God roep Saul om koning oor sy volk te wees.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-07-28
Teks: 
I Samuel 10
Preek Inhoud: 

1 Samuel 10:1-8

Ds C Kleyn - Sondag 28 Julie 2002

Lees:

1 Samuel 9:1-10:11.
Sing: Ps 105:1,2; Ps 105:3,4; Ps 105:5; Ps 45:1,2,3,16; Ps 20:5,6,7,9; Ps 68:16.

Tema:


God roep Saul om koning oor sy volk te wees.

  1. Die aanloop;
  2. Die salwing;
  3. Die bevestiging; en
  4. Die toets.

 

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons leef om God te loof. Die doop van Herman Lucius het ons daaraan herinner.
Dit gaan daaroor dat ons God drie-enig ewig loof en prys. Elkeen van ons word
geroep om God met opregte geloof, vaste hoop en vurige liefde te dien. Die feit
dat God ons in sy gemeente ’n plek gee, wys dat Hy ons almal ook in sy diens
wil opneem. Ons doop herinner ons daaraan. Dit roep en verplig ons tot nuwe
gehoorsaamheid. As God se profete, priesters konings in hierdie wêreld. Sien
daar julle hoë posisie en roeping. Om God se profete, priesters en konings te
mag wees!

Hoe kan ons die hoë roeping nakom? Daarvoor het God sy beloftes gegee. Dink
opnuut aan die doop. God wil ons toerus tot die taak in diens van Hom. Hy wil
ons ons sondes vergewe en ons lewe vernuwe. Dis waar die water van die doop op
wys. Dis ’n teken van die afwassing van ons sondes deur die bloed en Gees van
Christus. God roep, maar Hy wil ook alles gee wat nodig is om die roeping te
vervul. Sodat jy ook werklik as sy gesalfde kan optree. So is die Here. Dit sien
ons ook duidelik in die geskiedenis van ons teks.

Ek verkondig vir julle: God roep Saul om koning oor sy volk te wees.

  1. Die aanloop
  2. Die salwing
  3. Die bevestiging
  4. Die toets

Israel het om ’n koning gevra. Hul versoek is veroordeel, maar ook
toegestaan. Veroordeel omdat hulle nie hul vertroue op hul hemelse koning, God
almagtig, gestel het nie. Hulle het meer verwag van ’n sterk, sigbare leier,
soos by die ander volke. So ’n leier sou hul toekomstige welvaart en
veiligheid kan waarborg, dink hulle. Asof God almagtig dit nie kon doen nie.

Tog bewillig God hulle versoek. God wil ’n teokratiese koningskap oprig.
God se volk het so ’n leier nodig en God wil die pad berei vir ons groot
koning Jesus Christus.

Die besluit om Israel ’n koning te gee het geval. Nou moet slegs die regte
man aangestel word. Maar hoe moet die keuse gemaak word? In die wet het die Here
bepaal: "dan moet jy sekerlik ’n koning oor jou aanstel wat die Here jou
God sal verkies." (Deut 17:15). Hulle moet dus wag op die keuse van die
Here.

1 Sam 9 wys op die keuse van die Here. Let daarop dat die volk geen
seggenskap hierin het nie. Die Here kies soewerein ’n koning vir Israel en
stel die koning van sy keuse aan Israel voor.

Dit gebeur alles op ’n wonderlike manier, op ’n oënskynlike triviale
manier. Julle weet wel uit ervaring hoe dit soms kan gaan. Toevallig is jy op
’n sekere plek, toevallig ontmoet jy ’n sekere persoon en dit blyk een van
die belangrikste ontmoetings van jou lewe te wees. Moontlik ’n keerpunt in jou
lewe. Bv daar ontmoet jy jou lewensmaat. Onbeduidende gebeurtenisse, soos die
gaan na ’n sekere konferensie of fees lei tot ’n beslissende keerpunt in jou
lewe. Op daardie oomblik lyk dit toevallig, maar agteraf is dit duidelik dat God
dit so gelei het. So gaan dit meesal met God se leiding. Ons doen ons dinge, ons
maak ons planne, ons neem ons besluite en sien eers agteraf dat ons toe deur God
gelei is.

