Wat ons soewereine God oor die hel sê.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-09-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 4
Preek Inhoud: 

Sondag 4

Ds C Kleyn - Sondag 1 September 2002

Lees:

Matthéüs 25:30-46; Sondag 4.
Sing: SB 27; Ps 75:1-4; PS 96:2,5,6,8; Ps 99.

Tema: Wat ons soewereine God oor die hel sê.

  1. Wat is die hel;
  2. God se liefde en die hel; en
  3. Hoe reageer ons op die leer van die hel.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Besef ons wel wat ons met Sondag 4 bely? Ons bely daar dat God ons sonde tydelik en ewig met ’n regverdige oordeel straf. Ons bely dat God se geregtigheid eis dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is, ook met die swaarste straf gestraf moet word – dit is die ewige straf aan liggaam en siel. Ons bely dus die ewige straf aan liggaam en siel, naamlik die hel. Besef ons wel wat ons daarmee sê? Staan ons nog wel stil by die erns van daardie waarheid? Watter effek het die leer oor die hel op ons lewe en op ons ywer om ander tot Christus te roep?

Van nature wil ons liewer nie oor die hel dink of praat nie. Die hel is vir ons afgryslik en ons dink liewer nie daaraan nie. Ja, voel ons ons dikwels nie verleë met hierdie leer nie? Wat moet ons met die leer maak teenoor ander mense? Sou dit mense nie afskrik nie sodat hulle niks van die evangelie wil hoor nie? Soos een skrywer gesê het: As God die hel daarop na hou, dan wil ek nie in Hom glo nie, dan wil ek niks met Hom te doen het nie.

In die laaste eeue het ons genoeg verskriklike beelde van die uitmergeling van mense gesien. Ons kan dink aan die Engelse konsentrasie kampe tydens die Anglo-Boere oorlog waar tienduisende vroue en kinders van ellende gesterf het of wat nog baie erger was die Duitse konsentrasie kampe waar miljoene mense gemartel en vergas is. Ons sien beelde van die maer, uitgeteerde Afrikaanse kinders en ouers as gevolg van hongersnood en/of siekte. Net geraamtes. Afskuwelik! Die beelde bly ons by, die ellende tref ons diep. Moet ons dan glo dat God die goddeloses ewig gaan pynig aan liggaam en siel? Ons kan dit moeilik aanvaar. God is tog liefde, word dan gesê. Kan ’n God van liefde so ’n lyding dan aansien en selfs eis? Ons dink daar liewer nie aan nie.

Tog praat die Bybel onomwonde oor die hel as ’n plek van ewige straf. Jesus Christus, wat juis die beliggaming van die liefde vir verlore sondaars is, praat voortdurend daaroor en in duidelike beelde. Wanneer ons die Skrif ernstig neem, dan kan ons hierdie leer nie verswyg of negeer nie. Ook hieraan sal mense ons kan leer ken as ware dissipels van Jesus Christus of nie. Vertrou ons werklik op Jesus Christus as ons Heer en Redder?

Waarom het mense groot moeite met die hel en verwerp hulle dit? Omdat mense gewoond is om die werklikheid vanuit ’n mens-gesentreerde perspektief te bekyk. Dan bekyk jy vanself ook God, die hemel en die hel vanuit dieselfde perspektief. Dan word die mens die maatstaf van alle dinge. Van daaruit voel ’n mens ongemaklik oor sekere elemente van God se waarheid, waaronder die leer van die hel. Dit lyk vanuit ons menslike standpunt onmenslik te wees.

Hoe kan ons bevry word van hierdie verwarde en kortsigtig denke? Ek moet my bekeer tot God en sy woord. Ek moet God opnuut sy regmatige plek in my denke gee. Ek moet bewus en konsekwent God weer die Heer van my hele lewe laat wees, ook die Heer van my verstand en gedagtes. Niks minder sal my in staat stel om God te verheerlik en ewig Hom te kan geniet.

Laat ons dan kyk na wat ons soewereine God oor die hel sê. Ek wil let op drie dinge: eerstens wat is die hel; tweedens God se liefde en die hel; derdens hoe reageer ons op die leer van die hel.

Na Christus se wederkoms en die laaste oordeel sal God die goddeloses in die hel werp. Hoe moet ons die hel beskryf? Die Bybel gee verskillende beelde wat die hel teken as ’n plek van eindelose ellende.

Christus gebruik die beeld van duisternis en verbanning. Nadat Hy die geloof van die hoofman geprys het, ontstel Christus sy hoorders met die woorde: "Ek sê vir julle dat baie sal kom van ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van tande" (Mt 8:12).

