Dawid roep die oorwinning uit oor Goliat en die Filistyne.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-10-13
Teks: 
I Samuel 17
Preek Inhoud: 

1 Samuel 17:45-47

Ds C Kleyn - Sondag 13 Oktober 2002

Lees:

1 Samuel 17.
Sing: Ps 116:1,2; Ps 116:7,10; Ps 100:2,4; Ps 46:1; Ps 46:4,6; Ps 91:1.

Tema: Dawid roep die oorwinning uit oor Goliat en die Filistyne.

  1. Die oorwinning word in die krag van die Here, die almagtige, behaal; en
  2. Die oorwinning is ’n les vir Israel en die nasies.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Is jy ooit bang om op te kom vir die Here jou God? Jy verkeer miskien in die
situasie dat jy jou maaltye saam met vriende en kollegas deel, wat nie die Here
dien nie. Jy is daaraan gewoond om voor jou maaltye te bid. Hulle doen dit nie.
Wat moet jy dan maak? Sal jy vra vir stilte sodat jy God die erkenning kan gee
wat Hom toekom? Durf jy dit?

Dit kan gebeur dat God in jou eie omgewing onteer word. Dwase dinge wat van
Hom gesê. Of sommiges bespot Hom. Wat doen ek dan? Dit sal natuurlik afhang van
die situasie. Soms is dit wys om nie onmiddellik te reageer nie, maar om later
op ’n meer persoonlike manier daarop terug te kom. Maar wat is my eerste
reaksie? Durf ek om die Here my God te verdedig?

Dit kan soms gebeur dat mense ’n sekere mag oor jou het. Dit kan enigiemand
wees, jou ouers, jou vriende, die groepwaarby jy behoort, jou ou of jou meisie,
jou baas of dosent. Jy durf nie om hulle teen te spreek nie, ook wanneer hulle
dinge sê of doen wat teen God se woord ingaan. Hulle het so ’n mag oor jou.
Gestel dat jy sou opkom vir jou Here en teen hulle sou opstaan! Hulle is soos
’n Goliat vir jou. Hoe kan jy hulle trotseer?

Geliefdes, die geskiedenis van ons teks kan ons help in sulke situasies. Ook
al moet jy Dawid se spesifieke situasie in rekening bring. Waaroor gaan dit in
die geskiedenis? Is dit slegs ’n verhaal oor Dawid en Goliat? Nee, in die
eerste plek gaan dit oor die Here ons God. Let op hoe die Here hier aan die werk
is. Sedert Dawid se salwing het die Gees van die Here oor Dawid vaardig geword.
Tegelykertyd het die Gees van God van Saul gewyk. Van nou af sal Saul minder
word en sal Dawid meer word. Dit is duidelik in ons hoofstuk. Dawid kom vorentoe
as God se oorwinnaar en Saul word geteken as die ongelowige, mislukkende koning.
Die Here skuif Dawid na vore as verlosser van sy volk.

Laat ons dit nader bekyk wanneer ek vir julle verkondig: Dawid roep die
oorwinning uit oor Goliat en die Filistyne

  1. die oorwinning word in die krag van die Here, die almagtige, behaal
  2. die oorwinning is ’n les vir Israel en die nasies.

Die verhaal van Dawid se verslaan van Goliat is een van die mees bekende
verhale uit die Bybel. Die kinders hou van die verhaal. Jy sien daar die tiener
Dawid teenoor die gewapende reus Goliat, met slegs ’n staf en ’n slinger in
sy hande. Wat ’n kontras. Die bybel benadruk die groot kontras tussen Dawid en
Goliat. Goliat word geteken as ’n skrikwekkend monster. Hy is drie meter lank.
Probeer om dit voor te stel. Die lengte sou jou reeds bang maak. Hy het ’n
koperhelm op sy kop. Hy dra ’n harnas met skubbe wat ongeveer 57 kilogram
weeg. Voor sy bene dra hy skeenplate van koper en hy het ’n koperlans oor sy
skouers. Die steel van sy spies is so dik soos die dwarsbalk van ’n weefstoel,
en die ysterlem daarvan is ongeveer 7 kilogram. Wie sou nie bang wees vir so
’n wandelende tenk nie. Geen mens kan so ’n superman ewenaar nie.

