Die leer van die volharding lei nie tot ligsinnigheid nie maar tot heiligmaking.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-07-14
Teks: 
Dordtse Leerreëls 5
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 5 Art 12-14

Ds C Kleyn - Sondag 14 Julie 2002

Lees:

Matthéüs 7:13-29; Hebreërs 12:1-18; Dordtse Leerreëls Hoofstuk 5 Art 12-14.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 1:1,2; Ps 19:6,7; Ps 92:6,7.

Tema: Die leer van die volharding lei nie tot ligsinnigheid nie maar tot heiligmaking.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die leer en die lewe behoort met mekaar in ooreenstemming te wees. Hoekom is
dit met die christelike lewe dikwels nie die geval nie? Ons stuit soms op
besonder verdrietige, skandelike situasies. Waarby die dade heeltemal nie met
mense se woorde en belydenis ooreenstem nie. Dit kan gebeur dat iemand op die
preekstoel ’n geweldige prediker is, terwyl hy by die huis ’n tiran vir sy
vrou en kinders is. Dit kan gebeur dat ’n gerespekteerde lid van die gemeente
in die geheim betrokke is by bedrog of by ’n buite egtelike verhouding. Hoe is
dit moontlik dat so ’n persoon wel vroom oor Christus en sy geloof praat,
terwyl hyself die sewende of agtste gebod oortree? Dit kan gebeur dat jongmense
wel hier in die kerk sit, katkisasie toegaan, belydenis doen, hulleself as
christene beskou, maar deur die week met verkeerde vriende omgaan en hul vermaak
op die verkeerde plekke soek. Sondags sit sekere lidmate getrou in die kerk,
maar in die week leef hulle vir hulleself, vir hul wêreldse vermaak, geniet
hulle van allerlei sexy films en video’s en wêreldse musiek, waarin God en
mens onteer word. Helaas kan ons meer van sulke voorbeelde noem. Is dit die
normale christelike lewe? Is die teenstelling tussen leer en lewe eie aan die
gereformeerde leer?

Daar is mense wat dit beweer. Die Remonstrante het gedink dat die
gereformeerde leer inderdaad aanleiding gee tot so ’n teenstelling tussen leer
en lewe. Ons lees daarvan in die Verwerping van die dwalings hfstuk 5 par 6.
Daar word hulle gedagtes so weergegee: "Die leer van die sekerheid van die
volharding en van die saligheid is, kragtens sy eie aard en wese, ’n kussing
vir die sondige natuur en skadelik vir die vroomheid, goeie sedes, gebede en
ander heilige handelinge."

Waarom dink hulle so? Wel, sê hulle, die leer van die verkiesing en
volharding van die heiliges is ’n maklike leer. Daarmee bely jy mos dat alles
van God se genade en werk afhang. God doen dit en God doen alles. Jou vroomheid
en goeie werke bring jou nie in die hemel nie. En jou sondes hou jou nie uit die
hemel nie. Wat maak dit dan saak? Dit kom mos nie daarop aan hoe jy leef nie?
Dit kom mos altyd reg? Waarom sou jy jou dan beywer om God se gebooie te doen?
Waarom sou jy dan stry teen die verkeerde dinge in jou lewe, die dinge wat tog
so aantreklik is? Waarom sou jy dan dit doen wat moeilik is en wat selfverloëning
vereis en nie doen dit wat begeerlik is nie? Ons leer mos: eenmaal verlos, altyd
verlos? Hoe diep jy ook val, jy kan nooit uit Gods se genade uitval nie.

’n Aansprekende redenering. Dit klink logies. Maak die leer van die
volharding van die gelowiges mense nie hoogmoedig en sorgeloos nie? Is dit nie
’n kussing vir die sondige natuur en skadelik vir die vroomheid en
heiligmaking nie?

Helaas is daar christene wat aan hierdie redenering voedsel gee deur in hul
selfversekerdheid te leef soos dit hulle pas. Hulle is mos kinders van God!
Hierdie mense gee egter ’n vertekening van die christelike leer en lewe. Hulle
gee die christelike geloof en Christus self ’n slegte naam. Hulle is egter nie
toonaangewend vir die christelike geloof en die christelike kerk nie.

Hoogmoed en sorgloosheid is geen vrugte van die Gees nie, maar vrugte van die
sondige natuur. Hier word misbruik gemaak van die skriftuurlike leer van die
goddelike bewaring. Daarom lees ons in antwoord op die remonstrantse redenering
(in die verwerping van die dwalings par 6): "Daarmee wys hulle immers dat
hulle die krag van die Goddelike genade en die werking van die Heilige Gees wat
in ons woon, nie ken nie."

