Die enigste ware en blywende houvas vind julle by Jesus Christus.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-08-04
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 1
Preek Inhoud: 

Sondag 1

Ds C Kleyn - Sondag 4 Augustus 2002

Lees:

Jesaja 28:7-22; 1 Petrus 2:1-10; Sondag 1.
Sing: Ps 118:1,2; Ps 118:7; Ps 118:11,12; SB 10; SB 24:7.

Tem

a: Die enigste ware en blywende houvas vind julle by
Jesus Christus.

  1. God wys Hom aan as die vaste fondament; en
  2. God roep ons op om op Hom te bou in geloof.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanmiddag begin ons weer met die pragtige inset van die Kategismus. Die inset
wat praat van die enigste troos in lewe en in sterwe. Die baie persoonlike
inset: wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Dat ek nie aan myself nie,
maar aan my getroue Verlosser Jesus Christus behoort.

Die bedoeling van die Kat is nie om die persoonlike geloof te smoor nie.
Inteendeel. Die bedoeling is om die persoonlike geloof te stimuleer. Dit word
gegee om julle te help om jul persoonlike geloof te verstaan en te omskryf. Want
die liefde van God is so groot dat ek dit nie op my eie kan vat nie. Ons het
daarvoor die heiliges nodig, die kerk om ons te help. Sodat ons saam met al die
heiliges kan leer om te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte van
die liefde van God is (Sien Ef 3:18).

In die kerk stel ons belang in die persoonlike geloof: wat is jou enigste
troos in lewe en in sterwe? En dan mag ek antwoord: my enigste troos is dat ek
aan my getroue Verlosser Jesus Christus behoort.

Maar wat bedoel ons met die woord troos? Wie het troos nodig? Dikwels verbind
ons die woord troos met droefheid. Mense wat bedroef is, mense wat baie ly of
’n geliefde deur die dood verloor het, moet getroos word. Wanneer ons die
woord troos gebruik dan dink ons meestal nie aan mense wat goed af is en
hulleself gelukkig voel nie.

Tog gemeente, moet julle by die woord troos nie slegs dink aan ’n situasie
van uiterlike, sigbare nood nie. Die Kat gaan daarvan uit dat elkeen troos nodig
het. Ook hulle wat welgesteld en gelukkig lyk. Die woord troos in ons Kat praat
nie slegs van die leniging van verdriet en pyn nie. Die woord praat eerder van
sekerheid, vastigheid. ’n Mens sou die vraag ook so kan formuleer: wat is jou
enigste houvas in lewe en in sterwe?

Wanneer jy die vraag so formuleer dan ontdek jy dat niemand so ’n troos kan
mis nie. Daar is altyd nog die raaiselagtige, duistere dinge van die lewe. Die
lewe met al sy wisselvallighede en onsekerhede bly tog maar ingewikkeld. Dink
maar aan die ongelukke, siektes en rampe wat baie mense plotseling tref. Die
raaisels van die lewe en die raaisel van die dood dwing mense om êrens houvas
te soek waar hulle hul veilig voel.

So sien ons mense op soek na vastheid en veiligheid in ’n wêreld wat
steeds in beweging is, wat deur onsekerheid en onstabiliteit gekenmerk word.
Mense bou mure rondom hulle. Mense bou hul eie stad. Waar hulle dink dat hulle
veilig is. Hulle neem allerlei maatreëls om hul toekoms te waarborg. Jy doen
wat om gesond te bly. Jy doen wat om jou besittings veilig te stel. Jy verseker
jouself van die wieg tot die graf. En baie mense vertrou volkome op die maatreëls
wat hulle geneem het. Daarmee staan hulle sterk en veilig, dink hulle. Niemand
kan hulle iets maak nie.

Maar broeders en susters, wat is die mens tog klein en swak wanneer God
ingryp. Wanneer God siekte, nood of dood laat intree. Die dinge wat so seker
gelyk het, sink skielik in die niet. Die stad van die mens stort inmekaar.

Hoe ryk is dit dan om die enigste troos in lewe en in sterwe te ken. Om die
enigste houvas te ken wat strek to oor die dood en die graf heen.

