Ons mense is skuldig aan die ellende van hierdie wêreld.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-08-25
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 3
Preek Inhoud: 

Sondag 3

Ds C Kleyn - Sondag 25 August 2002

Lees:

Psalm 8, Romeine 8:18-25; Sondag 3.
Sing: Ps 19:1,2; Ps 66:7,9; Ps 149:1,2; Ps 8; Ps 148:4,5.

Tema:


Ons mense is skuldig aan die ellende van hierdie wêreld.

  1. Ons skepping; en
  2. Ons val.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons moet opnuut preek oor ons sonde en ellende. Geen aantreklike onderwerp
nie. Maar wel baie aktueel. Ons het daagliks daarmee te doen, ja elke sekonde
van ons lewe. Ook die Wêreldberaad oor Volhoubare Ontwikkeling in Sandton
bepaal ons daarby. Daar sal waarskynlik nie uitdruklik oor ons sonde en ellende
gepraat word nie, maar as êrens die sonde en ellende duidelik is, dan wel in
die onderwerp van die beraad. Die leiers wat daar vergader, staan voor die groot
probleem: hoe kan ’n mens die lewenskwaliteit van alle mense verbeter en
armoede bestry sonder dat die omgewing daaronder lei en sodat ook die
toekomstige geslagte daarvan kan geniet?

Juis in die ontwikkelende of derde wêreld lande is daar baie nood. Ons hoef
slegs te dink aan ons buurlande. Daar word geskat dat net in Suider Afrika 13
miljoen mense honger ly. Internasionale hulp is dringend nodig, anders sal
inderdaad miljoene mense van die honger kan doodgaan. In ons buurland Zimbabwe,
wat vroeër landbou produkte kon uitvoer, is daar reeds groot werkloosheid en
armoede en neem dit daagliks toe as gevolg van die onverantwoordelike en
heersugtige optrede van Mugabe en sy handlangers. Bowendien het ons buurlande
hierdie jaar met ’n droogte te make gehad waardeur te min kos geproduseer is.
Daar is in die Afrika lande skrynende nood ween ’n kombinasie van wanbestuur,
korrupsie, geweld, en natuurrampe soos droogte en vloede. Om nie te noem die
vigs epidemie waarvan ons die gevolge nog nie kan oorsien nie.

In die laaste eeu het die ryk westerse lande tegnologies en ekonomies ver
gevorder. Die materiële lewenspeil in daardie lande het geweldig gestyg. Maar
tegelyk het afvalstowwe die lug, grond en water besoedel. Suurreen vernietig
bosse, grondwater word aangetas en dierespesies sterf uit. Die besoedeling van
die lug veroorsaak glo die verhoging van die temperatuur in die atmosfeer. Dit
kan weer glo lei tot groot droogte of vloede. So kan dit gebeur dat die arm
lande boet vir die skade wat veral die ryk westerse lande veroorsaak.

Gemeente, die teenstelling tussen ryk en arm lande het erger geword. Die ryk
lande domineer die internasionale markte en pryse en belemmer daardeur dikwels
die ontwikkeling van die arm lande. So kan ’n mens aangaan met die noem van
die sonde en ellende van ons mense. Die hebsug en selfsug van die mens is die
wortel van allerlei kwaad. Mense jaag na die verbetering van hul eie materiële
welsyn ten koste van die armes en die omgewing. Het u nog meer bewys nodig dat
die mens van nature geneig is om God en sy naaste te haat?

Die kat stel die gedurfde en kritieke vraag: Het God die mens dan so sondig
en verkeerd geskep? Is dit dan God se skuld dat daar soveel ellende in die wêreld
is? En as dit nie God se skuld is nie, waar kom dit dan vandaan? In sy antwoord
lei die Kat ons na God toe. Iets wat ook by die Wêreldberaad in Sandton sou
moet gebeur. Immers as daar geen goeie diagnose van die probleme gestel word
nie, hoe kan daar dan ’n geskikte terapie gevind word?

