Die uitnemendheid van die liefde

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-06-09
Teks: 
I Korinthiërs 13
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe kan jy ware christene uitken? Aan die christelike liefde. Christus se in Joh 13:35: "Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het." Die liefde kenmerk Christus se ware volgelinge. Ook al is hierdie kenmerk nie afdoende nie en kan dit nie op homself staan nie, dis tog een van die vernaamste kenmerke. "Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het." Ontdekkende maar ook beskamende woorde. Is ek, u, jy ’n ware dissipel? Wat aan die onderlinge liefde herken word?

Maar wat moet ek maak as die persoon wat ek moet liefhê self liefdeloos is en nie op my liefde reageer nie? Kan ek so ’n persoon bly liefhê?

Gemeente, in die gemeente van Korinte het lidmate blykbaar vergeet wat liefde is. God het allerlei geestelike gawes gegee, gawes soos profesie, kennis, genesing, hulpbetoon, die spreek in tale. Maar wat het hulle met die gawes gemaak? Sommiges het hulle met hul gawes gaan verhef bo die ander. Hulle het ander lidmate as minderwaardige, tweederangs christene gaan behandel. Hulle het vergeet dat jy bepaalde gawes ontvang om ander daarmee te dien en dat alle gawes, ook die wat onbeduidend lyk, tog belangrik is en nodig vir die optimale funksionering van die gemeente.

In hul verheffing van buitengewone geestelike gawes het hulle dit wat die belangrikste is, naamlik die liefde, genegeer. Daarom skryf Paulus: en ek wys julle ’n nog uitnemender weg, naamlik die weg van die liefde.

Liefde word geteken as ’n pad wat jy volg, as ’n manier van lewe. Dis ’n oorkoepelende lewenstyl wat baie belangriker is een of ander geestelike gawe. Sonder liefde word die geestelike gawes waardeloos. Die liefde gee betekenis en diepte aan die geestelike gawes.

Daarom skryf Paulus: maak nie saak hoe geweldig dit is om in tale te praat, as ek die liefde nie het nie, is ek ’n klinkende metaal of ’n luidende simbaal. Sonder liefde het ek self ’n leeg, niksseggende geluid geword. Ja, selfs die gawe van profesie, maak nie saak hoe veel betroubare informasie en kennis ek daaruit verkry, as ek die gawe sonder liefde gebruik dan is ek niks nie. Dieselfde geld vir die gawe van geloof wat in staat is om berge te versit. Sonder liefde het dit geen wesenlike waarde nie. Paulus se slotsom is verpletterend: dis nie slegs so dat die geestelike gawes sonder liefde waardeloos is nie, maar ek is dan self niks, geestelik is ek ’n nul.

Broeders en susters, Paulus volstaan nie met voorbeelde van die meer uitnemender gawes nie. In vers 3 noem hy buitengewone, selfopofferende mensliewendheid en martelaarskap: "En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie."

In die verband sê Paulus feitelik: jy wat dink dat jy so geestelik is omdat jy besondere gawes het of omdat jy selfopofferende dade verrig, jy moet verstaan dat jy die belangrikste oor die hoof sien. Op hulleself getuig jou geestelike gawes heeltemal nie van jou geestelikheid nie. Indien die liefde nie die gebruik van die gawes tipeer nie, dan bly jy geestelik bankrot, dan is jy ’n geestelike nul.

Vertaal na vandag toe kan ons sê: jy wat dink dat jy so geestelik is omdat jy trou kerk toe gaan, jou offergawes gee, jou daaglikse huisgodsdiens oefen, ek sê vir jou: daardie handelinge bewys op hulleself niks nie. Jy wat dink dat jou groot teologiese kennis bewys dat jy geestelik is, ek sê vir jou dat sulke kennis op homself niks bewys nie. Indien liefde jou lewe en gedrag nie bepaal nie, dan is jou geestelikheid nog nie kenbaar nie. Die eerste vrug van die Gees is mos die liefde.

Maar, broeders en susters, beteken dit dan dat die ander dinge onbelangrik en onnodig is solank as jy maar liefde het? Dit gebeur dat mense wat ander met die woord van God aanspreek as arrogant en liefdeloos beskou word. Mens hou nie daarvan om te hoor wat God van hulle eis nie. Hulle hoor liewer dat God liefde is, punt.