Ek verkondig vir julle: die enigste ware en blywende houvas vind julle by
Jesus Christus

  1. God wys Hom aan as die vaste fondament
  2. God roep ons op om op Hom te bou in geloof.

Kom na Hom toe, die lewende steen. Met die woorde roep Petrus ons op om na
Jesus Christus, die uitverkore en kosbare steen, te kom. Petrus kan dit sê want
die steen is daar. God het die steen daar geplaas. Daarin het God die profesie
van Jesaja vervul.

Ons het daarvan gelees in Jes 28. Daar keer die profeet Jesaja hom teen die
politieke leiers van Juda. Juda word in daardie tyd bedreig deur die
supermoondheid Assirie. Tog is hulle in Juda nie so bekommerd daaroor nie. Hulle
het hulleself tog aan alle kante beveilig? Wat het hulle dan gedoen? In die
geheim het Juda se leiers ’n alliansie met Egipte gevorm. Indien Assirië Juda
aanval sal Egipte haar red.

In daardie dae is Juda nog ’n vasal staat van Assirië. Dit sou nie wys
wees om die alliansie met Egipte publiek te maak nie. Daarmee sou hulle met
Assirië in die moeilikheid kom. Daarom het hulle die bondgenootskap met Egipte
in die geheim gesluit. Publiek gedra Juda haarself nog as ’n gehoorsame vasal
van Assirië. Op daardie manier is elke risiko uitgesluit, dink hulle. Hul lewe
en toekoms is aan alle kante beveilig. So hoor ons die selfversekerde leiers sê:
ons het ’n verbond met die dood gesluit, en met die doderyk het ons ’n
verdrag aangegaan. Juda se leiers dink dat hulle hulleself teen die dood en die
doderyk beveilig het. In hul selfversekerdheid begin hulle om uitbundig fees te
vier en dryf hulle die spot met die woorde van die profeet Jesaja. Dis ’n
dronkmansparty daar in Jerusalem. Die joodse leiers vertrou nie op die Here nie.
Hulle vertrou op hul eie politieke insigte en strategieë. Daarmee waan hulle
dat hulle volkome veilig is.

Daarom wys die Here die hele bedrywigheid daar te Jerusalem af. Die dronk
spotters sal dit ontdek. Hulle wat die woorde van die profeet bespot, sal die
erns van die woorde ondervind. Hul skuilplek, gebou op leuen en bedrog, sal in
mekaar stort. Die hele gebou van Juda se politieke leiers sal swak en waardeloos
blyk te wees. Hul eiegemaakte sekerhede sal weggevaag word. Juda het sy lewe in
leuen en bedrog gesoek. Nou sal hulle die lewe verloor.

En gemeente, teenoor die waardelose skuilplek van Juda se leiers, sal die
Here ’n nuwe gebou stel. God gaan in Sion ’n totale nuwe begin maak. Hy sal
groot sorg bestee aan ’n goeie fondament, ’n soliede basis. Teenoor die
dryfsand van leuen en bedrog lê die Here ’n vaste fondament onder sy gebou.
Hy lê ’n beproefde en kosbare steen onder die gebou sodat dit nooit in mekaar
sal val nie. Terwyl die gebou van die mens, gebaseer op menslike strategie en
insigte, instort, sal die gebou ewig bly staan. Die fondament is onwankelbaar.
Daarom bied die gebou veilige beskutting.

Die apostel Petrus wys op die vervulling van die profesie in Jesus Christus.
Jesus Christus is die uitverkore en kosbare steen wat die Here in Sion gelê
het. Sodat God se gebou kan rys, wat nooit wankel nie. ’n Gebou wat sterker as
die dood of doderyk is. Die kragte van die dood sal dit nie oorwin nie.

