Die Here wek die erfgename op om op Hom te vertrou.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-09-15
Teks: 
Psalms 37
Preek Inhoud: 

Psalm 37:3-6

Ds C Kleyn - Sondag 15 September 2002

Lees:

Psalm 37.
Sing: Ps 23:1,2; Ps 147:1,2; Ps 73:1,2; Ps 37:1-6; Ps 147:3,4.

Tema:


Die Here wek die erfgename op om op Hom te vertrou.

  1. Die betekenis van die vertroue; en
  2. Die perspektief van die vertroue.

 

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die digter van Ps 37 het in die samelewing rondgekyk. Hy het die verskil
tussen die regverdige en die goddelose opgemerk. ’n Verskil nie net in hul
optrede nie, maar ook in hul omstandighede hier op aarde.

Oënskynlik is die goddeloses dikwels voorspoedig. Hulle matig hulleself
allerlei regte aan. Hulle haal allerlei dinge na hulleself toe ten koste van die
regverdiges. Die Psalmis sien hoe die goddelose ook dikwels listige planne teen
die regverdiges bedink. Dit lyk asof sy onreg loon. Die goddelose hou vir
homself wat hy aan die Here verskuldig is en vaar wel daarby, tenminste so lyk
dit. Daarteenoor sien ’n mens dat die regverdige herhaaldelik swaar kry en
onheil tref. Hy kan baie dinge wat die goddelose doen, nie doen nie. Hy moet
baie mis. Hy moet homself baie ontsê en soms selfs ly.

Gemeente, ons moet wel besef dat die beeld wat die Psalmis hier van die
goddelose en van die regverdige teken, nie altyd geld nie. Dis nie altyd so dat
die goddelose ryk en die regverdige arm is nie. Die omgekeerde kan soms ook waar
wees, naamlik dat die goddelose arm en ellendig is terwyl die regverdiger
voorspoedig is. Ons kan die Psalmverse vergelyk met die Spreuke wat ’n
tekening gee van dinge wat herhaaldelik voorkom.

So wys die Psalmis op iets wat ’n mens dikwels in die samelewing ontdek.
Ook vandag sien ons dat die goddelose hom dikwels veel meer kan veroorloof as
die regverdige. Goddeloses hou geen rekening met die wil van die Here nie en
doen maar wat hulle lus is om te doen ook al is dit ten koste van ander. Hulle
verryk hulleself op onwettige of onetiese maniere. Dink maar aan die korrupsie
onder alle lae van die bevolking in die staatsdiens en in die besigheidswêreld.
Mense besteel God en die medemens.

Terwyl ’n konsekwente christen veel moet mis en prysgee. Vanweë sy
christelike waardes is dit moeiliker vir hom om met ander mee te ding. Om ’n
christen te wees is geen goedkoop saak nie. Dink bv aan die groot opofferings
wat ouers hulle moet getroos om hul kinders soveel as moontlik onderwys te gee
ooreenkomstig die leer van die Skrifte. Dink aan die geld wat nodig is vir die
instandhouding van die eredienste, diakonie, kerkverband ens. Die regverdige kan
finansieel swaarkry. Die sorge word die regverdige nie bespaar nie. Hoe nou
verder? Sal dit in die tyd wat voorlê wel goed afloop? En as daar siekte of
werkloosheid intree, hoe sal dit dan gaan? Ons weet dat alles in die hand van
die Here is, maar daarmee is die rus nog nie altyd aanwesig nie. Ons bly mense
wat bekommerd kan wees en wat ook kan dink dat ons dit self moet red. Mense wat
ook wel ongeduldig en opstandig kan wees as dit nie luk nie of as ander beter af
is as ons.

Daarom is dit goed, broeders en susters, om te luister na wat God ons in die
woord van die teks wil sê. Dit tot ons vertroosting, bemoediging en vermaning.
Opdat ons rus en vertroue mag hê.

Ek verkondig vir julle: die Here wek die erfgename op om op Hom te vertrou.

  1. Die betekenis van die vertroue
  2. Die perspektief van die vertroue.

Wanneer die Psalmis die getroues aanspreek, dan begin hy met die opdrag:
vertrou op die Here. Hoe die omstandighede ook al mag wees en watter
perspektiewe jy ook al mag hê, vertrou op die Here. In die woord ‘vertrou’
sit die element van seker wees, vastheid hê. Jy het weer sekerheid in jou lewe,
’n vaste hoop, waardeur jy die besorgdheid en vrees laat vaar. Jy het weer
vaste grond onder jou voete. Jy hoef nie meer te wankel nie, nie meer deur jou
omstandighede geskok te wees nie.

