Gee ag op mekaar.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-06-16
Teks: 
Hebreërs 10
Preek Inhoud: 

Hebreërs 10:24,25

Ds C Kleyn - Sondag 16 Junie 2002

Lees:

Hebreërs 10:19-39.
Sing: Ps 111:1,2; Ps 112:1,4; Ps 86:6; Ps 43:3.4; Ps 84:3,4,6.

Tema: Gee ag op mekaar

  1. Waarom? Die motief;
  2. Waarvoor? Die doel; en
  3. Hoe? Die middel.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe ervaar julle die gemeente waarvan julle lid is? Word daar in die gemeente
werklik vir mekaar omgegee? Ook vir hulle wat dreig om van die gemeente te
vervreemd? Ook vir die eensames wat hulle soms verlore kan voel? Ja, broeders en
susters, gee u, gee jy werklik om vir die ander lidmate? Op watter manier wys jy
dit?

Bowendien, hoe sien julle die eredienste? Wat verwag julle van die
eredienste? Gaan daar ook werklik iets van die eredienste uit? Wat dan?

Ons teks speek sulke vrae aan. Ernstige vrae, wat die hart van ons
christelike gemeente raak.

Ek verkondig vir julle:

Gee ag op mekaar

  1. Waarom? Die motief
  2. Waarvoor? Die doel
  3. Hoe? Die middel

In die teks gaan dit veral oor die woorde: laat ons op mekaar ag gee. Dis die
hoofgedagte. Om op mekaar ag te gee kan op verskillende maniere gebeur. Jy kan
so terloops op mekaar ag gee of dit ook noulettend doen. Dan dink ’n mens gou
aan die streng sosiale kontrole van die klein dorpies en klein kerke.

Dis opvallend dat in ons teks juis ’n baie sterk woord gebruik word. Dit
kan selfs die betekenis hê van mekaar beloer, mekaar bespied. Moet ons dan
mekaar beloer? Nee, so nie. Om mekaar te beloer klink nogal negatief. So maak
ons soms ook in die omgang met mekaar. "Moet hom of haar eers sien" sê
ons dan vir mekaar, met ’n toon van minagting of leedvermaak. Julle ken almal
wel die geniepsige skinder en geklets. Moet jy nou weer eers hoor of sien wat hy
of sy gemaak het.

As die Here dit nie so bedoel nie, waarom gebruik Hy dan die sterk werkwoord?
Die Here wil met die opvallende uitdrukking duidelik maak dat ons goed op mekaar
moet let. Nie vlugtig of oppervlakkig nie, maar noulettend. Gee noulettend ag op
mekaar. Sorg daarvoor dat jy die ander nie links laat lê nie. Laat die ander
nie jou aandag ontglip nie. Pasop dat jy nie so met jouself, jou vriende of jou
familie besig is, dat jy geen oog vir ander het nie. Wys opregte belangstelling
vir mekaar. Ja, hoe het dit vanoggend gegaan toe jy die kerk ingestap het en in
die bank ingeskuif het? Het jy die ander lidmate ook gesien en gegroet? Was daar
die vriendelike herkenning van mekaar? Dit is soms klein dingetjies wat die
belewing van die erediens baie aangenamer kan maak.

Maar waarom moet ek dan soveel belangstelling vir ander hê? Die skrywer van
die brief aan die Hebreërs gee nie sommer ’n goeie raad nie. Hy plaas sy
aansporing teen die agtergrond van Christus se verlossingswerk. Die teks is deel
van die skrifgedeelte wat begin by vers 19.

Vers 19 vorm die begin van ’n nuwe gedeelte in die brief. In die
voorafgaande is veral die hoëpriesterlike werk van Jesus Christus uiteengesit.
Daar word die rykdom van die nuwe bedeling geskilder teenoor die armoede van die
ou bedeling. Onder die ou bedeling wys alles nog daarop dat die ware versoening
met God nog nie bewerk is nie. Die priesters moet bly offer en die voorhangsel
van die tempel verhinder die toegang tot God. Die volk moet voor die gordyn bly.
Slegs die hoëpriester mog eenmaal per jaar in die allerheiligste ingaan.