Wel, dis hoe dit met Saul gegaan het. Sy pa se eselinne het weggeraak. Saul
moet vir hulle gaan soek. Niks besonders nie. Tog is die weggeraakte esels die
middel wat God gebruik om Saul in kontak met die profeet Samuel te bring. Saul
gaan op stap om vir die esels te soek. Pleks daarvan vind hy die koningskap.

Saul en sy dienaar kan die verlore diere nie vind nie. Bekommerd dat sy pa
miskien oor hulle besorg sal wees, besluit Saul om terug huis toe te gaan.
"Toevallig" nader hulle op daardie oomblik Rama, Samuel se woonplek.
Die dienaar ag dit die moeite werd om hierdie man van God te raadpleeg. Daar is
egter twee probleme. Eers wat moet hulle die siener gee? Gelukkig het die
dienaar "toevallig" ’n kwart sikkel silwer by hom. Die tweede
probleem is, hoe kom hulle met Samuel in kontak? "Toevallig" ontmoet
hulle meisies wat uit die stad uitgaan en wat hulle aanwysings na Samuel gee.
Wanneer hulle op die punt is om die stad binne te gaan kom Samuel self hulle
tegemoet.

Via die oënskynlike trivialiteite lei God Saul na Samuel. Die verdwaalde
esels, die vrugtelose soektog, die kwart sikkel silwer en die meisies val alles
binne die raamwerk van God se soewereine plan. Ons sal nooit weet wat ’n dag
sal bring nie, maar God weet die einde van die begin af (Spr 27:1; Jes 46:10).
God het dit alles beplan. Die dag voordat Saul gekom het, het die Here vir
Samuel gesê: "More sulke tyd sal Ek ’n man uit die land Benjamin na jou
stuur wat jy moet salf as ’n vors oor my volk Israel" (1 Sam 9:16).

Broeders en susters, in die geskiedenis wat volg sien ons God se herderlike
sorg vir Saul. Stap vir stap berei Hy hom versigtig voor op die koningskap. Ja,
so is ons God, Hy is pastoraal en liefdevol. God konfronteer Saul nie
onmiddellik met sy toekomstige taak nie. Hy maak dit nie onmiddellik ’n
publieke saak nie. Hy handel eers met Saul op ’n persoonlike vlak. Hy gee Saul
eer tyd om met die spesiale amp klaar te kom.

In hul eerste ontmoeting maak Samuel ’n bedekte verwysing na die
koningskap. Hy vra die retoriese vraag: "Aan wie behoort al wat begeerlik
is in Israel? Is dit nie aan jou en jou hele familie nie?" Saul antwoord
met gepaste ootmoed: "Is ek nie ’n Benjaminiet, uit een van die kleinste
van die stamme van Israel, en my geslag die geringste uit al die geslagte van
die stam van Benjamin nie? Waarom spreek u dan so met my?"

By die feesmaal word Saul as die eregas behandel en ontvang hy die beste deel
van die vleis. Daarna praat Samuel met Saul op die dak van sy huis. Samuel berei
Saul versigtig voor op die boodskap wat hy die volgende oggend vir hom moet gee,
sodat dit nie as ’n groot skok vir hom kom nie. Samuel wag met die salwing vir
die regte oomblik. Dit moet privaat gebeur. Daarom stuur hy Saul se dienaar voor
hulle uit. Samuel wil alleen met Saul wees.

So kom ons by die tweede gedagte: die salwing

Samuel neem die kruik met olie en giet dit uit op Saul se hoof. Wat beteken
die salwing? Die katkisante weet miskien nog wel dat dit wys op twee dinge.
Eerstens wys dit dat die persoon tot ’n spesiale amp geroep word. Daardeur sê
die Here feitelik: Ek kies jou om my spesiale dienaar te wees, in hierdie geval
om koning oor my volk te wees. Dat Saul gesalf word wys dat hy gesag ontvang. Sy
gesag kom van die Here en word deur die Here bepaal. So is daar ook die grens
aan sy koninklike gesag. God is die ware koning terwyl Saul slegs God se
onderkoning is. Saul het slegs gesag in sover as God dit vir hom gee.

