Israel se versoek om ’n koning.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-07-14
Teks: 
I Samuel 8
Preek Inhoud: 

1 Samuel 8:4-7

Ds C Kleyn - Sondag 14 Julie 2002

Lees:

Deuteronómium 17:14-20; 1 Samuel 8.
Sing: Ps 131:1,2; Ps 131:3; Ps 33:8,9; Ps 33:10,11; Ps 47:1,4.

Tema: Israel se versoek om ’n koning.

  1. die versoek gestel;
  2. die versoek veroordeel; en
  3. die versoek toegestaan.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wie verlang nie na sterk leierskap nie? Kinders hunker na ouers wat goeie en
sterk leiding gee, ouers waarop hulle trots kan wees, ouers wat iets kan wys.
Selfs kinders wat maak asof hulle alle leiding verwerp, hunker dikwels heimlik
na goeie leierskap. Kinders en jong mense laat hulle graag deur sterk leiers
lei. By die skool verlang ons almal na goeie leierskap. In die kerk wil ons ook
sterk leiers sien. Ook op die verenigings. Reëlmatig hoor ’n mens die roep na
sterk leierskap op allerlei gebiede. Ons het moeite om situasies van swak
leierskap te hanteer. Leiers moet iets kan wys. Sterk leiers is nodig.

Die roep om sterk leiers was daar reeds in die OT, tydens die rigters, in die
hoofstuk wat ons as teks gekies het. Uit die boek Rigters weet ons hoe dinge was
in die tyd van die rigters. God het sy volk die land Kanaän, die beloofde land,
gegee. Hy het hulle sy wet gegee, ’n ryke geskiedenis, ’n ryke erfenis. Nou
moet die mense van hul kant wys dat die diens aan God vir hulle erns is, hulle
moet wys dat die wet in hul harte geskrywe is. Sal hulle hulleself bewys as ’n
heilige volk, ’n koninklike priesterdom? Die Here stel hulle op die proef deur
hulle nie ’n groot leier te gee om Moses en Josua op te volg nie. Sal hulle
aan hul hemelse koning getrou bly, sonder die steun van ’n sterk leier of
koning? Om hierdie rede laat God sy volk op hulleself as ‘t ware, met slegs
hul God en sy Woorde.

Dit word al gou duidelik dat God se volk die proef druip. Die boek Rigters
herhaal die woorde: In die dae was daar geen koning in Israel nie; elkeen het
gedoen wat reg was in sy oë. Sonder ’n sterk sigbare leier maak God se volk
’n gemors daarvan. Sonder die uitwendige steun van ’n sterk leier is God se
volk nie in staat om sy hoë roeping te vervul nie en om ’n heilige nasie en
’n koninklike priesterdom te wees nie. Daarom kan ons die tyd van die Rigters
tipeer as ’n roep om die koningskap.

In die eerste boek van Samuel sien ons hoe God voorbereidings vir die
koningskap tref. God gee Samuel, die laaste rigter, ’n groot Reformator wat
die verdeelde volk weer rondom sy woord verenig. Van Dan in die noorde tot
Berseba in die suide erken die volk Samuel as ’n profeet van die Here. Die
volk funksioneer weer as een nasie. Die vrede tussen die verskillende stamme is
herstel, maar ook die vrede met die buurlande. Ons lees daarvan kort voor ons
teks. Wel, in die situasie van herstelde eenheid en relatiewe vrede vra die volk
om ’n koning. Daaroor wil ek julle vanoggend God se woord verkondig:

Israel se versoek om ’n koning

  1. die versoek gestel
  2. die versoek veroordeel
  3. die versoek toegestaan

Wanneer Samuel oud is, is hy nie meer in staat om sy taak as rigter na behore
te verrig nie. Hy tref sy eie reëlings. Hy stel sy seuns as rigters oor Israel
aan. Samuel wil Israel bewaar by die verlossing wat hulle ontvang het. Hy wil
voorkom dat die volk weer uit mekaar sal val en sal deformeer.

Was dit reg van Samuel om hierdie reëlings te tref? Moes hy nie daarvoor
sorg dat plaaslike regters sy werk kon oorneem nie? Watter gesag het hy om sy
seuns as rigters aan te stel? Die amp van rigter is mos nie erflik nie. Spesiale
geestelike gawes is daarvoor nodig. Rigters is deur die Here self aangewys. Tog
stel Samuel sy eie manne, sy seuns aan in die spesiale amp van rigter. ’n
Menslike keuse en inisiatief.

