Die Here verwerp Saul as koning.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-09-01
Teks: 
I Samuel 15
Preek Inhoud: 

1 Samuel 15:1-3; 17-23

Ds C Kleyn - Sondag 1 September 2002

Lees:

1 Samuel 15.
Sing: Ps 92:1,2; Ps 50:7; Ps 50:8,11; Ps 40:3,4; Ps 40:5,8.

Tema: Die Here verwerp Saul as koning.

  1. Die bevel van die Here;
  2. Saul se ongehoorsaamheid; en
  3. Die Here se verwerping.

 

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wanneer ’n mens eenmaal ’n slegte keuse in die lewe gemaak het, lyk dit
dikwels van kwaad na erger te gaan. Op ’n sekere oomblik kies ek bewus om my
eie pad te volg, teen die wil van die Here in. Na ’n rukkie gaan dit amper
outomaties dat ek my eie pad volg. Ek word steeds slapper in die diens van die
Here; of onverskilliger. Na ’n rukkie lyk dit asof ek nie meer positief en
ontvanklik vir God en sy Woord kan wees nie. Ek kies om die Here te dien soos
dit my pas. Na ’n rukkie lyk dit ’n vaste patroon by my te word, ek bly God
dien op ’n eiewillige manier.

Geliefdes, is dit waar dat jy na een verkeerde keuse outomaties van kwaad na
erger gaan? In Gilgal het koning Saul gekies om God op ’n eiewillige manier te
dien. Hy kon nie langer vir Samuel wag nie. Hy het gedink dat hy die situasie
moes red deur offers te bring, teen die uitdruklike bevel van die Here in. Het
Saul toe outomaties van kwaad na erger gegaan? Het God Saul onmiddellik los
gelaat? Was Saul se ongehoorsaamheid wat in ons teks genoem word ’n logiese
gevolg van sy ongehoorsaamheid in Gilgal?

Laat ons kyk na die geskiedenis van die teks.

Ek verkondig vir julle: die Here verwerp Saul as koning

  1. Die bevel van die Here
  2. Saul se ongehoorsaamheid
  3. Die Here se verwerping

Wanneer ’n mens God se plan met Israel se koningskap oorsien , dan kan die
vraag opkom: moes dit nie so met Saul afloop nie? Die Here wou tog konings uit
die huis van Juda hê? Jakob het reeds daarvan gepraat toe hy Juda geseën het:
die septer sal van Juda nie wyk nie , nog die veldheerstaf tussen sy voete uit
totdat Silo kom" (Gen 49:10).

Wel, hierdie plan van God moet werklikheid word. En daartoe moet Saul se
koningskap doodloop. Het Saul dan werklik ’n kans gehad om iets daarvan te
maak?

Gemeente, uit die voorgaande geskiedenis, veral Saul se salwing, blyk dat God
Saul ernstig geroep het en dat Hy Saul ook alles beloof het wat hy vir sy
koningskap nodig gehad het. So het God elkeen van julle ook ernstig geroep en
elkeen alles belowe wat julle nodig het as sy profete, priesters en konings. Die
salwing en die drie tekens wat Saul op pad huis toe ontvang het, laat geen
twyfel daaroor bestaan nie. En selfs na Saul se mislukking in Gilgal het God hom
nie verlaat nie. In 1 Sam 14:47,48 lees ons dat Saul oorlog gevoer het rondom
teen al sy vyande. En oral waarheen hy hom gewend het, het hy straf geoefen. En
hy het hom dapper gedra: hy het Amalek verslaan en Israel gered uit die hand van
sy berower.

Die Here het Saul een oorwinning na die ander gegee. Dit was nie die Here se
skuld dat Saul se koningskap in ’n mislukking beëindig het nie. So kan ek
vandag ook nooit die Here die skuld gee wanneer my lewe in ’n geestelike
mislukking beëindig nie.