In die huidige nuwe bedeling is dit nou duidelik anders. Wat die sondige hoëpriesters
nie kon doen nie, het Jesus Christus as Hoëpriester gedoen. Hy het die
volmaakte offer, wat afdoende is, gebring. Hy het daarna die hemelse heiligdom
binnegegaan. Nie slegs as verteenwoordiger nie, maar as baanbreker. Hy het vir
ons die weg na God se troon gebaan. Nou mag ons Hom volg. Ons mag agter Hom aan
God se heiligdom ingaan.

Wel gemeente, hierdie geweldige rykdom, waar die brief aan die Hebreërs oor
spreek, word in die verse 19 en 20 van ons hoofstuk saamgevat met die woorde:
"Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan
deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het
deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ’n groot Priester oor die
huis van God het." Hieraan verbind die skrywer dan sy aansporing. Die
geweldige rykdom vorm die basis van die vervolg. "Nou dit so is, laat ons
toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid" ens.

Julle het toestemming om tot God te gaan. Die pad lê oop. Julle het ’n
groot priester in die hemel. Kom dan rustig na vore. Sonder angs vir die
verterende heiligheid van God. Gefokus op jul Hoëpriester Jesus Christus. Hou
die belydenis van wat julle, op grond van die evangelie, hoop vas. Gee op mekaar
ag.

Waarom moet julle goed op mekaar ag gee? Vanweë die geweldige werklikheid.
Julle mag tot God gaan. Julle het ’n groot priester oor die huis van God. Let
op die laaste woorde. Jesus Christus is nie net Priester vir jou nie, maar ook
vir die ander lidmate, vir die huis van God, oor die gemeente. As jy Jesus
Christus sien, dan sien jy ook sy verlostes staan. Dan sien jy jouself tussen
hulle staan. Saam ryk. Christus het Homself vir sy gemeente gegee. Wat is die
broers en susters dan dierbaar vir jou. Jy het ’n hart vir hulle. Want
Christus het ’n hart vir hulle. Hy het vir hulle sy liefde verklaar.

Is dit hoe julle na mekaar kyk? Soos julle nou saam hier sit en luister na
die preek? Moet ons nie tot ons skande bely dat ons dikwels vergeet om so na
mekaar te kyk nie. Ons kyk so maklik na mekaar sonder om na Christus te kyk. En
dan gaan dinge fout. Dan vererg ons ons gou oor mekaar. Vanuit ons eie
vooroordele skryf ons vinnig mekaar af. Moet jy hom of haar eers sien of hoor!

Broeders en susters, slegs as jy jou weer op Jesus Christus fokus, kom die
gemeenskap van die heiliges opnuut in beeld. Onthou: Christus het Homself vir so
’n klomp swak en sondige mense (waarvan ek ook een is) wil gee. Ons mag saam
aantree. Nie vanweë ons voorbeeldige gedrag nie, maar danksy Christus se offer.
Jy mag toetree met ’n hart wat deur Christus se bloed en Gees gereinig is.. As
jy op Christus bly fokus, dan kry jy goed sig op mekaar. Julle besef dan dat
julle uit genade saam ryk is. Julle herken dan mekaar as mense wat saam verlos
is en saam op pad is. Saam op pad na die groot dag van Christus se wederkoms.

Die teks sê dan ook dat ons op mekaar ag moet gee en dit des te meer namate
julle die dag sien nader kom. Ons is soos wagters op die muur wat uitkyk na die
nuwe dag wat kom. Wat sien ons daar? Ons sien dat die dag nader kom, ja, dat
Christus nader kom. Hoe sien ons dit? Ons sien dit aan die verbreiding van die
evangelie oor die hele wêreld. Ons sien dit aan die afval, aan die verkilling
van die liefde vir God en die naaste, aan die rampe en noodtoestande wat daar
is. Hou dit alles maar goed dop. Christus is aan die kom.

Daarom is dit des te meer nodig om goed ag op mekaar te gee. Gestel dat een
van jou medereisigers agterop sou raak en die heerlike einddoel sou mis. Gestel
dat daar een of meer is wat in die greep van die massale afval teregkom. Daar is
geen tyd om te verloor nie. Christus kom terug. Definitief. Vir die laaste
oordeel. Kan jy dan die medegelowiges, die medereisigers aan hul lot oorlaat?
Hulle laat vereensaam of verdwaal of verongeluk? Nou die gevare aan alle kante
dreig en die einde steeds meer in sig kom?

