Die leer van die volharding van die gelowiges is ’n skat van Christus se bruid.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-07-21
Teks: 
Dordtse Leerreëls 5
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 5 Art 15

Ds C Kleyn - Sondag 21 Julie 2002

Lees:

Efésiërs 1:3-14; 1 Petrus 5:6-11; 2 Petrus 3:13-18;  Dordtse Leerreëls Hoofstuk 5 Art 15.
Sing: Ps 89:1; Ps 89:6,7; SB 24:1,3; SB 24:6,7; Ps 33:6,11.

Tema:

Die leer van die volharding van die
gelowiges is ’n skat van Christus se bruid.

Hierdie skat word:

  1. gehaat en bestry deur Satan en sy volgelinge; en
  2. bemin en verdedig deur Christus se bruid.

 

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die laaste jaar is die waarheid van die Skrifte vir julle gepreek nav die DL.
Ons het agtereenvolgens gekyk na die goddelike uitverkiesing en verwerping (hfst
1), die dood van Christus en die verlossing van die mense deur sy dood (hfst 2),
die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit
plaasvind (hfst 3 en 4) en tenslotte die volharding van die heiliges (hfst 5).

Ons het nou aan die einde van die Dordtse Leerreëls gekom. In die laaste art
kom alles as t ware weer saam. Dis waar dat slegs die leer van die volharding
van die ware gelowiges en van die sekerheid daarvan uitdruklik genoem word.
Vergeet egter nie dat die leer van die volharding nou samehang met die leer wat
in die vorige 4 hoofstukke bespreek is, die leer van die verkiesing, verlossing
en bekering. Alles loop uit op die leer van die volharding. Dis ’n uitwerking
daarvan, die afronding daarvan.

By die behandeling van die leerstukke het alle nadruk geval op die besluite
en werke van die soewereine God. Alles is uit Hom, deur Hom en tot Hom. Daarom
ook: Syne is die heerlikheid tot in ewigheid (Rom 11:36).

So eindig die DL ook met ’n lofprysing. Ja, die hele belydenis is ’n
loflied. Dis een groot loflied op God die Vader, die Seun en die Heilige Gees.
Hierdie God is ons God, hierdie God van verkiesing en verwerping, hierdie God
van die dood van Christus en van die wedergeboorte deur die Gees, hierdie God
van die volharding van die heiliges. Hierdie God van die volkome verlossing is
ons God. Wie sou nie juig nie?

Op ’n pragtige wyse eindig die DL met ’n loflied op die drie-enige God.

Ek verkondig vir julle: die leer van die volharding van die gelowiges is ’n
skat van Christus se bruid.

Hierdie skat word:

  1. gehaat en bestry deur Satan en sy volgelinge; en
  2. bemin en verdedig deur Christus se bruid.

Hierdie leer ondervind baie teëstand. Satan haat dit hartgrondig. Hoe kan
dit ook anders! Die leer van die verkiesing en die volharding van die heiliges
gee aan God alle eer. Die leer is God-gesentreer. Satan, God se vyand, kan nie
uitstaan dat God die eer ontvang nie. In die paradys was die sondeval van die
mens ’n sekere oorwinning vir satan. Hy het mense aan sy kant gekry. Hy wil
die mense aan sy kant hou. Maar wat sien ons gebeur? God kies sekere mense uit
om hulle te red. Hy gee sy Seun vir hulle. Hy vernuwe hulle deur sy Gees en
bewaar hulle sodat hulle onherroeplik die einddoel van die geloof bereik. Dis
iets wat satan intens haat. Dit beteken mos dat die Here God oorwin en dat hy,
die satan, tog die groot verloorder is.

Satan besef dit en doen alles in sy vermoeë om die aandag van God af te lei.
God waarsku ons in sy Woord: "Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander,
die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan
verslind." (1 Pt 5:8). So word ons ook in Openb 12:12 gewaarsku: "Wee
die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal
met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het." Satan is woedend. Hy
weet dat dit vir hom ’n verlore stryd is. Hy weet dat sy dae getel is. Daarom
is hy so aktief, slu en fel. Hy doen wat hy kan om aandag af te lei van die eer
van God en die troos vir God se volk.

