Die sekerheid van God se bewaring tot die saligheid.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-06-23
Teks: 
Dordtse Leerreëls 5
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 5 Art 9,10,11

Ds C Kleyn - Sondag 23 Junie 2002

Lees:

Psalm 42 & 73; Dordtse Leerreëls Hoofstuk 5 Art 9,10,11.
Sing: SB 27; Ps 20:1,2,6,7; Ps 73:10,11; Ps 124:1-4.

Tema: Die sekerheid van God se bewaring tot die saligheid.

  1. Die mate van die sekerheid; en
  2. Die middel tot die sekerheid.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vorige week het ons gesien hoe die drie-enige God die bewaring van die
gelowiges waarborg. Die volharding van die heiliges is ’n gevolg van die
volharding van die drie-enige God. Die gelowige is veilig in God se hande. Niks
kan ons van God se liefde skei nie. Wat God begin, dit voltooi hy ook. Hy is mos
die Alfa en die Omega, die A en die Z. By Hom is ons dus ewig veilig.

Maar, gemeente, die saak kan wel by God vasstaan, maar hoe ervaar die
gelowige dit? Is die gelowige altyd wel seker daarvan? Ja, kan die gelowige wel
seker van sy bewaring tot die saligheid wees en van sy volharding in die geloof?

In die geskiedenis het baie mense gedink dat jy nooit seker van die ewige
saligheid kan wees nie. In navolging van die Judaiste het die Rooms Katolieke
kerk die doen van goeie werke as voorwaarde tot die saligheid benadruk. Jou
goeie werke moet so te sê jou sondes oortref. Maar hoe kan jy weet dat dit die
geval is? Daarom is daar altyd weer die spanning, die onsekerheid: gestel dat my
goeie werke nie genoeg is nie. Jy kan nooit honderd persent seker van jou
saligheid wees nie.

Die Remonstrante het die vrye wil van die mense benadruk. Jou keuse en jou
geloof sou beslissend wees. Hulle het geleer dat jy geen sekerheid van die
volharding kan hê nie sonder ’n besondere openbaring.

Teenoor hierdie verskriklike onsekerheid benadruk die DL dat jy as ware
gelowige wel seker kan wees van jou bewaring en volharding.

Vanaand wil ek dan ook God se woord vir u verkondig onder die tema: die
sekerheid van God se bewaring tot die saligheid.

Ons let op twee dinge:

  1. Die mate van die sekerheid.
  2. Die middel tot die sekerheid.

Ons bely dat ons seker kan wees van God se bewaring volgens die mate van die
geloof. Dit lê ons wel om eers iets te wil sien, ervaar of voel, voordat ons
seker is. Baie mense wil graag eers iets voel voordat hulle glo. Maar die orde
is juis andersom: Dis eers geloof, dan geloofservaring. Die geheim van die
geloof is juis om nie te il sien nie, maar om te hoor wat die Here sê.

Ek kan sekerheid hê volgens die mate van my geloof. Hoe sterker ek my
toevlug by die Here soek, des te kragtiger is die sekerheid. Hoe vaster my
vertroue, hoe sterker my sekerheid is. Daar is in die lewe van die gelowiges
’n verskil in geloof merkbaar. Een persoon is sterker as ’n ander. Een is
meer volwasse in die geloof as ander. Dit hang saam met die pad wat God met ons
geloop het en nog loop en met die omstandighede. Ons onderskei ook tussen ’n
klein geloof en ’n swak geloof. ’n Klein geloof dink klein van die Here en
sy Woord. ’n Swak geloof kan groot oor God dink maar het ’n swak greep op
God.

Paulus herinner ons daaraan dat elke gelowige nog in die Here moet groei. Hy
noem in Ef 4 as einddoel "dat ons almal kom tot die eenheid van die geloof
en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van
die volle grootte van Christus." Die wil nie sê dat die mense nog geen
geloof of kennis het nie. Nee, hulle is reeds gelowiges. Paulus benadruk dit aan
die begin van die hoofstuk. Dis een geloof en een doop. Ons moet almal egter nog
groei in die vertroue en in die kennis van ons Here Jesus Christus. So moet ons
ook groei in die sekerheid. Tydens hierdie lewe sal ons nooit volkome
volwassenheid bereik nie.