Ongelowige Jode, kerkmense, sal uit God se koninkryk verban word. Pleks om die vreugde en geselskap van die messiaanse fees te geniet, sal hulle in die buitenste duisternis gewerp word. In die ooste is die huise dikwels rondom ’n binnehof gebou. Die vensters, dikwels sonder glas, het op die binnehof uitgekyk, terwyl die huis self deur ’n dik muur van die omgewing afgesluit was. Sou jy in die donker in die binneplaas wees, in die binnenste duisternis, dan sou jy nog deur die vensters stemme kan hoor en ’n bietjie lig kan sien. As jy egter buitegesluit word, dan kom jy in die buitenste duisternis tereg. Sonder lig en warmte. Daar hoor jy niks nie. Daar sien jy niks nie. Daar vereensaam jy totaal. Dis nou wat die hel is: die totale vereensaming. Jy is daar van God en mense verlaat. Hierdie verbanning omvat volgens Christus se woorde verskriklike lyding want "buite sal geween wees en gekners van tande" sê Hy.

Christus sluit die gelykenis van die talente af met die woorde: "en werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van tande." Die slegte en luie dienskneg word uit sy heer se huis gewerp omdat hy nie daar tuis hoort nie.

Paulus omskryf dit so in 2 Thess 1:9: "Hulle (die ongelowiges) sal as straf ondergaan ’n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte." Die hel beteken ’n ewige verbanning van God se heerlike en seënryke teenwoordigheid.

Gemeente, die Nuwe Testament gebruik ook die beeld van vuur om die hel te teken. In Mt 25: 41 lees ons bv: "dan sal Hy (die koning Jesus Christus) ook vir die aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele." Hierdie lot is verskriklik, omdat die hel ’n onuitbluslike vuur genoem word waar die vuur nie uitgeblus word nie (Mt 9:48). Die hel word geteken as ’n plek van verskriklike foltering en pyn. Joh vertel ons in Openb 20:10 dat die duiwel in die poel van vuur en swawel gewerp is "en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid." Dit is die gemeenskaplike lot wat die duiwel, sy engele en goddelose mense wag.

Talryke ander tekste bevestig die konklusie dat die beelde van vuur en verbranding wys op die verskriklike lyding van die goddeloses in die hel. Moet ons die vuur van die hel as letterlike vlamme verstaan? Ek dink nie so nie. As ons die beeld van die hel as vuur letterlik neem dan bots dit met ander beelde van die hel, bv die hel as duisternis. Pleks om ons letterlike prentjies van die lot van die goddeloses te gee, gebruik God gevreesde beelde uit hierdie wêreld om die verskriklike werklikheid van die hel te teken.

Daar word dikwels ook gepraat van geween en gekners van tande. Dit onderstreep die onbeskryflike lyding van die hel.

Maar, geliefdes, is die verskriklike lyding of hel regverdig? Volgens die Skrif is die lyding van die goddeloses in die hel regverdig. Die vyande van God ontvang wat hulle verdien vir hulle opstand teen Hom. In Mt 25:46 stel Jesus die lot van die goddeloses teenoor dit van die regverdiges: "En hulle (die goddeloses) sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe." Ewige straf is dus een van die beskrywings wat die Here van die hel gee.

Paulus skryf vir die vervolgde christene in Thessalonika: "’n teken van die regverdige oordeel van God … aangesien dit reg is by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te vergelde in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here." (2 Thess 1:5-9). Omdat God regverdig is, is sy oordeel reg. Dis reg vir Hom om hulle wat sy kinders vervolg en hulle wat sy evangelie nie gehoorsaam nie, te straf. In feite sou dit onregverdig wees as hy sondaars nie sou straf nie. Hy sal sy vyande straf met ’n ewige uitsluiting van die vreugde van sy teenwoordigheid.

Gemeente, die bybel gebruik ook die beelde van dood en verderf om die lot van die goddeloses te beskryf. In Mt 10: 28 waarsku Christus: "Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel." Ek hoef uiteindelik nie bang vir mense te wees nie, want die ergste wat hulle kan doen is om my dood te maak. Ek moet eerder God vrees wat my in die ewige verderf kan bring.