Vinnig blyk dit ’n mislukking te wees. Samuel se seuns gedra hulleself op
’n slegte manier. Hulle wil hulleself verryk op ’n oneerlike manier. Hulle
neem omkoopgeskenke aan en verdraai die reg. Bekende praktyke ook in ons land.
Daar is niks nuuts onder die son nie. Natuurlik is dit ’n slegte saak. Hulle
is die teendeel van wat rigters volgens God se wet moet wees.

God se volk en land is nie veilig in die hande van Samuel se seuns nie. Hul
korrupte leierskap dreig om te verbreek wat Samuel opgebou het, die eenheid en
vrede. Die oudstes van Israel vrees die toekoms. Hulle het die houding en gedrag
van Samuel se seuns gesien. Hulle kom bymekaar en bespreek wat om te doen. Hulle
besluit om na Samuel te gaan met die versoek om ’n koning. Let daarop dat
hulle hul versoek maak as wettige verteenwoordigers van die hele Israel. Hulle
word duidelik voorgestel as al die oudstes van Israel. Die versoek kom dus nie
van ’n groep ontevrede aktiviste nie. Nee, dis ’n versoek van die hele volk
dmv hul amptelike verteenwoordigers.

As motief vir hul versoek noem hulle Samuel se hoe leeftyd en die slegte
gedrag van sy seuns. Hulle is bekommerd oor die toekoms. Hoe sal dit gaan
wanneer Samuel sterf? Hulle wil dat ander maatreëls vir die toekoms getref
word. Hulle wil ’n nuwe en meer permanente vorm van regering hê: die
monargie. Pleks van die onstabiele en tydelike instelling van rigters. Hulle wil
’n aardse koning wat die taak van die rigters kan oorneem en meer blywende
sekerheid en stabiliteit kan gee. Die koning sou meer militêre kwaliteite besit
en sy amp sou erflik wees. Daardeur sou die opvolging van leiers en die
toekomstige eenheid en veiligheid van God se volk beter gewaarborg wees as by
die rigters wat gekom en gegaan het, om elke keer weer ’n magsvakuum agter te
laat.

’n Wyse versoek, sou ’n mens dink. Wie sal mos Samuel se plek na sy dood
moet inneem? Sou dit nie beter wees om ’n koning in sy plek aan te stel nie,
veral nou Samuel se seuns weier om in sy wee te wandel?

Hul versoek is ook legitiem. Die koningskap is in beginsel reeds goedgekeur
in Deut 17. Die Here het geweet dat sy volk die koningskap nodig sou hê. Die
Here het beloof dat Hy dit vir sy volk sou gee. Daarom het Hy in sy wet reeds
voorskrifte mbt die koningskap gegee. Dis opvallend hoe die versoek om ’n
koning ooreenstem met wat in Deut 17 genoem is. Hulle formuleer hul versoek in
die woorde van Deut 17. Selfs die vergelyking met die ander nasies word
letterlik in Deut 17 genoem.

Bowendien is hulle met hulle versoek op die regte plek. Moses het
voorgeskryf: as julle met so ’n versoek kom, dan moet julle sekerlik ’n
koning oor julle aanstel wat die Here jou God sal verkies. Wel, wie kan beter
die keuse van die Here aanwys as Samuel God se profeet? Deur met hul versoek na
Samuel te gaan wys die oudstes van Israel dat hulle die keuse van God wil
respekteer. Hulle wys ook respek vir Samuel God se profeet en leier. Hulle erken
sy Godgegewe gesag.

So gaan die oudstes dan met ’n oënskynlike wyse en wettige versoek na die
regte persoon. Ons lees egter dat hul versoek veroordeel word. Dis die tweede
gedagte.

Hoekom word die versoek veroordeel? God het die koningskap tog belowe? Toe
Jakob sy seun Juda geseën het, het hy geprofeteer: "die septer sal van
Juda nie wyk nie, nog die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en
aan Hom sal die volke gehoorsaam wees" (Gen 49:10).