Baie psalms wys dat die gelowige se sekerheid skommel. Kyk maar na Ps 42. Die
Psalm beskrywe die stryd van die geloof. Drie keer lees ons die refrein:
"Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God,
want ek sal Hom nog loof – die verlossing van my aangesig en my God." Die
psalmis worstel om uit sy neerslagtigheid uit te kom. Hy begin deur homself tot
verantwoording te roep. "Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy
onrustig in my?" In die vraag sit ’n element van verbasing. Waarom is ek
so? Waarom is ek neerslagtig en onrustig? Is dit nie vreemd nie? Ek het tog ’n
almagtige en getroue God? Ek het tog sy betroubare woorde? Hy is tog naby hulle
wat Hom aanroep? Waarom dan die rusteloosheid?

"Hoop op God," sê die digter, "want ek sal Hom nog loof –
die verlossing van my aangesig en my God." Vertrou op God. Verwag alles van
Hom. Wees geduldig. God sal ’n beter en ewige toekoms gee. Hy is mos die
lewende God, my Verlosser en my God.

Nadat die Psalmis egter hierdie vertroue in vers 6 uitgespreek het, sien ons
hoe hy weer val. "My siel buig hom neer in my." Daarna klim hy weer
omhoog. "Daarom dink ek aan u." Hy gryp weer na die lewende God. Maar
dan gly hy weer berg afwaarts (vers 8). Dit lyk erger as daarvoor. "Die
vloed roep na die vloed by die gedruis van u waterstrome; al u bare en u golwe
het oor my heengegaan." Dis asof geweldige golwe van God oor hom heenspoel.
Hy verdrink amper, hy snak na asem. Wat ’n stryd om sy kop bo water te hou, om
vol te hou. Herken julle dit in jul lewe met sy hoogtes en dieptes?

Onmiddellik na die diepte gee die digter weer uitdrukking aan sy vertroue in
vers 9: "Maar die Here sal oordag sy goedertierenheid gebied, en in die nag
sal sy lied by my wees, ’n gebed tot die God van my lewe." So is God! Hy
stuur sy goedertierenheid uit as ’n boodskapper om sy wil te doen. In die nag
as dit donker en gevaarlik is, is sy lied by my. ’n Lied wat God my aangeleer
het. Troosvolle woorde uit die bybel, geestelike liedere kom op in my gedagte.
Hy help my om my verdriet, my trane en my eensame gevoel te oorwin. Hierdie lied
word ’n gebed, ’n gebed tot die God van my lewe. Dit gee weer rus aan ’n
onrustige siel.

Die Psalmis gee ’n baie reële beeld van ’n worstelende gelowige. Gaan
dit nie dikwels so in ons lewe nie? Hoe dikwels gebeur dit nie dat ek val en
weer opstaan nie. Ek weet dat God my verlosser is, maar ek ervaar dit nie altyd
so nie. Een oomblik voel ek myself neerslagtig, onrustig. Die volgende oomblik sê
ek weer teen myself: Hoop op God, want ek sal Hom nog loof. Ek vind opnuut
vastheid in God my Verlosser. Hy sal my red. Hy sal my ’n toekoms gee,
heerliker as wat ek my kan indink.

So kan ek dan met ’n loflied eindig. Ek sal Hom nog loof – die verlossing
van my aangesig en my God. My geloofsstryd eindig nie in ’n neerlaag nie, maar
in ’n oorwinning. Die Here is mos my Verlosser en my God. Daarom sal die einde
goed wees.

Let daarop hoe swaarmoedigheid en twyfel afgewissel word met sekerheid. Ek
kan seker wees dat God my vashou, maar die sekerheid gaan egter op en neer na
die mate van my geloof. Dit kan wissel van dag tot dag en van omstandighede tot
omstandighede.

Maar, broeders en susters, moet die ware gelowige nie altyd bly en dankbaar
wees nie? Moet die ware christen nie altyd op die hoogte leef nie, as meer as
oorwinnaar nie, sonder ooit te twyfel of neerslagtig te wees nie? Is dit hoe die
Skrif die ware gelowige teken. Ja, die Skrif hou wel die norm voor. Wees
altyddeur bly. Wees in alles dankbaar ens. Maar leef die ware gelowige altyd in
ooreenstemming met die norm? Die skrif gee ’n ander tekening van die
gelowiges. Ons lees in art 11 van ons DL: "Voorts getuig die Skrif dat die
gelowiges in hierdie lewe teen verskillende sondige vertwyfelings stry en, as
hulle in ernstige versoekings kom, nie altyd hierdie volle geloofsvertroue en
hierdie sekerheid van die volharding ondervind nie." Hier is ons belydenis
skriftuurlik en realisties. Die Skrif vertel ons dat God ons sal vashou, maar
die Skrif vertel ons ook dat die sekerheid daaroor nie altyd ervaar word nie.

