Die volharding van die heiliges hang af van die drie-enige God.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-06-16
Teks: 
Dordtse Leerreëls 5
Preek Inhoud: 

Dordtse Leereëls Hoofstuk 5 Art. 8

Ds C Kleyn - Sondag 16 Junie 2002

Lees:

Johannes 6:37-40; Johannes 10:22-30; Romeine 8:28-39; Dordtse Leereëls Hoofstuk 5 Art. 8.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 33:5,6; Ps 138:1,4; Ps 33:11.

Tema: Die volharding van die heiliges hang af van die drie-enige God.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons is nog steeds besig met die 5de hoofstuk van die DL wat handel oor die
volharding van die heiliges. Vanaand kom ons uit by die hart van die 5de
hoofstuk. Van wie hang dit ten diepste af dat die gelowiges in hul geloof
volhard? Van wie hang dit af dat ek nie heeltemal uit die geloof en die genade
uitval of tot die einde toe in die sonde bly of verlore gaan nie? Hang dit van
my af? Van my ywer en inspanning? Van my keuse om steeds weer na God terug te
keer?

Dit lyk so wanneer ons uitgaan van wat ons sien. Dink ook aan die gelykenis
van die verlore seun. Hy besluit op ’n sekere oomblik om na sy vader terug te
keer. Hang die volharding van die gelowiges dan nie af van die gelowige self
nie? Van sy keuse en inspanning? Dis wat die natuurlike mens dink. Dis wat die
remonstrante geleer het. Hulle het alle nadruk op die gelowige gelê. Hulle het
die volharding ’n voorwaarde genoem van die nuwe verbond wat die mens, voor sy
finale uitverkiesing en regverdiging, deur sy vrye wil moet volbring.. God kan
dan wel ’n helpende hand gee, maar die herstel en volharding sou uiteindelik
afhang van die gelowige wat eers sy plig moet doen. Volgens hulle hang dit altyd
van die keuse van die mens af of die mens sal volhard of nie sal volhard nie.

Dit klink ’n bietjie bekend. In die verbond praat ons mos ook van belofte
en eis. En ons sien die eis tog ook as ’n soort voorwaarde waaraan voldoen
moet word voordat ons van die vervulling van die beloftes kan geniet? Wat is dan
verkeerd met die gedagtes van die remonstrante?

Wel, wat is dit die werklike situasie? Ons bely met art 8 dat ons die
volharding nie verkry deur eie verdienste of inspanning nie maar weens die
genadige barmhartigheid van God. Om by die verlossing bewaar te word is slegs
aan God te danke. Om weer op te staan en na die Vader te gaan is aan God te
danke. Om die eis van die verbond na te kom is slegs moontlik deur God. Soli Deo
gloria.

Die belydenis noem verder die verootmoedigende werklikheid: as dit van die
gelowiges afgehang het, kon dit (hul definitiewe afval) nie alleen maklik gebeur
het nie, maar sou dit ongetwyfeld ook gebeur het. As dit van my sou afhang, dan
sou ek ongetwyfeld uit die geloof en die genade uitval, sou ek ongetwyfeld ook
tot die einde in die sonde bly, sou ek ongetwyfeld verlore gaan. Indien God my
nie vashou nie, sal ek onherroeplik en definitief afval. Hierdie werklikheid hou
my klein en ootmoedig. As my bewaring van my sou afhang sou ek ewig verlore
gaan.

Die werklikheid maak die volgende woorde ook so ryk: Maar omdat dit van God
afhang, kan dit glad nie gebeur nie. Geweldige woorde: omdat dit van God afhang,
kan dit glad nie gebeur nie. Kan ek wat glo, nie vir goed afval nie. Dis omdat
God God is. Omdat Hy die drie-enige God is. Omdat dit sy werk is. Wat God doen
is geen bevlieging nie, soos dit by ons weleens gebeur – een oomblik is ons
baie entoesiasties, ’n paar dae later weet ons nie meer waarmee ons besig was
nie. Maar God se werk is vas en heg. Dit het vanuit die ewigheid ontstaan en is
vir die ewigheid bestem. Dis die werk van die Vader, die Seun en die Heilige
Gees. Daarom is my verlossing so diep gefundeer en gewaarborg. In God drie-enig.

