding, die exodus van sy volk, van u en my. Christus se vlug na Egipte is deel van Christus se pad van lyding, ja, dit simboliseer die hele pad van lyding vir sy volk.

God het Jesus van Herodes se swaard bevry, om hom te bewaar vir sy eie swaard, om hom later te tref met die verskrikking van die ewige dood, die helse angs en pyn. Vir die Here Jesus sou dit makliker gewees het om met die kinders van Betlehem te sterwe. Maar Christus het nog baie wat hy moet doen. Hy moet nog ’n lang pad van lyding volg. Hy moet die pad tot die bittere einde volg. Terwille van ons verlossing. Om u en my van alle slawerny en van die ewige verdoemenis te red. En om vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe te verwerf. Daarom het Hy die pad van lyding tot die bittere einde gevolg, tot die dood aan die kruis. Ek het die vloek van God verdien. My sondes het my skuldig gemaak aan die ewige verdoemenis. Deur my sondes het ek verdien om ewig onder slawerny te bly.

Wel, om my daarvan te bevry, is Christus onskuldig deur die wêreldse regter Pontius Pilatus veroordeel. Is Hy deur God die Vader self veroordeel. Die regter was mos sy dienaar. Christus het ons sonde en vloek op hom geneem. Uiteindelik het Hy op die kruis gehang, deur God en mense verlaat. Sodat ons ewig vrygespreek sou word en nooit meer deur God verlaat sou word nie.

Broeders en susters, Mt vertel die geskiedenis van Jesus se vlug na Egipte om u te wys wat nodig was vir u bevryding. Christus het die slawehuis opgesoek om u van alle slawerny vry te maak. Sy vernedering is u verhoging.

Elke week hoor ons die wet van die Here met sy ryke aanhef: "Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het". Jy mag daarin hoor dat die Here jou uit die slawehuis van sonde en satan uitgelei het. Die een wys mos op die ander. Daaroor gaan dit, oor die bevryding uit die slawehuis van die sonde. Christus het daardie werklikheid vir ons moontlik gemaak deur die lydenspad te volg tot selfs die dood aan die kruis.

Broeders en susters, aanvaar tog jou bevryding. Leef as bevryde kinders van God. Vlug van die sonde weg. Laat jouself nie weer slaaf word nie. Ja, die neiging is daar, soos dit in die Ou Testament daar was, om te verlang na die vleispotte van Egipte. God se bevryde volk wil dikwels terug na die sondes van vroeër. Dikwels waardeer hulle hul uittog nie meer nie en maak dit, so te sê, ongedaan. Laat dit van u tog nie gesê kan word nie. Waardeer tog jou verlossing in verwondering en dankbaarheid. Bly die pad van verlossing volg, op pad na die volkome verlossing na siel en liggaam. God het my uit die slawerny van die sonde geroep sodat ek Hom in vryheid sou dien. Daarom het die Here kort na die uittog sy wet vir sy volk gegee. Die wet wat ons herinner aan ons bevryding en ons by die vryheid wil bewaar.

Laat ons dan by die verlossing bly en die Here gewillig en met vreugde dien. Breek met die sonde. Terwille van Christus ons Here, wat ons deur sy lyding en dood losgekoop het. Hoe werklik is die woorde wat ons ook vanoggend weer gehoor het: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Ek is die Here jou God wat jou uit die slawerny van die sonde gered het. Wat ’n voorreg om sulke woorde te hoor. Die Here wil die uittog laat volg deur ’n heerlike intog, die intog in die hemelse Kanaän. Deur sy lyding en dood het Christus albei vir my wil waarborg. Wat ’n perspektief. Wat ’n doel om vir te lewe. Van verlossing tot verlossing. Jesus Christus is mos ons volkome bevryder.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)