Ons belydenis noem twee dinge: vertwyfelings en versoekings waardeur ons die
volle sekerheid nie ondervind nie. Daar is verskil tussen die twee.
Vertwyfelings kom van binne uit na buite terwyl versoeking van buite af na binne
kom.

Wanneer ek twyfel dan hink ek op twee gedagtes. ’n Twyfelaar word heen en
weer geslinger. ’n Mens kan deur twyfel verskeur word. Die twyfel kan op
allerlei sake betrekking hê. ’n Mens kan gaan twyfel aan God en sy woord. Jy
kan gaan twyfel aan God se regering van alle dinge. Dink aan die situasie waarin
ons in Suid Afrika leef. As God alles regeer, hoekom word soveel mense daagliks
besteel, vermoor of verkrag? Kan ons die toekoms en veiligheid van ons en ons
kinders nog wel aan die Here toevertrou?

Dit is twyfelvrae wat nie slegs in mense opkom voordat hulle glo nie. Dis nie
slegs vrae van jongmense en kritiese oumense nie. Nee, dis vrae waarmee enige
christen kan worstel. Ook al sou jy dit miskien nie so duidelik kenbaar maak
nie. U herken dit tog?

’n Gelowige kan soms ook worstel met die vraag: is ek werklik ’n kind van
God? Is my geloof werklik ’n ware geloof? Of is dit slegs inbeelding? Is my
sondes werklik versoen? Leef ek opreg vir die Here of is dit slegs ’n
aangeleerde gewoonte? So kan ’n mens, ja so kan ’n ware gelowige heen en
weer geslinger word.

Broeders en susters, hoe moet ’n mens die twyfel sien? Is dit sonde of moet
ons twyfel juis aanprys as ’n kenmerk van die geloof?

In sy brief aan die Hebreërs bemoedig die Here die christene wat vyandskap
en verdrukking in die gesig staar. Ons lees in Hebr 10:19,22: "Terwyl ons
dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed
van Jesus … laat ons toetree met ’n waaragtige hart in volle
geloofsversekerdheid…" Met ander woorde: ons hoef God nie te nader met
bewende knieë, onseker of God ons wil hoor nie. Ons moet na Christus kyk. Hy
het oorwin en sit nou aan die regterhand van God. Daarom kan ons bid in die
volle sekerheid van die geloof. God het gesê dat Christus vir ons gesterf het
en dat Hy vir ons intree. Daarom hoef ons nie met ’n twyfelende hart te bid
nie, maar kan ons vol vertroue bid.

God is ons almagtige Skepper en Verlosser. Hoe moet ons dan op Hom en sy
Woord reageer? Is dit reg om te sê: Ek weet nie Here of ek u woord kan vertrou
nie? God se Godheid maak twyfel verkeerd. Wie is ek om God se woorde te
bevraagteken?

Sal ek dan twyfel? Ek weet dat ek meermale twyfel. Want die sonde kleef nog
aan my. Twyfel is so reëel, so eg menslik, maar dit maak dit nie aanvaarbaar
nie. As God, God is, dan moet ek aanvaar wat Hy sê. Twyfel is deel van ons
gebroke en sondige lewe hier op aarde, maar dit maak die twyfel nie goed nie.
Ook al gebruik God ook dikwels die twyfel om ons sterker te maak. Die bestaan
van twyfel bewys mos dat ons sondige mense is. Dit bring ons opnuut op die knieë
en laat ons des te meer ons saligheid buite onsself in Jesus Christus soek.

Daar is ook die ernstige versoekings wat ons die sekerheid kan ontneem. Dink
aan die stryd van die Hebreërs wat vyandskap en verdrukking in die gesig
gestaar het. Daardeur het hulle gaan aarsel: "het ons wel reg gehandel om
christen te word?" Watter nut het dit om die Here te dien? Wat kom tereg
van al sy pragtige beloftes? Ons kan ook dink aan Ps 73 wat ons gelees het.