Satan probeer om mense vir die leuen te strik. Hy probeer om die mens in die
sentrum van die aandag te bring. Sorg maar daarvoor die evangelie wat gepreek
word mens-gesentreer is, dat die mens in die middelpunt kom te staan, dan sal
God tog nie die eer ontvang wat hom toekom nie, en die mens sal met ’n
ingebeelde hemel tog verlore gaan. Laat die mens maar op die troon sit as die
bewerker van sy saligheid, as die beslissende instansie. Jy kan tog self kies
wat jy wil? Jy is mos ’n mens! Met ’n eie verstand, gevoel en wil? Ja, dit
spreek die mens wel aan. Ons is mos almal eergevoelig. Ons wil mos almal ons eie
baas wees, oor ons eie pad en toekoms besluit? Maar dis ’n leuen waarmee satan
probeer om ons te mislei. Soos hy dit reeds in die paradys gedoen het.

Gemeente, wat het die mens in die paradys tog ’n verhewe en gelukkige
posisie ontvang, as God se onderkoning hier op aarde! Maar satan het die mens
ontevrede gemaak deur hom voor te lieg dat hy nog meer en groter kon wees; nie
langer as beeld van God nie, maar soos God, op dieselfde vlak as God, ja as sy
eie god wat in onafhanklikheid self oor goed en kwaad kan besluit. Dit was
natuurlik ’n leuen. En deur die leuen te glo het die mens homself en die wêreld
waaroor hy koning was in die ongeluk gestort.

Wel, in die dwaling van Pelagius en van die Remonstrante keer feitelik
dieselfde leuen terug. Jy sal soos God wees. Jy kan en mag en sal oor jou eie
toekoms besluit. Jy is jou eie heer en meester. Satan bly kom met die aloue
leuen. Dis nie verniet dat die Here Jesus van satan sê: "Hy was ’n
mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in
hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat
hy ’n leuenaar is en die vader daarvan" (Joh 8:44).

Broeders en susters, besef tog goed met wie julle te doen het in die
mens-gesentreerde moderne teologie, waarvan Die Beeld bv. vol is. Daar staan die
mensemoordenaar agter, die vader van die leuen wat nie die ware geluk van die
mens, dus van jou, beoog nie, maar ons ongeluk. Hy stel slegs belang in sy eie
oorwinning, maak nie saak wat van die mense wat hy bedrieg, word nie. As hy maar
’n oorwinning oor God kan behaal!

Jy sou hom kan vergelyk met die dwelmsmouse. Wat doen die dwelmsmouse? Hulle
probeer om vir jou dwelms te verkoop. Hulle laat voorkom asof dwelms jou
gelukkig kan maak. Deur die dwelms te gebruik sou jy werklik jouself kan wees,
onafhanklik van ander en sou jy uitgetel kan word bo al jou frustrasies en
moeites. ’n Leuen natuurlik, dit maak die moeites en probleme nog erger en jy
word afhanklik pleks van onafhanklik. Dink jy dat die dwelmsmous werklik vir jou
omgee? Hy stel slegs belang in homself, in die geld wat hy daaraan kan verdien.
Dat hy daarmee ander mense in die ongeluk stort, raak hom nie.

Wel, so is dit met satan. Hy is ’n mensemoordenaar wat mense deur sy leuens
in die ongeluk stort. Hy weet dat hy God se werk nooit kan vernietig nie, dat hy
deur Christus oorwin is. Hy weet dat God alleen ware en blywende geluk kan gee.
Hy sal dit egter nooit erken nie. Inteendeel, hy beywer hom des te meer om mense
van die evangelie en dus van God weg te trek deur die waarheid te verdraai, deur
sy leuens. Hy haat die leer van die volharding van die heiliges. Hy kan dit nie
uitstaan wanneer ’n kind van God, wat hy tot sonde verlei het, so deur God
getroos word en tot herstel gebring word. Hy is nie bly met jou ware geluk nie,
maar met jou ongeluk. Laat ons dit tog goed besef, nugter en waaksaam wees, hom
teëstaan, standvastig in die geloof.

