Versoening met ons Verbondsgod is slegs moontlik deur voldoening.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-09-22
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 5
Preek Inhoud: 

Sondag 5

Ds C Kleyn - Sondag 22 September 2002

Lees:

Psalm 130; Hebreërs 10:1-18; Sondag 5.
Sing: Ps 75:1,2; Ps 75:4,6; Ps 130:2,4; Ps 116:1-4; Ps 116:9,10.

Tema: Versoening met ons Verbondsgod is slegs moontlik deur
voldoening.

  1. Ons moet betaal: dis die reg van God se liefde;
  2. Ons kan nie betaal nie: dis die diepte van ons onmag; en
  3. God self sorg vir betaling: dis die wonder van God se genade.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Waarom al die vrae van sondag 5? Dit klink almal so logies. Dit lyk asof die
mens met sy verstandelike redenasies hier die botoon voer. Asof ons met ons
logika die pad van verlossing wil uitdink en uitwerk. Ja, asof die mens via sy
menslike logika wel by die Christus sal moet uitkom. Alles volg tog logies op
mekaar?

Is dit waarom sondag 5 al die vrae stel en beantwoord? Nee. Sondag 5 is ’n
belydenis, nie ’n wysgerige betoog nie. Dis ons belydenis, die belydenis van
gelowiges. Die vrae word gestel deur mense wat reeds in Sondag 1 bely het: my
enigste troos is dat ek met liggaam en siel aan my getroue Verlosser Jesus
Christus behoort. Ons kom dus nie via ons menslike redenasie by Christus uit
nie. Ons gaan juis van Christus uit ook in sondag 5.

Maar waarom dan al die vrae? Uitgaande van die Christus wil ons nagaan watter
pad God in sy liefde gevolg het. Nie om eie nuuskierigheid of logika te bevredig
nie, maar om God in sy werke te loof. Die kat diep uit die Skrifte uit die
pragtige lyne en struktuur van God se verlossingswerk. Ons sien dat God in sy
verlossingswerk nie willekeurig gehandel het nie. Ook nie hardvogtig en
liefdeloos nie. Nee, juis die liefde van God het hom daartoe gebring om hierdie
ongekende pad te volg. So skitter die majesteit van ons onveranderlike, getroue
Verbondsgod.

Geliefdes, laat die vrae en antwoorde van sondag 5 u tog bewaar vir goedkoop
godsdienstigheid en vir ’n humanistiese uitholling van die evangelie. Vir baie
mense het die verlossing inderdaad ’n goedkoop saak geword. Hoeveel mense is
daar nie wat geen erns maak met wat die skrif oor die pad en die prys van die
verlossing sê nie. Hulle wil daarvan nie weet nie. Laat die teoloë dit maar
uitsoek en uitveg, word soms gesê. Onder die teoloë hoor ’n mens mos die
vreemdste en mees teenstrydige gedagtes daaroor. In hul verwarring en
onverskilligheid het baie mense afgeleer om eenvoudig die Skrif te lees en na te
spreek. Die verlosser het goedkoop geword. Mense sien nie meer hoe wonderbaarlik
God se verlossingswerk is nie. Hulle besef ook nie meer die majesteit van ons
troue Verbondsgod nie. Laat ons daarom vol verwondering en aanbidding die
ongekende pad van ons Skepper en Verlosser volg.

Ek verkondig vir u: versoening met ons Verbondsgod is slegs moontlik deur
voldoening

  1. Ons moet betaal: dis die reg van God se liefde
  2. Ons kan nie betaal nie: dis die diepte van ons onmag
  3. God self sorg vir betaling: dis die wonder van God se genade

Die antwoord van die eerste vraag lyk baie teleurstellend. Daar is gevra hoe
ons van die straf bevry en weer in genade aangeneem kan word. In die antwoord
word ons net verwys na God se geregtigheid. "God wil dat aan sy
geregtigheid voldoen word. Daarom moet ons óf deur onsself óf deur ’n ander
ten volle betaal." Wat ook al mag gebeur, ons moet betaal.