Wat ’n geweldige boodskap vir die mense aan wie Petrus sy brief skryf, ook
vir jou en my. Petrus rig sy brief eers aan die vreemdelinge in die
verstrooiing. Hierdie mense het nie ’n maklike tyd nie. Hulle lewe nie op ’n
veilige eiland nie. Hulle is verstrooi oor ’n groot area. Hulle lewe ver uit
mekaar in ’n vreemde omgewing. Nie dat hulle na ’n plek in die vreemde
verhuis het nie. Toe hulle egter tot geloof kom, het hulle vreemdelinge in hul
eie omgewing geword.

Is dit nie dieselfde vandag nie? Wanneer jy werklik die Here volgens sy woord
dien, en daarin konsekwent is, dan merk jy dat jy van die ander mense in jou
omgewing vervreemd raak. Nie dat jy geen kontakte meer het nie. Nee, jy het nog
steeds jou plek daar. Maar omdat jy die Here dien en die bure die moderne afgode
dien behoort jy nie meer by hulle groep nie. Jy vermaak jouself op ’n ander
manier. Jy vier jou partytjies anders, jy luister na ander musiek, ens. Jy het
ander prioriteite. Jy leef en praat anders. Dit maak intieme kontakte en
sosialisasie moeilik of selfs onmoontlik. Jy behoort nie langer by hulle groep
nie. Jy word ’n vreemde. Natuurlik is dit slegs die geval as jy werklik en
konsekwent vir die Here leef. As jou christendom verwaterd en oppervlakkig is,
en jy half wêrelds is, dan sal jy die afstand, die vervreemding van mekaar, nie
sien nie. Dan kan jy volkome sosialiseer sonder enige probleem. Ware en
konsekwente christene sal die verskil met nie-christene en dat jy uit mekaar uit
groei meer en meer ervaar, tensy die nie-christen tot geloof kom.

So adresseer Petrus sy brief aan die vreemdelinge in die verstrooiing. Hulle
is in ’n kwesbare posisie. Dit blyk uit die brief dat hulle reeds groot
beproewings deurstaan het. Hulle is bedreig, verneder en het gely vanweë hul
geloof. Hul posisie op aarde lyk baie onseker. Alle aardse sekerhede het
verdwyn.

In daardie omstandighede wys Petrus op die kosbare, onwankelbare hoeksteen,
Jesus Christus. Die gelowiges, die vreemdelinge in die verstrooiing het ’n
vaste basis, ’n vaste fondament wat selfs kan standhou teen die dood en die
doderyk. Die gebou wat op hierdie fondament verrys is ’n gebou wat werklik die
lewe beveilig. Geen mag van sonde of dood kan dit oorwin nie.

Hier word die kerk God se gebou genoem. Dis ’n geestelike huis, gebou op
die vaste fondament Jesus Christus. Daar kan jy veilig wees. Vanweë die
volmaakte fondament, Jesus Christus, staan jy sterk en vas. Daar is die
gemeenskap met die Here op die grond van Christus se offer. Die Here gee
redding, ewige lewe, ’n lewe wat nooit sal eindig nie. Hier word die lewe van
onsekerheid en ydelheid gered. Hier is die lewe veilig, ewig veilig vanweë die
werk wat Christus volbring het. Daarom: Kom na Hom toe, die lewende steen, sê
God.

Dit bring ons by die tweede gedagte: God roep ons op om in Jesus Christus te
glo.

Geliefdes, hoe kan ’n mens dan by alle wisseling van tye en omstandighede
ewig veilig wees, die ewige houvas ervaar? Die pad van die geloof is die enigste
moontlikheid. Dis die weg wat Jesaja vir sy hoorders gewys het. Die mense van
Juda moet kies. Aan die een kant is daar die skuilplek van leuen met sy
sogenaamde waarborg teen die dood, gebou deur die Joodse leiers. Aan die ander
kant hoor hulle van die skuilplek wat God oprig op reg en waarheid. In die
situasie kon die Jode dink dat daar geen ander keuse was as die skuilplek van
hul leiers nie. Soos ons vandag kan dink dat ons gedwing is om die skuiling van
die wêreld te soek. Is dit nie die veiligste pad om te volg nie? Dit lyk
tenminste op ’n realistiese en konkrete oplossing. Jy weet wat jy daarvan kan
verwag. Tenminste dis wat die mense dink. Oënskynlik lyk dit die veiligste. Die
skuilplek wat God oprig lyk te vaag. Jy moet maar wag en kyk wat daarvan word.
Dis nog nie sigbaar nie. En om jouself daaraan toe te vertrou wil jy dit kan
sien en ervaar. Is dit, broeders en susters, nie hoe dit dikwels gaan, ook
vandag nie. Ons verkies sigbare en tasbare waarborge teen siekte, nood en dood.
Bv ’n goeie versekering en pensioen. Daarop vertrou ons dan. Maar God se
beloftes, dit word dikwels beleef as iets wat te vaag is, nie konkreet genoeg
nie. Ons vind dit moeilik om ons daaraan toe te vertrou. Dit lyk minder seker en
veilig.