Ek wil vir julle verkondig: ons mense is skuldig aan die ellende van hierdie
wêreld.

  1. Ons skepping; en
  2. Ons val.

Luister maar na wat God oor die skepping sê. In die begin het God alles goed
gemaak. Jy kan God nie die skuld vir die huidige ellende gee nie. Die hele
skepping was waarlik volmaak. Die klimaat was goed. Daar was nie teveel of te
min reën nie. Nooit teveel sonskyn nie. Daar was in die natuur ’n goeie
balans. Die mense was goed af. Daar was nooit ’n lelike woord. Hulle het
volmaak vir mekaar en vir die skepping omgegee. Daar was geen pyn of moeite nie.
Alles was volmaak. Soos ons lees in Gen 1:31 "Toe sien God alles wat Hy
gemaak het, en dit was baie goed." Alles het volmaak beantwoord aan God se
doel.

Gemeente, hierdie goeie skepping is veral sigbaar in die skepping van die
mens na God se beeld. Dit beteken: die mens lyk op ’n bepaalde manier op God.
Nee, nie uiterlik nie. God is mos Gees. God het geen liggaam nie. Om na die
beeld van God geskep te wees, beteken dat die mens God in al sy doen en late
verteenwoordig en weerspieël. Dit wys op die hoë posisie wat ons van ons
Skepper ontvang het. Ps 8 sing daarvan: "U het hom (die mens) ’n weinig
minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U
laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete
gestel." Alle soorte diere. Die hele natuur. Alle delfstowwe. Al die
moontlikhede wat in die skepping lê. Die mens het alles tot sy beskikking
gekry. Hy kon alles gebruik. Hy het nie die probleem van besoedeling geken nie.
Want die mens het alles beheer en bewerk op ’n verantwoordelike manier, as
beeld van God. As God se onderkoning.

In sy regering oor die wêreld het die mens God se beeld vertoon, God se
koningskap weerspieël. Daarom kon God homself in die mens herken. Die mens het
gehandel soos God sou handel. Dit was so omdat God die mens heilig en regverdig
gemaak het. Die mens het God se gebooie liefgehad. Hy het die sonde gehaat en
gedoen wat goed was in die oë van God. Die mens het homself volkome aan God
onderwerp. Bly en dankbaar. Sy motiewe was altyd reg. Hy het alles gedoen uit
liefde vir sy Skepper.

Die mens het ook ’n heerlike doel in sy lewe geken: om God te loof en te
prys. Voortdurend het die mens ontdek: O Here, onse Here, hoe heerlik is u Naam
op die ganse aarde. Hoe geweldig is dit dat ek, so ’n klein skepsel van U, in
hierdie wêreld mag leef en werk. Dat ek mag geniet van die pragtige natuur, dat
ek mag geniet van al die moontlikhede wat u skepping bied. Hoe groots is u
werke. Ja, hoe majestueus is Uself. Ek wil en kan niks anders as u daarvoor prys
nie.

Ja, God het ons juis vir die doel geskep dat ons sy heerlikheid sou soek in
ons lewe, in ons woorde en dade. Daarom het Hy ons so geskep soos ons is: want
die Here wou nie net mense hê wat vir Hom op aarde sou swoeg nie. Daarvoor kon
Hy net so goed ’n aantal robots gemaak het. Maar die Here wou geen robots hê
nie. Hy wou mense hê wat nie net vir Hom sou werk nie, maar wat Hom ook sou ken
en Hom sou liefhê. Mense wat Hom sou loof en prys. Dit is die doel waarvoor God
ons mense geskep het. Mense van vlees en bloed, met ’n gevoel vir die liefde
van sy Skepper. Mense wat ook op die liefde kon reageer.