In die tweede plek wys die salwing daarop dat God die persoon wil toerus tot
die taak waartoe hy geroep word. Die salfolie simboliseer die verkwikkende en
bekwaammakende krag van die Heilige Gees. In die warm en bedompige Midde Ooste
het ’n geurige olie die beswete en vermoeide liggaam verfris en verkwik. So
wil die Here God sy dienaar verkwik en toerus vir sy besondere amp. Hy belowe om
hom met sy Gees te begiftig.

Samuel salf Saul namens God as koning oor Israel. Saul ontvang sy benoeming
en die belofte van goddelike toerusting. Hy word amptelik aangestel. Deur die
profeet van die Here. Dus deur God self. Daarom kan Samuel sê: "Het die
Here jou nie gesalf as vors oor sy erfdeel nie?" Die Here is in beheer. En
Saul is aan Hom verantwoording skuldig as sy spesiale dienaar.

Na die salwing soen Samuel Saul. Laat daar geen misverstand wees nie. Samuel
was wel ongelukkig met die oorspronklike versoek om ’n koning, soos die Here
self ook ongelukkig was vanweë Israel se gebrek aan vertroue in Hom. Maar nou
God sy koning gekies het, gee Samuel sy volle ondersteuning. Hy is die eerste om
die nuwe koning te eer. Hy soen hom en wys sy liefde vir hom.

Saul word gesalf as vors oor God se erfdeel. Hy moet die volk lei in
gehoorsaamheid aan die Here. Saul mag nie soos die naburige konings, wat hulle
onderdane behandel soos hulle lus voel, wees nie. Hy is nie ’n outokratiese
koning, ’n despoot nie. Nee, hy is ’n onderkoning, aangestel om iemand
anders se erfdeel te lei. Sy onderdane behoort nie aan homself nie. Hy kan nie
met hulle handel soos hy lus is nie. Sy onderdane behoort aan sy hemelse koning.
God het hulle aan sy sorg toevertrou. Hy moet God se erfdeel lei, God se
besondere, dierbare eiendom. Iets waar jy versigtig mee omgaan.

Geliefdes, kan julle voorstel hoe Saul gevoel moet hê toe hy hierdie unieke
eer ontvang het om die eerste koning oor God se erfdeel te wees? Dit moet iets
ongelooflik vir hom gewees het. Dis die laaste wat hy kon verwag het. ’n Mens
sou sê dat Benjamin, in die lig van sy skandelike geskiedenis, alle regte
verbeur het. As gevolg daarvan was hulle verreweg die kleinste stam in Israel.
Wie sou verwag het dat die eerste koning uit die stam van Benjamin sou kom? Moet
Saul, ’n boer uit die geringste stam en geslag, koning wees?

Die amptelike salwing moes op homself vir Saul voldoende wees. Maar God ken
die hart van ons mense, ons menslike swakheid. Daarom wys God geduld en
erbarming. God wil enige moontlike twyfel wegneem. Nou nou sal Saul alleen
agtergelaat word, sonder Samuel. Op pad huis toe sal hy nadink oor wat gebeur
het. Hy sal heen en weer geslinger word. Hy sal nie met enigiemand oor sy geheim
kan praat nie. Mense sou dink dat hy dwaas is. Daarom neem God in sy liefde
voorsorgmaatreëls. God gee vir Saul 3 tekens vir op pad huis toe. 3 tekens as
bevestiging van sy aanstelling as koning. Drie tekens om sy geloof te versterk.
Ja, dis die funksie van tekens wat God gee. Dink ook aan die teken van die doop.
Dis ’n ekstra by die Woord van God, ’n besvestiging van die Woord van God.

So kom ons by die 3e gedagte: die bevestiging.