So is daar mense wat dink: jy mag jou leer, jou kennis van die Bybel hê, ek volstaan met die liefde. Asof dit ’n kwessie is van die een of die ander.

Teenoor hierdie misvatting is dit belangrik om te onthou dat 1 Kor 13 tussen 1 Kor 12 en 1 Kor 14 voorkom. 1 Kor 12 praat van die plaaslike kerk as die liggaam van Christus. Elkeen is nodig, en elkeen het die ander lidmate nodig om goed te funksioneer. Alle gawes is belangrik, die gawe van kennis maar ook die gawe van hulpbetoon. Daar is geen plek vir kompetisie of minagting van mekaar nie. Paulus beëindig die 12e hoofstuk met die woorde: Maar beywer julle met die oog op die beste gawes. Dan gaan hy praat oor die pad van die liefde (hoofstuk 13) "en ek wys julle ’n nog uitnemender weg", die weg van die liefde. Waarom praat Paulus oor die liefde? Nie om die geestelike gawes as minderwaardig te diskwalifiseer nie. Nee, Paulus noem die liefde as ’n weg waarlangs die geestelike gawes effektief gemaak word. Liefde word geteken as die uitnemender weg. Nie as die uitnemender gawe nie. Liefde is ’n weg, ’n pad wat jy in die kerk moet loop, die pad wat geloop moet word om God se bedoelings te bereik.

Daarom kan die liefde waaroor Paulus in 1 Kor 13 skryf nie op homself staan nie. Dit gaan oor die welsyn van die kerk. Die liefde reël, so te sê, die verkeer binne die kerk. Daarom, wanneer jy oor die liefde praat en dit benadruk, moet jy altyd die kerk voor oë hou. Dit gaan daaroor dat die kerk kan funksioneer soos dit behoort. Wanneer jy jouself emosioneel of fisies aan die gemeente onttrek, dan vergeet jy waaroor die liefde, waaroor Paulus praat, gaan.

Bowendien kan jy nooit die liefde benadruk ten koste van die verskillende gawes nie, bv. ten koste van die gawe van kennis van die woord van God. Kyk maar na die hoofstuk wat op die liefdeslied volg. Ons lees in 1 Kor 14:1 "Jaag die liefde na, en beywer julle met die oog op die geestelike gawes, maar veral om te profeteer." As jy eenmaal verstaan wat die liefde is, kan jy opnuut die geestelike gawes waardeer. Jy besef dan bv hoe fundamenteel en belangrik die gawe van profesie is. Jy verag dan nie die leer van die Bybel nie, maar jy lê jou daarop toe om die woord van God te ken en te spreek. Daaroor gaan dit by profesie.

Daarom, om ander vanuit die woord van God aan te spreek, het as sodanig niks met arrogant wees of liefdeloosheid te make nie. Solank dit maar op ’n opbouende, liefdevolle manier gedoen word. Die liefde lei nie weg van die gemeenskap van die heiliges nie, lei ook nie weg van die leer van die Skrifte nie. Die teendeel is waar. Die liefde dryf jou na die kerk toe en na die leer van die skrifte.

Maar nou die liefdeslied self. As die liefde so belangrik is, moet ek wel weet wat dit is. Paulus gee ’n baie praktiese omskrywing van die liefde. Hy gebruik werkwoorde: as jy liefhet, gedra jy jouself op ’n bepaalde manier. Jy sal sekere dinge doen of nalaat vanweë die tipe persoon wat God besig is om van jou te maak. Hierdie kwaliteite, handelinge is prioriteit vir elke christen. As dit afwesig is, sal jy as christen kwyn en sal die kerk uitmekaar val.

Die werkwoorde wat Paulus gebruik wys op ’n houding en dade wat daar deurlopend moet wees, ingewortel deur voortdurende herhaling. Hulle klink gewoon, vanselfsprekend, maar hulle is waarskynlik die mees moeilike gewoontes om te ontwikkel.

Paulus is besig om die spieël voor die Korintiërs, ja voor julle en my te sit. Dit maak dit maklik om onsself te beoordeel. Ek hoef slegs in die spieël van die liefde te kyk.