Ps 73 is ’n Psalm van Asaf. Hy mog daagliks in die tempel werk. So kon hy
daagliks die boodskap van die versoening sien en hoor. Ons sou dink: as daar
iemand is wat voortdurend seker sou moet wees, dan sou dit wel Asaf moet wees.
Maar hy was nie altyd seker nie. Hy sê in vers 2: "Maar wat my aangaan, my
voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly." Hoekom?
"Want ek was afgunstig op die onsinniges toe ek die voorspoed van die
goddelose mense sien. … Gesond en vet is hulle liggaam. In die moeite van
sterwelinge is hulle nie, en saam met ander mense word hulle nie geplaag nie.
… Altyd onbesorg vermeerder hulle die rykdom. Waarlik tevergeefs het ek my
hart rein gehou en my hande in onskuld gewas. Die hele dag is ek geslaan, en my
tugtiging was daar elke more." Die psalmis kon die versoeking op ’n
sekere oomblik nie meer hanteer nie. Wat hy in die praktyk van die lewe gesien
en ervaar het, het sy vertroue in God en sy geloofssekerheid ondermyn. Ons kan
dit verstaan. Ons sien en ervaar ook daagliks dinge in ons land en wêreld wat
ons die geloofssekerheid ontneem. Ons geloof word geskud op sy fondamente.

Ons bely egter met die vervolg van art 11: "Maar God, die Vader van alle
vertroosting, laat nie toe dat hulle bo hulle kragte versoek word nie, maar gee
saam met die versoeking ook die uitkoms en deur die Heilige Gees maak Hy steeds
weer die sekerheid van die volharding in hulle wakker." Die Here regeer
alle dinge. Hy sorg dan ook steeds weer vir redding. Hy bewerk steeds weer die
sekerheid.

So kom ons by die tweede gedagte van die preek, naamlik die middel tot die
sekerheid.

Art 10 noem die middel waardeur ek tot die sekerheid kom. "Hierdie
sekerheid spruit nie voort uit enige besondere openbaring wat sonder of buite
die Woord plaasgevind het nie." Daar is mense wat wag op ’n spesiale
openbaring, ’n droom, ’n visioen, ’n spesiale aanwysing dat hulle daarby
behoort, dat hulle gered is. Maar slegs die woord van die Here lei tot
sekerheid. Wie ’n ander weg wil soek, is wyser as die Here self. Daar is slegs
die vaste, sekere weg van die Woord. Die weg wou die Remonstrante en die mistici
nie volg nie. Die weg wil ook baie vandag nie volg nie. Daarom kan ons nooit
voldoende benadruk dat daar geen ander weg om tot die sekerheid te kom is, as
die weg van die woord.

Die sekerheid spruit slegs voort uit die geloof aan die beloftes van God wat
Hy in sy woord baie oorvloedig tot ons troos geopenbaar het. Die bybel is vol
van die beloftes van God. Baie oorvloedig. Tot ons troos. Dis immers vol van
beloftes van heil, van bewaring, van volharding. Dink aan die verse uit Rom 8
wat ons vorige sondag genoem het. Ek noem enkele daarvan: "Ons weet dat vir
hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme
geroep is." En "Die wat Hy vantevore verordeneer het, die het Hy ook
geroep; en die wat Hy geroep het, die het Hy ook geregverdig; en die wat Hy
geregverdig het, die het Hy ook verheerlik." En "Hy wat selfs sy eie
Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie
saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?" En "Want ek is
versekerd dat geen dood of lewe … of enige skepsel ons sal kan skei van die
liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie." Pragtige
beloftes van God wat Hy in sy woord baie oorvloedig tot ons troos geopenbaar
het. Beloftes vir mense in nood, beloftes vir groot mense en klein mense; vir
sondige mense; vir bang mense. Die Here weet wie ons is. Hy ken ons
omstandighede. Hy spreek ons daarom aan midde in ons werklike situasie.