Gemeente, ons het nou gekyk na die waarom van die ag gee op mekaar. In
Christus is ons saam ryk en saam op pad na sy groot dag. Ons wil nou let op die
waarvoor van die onderlinge toesig. Wat is die doel daarvan?

Hierdie ag gee op mekaar is geen kwessie van bemoeisug of negatiewe
nuuskierigheid nie. Die teks noem as positiewe doel: om tot liefde en goeie
werke aan te spoor. En iets later word die woord vermaan gebruik, ’n woord wat
ook bemoedig en vertroos kan beteken. Dit gaan daaroor dat ons positief met
mekaar besig is. Dat ek die ander stimuleer, bemoedig, aanvuur, vermaan.

In die kerk moet liefde en goeie werke oorvloedig wees. Sonder die twee is
die kerk geen kerk meer nie. Dit is dan ’n dooie gemeenskap. Die hart is daar
dan uit. Daarom moet ons mekaar aanspoor tot liefde en goeie werke. Die liefde
mag julle baie breed neem as die liefde vir God en vir die naaste. Die liefde
moet die bron van al julle dade wees. Daaruit vloei dan die goeie werke voort.
Dis ’n saak van brandende harte wat uiting vind in ’n lewe van dankbaarheid.

Op hierdie punt – die hart van die christelike gemeenskap – sal ons skerp
op mekaar moet ag gee. Die liefde kan so maklik kil word, waardeur ook die goeie
werke verdwyn. Dit kan gebeur deur die sorge van die lewe, deur die swaar laste
wat ons moet dra, deur teleurstellings wat ons moet verwerk, deur eensaamheid of
verborge stryd. Dit kan ook gebeur deur die aantrekkingskrag van die wêreld.
Die liefde moet voortdurend aangevuur word. Gee daarom goed ag op mekaar. Spoor
mekaar aan. Laat jul omgang met mekaar bemoedigend wees, positiewe stimulans gee
tot liefde en goeie werke. Waar die liefde kil word, daar dreig mos die dood van
die lidmaat en die dood van die gemeenskap van die heiliges.

Gemeente, om mekaar werklik positief te kan aanspoor in elkeen se eie
lewenssituasie, is die eerste vereiste dat ons noukeurig op mekaar ag gee. Nie
oppervlakkig en sonder ware belangstelling nie. Maar met oop oë, oop ore en oop
harte. Om goed te luister blyk moeilik te wees. Dan praat ons langs mekaar heen.
Die eerste vereiste vir ’n positief en opbouende gesprek is dat ons goeie
aandag gee aan die ander, aan die dinge wat hom of haar besighou, sy of haar
sorge en spanning. Dan vermoei jy die ander nie met dinge wat jy self
interessant of belangrik vind nie, maar dan leer jy om die ander te bemoedig
waar hy of sy dit so nodig het. Met liefde en fyngevoeligheid.

Hoe heilsaam is dit om so met mekaar om te gaan. Hoe ryk is dit om werklik
vir mekaar oop te wees met ’n luisterend en opmerksame oor. Hoe heilsaam is
dit om mekaar voortdurend aan te spoor tot liefde en goeie werke. Daardeur kan
die gemeentelewe bloei, en die lewe van die individuele lidmaat. Ja, wat sal God
dan kan geniet van die oorvloedige vrugte van sy Gees.

Gemeente, in ons teks wys die Here nie net op die motief en die doel van die
ag gee op mekaar nie. Hy wys ook op die middel waardeur dit in die praktyk
gebring kan word. Dis die derde gedagte van die preek.

Die Here wys op die kerkgang wanneer Hy sê: "Laat ons ons onderlinge
byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie." Blykens die teks
het sommige lidmate daar ’n gewoonte van gemaak om hul eie byeenkomste te
versuim. Of hulle dan êrens elders saamgekom het of nêrens kerk toe gegaan
het, word nie uitdruklik gesê nie. Die feit dat so nadruklik gepraat word van
ons eie byeenkoms laat ’n mens egteer ook dink in die rigting van mense wat êrens
elders kerk toe gaan. Ons kan dan ook dink aan mense wat wel kerk toe gaan, maar
nie waar hulle behoort nie. Dis vir ons vandag geen onbekend verskynsel nie. In
die buiteland noem hulle dit "church shopping." Sommige mense maak
daar ’n gewoonte van om reëlmatig eredienste van ander kerke as waarvan hulle
lid is, by te woon. Om watter rede ook al.