Broeders en susters, satan word in sy haat en bestryding ondersteun deur die
afvallige wêreld. Die wêreld bespot hierdie leer. Julle met jul afhanklikheid
van God. Julle met jul leer van die soewereiniteit van God en van sy bewaring.
Kyk maar na die praktyk van die lewe. Kyk maar na wat die tradisionele geloof
bewerk het in die tyd van die apartheid. Kyk maar na die situasie van nou. Die
korrupsie, die kapings, die moorde, die verwarring, die onsekerheid ook onder
mense wat hulleself christene noem. Wat blyk van die soewereine God wat sy
kinders verlos en bewaar? Moet ons nie eerder praat van die soewereine mens wat
sy eie toekoms moet maak nie? As ons onsself nie red, wat sal dan van ons word?
So loop die afvallige wêreld agter Satan aan in sy verwerping van die
skriftuurlike leer. By die wêreld moet die mens homself red. Die mens is sy eie
heer en meester.

Hierdie leer word voorts deur onkundiges en huigelaars misbruik. Dis ’n
gruwelike misbruik van hierdie leer wanneer daar gesê word: God doen alles, dus
kan ek doen wat ek wil. Alles sal reg kom. Dis ’n misbruik van hierdie leer
wanneer dit gemaak word asof ons in die sonde kan lewe. Die Here sal wel
daarvoor sorg dat ons behou bly. Vorige week het ons gesien dat dit ’n
misbruik is wat ook in die kerk kan voorkom. Paulus en Petrus het reeds daarteen
gewaarsku. Judas praat van mense wat die genade van onse God verander in
ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën
(Judas 1:5).

Hierdie misbruik kan voortkom uit onkundigheid. Ek kan deur onverskilligheid
en slapheid die oorsaak daarvan wees dat ek geen regte insig in God se woord en
werk het nie. Dan praat ek oor dinge waarvan ek geen verstand het nie. Daar is
egter ook huigelaars, skynheiliges wat so redeneer. Hulle het die gedaante van
godsaligheid maar nie die krag daarvan nie (2 Tim 3:5). Hulle bekeer hulle nie
werklik nie. Hulle is meer liefhebbers van hulleself as liefhebbers van God.
Hulle laat dit voorkom asof hulle die skriftuurlike leer nog handhaaf, terwyl
hulle dit in feite misbruik in hulle eie kortsigtige belang. God sien egter deur
die uiterlike skyn heen. Tensy hulle hul nou nog bekeer, sal hulle dit eenmaal
tot hul onheil ontdek.

Hierdie leer word deur dwaalgeeste bestry. Valse profete, moderne teoloë en
liberale christene sluit hulle aan by die wêreld in hul bestryding van die hart
van die evangelie: God se vrye genade. Dit is vir die moderne mens ’n
ongeloofwaardige, ja, ’n onuitstaanbare leer. So ook vir die moderne teoloog.
Dit word ervaar as ’n vernedering of ’n belediging van die mens. Hier het
ons humanisme in die teologie, op die preekstoele, en in die kerke. Humanisme
wat die lakens uitdeel pleks van onfeilbare lewende woord van ons soewereine
God. Dit sal duidelik wees: verset teen die leer van die volharding van die
gelowiges is verset teen God en sy genade. Verset teen God wat sy volk kies,
verlos, laat volhard in die geloof en hulle daarby ook die sekerheid van die
volharding skenk.

So kom ons by die tweede gedagte van die preek: die leer van die volharding
van die ware gelowiges word nie slegs gehaat en bestry deur satan en sy
volgelinge nie, dit word ook bemin en verdedig deur Christus se bruid.