Is ons tekshoofstuk gee God Saul opnuut ’n kans om homself as teokratiese
koning te bewys. Die Here verlaat hom nie onmiddellik nie. Samuel herinner Saul
uitdruklik aan sy salwing. Die Here vergeet die begin nie. Hy gaan terug na die
begin en maak as ‘t ware ’n nuwe begin met Saul. Die Here het Saul as koning
oor sy volk gesalf. Die Here kan daarom absolute gehoorsaamheid eis. Daarom:
"luister dan nou na die stem van die woorde van die Here."

Die taak wat Saul ontvang hoef nie moeilik te wees nie, ook al is die
Amalekiete ’n sterk vyand. Die Here gaan voorop. Let daarop dat die Here nie
onmiddellik sy bevele vir Saul gee nie. Die Here wys eers op sy almag en op sy
stryd teen Amalek. "So sê die Here van die leërskare: Ek het terdeë
gelet op wat Amalek Israel aangedoen het, dat hy hom in die weg gestaan het by
sy optog uit Egipte." Die Here self kom in aksie teen die Amalekiete. Hy
gaan hulle straf.

Saul hoef nie te vrees nie. Al wat hy hoef te doen is: om die Here te volg,
ja om die Here van die leërskare te volg. Geen vyand kan die Here van die leërskare
oortref nie. Die Here wat alle magte in hemel en op aarde tot sy beskikking het,
wil vir Saul veg. Wanneer jy Hom in die stryd volg, dan kan jy van die
oorwinning seker wees.

Na die inleidende woorde ontvang Saul die opdrag: "Gaan nou en verslaan
Amalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het."

Waarom wil die Here die Amalekiete vernietig? Dit word vertel in Eks 17:8-16
en Deut 25:17vv. Die Amalekiete was die eerste volk om die Israeliete op hul pad
na Kanaän aan te val. Hulle was ook baie gemeen in hul aanval. Hulle het Israel
aangeval toe hulle moeg en mat was en hulle het hul aanval gerig op die
agterhoede, op al die swakkes wat agter geraak het. Na die stryd by Rafidim het
God verklaar dat Hy die gedagtenis van Amalek onder die hemel heeltemal sal
uitdelg.

Wel, Saul moet nou die gedagtenis van Amalek onder die hemel heeltemal
uitdelg. Hy moet alles wat aan hulle behoort heeltemal vernietig. Hy moet man
sowel as vrou, kind en suigeling, bees en kleinvee, kameel en esel om die lewe
bring. Deur totale vernietiging moet alles en almal aan die Here gewy word.

Gemeente, lyk dit nie baie hardvogtig van God om die uitroeiing van ’n hele
nasie, inklusief selfs die kinders en suigelinge, te gebied nie? Lyk dit nie
barbaars om ook die vee en alle kultuur produkte uit te wis nie? Ons huiwer vir
geweld en bloedvergieting. Kan dit die wil van die Here wees?

Wel, broeders en susters, dis inderdaad natuurlik dat ons huiwer vir dood en
oordeel. Dit is iets om te vrees. Ons het geen vreugde in die dood van ander
nie, selfs nie die dood van die goddeloses nie. God het ook geen vreugde daarin
nie. Ons moet egter die aard van God se volmaakte geregtigheid verstaan. Sy reg
moet geskied. En dan is dit onvermydelik dat die sonde uiteindelik met die dood
gestraf word.

Die Amalekiete was onbeskryflik goddeloos. Hul maat van die sonde was vol.
Hulle was verharde vyande van God en sy volk. Terloops, hulle was selfs aan die
Israeliete verwant. Amalek blyk een van Esau se nakomelinge te wees. Dit sou hul
diepe haat teen Israel kan verklaar. ’n Haat wat opnuut sigbaar sal word in
die tyd van koningin Ester. Haman, die groot vyand van die Jode, blyk ’n
Amalekiet te wees. Amalek kom in opstand teen God se verkiesing en teen God se
uitverkore volk.

God wil nou sy regverdige oordeel teen sy verharde vyand voltrek. Gemeente,
wat kan ons leer van die totale vernietiging van Amalek? Dit, God sal al die
goddeloses vernietig van die aarde af. Die bestemming van die Amalekiete is ’n
beeld vir alle tye, van die bestemming van die goddeloses wat nie hul knieë vir
God wil buig nie. Hul oordeel is nie minder ernstig as dit van die Amalekiete
nie. Hulle sal eendag vir goed omkom.