Gemeente, om tot die verlossing te kom het ons God nodig, die Vader, die Seun
en die Heilige Gees. Om by die verlossing bewaar te word het ons dieselfde God
nodig: Vader, Seun en Heilige Gees. So kom ons art uit by ’n pragtige
belydenis van die drie-enige God. Ons sien die mooi harmonie in die werk van die
drie-enige God. So ook die harmonie van die verskillende dele van die DL. Die
leer van die volharding van die heiliges vloei voort uit die leer van die
onvoorwaardelike verkiesing (hfst 1), vloei voort uit die leer van die
versoening van die uitverkorenes (hfst 2), vloei voort uit die leer van die
totale verdorwenheid van die mens en die leer van die onweerstaanbare genade
(hfst 3&4). Die volharding van die heiliges is logiese gevolg van al God se
werke. Dis die afronding en voltooiing van God se verlossingswerk.

Eers word gewys op die werk van God die Vader.

Ten eerste word van die Vader gesê dat sy raad nie kan verander nie. Die
verlossing van die gelowiges is ten diepste ’n saak van Vader se raad. Hy het
sy besluit geneem. Hy het ons in Christus uitverkies. Voor die grondlegging van
die wêreld. Hy werk alles volgens die raad van sy wil. Daarom sal God sy
uitverkorenes nie verlaat nie. As God sy uitverkorenes sou verlaat, dan sou Hy
verander en God verander nie. As Hy sy uitverkorenes sou verlaat, dan sou Hy
Homself verloën. Maar God kan nie homself verloën nie. Dan sou Hy geen God
meer wees nie. Ons mense verander. Ons pas ons aan en konformeer ons. Ons kan
maklik van planne verander. Ons maak ook almal ’n ontwikkeling deur, namate
die tye verander en namate ons ouer word. Maar God verander nooit nie. Hy is
ewig dieselfde.

Soos ons dit so pragtig sing met die woorde van Ps 33:6:

"Die Heer se raad word nooit gekeer nie;
dit sal bestaan in ewigheid.
Teen sy besluit is geen verweer nie;
Bestendig duur dit vir altyd."

En omdat die raad van God so vas en seker is, so onveranderlik is, kan ons
ook verder sing:

"Salig wie tevore, deur die Heer verkore
As sy erf en lot;
Wie so hoog geëer is, dat die Heer hul Heer is
En die God hul God."

Die Heer se raad word nooit gekeer nie. Nie deur my dade of sondes nie. Ook
nie deur sekere magte of kragte nie. Gelukkig maar! My verlossing lê veranker
in God se onveranderlike raad. Die volharding van die gelowiges hang dus af van
die volharding van God. Gestel dat dit waar sou wees dat my geloof en volharding
uiteindelik tog van myself sou afhang en nie van God nie. Dan sou dit inderdaad
kon gebeur dat ek definitief van die geloof sou afval. Ek is mos veranderlik en
sondig. Maar nou ek weet dat die geloof en die volharding ’n gawe van God is,
besef ek dat ek die geloof nooit kan verloor nie. God is nie soos die klein kind
wat vandag entoesiasties met sy speelgoed speel, maar dit more in die hoek gooi.
God is nie wispelturig of grillig nie. Hy is stabiel, standvastig.

Daarom skryf Paulus vir die Filippense dat hy "hierop vertrou, dat Hy
wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van
Jesus Christus" (Fil 1:6). Wanneer God ’n werk begin, sal Hy dit voltooi.
Dis niks anders as die volharding van die heiliges nie. Die volharding van die
heiliges is ’n gevolg van God se volharding.

Gestel dat God my sou gekies het omdat Hy eers iets goeds in my gesien het,
bv dat ek my hart aan Jesus gee, dat ek vir Hom gekies het. Dan sou dit denkbaar
wees dat God van gedagte sou verander, wanneer Hy sien dat ek in my geloof
wankel en dan sou ek tog verlore kan gaan. Ek is mos sondig en sal van God
wegdraai, tensy God my steeds weer gryp met sy vernuwende en bewarende genade.