Samuel noem 3 gebeurtenisse wat op Saul se pad huis toe sal plaasvind. 3
gebeurtenisse wat Saul sal help om te glo dat God hom inderdaad gekies het om
koning oor Israel te wees. God het hom in alle erns geroep tot die koningskap.
God het ook in alle erns belowe om hom toe te rus tot sy amp. Daar is geen
twyfel aan nie. God meen wat Hy sê.

Vir ons wat die vervolg ken, is dit verleidelik om die erns van God se
roeping van Saul te bevraagteken. Het God werklik alles gedoen om dit te laat
werk. Ons beskou Dawid as die eerste ware teokratiese koning.

Maar, gemeente, uit die woorde van ons teks is dit duidelik, bo alle twyfel,
dat God Saul ernstig geroep het en dat God ook allerlei gedoen het om dit te
laat werk. God het selfs die salwing bevestig met die drie tekens. Wanneer God
iemand tot die besondere amp roep, dan bedoel Hy wat Hy sê. Hy meen ook wat Hy
sê wanneer Hy die bekwaam-makende krag van sy Gees belowe. Wanneer dinge
verkeerd loop, kan jy nie God die skuld daarvan gee nie. God wat roep is getrou,
Hy hou woord.

Dat Saul in alle erns geroep is word bevestig deur die 3 tekens.

Die eerste teken is dat hy by die graf van Ragel twee manne sal aantref wat
hom sal vertel dat die esels gevind is. God bevestig eerstens die woord van die
profeet Samuel. Saul mag seker weet dat Samuel ’n betroubare profeet van die
Here is.

Die tweede teken is dat Saul by die terpentynboom van Tabor drie manne sal
ontmoet wat na Betel opgaan. Hulle sal vir Saul twee brode gee. Saul sal die eer
ontvang wat gewoonlik vir ’n priester, ook ’n gesalfde van die Here, gegee
word. Deur die tweede teken wys die Here vir Saul dat hy die eer sal ontvang wat
hom as God se gesalfde toekom. Die Here bevestig Saul se roeping. Die Here wys
ook deur die gawe van die twee brode dat Hy vir sy gesalfde sal sorg. Die Here
sal voorsien.

Die derde teken is die klimaks. Terwyl hy sy woonplek nader sal hy ’n groep
profete ontmoet. Hulle sal besig wees met profeteer, met die verheerliking van
God se naam, deur woord en musiek. Deur die Gees van God. Die Gees van die Here
sal oor Saul vaardig word sodat hy saam met hulle sal profeteer en in ’n ander
mens verander word. Van ’n boer verander hy skielik in ’n statesman,
generaal, prins, God se werktuig. Mense sal so verras wees om hom te sien
profeteer dat hulle vir mekaar sal sê: Is Saul ook onder die profete?

Wel, broeders en susters, as julle ’n duidelike bewys wil hê dat God in
alle erns Saul belowe het om sy Gees vir hom te gee, dan het julle hier die
bewys. God het dit ernstig bedoel wat Hy simbolies deur die salwing gewys het.
God het sy bekwaammakende Gees vir Saul gegee. En die mense het die skielike en
onverwagse verandering bemerk. Hulle het daar steeds weer oor gepraat. Op ’n
sigbare en dramatiese manier het God sy belofte vir Saul vervul.

Dit is dan die drie tekens wat God vir Saul gegee het op sy pad huis toe.
Drie tekens om God se roeping en belofte te bevestig. Drie tekens om Saul bo
alle twyfel te verseker dat God hom gekies het om koning te wees en dat God hom
sou toerus.

Wat ’n pragtige sorg van God vir sy dienaar Saul. Wat ’n groot
bemoediging vir die moeilike taak wat voorlê. God self staan agter hom.
"Doen dan wat jou hand vind om te doen, want God is met jou" sê
Samuel.

God gee sy dienaar wat hy nodig het om sy amp te vervul. Dit sal nie God se
skuld wees as hy in sy koningskap faal nie. God het die bekwaammakende krag van
sy Gees beloof. En God het die bekwaammakende krag gewys. Nou moet Saul wys dat
hy God se ernstige roeping aanvaar en in God se ernstige belofte van hulp
vertrou.

