Die noodsaak van die belydenis van die drie-enige God.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-10-13
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 8
Preek Inhoud: 

Sondag 8

Ds C Kleyn - Sondag 13 Oktober 2002

Lees:

Lukas 10:22-42; Johannes 17:20-26; Sondag 8.
Sing: Ps 135:1,2; Ps 2:4,6; SB 27; SB 24:1,7.

Tema: Die noodsaak van die belydenis van die drie-enige God.

Die drie-eenheid moet bely word

  1. Tot die eer van God; en
  2. Tot ons eie troos.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

’n Groot deel van ons bevolking noem hulleself christene. Hulle sê dus dat hulle in God glo. Wanneer egter gevra word: wat glo jy dan, dan kry jy verskillende antwoorde. Die een bely wat die ander juis ontken, oftewel die een verloën wat die ander juis as waarheid vashou. Dis verstaanbaar dat baie mense verwar is deur sulke verskillende en teenstrydige antwoorde. Wie moet hulle glo?

Gemeente, hier kom die vraag van die vorige sondag te pas. Wat moet ’n christen glo? Wat mense sê dat hulle glo is nie belangrik nie, maar wat ek moet glo. Die ‘moet’ wys daarop dat dit nie aan my oorgelaat word om te bepaal wat ek wil glo nie, maar dat God self dit bepaal. Wanneer ek sê dat ek in God glo, dan moet ek eers luister na wat God self sê dat ek moet glo. Die kategismus gee die skriftuurlike antwoord: alles wat in die evangelie aan ons beloof word.

Die ware geloof laat hom nie lei deur eie gevoelens of gedagtes nie. Ons sien dit dikwels gebeur. Redenasies soos: Ek kan nie voorstel dat God wat liefde is, dit of dat sou verbied nie, word gebruik om duidelike norme van die Skrif aan die kant te skuif. Die ware geloof gaan nie oor wat ek wel of nie kan voorstel nie. Die ware geloof het alles te doen moet wat God vir ons bekendgemaak het. Die ware geloof aanvaar die Woord van God. Ek moet dus glo alles wat God in die evangelie aan ons beloof het.

Wat belowe God dan aan ons? In kort: God belowe Homself. Die Woord, die Bybel, is God se selfopenbaring. God maak Homself bekend. Hy open sy hart. Hy gee sy hart. Hoe gee God dan Homself? Hy gee Homself as die drie-enige God. As God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Dit is kortliks waaroor die hele Bybel gaan. God bied homself aan as Vader, Seun en Heilige Gees. Dit hoef ons dus nie te verbaas dat die apostoliese geloofsbelydenis juis ’n belydenis van die drie-enige God is nie. Dis mos die hart van die evangelie. Dink aan die doop wat ons vanoggend bedien het in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Wat belowe God in die verbond aan jou, wanneer Hy jou en jou kinders laat doop? Hy belowe Homself, die drie-enige.

God bied Homself in sy Woord aan as die een God wat in drie Persone onderskeie is. Dis hoe Hy daarom ook na ons en ons kinders toekom in die verbond, met die een woord waarmee Hy ons by die doopvont aangespreek het.

Ja, broeders en susters, die leer van die drie-eenheid bly ’n moeilike saak vir ons mensekinders. Ons kan dit nie goed verstaan nie: een God en tog drie persone. Die woord waarmee ons probeer om dit omskryf, die "drie-eenheid," staan nie in die Bybel nie. Waarom dan soveel aandag daaraan? Sou dit nie verstandiger wees om nie daaroor te praat nie? Nee, geliefdes, die kerk mag hieroor nie stilbly nie. Die eer van God is in geding en julle eie saligheid.

Ek verkondig vir julle die noodsaak van die belydenis van die drie-enige God.

Die drie-eenheid moet bely word

  1. tot die eer van God
  2. tot ons eie troos.

Hoe sou jy dit ervaar as iemand wat jou goed ken maak asof hy jou nie ken nie. bv, ’n Bekende broer of suster van die gemeente behandel jou asof jy ’n totale vreemde is. Daar is geen enkele herkenning nie. Jy sou goed beledig wees. Gestel dat jy aansoek doen vir werk waarvoor jy die nodige kwalifikasies het. Jy skryf ’n sollisitasie brief waarin jy verwys na die vereiste diplomas, wat jy daarby insluit. Gestel dat jy die werk nie kry nie omdat jy volgens hulle die vereiste kwalifikasies nie het nie. Dis Bespotlik! Hulle het mos kopieë van die diplomas ontvang en het die tog kan lees? In jou aansoek het jy uitdruklik daarna verwys. Hoe kan hulle nou maak asof hulle die dokumente nie het nie. Hier word informasie wat jy oor jouself gegee het, genegeer, selfs ontken. Wat ’n belediging!

