Die stryd tussen Nahas en Saul is ’n stryd tussen die slangesaad en die vrouesaad.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-08-04
Teks: 
I Samuel 11
Preek Inhoud: 

1 Samuel 11

Ds C Kleyn - Sondag 4 Augustus 2002

Lees:

1 Samuel 11.
Sing: Ps 33:1,2; Ps 79:5,6; Ps 74:15,16,17; Ps 14:4-7; Ps
31:1,3,5.

Tema:


Die stryd tussen Nahas en Saul is ’n stryd tussen die slangesaad en die
vrouesaad.

  1. Die aanval van die slangesaad; en
  2. Die oorwinning van die vrouesaad.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dit gebeur soms dat vooraanstaande persone in die kerk of samelewing op ’n
indrukwekkende manier met hul werk begin om later heeltemal die spoor byster te
raak. Die meeste van ons ken wel sulke mense. Hulle was geestelike leiers of
baie belowende politieke leiers. Met die tyd het hulle egter verkeerd gegaan,
hulle begin wys as slegte leiers. Jy kan nie meer glo dat hulle vroeër so
anders was nie. Ja, wanneer iemand vandag bekend staan as ’n slegte leier dan
vergeet jy dikwels die tyd waarin hulle wel goed gedoen het. Die persoon roep
nou slegs ’n volkome negatiewe beeld op. Die persoon word heeltemal
gediskwalifiseer. Ja, agteraf word selfs wat die persoon vroeër gedoen of
geskryf het gediskwalifiseer. Jy wil niks daarmee te doen het nie. So werk dit
dikwels. Maar is dit korrek? Mag ons die goeie wat iemand gedoen het negeer
omdat die persoon later sleg blyk te wees?

Wat ons genoem het, gebeur ook dikwels mbt koning Saul. Ons weet hoe dit met
Saul afgeloop het. Saul blyk uiteindelik ’n mislukking te wees as teokratiese
koning. Dit bepaal ons visie op Saul. Hy word slegs as ’n mislukking gesien.
Weet ons nog wel hoe hy begin het? Ken ons nog wel die geskiedenis van ons teks?
In die lig van hoe dit met hom afgelope is, vergeet ons dit maklik. Laat ons
egter reg doen aan wat ons hoofstuk van koning Saul vermeld.

Ek verkondig vir u: die stryd tussen Nahas en Saul is ’n stryd tussen die
slangesaad en die vrouesaad.

Ons let op

  1. die aanval van die slangesaad; en
  2. die oorwinning van die vrouesaad.

Die teks stel aan ons voor Nahas die Ammoniet. Uit die volgende hoofstuk van
Samuel blyk dat Nahas al langer ’n bedreiging vir Israel gevorm het. Skielik
verskyn hy hier egter op die toneel. Hy trek op teen Israel en beleër Jabes in
Gilead.

Gemeente, dis opvallend hoe Nahas geïntroduseer word. Terwyl hy nog nie
eerder genoem is nie, word hy summier aan ons voorgestel as Nahas die Ammoniet,
meer nie. Daarmee val des te meer klem op die naam Nahas. Vir ons sê die naam
niks nie. Omdat dit nog in n vreemde taal weergegee word. Maar vir die Israeliet
wek die naam onmiddellik bepaalde assosiasies op. In die hebreeuse taal beteken
die woord nahas naamlik slang. Die Israeliete hoor in die naam dus die woord
slang. Dit roep onmiddellik assosiasies op met Gen 3. Daar is sprake van die ou
slang wat genoem word duiwel en satan. Ons lees in Gen 3 van die slang dat hy
Adam en Eva aanval en van God wegtrek. Maar God gryp in en verklaar oorlog aan
nahas die slang: Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou
saad en haar saad.

Nahas, die Ammoniet, laat ’n mens dus dink aan die ou slang wat daarop uit
is om God se werk stukkend te maak. Die ou slang uit Gen 3 is weer aktief. Via
hierdie Nahas, die Ammoniet. Van tyd tot tyd tree mense op as sy gewillige
instrumente. Nahas die Ammoniet is ’n skakel in die ketting van die slangesaad
wat die vrouesaad in sy mag probeer kry.

Wie is in hierdie geskiedenis dan die vrouesaad? Dis die volk van God. Die
bevolking van Jabes in Gilead. Die Israeliete. Saul, die gesalfde koning van
Israel.

Nahas trek dus op en beleër Jabes in Gilead, aan die oostekant van Israel se
gebied. Die ou slang pas nou ’n ander taktiek toe as in Gen 3. Daar het hy op
’n sluwe en subtiele manier sy aanval op Adam en sy vrou gerig. Nou kom hy met
bruut geweld.