Enige afkeer teen God vir sy behandeling van die Amalekiete verraai ’n
gebrek aan besef van God se volmaakte heiligheid. Besef, geliefdes, die erns van
die sonde teen die heilige God. Onthou dat die loon van die sonde die dood is.
God is regverdig in al sy oordele. Ek, ’n sondaar, verdien ten volle dieselfde
veroordeling vir my sondes. Dis slegs deur God se genade dat ek mag lewe.

Pleks van ontsteld te wees oor God se behandeling van Amalek en sy gelykes,
laat ons met des te meer erns reageer op God se oproep tot geloof en bekering.
Jesus het eers vir die Jode gevra of die Galileërs wat Pilatus gedood het
groter sondaars was as die ander Galileërs en of die agtien op wie die toring
van Siloam geval het meer skuldig was as al die ander inwoners van Jerusalem.
Jesus se antwoord was so simpel en ernstig: Nee, sê Ek vir julle; maar as julle
jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom (Lk 13:1-5).

Geliefdes, die bevel om Amalek heeltemal te verwoes is aan die een kant ’n
eer vir Saul: Hy ontvang weer die geleentheid om sy trou aan sy hemelse koning
te wys. Aan die ander kant is dit ook ’n groot verantwoordelikheid. Saul moet
God se heilige oorlog voer, volgens God se hoë standaarde.

Saul versamel sy troepe en trek op teen die Amalekiete. Ons ontvang slegs
’n kort verslag van die stryd. Saul se ongehoorsaamheid ontvang meer aandag.
Saul spaar Agag die koning van die Amalekiete, ook al dood hy wel al sy volk. In
vers 9 lees ons dat Saul en die manskappe Agag gespaar het. Hulle het daarin
saamgestem en saamgewerk. Waarskynlik soos dit die gewoonte was in daardie tyd
om met die koning te kan pronk by hul tuiskoms as seëvierende leer. Ter
vergroting van eie eer en glorie.

Die koning en sy manskappe was ook beide betrokke by die redding van die
beste van die kleinvee en beeste. Hulle het slegs die minderwaardige diere met
die banvloek getref. Dat hulle die waardevolle vee gespaar het, was nie slegs
’n kwessie van slordigheid of versuim nie. Dit was bewuste onwilligheid.
"Dit wou hulle nie met die banvloek tref nie," lees ons in vers 9.
Koning Saul en sy manskappe weier om die norme van God se heilige oorlog na te
kom. Hulle kan die verleiding nie weerstaan om hulle hande te lê op wat God
onder die ban geplaas het. Hulle verlaag die heilige oorlog teen Amalek in ’n
onheilige strooptog vir persoonlike wins.

Later suggereer Saul dat hulle die beste van die vee gespaar het om dit aan
die Here te offer, maar dis ’n leuen, ’n verdraaiing van die waarheid.
Natuurlik, die Here sou sy deel kry, hulle moet dit ook goed laat lyk en hul
gewetens gerusstel, maar die doel was om hulleself met die buit te verryk.
Daarom tipeer Samuel hul aksie as ’n afstorming op die buit (vers 19). Dis
werklik ’n strooptog pleks van ’n heilige oorlog. Mense storm op die buit af
pleks om alles aan die Here te wy in totale vernietiging.

Die feit dat hulle wel ’n deel van die vee vernietig verskoon hulle nie.
Want hulle vernietig slegs die minderwaardige diere. Wat ’n belediging van God
om Hom slegs die minderwaardige te gee. Alles moes vir God gegee word in totale
vernietiging. Alles het aan Hom behoort. Niemand het dan die reg om maar iets
vir homself toe te eien nie. Daarom het Saul en sy manskappe in feite van die
Here gesteel. Hoe durf hulle om die beste vee van die Here te steel.