Waarop grond jy dan die sekerheid. Die grond lê in die Here, die
onwankelbare, die getroue verbondsgod. Daarom vertrou op Hom. Die vertroue gee
sekerheid en houvas in jou lewe.

Die digter werk dit verder uit in die woorde: verlustig jou in die Here. Soek
in die Here jou vreugde, jou genot. Solank as jy jou verlustiging soek in die
skynbare sukses van hierdie wêreld, in die tydelike genot van aardse rykdom,
solank sal daar die onsekerheid en wankelmoedigheid wees. Want wie kan blywende
sukses waarborg, dat jy jou wense sal verkry? En as jy in jou verwagtings
beskaam word, wat dan? As jy daarop jou hoop gevestig het, dan sal dit by
teenslag beteken dat jy val, diep val.

Dan is daar die afguns, die jaloesie, dat jy kwaad word. Jy wind jou daaroor
op dat dit met ander beter gaan. Jy is ongeduldig en opstandig dat die Here jou
in die nou bring. Jy vind dat jy misdeel is. Die digter waarsku sterk teen so
’n houding: wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig (vers 8). Jy
raak daardeur steeds verder van die pad af. Jy volg daardeur die pad van die
goddeloses. Daarom die woorde: verlustig jou in die Here. Soek in Hom jou
hoogste geluk en vreugde.

Maar sal jy sê, daarmee bereik ek nog nie veel nie. Daardeur verander niks
aan my omstandighede nie. My vrae bly bestaan. My lewensweg bly daardeur nog ewe
swaar, moeilik en onseker.

Daarom vervolg die digter: laat jou weg aan die Here oor. Jou weg is soveel
as jou lewensreis met sy sorge en moeite. Die lewensweg druk dikwels as ’n
sware las. Ons kan dit nie wegdink nie. Die sorge bly ons kwel. Daarom moet ons
die las ook van ons afwerp, afwentel. Die Here is jou Reisgenoot aan wie jy die
las mag oorgee. Tors nie langer self die las nie, maar laat die Here dit dra.
Daardeur val die onsekerheid en onrus weg en is daar weer die rus. Onder alle
omstandighede kan jy dan rustig word. Jou lewenspad met sy vrae en moeite, lê
veilig op die skouers van die getroue en almagtige Vader.

Broeders en susters, hoekom sou dit wees dat die kinders van God die
voorspoed van die goddeloses nog dikwels beny, dat ons dikwels kla en begin om
te wankel, dat ons onmatig aan ons smart toegee en soms in opstand kom? Sou dit
nie wees omdat ons teveel op ons eie skouers wil neem en graag buite God om vir
onsself wil sorg nie. As ek eenmaal laste op my eie skouers gaan stapel, dan
word die berg van sorg en moeite steeds hoër, sodat ek uiteindelik wel moet
beswyk. Dawid spreek hierdie fout aan wanneer hy sê: Laat jou weg aan die Here
oor en vertrou op Hom. Hy waarsku dat ons bedroë uitkom wanneer ons die leiding
van ons lewe self op ons wil neem en self vir ons sake wil sorg. Asof ons in
staat is om so ’n groot las te dra. Die enige manier om van die las waaronder
ons sou beswyk bevry te word, is om ons te rig op die Here ons God. Laat Hom die
las dra. Gee dit met ’n rustige hart aan Hom oor. Hy alleen is in staat om die
sorg van jou lewe op Hom te neem. En as ’n getroue Vader wil Hy die sorg ook
op Hom neem.

Maar, broeders en susters, maak dit ons nie tot lui, inaktiewe mense nie? As
ons alles op die Here kan afwentel, moet ons dan nie op ons louere gaan rus nie?
Wat bly daar nog vir ons oor? Gemeente, om op die Here te vertrou en so ook ons
lewenspad op die Here af te wentel, sluit nie ons eie aktiwiteit uit nie.
Inteendeel. Die vertroue op die Here dryf juis tot werksaamheid. Die Psalmis
verwoord dit wanneer hy sê: vertrou op die Here en doen wat goed is. Doen wat
goed is, dit sien op geloofaktiwiteit. Aktiwiteit op alle gebiede van die lewe.
Dit word in die Ps nie konkreet uitgewerk nie. Dis ook nie nodig nie. Die Here
het sy volk reeds bekend gemaak wat goed is en wat Hy van ons vra. Ek moet by
die huis en in die samelewing, waar ek daagliks my lewe lei, doen wat goed is.
Dws God se wil doen, my gawes, my talente tot eer van Hom en tot heil van my
naaste ontplooi.