Gemeente, dis hoe groots en goed God die mens geskep het. Saam met die
Psalmis van Ps 8 sien ons die pragtige sterrehemel en ons mense hier op aarde.
Wat ’n kontras, wanneer jy nadink oor die verhoudings. Die son is reeds so
groot dat meer as een miljoen planete so groot as die aarde daarin sou pas. Maar
die son is slegs ’n klein ster in vergelyking met baie ander sterre in die
heelal. Vanuit ons gesigspunt dink ons dat die aarde enorm is. Maar in
vergelyking met die son is dit eintlike maar baie klein. As ons dan kyk na
onsself in verhouding tot die aarde, dan besef ons dat ons maar baie klein
skepsels van God is. Maar God het aan die klein skepsels van Hom ’n baie
besondere posisie gegee in sy groot skepping. ’n Weinig minder as ’n
goddelike wese. ’n Koning met eer en heerlikheid gekroon.

Sou julle dan nie met die Psalmis saamstem en sing: o Here, ons Here, hoe
heerlik is u Naam op die ganse aarde! Dis hoe God ons geskep het. Goed. Pragtig.
’n Mens vir wie God sy liefde kon gee. ’n Mens van wie God liefde en eer kon
ontvang. En God het ons nie gelos met ’n onvolmaakte en defektiewe skepping
nie. Gelukkig nie. Alles was werklik goed en volmaak. Presies afgestem op die
mens. Werklik ’n paradys. Geen besoedeling nie. Niemand was ooit siek nie.
Geen persoon het gesterf nie. Daar was geen selfsug of hebsug nie. Geen
wanbeheer nie. Alle verhoudings was goed. Daar was ’n volmaakte harmonie
tussen die mens en sy God, tussen die mense onderling en tussen die mens en die
skepping. Alles was werklik God gesentreer, tot God se eer. ’n Mens kan
onmoontlik God die skuld gee vir die huidige ellende in die wêreld.

Maar kyk hoe dit alles geword het. Kyk na die hebsug en wanbeheer. Na die
magswellus en misbruik van mense en van die skepping. Kyk na die jag na groei in
materiële welvaart ten koste van ander en ten koste van die omgewing. Wat het
gebeur? So kom ons by die tweede gedagte van die preek: ons sonde.

Ons eerste ouers, Adam en Eva, het in opstand gekom en so sonde in die wêreld
gebring. Hulle het die hele menslike geslag in hul val meegesleep. So gaan
niemand van ons vryuit, ek nie, julle nie, die ryk lande nie, ook nie die arm
lande nie. Ons is almal van nature sondig. Wat ek ook al moet leer, ek hoef
nooit te leer om te sondig nie. Dit gaan outomaties. Daarom het die klein
kinders reeds dissipline, korreksie nodig.

Behalwe hierdie erflike smet, wat selfs die kinders in die moederskoot raak,
is daar ook die skuld van die sonde, waarvoor ons almal verantwoordelik gestel
word. In Adam het ons almal gesondig. Adam het die hele mensheid verteenwoordig.
Ons was in Hom begrepe. Toe hy gesondig het, het die mens, die mensheid
gesondig, het u en ek gesondig.

Maar, broeders en susters, was die sonde in die paradys dan so sleg? Waarom
doen God so moeilik oor daardie eet van die boom van die kennis van goed en
kwaad? Let op die doel van God se gebod om nie van daardie boom te eet nie. Die
gebod was nie willekeurig nie. Die Here wou ons toets om te sien hoe werklik en
hoe diep ons liefde en gehoorsaamheid vir Hom sou wees. God wou mos geen robots
hê nie. Hy wou verantwoordelike menslike wesens hê. Die Here wou opregte
liefde van ons ontvang. Opregte liefde in antwoorde op sy liefde. Daarom was die
eet van die boom nie ’n onbeduidende saak nie. Hier was ons liefde vir God in
geding.

Bowendien was daar in die paradys, behalwe die talryke ander bome, twee bome
wat uitdruklik genoem is. Die boom van die lewe en die boom van die kennis van
goed en kwaad. Elke keer as Adam en sy vrou van die boom van die lewe geëet
het, is hulle herinner aan hul wonderlike lewe in die gemeenskap met die Here
God. Elke keer weer is hulle bepaal by hul groot voorreg en toekoms as kinders
van God.

