Saul se mislukking in Gilgal.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-08-11
Teks: 
I Samuel 13
Preek Inhoud: 

1 Samuel 13:13,14

Ds C Kleyn - Sondag 11 Augustus 2002

Lees:

1 Samuel 13.
Sing: Ps 150:1,2; Ps 150:3; Ps 105:1; Ps 105:2; Ps 89:6,7; Ps 144:1.

Tema: Saul se mislukking in Gilgal.

  1. Die omstandighede van sy mislukking;
  2. Die dwaasheid van sy mislukking; en
  3. Die gevolge van sy mislukking.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat maak ’n mens wanneer hy groot gevare in die gesig staar? Wat maak jy
wanneer jy die gevaar loop om jou posisie en inkomste te verloor? Wat maak jy
wanneer al jou vriende dreig om jou te verstoot omdat jy weier om met hulle saam
te doen? Wat maak jy in die besigheidswêreld wanneer dit steeds moeiliker of
selfs onmoontlik word om mee te ding omdat jy weier om onetiese of onwettige
praktyke toe te pas? Wat maak jy wanneer jy die gevaar loop om jou kinders en
vriende te verloor omdat jy konsekwent die Here wil dien?

Moeilike vrae. Verleidelike situasies. Koning Saul het in ’n vergelykbare
situasie verkeer aan die begin van sy regering. ’n Baie gevaarlike en
verleidelike situasie. Saul was gesalf as vors oor God se volk. God het gewys:
jy is die man wat my volk namens My moet regeer. God het deur die salwing ook
gewys: Ek sal jy toerus tot die taak deur my bekwaammakende Gees. God het die
woorde onderstreep met die 3 tekens wat Saul op pad huis toe ontvang het. Saul
mag daarvan seker wees: die Here bedoel wat Hy sê. Die Here het my inderdaad
geroep en sal my inderdaad bekwaam maak om koning te wees.

Die laaste word op ’n opvallende manier bewys in die derde teken: die Gees
word vaardig oor Saul sodat hy saam met die profete gaan profeteer. Die mense is
stom geslaan en sê vir mekaar: Is Saul ook onder die profete?

Nadat Samuel Saul gesalf het en die drie tekens aangekondig het, waarsku hy
Saul ook vir die toets wat hy moet deurstaan. Saul sal op ’n sekere oomblik na
Gilgal gaan en daar 7 dae op Samuel moet wag. Hy moet wag vir Samuel om die
offers te bring en om hom te vertel wat hy moet doen.

Wel, geliefdes, ons teks beskryf die situasie. Saul word in Gilgal op die
proef gestel. Die feit dat Samuel die toets onmiddellik na die salwing genoem
het, wys hoe belangrik dit gaan wees. Dit sal beslissend wees vir die toekoms
van Saul se koningskap.

Ek verkondig vir julle: Saul se mislukking in Gilgal

  1. Die omstandighede van sy mislukking
  2. Die dwaasheid van sy mislukking
  3. Die gevolge van sy mislukking

Saul besluit om teen die Filistyne oorlog te voer. Dit begin alles met
Jonatan se provokerende daad teen die Filistyne by Geba. Saul aanvaar
verantwoordelikheid vir die daad en berei hom voor op ’n volskaalse oorlog
teen die nasionale vyand, die Filistyne.

Saul roep al sy manskappe saam te Gilgal. Dit het te doen met Samuel se
opdrag kort na sy salwing. Die oorlog teen die nasionale vyand moet nie begin
totdat Samuel offers gebring het en vir Saul die instruksies van die Here gegee
het.