Vir 40 dae kom hierdie reus elke more en aand nader uit die kamp van die
Filistyne om die Israeliete uit te daag. "Kies vir julle iemand om na my
toe uit te kom" skree hy. "As hy teen my kan veg en my verslaan, sal
ons julle slawe wees, As ek hom baasraak en verslaan, sal julle ons slawe wees
en vir ons werk." Hoe seker is hy van sy saak! In sy hoogmoed tart hy die
linies van Israel. "Kom nou, waar is jul kampvegter. Laat hom vorentoe kom
as hy dit durf."

Ïsrael is ten einde raad. Saul en sy manskappe is verslae en vlug in angs
elke keer wanneer Goliat vorentoe kom.

Gemeente, wanneer Dawid dit hoor en sien, is hy verontwaardig. Wie is hierdie
onbesnede Filistyn, dat hy die slagordes van die lewende God durf uitdaag? Wat
dink hierdie onbesnede heiden wel van homself. Dawid is nie onder die indruk van
Goliat sy groot lengte of sware pantser nie. Waarom nie? Omdat Dawid sy lewende
God ken, die Here, die Almagtige. In die lig beoordeel hy dan Goliat. In geloof
reduseer hy Goliat na sy regte proporsies. Dawid lê die menslike dwaasheid en
swakheid van hierdie reus bloot. Hoe durf hierdie onbesnede heiden die lewende
God en sy leërs te tart? En dit selfs op Israel se eie grondgebied, in die
beloofde land self. Dit kan nie getolereer word nie. Die eer van die lewende God
is op die spel.

Dawid gee uiting aan sy verontwaardiging. Dit word nie deur sy oudste broer
Eliab gewaardeer nie. Eliab word kwaad vir Dawid. Eliab word deur sy jongste
boetie in verleentheid gebring. Hoe durf hierdie jong tiener die soldate die les
te lees! Dis sy jong boetie. Laat hom verdwyn! Daarom wys hy Dawid af en bespot
hom: "waarom het jy hierheen gekom en aan wie het jy daardie klompie
kleinvee in die woestyn afgegee? Ek ken jou vermetelheid en kwaadwilligheid. Jy
het net hierheen gekom om na die geveg te kyk." Deur hierdie uitbarsting
verraai Eliab sy eie boos hart. Eliab moet wel aangevoel het dat Dawid die
lafheid van Saul en sy manne blootgelê het. Die soldate is net bekommerd oor
wat hulle sal kry, indien Goliat gedood word. Maar Dawid wys dat hy bekommerd is
oor die eer van God. Eliab moet wel ’n gevoel van skuld gevoel het. Sy
probleem is ’n geestelike probleem. Hy voel veroordeel deur sy jong tiener
boetie. En hy kan die nie verdra nie. Daarom probeer hy hom te kleineer.

Dawid se antwoord wys hoe kwesbaar hy is. "Wat het ek nou gedoen? Ek vra
maar net." Dawid kan die bose insinuasies van sy broer nie weerlê nie. Dis
meestal die geval wanneer jy ’n werklik christelike benadering het en durf om
vir jou geloof op te kom. Daar is dan altyd mense wat jou kleineer en dit wat jy
doen belaglik maak. Dis omdat geloof altyd die ongeloof blootlê. Ongelowiges
voel veroordeel deur die geloof van die gelowiges. Hulle verset hulle daarteen
en probeer om die geloof te breek. As gelowige kan jy nie baie daaraan doen nie.
Hoe kan jy die suiwerheid van jou motiewe bewys? Eliab se uitbarsting wys aan
watter soort veragting Dawid en almal wat sy voetspore volg, blootgestel word.
Moenie dit jou laat ontstel nie. Bly kalm. Dawid het hom nie laat ontmoedig nie.
Dawid het die versoeking om terug te betaal weerstaan. Hy het volhard in sy
geloof.