Maar dis nie hoe God werk nie. Hy gee sy verlossende genade nie omdat Hy
gesien het dat jy iets goeds sou doen nie, bv in Christus sou glo nie. Ons is
totaal verdorwe. Ons verdien van nature om deur God gehaat en verwerp te word.
Die rede waarom Hy my tog liefhet lê by Homself alleen. In sy verkiesende
liefde. God het vanaf die begin geweet dat daar heeltemal niks in ons is wat ons
vir sy liefde en genade waardig sou maak nie. Daarom kan daar ook niks by ons
wees, soos sonde of twyfel, wat Hom daartoe noodsaak om sy liefde en genade aan
ons te onttrek nie. Die rede van sy liefde lê mos in Hom en nie in ons nie. Die
leer van die volharding van die heiliges is dus gegrond op die ewige, verkiesend
liefde van God die Vader.

Die tweede wat van die Vader gesê word is dat sy belofte nie verbreek kan
word nie. Die Bybel staan vol van ryke beloftes van God se liefde en trou. Ons
kan ons beloftes breek en doen dit ook meermale. Maar God breek sy beloftes
nooit nie. Wat Hy gesê het, dit bly staan.

In Joh 10:27ev noem Christus die belofte: "En ek gee hulle (dit is my
skape) die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en
niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is
groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. Ek en
die Vader is een." Satan probeer baie hard om my uit die hand van die Vader
te ruk. Ek het egter die belofte: Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Niemand
beteken ook werklik niemand. Geen ander persoon of mag nie. Maar ook ek self
nie. Niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. In Christus se hande
is sekere mense wat die Vader aan Hom gegee het. Maar God die Vader plaas sy
hande om Christus se hande. En niemand, nie die duiwel, die wêreld, ’n kerk
of ek self nie, kan die hande oopbreek nie. Niemand van hulle kan verlore gaan
nie.

Ten slotte word van die Vader gesê dat die roeping na sy voorneme nie kan
herroep word nie. God se raad en belofte word in die roeping uitgewerk. Die
roeping kom tot verlore sondaars. Die sondaar word deur die roeping wedergebore,
bekeerd. Dis duidelik dat hier die kragdadige roeping deur God sy Woord en Gees
bedoel word. Dis die roeping waaroor Rom 8:30 spreek. "Die wat Hy vantevore
verordineer het, die het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, die het Hy ook
geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, die het Hy ook verheerlik."

God het ’n sekere aantal mense vantevore geken, gekies, tot verlossing
verordineer. Die persone word almal tot geloof geroep. Daardeur glo hulle
metterdaad en word hulle geregverdig, verkry hulle vryspraak van sonde en skuld.
Hierdie mense kan nie afval nie, want hulle word ook verheerlik, lees ons.
Paulus is so seker dat die uitverkorenes verheerlik sal word dat hy die verlede
tyd gebruik: die wat Hy geregverdig het, die het Hy ook verheerlik. Hier het u
die goue ketting van die voorbeskikking, roeping, regverdiging en verheerliking
van die uitverkorenes. Die mense wat God vantevore verkies het, is dieselfde as
die mense wat deur die geloof geregverdig word en uiteindelik verheerlik sal
word. Nie een van die persone sal ontbreek nie. Die roeping na God se voorneme
kan mos nie herroep word nie. Soos Jesus gesê het: "niemand kan hulle uit
die hand van my Vader ruk nie."

Paulus is oortuig dat niks die uitverkorenes van God se verkiesende liefde in
Christus kan skei nie. Geen verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of
naaktheid of gevaar of swaard nie. Inteendeel! In al hierdie dinge is die
gelowiges meer as oorwinnaars deur God wat hulle liefhet. So eindig Paulus
daardie gedeelte met die pragtige oorwinningslied: "Want ek is versekerd
dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of
toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van
die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie." Dis die
volharding van die heiliges. Daar is absoluut niks in die hele wêreld – in
die verlede, hede en of toekoms – wat die gelowige van God se liefde kan skei
nie.