Saul moet hom eers in Gilgal terugtrek. Waarom Gilgal? Wel, Gilgal het ’n
spesiale plek in die geskiedenis van God se volk. Gilgal was die eerste brughoof
van Israel in Kanaän, hul eerste posisie in vyandelike gebied na die oortog oor
die Jordaan, voor die val van Jerigo. Gilgal was ’n monument van God se
wysheid en krag om Kanaän in Israel se hande te gee. Daar in Gilgal het die
Here sy volk geleer om te wag. Nadat hulle die Jordaan oorgesteek het, mog die
Israeliete nie onmiddellik die Kanaäniete aanval nie. Nee, eers moes al die
manne hulle laat besny. Menslik gesproke ’n baie onwyse en gevaarlike daad.
Wie gaan nou alle manne besny terwyl jy in vyandelike gebied verkeer, met
talryke vyande voor jou en met ’n rivier agter jou. Die vyande sou kan besluit
om aan te val terwyl die manne nog nie van die operasie herstel is nie en dus
onbekwaam om te veg. Maar dit is wat die Here gebied het: eers moes alle manne
besny word.

In Gilgal het God se volk geleer om die beloofde land uit genade uit God se
hand te ontvang. Eers moes die verbond met God nagekom word. Eers moes die manne
besny word en die pasga gevier word. Ook al is hulle reeds in vyandelike gebied,
blootgestel aan vyandelike aanvalle. Eers moet hulle tyd vir hulle God neem. Die
oorlog kom slegs op die tweede plek. Die Here wil benadruk dat dit sy stryd is,
dat Hy vir sy volk sal stry en dat hulle Hom slegs moet volg. Wanneer jy op die
Here vertrou, sy verbond onderhou, dan mag jy seker van die oorwinning wees.

Wel, geliefdes, Saul gaan terug na Gilgal toe, die opvallende beginpunt van
Israel se verowering van Kanaän. Die verlede moet wel tot hulle spreek. Daar
was mos ook die nasionale monument, die hoop klippe wat uit die Jordaan geneem
is. Saul staan op die punt om te begin met sy groot taak om die beloofde land
opnuut te bevry. Die Filistyne het kans gesien om die geskiedenis van die
verowering ongedaan te maak. Hulle het ’n groot wig in Israel gedryf. Saul
moet so te sê ’n nuwe begin maak met die verowering van Kanaän. Hy moet
begin in Gilgal.

Wanneer die Filistyne van Jonatan se provokerende daad hoor, kom hulle
onmiddellik in aksie. Hulle berei hulleself voor op ’n volskaalse aanval. Hul
trek op teen Israel met ’n oorweldigende mag: 3000 strydwaens, 6000
perderuiters en voetsoldate soos die sand wat op die seestrand is in menigte.

Wat kan God se volk teen so ’n oorweldigende mag maak? Menslik gesproke is
hulle verlore. Behalwe dat hulle baie minder soldate het, het hulle ook niks om
teenoor die Filistynse wapentuig te stel nie. Uit die laaste gedeelte van ons
tekshoofstuk blyk dat die Israeliete baie primitiewe wapens het, geen swaarde en
spiese nie. Hulle moes selfs na die Filistyne gaan om hul ploegskare, pikke,
byle en vurke skerp te maak.

Wanneer die Israeliete hul nood besef raak hulle in paniek. Hulle probeer om
die situasie te ontvlug deur weg te kruip. Hulle kruip weg in die spelonke en in
die doringbosse en in die rotse en in die grotte en in die kuile. Sommiges het
selfs die Jordaan deurgetrek om in die land Gad en Gilead te skuil.

Daar het ons die erfgename van God se beloftes, die mense vir wie God die
land Kanaän belowe en gegee het. Pragtige erfgename! Hulle kruip weg in
allerlei skuilhoeke of hulle vlug die land uit oor die Jordaan. Terwyl die
Filistyne ongehinderd deur die beloofde land trek, sonder enige teenstand. Wat
het oorgebly van die verowering van die beloofde land?

Saul is reeds in Gilgal met sy manskappe. Sy troepe het alle moed verloor
Hulle gaan bewende agter Saul aan. Saul wag vir Samuel. Hy wag 7 dae, die tyd
wat Samuel genoem het. Op die 7e dag word die situasie kritiek. Hulle het reeds
soveel dae in spanning gewag. Maar Samuel kom nog nie. Saul se leër is vinnig
besig om uit mekaar te val. Meer en meer manskappe deserteer. Nou nou sal daar
niemand oor wees nie. Wat moet Saul maak? Kan dit nie lei tot die val van sy
volk en die val van sy troon? En dit is reeds die 7e dag. Miskien het Samuel
iets oorkom op sy pad na Gilgal? Dalk daag hy heeltemal nie op nie. As
bevelhebber moet Saul tog iets doen om die situasie te red? As hy nog langer
wag, dan kan dit te laat wees. Alles kan dan verlore wees. Die vyand sou kan
aanval terwyl die vereiste offers nog nie gebring is nie.