Met die boom van die kennis van goed en kwaad was dit anders. God het verbied
om daarvan te eet. Maar wat doen ons? Op satan se advies het ons daarvan geëet.
Die Here het duidelik gesê wat sou gebeur indien ons daarvan sou eet. Teen God
se duidelike gebod in het ons geëet. Ons het satan geglo bo die Here. Ja, deur
satan se woorde te glo, het ons in feite God as ’n leuenaar beskou. God het
inderdaad gesê dat ons, indien ons van die boom sou eet, sou sterwe. Maar Adam
en sy vrou het die verklaring van die duiwel aanvaar dat God hulle daarmee net
bang wou maak. So is ons sonde dit: ons aanvaar nie langer God as ons heer en
meester nie, maar sien God as ’n leuenaar. Ons kom teen God in opstand. Ons
wil ons eie heer en meester wees.

Dit blyk ook uit die naam van die boom, die boom van die kennis van goed en
kwaad. Solank ons van die boom afgebly het, het ons God erken as diegene wat
goed en kwaad bepaal. Toe ons egter van die boom geëet het, het ons self bepaal
wat goed en kwaad is. Daarom sê die Here ook na die sondeval: Nou het die mens
geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. Deur te sondig het ons
onsself aan God gelykgestel. Ons wil nou self bepaal wat goed en kwaad is, los
van God. Ons wil ons eie reëls stel. Doen wat goed in ons eie oë.

Geliefdes, hierdie sonde klink bekend. Die moderne mens wil nog steeds sy eie
norme vasstel, doen wat hyself verkies. Wat ek dink of voel wat reg is, dit is
wat ek doen. Moet ons nie tot ons beskaming erken dat dit nog dikwels so in ons
lewe gebeur nie? Die Here God kom dan nie in die prentjie nie.

Vanweë hierdie opstand teen die Here is daar soveel ellende in hierdie wêreld.
Die skepping sug onder die vloek. Ons het die skepping saam met ons in die
verderf gestort. Die hele natuur sug, die diere en plante, die riviere en mere.
Ons hoor van droogte en vloede. Aardbewinge en brande. Besoedeling van lug,
grond en water. Epidemieë. Oorloë. Verwoesting van land en kultuur.
Dieremishandeling. Die skepping sug. Daarom is daar die wêreldberaad oor
volhoubare ontwikkeling.

Die skepping is aan die nietigheid onderworpe. Alles lyk tevergeefs te wees.
Die skepping word deur die dood beheers. Dit gebeur nie vrywillig nie, sê
Paulus, maar dit is ter wille van God wat dit onderwerp het. Volgens God se
beskikking moet die skepping deel in die droewige gevolge van ons sondes. Ons
het vrywillig teen God gekies. Daarom is die skepping onvrywillig aan die
nietigheid onderworpe. Laat ons dit goed onthou. Ook by die groot wêreldberaad
wat in Sandton gehou word.

Ons is die skuldiges. Daarom is daar al die ellende onder die volke en in al
die lande. Ons het in opstand teen God gekom. Dis die oorsaak van alle ellende.
Daarom is daar die wanbeheer. Daarom is daar die selfsug van lande en individue,
ten koste van ander en die omgewing. Ook al word die gewetens dikwels gesus deur
skynbare dade van liefdadigheid. Maar moenie jou vergis nie: waar die mens nie
werklik vir God omgee nie, daar gee hy ook nie werklik om vir die mens en die
skepping nie.

Die mens wil eie heer en meester wees. Daarom is daar ook al die natuurrampe,
die aardbewings, die hael, die vuur en die bloed. Dis gerigte van God as gevolg
van ons sonde reeds in paradys. En ’n voorspel op die groot gerig aan die
einde. God laat sy aanwesigheid hoor en voel. Daarom is daar die dorings en
distels, die sweet en trane. Die mens is van nature geneig om God en sy naaste
te haat. Of in die woorde van Sondag 3: ons is van nature so verdorwe dat ons
glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig.