Ons het drie aspekte van die werk van die Vader genoem – sy raad, belofte
en roeping. Dit alles is die rede van Vader se trou. Dit maak dit ook onmoontlik
dat ’n gelowige verlore sou kan gaan.

Maar daar is nog meer.

Ons belydenis wys vervolgens op die werk van die Seun. Drie aspekte van
Christus se werk word genoem: sy verdienste, voorbidding en bewaring. Nie een
daarvan kan kragteloos gemaak word nie.

Eers word gepraat van sy verdienste. Hier dink ons veral aan sy lyding en
kruisdood. Daardeur het hy vir die sondes van ons wat glo betaal en vir ons die
ewige lewe verwerf. Indien Christus werklik deur God vervloek was en die helse
pyn in die plek van die gelowiges gely het (soos die Skrif daarvan praat), dan
bestaan dit nie dat die gelowiges hel toe kan gaan nie. Indien Christus werklik
vir my sondes, van die verlede, hede en toekoms, gesterf het dan bestaan dit nie
dat God my nog ewig daarvoor sou wil straf nie. Christus is reeds daarvoor
gestraf. Dit beteken dat ons wat glo vir seker hemel toe sal gaan. Sien hier die
volharding van die heiliges.

In Rom 8:33,34 sê Paulus dat Christus vir ons almal, dit is vir die
uitverkorenes, oorgelewer is. Daarom vra Paulus: "Wie sal beskuldiging
inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is
dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het." Die dood van Christus
tot versoening van ons sondes is so ook ’n ander grond vir ons geloof in die
volharding van die heiliges.

Ek noem dit ’n ander grond. Eintlik is dit nie so nie. Want Christus se
versoening vir ons sondes vloei eintlik voort uit Vader se verkiesende liefde.
Christus se soenoffer is slegs ’n uitwerking van Vader se verkiesende liefde.
Die Vader sou hulle red. En Christus red hulle. Met ander woorde, daar is ’n
eenheid tussen die voorwerp van Vader se spesiale liefde en die voorwerp van
Christus se soenoffer. Dink ook aan wat Christus in Joh 6:39 gesê het:
"Dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy my gegee
het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag."

Wanneer ek in sonde val hoef ek nie te wanhoop asof alles nou verlore is nie.
Daar is vergewing deur Christus se bloed. Sy offer aan die kruis het vir al my
sondes versoen. Hy het mos met sy eie bloed eenmaal ingegaan in die hemelse
heiligdom en ’n ewige verlossing teweeggebring (Hebr 9:12). Hy het met sy eie
bloed in die teenwoordigheid van God die Vader gekom. Maak nie saak hoe ernstig
die sonde is wat ek gedoen het, of dit nou soos die egbreuk of moord van Dawid
is of soos die verloëning van Petrus, Christus se soenoffer reinig my daarvan.
God die Vader het my tot die ewige lewe uitverkies en Christus het vir my
gesterwe. Daarom sal geen sonde van my kant die verdienste van Christus
kragteloos maak nie.

Vervolgens wys ons belydenis op die voorbidding van Christus. In 1 Joh 2:1
lees ons: "As iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader,
Jesus Christus die Regverdige." Christus is vandag besig om by sy Vader in
tree vir hulle waarvoor Hy gesterwe het. Hy herinner die Vader, so te sê, aan
die offer wat Hy vir ons sondes gebring het en dat God as gevolg daarvan ons
reeds as regverdig aanvaar het. Die voorbidding van Christus het groot krag want
hierdie voorbidder het reg om verhoor te word. Hy bid mos op grond van sy eie
werk. Die Vader moet hom wel verhoor en volgens sy voorbede handel. So juig
Paulus in Rom 8:34 daaroor dat niemand ons meer kan veroordeel nie. Hoekom nie?
Paulus verklaar dit so: "Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat
ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons
intree." Dieselfde Verlosser wat sy lewe vir my sondes gegee het, tree nou
vir my in aan die regterhand van God as my advokaat.