In die geloof aanvaar Dawid die uitdaging. Wanneer jy let op wat voor oë is,
dan het Dawid geen skyn van kans teen die gewapende reus nie. Vanuit die
menslike standpunt uit is dit dwaasheid, selfmoord. Dis ook hoe Goliat redeneer
wanneer hy Dawid sien nader kom met sy herders tuig. Goliat voel diep beledig
dat die Israeliete so ’n held teen hom stuur. Geen geoefende krygsman nie,
maar ’n rooierige tiener. Vol minagting sê Goliat: "is ek ’n hond dat
jy met stokke na my toe kom?" Daarna vervloek hy Dawid in die naam van sy
gode en laat hy Dawid weet dat hy sy vleis vir die roofvoëls en vir die wilde
diere sal gee.

Dawid reageer op ’n eerbare manier. Hy kom op vir die Here sy God. "Jy
kom na my met ’n swaard en met ’n spies en met ’n lans, maar ek kom na jou
in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die slagordes van
Israel, wat jy uitgedaag het." Teenoor die wapentuig van Goliat, plaas
Dawid die Naam van die Here almagtig. Hierdie stryd is nie net ’n stryd tussen
twee mense nie. Nee, hier het jy ’n mens wat op sy eie menslike krag vertrou,
Goliat, en ’n mens wat op die Here vertrou. Die stryd is in feite ’n stryd
tussen ’n sogenaamde supermens en God almagtig. Dawid sien die swakheid van
menslike krag en bely die grootheid van die Here God. Jy kom nêrens sonder die
Here, die almagtige nie.

Dawid nader Goliat in of met die Naam van die Here van die leërskare. Waarom
"in die naam van"? Die naam van die Here wys op die Here soos Hy
homself bekend gemaak het. Die Here het deur sy magtige dade vir homself ’n
naam gemaak. Dawid sê dus: jy kom teen my vertrouend op jou swaard, spies en
lans. Ek kom teen jou vertrouend op die beroemde, bekende God, die HERE, wat
homself voortdurend bewys het as die almagtige verlosser van sy volk. Hy is mos
die Here van die leërskare. Al die leërmagte van hemel en aarde is tot sy
beskikking. Hulle is almal van Hom afhanklik. En hierdie almagtige God is die
God van die slagordes van Israel. In die verlede het God dit gewys. Dawid ken sy
geskiedenis. Hy ken sy God. Met ’n magtige arm het die Here Israel uit Egipte
bevry, ondanks al die oormag van menslike wapentuig. Wat het oorgebly van die
indrukwekkende mag van Egipte? Die Here was die Generaal van Israel sy leërs
toe hulle deur die woestyn gereis het en toe hulle Kanaän verower het. Hierdie
almagtige Verbondsgod word deur sy heilige engele omring. Sou Dawid dan met so
’n God aan sy sy, minder wees as die ongelowige mensekind, hoe lank en
indrukwekkend hy ook al is.

Dawid weet dat hy in die diens van die Here God is. Daarom sê hy vir Goliat:
"Vandag sal die Here jou in my hand oorlewer … want die stryd behoort aan
die Here, en Hy sal julle in ons hand gee." Hoe kan Dawid so seker daarvan
wees? Die Gees van God het oor Dawid vaardig geword. Dit is Dawid se geheim. Hy
word gedryf deur die Gees van God. Daarom is hy seker van die oorwinning oor
Goliat en die Filistyne. God die almagtige laat nie met Hom spot nie. Hy sal die
trots van die heiden, wat in die beloofde land teen sy volk durf spog, breek.

"Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en
jou kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse
laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee." God sal ’n einde
maak aan al die grootpratery van die heidense reus. Hy sal sy vyande hul gepaste
loon gee.

Broeders en susters, ons moet oppas dat ons hierdie geskiedenis nie oordryf
en so die besonderhede negeer nie. Dit gebeur bv wanneer mense suggereer dat
Dawid hierdie gewapende reus met leë hande, sonder enige wapens, oorwin het.
Dawid se werklike krag was inderdaad God die almagtige. Hy het op Hom vertrou.
Maar die geloofsmoed impliseer nie dat hy die stryd op ’n roekelose en
onbesonne manier aanvaar het nie. Vertrouend op God het Dawid God nie beproef
nie, deur roekeloos die reus aan te val nie. Dawid vra nie om ’n wonder nie.
Hy handel op ’n verantwoordelike en besonne manier. God verag nie die middele
nie, ook al wys die middels wat in hierdie stryd gebruik word, waar die
oorwinning uiteindelik vandaan kom. Dawid maak gebruik van passende middels om
sy doel te bereik.