God roep Samuel die profeet om Saul te betig. Die Here het voor Saul
uitgegaan en die stryd teen Amalek vir Saul gestry. Die Here het Saul die
oorwinning gegee. Maar nou dink Saul meer oor homself, oor sy populariteit en
eer, as oor God wat hom ’n duidelike instruksie gegee het. Daarom rig Saul ook
in Karmel vir hom ’n gedenkteken op. Nie ’n gedenkteken vir die Here se
werke nie, maar ’n gedenkteken vir homself, om sy prestasie en grootheid te
eer.

Wanneer Samuel hiervan hoor is hy bekommerd, selfs kwaad. Hoe kan Saul so
dwaas en ongehoorsaam wees. Die hele nag deur worstel Samuel met God oor hierdie
saak in gebed. Dis goed om dit te onthou. Wanneer jy Samuel se afwysing van Saul
hoor, sou jy kan dink dat Samuel hard is na Saul toe. Maar vergeet nie dat
Samuel die hele nag vir Saul bitter geskrei het nie. Samuel is beide verdrietig
en kwaad, beide emosioneel en ferm.

Broeders en susters, seuns en meisies miskien kan julle ’n situasie onthou
waarin julle ernstig deur jul ouers of deur ander persone of ampsdraers
tereggewys is. Dalk het dit jou kwaad gemaak. Jy het die gevoel gehad dat hulle
te hard en gevoelloos was. Maar as die ouers en die ander persone ware ouers en
ware broers en susters of ampsdraers was, dan was hulle nie hard en koud nie.
Wat jy as hard ervaar het was iets wat voorgekom het uit ’n liefhebbende en
verdrietige hart. Wie weet hoeveel ure hulle vir jou wakker gelê het en met die
Here vir jou geworstel het, voordat hulle jou daaroor aangespreek het.

Samuel mag hard lyk in sy benadering van Saul. Maar hy het die hele nag vir
Saul tot God geroep, dat God hom genadig mag wees. Beskou nie alle gestrengheid
as hardvogtigheid nie.

Samuel moet Saul informeer dat God hom as koning verwerp het. Saul het die
Here se instruksies nie ernstig geneem nie. Hy besef nie waarmee hy besig is
nie. Die veldtog teen Amalek was ’n saak van die Here. Maar Saul het daar ’n
eie saak van gemaak. Dit het sy eie stryd geword pleks van die stryd van die
Here. Daarom eis hy die eer vir homself op.

Dan durf hy om ook nog na Gilgal te gaan om offers aan die Here te bring? Die
oorwinning moet in Gilgal gevier word. In Gilgal waar hy geweier het om op die
Here te wag en waar hom sy dinastie ontneem is. Hoe durf hy. Om in Gilgal die
Here vee te offer wat hy eers van die Here gesteel het. Vergelyk met die
situasie dat jy alles in jou lewe eers vir jouself opeis. Jy maak asof alles al
jou geld en goed, jou talente, van jouself is en dan gee jy die Here ’n
simboliese offer. Asof God nie die absolute Eienaar van alles is nie, en my lewe
en besit, my geleenthede en talente, nie in die eerste plek van Hom is nie. Of
jy eis eers die dag van die Here vir jouself op, dis jou dag waarmee jy glo kan
doen wat jy wil, en dan gee jy die Here een uur van erediens. Asof dit nie in
die eerste plek ’n dag van die Here is nie. Jy steel dit eers van die Here en
dan gee jy Hom ’n klein porsie terug. En dan dink jy dat jy nog vroom en
godsdienstig is ook. Asof jy jou diefstal met ’n simboliese offergawe weer reg
kan maak.

Saul het geen ware besef van skuld nie. Wanneer Samuel arriveer, groet hy hom
met die woorde: "Mag u geseënd wees deur die Here; Ek het die woord van
die Here uitgevoer." Wanneer jy wil bly sondig dan kan jy twee dinge doen.
Jy kan dit brutaal doen of jy kan die kwaad omskryf as goed. Die laaste is
psigologies en sosiaal meer aanvaarbaar omdat ’n sondaar graag ’n positiewe
beeld skep en jy jouself graag wil oortuig dat jy tog nog die regte ding doen.
Saul volg hierdie pad. Hy oortuig homself dat hy hierdie keer tog wel die wil
van die Here gedoen het.