Is dit nie hard en liefdeloos nie? Baie mense wil ons dit laat glo. Hulle wil
net hoor van ’n liewe Here. God is liefde, is die slagspreuk. ’n God wat een
en al liefde is kan tog nie toornig wees en straf nie?

Maar gemeente, volle betaling het juis alles te make met God se liefde. Dit
is die reg van God se liefde. Moenie negatief oor die voldoening of betaling
dink nie. Reeds in die paradys, dus voor die sondeval, was daar sprake van
betaling. Voldoening wil mos in die verbond sê dat die partye van die verbond
oor en weer vir mekaar gee waar die ander reg op het. Soos in ’n huwelik. Jy
gee oor en weer liefde vir mekaar. Voldoening is dus dat jy die afsprake nakom,
dat jy die ander gee wat hom of haar toekom. Dat jy mekaar bly maak, tevrede
stel. In die verbond is dit ’n kwessie van liefde en wederliefde. Dus niks
negatief nie. Dis geen kwessie van dwang nie. In die verbond betaal God aan ons
wat ons volgens sy beloftes toekom en ons moet dan aan God gee wat Hom toekom.
Dit is die liefdediens waartoe beide partye van die verbond hulleself in liefde
verbind het. God gee Homself in liefde. Hy ontsluit sy hart. Ons mag op die
liefdewoord pleit, ons mag die liefde ook eis. Maar van sy kant vra God vanself
ook van ons die wederliefde. Ware liefde vra om wederliefde.

Die betaling in die verbond is dus niks negatiefs nie. Dit is ’n positiewe,
heerlike saak. Beide partye kom hul liefdesverpligtinge na. God eis dat ons
betaal. Na die sondeval het die reg van God se liefde dieselfde gebly. Alleen
die eis het vir ons baie swaarder geword. Ons het mos skuld gemaak. Die skuld
moet nou ook betaal word. Daarom is dit na die sondeval nie voldoende dat ons
slegs die wederliefde vir God wys nie, ons moet ook die skuld vereffen deur die
verdiende straf te dra. Ons het dinge stukkend gemaak. Ons moet die geskonde reg
van God se liefde dan ook herstel, dit ten volle betaal.

Gemeente, moenie dink dat julle sommer so verlos kan word, dat God wat liefde
is alles vanself wel wil vergewe nie. Al die praatjies oor genade sonder
rekening te hou met die geskonde reg is onsinnig. God is die gekrenkte party. Ek
het sy liefde is versmaad. As ek nou sy liefde geweld aangedoen het, sou God dan
ook self daaraan geweld moet doen, deur genade voor reg te laat geld? Ons God
wat met ’n ewige liefde liefhet, is gelukkig anders. Hy bly trou aan sy
woorde. Die verlossing kan dan ook nie in stryd met sy reg wees nie. Sion sal
deur geregtigheid verlos word, sê die Here. Indien God die skuldige sommer so
regverdig sou verklaar, deur die skuld deur die vingers te sien, dan sou God nie
meer God wees nie, dan sou Hy eerder soos ’n sondige, ontroue mensekind wees.
Nee, die versoening kan slegs langs die pad van voldoening plaasvind. As jy weer
in die verbondsgemeenskap met God wil verkeer, dan sal jy eers presies op tafel
moet lê wat God se liefde eis. Jy sal die skuld moet vereffen en die
wederliefde gee.