So bely ons ook met die eerste sin van art 12: "Dit is egter totaal
onmoontlik dat hierdie sekerheid van die volharding die ware gelowiges
hoogmoedige en sorgelose mense sou maak." Luister ook maar na die eerste
sin van art 13: "Wanneer die vertroue in die volharding weer lewendig word
in hulle wat uit ’n val in sonde weer opgerig word, bring dit geen
ligsinnigheid of verwaarlosing van die vroomheid nie, maar eerder ’n groter
begeerte om nougeset in die paaie van die Here te loop."

Ja, daar was altyd al mense gewees wat die troosvolle evangelie van God se
soewereine genade misbruik het. Paulus het die gedagte reeds moet bestry in Rom
6. Daar skryf hy: "Wat sal ons sê? Sal ons in die sonde bly, dat die
genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan
ons nog daarin lewe?" (Rom 6:1,2).

Ek kan dus nooit redeneer: ek is gered, ek kan nou doen wat ek wil nie. Wie
so redeneer vertoon homself nie as ’n ware christen nie. En as hy volhard in
die manier en dink en lewe, dan sal hy eerder hel as hemel toe gaan. Dis mos
onmoontlik vir ’n ware (en dus wedergebore) christen om so ’n houding te hê.
Die Heilige Gees sou dit nie toelaat nie. As God ’n goeie werk in iemand begin
het, sal Hy die persoon nie aan allerlei sondes oorgee nie. Die sonde sal oor
hom nie heers nie (Rom 6:14). Dis ’n innerlike teenstrydigheid om myself ’n
christen te noem terwyl ek rustig die verlangens van my sondige natuur volg.
Wanneer God iemand uitverkies, dan kies Hy hom uit tot heiligmaking en nie tot
onheiligheid en sonde nie. As iemand sê dat dit nie saak maak hoe hy leef nie
omdat God hom uitverkies het, dan kan hy nie sê dat hy uitverkies is nie; want
uitverkorenes handel nie so nie.

Wanneer ons sê: eenmaal gered, altyd gered, dan beteken dit nie slegs gered
wees van die skuld van die sonde, sodat jy die toorn van die hel kan ontgaan
nie. Dit beteken ook gered wees van die mag van die sonde. Dis onmoontlik vir
’n mens om van die skuld van die sonde gered te wees sonder om ook van die mag
van die sonde gered te wees. Die volharding van die heiliges beteken dat die
gelowiges sal volhard in hul geloof. Die geloof omvat ook droefheid en bekering
van sonde. As iemand nie oor sy sondes bedroef is nie en homself heeltemal aan
die sondes oorgee, dat wys hy dat hy nie gered is nie.

Die leer van die volharding bring die gelowige dus nie tot sorgloosheid en
ligsinnigheid nie, maar juis tot heiligmaking. Wanneer jy God ken as jou volkome
verlosser, dan wil jy Hom juis dank vir sy werk van verlossing. En die beste
manier om dit te doen is om God se wil te doen. Wanneer jy besef dat jy jou
geloof heeltemal van God ontvang het en dat jy slegs deur sy bewaring in die
geloof kan volhard, dan wil jy nie sonde doen nie. Inteendeel, dan wil jy God
daarvoor dank dat Hy die werk wat Hy in jou begin het, wil voleindig.

Daarom is dit ’n gruwelike vertekening van die christelike geloof om te
beweer dat die leer van die volharding tot losbandigheid sou lei. Die
teenoorgestelde is waar.

Broeders en susters, wie dink dat hy mag lewe soos hy lus is, omdat hy tog
gered is, vergeet dat die leer van die volharding ook ’n ander kant het.
Naamlik, die enige bewys dat ek werklik gered is, is dat ek in die geloof
volhard en dat ek na die wil van die Here wil lewe. Om seker te wees dat ons
ware gelowiges is, moet ons in die geloof volhard. Hulle wat nie volhard nie, is
nie God se verloste kinders nie. Hulle gaan verlore.

Ja gemeente, dis moontlik om sekere geestelike ervarings te hê sonder dat
dit beteken dat ons gered is. Kyk maar na Judas, Christus se verraaier. Judas
het saam met die ander dissipels die evangelie verkondig, duiwels uitgedrywe en
siekes gesond gemaak. Dit wil egter nie sê dat hy gered is nie. Van Koning Saul
word gesê dat die Heilige Gees oor hom gekom het en dat hy saam met die profete
geprofeteer het. Hy het Israel vir ’n rukkie in God se krag gelei. Beteken dit
egter dat hy ewig gered is? Die geestelike ervarings is geen waarborg van hul
ewige redding nie.