In die geskiedenis van die mensdom was daar altyd al baie stryd rondom die
leer van God se soewereine verkiesing en bewaring. In wese het die groot
kerkreformasie van die 16e eeu hieroor gegaan. Die leer het groot kerkskeurings
tot gevolg gehad. Die leer hou nou nog baie mense wat hulleself christene noem
uit mekaar. Oor hierdie leer is daar baie verwarring, misverstande, misbruike.
In ons belydenis noem ons ook die feit dat die sondige natuur hierdie leer nie
verstaan nie. Dit blyk ’n saak te wees wat moeilik is om te verstaan. Gaan
maar na in jul eie lewe. Die leer benadruk dat alles uit en tot God is. Maar
tegelykertyd handhaaf die leer die verantwoordelikheid van die mens. Kan julle
die twee met mekaar versoen? Daar sit altyd nog ’n sekere spanning in hierdie
leer. Maak nie saak hoe uitvoerig ons dit beskryf of behandel nie. Die vraag kan
gestel word: as hierdie leer soveel misverstand, misbruik en teëstand bly gee,
is dit wel nodig om soveel aandag aan die leer te gee? Kan ons nie beter hieroor
swyg nie pleks van dit as ’n splytswam tussen christene te laat funksioneer?

Wat dink julle? Sal ons maar daaroor swyg? Wat doen jy as jy lief vir iemand
is? Die persoon - dit kan jou huweliksmaat, vriend of vriendin wees - het jou in
vertroue geneem en vir jou allerlei belangrike dinge oor homself en sy
geskiedenis vertel. Jy weet nou wie die persoon is, wat sy planne is, wat hy
doen en wat hy meegemaak het. Wat maak jy met die kennis? Maak jy asof jy dit
tog nie gehoor of verstaan het nie? Asof hy nog ’n vreemde, onbekende vir jou
is? Dit sou ’n belediging wees. As jy lief vir die persoon is, dan hou jy
rekening met wat jy gehoor het. Jy waardeer die persoon soos hy is.

Hoeveel te meer geld dit vir God, ons Maker en Man! God het ons in vertroue
geneem. Hy het homself bekend gemaak, sy gedagtes, verlossingsplan en
verlossingswerk. Soos ons bely in ons laaste art: "Hierdie leer het God tot
eer van sy Naam en tot troos van die gelowiges uitvoerig in sy Woord
geopenbaar." Ja, uitvoerig. God het dit nie slegs terloops effens genoem as
’n saak van ondergeskikte belang nie. Nee, Hy het dit uitvoerig genoem. In
beide die Ou en Nuwe Testament. Die DL en die preke daaruit het dit voldoende
aangetoon. Die Bybel spreek uitvoerig daaroor. Hierdie leer staan nie aan die
rand van God se openbaring nie. Dit is die hart van die evangelie. Dit deurtrek
die hele bybel.

Het die heilsboodskap nie met ’n belofte begin dat God vyandskap sal stel
tussen satan en die vrou, die kerk en dat die saad van die vrou, Jesus Christus,
sal oorwin nie. God begin: Ek sal vyandskap stel. Hierdie ‘Ek sal’ is
kenmerkend vir die hele vervolg van God se openbaring. Die Here God word steeds
weer geteken as die Eerste en die laaste, uit wie, deur wie en tot wie alle
dinge is.

God het homself dus uitvoerig en oorduidelik aan ons bekendgemaak as ons
enigste en volkome Verlosser. Mag ons dan maak asof dit nie in die bybel staan
nie of nie duidelik in die bybel staan nie? Sou dit nie ’n belediging vir God
wees nie. Hy het ons mense tog in vertroue geneem en aan ons homself en sy werke
tog duidelik bekend gemaak? Hoe kan ons dan maak asof Hy en sy werke onbekend
is? Die misbruik van hierdie leer ontslaan ons nie van die roeping om God op sy
woord aan te neem nie. Dit gaan oor die eer van sy Naam. Ons moet Hom die eer
gee wat Hom toekom. En nie terwille van die sondes en swakhede van mense hierdie
sentrale leer van die Skrif verswyg nie.