Maar, gemeente, is dit nie te negatief nie. Wat van al die afgevaardigdes wat
na die Wêreldberaad in Sandton gaan? Hulle soek tog die beste vir hierdie aarde
en vir die volke van die aarde? Hulle beoog tog die opheffing van armoede en die
verbetering van die lewenspeil van alle mense? Hulle wil tog die misbruik en
besoedeling van die skepping met woord en daad teenstaan? Ja, so lyk dit. En ons
mag aan die een kant daaroor bly wees. God gee nog die besef by mense dat hulle
op ’n verantwoordelike en sorgsame manier met die medemense en met die natuur
moet omgaan. God tem nog mense sodat hulle nie die neiging tot alle kwaad ook
werklik uitvoer nie. God maak die wêreld nog leefbaar en gebruik daarby dikwels
ook ongelowiges. Daarom mag ons bly wees met die beraad in Sandton en bid dat
God die vergadering wil gebruik om die hebsug van die mens te beteuel en om
werklik ’n verskil te maak sodat hierdie wêreld ’n beter plek mag wees vir
mens en dier, plante, voëls en visse, ja, vir arm en ryk.

Aan die ander kant, laat ons ons nie vergis nie: as die afgevaardigdes in hul
oorlegginge en besluite God nie erken nie, dan is hulle tog besig met hulleself.
Dan staan tog weer die outonome mens sentraal. Die mens sonder God. Dan kan die
mens miskien baie presteer, maar dan het hy hom in sy heerskappy oor God se
goeie skepping losgemaak van God, van Christus en sy heilsame gebooie. Die
hoogmoedige mens dink dat hy buite God ’n paradys op aarde kan bring. Deur sy
insette en tegnologie, deur sy liefde vir die medemens en vir die natuur. Dan is
ons terug by die situasie van Babel. Deur alle ewe heen het die mens ’n
eenheid buite God gesoek. Julle weet wat God toe met Babel gedoen het. So sal
ook die moderne stad van die Mens uiteindelik val. Vir hulle wat nie met God en
sy woord reken nie, is daar uiteindelik geen daeraad nie. God waarsku hulle
reeds deur sy tydelike gerigte, deur oorloë en rampe, deur droogte en vloede,
deur siekte en dood. Die stad wat God nie meer erken nie, word deur God aan
ontbinding oorgegee. Die mens sal dit nie red nie. Sy werk word voortdurend
afgebreek. Totdat Christus terugkom en dit definitief afbreek in sy finale
gerig.

Daarom bly die oproep wat moet uitgaan: na Christus toe en na sy heilsame
gebooie. Dit is en bly die medisyne vir ’n sieke wêreld. Erkenning van God as
Skepper en Verlosser is voorwaarde vir die oplossing van die wêreld se
probleme. Christus sal ’n einde aan hebsug, selfsug, uitbuitery, besoedeling
ens maak. Hy het gesê: kyk, Ek maak alles nuut (Openb 21:5).

Ja, wedergeboorte is nodig. Sonder wedergeboorte is daar geen daeraad nie.
Wanneer ons ons egter tot God bekeer, dan is daar nuwe perspektiewe, ’n
heerlike toekoms. Die Gees van God is reeds besig om ons te vernuwe, om ons weer
rentmeesters van Hom te maak, mense wat die begin van die nuwe gehoorsaamheid
wys in hul omgang met die medemense, die natuur, geld en besit. As God se
onderkonings. Nou nou kom daar die wedergeboorte van hemel en aarde.

Waar ons die skepping in ons ellende meegesleep het, daar sal dan die
skepping deel in die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Alles
en almal sal dan weer vry wees van sonde en verderf. God kom dan weer in die
middelpunt te staan. Die doel van ons skepping word deur die verlossing bereik:
ons sal dan God ons Skepper reg ken, Hom van harte liefhê en met Hom in die
ewige saligheid lewe om Hom te loof en prys. In ’n volmaakte God gesentreerde
skepping. O Here, onse Here, hoe heerlik is U Naam!

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)