God self het alle voorbereidings vir die koningskap getref. Dmv Samuel. Toe
Hanna haar seun Samuel aan die Here gewy het, het die Gees haar laat sing van
die koning: "die Here gee sterkte aan sy koning en verhef die horing van sy
gesalfde" (1 Sam 2:10). Wanneer Hanna haar seun in die huis van die Here in
Silo agterlaat, sien sy profeties die koning reeds voor haar. Maar wanneer die
volk uiteindelik om ’n koning vra, word sy versoek veroordeel. Hoekom?

Om dit te verstaan moet julle goed let op wat die Here oor hul houding en
motiewe sê. Samuel het miskien reeds aangevoel dat die motiewe nie so vroom was
as hulle geklink het. Samuel se misnoeë hoef nie slegs ’n gevolg van
persoonlike belediging te wees nie. As profeet weet hy dat daar diepere sake in
geding is as sy persoonlike gevoelens. Sy misnoeë dryf hom na die Here toe, in
gebed. ’n Mooi voorbeeld hoe om te reageer op enige provokasie.

Die Here wys wat werklik aangaan: "Nie jou het hulle verwerp nie, maar
My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie." Die Here
ontbloot die ware motiewe. Formeel kan ’n mens niks teen hul versoek inbring
nie. Hul vraag om ’n koning is op homself nie noodwendig verkeerd nie. Soos
vandag se verlange na ’n sterk leier nie noodwendig verkeerd is nie. So lank
dit maar in geloof gedoen word, in vertroue op jou hemelse koning. Dit is wat
ontbreek in 1 Sam 8. God se volk vertrou nie op God se koningskap nie. "My
het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie" sê God. Hoewel Ek
my koningskap en mag so ryklik gewys het. Ek het Myself mos gewys as die
almagtige, die Here van die leërskare, die Here van die leërs van Israel, ja,
van al die magte in hemel en op aarde? Sou Ek dan nie in staat wees om my volk
te bewaar en te beskerm, selfs na die dood van Samuel nie?

Die almagtige God het gekies om onder sy volk te woon. Soos Hy vandag ook
onder ons woon met sy Gees en Woord. Die ark van die verbond was ’n heilige
simbool van sy koningskap onder en vir sy volk. Maar die mense verwerp Hom as
hul koning. Hulle durf nie om hulleself aan sy soewereine regering toe te
vertrou nie. Hulle wil ’n aardse koning. ’n Sigbare koning waarop hulle
trots kan wees, wat voor hulle kan uitgaan en hul oorloë kan voer. Die
koningskap van die Here is te vaag en te geestelik vir hulle. Hulle verwag meer
van ’n aardse koning. Hy sal hulle kan beskerm en bewaar. Ja, hierin is hulle
skuldig aan afgodery. Die Here vergelyk hul gedrag met dit van hulle voorouers:
"Soos al die werke wat hulle gedoen het, van die dag af dat Ek hulle uit
Egipte laat optrek het tot vandag toe, dat hulle My verlaat en ander gode gedien
het - so doen hulle ook met jou."

Israel se versoek om ’n koning is in feite afgodery, ook al word dit in
vrome taal aangebied. Op dieselfde manier kan ons verlange na sterk leiers ’n
vorm van afgodery wees. Wanneer ek my vertroue in ’n sterk leier plaas, pleks
van in die almagtige God, dan is dit afgodery, maak nie saak hoe vroom dit mag
klink. God alleen kan red. God alleen kan ons bewaar by die verlossing wat Hy
vir ons verwerf het. God alleen kan jou by die geloof bewaar. Daarby wil Hy
miskien van ’n sterk leier gebruik maak, soos dit hom behaag het om sy OT iese
volk soms sterk leiers te gee. Maar plaas nooit al jou vertroue in hulle nie.
Bly jou vertroue op God stel. Hy sal jou nooit teleurstel nie. Sterk leiers kan
en stel ook metterdaad dikwels teleur. Maar God almagtig is volkome betroubaar.
Jy kan altyd op Hom staatmaak. Vertrou op sy werk van bewaring, wel of nie via
sterk leiers. Jy kan jou diens aan die Here tog nie laat afhang van die sterk
leiers onder jou groep of die sterk leiers in die kerk nie? Wat gebeur as die
sterk leiers dan wegval of as hulle jou teleurstel? Wees dankbaar as God wel
goeie leiers gee, maar laat jou diens aan die Here en jou toekoms nie daarvan
afhang nie. Jou huidige en toekomstig diens aan die Here hang af van God self.
Hy alleen kan dit waarborg.