Gemeente, deur verskillende beelde het ons die lot van die goddeloses geteken. Hel is die verwerping deur God en die verbanning uit sy heerlike teenwoordigheid (dink aan die beeld van die buitenste duisternis). Hel wys op onbeskryflike pyn en lyding (dink aan die beeld van vuur en van geween en gekners van tande). Die hel is die ewige straf onder die toorn van God, die ewige dood en verderf. Verskriklike beelde. En wat dit nog erger maak is dat hierdie ellende ewig duur, dat dit geen einde het nie. Die tekste wat ons genoem het, het die reeds gewys.

Die hel word geteken as ’n onuitbluslike vuur waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie (Mk 9:43,44). Die woord wat vir hel gebruik word (Gehenna in Grieks) laat ’n mens dink aan die vreeslik stortplek in Jerusalem, die dal van Ben Hinnom waar vroeër kinders vir die Baal verbrand is. Hoe gaan dit op stortplekke van vullis? Die wurms bly aktief en daar is altyd wel ’n vuur. Hierdie beeld pas God toe op die hel. Daar in die hel sal daar geen einde aan die lyding wees nie. Soos Christus ook sê in Mt 25: die goddeloses sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe. Hierdie teks maak duidelik dat die straf van die goddeloses en die geluksaligheid van die regverdiges albei ewig duur.

Joh beskryf die ewige lyding van die goddeloses met die woorde: "hy sal drink van die wyn van die grimmigheid van God … en hy sal gepynig word met vuur en swawel .. en die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie (Openb 14:10,11). Die goddeloses hou nie op om te bestaan nie, soos baie mense beweer. Maar hulle bly voortlewe. Die rook gaan op tot in alle ewigheid. Die brandstof hou nie op nie. En hulle het dag en nag geen rus nie. Die goddeloses geniet geen verligting van die toorn van God nie. Hulle straf is eindeloos, ewig.

Broeders en susters, wanneer ons hieroor nadink, en dit moet ons doen, dan besef ons dat niks verskrikliker kan wees as die hel nie. Die foltering en ellende van mense in die konsentrasie kampe is nog min in vergelyking met die ewige ellende van die hel. Daarom word die vrae gestel: Kan dit werklik God se bedoeling wees om so ’n hel in stand te hou? Kan God, wat liefde is, so iets aansien? Hoe is die verhouding tussen God se liefde en die harde werklikheid van die hel?

Voorop wil ek stel dat die vergelyking van die hel met die konsentrasie kampe nie reg doen aan die situasie nie. Die duiwel gebruik sulke vergelykings om ons te mislei en ons teen God se reg in opstand te bring. Die goddeloses in die hel staan nie op een lyn stel met die weerlose slagoffers van die konsentrasie kampe nie. Waarom nie? Die weerlose slagoffers van die konsentrasie kampe het te doen met sondige beule teenoor wie hulle totaal onskuldig is. In die hel het ons egter te doen met ’n regverdige God teenoor wie die goddeloses volkome skuldig is. Satan wil ons graag laat glo dat ons onskuldig is, of dat die sonde nie so erg is nie, maar die werklikheid is en bly: die sondaar het die helse staf volledig verdien. Ons is nie onskuldige slagoffers nie. Ons het teen die allerhoogste majesteit van God opgestaan. Al die voorregte en gawes wat Hy vir ons gegee het, het ons teen Hom gebruik. Hom moedswillig verwerp.

As God regverdig is en die mens onskuldig sou wees, dan sou daar inderdaad geen hel wees nie. Dit sou onregverdig en onmenslike wees. Maar die mens is nie onskuldig nie. Die kwaad tref geen goeie mense nie, want die bestaan nie. Behalwe die mens Jesus Christus. Opsienbarend is nie dat daar ’n hel is nie. Opsienbarend is dat daar ontkoming aan die hel is. Laat ons dan geen groot mond teen die Here hê vanweë sy toorn nie. Laat ons eerder Hom prys vir sy genade. Spurgeon het eers gesê: wanneer mense van ’n klein hel praat, dan is dit omdat hulle dink dat hulle slegs ’n klein sonde begaan het en hulle in ’n klein Verlosser glo. Wanneer jy egter ’n groot besef van sonde het, dan wil jy ’n groot Verlosser hê.

In die hel kry ’n mens wat hy verdien. Mense kan dan tydens hierdie lewe dink dat hulle Christus as Redder nie nodig het nie. Hulle vind die gedagte aan ’n hel afskuwelik, maar hulle vind dit nie erg om sonder God te lewe nie. Maar die eintlike en ergste van die hel is dat mense daar deur God verlaat is. Daarop wys die beelde wat Christus gebruik: die eensaamheid van godverlatenheid. Wat die goddeloses vandag nie vrees nie, dit kry hulle: ’n bestaan sonder God. Ten slotte kry ’n mens wat hy kies. Wie sy lewe lank sonder God wil regkom, word in die toekoms vir ewig aan die keuse gehou: jy moet dan ewig sonder God en sy liefde regkom. Jy wou sonder God lewe. Wel, jy kry dan ewig jou wens.

