Dawid die gesalfde van die Here.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-10-27
Teks: 
I Samuel 18
Preek Inhoud: 

1 Samuel 18

Ds C Kleyn - Sondag 27 Oktober 2002

Lees:

1 Samuel 18.
Sing: Ps 92:1,2; Ps 92:3,4,6; Ps 18:15,16; Ps 121:1,2; Ps 121:3,4.

Tema

:
Dawid die gesalfde van die Here.

Hy word:

  1. Bevriend deur Jonatan; en
  2. gehaat deur Saul.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Na sy opsienbarende oorwinning oor Goliat, klim Dawid al gou na prominensie
in Israel. Saul sou minder word, Dawid sou meer word. ’n Mens sien dit gebeur.
Dawid word die gunsteling van die volk. Hy word gevier as die verlosser van die
volk. En tereg so. Was hy nie God se instrument vir nasionale bevryding nie.
Maar dan is daar die keersy Populariteit het altyd ’n prys. Dit bring nuwe
uitdagings. Dawid ontdek dit in sy lewe wanneer hy die afguns, wantroue en haat
van Saul in die gesig staar. Hoe reageer Dawid op hierdie nuwe uitdagings?

Laat ons hierna kyk wanneer ek vir julle verkondig: Dawid die gesalfde van
die Here

word eerstens bevriend deur Jonatan en word tweedens gehaat deur Saul.

Wanneer ek die name van Dawid en Jonatan noem, waaraan dink julle dan? Dink
ons nie onmiddellik aan hulle hegte vriendskap nie? Die vriendskap tussen die
twee was so sterk en wonderlik dat die vriende self daaroor verbaas was. Later
in sy klaaglied oor Saul en Jonatan hoor ons Dawid sê: jou liefde was vir my
wonderliker as die liefde van vroue (2 Sam 1:26).

Die teks vertel ons oor die wonderlike vriendskap. ’n Gawe van God. Die
twee manne beteken baie vir mekaar. Hulle verryk mekaar se lewens. Woorde kan
dit nie beskryf nie.

Intussen besef ons dat ons leef in ’n tyd en wêreld wat bedorwe en sondig
is. Die gedagte aan so ’n hegte vriendskap tussen twee manne lei teenwoordig
ons gedagtes na wat ’n perversie van ware vriendskap is, naamlik ’n
homoseksuele verhouding. Die teks praat van iets wat totaal anders is: ’n
reine en goddelike verhouding tussen twee manne sonder enige seksuele
konnotasies. Hierdie vriendskap is ’n goeie gawe van God. Deur so ’n
vriendskap wil God vir sy skepsels, wat van nature geneig is om God en die
naaste te haat, groot vreugde gee. Julle wat intieme vriende het, voel aan wat
ek bedoel. In jou vriend ontmoet jy iemand wat jou verstaan, iemand met ’n
luisterende oor, ’n warme hart, ’n helpende hand. So het Dawid en Jonatan as
vriende baie vir mekaar beteken.

Maar, broeders en susters, wie is die twee vriende: Dawid en Jonatan? Wat is
hulle posisie? Waarom vertel die Bybel ons van hierdie vriendskap? Een van
hulle, Jonatan, is van geboorte die kroonprins, die natuurlike opvolger van
koning Saul. Die ander, Dawid, is deur God aangewys om Saul as koning op te
volg. Dit belowe niks goeds nie. Wanneer jy daaroor nadink sou jy dan nie verwag
dat daar groot spanning tussen die twee partye sou ontstaan nie? As daar iemand
is wat deur Dawid bedreig sou moet voel, dan is dit wel Jonatan. Normaalweg sou
hy Saul as koning opvolg. Hoe kan Dawid en Jonatan dan hegte vriende word?

Die teks sien ’n verband tussen Jonatan se liefde vir Dawid en die gesprek
tussen Saul en Dawid, na die verslaan van Goliat. Ons lees: "nadat hy
(Dawid) sy gesprek met Saul beëindig het, het die siel van Jonatan verkleef
geraak aan die siel van Dawid en Jonatan het hom liefgekry soos sy eie
siel." In die gesprek het Dawid die ootmoed van die geloof gewys. Saul het
vir hom gevra: Wie se seun is jy, jongman? Dawid het geantwoord: Die seun van u
dienaar Isai, die Betlehemiet. Nederig woorde, na so ’n roemryke oorwinning
oor Goliat. Die gesprek sal wel ’n kort rukkie aangegaan het. In lyn met die
woorde wat hy eerder vir Saul se manne, vir Saul self en vir Goliat gespreek
het, sal Dawid uitdrukking gegee het aan sy geloof in God almagtige, die Here
van die leërskare.

Wanneer Jonatan Dawid hoor praat voel hy hom tot hom aangetrek. Hy herken in
Dawid ’n vriend met ’n sterk en onbeskaamde geloof. ’n Geloof wat berge
kan verplaas. Jonatan besef: dis wat Israel nodig het. By ’n eerder
geleentheid het Jonatan self ’n daad van geloof teen God se vyande gewys,
vergelykbaar met Dawid se geloofsdaad teen Goliat. Ons lees daarvan in 1 Sam 14.
Daardie tyd het Jonatan slegs sy wapendraer by hom gehad. Met hul twee het hulle
die wagpos van die Filistyne aangeval en verslaan. Voor die aanval het Jonatan
vir sy wapendraer gesê: "Kom ons gaan oor na die wagpos van daardie
onbesnedenes; miskien sal die Here vir ons optree, want by die Here is daar geen
verhindering om deur baie of deur min te verlos nie" (1 Sam 14:6). ’n
Pragtige geloofgetuienis. Vergelykbaar met Dawid se belydenis. Albei praat van
die onbesnedenes, as vyande van God, waarvoor hulle nie bevrees hoef te wees
nie. Albei erken God se almagtige krag om te verlos. Dit hoef ons daarom nie te
verras nie dat Jonatan lief vir Dawid is en omgekeerd. Hulle herken mekaar as
een van gees, een in geloof, een in die stryd van die Here. Een in geloof, hoop
en liefde.