Vergelyk die situasie op ’n Bybelstudie vereniging. Ons kan kla oor swak
vergaderings en besprekings. Ons kan kla oor die gebrek aan sterk leiers. Maar
is die standaard van die bespreking werklik afhanklik van die leier? Wat van ons
eie verantwoordelikheid? Maak ons self wel erns met die waak waarmee ons besig
is deur goeie voorbereiding te maak? Deur self goeie insette te lewer? Sonder
ons eie betrokkenheid en die van die ander lede van die vereniging sal ’n
goeie leier min kan bereik. Die roep om ’n goeie leier kan dus ’n verskoning
wees vir ons eie onbetrokkenheid.

Geliefdes, wanneer julle sterk leiers soek, doen dit in nederige onderwerping
aan die Here. Ja, in ootmoed. God veroordeel Israel se versoek om ’n sterk
leier omdat hulle dit nie doen in ootmoedige onderwerping aan Hom nie. Hulle kom
nie by Samuel met ’n gevoel van skaamte nie, in erkenning van hul eie sondes
en swakhede nie, waardeur hulle nie in staat is om die koninklike priesterdom te
wees wat hulle moet wees sonder die steun van ’n sterk leier nie. As hulle in
ootmoedige onderwerping aan God gekom het, dan sou God hul versoek nie afgekeur
het nie. Want so ’n ootmoedige versoek sou dan gelyk gestaan het aan ’n
versoek om die Verlosser Jesus Christus. Maar nou kom hul versoek uit wêreldse
motiewe. Hulle word blykbaar bedreig deur Nahas die koning van die Ammoniete (1
Sam 12:12). Pleks van hulleself voor God te verootmoedig in geloof en bekering,
soek hulle verlossing in die verandering van die regeringsvorm.. Maar, broeders
en susters, verlossing kom deur ’n verandering van hart en nie deur
verandering van aardse strukture nie. As die harte nie verander nie, dan sal
’n ander vorm van regering die volk nie red nie. Daar is slegs blywende hoop
vir ’n nasie , ook vandag, as die mense hulle tot God bekeer en hulle aan sy
woord onderwerp.

Vergelyk opnuut die situasie van die bybelstudieverenigings. Wat sal die
verenigings tog ryk en diep wees as al die harte in vlam is van die saak van die
Here. Dan maak dit nie saak of daar ’n sterk leier is of nie. Die lede sorg
dan self vir ’n opbouende en inspirerende bespreking.

In 1 Sam 8 merk ons dat God se volk nie op hul hemelse Koning vertrou nie.
Hulle soek hul heil in ’n verandering van die vorm van regering. Hulle begeer
’n wêreldse koning terwille van hul wêreldse belange.

Terwyl die Here die koningskap wil hê om sy volk te bewaar by die verlossing
wat vir hulle verwerf is, wil hulle die koningskap hê om te kan roem in ’n
sterk militêre leier. God soek reformasie, hulle soek ’n sigbare vertoon van
mag. Dis ’n droewige konklusie van die lang geskiedenis wat God met sy volk
geloop het. God het hulle uit alle volke uitverkies om sy bevoorregte volk te
wees. Hy sou vir hulle sorg as hul almagtige koning. Het Hy hulle nie uit Egipte
bevry nie en hulle nie triomfantlik in Kanaän ingebring nie. Maar dieselfde
volk kla nou dat hulle arm is in vergelyking met die ander nasies: hulle het
geen koning soos al die ander nasies nie. Hulle verloën hul unieke posisie as
God se uitverkore volk. Hulle verkies om ’n aardse koninkryk te wees, op een
lyn met ander aardse koninkryke. Hulle wil soos die ander nasies wees, met ’n
koning om hulle te lei en om hul oorloë te voer. Die OT iese kerk is besig om
sy onderskeid met die wêreld op te hef. Sy onderskeid lê in sy God. Maar hulle
is besig om hul vertroue in God te verloën. Die OT iese kerk is besig om soos
die wêreld te word met sy vertroue in menslike en sigbare kragte. In ’n wêreldse
poging om hul grense te beveilig, is hulle besig om die grense te verwyder.