Opvallend is die wyse waarop die mense van Jabes reageer. Hulle laat hulle
intimideer deur Nahas se magsvertoon en vra: "Sluit met ons ’n verbond,
dan sal ons u dien." Hulle dink nie aan verset nie. Dit lyk by voorbaat
sinloos te wees. Nahas is veels te sterk. Wat kan so ’n klein, onbeduidende
stadjie begin teen so ’n magtige teenstander? Hierdie mense praat wel van ’n
verbond, maar dit is ’n mooi woord vir ’n treurige saak: geen verhouding van
wedersydse regte en pligte nie, maar ’n verdrag van oorgawe, waarby Nahas die
voorwaardes stel en hulle hul daaraan onderwerp.

Hul reaksie is begryplik. Redelik normaal, sou ’n mens sê. Het jy wel ’n
keuse teenoor so ’n magtige vyand? Tog is die reaksie beskamend. Waarom? Omdat
ons dan vergeet dat ons hier te doen het met die volk van God en met Nahas die
slangesaad. Is dit normaal dat God se volk homself sonder slag of stoot aan die
slang oorgee? Waar is die vertroue op God?

Gemeente, dis nie slegs die mense van Jabes wat hulle hieraan skuldig maak
nie. Gebeur dit ook nie dikwels by ons nie? Ons laat ons maklik intimideer deur
God se vyande. Ons laat ons in ’n hoekie dryf, bv deur die kritiek of spot van
die wêreld. Ook deur die spot van ons sogenaamde vriende of klasgenote. Dan
vergeet ons God gewoon en dink ons nie eers aan Hom nie. Dan kom dit nie in ons
gedagte op dat Hy ons kan red nie. En dan waag ons dit nie om in sy naam die
stryd aan te bind nie, maar dan gee ons onsself by voorbaat gewonne.

Nahas, die ou slang uit die paradys, het ons so gebyt en ons daardeur so
onder sy ban gebring, dan ons as ‘t ware daardeur verlam word. Hy het ons
gesigsvermoë so aangetas dat ons God nouliks of heeltemal nie meer sien nie.
Ons sien dan niks anders meer as die gevaar wat ons bedreig en die mag van die
vyand nie.

So was dit by die bevolking van Jabes. Hulle is sommerso bereid om hulle aan
koning Nahas, die slang, te onderwerp. Maar Nahas is oormoedig. ’n Eenvoudige
onderwerping is vir hom nie genoeg nie. Hy wil God se volk diep verneder. Hy wil
dat dit vir elkeen duidelik word dat God se volk die slaaf en speelbal van die
Slang is en dat hy met die volk kan maak wat hy wil. Hy is slegs bereid om ’n
verbond met hulle te sluit op voorwaarde dat hulle almal die regteroog laat
uitsteek.

Met nadruk vermeld die teks dat Nahas daarmee beoog om smaad op die hele
Israel te lê. Nahas die slang wil bewus God se volk beledig, skande oplê. Om
iemand se regterhand uit te steek beteken om so ’n persoon ongeskik vir die
stryd te maak. Dis presies die smaad wat hy op die hele Israel wil lê. Israel
is ’n volk van niks nie, nie eers in staat om sy eie identiteit te verdedig
nie. Nahas wil duidelik die hele volk van God tref, te skande maak. Hieragter
steek die haat van die slang teen God.

Wanneer Nahas sy voorwaardes stel, skrik die inwoners van Jabes. Pleks om
’n eerlose verbond met Nahas te sluit, herinner hulle hul dat hulle by God se
verbondsvolk behoort. Miskien is dit Nahas self wat hulle daaraan herinner het.
Hy het mos genoem dat hy ’n skande op die hele Israel wil lê. Hy het Jabes
dus duidelik as deel van die hele Israel gesien. In ieder geval besef Jabes nou
dat hy deel van die hele volk is.

Die oudstes van Jabes sê dan vir Nahas: "Laat ons sewe dae lank met
rus, dat ons boodskappers in die hele gebied van Israel kan stuur; as daar dan
niemand is wat ons verlos nie, sal ons na u toe uittrek." Dis verrassend
dat Nahas dit toestaan. Hieruit blyk dat hy in sy hoogmoed niks van Israel
verwag nie. Gestel dat daar hulp kom, dan sal hy die maklik kan oorwin want
Israel is maar swak. En as daar geen hulp kom nie, dan slaag hy nog beter in sy
opset. Hy wil mos smaad op die hele Israel lê? Nou, dit gebeur des te beter as
daar vanuit die hele Israel geen hulp kom nie of as die hulp verpletter word.