Die enige bewys dat ek gered is, is dat ek volhard en groei in die geloof tot
die einde toe. Ja, die gelowiges kan tot groot en gruwelike sondes verlei word.
Miskien het jy dit ook beleef. Maar so ’n gelowige kan nie in so ’n sondige
staat bly lê nie. As hy ’n ware kind van God is, sal hy altyd terugkom. Maar
daar is ook die afvalliges. Hulle wat hul geloof bely het, geestelike ervarings
gehad het, maar nie gered is nie. Hulle het hulleself as christene voorgestel,
vir ’n periode het hulle soos christene gelyk, maar toe het hulle die
christelike geloof die rug toegekeer en nooit teruggekom nie. Hulle is verlore
omdat hulle nie tot die einde toe volhard het nie. Hulle het gewys dat God nooit
hulle gered het nie, omdat waar God red, daar red Hy vir ewig. Wat God begin,
voltooi Hy ook.

Gemeente, hierdie leer moet ons nie verras nie. God het ons mos in Christus
uitgekies om heilig voor Hom te wees (Ef 1:4). Alle uitverkorenes is dus
uitverkies om heilig te wees. Slegs deur heilig te wees het jy ’n bewys dat jy
uitverkies is. So lees ons ook in Titus 2:14 dat Christus Homself vir ons gegee
het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ’n volk as sy
eiendom te reinig, ywerig in goeie werke. Indien ek nie rein en ywerig in goeie
werke is nie, het ek geen bewys dat ek verlos is nie. Dis onmoontlik dat ’n
uitverkore, verloste sondaar verlore sal gaan. Dis ook onmoontlik dat ’n
uitverkore, verloste sondaar soos die wêreld sou leef of definitief na die wêreld
sou terugkeer. Die enige bewys dat jy waarlik gered is, is dat jy heilig is en
groei in geestelike dinge.

Kyk maar na Mt 7:20vv. Ek lees die verse 20-23. Jesus praat hier oor mense
wat beweer dat hulle gelowiges is. Die feit dat jy God se woorde aan mense
voorhou (dit is profeteer), bewys nog nie dat jy ’n nuwe hart het nie of dat
jy in Jesus Christus ’n nuwe skepping is nie. Die feit dat jy duiwels kan
uitdrywe, is nog geen bewys dat jy ’n ware gelowige is nie. Op die oordeelsdag
sal daar mense wees wat al die dinge gedoen het, maar vir wie Christus sal sê:
"Ek het julle nooit geken nie." Hoekom sal Jesus sê dat hy hulle
nooit geken het nie? Jesus noem as rede: omdat julle ongeregtigheid doen, die
wil van die Here oortree.

Die bewys dat jy aan Christus behoort, is dat jy geheilig is, dat jy die
ongeregtigheid nalaat. "Nie elkeen wat sê: Here, Here, sal ingaan in die
koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die
hemele is." Wanneer jy luister na Christus se woorde en dit doen, bou jy op
’n soliede fondament. As jy Christus se woorde hoor en dit nie doen nie, sal
jou lewenshuis uiteindelik inmekaar stort. Daarom sê Jesus: dis nie die
buitengewone en dramatiese dinge wat bewys dat jy geestelik is nie ’n ware
christen nie, maar die doen van die wil van die Here. Om te luister en te doen,
dit bewys dat jy ’n geestelike mens is. Al die uitverkorenes sal volhard tot
die einde. Die enige bewys dat jy het dat jy so ’n persoon is, is dat jy
volhard. Daarom beywer jou in die diens van die Here, toon selfbeheersing,
aanvaar verantwoordelikheid vir jou lewe en gedrag, span jou in om tot die einde
toe te volhard.

Dink aan die gelykenis van die saaier. Sommige mense hoor die woord van God
en vergeet dit onmiddellik. Ander mense hoor die woord van God, is aanvanklik
opgewonde daaroor, maar wanneer daar moeites kom, gee hulle hul geloof prys. By
ander mense sien jy dat die koring tussen die dorings groei. Uiteindelik word
die dorings sterker, verstik die woord en maak dit onvrugbaar. Ja, daar is
sommige mense wat vir jare soos ware christene lyk. Ons besef egter nie dat daar
iets anders is wat groter word in hul lewe, totdat dit oorheers en hulle af val
van die geloof. Al hierdie mense is verlore. Wie is dit dan wat gered word?
Hulle wat die woord hoor en wat dan ook vrug dra. Dis wat Jesus Christus vir ons
sê. Die enige bewys dat jy dan het dat jy gered is, is dat jy volhard in die
geloof en vrug dra tot die einde toe.