Maar is so ’n gewoonte dan verkeerd? Die belangrikste is tog dat ons daar
kerk toe gaan waar Christus self sy volk vergader, dus waar ons met reg kan
praat van kerk van Christus? Gemeente, die verband van die teks wys daarop
waarom ons nie ligvaardig moet dink oor die gewoonte om die eie dienste te
versuim nie. Waarom roep God elkeen na sy eie byeenkoms? Omdat God elke
plaaslike gemeente tot ’n hegte eenheid wil voeg. Elke plaaslike gemeente vorm
’n liggaam wat saamgestel is uit lede wat mekaar, blykens God se roeping,
nodig het.

As ek uit gewoonte en moedswillig die eie byeenkoms in die steek laat, deur
tuis te bly of elders kerk toe te gaan dan aanvaar ek blykbaar nie die wyse
beskikking van God nie. God het ons langs mekaar gesit. Die Gees verbind ons aan
mekaar in ware broederlike liefde as lede van een liggaam. Ek kan my tog nie
sommer daaraan onttrek nie? Die broederlike liefde, die eenheid, moet ek tog met
woord en daad vir ander bewys? Die Here het die onderlinge byeenkomste gegee as
middel by uitstek om ons regte en pligte in hierdie opsig uit te leef. Jou
kerkgang is geen vryblywende saak nie. Om sonder geldige redes die eie
eredienste te versuim, daaronder val ook die aanddienste, is nie net ’n
belediging vir God, wat jou saamroep, nie. Dis ook ’n belediging vir jou mede
broers en susters. Daarmee sê jy feitelik: Ek het julle nie nodig nie. Jy ag
dit blykbaar nie nodig om die ander aan te spoor nie. Jy onttrek jou mos in
hierdie opsig aan jou regte en pligte teenoor jou medelede.

Ja, gemeente, die kerk is geen winkel waarin jy na eie geliewe kan ingaan om
iets te haal nie. Wanneer die produk en die prys goed is dan maak dit in die reël
nie saak watter winkel jy toegaan. So gaan ’n mens soms ook met die kerk om.
Waar ’n goeie dominee preek, daar gaan mense dan na toe, maak nie saak waar jy
woon of by watter gemeente jy behoort nie. Maar broeders en susters, julle gaan
nie kerk toe om in die eerste plek iets te haal nie, bv die woord van ’n
predikant. Julle gaan in die eerste plek kerk toe om iets te gee. Om God die eer
te gee wat Hom toekom. Daarom praat ons mos van eredienste. Jul kerkgang vorm
ook ’n belangrike onderdeel van die onderlinge bemoediging.

Wanneer ek sonder goeie rede, min die eie eredienste besoek, dan beroof ek
nie net myself nie, die onderlinge bemoediging is mos ook vir my bestem, maar
dan onttrek ek my ook aan my roeping teenoor my medelidmate. Ek stimuleer hulle
nie na behore nie. Ek spoor hulle nie aan tot liefde en goeie werke nie.
Inteendeel. Ek ontmoedig hulle.

Maar is die kerkdienste wel die geskikte middel daarvoor? Hoe spoor ons
mekaar dan aan via die eredienste? Dit gebeur reeds deurdat julle mekaar weer
sien en saam die Here dien. Onderskat asseblief nie die waarde daarvan nie. Die
feit dat jy jou reisgenote weer sien, hulle wat saam met jou die stryd van die
geloof voer, moet jou wel stimuleer om ook self in die geloof voort te gaan. Jy
staan nie alleen nie. Jou medestryders staan en sit langs jou. Wat ’n
aansporing en bemoediging! Daarenteen is hulle afwesigheid op homself reeds ’n
ontmoediging. So werk dit mos as die kerk baie leeg is en mense kies om nie te
kom nie. Die lidmate wat oorbly word daardeur ontmoedig, terwyl hulle juis deur
die ander lidmate bemoedig moes word.