Dit is langs die pad van troue diens aan God dat God vir my daaglikse
lewensonderhoud wil sorg. Hy versorg ons langs die middellike weg, via ons
aktiwiteit. Daarom het ek ook die roeping om my hande uit my moue te steek en te
werk solank as dit dag is. As ek more kos in huis wil hê, dan sal ek vandag na
vermoë moet werk. Indien ek werkloos is, dan word as reël ander werk nie
outomaties in my skoot gewerp word nie. Ek sal my daarvoor moet inspan om werk
te soek. As ek ’n slegte gesondheid het, ontvang ek normaalweg nie outomaties
verligting van pyn deur my weg aan die Here oor te laat nie. Dalk sal ek
daarvoor medisyne moet gebruik. Om op die Here te vertrou ontslaan ons nie van
die arbeid nie. Die vertroue dryf juis tot die arbeid. Vertrou op die Here en
doen wat goed is.

Maar, gemeente, die Here sou tog die las van ons lewensweg op Hom neem? Gaan
ons nou tog nie weer self die las dra nie? Nee, die sorg, die inspanning, die
werk wat ek in geloofsvertroue doen, is nie die tors van ’n sware las nie. Dit
is werke van dankbaarheid aan die Here, wat die Here wel wil gebruik, maar waar
nie alles van afhang nie. Nee, die egte sorg lê by die Here. Hy dra die sorg
vir jou lewensonderhoud en daarom kan jy rustig en sonder sorg doen wat jou hand
vind om te doen. Ek weet dat alles van Hom afhanklik is. My arbeid of inspanning
kan faal, maar Hy nooit nie. Ek kan met my werk tekort skiet, maar Hy skiet
nooit tekort nie.

Dit is, gemeente, wat so bevrydend is met die vertroue op die Here. Ek weet
dat my lewenslot, my toekoms in sy Vaderhande is. Solank ek glo dat dit in my
eie hande is, is daar die onsekerheid en onrus. Maar nou ek dit aan Hom durf
oorlaat, is daar die rus en sekerheid. Ek kom weer in die ruimte. Die vrede en
blydskap kry weer die oorhand. Die daagliks arbeid kan weer op ’n ontspannende
manier, sonder krampagtigheid, verrig word. My lewe en my toekoms lê in sy
hande. Alles is van sy seën afhanklik. Aan die seën is alles geleë.

Dan kyk ek heel anders aan teen die voorspoed van die goddeloses. Rykdom,
welvaart sonder Vader se seën is ydelheid, bedrieglik. Met al hul rykdom sal
hulle uiteindelik vergaan. Iemand wat self sy toekoms probeer waarborg, is besig
om sy toekoms te bederf.

Maar die regverdiges, hulle sal die ewige erfenis ontvang. Daarop let ons in
die tweede gedagte: die perspektief van die vertroue op die Here.

Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom en Hy sal dit uitvoer, sê
die Psalmis. Letterlik staan daar: en Hy sal werk. Die Here sal homself wys as
die Aktiewe. Die aktiewe wat nie sluimer of slaap nie, maar altyd inspring vir
sy kinders. Hy sal ook werklik die las dra en voltooi.

Wanneer Hy dit doen dan beteken dit dat ons metterdaad die nodige ontvang om
ons lewenspad te voltooi. "Dan sal Hy jou gee die begeertes van jou
hart." Die Here sal Hom wys as die milde gewer van ’n volheid van seëninge.
Dink maar aan vers 11: "die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en
hulle verlustig oor groot vrede." Of die verse 18,19: "Die Here ken
die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly. Hulle sal
nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in die dae van hongersnood sal
hulle versadig word."

Beteken dit nou dat al ons wense hier en nou onmiddellik vervul gaan word?
Nee. Dit beteken nog minder dat die Here verkeerde wense van ons sal vervul. Hoe
sou God sondige en skadelike begeertes kan honoreer? Die Here bepaal watter
dinge Hy gee en wanneer. Die Here sal die gelowige wense vervul op sy tyd en
wyse. Maar Hy sal dit vervul. As dit nie hier en nou gebeur nie, dan sal dit nog
veel ryker vervul word wanneer die ewige erfenis uitgereik word.