Dieselfde gebeur wanneer ons vandag ons toevlug neem tot wêreldse middele om
die kerk te probeer beveilig. Wees nie bekommerd nie, God sal vir sy kerk sorg.
Deur wêreldse middele soos bv. bedrog of dwang of vermaak toe te pas, maak ons
die situasie juis slegter. Deur dit te doen voer ons die wêreld in die kerk in.
God gee sy kerk ’n geestelike regering en geestelike middele. Laat ons ons hou
aan die wapens van die Gees in ons stryd vir God se saak in hierdie wêreld.

Israel wil ’n koning soos al die ander nasies. Samuel verklaar vir hulle
wat dit beteken. Hy teken die situasie van ’n tipies heerssugtige koning. So
’n wêreldse leier sal hulle tot slawe verlaag. Hy sal sy eie mag en glorie
soek ten koste van sy onderdane. God se volk dink dat hulle hul eie toekoms en
welsyn deur so ’n koningskap kan beveilig, maar ons hoor Samuel waarsku:
"In die dag sal julle roep vanweë jul koning wat julle vir jul verkies
het, en die Here sal julle in die dag nie verhoor nie." Hul wêreldse
begeerte om hul toekoms te beveilig buite die vertroue in die Here, sal ’n
ramp blyk te wees. Samuel waarsku hulle ernstig sodat hulle hulle voor die Here
sal verootmoedig en hul sekerheid by die troon van God sal soek, en verlossing
van Hom alleen verwag.

Die mense weier egter om te luister. Hulle het hul besluit reeds geneem. Die
Here het ook sy besluit reeds geneem. Samuel moet na hulle luister en vir hulle
’n koning gee. Vanweë hul verkeerde houding en motiewe veroordeel God hul
versoek. Tog gee God hul versoek. God het sy eie planne met betrekking tot
hierdie koningskap.

300 jare later skryf God deur die profeet Hosea: Ek gee jou ’n koning in my
toorn en ek neem hom weg in my grimmigheid (Hosea 13:11). Die koning wat hulle
wou hê was die verkeerde koning. Uiteindelik het hy hulle teleurgestel. God het
hom van hulle weg geneem.

Die koningskap was egter nie slegs iets wat God in sy toorn gegee het nie.
God het ook ’n positiewe doel daarmee. Dit word veral gewys in die persoon van
die tweede koning, koning Dawid. God wil ’n teokratiese koningskap oprig. Dit
het duidelik geword dat God se volk sy bestemming nie kan bereik sonder die
uiterlike ondersteuning van die koningskap nie. God kom tot hul redding. Hy gee
meer as ’n rigter. Hy wil hulle ’n koning gee as ’n permanente funksie om
sy volk in gehoorsaamheid aan sy wet te lei. Om hulle namens Hom te bewaar en te
beskerm. Weldra sal Israel ’n koning ontvang. Hulle kan nie sonder koning
regkom nie. Sal hulle met ’n koning regkom? Sal die koning die volk na hul
bestemming lei? Die geskiedenis van die koningskap sal dit leer.

Dit sal uiteindelik lei tot die roep om die volmaakte teokratiese koning
Jesus Christus. Die koningskap in Israel was bestem om die koms van die koning
af te skadu. Jesus is die ware koning. Hy is die koning van die konings en die
Here van die here. Hy is die koning wat werklik sy volk red, nie slegs van
vyande nie, maar boweal van die oorsaak van alle ellende, naamlik die sonde. Hy
is met hulle, met ons tot aan die voleinding van die wêreld. Sy juk is sag en
sy las is lig. Hy gee lewe en oorvloed vir elkeen wat Hom soek in geloof en
bekering.

Broeders en susters, laat ons ons dan onderwerp aan Hom en sy Woord. Vertrou
op Hom, hoe die omstandighede ook al mag wees. Vertrou jou toekoms, en die
toekoms van die kerk aan Hom toe. Hy sal daarvoor sorg. Hy sal voorsien.

Wanneer Jesus Christus in die Bergrede ons vertel om nie bekommerd te wees
oor ons lewe nie, oor wat ons sal eet, drink of aantrek, waarsku Hy ons dat juis
die ongelowiges na al hierdie dinge soek. Ons het egter ’n hemelse Vader wat
ons node ken en elke dag vir ons sorg. Hoe moet ons dan lewe? Hy sê: "soek
eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle
bygevoeg word (Mt 6:33).

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)