Die eerste twee uitdrukkings vorm ’n soort inleiding of samevatting: die liefde is lankmoedig en vriendelik. Dit wys op liefde se passiewe en aktiewe reaksie teenoor ander. Eers ons passiewe reaksie: liefde is lankmoedig. Lankmoedigheid is die krag om beseer of benadeel te word sonder om wraak te neem. Jy kan ’n lange tyd slegte behandeling deur ander verdra sonder om haatdraend of bitter te word. Hoe kan jy onder die mishandeling lankmoedig wees? Vir slawe wat deur hul here misbruik word, vertel Petrus om die voorbeeld van Christus te volg "wat toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel (1 Pt 2:23). Om geduld by mishandeling te ontwikkel moet jy ook die oortuiging ontwikkel van die trou van God om terwille van jou op te tree. Petrus vertel ons dat hulle wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan hul getroue Skepper moet toevertrou met goeie dade. Vertrou jouself toe aan God se reg en trou.

Gemeente, lankmoedigheid beskryf ook die reaksie van gelowiges op die provokasie van ander. Mense kan soms dinge doen wat neig om ons woede op te wek, waardeur ons ons humeur verloor. Dis anders as die mishandeling deur ander wat buite ons beheer is. By provokasie is ons by magte om iets daaraan te doen.

Die geheim van geduld onder provokasie is om God te ken as diegene wat "stadig om toornig te wees" is. Oordink God se geduld teenoor jou. Hierdie geduld negeer nie die provokasie van ander nie. Dit wil slegs op ’n goddelike manier daarop reageer. Dit stel ons in staat om ons humeur te beheer wanneer ons uitgedaag word en om die persoon op so ’n manier te benader dat die verhoudings eerder herstel as vererger word. Dit soek die beste vir die ander, pleks van die bevrediging van ons eie geprikkelde gevoelens.

Broeders en susters, geduld moet ook ons reaksie tipeer op die foute en tekorte van ander. Dit gebeur voortdurend dan mense hulle gedra op maniere wat ons raak, irriteer of teleurstel, ook al is dit nie direk teen ons gerig nie. Ongeduld met die tekorte van ander kom dikwels voort uit hoogmoed. Hoe dikwels hoor ons nie die smalende opmerkings oor die dwaasheid, die onhandigheid of die onbekwaamheid van ander. Sulke opmerkings ontstaan uit ’n gevoel dat ons slimmer of meer bekwaam as die ander is. Selfs as dit waar is, sê Paulus vir ons in 1 Kor 4:7 dat watter gawes ons ook al besit deur God aan ons gegee is. Ons het dus geen enkele rede om in onsself te roem nie en onsself bo ander te verhef nie. Wanneer ek bewus is van God se groot geduld met my tekortkomings, kan ek hoflik die swakhede van ander dra en hulle vergeef soos God my vergewe het.

Die geduld verbied jou nie om die foute van ander te korrigeer nie. Maar sulke teregwysing sal dan wel in die regte houding moet gebeur. Ek moet dan nie probeer om die splinter uit die oog van my broeder te haal nie – die irriterende gewoonte of fout – totdat ek eers die balk uit my eie oog verwyder. Die balk in my oog kan enige verkeerde houding teenoor my broeder wees. Dit kan irritasie wees, hoogmoed of ’n kritiese of veragtelike houding. Wat my verkeerde houding ook al mag wees, ek moet eers dit aanspreek. Ek moet seker maak dat my begeerte om te korrigeer of te konfronteer nie uit ’n gees van ongeduld voortkom nie, maar uit ’n gees van liefde en sorg vir die welsyn van die ander.

Broeders en susters, liefde is nie slegs lankmoedig nie, dis ook vriendelik. Vriendelikheid is die drang om iemand positief te benader, om goed vir ander te doen. Dit kan iets baie eenvoudig wees soos ’n glimlag, ’n dankie, ’n bemoedigende woord, ’n blyk van herkenning. Vriendelikheid wys dat jy werklik omgee. Van nature is ons geneig om slegs vriendelik te wees vir hulle tot wie ons ons aangetrokke voel, familie, vriende, liefhebbende mense. Maar God wys vriendelikheid vir hulle wat die mees veragtelik is, die ondankbares en slegtes. Het jy ooit geprobeer om vriendelik te wees vir iemand wat onvriendelik en ondankbaar is? Tensy God se genade in jou hart werk, sal jou reaksie teenoor so ’n ondankbare persoon waarskynlik wees: ek wil niks meer met hom te doen hê nie. Maar God keer sy rug nie op die ondankbares nie. Daarom sê die Here Jesus: "julle moet jul vyande liefhê; seën wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat." Ontwikkel ’n vriendelike houding om fyngevoelig te wees en werklik die beste vir ander te soek.