Maar sy skape blêr en sy beeste bulk ’n ander verhaal.

Gemeente, wanneer Samuel hom daarop aanspreek, gee Saul ’n vrome verklaring
en probeer hy die skuld af te skuif op sy manskappe. "Die manskappe het die
beste kleinvee en beeste gespaar om aan die Here u God te offer; maar die ander
het ons met die banvloek getref." Let op die veelseggende vergissing wat hy
maak. Hy sê nie: ons God nie, maar u God. Asof God nie werklik sy God is nie,
maar dat hy ter wille van Samuel God nog wil dien. Soos dit vandag deur
kerkmense ervaar kan word: Ek gaan wel kerk toe en dien wel die Here maar ek
voel eintlik geen band met Hom nie, Hy is eintlik nie my God nie. Ek dien God
slegs ter wille van my ouers en familie of ter wille van die ampsdraers, anders
verloor ek hulle of doen hulle moeilik. Wat ’n huigelary. Hoe maklik dek ons
ons sondes toe met vrome woorde.

Saul is nie van plan om skuld te erken nie. Maar die Here hou Saul skuldig
vir wat gebeur het. Was hy nie die gesalfde koning oor God se volk nie? Moes hy
die volk nie in gehoorsaamheid aan God se wil gelei het nie? Moes hy God se
regering onder die volk nie bevorder het nie? Nie die wense van die mense nie,
maar God se bevele moet beslissend gewees het.

In Samuel se teregwysing hoor ons die bekende woorde: "Het die Here
behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die
Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as
die vet van ramme."

Nie dat die bring van offers volgens die Woord van God onbelangrik is nie.
Dit gaan hieroor dat erediens sonder werklike gehoorsaamheid ’n belediging van
God is. Om dinge vir die Here te doen, wat teen sy geopenbaarde wil ingaan is
vir Hom onaanvaarbaar, hoe vroom dit ook lyk. Die Here stel geen belang in
vormlike godsdiens en valse skyn nie. Hy wil jou hart en lewe hê. Die bybel is
baie skerp is sy afwysing van godsdiens sonder ware gehoorsaamheid. Dis
huigelary. Dit word wederstrewigheid genoem, wat gelykstaan aan die sonde van
waarsêery. Deur waarsêery soek mense wysheid buite God. Dis wat ’n
wederstrewige persoon doen: hy wil meer as God se openbaring. Hy is nie tevrede
met God se woord nie.

Saul se aanmatiging is in feite sonde teen die eerste gebod: afgodery. Hy kon
sowel ander gode gedien het. In die praktyk het Saul God in sy hart onttroon. Hy
wil God op sy eie manier dien, soos dit hom pas. Asof God behae sou hê in
erediens volgens ons eie wil en nie volgens sy wil nie. Daarom verwerp die Here
Saul as koning. ’n Koning wat voorkeur gee aan sy eie wil bo die wil van die
Here is nie geskik om koning oor God se volk te wees nie. Hoe kan so ’n koning
God se koningskap weerspieël en bevorder? Die Here se vonnis is finaal. Saul
sal nou sy koningskap sien verval van kwaad na erger. Dit sal eindig in ’n
totale fiasko.

Broeders en susters, ons word geforseer om uit te kyk na die koning wat wel
God se koningskap sal weerspieël, een wat homself in volkome gehoorsaamheid aan
sy hemelse koning onderwerp. Ons word gedryf na Jesus Christus wat gehoorsaam
was, selfs tot die dood aan die kruis. Jesus Christus wat in die woorde van die
Psalmis kon sê:

Net om u wil te doen soos in u Boek
- die wonderskrif wat nooit vergaan -
dit klaar van my geteken staan,
dit wil ek, Heer, van ganser harte soek.
Ek bied U hart en hande
In will’ge offerande-
Al wat ek is en het;
Diep in my ingewand
Waar liefde en ywer brand,
Draag ek u heil’ge wet.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)