Maar God vertel ons dat al die sigbare en tasbare sekerhede uiteindelik geen
blywende sekerheid kan bied nie. Die aardse sekerhede het wel ’n sekere
waarde. Daar is daarom niks verkeerd met versekerings nie. Dis deel van ons
verantwoordelikheid vir die toekoms. Maar ons moet wel die betreklike waarde
daarvan besef. Die sekerhede kan geen blywende sekerheid bied nie. Alles is van
God afhanklik. Die skuilplek wat op menslike insigte gebou is, sal uiteindelik
instort. Dit is geen waarborg teen nood en dood nie. Op die oomblik waarop jy
dit juis nodig sou hê, by die dood, voor die troon van God sal dit magteloos
blyk te wees.

Daarom roep die Here weg van die skyn sekerhede en roep Hy ons na die enige
sekerheid in lewe en in sterwe, Jesus Christus. Die wat in Hom glo, sal nooit
beskaam word nie. Daar sal nooit ’n tyd aanbreek waarop jy tot die konklusie
met kom dat jy mislei is of beskaam. Die fondament oortref alle verwagtings. Die
skuilplek sal nooit instort nie. Daar is sekerheid in lewe en in sterwe.

Beslissend is wat jy met die hoeksteen Jesus Christus doen. Daar is baie
mense wat die Christus verwerp. Hulle struikel oor die steen wat ewige waarborge
bied. Hulle laat die steen vir hulle verpletter. Hul weiering om Christus in
geloof te aanvaar sal fataal vir hulle wees. Hul vertroue in sekerhede los van
Christus sal hul ondergang beteken. Want die wat nie in Hom glo nie, sal beskaam
word. Wie sy lewe buite Christus wil red sal die verloor, ja, ewig verloor.

Maar as jy jou vertroue in Jesus Christus, die uitverkore hoeksteen stel, sal
jy nooit beskaam word nie. Jy sal jou lewe red. Ook al sal jy moontlik bespot,
gehaat en vervolg word. Ook al sal jy miskien ernstige siekte of teenslag
ondervind. Ook al kan jy die liggaamlike dood nie ontsnap nie. Die geloof sien
verder as die tydelike nood en die fisiese dood. Christus het dit alles tog
oorwin? In Hom is jou lewe ewig veilig.

Dis wat Petrus vir die gelowiges in die verstrooiing sê: vir julle dan wat
glo, is Hy kosbaar. Die kosbare steen word as ‘t ware voor jou geplaas en op
jou betrek. Vir jou die eer. Die kosbare steen, van blywende waarde, is vir jou.
Wat ’n genade!

Petrus gaan voort om die eervolle posisie van die kerk, die vergadering van
die gelowiges, te wys. Die rykdom in Christus bepaal jou hele lewe. Omdat
Christus so dierbaar is, het jy as gelowige ook kosbaar vir God geword. Jy wat
glo is baie werd vir Hom vanweë Christus. So ontvang jou lewe ’n geweldige
luister. Verenig deur die geloof met Christus die kosbare steen is jy nou ook
God se kosbare eiendom.

Daarom kontinueer Petrus: julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike
priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry. God het julle,
gelowiges, uit die hele menslike geslag uitverkies. Wat ’n voorreg! Hy het
julle die posisie van priesters en konings gegee. As priesters mag jy God nader,
in sy nabyheid lewe en werk. Vroeër was julle geen volk nie, eers is daar geen
barmhartigheid aan julle bewys nie. Maar nou het julle barmhartigheid ontvang en
mag julle God se eie volk wees.