Hier op aarde het God vir elkeen van ons nog ’n eie lewenspad, ’n eie
taak. Hoe lank die pad is en hoe lank die taak gaan duur, weet ons nie. Ons
beskik nie daaroor nie. Ook nie oor die omstandighede onderweg nie. Ook nie oor
die stand van ons materiële welsyn nie. Dit lê in God se hand. Maar daarby is
dit seker dat Hy die nodige sal gee, solank Hy my lewenspad laat duur. Die
nodige, nie volgens ons materialistiese maatstawwe nie, maar volgens die
maatstawwe van Hom wat ons Skepper en Verlosser is. Van Hom is die lewe en die
onderhouding daarvan. Ons is by Hom in goeie hande. Sou God die erfgename van
die wêreld nie op pad na hul ewige erfenis dra nie. Sou Hy hulle laat val
voordat die erfenis uitgereik word?

Gemeente, ek het hier die woord "erfgename" gebruik en die woord
"erfenis". Die tema van die preek lui ook: die Here wek die erfgename
op om op Hom te vertrou. Dis nie sonder rede dat ons praat van erfgename en
erfenis nie. Dis opvallend dat die Psalm dikwels praat van ’n erflik in besit
neem van die aarde of land. Bv vers 11: Die ootmoediges sal die aarde besit.
Vers 34: "wag op die Here en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die
aarde te besit."

Die belofte van die erfenis word geteken in aardse trekke. Daar is ’n
duidelike aansluiting by die belofte wat aan die aartsvaders en die Israeliete
gegee is. Aan hulle was beloof dat hul nageslag die land sou besit. Hierdie
Psalm ontwikkel die gedagte verder deur ’n skeiding aan te bring: net die
regverdiges sal duursaam in die land woon, die goddeloses sal uitgeroei word.
Daarmee gaan die belofte ver uit bo die huidige situasie van die Psalmis. Die
toestand waarby die goddeloses uitgeroei word en die vromes die aarde besit is
mos die toestand van die messiaanse heilstyd, soos die profete daarvan praat.
Dit sien uiteindelik op die groot toekoms wat sal aanbreek. Let ook daarop dat
meermale gepraat word van ’n ewige erfenis. In vers 18 word gesê dat die
erfdeel van die opregtes tot in ewigheid sal bly. Ons lees in vers 29: die
regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.

As konklusie kan ons sê dat die digter in eerste instansie wel sal gedink
het aan die voorspoed van die regverdiges in die aardse Kanaän. Sy woorde reik
egter veel verder en vind eers hul volkome vervulling in die hemelse Kanaän, in
die nuwe hemel en nuwe aarde. Die regverdiges word opgeroep om geduldig te wees
en vertroue te hê vanweë die ewige toekoms wat hulle wag.

So het dit ook baie vir ons te sê. In die bergrede sê Christus: "salig
die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe." Paulus noem die
gelowiges erfgename van die wêreld. In geloof is julle erfgename van die wêreld.
Probeer om dit in te dink. Die wêreld waarop jy leef en werk is jou erfenis,
daar het jy reg op.

Dit lyk nog nie veel daarop nie. Die erfenis word nog bestry. Die erfgename
word juis deur die ongelowiges verdring. In Openb 12 heet dit dat die kerk na
die woestyn moet vlug. Die gemeente verkeer in die woestyn. Julle hoef dan ook
nie vreemd daarvan op te kyk wanneer dit in materiële sin nie baie voorspoedig
met julle gaan nie of wanneer julle regte vertrap word nie.. As die woestyn iets
aandui, dan wel dit: dat nie alles, wat die lewe aangenaam en maklik maak, ter
beskikking staan nie. Om Christus konsekwent te volg is nie goedkoop nie. Dit
kan jou baie kos. Dit kan wolke laat saamtrek. Maar geen nood, sê die Here. Jy
is op pad na die ewige erfenis. Via die woestyn kom jy na die hemelse Kanaän.
En die woestyn kan nooit so word dat jy ten onder gaan nie. Ek is mos daar, sê
die Here. Ek het jou in die woestyn ’n plek berei, sodat jy daar onderhou sou
word solank dit nodig is, ’n tyd en tye en ’n halwe tyd.

Gemeente, laat dan die onderhouding van jul lewe rustig aan die Here oor.
Vertrou op die Here, verlustig jou in Hom. Laat jou weg aan Hom oor. Doen –
uit dankbaarheid - wat goed is, nie uit krampagtigheid nie. En Hy sal dit
uitvoer. Hy sal jou dra na die ewige erfenis. Hy sal alles tot ’n goeie einde
bring. Dit sal reg kom. Jou reg sal in stralende ligglans deurbreek. Wannneer
jou erfdeel uitgereik sal word.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)