Gemeente, God se liefde word dikwels uitgespeel teen God se ewige straf in die hel. Hoe kan God wat liefde is, mense so laat ly? Ons moet egter volgens die Skrif die omgekeerde stel: Juis omdat God liefde is, is daar ’n hel. Ja, juis omdat God liefde is, is daar ’n hel. God se brandende liefde vir sondaars is liefde in Christus. Die keersy is: brandende toorn teen hom of haar wat sy groot liefde versmaad.

Wie buite die kruis van Christus oor liefde wil praat, praat onsin. Wat doen jy dan? Dan gaan jy God meet aan ons sondige en gebrekkige begrip van liefde. Weet ons sondaars eintlik wel wat liefde is? Wie kan dit vir my sê, behalwe God alleen? Hy is die liefde in eie Persoon.

Wie nie van die werklikheid van die hel wil weet nie, verwerp die wesenlike van Christus se lyding. Golgota was geen speletjie nie. Daar het Christus die hel deurstaan, die verlating van sy Vader en die toorn van sy Vader. Daar aan die kruis het Christus uitgeroep: my God, my God, waarom het u my verlaat. Kan julle dit voorstel: God die Seun deur God die Vader verlaat? In die lig van Vader se ewige liefde vir sy Seun is dit vir ons onbegryplik.

Aan die kruis kry mens ’n glimp van die erns van ons oortreding teen God. Die kruis werp lig op die lot van die goddeloses, die hel. Daar aan die kruis het die sondelose Seun van God mos die lot ondergaan. Hy is deur God verlaat en het onder God se toorn gely. Vandag kan ’n mens geen verstandige woord oor die hel sê, sonder die kruis nie. Daar aan die kruis sien ’n mens die erns van God se toorn. Daar sien ons ook die geheim van die liefde van ’n heilige en regverdige God vir sondaars.

Wat gebeur dan as jy weier om op Jesus Christus as jou Heer en Redder te vertrou? Wat gebeur as jy sy dood en opstanding as die enigste weg tot God verwerp? Die bybel sê reguit: "hy sal ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn en hy sal gepynig word met vuur en swawel….En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie (Openb 14:10,11).

Elkeen het dan die keuse: of ek vertrou dat Jesus Christus die toorn van God vir my gedra het. Of ek moet self die beker van God se toorn drink.

Is julle, is jy verlos? As jy nog nie verlos is nie, hardloop na die kruis toe. Bekeer jou van jou sondes. Omhels Jesus Christus. Hy alleen kan jou red van die toorn wat kom. Glo dat hy die straf van die hel vir jou gedra het, sodat jy dit nie self hoef te dra nie.

Die gedagte van die hel kan ’n mens oorweldig. Keer jou gedagtes na die kruis toe. Dan kan jou verdriet in dankbaarheid verander. Dink daaraan: die Seun van God het die verskrikkinge van die hel gedra om ons sondaars te red. Wat ’n onbegryplike liefde! Wanneer ek my fokus op Christus se verlossings werk, dan raak ek oorweldig deur sy genade. Ek besef nou: eers wanneer ek die hel onder oë sien, begryp ek hoe geweldig Christus se liefde is.

Broeders en susters, hierdie oordenking van die hel laat my ook besef hoe verskriklik dit is wanneer ’n mens nie glo nie. Dan is jy op pad na die grootste ramp wat daar ooit was. Op pad na ’n onbeskryflike, ewige ramp. Kan ek dan swyg oor my Heiland? Kan ek dan aansien dat mense hul ewige ramp tegemoetgaan? Die wete vuur my aan om die goeie nuus deur te gee, voordat dit te laat is, terwyl dit nog ’n tyd van genade is. Sodat mense nog gered kan word van die komende toorn.

Christus wil uiteindelik nie die dood van die sondaar nie, maar dat hy hom bekeer en leef. Redder is sy Naam. Wie in die Seun glo het die ewige lewe. Dit staan voorop. Maar dit is des te ernstiger omdat die ander ook geld: maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom (Joh 3:36). Laat hierdie boodskap elkeen van julle dring tot groter erns en ywer in die diens van God.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)