Hier staan ons, broeders en susters, voor die diepte van ons onmag. Ons kan
mos nie self betaal nie. Ja, dis makliker gesê as dat dit deur ons werklik
beleef word. Die antwoord van die Kat klink so bekend en vanselfsprekend: Kan
ons deur onsself betaal? Nee; glad nie; ons maak juis ons skuld elke dag nog
groter. Was dit maar so vanselfsprekend in ons lewe. Ons natuurlike begeerte is
om elkeen vir onsself te betaal. Hoe maklik val ons nie in die slaggat om te
dink dat ons self aan ons heil kan bydra. Na ’n droewige mislukking, besluit
ons om ons bes te doen om God se guns weer te wen, asof ek deur my
godsdienstigheid, my goeie werke, weer in genade aangeneem kan word. Hoe maklik
vertrou ons nie op onsself, op ons insette en prestasies nie. Ons kan soms so
selfversekerd oorkom dat dit lyk asof ons altyd alles reg doen, asof Christus
nie nodig is nie, asof ons vir onsself wel kan betaal. Kyk maar hoe ek is en wat
ek gedoen het! Tegelykertyd kan ons so veroordelend en hard vir ander wees. Om
ander te veroordeel is maklik. Maar laat ek na myself kyk in die lig van God se
woord. En God se oordeel oor myself hoor. Bely ons nie volgens die Skrif dat ons
glad nie deur onsself kan betaal nie. Ons maak juis ons skuld elke dag nog
groter. Ek kan dus nie self betaal nie, maar ek maak my skuld elke dag nog
groter. Is dat werklikheid vir u, vir jou? U glo tog wat u bely?

Gemeente, die geskiedenis van die mensheid word gekenmerk deur die pogings om
die probleem van die sonde self op te los. Die Ou Testamentiese volk van God het
herhaaldelik vertrou op die tempel, op die offerandes, op hul rituele, op hul
afstamming pleks van op God. Die Fariseërs het ’n strenge help jou self
program vir die verlossing opgestel. Saulus het gedink dat Hy besig was om die
guns van God te wen deur met volle ywer die christene te vervolg. Later het hy
deur God se genade geleer om sy eie geregtigheid in te ruil vir die geregtigheid
van God in Christus Jesus.

In die dae van die Heidelbergse Kat moes die Hervormers protesteer teen die
kerk se misplaaste vertroue op goeie werke as ’n middel tot verlossing. In ons
tyd is daar die evangelie van self verbetering. Ons word voorgehou dat positief
denke ons sonde en swakheid kan oorwin. Daar is tegnieke wat ons kan leer, wat
ons vrede en geluk sou bring. Maar, broeders en susters, seuns en dogters elke
vorm van doen dit self godsdiens sal misluk. Ons is van nature geestelik dood.
Kan ’n dooie homself lewend maak? Al die pogings wat ons self uitgedink het om
vir ons sondes te voldoen, kom nooit van die grond nie. Indien God ons aan
onsself sou oorlaat, sou ons elke dag nog meer skuld bly opstapel.

So keer die vraag terug: Kan ons deur onsself betaal? Kan ons die skuld wat
God se reg vereis self betaal? Hulle wat weier om hul sondes ernstig te neem
dink: Ja, natuurlik, ons kan bes self betaal. Ons is mos reg. Maar die ware
gelowige bely: Nee, glad nie; ons maak juis ons skuld elke dag nog groter. Ons
kan ons eie rekening nie betaal nie. Ons kan nie onsself inkoop in die koninkryk
van God nie. Enige goeie dinge wat ek doen, is uiteindelik die werk van God
self. Sonder sy genade sou ek nooit goeie werke kon gedoen het nie. En hoe
dikwels bederf ek nie die goeie dinge wat God werk nie.

Gemeente, die digter van Ps 130 ken die diepte van sy eie onmag. Die Psalm is
’n boetpsalm, ’n psalm van verootmoediging. Die Psalmis roep vanuit die
dieptes. "Dieptes," dit is al die plekke waar die mens wegsink, al die
situasies wat ons nie kan hanteer nie, al die plekke waar ons geen vaste grond
onder ons voete kan vind nie. Dis soos die digter van Ps 69 uitroep:
"Verlos my, o God, want die waters het tot by die siel gekom. Ek sink in
grondelose modder waar geen staanplek is nie….Red my uit die modder en laat my
nie sink nie; laat my gered word van my haters en uit waterdieptes. Laat die
waterstroom nie oor my loop en die diepte my nie verslind nie, en laat die put
sy mond bo my nie toesluit nie!" Met ander woorde: die digter voel homself
hopeloos verlore; hy sink steeds dieper weg in die ellende. Dis asof hy in
dryfsand tereggekom het. Indien die Here nie ingryp en hom uit die ellende
uittrek nie, dan is hy verlore. Ps 40 beskryf so ’n redding deur die Here op
’n beeldende wyse: "Ek het die HERE lank verwag, en Hy het Hom na my toe
neergebuig en my hulpgeroep gehoor; en Hy het my uit die kuil van vernietiging,
uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ’n rots gestel; hy het my gange
vasgemaak" (Ps 40:2,3).