Hier kom by, gemeente, dat God hierdie leer tot ons troos in ons harte
ingeprent het. Hy het dit in ons ingeprent. Deur sy Gees het hierdie leer deel
van myself geword. Dis iets wat ek nooit meer sal vergeet nie. Daarvoor moet ek
wel steeds weer my eie hoogmoed, eiewilligheid of twyfel oorwin. Maar dit bly
staan as ’n waarheid wat in my hart gegrif is, om nooit te verdwyn nie. Dis
’n leer waarvoor ek leef en waarvoor ek bereid is om te sterf. Ja, my enigste
troos in lewe en in sterwe. Wat ’n troos dat ek altyd op God kan staatmaak.
Wat ’n troos dat dit nie my feilbare werk is nie, maar God se onfeilbare werk
is wat beslis. Wat ’n troos dat nie my trou nie, maar sy trou my by my
bestemming sal bring. Die hele werk van verlossing lê vas in sy sterk hande.
Sou ek hieroor kan en wil swyg? Dit beteken alles vir my. My volkome verlossing.

Daarom lees ons: "Die bruid van Christus het die leer egter altyd as
’n skat van onberekenbare waarde innig liefgehad en dit volhardend
verdedig." Die bruid van Christus. Dis u, jy wat glo. Die uitdrukking wys
op ’n liefdesverhouding. Christus is die Bruidegom. Sy liefde het ons gesoek,
sy bloed het ons gekoop. Ons mag sy bruid wees, die voorwerp van sy besondere
liefde. Alles wat ek is, het ek aan sy verlossingswerk te danke. Daaragter sien
ek die liefde van die Vader wat hierdie plan uitgedink het. Die drie-enige God
staan daaragter. Verlede, hede en toekoms lê in sy hande.

Daarom is hierdie werk, hierdie leer ’n skat van onberekenbare waarde. Ons
kan dit nie in syfers uitdruk nie, so groot is die waarde daarvan. Wat is die
bruid sonder die bruidegom? Wat is die swak en sondige bruid sonder haar getroue
bruidegom en sonder die wete dat hy trou is? Die skat is onbetaalbaar. Hier is
die fondament van die verlossing. Hier klop die hart van die evangelie. Hier
word die perspektief op die ewige toekoms geopen. God is alles. Christus staan
sentraal. Die verlossing is radikaal en volkome. Dit is die geheim van ons lewe
as bruid. Daarom het ons die leer so innig lief. As bruid sou ons dit vir niks
in die wêreld wil mis nie. Daarsonder sou ons nie as bruid kan lewe nie. Daarom
het die ware bruid hierdie leer ook volhardend verdedig. Dis vir haar alles
werd.

En, broeders en susters, die Here sal sorg dat die kerk dit ook in die
toekoms sal bly liefhê en verdedig. Hy sal vir homself ’n volk behou wat Hom
en sy woord liefhet. Die haat en teëstand teen die leer kan groot wees en is
groot. Dit neem eerder toe. Maar God sal die waarheid steeds weer in herinnering
bring en handhaaf. Teen God kan geen beplanning standhou nie, nog minder kan
geweld iets teen Hom vermag. In stryd en nood sal Hy volharding gee. Volharding
in die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Volharding in die ware
belydenis van Hom as die soewereine, drie-enige God. Die oorwinning lê mos vas
in God die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

So eindig die art met die lofprysing: Aan hierdie enige God, Vader, Seun en
Heilige Gees, kom toe eer en heerlikheid tot in ewigheid. Nie aan ons, o troue
God, aan u Naam alleen gee eer! Uit u, deur u en tot is mos alle dinge. U het
mos al u besluite geneem en u verrig al u werke tot lof van u heerlikheid (Ef
1). Laat ons dan met die kerk van alle plekke en tye die loflied ophef tot eer
van hierdie drie-enige God drie-enig. Vir sy onbeskryflike liefde en sy volkome
verlossing.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)