Geliefdes, hierdie gedeelte van die Skrif verduidelik wat die enigste troos
in lewe en in sterwe is. Christus, die kosbare hoeksteen, bied jou die enigste
sekerheid, ’n sekerheid wat bly ook wanneer jy ernstig siek is of die dood in
die oë staar. Wanneer jy deur geloof aan Hom verbind is, dan mag jy leef in die
wete dat jy veilig is in lewe en in sterwe.

Hoe kan Christus so ’n vaste basis aan jou bestaan gee? Deur die offer wat
Hy eers op die kruis geoffer het. Die steen wat deur die bouers verwerp is, het
God tot ’n hoeksteen gemaak. Aan die kruis het Christus die oorsaak van alle
onsekerheid en dood, naamlik die sonde, aangespreek. Hy het met sy kosbare bloed
vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel
verlos. So het Hy die enigste vaste basis aan die lewe gegee. Jy ontvang weer
vaste grond onder jou voete. Noudat Hy sonde en dood oorwin het, kan niks jou
werklik en blywend meer breek nie. Verbind aan Hom deur geloof sal jy nooit
beskaam word nie. Jou lewe is ewig veilig.

Wat baat ’n troos wat sonskyn in die lewe bring, maar jou by die dood
eensaam agterlaat, jou in die steek laat? Wat baat ’n troos wat jou tydelike
aardse vreugde gee, maar jou in jou skuld laat staan voor God se troon?

Broeders en susters, gelukgewens met hierdie enigste troos in lewe en in
sterwe. Jy behoort aan Jesus Christus. Jy is sy kosbare besit. Bevry van satan,
bevry van jou onbetaalbare skuld en van die ewige dood. Mooier kan dit nie wees
nie.

En as jy Christus se kosbare besit is, dan is jy ook dierbaar vir sy Vader.
Die Seun het alles vir jou gedoen. Selfs sy lewe vir jou gegee. Hy doen nog
steeds alles vir jou vandag. Hy vertrou jou toe aan die sorg van sy Vader. En
sou die Vader dan hulle weier wat sy Seun aan Hom voorstel, hulle vir wie sy
Seun so ’n dure prys betaal het? Dis onmoontlik! Daarom mag jy verseker wees
van Vader se goeie sorg. Sonder sy wil kan geen haar van jou kop val nie. Alles
moet inderdaad tot jou saligheid dien.

Jou eienaar wil nie slegs sien dat jy versorg word nie. Hy wil jou ook
gelukkig maak. Daarom gee Hy sy Gees. Hy wil jou verseker van die ewige lewe. Hy
wil jou gelukkig en dankbaar maak. Hy wil jou jou rykdom laat sien en ervaar.
Daarom gee Hy sy evangelie van genade. Hy leer jou om jou sonde en ellende te
sien. Maar tegelykertyd ook hoe jy van jou sonde en ellende verlos word. Wat
Christus daarvoor gedoen het. Wanneer jy dit sien, dan is daar geen einde aan
jou verwondering en dankbaarheid nie. Jy is baie gelukkig om aan jou Verlosser
Jesus Christus te behoort. En al wat jy wil doen is om vir Hom te lewe. Soos
’n geestelike huis, ’n koninklike priesterdom.

So laat Christus jou geniet van jou enigste troos in lewe en in sterwe. Deur
sy Gees.

Broeders en susters, seuns en dogters, wat is jou enigste troos, jou enigste
houvas in lewe en in sterwe. Waaraan gryp jy vas? Waarop stel jy jou vertroue?

Kom na Jesus Christus toe, jou enigste Verlosser, die enigste vaste
fondament. Vertrou op Hom. Dan sal jy nooit beskaam word nie. Christus staan
waarborg daarvoor. Dis waaroor die Heilige Nagmaal gaan. Jou lewe is ewig
veilig, buite jouself in Jesus Christus.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)