Dis, broeders en susters, slegs ’n swak vergelyking met God, wat uitdruklik homself in sy woord bekendgemaak het. Hy het homself steeds duideliker bekendgemaak as die drie-enige God. Wat ’n belediging om dan die informasie wat Hy oor Homself gegee het, te negeer of te ontken. Ons God wil geëer word soos Hy is, soos Hy homself bekend gemaak het. Wat hy duidelik oor Homself gesê het, mag nie behandel word asof dit nog verborge en onbekend is nie.

Dit beteken ook dat ons versigtig en beskeie moet wees wanneer ons oor God as die drie-enige praat. Ons moet nie meer wil sê as wat Hy bekendgemaak het nie. Maar ook nie minder nie. Dit sou ’n belediging wees.

Ek kan dus die feit dat God een is en tog uit drie Persone bestaan nie negeer nie. Die Bybel praat nadruklik oor die een God. Die Here onse God is ’n enige HERE. Teenoor die baie afgode, lees ons keer op keer van die een God. Tegelykertyd lees ons van drie Persone. Reeds in die begin van die Bybel praat God oor Homself in die meervoud. "En God het gesê: Laat ons mense maak na ons beeld" (Gen 1:26). Hoeveel persone daar is, word nog nie genoem nie. Maar in die voortgang van die geskiedenis maak God meer oor Homself bekend as die drie-enige God. Meer en meer vir sover ons dit mag weet, moet weet en kan hanteer.

Reeds in die Ou Testament hoor ons van die 2de Persoon, die Seun. By verskillende geleenthede word Hy die Engel van die Here genoem, wat deur God na die mense gestuur is. Dit word duidelik dat hierdie Engel van die Here ook God self is. Dink aan God se verskyning aan Moses uit die brandende doringbos. Ons lees daar van die Engel van die Here wat aan Moses in ’n vuurvlam uit ’n doringbos verskyn het. Twee verse later lees ons: Toe die Here sien dat Moses nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos. Ons sien dieselfde by Israel se uittog uit Egipte en hul reis deur die woestyn. Een oomblik lees ons van die Engel van die Here wat uitgaan voor Israel uit. ’n Ander oomblik lees ons dat die Here self sy volk lei. Die Engel van die Here blyk God te wees.

Ons lees in die Ou Testament ook van die derde Persoon, die Heilige Gees. Om ’n paar voorbeelde te noem. In Gen 1:2 lees ons dat die Gees van God by die skepping op die waters gesweef het. Ons lees van die lewendmakende Gees ivm die skepping in Ps 104:30: "U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut." In die reeks preke oor 1 Sam het ons gehoor van die Gees van die Here wat eers oor Saul en later oor Dawid vaardig geword het. Dis waar ons kan dit nie volledig verstaan nie. Wanneer God homself aan ons bekend maak, is daar baie wat ons verstand te bowe gaan. Ons het ook niks waarmee ons Hom kan vergelyk nie, want in die skepping is daar niks vergelykbaar met Hom nie. In die Bybel praat God altyd pedagogies. Soos in ’n leerproses maak Hy Homself steeds meer bekend. Hy vertel ons soveel as wat ons nodig het om te weet om in Hom te kan glo en Hom te kan aanbid.

In die NT is God se selfopenbaring weer duideliker as in die OT. Nadat Jesus in die Jordaan gedoop is, daal die Gees van God soos ’n duif op Jesus neer en ons hoor die stem van die Vader uit die hemel: "Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het." By die geleentheid is dus sprake van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Deur Christus mag ons God ken: Vader, Seun en Heilige Gees. Dink aan wat hy sê oor sy verhouding en eenheid met die Vader en oor die Heilige Gees wat Hy as Trooster gaan stuur. So ontvang ons ook die driedelige doopsformule: "Ek doop jou in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees." En die driedelige seën: "die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal."

Broeders en susters, dis duidelik, wanneer jy eenvoudig lees wat in die Bybel staan, dan kan jy hierdie waarheid nie ontken nie. Dis hoe God ons God is. Sy wese is so ryk dat dit bestaan uit drie persone. Volgens die Skrifte moet ons beide die eenheid en die drieheid bely. Daar is een goddelike wese. Alle drie persone is ewig in dieselfde wese. Ons kan dit nie bevat nie, maar die Vader is volkome in die Seun en die Seun is volkome in die Vader. Soos Jesus gesê het: Ek is in my Vader en my Vader is in My. Die Vader, die Seun en die Heilige Gees deurdring mekaar so te sê. Hulle is in so ’n mate alles in almal vir mekaar dat die drie Persone slegs een God is.