Aanvanklik lyk dit asof daar geen hulp sal kom nie. Daar is wel medelyde aan
die kant van die Israeliete. Wanneer die boodskapper in Gibea van Saul kom en
hulle die berig aan die volk meedeel, verhef die hele volk hulle stem en ween.
Hierdie reaksie kom simpatiek oor. Die berig oor die smaad wat dreig wek deernis
op by die hele volk. As een lid ly, ly al die lede saam. Dit sal in Gibea wel
besonder die geval gewees het. Jabes in Gilead en Gibea was mos deur spesiale
familie bande aan mekaar verbind. Toe Benjamin tot slegs 600 manne gereduseer
was, het hulle 400 vroue juis uit Jabes in Gilead ontvang (sien Rigter 21:6-12).

Die deernis van die volk is egter nie genoeg nie. Daarmee word die vyand nog
nie oorwin nie. Indien dit daarby sou bly, sou God se volk nog magteloos wees.
Dan sou die slang Nahas tog nog oorwinnaar wees en die vrouesaad tot skande
maak. Goddank bly dit egter nie by die medelyde nie. Saul kom van die veld af.
Wanneer hy hoor wat gaande is, gryp die Gees van God hom aan en ontsteek by hom
’n hewige toorn.

Dis iets waarop die slang nie gereken het nie. In sy hoogmoed het hy hom
misreken. Die ou slang kan homself gelukkig ook op ’n situasie miskyk. Hy kan
hom in sy metodes vergis omdat hy by sy planne geen rekening met God hou nie. As
jy God nie in rekening bring nie dan beteken dit altyd dat jy jou misreken. Dit
geld nie slegs vir die satan en koning Nahas nie, maar ook vir ons. Wie God en
sy Christus nie meetel nie, sal uiteindelik alles verloor.

So kom ons by die tweede gedagte: die oorwinning van die vrouesaad.

Die Gees van God gryp Saul aan en ontsteek by hom ’n hewige toorn. Dis die
vonk in die kruitvat. Alle opgehoopte energie wat deur die wagtyd geryp het,
breek nou na buite. Hierdie toorn van Saul is hartverkwikkend. Hier word ’n
mens baie kwaad vanweë die smaad wat Israel en so ook Israel se God aangedoen
word. Wie God se volk aanraak, raak sy oogappel aan. Ons kan die toorn van Saul
vergelyk met die toorn van die jongman Dawid, wanneer hy Goliat hoor laster en
hoon. Ons mag God dank as daar nog mense is wat daaroor kwaad word; mense wat
die laster nie aanvaar nie maar daarteen opstaan. Saul word kwaad omdat die eer
van God op die spel staan.

Saul stuur ’n boodskap deur die hele gebied van Israel met die stukke bees
as aanskoulike onderstreping van sy woorde: "wie nie agter Saul en agter
Samuel aan uittrek nie – so sal met sy beeste gedoen word." Saul noem ook
die naam van Samuel. Hy weet dat die profeet van die Here agter Hom staan, ja
dat God self agter hom staan. So val die skrik van die Here op die volk en hulle
trek soos een man uit. Dis ’n skrik wat deur die Here verwek is. Die Here
verleen krag aan Saul se oproep. Die mense hoor daarin God se eie stem en durf
hulle nie onttrek nie.

Ja, dis God se Gees wat die volk deur Saul wakker skud en mobiliseer. Daarom
is dit so belangrik dat ons die Gees nie uitdoof nie. Waar die Gees nie werk nie
daar dommel mense in en verdwyn die weerstand teen die slang. Daar kry die ou
slang steeds meer ruimte. In die stryd teen die ou slang kan ons die Gees nie
mis nie. As ons ons vir die Gees afsluit, is daar geen stryd meer nie. Dan
dommel ons in en is ons ongeskik vir die stryd.

So kry Saul ’n beduidende leër op die been. Dis vir hom ’n bemoedigend
teken. Hy weet dat groot dinge gaan gebeur. Hy is seker van die oorwinning. Hy
stuur dan ook boodskappers na Jabes in Gilead met die boodskap: "More as
die son op sy warmste is, sal julle hulp (oftewel verlossing) kry."

Die sekerheid slaan oor op die mense van Jabes. Hulle sê valslik vir Nahas:
More sal ons ons aan u oorgee. Saul blyk deur die Gees van God ook ’n
uitstekende veldheer te wees. Hy gaan met moed en oorleg te werk. In ’n
verrassings aanval soggens vroeg verslaan hy die leër van die Ammoniete. Nahas
wat God se volk wou smaad, word self smadelik op die vlug gejaag; nie twee van
sy manne bly bymekaar nie. ’n Pragtige slot. Nahas, die slang, word verslaan.
Saul, die gesalfde van die Here, behaal ’n oorwinning vir die vrouesaad oor
die slangesaad. As sodanig is dit ’n voorspel van die groot bevryding wat nog
moet kom. Saul is mos nie die vrouesaad nie. Dis Jesus Christus. Die Gees was op
Hom. Hy het oorwin en sal finaal die kop van die slang vermorsel.