Op ’n sekere tydstip, waarskynlik op die middag van die 7e dag, gee Saul
bevel om die offers te bring. Voordat die stryd begin, moet die offers gebring
word. Dis soos die gebed voor ’n vergadering of ’n belangrike onderneming.
Die offer wys die heilige karakter van die oorlog: hulle wil in God se diens veg
en in sy krag die oorwinning behaal. Later verdedig Saul sy aksie met die
woorde: "Ek het gesê: Nou sal die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, en
ek het die aangesig van die Here nie om genade gesmeek nie." Saul wil die
genade van die Here soek voordat hy gedwing word om te veg. Saul sien sy bevel
om die offers te bring as ’n kwessie van noodsaaklikheid.

Broeders en susters, wanneer ons al hierdie dinge oordink, was dit dan eerlik
van Samuel om so kwaad op Saul te wees? Was Saul se daad so sleg dat daardeur
geen van sy seuns hom mag opvolg op die troon van Israel nie? Saul het tog 7 dae
gewag? Moes Saul as bevelhebber nie ingryp in die haglike situasie nie? En Saul
het tog na die regte adres gegaan, hy het tog die guns van die Here gesoek?

Ons hoor egter Samuel sê: Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die
Here jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie.

Wat is presies verkeerd met Saul se handelwyse?

Ons let daarop in die tweede punt: die dwaasheid van Saul se mislukking.

Wanneer Samuel arriveer, is Saul bewus daarvan dat hy gefouteer het. Hy begin
onmiddellik om sy aksie te regverdig. Hy weet dat hy hom nie aan die afspraak
gehou het nie. Die afspraak was dat hy op Samuel sou wag, dat Samuel die offers
sou bring en dat Samuel hom sou vertel wat hy moes doen. Saul moes daarom gewag
het op die profeet van die Here en op die instruksies van die Here. Waarom was
dit so belangrik? Dit het alles te doen met die besondere karakter van sy
koningskap. Israel se koning moet homself aan sy hemelse koning, die Here God,
onderwerp. God bly koning oor sy volk. Die aardse koning moet God se regering
oor sy volk erken en bevorder. Daarom moet Saul homself onderwerp en God se wil
opvolg. Dit is tipies sy taak as teokratiese koning. Ja, broeders en susters,
dit is tipies jul taak as God se profete, priesters en konings: julle aan God
onderwerp en sy wil opvolg.

Om die spesiale karakter van die koningskap uit te laat kom, stel die Here
Saul op die proef. Saul moet wag vir die profeet van die Here en vir die
instruksie van die Here. Saul moet wys dat hy sy salwing verstaan. Hy moet wys
dat hy bewus is dat hy in God se diens staan, dat hy namens God en in die krag
van God optree. Saul moet homself bewys as ’n teokratiese koning.

Jammerlik druip Saul die toets. Hy kan nie langer wag nie. Hy laat homself
lei deur menslike berekenings, strategieë, gevoelens. Hy durf nie om af te gaan
op die duidelike gebod en die duidelik belofte van God nie. Dit lyk vir hom te
riskant. Hy dink dat hy die situasie moet red. Pleks om hom aan God te onderwerp
neem hy die plek van God in. Hy beskou homself as onmisbaar.