Dit lyk dalk belaglik in die oë van mense om ’n goed gewapende reus met
’n staf en slinger te nader. Maar met God se hulp blyk dit baie doeltreffend
te wees.

Daarom kan jy nooit hierdie geskiedenis gebruik om te verdedig dat jy alle
wapens en troepe kan afskaf omdat die Here jou wel sal red wanneer dit nodig
blyk. God verag die middels nie. Hy verag ook nie die wapens nie. Solank as ons
die in geloof gebruik, vertrouend op die Here. Hy alleen kan die oorwinning gee.
Dawid onderskat sy vyand nie. Hy nader die reus met sy eie bekende wapens,
vertrouend op die Here. Dawid weet: dit moet gedoen word. Hy weet dit in die lig
van God se eie woorde en beloftes. God het die land Kanaän tog aan Israel
belowe? God het ook die oorwinning oor sy vyande belowe wanneer die stryd in sy
naam gestry word. Dink aan die belofte van die Here in Deut 20:1: "As jy na
die oorlog uittrek teen jou vyand en perde en strydwaens sien, ’n volk meer in
getal as jy, dan moet jy vir hulle nie vrees nie; want die Here jou God wat jou
uit Egipteland laat optrek het, is met jou." En vers 4: "want dit is
die Here julle God wat saam met julle trek om vir julle te stry teen julle
vyande, om aan julle die oorwinning te gee."

In die lig van die uitdruklike beloftes moet Israel en Dawid nie vrees nie.
Die grootpratery en spot van die onbesnede heiden moet gestop word. Dit kan en
mag nie getolereer word nie.

Broeders en susters, in sy woorde aan Goliat wys Dawid ook op die doel van
die oorwinning: "Sodat die hele aarde kan weet dat Israel ’n God het. Dan
sal hierdie hele menigte moet erken dat die Here nie deur swaard en deur spies
verlos nie; want die stryd behoort aan die Here, en Hy sal julle in ons hand
gee." Die oorwinning is ’n les vir Israel en die volke. Die tweede
gedagte.

Die onbesnede Filistyne glo nie in die lewende God nie. Trouens hoe kan hulle
in daardie situasie weet dat Israel so ’n God het wat leef en sy volk verlos?
Israel vlug mos in angs elke keer as Goliat vorentoe kom. Vir 40 dae wys hulle
hul hopeloosheid en vrees. Hoe moet dan die Filistyne weet dat Israel ’n
lewende God het? Hoe kan ’n mens dit sien? Israel se God lyk eerder vir hulle
soos ’n dooie en dus magtelose afgod.

Broeders en susters, dieselfde gebeur vandag wanneer ons Christene nie durf
om op te kom vir ons God nie. Wanneer mense rondom ons ons God neerhaal en
bespot en ons te bang is om iets daarvan te sê, hoe gaan hulle dan weet dat ons
God ’n lewende en aktiewe God is? Hulle sal dit van ons moet leer. Waarom kon
Saul en sy manne Goliat nie eerder oormeester nie? Waarom was hulle bang en het
hulle telkens gevlug? Waarom kon die leër van die lewende God die heiden nie
eerder tot swye bring nie? Hulle kon dit nie omdat hulle hul unieke posisie
vergeet het. Hulle het nie besef dat hulle die leër van die lewende God was
nie. Ja, erger nog: hulle het hul God nie meer geken nie. Israel het nie meer
besef dat hulle ’n lewende God het, wat altyd aktief aanwesig is tot
verlossing van sy volk. Natuurlik, in naam het hulle Hom geken en gedien, maar
in werklikheid het Hy ’n onbekende en waardelose God vir hulle geword.