So is daar aan die een kant die dieptes waarin ’n mens wegsink. Aan die
ander kant is daar ’n rots waarop ’n mens vasstaan. God gee weer vaste grond
onder jou voete.

Die digter van Ps 130 roep vanuit die gebrokenheid van sy bestaan tot die
Here. Wat is dan die ergste vir die Psalmis? Nie die gebrokenheid van sy lewe
nie, die siekte, die pyn en verdriet nie, maar sy sondigheid, sy ongeregtighede.
In die gebrokenheid sien hy die hand van die Here wat hom in die diepte bring
vanweë die menslike skuld. Daarom roep hy uit: "As U HERE, die
ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?" Vir die Psalmis
is die diepste diepte die diepte van sonde en skuld.

Daniel het ook uit die dieptes van die skuld gebid. Hoe diep het God se volk
toe nie gesink nie? Bodemloos diep was Jerusalem se val. En waaraan was dit
alles te wyte? Waaraan anders as aan Israel se ongeregtighede? Hulle het in ’n
moeras van ongeregtighede weggesink. God se vloek het oor hulle gekom. Daarom
bely Daniel: "Aan U, Here, kom die geregtigheid toe, maar aan ons beskaming
van die aangesig…omdat ons teen U gesondig het" (Dan 9:7,8). "Omdat
ons teen u gesondig het", ja wie dit bely, weet dat hy diep gesink het, die
weet ook dat as die Here die ongeregtigheid in gedagtenis hou, dit afgelope is,
dan sluit die put van verderf bo elkeen se kop, dan sink alles en elkeen weg in
die poel van verderf.

So hoor ons die digter van Ps 130 sê: As U, HERE, die ongeregtighede in
gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan? Hier speel die digter nie slegs met die
gedagte nie. Hier erken hy die majesteit van die verbondsgod. As U, troue God,
die ongeregtighede in gedagtenis hou, dan is dit met elkeen van ons gedaan. U is
die God van lewe en dood. Wee my as u my sondes teen my bly hou. Die psalmis
besef sy sondigheid en skuld, dit is dieptes vir hom. Hy staan voor die afgrond
van sy eie onmag.

Hoe is dit met jou, broeder of suster? Is jy nog ten volle bewus van die
diepte van jou skuld? Besef jy nog jou totale onmag om jouself uit die put te
red? Deur die gebrokenheid van die lewe bly God my daaraan herinner. Of hoor ek
God se stem nie meer daarin nie? Of het ek ongevoelig geword en oppervlakkig? Of
het ek so gewoond aan die sonde geraak dat ek my skuld en onmag nie eers meer
sien nie. Laat ek ’n voorbeeld noem. In die verlede sou ’n troue kerkganger
nie daaraan gedink het om te gaan fliek nie. As jy heimlik dit tog gedoen het,
het jy jouself skuldig en ongelukkig daaroor gevoel. Vandag sien ons dat ouers
en kinders soms of selfs reëlmatig by die huis na God en mens onterende films
kyk, wat baie erger is as wat toe op die fliek vertoon is. Dit gaan my nou nie
oor die vraag of dit goed is om na ’n fliek te gaan of nie. Dit sal ’n groot
verskil maak watter fliek ons oor praat en waarom ons daarna kyk. Dit gaan my
nou oor die skuld besef. Is daar vandag nog die gevoel van skuld en
ongelukkigheid wanneer ons na dinge kyk wat God en sy skepsel onteer? Of het ons
afgestomp geraak? Laat God deur sy woorde en werke julle tog bewus maak van die
diepte van jul skuld en onmag. Kyk maar na die groot wonder van Christus se
verlossingswerk. Dit moet ’n mens wel deurdring van sy eie skuld en onmag.