Hy was reeds deur Samuel gewaarsku. Hy het ook ’n duidelike belofte van die
Here ontvang: God is met jou. God het die belofte bevestig deur die drie tekens
wat hy op pad huis toe ontvang het. Die opdrag om te wag was gegee tussen die
aankondiging en die vervulling van die tekens. Bowendien, nie lank gelede het
Samuel God se beloftes en bevele vir Saul en sy volk herhaal in sy afskeidswoord
in hoofstuk 12. Samuel het hulle op die hart gebind dat daar slegs twee wee is:
gehoorsaamheid en seën of ongehoorsaamheid en vloek. Met donderslae en reën
het God Samuel se woorde onderstreep. Julle moet die laaste gedeelte van 1 Sam
12 maar by die huis lees. Daar word God se beloftes en sy eise duidelik genoem.
God se belofte: "Want die Here sal sy volk ter wille van sy grote Naam nie
verwerp nie, omdat dit die Here behaag het om van julle vir Hom ’n volk te
maak" (vers 22). Maar ook God se bevele met ’n sanksie: "Vrees net
die Here en dien Hom getrou met julle hele hart; want kyk watter groot dinge Hy
by julle gedoen het. Maar as julle ooit verkeerd handel, sal julle self sowel as
julle koning omkom" (verse 24,25).

Met hierdie woorde vars in sy geheue moet Saul weet wat in Gilgal op die spel
is. Hy moes as ’n voorbeeld vir die volk gewys het wat dit is om getrou met sy
hele hart God te dien. Die Here het homself bewys as die almagtige en getroue
Verbondsgod. Het die plek Gilgal, met sy historiese monument, hom nie daaraan
herinner nie? Die Here sal sorg vir die verowering van die beloofde land. Die
volk moet net in Hom vertrou, hom in die stryd volg, dan sal hulle oorwin. Maar
in ongeloof en ongeduld loop Saul in sy eie pad. Pleks om vir die Here te wag om
Hom te volg en dus sy stryd te stry, kies Saul om voor die Here uit te loop. Ja,
dit klink baie vroom, hy soek die guns van die Here, maar dit is feitelik
ongehoorsaamheid. God laat homself nie dwing deur die skynbare vrome dade van sy
volk nie. Ons moet in geloof op Hom wag en Hom volg.

Dit is broeders en susters, ’n duidelik waarskuwing vir ons vandag. Hoe
moeilik blyk dit dikwels te wees om onsself volkome aan God se beloftes en eise
toe te vertrou. Durf jy om jouself en jou toekoms onvoorwaardelik aan die Here
toe te vertrou? Ook in haglike situasies? Laat ons eerlik wees: meestal weet ons
wel wat God van ons vra. Die probleem is meestal nie die kennis van God se wil
nie. Veral nie vir hulle wat in die kerk groot geword het nie. Die probleem is
eerder dat ons dit moeilik vind om God se wil te gehoorsaam. Soms dink ons dat
die druk van die oomblik ons dwing om ons oë te sluit vir God se geopenbaarde
wil. Nood ken geen wet nie, word dan gesê.

Wat maak jy wanneer jy ervaar dat jy in ’n hoek gedruk word? Jy wil nie al
jou vriende verloor nie. Jy wil nie heeltemal deur jou maats verwerp word nie.
Wat maak jy? Die verleiding is groot om toe te gee aan jou maats en saam te doen
met dinge waarvan jy weet dat dit nie volgens God se wil is nie. Jy voel dat jy
jou posisie en aanvaarding moet beveilig.

Wat maak jy wanneer jou besigheid in finansiële moeites teregkom? Ander het
geen probleem om te gryp na onwettige of onetiese metodes om winste te kan bly
maak nie. Dit maak dit amper onmoontlik om mededingend te bly. Wat maak jy? Die
verleiding is daar om ook saam te doen met die onetiese praktyke. Jy wil tog jou
besigheid red? Jy moet tog jou gesin onderhou? En jy het tog ook ’n
verantwoordelikheid teenoor jou werknemers?

Wat maak jy wanneer jy die gevaar loop om te vervreemd van jou kinders en
vriende omdat jy konsekwent wil wees in die diens aan die Here? Vir jou het die
sondagse eredienste prioriteit op die Sondag. As die enigsins kan wil jy wil
daar wees waar die Here sy gemeente saamroep. Jou kinders of vriende maak daar
egter ’n gewoonte van om juis op die dag en op die tydstip van die dienste te
kom kuier of ’n braai te organiseer. Wat maak jy? Jy wil nie onvriendelik wees
nie en die kontakte nie verloor nie. Kan jy dit riskeer om eerlik te laat blyk
dat die diens van die Here prioriteit vir jou is? Vertrou jouself toe aan God se
beloftes en bevele. God wil dat ons ons eerstens aan Hom onderwerp om langs die
pad ander tot heil te wees.