Dit was ’n verbete stryd tussen Hom en die slang. Hoe kan dit ook anders.
Ons het Hom in die steek gelaat. Die saad van die vrou het baie swaar gekry. Dit
het gelyk asof Hy misluk het. Hy is gekruisig. Hy het gesterf en is begrawe. Dit
het gelyk op ’n oorwinning van die slang en van die magte van die duisternis.
Maar ook hier het die slang hom vergis. Hy het geen rekening met God gehou nie.
Wat op ’n oorwinning vir hom gelyk het, was sy nederlaag. In sy lyding en dood
het Christus God se verlossingsplan vervul. Om ons te red. Wat die slang teen
die Christus vermag het, was juis volgens God se verlossingsplan. Christus se
skynbare nederlaag blyk ons oorwinning te wees. Sy dood, ons lewe.

Broeders en susters, na die oorwinning van Saul op die slang Nahas gebeur
iets herkenbaars. Die volk wat van sy skugterheid bevry is, slaan deur in ’n
soort oormoed. Hulle wil die mense wat oor Saul se koningskap gemopper het en
aan Saul se bekwaamheid getwyfel het, doodmaak. Daaragter skuil ’n stuk
selfregverdiging. Hulle het onmiddellik iets in Saul gesien, hulle blyk nou
gelyk te hê. Sonder Saul sou ’n groot smaad oor Israel gekom het. Daarom, weg
met die mense wat Saul nie lojaal ondersteun het nie.

Die mooie is dat Saul hierdie gedagte afwys en die eer aan die Here gee:
"Op hierdie dag mag geen man gedood word nie, want vandag het die Here ’n
verlossing in Israel bewerk." Hier blyk Saul se edelmoedigheid en
onbaatsugtigheid. Hy forseer sy koningskap nie. Hy laat dit aan die Here oor. Hy
verwag baie van die verlossing van die Here. Dit kan gebeur dat mense hulle
aanvanklik vergis in God se gesalfde koning. Soos dit vandag nog kan gebeur tav
ons Koning Jesus Christus. Maar daar is nog ’n tyd van genade, ’n tyd van
bekering. ’n Tyd om jou aan Hom gewonne te gee.

Pleks van ’n slagting onder God se eie volk, stel Samuel ’n vernuwing en
bevestiging van die koningskap voor. Die Here het so duidelik laat blyk dat Hy
Saul as sy gesalfde koning wou gebruik. Laat nou die hele volk, ook hulle wat
vroeër geaarsel het, hulle nou agter God se koning verenig. Dit word dan ook
’n groot fees daar te Gilgal. Die plek is reeds geheilig deur die verlede.
Daar het die Here mos die smaad van Egipte van sy volk afgewentel. Daar is die
sakramente bedien, die besnydenis en die pasga, wat in die woestyn agterweë
gebly het (Josua 5). Nou word daar opnuut ’n fees in Gilgal gevier. Die Here
het opnuut die smaad van sy volk afgewentel, die smaad van Nahas die slang. Deur
Saul die gesalfde koning.

Gemeente, hierdie hoofstuk is die mooiste hoofstuk uit die geskiedenis van
Saul. Hy is hier werklik ’n messiaanse koning, ’n voorafskaduwing van die
Christus. Hy laat hom hier gebruik as ’n goeie instrument in God se
verlossingswerk. Hy wys homself hier as ’n koning soos hy behoort te wees. Hy
laat hom beheers deur God en sy Gees. Ons sien hier watter groot dinge moontlik
is wanneer Saul hom deur die Gees laat lei. Laat ons dit nie vergeet nie, ook
wanneer ons verder moet praat oor Saul se uiteindelike mislukking as ’n
koning. God het hom tog gebruik in die stryd tussen vrouesaad en slangesaad. Hy
mog aan die kant van die vrouesaad stryd teen die slang. Hy mog selfs die
vrouesaad lei in die oorwinning op die slangesaad.

Helaas het dit nie so gebly nie. Daarom roep Saul se koningskap om die
volmaakte koning Jesus Christus. Hy het hom aan Vader se wil onderwerp nie slegs
aan die begin van sy optrede nie, maar tot die einde toe, ja tot die dood aan
die kruis. So het Hy vir ons ’n ewige verlossing verwerf. ’n Verlossing wat
nie meer ongedaan gemaak kan word nie.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)