Om die waarde van die eie eredienste te sien, kan jy ook dink aan die
prediking wat op die eie gemeente afgestem is. Bly jy weg dan mis jy dit wat
juis vir jou as lid van die gemeente bestem is. Vergeet ook nie die
gemeenskaplike gebed nie en die samesang. In die lied neem julle mekaar saam.
Daarin spreek julle mekaar aan, spoor julle mekaar aan, beur julle mekaar op.
Die lied is ’n kragtige middel in die onderlinge bemoediging. Dit is soos die
krygslied van fronttroepe. Daar gaan ’n geweldige krag van uit. Die vyand moet
daarvoor wyk.

Ja, die hele erediens is een groot bemoediging op pad na die groot dag,
tenminste as ek die regte instelling het en die woordbediening skriftuurlik is.
Op geen ander plek merk jy so duidelik dat jy by die kerk behoort as hier in die
erediens. Nêrens op aarde word God se verkiesende liefde meer sigbaar en
hoorbaar as in die eredienste. Christus vergader vir homself ’n gemeente wat
tot die ewige lewe uitverkies is. Hy doen dit baie konkreet, op ’n sekere
plek, deur sy woord en Gees. Sien hier die gemeente wat hy besig is om te
vergader. Ek mag daarvan ’n lid wees.

God verklaar ook vir my sy liefde. Ek mag vrymoedig na vore kom. Sonder angs
vir sy verterende heerlikheid. Deur die bloed van Jesus Christus. Let maar op
jou doop. Daar is reiniging buite onsself in Jesus Christus. Nêrens merk ek God
se verlossingswerk beter as in die eredienste, waar sy volk vergader is onder
die bediening van die versoening. Wat ’n geweldige bemoediging op pad na die
groot dag van die Here. Gryp dan die middel aan, so dikwels jy kan, om mekaar
aan te spoor. Drink die woorde in, die woorde van verlossing. Doen entoesiasties
saam. Sing entoesiasties saam. Om daardeur die liefde en goeie werke aan te
wakker. Sodat ander nie deur ons kilheid of onverskilligheid ontmoedig word nie.
Deur self kil te wees, laat ek ander in die kou staan, kan ek selfs die oorsaak
daarvan wees dat ander die kerk verlaat. As ons hier onder alles kil bly, dan
werk ons daaraan mee dat die jeug na alternatiewe gaan soek, dat hulle dit gaan
soek in die entoesiasme van die charismatiese beweging.

Hoe is dit, broeders en susters, met die onderlinge toesig en bemoediging?
Hoe is dit met u kerkgang? Ek weet die tyd waarin ons leef werk nie saam nie Die
individuele vryheid het ’n afgod geword. Elkeen moet vry wees om te doen wat
hy wil, waar hy lus vir is. Elkeen sy eie mening en sy eie keuse.

Maar, gemeente, moet julle mekaar dan maar laat verongeluk? Die kinders weet
beter. Wat doen jy as jou boetie of sussie die pad wil oorsteek reg voor ’n
kar wat aankom? Laat jy hom of haar gaan? Natuurlik nie. Jy gryp onmiddellik in
om te voorkom dat hy deur die kar geraak word. Sou ons dit dan nie binne die
kerk doen nie, terwyl ons saam op pad is, omring deur baie gevare, op pad na die
onbeskryflike toekoms?

Gee daarom goed ag op mekaar. Besoek getrou die eredienste. Wys dat julle
’n hart vir mekaar het. Spreek mekaar aan. Nie eers wanneer jy merk dat dit
heeltemal mis is nie. Maar reeds aan die begin. As verslapping dreig in te tree.
Om watter rede ook al. As die liefde en die goeie werke bedreig word. Selfs as
jy iemand nie in die eredienste gesien het nie. Uit meelewe. Daar kan sprake
wees van siekte of van ’n krisis. Wie weet wat daar aan die hand is. Laat die
ander voel: jy hoort daarby, ons kan jou nie mis nie. Julle besef tog hoe ryk
julle in die Here is? Dat julle saam ryk is en saam op pad na die groot dag?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)