Saul en sy manne het in die mag van die vlees tereggekom. Hulle dink in terme
van die vlees. Saul, wat self ’n kop langer as al sy manskappe was, soek sy
krag in die vermoëns van die vlees. Daarom is Saul en sy manne verlam van vrees
wanneer hulle Goliat sien. Goliat oortref hulle mos in terme van die vlees. Saul
kan hierdie reus nie ewenaar nie. Wanneer jy jou laat lei deur die moontlikhede
van die vlees, moet jy wel vlug voor so ’n supermens.

Broeders en susters, deur Goliat op die toneel te bring, lê die Here Saul se
wêreldse houding bloot. Saul het ’n wêreldse koning geword. Dis duidelik in
die manier waarop hy Dawid benader wanneer Dawid Goliat se uitdaging aanvaar.
Saul het nie baie vertroue daarin nie. Hy laat hom lei deur wat voor oë is. Hy
dink slegs in terme van menslike mag. Hy dink nie aan die moontlikhede van die
geloof nie. Hy hou geen rekening met die Here, die almagtige, nie. Daarom moet
Dawid ook eers Saul se harnas aantrek. En later wanneer Saul Dawid vir Goliat
sien nader en Goliat sien oorwin, wil hy weet wie se seun Dawid is. Saul soek
’n menslike verklaring vir Dawid se uitsonderlike moed en krag. Miskien kan sy
afstamming en sosiale status sy uitsonderlike optrede verklaar. Saul dink: Dawid
moet wel van adel wees om so ’n reus te kan aanvat. Daarom die vraag: Wie se
seun is die jongman tog, Abner?

Saul is wêrelds gesind. Hy staan nou voor ’n wêreld wat magtiger is as
hy. Dis iets wat dikwels gebeur. Wanneer die kerk wêrelds word, dan sal die wêreld
self magtiger wees as die gesekulariseerde kerk. Dit gebeur te maklik dat ons
onsself laat beïndruk deur uiterlike magsvertoon. Wanneer mense ons met ’n
indrukwekkende magsvertoon nader, dink ons dat ons in gelyke munt moet reageer.
Ons probeer dan om mee te ding. Dit word ’n stryd vir superioriteit. Maar wat
word dan duidelik? Juis wanneer ons dit doen, is ons swak, is ons magteloos
teenoor die sondige wêreld.

Dink aan die werk van evangelisasie en die onderlinge tug in die gemeente.
Wanneer ek in terme van die vlees dink, wanneer ek dink dat ek die ander persoon
met my eie krag moet ewenaar, dan is ek verlore. Die eenvoudige gemeentelid kan
dan vergeet om die meer geleerde lidmate te benader. Maar dit is nie hoe die
Here opereer nie. God wil ook die eenvoudige christene mobiliseer. En die
eenvoudige christene staan sterk solank as hulle die wapens van die Here hul God
hanteer. Jy is dan in staat om die mees geleerde en selfversekerde persoon aan
te vat. ’n Eenvoudige woord, wat die woord van God naspreek, is soos ’n
skerp tweesnydende swaard wat die doel tref. Moenie die teenstander jou wapens
laat bepaal nie. Dan sal hy jou meerdere wees en sal jy swak wees. Aanvaar die
uitdaging in geloof, in die krag van die Here jou God.

Geliefdes, ons staan voor die groeiende mag van ’n moderne heidendom. Wat
kan ons nog in so ’n situasie doen? Kan ons nie beter gewoon stilbly. Nee, dit
nooit! As jy stilbly, hoe moet mense dan weet dat daar ’n lewende God is? Jy
weet tog wie jou God is, dat Hy die Here, die almagtige, is, die Here van die leërskare?
Wanneer jy Hom aan jou kant sien, dan is jy nie alleen in die stryd nie, maar is
jy ongelooflik sterk. Die getalswaarde beteken dan niks nie. Hy is mos die
almagtige. En hy het ontelbare engele tot sy beskikking. Moet jy dan aarsel en
bang wees om op te kom vir die naam van die Here jou God. Moet jy dan bang wees
om Hom te erken in jou gebed by die skool of by die werk. Moet jy dan bang wees
om sy naam in die publieke lewe te bely? Moet jy dan bang wees vir ’n Goliat
in jou lewe? Is die Here van die leërskare nie aan jou sy nie? En is Dawid se
Seun Jesus Christus, jou ewige koning, nie almagtig om te red nie?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)