Ons vind geweldige baat by Christus se voorbede in die hemel. Geen sonde kan
Vader se liefde en genade van ons wegneem nie. Dis soos ons bely met art 26 van
die NGB: "As ons dus moes soek na ’n ander middelaar wat ons goed gesind
sou wees, wie sou ons dan kon vind wat groter liefde vir ons sou hê as Hy wat
sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was? En as ons een soek
wat mag en aansien het, wie besit soveel daarvan as Hy wat aan die regterhand
van sy Vader sit en alle mag in die hemel en op die aarde het? En wie sal eerder
verhoor word as die eie, geliefde Seun van God?" Ook al val ek in my
swakheid in sonde, ek hoef nie te wanhoop nie, want Christus se voorbidding kan
nie kragteloos gemaak word nie.

Ten slotte noem ons belydenis nog uitdruklik Christus se bewaring. Ons kan
weer wys op Joh 6:37-40: "Al wat die Vader my gee, sal na My toe kom en ek
sal hom wat na My toe kom nooit uitwerp nie." Dis iets wat seker is.
Bowendien het Christus gekom om die wil van sy Vader te doen. En die wil van sy
Vader is "dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar
dit opwek in die laaste dag." Die laaste dag, dis die dag van die laaste
oordeel. Elkeen wat na Christus toe kom, sal op die laaste dag opgewek word, om
hemel toe te gaan. Jesus sal nie een daarvan verloor nie.

Ons kan ook weer wys op Joh 10:28. Daar sê Christus mbt sy skape: "Ek
gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie,
en niemand sal hulle uit my hand ruk nie." Hierdie vers wys duidelik op ons
ewige veiligheid. Let op die verskillende elemente. "Ek gee hulle die ewige
lewe." Die uitdrukking "die ewige lewe" is reeds genoeg bewys van
die volharding van die heiliges. Want as ek van die geloof sou kan afval nadat
ek werklik geglo het, dan is die lewe wat Jesus my beloof nie ewig nie. Dit is
dan maar ’n kort lewe wat ek ontvang en nie ’n ewige lewe. Tog sê Christus:
"ek gee hulle die ewige lewe."

Christus vervolg: "en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid
nie." Indien dit waar sou wees wat die Remonstrante sê, dat ’n ware
gelowige sy geloof kan verloor, dan sal hy inderdaad verlore gaan. Maar Jesus sê
hier: hulle sal nooit verlore gaan nie. Die bewys van die volharding van die
heiliges kon amper nie duideliker wees nie.

Maar Christus voeg daar nog ’n derde element aan toe: "en niemand sal
hulle uit my hand ruk nie." Hoe stellig praat Jesus hier. Niemand kan een
enkele persoon uit my hand ruk nie, sodat die persoon verlore sou gaan nie. Die
duiwel kan dit nie doen nie. Leraars nie. Vriende nie. Ek kan selfs nie myself
uit Jesus se hand ruk nie. Dis onmoontlik. Niemand kan dit doen nie. In Jesus se
hand is ek veilig nou en vir ewig.

Gemeente, na die Vader en die Seun word ten slotte gepraat oor die Heilige
Gees. Die verseëling van die Heilige Gees kan nie verydel of vernietig word
nie. Om met die Heilige Gees verseël te wees, wys daarop dat ons as God se
eiendom bewaar word vir God se groot doel, naamlik die ewige saligheid. Sou die
verseëling verydel kan word? God se Gees waarborg juis ons ewige erfenis.

Gemeente, wat is ons tog ryk met die belydenis van die drie-enige God, die
Vader die Seun en die Heilige Gees. God drie-enig waarborg die volharding van
die heiliges. My saligheid lê ewig vas in die werk van die drie-enige God.
Daarom is dit van die allergrootste belang dat ons die drie-enige God ken in sy
werk. Wat ontvang ons in Hom tog ’n volheid van verlossing! Daar is die raad,
die belofte en die roeping van die Vader. Daar is die verdienste, die
voorbidding en die bewaring van die Seun. Daar is die verseëling deur die
Heilige Gees. Vaster en sekerder kon dit nie wees nie. Wat ’n krag, wat ’n
troos, wat ’n uitsig bied dit alles. Met so ’n drie-enige God kan ek leef en
sterf. Ja, leef ook nadat ek gesterf het. By God wat ewig leef.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)