Hoe weet ek dat ek sal volhard, dat ek salig sal word. Uit die beloftes van
God. Deur die beloftes steeds weer in geloof aan te neem. Geloof in God se
beloftes is die eerste middel om tot die sekerheid van die verlossing te kom. In
wese kan geloof en sekerheid nie van mekaar geskei word nie. Sekerheid is deel
van die geloof. Om te glo is om alles wat God sê aan te neem, ook wat God oor
Homself sê. Omdat God is wie Hy is, kan en mag ek as gelowige seker wees dat ek
die einddoel sal bereik. Die sekerheid word gewerk deur wat God self in die
Bybel sê, deur dit in geloof te aanvaar. Om te aanvaar wat God sê is om
daarvan seker te wees. Hy sal my vashou. Hy is getrou tot die einde toe.

Wat moet ek dan in my vertwyfeling en aanvegting doen? Soek die woord van die
Here waar Hy dit laat verkondig. Lees dit, oordink dit. Laat God se woorde op
jou inwerk. Luister na die skriftuurlike raad en bemoediging van Christelike
vriende. Sonder die woord van God sal ek die twyfel nooit oorwin nie.

As tweede middel noem ons belydenis die getuienis van die Heilige Gees. In
Rom 8:14-17 word die Gees getipeer as die Gees van aanneming tot kinders. Die
Gees het tot taak om sondaars tot kinders van God te maak. Om ons te verander en
ons dit ook te laat weet. Die Gees kom saam met die Woord na ons toe. Oortuig
ons van die waarheid daarvan. Pas dit toe op ons hart en lewe. Die Gees gee ons
so ook spreekles. Hy leer ons om Vader vir God te se: Abba, Vader! Dis gaan soos
met ons kinders. Reeds baie vroeg leer die ma haar kind om haar man papa te noem
en haarself mamma. As gevolg daarvan roep die kind op ’n sekere oomblik uit:
papa of mamma. Dis ’n geweldige ervaring in die gesin. So ook in ons
verhouding met ons hemelse Vader. Deur Hom Vader te noem, erken ek dat ek sy
kind is en eer ek Hom as Vader. Dis iets waarvan ek seker is. Soos die klein
kind seker daarvan is dat dit sy pappa of mamma is. "Die Gees self getuig
saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook
erfgename."

Die derde middel wat genoem waaruit die geloofssekerheid voortspruit is die
ernstige en heilige strewe na ’n goeie gewete en goeie werke. Christus het
eens gesê: aan die vrugte word die boom geken (Mt 12:33). Ek kan weet wie ek is
deur te observeer hoe ek is, wat ek doen. Indien daar by my die ernstige en
heilige strewe na ’n goeie gewete en goeie werke is, wat sê dit vir my? Ja,
ons praat wel van ’n ernstige en heilige strewe. Dit moet nie ’n skyn
vertoning wees nie of slegs tradisie nie. Waar dit opreg is en ook heilig,
anders as die ongelowige, tot eer van die Here, dan mag ek daaruit bemoediging
ontvang. Hoe kom ek mos sover om dit te doen? Uit myself sou dit nie gedoen het
nie. Dis die werk van my verlossende God. Dis ’n bewys dat ek by God behoort.
In Sondag 32 van die HK bely ons dat ons goeie werke moet doen oa sodat ons vir
onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry. My instelling en gedrag
bevestig vir my die belydenis wat die Gees in my gewerk het, naamlik dat ek by
God behoort, dat Hy my gered het.

Wat is die troos groot vir elkeen wat glo. Ek mag ’n kind van God wees.
’n Erfgenaam van die ewige heerlikheid. God het mos sy werk in my begin. Deur
sy Woord en Gees. En God bevestig die werk. Hy sal dit voltooi. Daarom weet ek
dat ek die oorwinning sal behaal. Die Gees waarborg vir my die ewige
heerlikheid.

Wie dit glo het sekerheid en is versekerd. Sonder geloof is daar egter geen
sekerheid nie. Slegs die geloof gee die sekerheid omdat dit sekerheid is. Ons
kry geen aparte stem uit die hemel nie. Die Here God praat tot ons dmv sy Woord.
En die woord is betroubaarder as die stem van ons eie hart. Die Here bly roep,
trek, nooi, lok. Telkens weer. Dmv sy woord wat alle situasies van ons hart en
lewe ken. Laat ons dan bly luister na die woord, ons steeds weer aan die woord
toevertrou. Die Here het dit gesê, daarom is dit so! So gee die Here sekerheid,
vandag en steeds maar weer.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)