Gemeente, in die brief aan die Hebreërs word vir ons duidelik gemaak dat
lydsaamheid en volharding nodig is om die belofte te verkry. Ons moet ons
vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou (Hebr 3:14). Daarom word ons ook
opgeroep om elke las af te lê en die sonde wat ons so maklik omring en met
volharding die wedloop loop wat voor ons lê. Ons lees in Hebr 12:14: "Jaag
die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien
nie." Let op die laaste woorde: sonder die heiligmaking sal niemand die
Here sien nie. Dit help dan niks om te sê: ek het my geloof bely. Ek is ’n
lid van Christus se kerk, ek is ’n christen. As jy die heiligmaking nie ken
nie, as jy nie met jou sondige lewenstyl wil breek nie, maar leef soos jy lus
is, dan het jy geen bewys dat jy werklik by Christus behoort nie. Sonder die
heiligmaking sal niemand die Here sien nie.

So is daar dan aan die een kant die pragtige beloftes van die bewaring van
die ware gelowiges. Maar aan die ander kant is daar ook ons verantwoordelikheid
om te volhard in die geloof.

Watter praktiese uitwerking het dit vir ons? As gelowige kan ek nooit sê: ek
het my geloof bely, ek is ewig veilig, daarom kan ek leef soos ek wil nie. Ek
weet dat ek nie vrygestel is van afval nie. Die apostel waarsku ons:
"daarom wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie." Tewens
sê hy: "Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien,
terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie." Paulus sê
in feite: ek hardloop op die baan, ek kasty my liggaam om die wedloop met
volharding te loop, ek hou myself onder bedwang dat ek nie terwyl ek vir ander
aangespoor het, self gediskwalifiseer word nie. Indien dit vir die apostel
Paulus geld, hoeveel te meer sou dit ook nie vir ons geld nie?

Daarom versoek ek julle in Naam van Christus: tref maatreëls om in jul
geloof te volhard. Beywer julle daarin. Is daar ’n sonde in jou lewe wat jy
besig is om te duld? Sondige gewoontes wat jy besig is om te koester, bv. die
kyk na sondige films en videos? Breek daarmee. Stop daarmee. Tref maatreëls om
dit nooit weer te doen. Dis wat God se woord vir jou leer.

Gemeente, hierdie leer het ons ook iets te sê wanneer ons te doen het met
mense wat hulleself as christene voorgee, terwyl hulle moedswillig sondig. As jy
christene sien wat soos die wêreld lewe, wat nie meer bid of bybellees nie, dan
moet jy nie daarvan uitgaan dat sulke persone uitverkorenes is en daarom wel
weer terug sal keer nie. Ons weet nie wie uitverkore is nie. Ons kan slegs
uitgaan van God se beloftes en eise en op grond daarvan die persone aanspreek.
Daarom sal ons boodskap moet wees: as jy bly lewe soos jy nou lewe, dan sal jy
verlore gaan. As hy ’n ware kind van God is, sal hy hom bekeer en die pad van
heiligmaking en volharding volg. Maar as hy nie ’n ware kind van God is nie,
dan sal hy bly waar hy is en nie terugkeer nie. Maar dit is ons roeping om vir
hulle wat so lewe te sê: wees baie versigtig. Jy kan nie so lewe en hemel
toegaan nie. As jy werklik hemel toe wil gaan, dan moet jy nou jouself vir die
hemel voorberei. As jy werklik glo dat jy by Christus behoort, dan moet Christus
nou die middelpunt van jou lewe wees. As jy werklik dink dat die ewige vreugde
en heerlikheid jou bestemming is, dan sal jy nou reeds alles aan jou
heiligmaking moet doen.

So vervul die leer van die volharding van die heiliges ons aan die een kant
met groot vreugde. Wat ’n pragtige beloftes wat ons vertel dat ons as ware
gelowiges nie verlore kan gaan nie. Aan die ander kant vervul dit ons ook met
’n heilige erns en vrees. Ons weet dat ons ons moet beywer om die wil van die
Here te doen, om so te wys dat ons werklik by Christus behoort.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)