Maar, geliefdes, laat ons tegelyk oppas dat ons nie die onderskeid tussen die drie Persone vergeet nie. Van ewigheid is hulle ook onderskeie. Elke persoon het iets wat hom van die ander onderskei. Die verskillende name wys reeds dat die een nie die ander is nie. Net die Vader is vader. Net die Seun is Seun en net die Heilige Gees gaan uit van die Vader en die Seun as Gees. In hul onderlinge omgang en kommunikasie het elkeen sy spesifieke plek. Ook in hul omgang met die wêreld tree die drie persone op ’n onderskeie manier op. Die Vader het nie ons vlees en bloed aangeneem nie, ook nie die Heilige Gees nie, net die Seun.

Wel, die Vader tree op die voorgrond by ons skepping, die Seun by ons verlossing en die Heilige Gees by ons heiligmaking. Maar ook hier geld dat die een nooit sonder die ander iets doen nie. Ja, geliefdes, dis hoe God Homself bekend gemaak het. Ons kan dit nie begryp nie. Dit gaan ons verstand te bowe. Dit kom aan op geloof, dat ek in vertroue aanvaar wat God oor Homself sê. Daarom moet ek die drie-eenheid bely tot eer van God. God wil aanbid word soos Hy Homself bekend gemaak het.

Maar broeders en susters, ons kan wel praat oor hoe die leer God self raak, maar maak dit wel saak vir ons? Hoe raak dit ons? Hierdie leer beteken alles vir u en my. Ons saligheid hang daarvan af. Daarom wil ons in die tweede plek oordink dat die drie-eenheid bely moet word tot ons troos.

Gemeente, die leer van die drie-eenheid wys julle jul groot rykdom. Jy het so ’n God: Vader, Seun en Heilige Gees. Omdat daar drie persone in God is, is God nooit alleen nie en besit Hy in Homself ’n volheid van verhoudings en kontakte. Die drie Persone het mekaar. Daarmee is hulle volkome gelukkig. Hulle het niemand anders nodig nie. Tog wil hierdie selfgenoegsame God jou God wees. Wat ’n rykdom. Ook al het God niemand nodig nie, laat Hy ons geniet van sy volle aandag en liefde.

Dit beteken baie vir jou. Jy ontvang ewige perspektiewe. Geliefdes, om dit beter in beeld te kry, is dit goed om dit te vergelyk met die armoede van die ander godsdienste van die wêreld. Die ortodokse Jode sê dat hulle in dieselfde God as ons glo. Is dit waar? Hoe is die God van die Judaïsme? Ons weet dat die Judaïsme nog steeds Jesus Christus as die Seun van God verwerp. Feitelik het hulle ’n god wat net in een persoon bestaan. Hy kan nooit dieselfde wees as die Here ons God wat in drie Persone bestaan nie. Deur Christus Jesus te verwerp, verwerp die Judaïsme die drie-enige God. Dis opvallend dat hul belydenis nie verder kom as ’n belydenis van die Skepper. Hulle verwerp wat God in hierdie laaste dae tot ons gespreek het deur die Seun. Daarom kan hulle die OT ook nie lees soos dit gelees behoort te word nie. Paulus skryf daaroor in 2 Kor 3: "Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ’n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem."

Die Jode wat hulle nie tot die Here Jesus bekeer het nie, dink dat hulle die God van die OT dien. Hulle ken egter nie die God van die Bybel nie. Net deur Christus kan God as die drie-enige God geken word.

Is dit dan so verskriklik dat hulle slegs die een Persoon van die goddelike wese sien? Ja, geliefdes, dit is verskriklik. "Want elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie" skryf Joh in sy eerste brief. Alleen as ek die Seun bely, het ek ook die Vader. Wanneer ek die Seun loën, dan loop ek ook die Vader mis. Wat oorbly is dan ’n afgod.