Menslike gevoelens en menslike berekening is misleidend. Ons het gou ons
verskonings. In so ’n haglike situasie moet jy tog iets doen? Jy voel jouself
gedwing. Die situasie het jou gedwing om dit te doen.

Maar is dit, broeders en susters, seuns en dogters, werklik die geval? Is jy
werklik deur die situasie gedwing? Wat sê die Here: "Kyk, Ek is met julle
al die dae tot aan die voleinding van die wêreld" (Mt 28:20). En wie is
die Ek? Hy wat alle mag in die hemel en op aarde ontvang het. Soos God vir Saul
en sy volk gesê het: "die Here sal sy volk ter wille van sy grote Naam nie
verwerp nie, omdat dit die Here behaag het om van julle vir Hom ’n volk te
maak."

Sou die Here God jou dan in die steek laat wanneer jy probleme in die oë
staar? Sou Hy hulle wat op Hom vertrou ignoreer. "Vrees net die Here en
dien Hom getrou met julle hele hart; want kyk watter groot dinge Hy by julle
gedoen het."

Slegs deur jouself getrou aan die Here te onderwerp en Hom te volg kan jy sy
krag en seën verwag. Saul kies sy eie menslike strategie. Hy dink dat God se
strategie te gevaarlik is. Hy ag homself wyser as God, soos ons so dikwels maak
asof ons wyser as God is.

Daarom ontneem die Here aan Saul sy dinastie. Geen van sy seuns sal op die
troon sit nie. "Die Here het vir Hom ’n man na sy hart gesoek; en die
Here het hom as vors oor sy volk aangestel, omdat jy nie gehou het wat die Here
jou beveel het nie." Dit eindig met ’n droewige berig. Tog hoor ons ook
in hierdie droewige verslag van Saul se mislukking die evangelie van God. Saul
verloor die dinastie. Maar Saul self word nog nie verwerp nie. As hy die woord
van die Here ootmoedig aanvaar, dan kan hy nog geniet van ’n vrugbare
koningskap. Dan kan hy nog die belangrike rol as voorloper van die teokratiese
koning na God se hart vervul. Saul het geen rede om moed te verloor nie.

Gemeente, wat gebeur het maak duidelik dat Saul nie die Christus self is nie.
Tydens die uur van versoeking het hy onmiddellik geval. Maar God se volk mag
uitsien na die Christus wat nie sal val nie. Dat Saul sy lewe in ellende beëindig
is nie God se skuld nie. God wys nog sy goedheid en krag vir Saul.

Bowe Saul se mislukking is daar die belofte van die Verlosser Jesus Christus.
Dit is die uiteindelike doel van die verklaring dat God ’n man na sy hart
gesoek en aangestel het. In eerste instansie sien dit op Dawid. Maar uiteindelik
verwys Dawid na sy Seun, die Here Jesus Christus. En in Jesus Christus het jy
die evangelie in sy volheid. Tydens die uur van versoeking het Hy nie geval nie.
Hy was trou aan sy Vader tot die einde toe. Hy het die pad van gehoorsaamheid
gevolg tot selfs die dood aan die kruis, om te betaal vir ons ongehoorsaamheid
en mislukking. Wanneer jy Hom in geloof aanvaar dan hoef jy nie moed te verloor
nie, selfs nie deur jou eie tekortkomings en mislukkings nie. Inteendeel, bly
jou oog vestig op Hom die Leidsman en Voleinder van die geloof. Doen dit in ’n
lewe van geloof en bekering. Dan kan jy die dinge wat agter jou is los – los
by die kruis van Christus – en jou uitstrek na wat voor jou is, na die doel
wat God voor oë gestel het. Die Here Jesus is jou ewige en volmaakte koning.
Die Oorwinnaar, deur wie jy ook meer as oorwinnaar kan wees, hoe bedreigend die
situasie ook mag wees.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)