So kom ons by die laaste gedagte van die preek: God self sorg vir betaling-
dis die wonder van God se genade.

Ons moet betaal, dit is die reg van God se liefde. Maar ons kan nie: dis die
diepte van ons onmag.

Maar kan enige ander skepsel dan nie vir ons betaal nie. Die pad word ook
afgesny. Die troue verbondsgod kan nie ’n ander skepsel straf vir die skuld
wat die mens gemaak het nie. Die mens is as God se onderkoning oor alle skepsels
gestel. Jy gaan tog nie ’n onderdaan straf vir wat die koning verkeerd gedoen
het nie? Jy gaan tog nie ’n kneg straf vir wat sy baas verkeerd gedoen het
nie? Dit sou in stryd met God se reg en waarheid wees. Die mens het gesondig,
die mens moet betaal.

Bowendien bly elk ander skepsel tog maar ’n skepsel. En geen skepsel, selfs
nie die getroue engele nie, is in staat om die las van die ewige toorn van God
teen die sonde te dra en ander skepsels daarvan te verlos nie. Ja, ’n skepsel
kan wel die toorn ondergaan, maar om te betaal moet die skepsel dit ook
volbring. En dit kan ’n skepsel nie. Geen blote skepsel kan die ewige toorn
wegdra nie.

Maar waarom het God dan in die Ou Testament al die diereoffers voorgeskryf?
Dink maar aan die offers op die groot versoendag wat vir die volk versoening
moes bring. Al die offers kon nie werklik versoen nie. Hulle het slegs herinner
aan die sonde en het heengewys na die offer van Christus, die Lam van God wat
die sonde van die wêreld kom wegneem het.

Alle wee van onder af is dus uitgesluit. Verlossing kan slegs van bo kom, van
God self. Die Psalmis het reeds daarvan gesing: "Wag op die HERE, o Israel,
want by die HERE is die goedertierenheid, en by Hom is daar veel verlossing; en
Hy self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede." Ja, Hy self sal Israel
verlos van al sy ongeregtighede. Hier bely die Ou Testamentiese gelowige reeds
op ’n pragtige wyse dat die verlossing uitsluitend die werk van die Here self
is. Die Here self sal dit bewerk. Met die stellige oortuiging eindig die
psalmis. Hy plaas ’n uitroepteken agter God se beloftes. God het sy woord van
verlossing laat hoor. Daarom: "ek wag op die Here en ek hoop op sy
woord." God sal sy woord waarmaak: Daarom: Hy self sal sy volk verlos van
al hul sondes.

Gemeente, dit het in Jesus Christus, God se eniggebore Suen, volle
werklikheid geword. Waar die mense offers onmoontlik die sonde kon wegneem, daar
het God sy Seun gestuur en daar het die Seun homself aangebied: "Kyk, Ek
kom – in die boekrol is dit van My geskrywe – om u wil te doen, o God."
Hy het ons vlees en bloed aangeneem, werklik mens geword, een van ons.

Sion sal deur reg verlos word. Die mens moet betaal. Kyk, hier is die mens
wat kan betaal. God en mens in een persoon. God wat in die vlees verskyn het.
Deur die wet van die plaasbekleding kan hy vir jou en my betaal. Een vir almal.
Soos ook voor die val Adam as een vir almal opgetree het. So tree nou ook
Christus as die tweede Adam op as een vir almal wat aan Hom behoort. So is
Christus se betaling my betaling. Hy het aan die reg van God se liefde voldaan.
Hy het volledig betaal. As ons middelaar en verlosser. Wat ’n wonder van
genade. Wie sou nie verwonderd wees nie? Aanbid jul getroue verbondsgod. Eer Hom
in sy wonderlike weg van verlossing, deur reg. Die ongekende het waarheid
geword. Die onmoontlike, moontlik. Nie van onder af nie, maar van bo, van God
self. Soli Deo gloria, aan God alleen die eer.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)