Bowendien, hoe arm is die diens aan die God van die Jode. Hy is net ’n Skepper. Maar wat van ons verlossing en ons heiligmaking? Daarvoor kan jy dan nie vertrou op die werk van God die Seun en God die Heilige Gees nie. Kan jy dan ooit seker van jou verlossing wees? Nee. Dis troosteloos! Jy moet self sorg vir jou verlossing, deur jou eie inspanning. Jou verlossing en jou heiligmaking is dan nie gebaseer op die werk van die drie-enige God nie. Dit is dan gebaseer op jouself. Wat ’n armoede! Wat ’n onsekerheid! Wat ’n ellende! Hoe troosteloos!

Gemeente, dieselfde kan gesê word van die ander wêreld godsdienste. Alles kom neer op selfverlossing. Neem die god van die Islam, van die Moslems. Sommige teoloë beweer dat Allah, die god van die Koran, dieselfde is as die god van die Bybel. Die Moslems sou dieselfde god as ons dien wanneer hulle Allah aanroep. Maar, geliefdes, dit is ’n blatante leuen. Allah is nie die God van die Bybel nie. Want Allah is nie die drie-enige God nie. Allah is nie die God van die skepping, verlossing en heiligmaking nie. Die Koran benadruk Allah se skeppende krag. Maar die verlossing? Dit lê op die skouers van die mens. Ja, die Koran praat wel van Jesus, maar in die Koran is hy slegs ’n mens, geen God nie. Hy is slegs ’n profeet, ’n voorloper van Mohammed, geen verlosser nie.

Wat ’n verskriklike armoede in die Islam. Jy kan nooit seker van jou verlossing wees nie. Jy ontvang ’n boodskap van vrees en bewe. Jy moet sorg dat jy die eise van Allah vervul. En jy moet maar wag om te sien of Allah tevrede is met wat jy gedoen het.

Hoe ryk, broeders en susters, is julle dan met julle drie-enige God. In die drie Persone word nie slegs jou skepping nie, maar ook jou verlossing en heiligmaking gewaarborg. In Hom ontvang ek die ware en volle lewe. Ek ontvang ewige perspektiewe, ewige sekerhede. Die God van my skepping is ook die God van my verlossing en die God van my heiligmaking. Die drie-enige God laat my nie aan myself oor sodat ek dit self moet uitsoek nie. Nee, Hy soek die redding van verlore sondaars. En hy bewerk die verlossing. In Hom is alles gereed en seker.

Wat ’n troos ontvang ek van die skriftuurlike leer. Ek staan nie voor ’n bose, eisende God wat my wanhopig maak nie. Ek mag gemeenskap met die God van skepping en verlossing ontvang. Die volmaakte harmonie en eenheid tussen die drie Persone van die drie-enige God gee my rus en vrede. Wanneer God die Seun my, ’n verlore sondaar, soek, dan weet ek dat God die Vader my ook soek. Wanneer die Heilige Gees die geloof in my werk, dan weet ek dat God die Vader ook daarmee gelukkig is.

Wanneer ek deur die geloof met die Seun verenig is, dan is dit onmoontlik dat God die Vader my sou afwys. God die Vader kan sy hart nie toesluit vir God die Seun en vir God die Heilige Gees nie. Nee, in volmaakte liefde en trou het hulle alle drie hulleself gebind aan die plan van verlossing. God luister vir God. Wanneer die Seun of die Gees vir my pleit, dan weet ek dat na die pleidooi geluister word. Pragtig is die woorde van Paulus in Rom 8:26,27: "En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die hart deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree." Ons saak word voortdurend voor die Vader gebring deur die Gees. En die Vader kan sy Gees nie weier nie. Daarom kan ons seker van ons saak wees.

Dikwels wil ons graag eers iets van God sien of voel. Wel, jy glo in die drie-enige God? Wanneer jy die Seun gesien het, het jy die Vader gesien. God se liefde is sigbaar en tasbaar in die Seun. Soos die Seun is, so is die Vader. Hy bewys genade aan sondaars. Die Vader tree nie anders op as die Seun nie, ook nie anders as die Gees nie. Wanneer sy Heilige Gees met die evangelie na my toekom, soos dit op hierdie oomblik gebeur, dan kom God self na my toe. Hy is besig om sy hart vir my te ontsluit.

Broeders en susters, wat ’n geweldige rykdom besit julle in die openbaring van die drie-enige God. Die leer is geen vae saak wat ver van jou lewe verwyder is nie. Dis iets wat jou raak elke oomblik van jou lewe. Jou verlossing hang daarvan af. Loof en prys die Here God. Dis hoe Hy is: Vader, Seun en Heilige Gees. Drie Persone in een goddelike wese. In Hom ontvang ek alles wat ek vir my verlossing nodig het. Sou ek sy wonderlike naam dan nie verheerlik nie.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)