Na hierdie twee inleidende uitdrukkings noem Paulus 7 werkwoorde wat wys hoe die liefde hom nie gedra nie. Verskeie elemente van die werkwoorde is reeds gedek deur die twee inleidende uitdrukkings. Daarom kan ons kort wees.

Die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie. In die verband verwys Paulus na jaloesie, hoogmoed en selfsug in die kerklike gemeente. Mense is jaloers op ander s’n sukses, seëninge en gawes. Mense is ontevrede met hul eie gawes en moontlikhede. Hulle wedywer vir meer ruimte, eer en erkenning. Ander spog oor hul gawes en vermoëns. Hulle vra aandag vir hulleself. Hulle roem oor wat hulle bereik het. Die liefde is egter nie opgeblase nie.

Vroeër het Paulus vir die Korintiërs geskryf om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase wou wees teen ’n derde nie (4:6). Hy het hulle geleer om die Skrifte te gehoorsaam, dit sal hulle teen hoogmoed beskerm. Sommige Korintiërs is inderdaad hoogmoedig. Hulle roem op hul kennis. Paulus skryf egter: die kennis maak opgeblase, maar die liefde stig (8:1). Sonder liefde ontaard kennis in verwaandheid. Met liefde is dit ’n waardevolle besit. Hoogmoed is opgeblase selfsug, terwyl liefde opregte ootmoed is. Liefde en hoogmoed sluit mekaar uit.

Die liefde handel nie onwelvoeglik nie. Dit benader ander nie op ’n ongepaste manier nie. Die liefde soek nie sy eie belang nie. Jy leef nie vir jouself, vir jou eie voordeel nie. Jy soek die beste vir die ander. Slegs God se liefde kan my in staat stel om my eie selfsug te sien en te oorwin. In God se liefde is daar geen plek om myself steeds te laat geld nie, om my gawes te verag, om op my broers en susters jaloers te wees of om hulle ongevoelig te behandel. Sulke liefde keer ons na buite toe om na die behoeftes en belange van ander om te sien. Wanneer ek ontdek dat my houding of gedrag ander seermaak of beledig, dan bring die liefde my daartoe om my gedrag en houding aan te spreek.

Vervolgens noem Paulus drie maniere waarin die swakhede, sondes en tekorte van ander ons maklik tot liefdeloosheid kan bring. Eers is daar gewoon mense wat ons kan terg. Daarom: liefde word nie verbitterd nie. Dis verleidelik om sulke mense te blameer vir hulle impak op my. Maar pleks daarvan moet ek die werklikheid van my eie liggeraaktheid eerlik onder oë sien. As ek werklik iemand met die liefde van God liefhet, dan sou ek die provokasie kan hanteer. Ek sou dan nie daarna verlang om dit wat gebeur het op te blaas nie sodat dit my houding gaan domineer nie.

Tweedens verwys Paulus na werklike kwaad by ander. Ek sondig, so ook ander Christene. Ons kan die slagoffer daarvan wees. Die gevaar is groot dat ons ’n lys van alle verkeerde dinge van die persoon daarop nahou (ons noteer elke misstap van die ander) en ons bly sulke gedrag toereken. Maar liefde is vergeetagtig wanneer dit gaan oor die herinnering aan kwaad van ander. Die liefde vergeet en vergewe.

Derdens rig Paulus ons aandag op ons houding teenoor sonde in die algemeen. Daar is ’n lelike streek in die mens om soms juis bly met die kwaad van ander te wees. Dit kan maklik gebeur dat ons nie bly is met wat goed en waar is nie, maar met wat vuil en sleg is. Ons vind valse troos in die val en mislukking van ander. Dalk omdat ons dink dat dit ons meer vryheid gee om self te kan sondig. Dis die teenoorgestelde van die liefde. Die liefde wil ander graag sien staan en groei. Die liefde is bedroef wanneer ander val. Die liefde is bly met hulle wat bly is, en bedroef met hulle wat bedroef is.