Daarom waarsku Samuel Saul reeds oor die toets wat hy sal moet deurstaan. Dis
die vierde gedagte: die toets.

Ons kan vers 8 ’n toets noem. God sal Saul op die proef stel. Saul moet
homself bewys as ’n teokratiese koning. Hy moet wys dat hy ’n dienaar van
God wil wees, wat op die Here vertrou en sy bevele gehoorsaam.

Op ’n sekere oomblik sal Saul na Gilgal moet gaan en sewe dae op Samuel
moet wag. Volgens 1 Sam 13 sal Gilgal dien as ’n basis vir aksie teen die
Filistyne.

Saul mag die Filistyne nie aanval nie totdat Samuel offers aan die Here
gebring het. Saul sal 7 dae moet wag vir die profeet wat hom moet vertel wat hy
moet doen. Hy sal 7 dae moet wag vir die instruksie van die Here deur Samuel.

Dit sal nie maklik wees nie. Wanneer jy vyande in die gesig staar dan is dit
nie maklik om geduldig 7 dae te wag nie. Maar dis wat die Here van Saul vra. Dat
die Here Saul nou reeds voorberei op die toekomstige situasie, wys hoe belangrik
en beslissend dit vir Saul se koningskap sal wees. God sal Saul in Gilgal op die
proef stel, in Gilgal die basis vir Josua se verowering van Kanaän. Saul word
geroep om Kanaän opnuut van vyande te bevry. Hy sal vanuit Gilgal moet begin.
Hy sal moet bewys dat hy dit wil doen as onderkoning van God, in vertroue op die
Here en in gehoorsaamheid aan sy bevele.

Is hy bereid om te wag vir Samuel en so sy vertroue en toewyding aan die Here
te wys? Is Hy bereid om te wag op die instruksies van die Here, die bevele van
sy hemelse generaal? Die toets sal wys of hy ’n ware teokratiese koning is of
nie.

Hoe het God Saul voorberei op die toets! Hy het hom in alle erns geroep. Hy
het hom gesalf. Hy het die salwing bevestig met die drie tekens op pad huis toe.
Hy het die waarheid van sy belofte bewys deur sy Gees oor Saul vaardig te laat
word. Hierdie seun van die geringste stam in Israel het niks om te vrees nie.
God sal voorsien en toerus.

Hy wat roep is getrou, ook vandag. Die Here gee sy volk ampsdraers. Die
ampsdraers is ernstig geroep. Hulle kan op God se woord staatmaak. Ook op sy
belofte. Hy wil die bekwaammakende krag van sy Gees gee. Aanvaar sy roeping en
vertrou op sy belofte.

Ja, in feite roep God elkeen van ons, in die amp van alle gelowiges. Hy roep
deur sy evangelie. Hy bevestig dit in die sakramente. Dink aan die doop wat
nounet bedien is. Hy roep in alle erns om Hom te dien, as sy profete, priesters
en konings, om op Hom te vertrou en om Hom te gehoorsaam. Kyk maar terug in jou
lewe en sien hoe God aan die werk was om jou tot sy diens te roep. Sien sy
leiding en sorg. Soms deur onbeduidende gebeurtenisse. Kyk hoe Hy dinge gelei
het, volgens sy plan van verlossing. Alles val mos onder sy soewereine plan.

En onthou: die Here roep nie slegs nie. Hy belowe ook die krag wat nodig is
om die roeping te vervul. Hy belowe sy bekwaammakende Gees. Hy wat roep is
getrou. Hy hou woord. As jy in gebreke bly om Hom te dien, dan is dit nie sy
skuld nie. Met sy evangelie gee Hy alles wat jy nodig het. Daarom: aanvaar sy
ernstige roeping. Vertrou jouself toe aan die Here God wat roep. Onderwerp
jouself aan sy Woord. Laat sy Gees jou vul en lei.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)