’n Sekere vorm van bly wees oor ongeregtigheid, is skinder oor die misstappe van ander. Die liefde skinder nie. Die liefde bedek ’n menigte sondes.

So kom ons by die laaste vers. Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde bly stil oor negatiewe dinge van ander. Die liefde glo alles. Dit beteken nie dat jy liggelowig is nie, dat jy wysheid en onderskeidingvermoë maar moet laat vaar nie. Nee, die liefde is altyd wys en wakker. Maar die liefde is liewer lojaal in sy openheid en aanvaarding as wantrouend en sinies.

Die liefde hoop alles. Jy verloor nie hoop nie, ook al lyk die werklikheid in stryd met wat jy hoop. Jy is altyd gereed om die skuldige ’n nuwe kans te gee. Jy hoop vir die beste, ook wanneer jy herhaaldelik teleurgestel is. Jy bly hoop vir die terugkeer van die verlore seun.

Die liefde verdra alles. Daar is niks wat die liefde nie kan verdra nie. Jy kan dit volhou maak nie saak wat gebeur.

Maar, broeders en susters, is die laaste uitdrukkings wel realisties? Kan jy sê dat die liefde alles bedek, alles glo, alles hoop en alles verdra?

Na vers 6 is dit duidelik dat ‘alles’ hier nie in absolute sin bedoel word nie. Vers 6 lees mos: "Die liefde is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid." Wanneer ek die ongeregtigheid haat, dan is daar ’n grens aan wat ek bedek. Bv, wanneer iemand in ’n ernstige sonde volhard dan mag ek nie stil bly nie. Daarvoor het ek die br of sr te lief. Dit sou liefdeloos wees om in sulke omstandighede dit toe te dek. Dit kan selfs rampsalig vir die sondaar wees. Die liefde dwing my om die saak op te volg sodat die br of sr van sonde bevry mag word.

Die ‘alles’ in die teks is dus nie bedoel in ’n absolute sin nie. Dit geld ook vir die uitdrukkings: dit glo alles en hoop alles. Die liefde is nie blind vir die sondes en tekortkomings van ander nie. Daarom is daar ’n grens aan wat jy glo en hoop.

Maar waarom dan die woord ‘alles’? Die Here benadruk daarmee dat die liefde ’n positiewe houding en benadering gee. Die liefde is positief en nie negatief nie. Lees hierdie vers gerus in teenstelling tot wat liefdeloosheid en haat doen. Wanneer jy nie liefhet nie dan het jy die drang om sleg oor iemand te praat. Wanneer jy haat dan glo jy en hoop jy niks goeds nie. Wanneer jy nie liefhet nie kan jy niks verdra nie. Jy word totaal negatief en wantrouend. Wat doen daarenteen die liefde? Dit bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles.

Broeders en susters, mense het daarop gewys dat die liefdeslied die karakter van Here Jesus beskryf. Daarom stel hulle voor om die woord ‘liefde’ met die naam ‘Jesus’ te vervang.

Paulus se doel is egter om ons aan te moedig tot groter liefde. Sy bedoeling word die beste weergegee deur die woord liefde te vervang met jou eie naam. Kan jy sê: ek is lankmoedig en vriendelik. Ek is nie jaloers nie; ek praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie my eie belang nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly met die waarheid. Ek bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

Dink hieroor na. Wat is jou konklusie? Moet ek dit noem? Verneder jouself voor die Here. Vlug na die kruis. Soek die vergewing in Jesus Christus. En die vernuwing deur sy Gees. Fokus op God wat liefde is. Laat sy liefde jou aanvuur, motiveer. Laat die liefde jou houding en gedrag steeds meer gaan bepaal. En jy sal herken word as ’n ware dissipel van Christus.

AMEN

Liturgie: 

1 Korinthiërs 13:1-7
Ds C Kleyn - Sondag 9 Junie 2002
Lees: 1 Korinthiërs 12:31-14:1.
Sing: Ps 122:1,2; Ps 106:1,2; SB 21; Ps 131.
Tema: Die uitnemendheid van die liefde.
Op watter manier is die liefde uitnemend;
Wat is die liefde.
Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.