Wel, die vriendskap word beseël met ’n plegtige verbond. Hulle belowe
wedersydse trou en vriendskap. Daarin gaan Jonatan selfs so ver dat hy vir Dawid
sy mantel, klere, swaard, boog en gordel gee. Simbolies gee Jonatan homself aan
Dawid.

Beteken dit dat Jonatan Dawid reeds erken as die toekomstige koning? Ons weet
dit nie seker nie. Dat hy sy mantel vir Dawid gee, sou daarop kan wys. Jonatan
sal in elk geval wel gehoor het van Samuel sy afwysing van Saul, sy vader. Hy
sal wel gehoor het dat God Saul se koningskap nie sal bestendig nie en dat die
Here vir Hom ’n man na sy hart gesoek het om as vors oor sy volk te regeer.
Jonatan sal ook wel gehoor het van Saul se verwerping as koning, na die stryd
teen Amalek, toe Samuel vir Saul gesê het: Vandag het die Here die koningskap
oor Israel van jou afgeskeur en dit aan jou naaste gegee wat beter is as jy (1
Sam 15:28). Jonatan kon weet dat die dae vir Saul en sy koningskap getel was.
Daarom kan dit wees dat Jonatan reeds in die geskiedenis van ons teks in Dawid
’n man na God se hart, Israel se toekomstige leier, herken het. Later in
hoofstuk 23 noem Jonatan uitdruklik Dawid se toekomstige koningskap.

Hoe dit ookal mag wees, Jonatan bly trou aan sy vriendskap met Dawid ook
wanneer dit vir hom duidelik word dat Dawid sy plek as troonopvolger sal inneem.
Die volgende hoofstukke wys dit. Jonatan kon anders gereageer het. Hy kon soos
sy pa gereageer het. Uit afguns, vrees en haat. Hy kon gedink het: moet ek plek
maak vir hierdie jongman? Wat dink hy van homself. Ek is die regmatige opvolger
op die troon. En hy gaan die troon nie kry nie, nooit nie.

Jonatan reageer nie so nie. In geloof erken Jonatan die Here se weë en
aanvaar dit. Hy veg nie vir sy eie saak en koninkryk nie. Hy veg vir die Here se
saak en koninkryk. Dit is wat die geloof vir ’n mens doen. Die geloof maak jou
nederig. Die geloof laat jou die weg van die Here volg. Jy gee jou oor aan die
Here. Jy laat jou deur Hom lei. Jy vertrou jou toekoms aan Hom toe. Daarom bly
Jonatan ’n ware vriend van Dawid, selfs wanneer dit vir hom duidelik is dat
Dawid sy vader op die troon sal opvolg. Ja, Jonatan het selfs ’n groot rol
daarin gespeel om Dawid se lewe te beskerm teen die pogings van sy vader om hom
te vermoor. Jonatan sien in Dawid ’n man na God se hart en, in elk geval
later, as die koning van God se keuse. In verdediging van sy vriend is hy selfs
bereid om teen sy vader op te staan. Hy kom op vir God se saak. Ook al sou dit
na menslike maatstawwe sy eie posisie en heerlikheid kos.

In geloof kies Jonatan om vir Dawid uit die pad te gaan. Nie onder protes
nie, maar in liefde. Deur dit te doen gaan Jonatan in feite uit die pad vir die
komende Christus. Hy gaan uit die pad vir God se plan van verlossing vir sy
volk, ja, God se verlossingsplan vir jou en my.

Broeders en susters, in hierdie vriendskap tussen Jonatan en Dawid sien u ook
God se wonderlike sorg vir Dawid. Dawid wag ’n baie sware tyd van vervolging
deur Saul. Hoe groot is God dat Hy Dawid so ’n intieme vriend gee tydens
hierdie moeilike tyd. Hoe groot is God dat Hy Dawid bemoedig en beskerm deur
hierdie vriendskap. ’n Vriendskap, let wel, met die koning se eie seun, ’n
vriendskap gegrond op selfverloënde liefde.

Maar nou Saul. Hoe anders is Saul se houding teenoor Dawid. Saul kan Dawid se
prestasies en suksesse nie ontken nie. Die mense is onder die indruk. Hulle is
daarom bly wanneer Saul Dawid ’n hoë pos in die leer gee. Maar daar is
bitterheid en afguns in Saul se hart. Dawid is na sy smaak te suksesvol en te
populêr. Wanneer die vroue die seëvierende soldate begroet met die lied: Saul
het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende, dan is Saul kwaad en
afgunstig.

Jonatan, wat ook heldhaftige dade verrig het, word in hierdie lied nie eers
genoem nie. Maar jy hoor Jonatan nie daaroor kla nie. Hy is bly met die lied ter
ere van sy vader en van sy vriend Dawid. Maar Saul het die sig op God se volk en
op God se saak verloor. Daarom voel hy hom beledig. Hy begin selfs om te vermoed
dat Dawid die een is wat God gekies het om sy plek in te neem. Ons lees dat Saul
dink: hy moet nou nog net die koningskap kry. Daarom volg daar: en van die dag
af en verder het Saul die oog op Dawid gehad. Hier begin die geskiedenis van
Dawid se lyding aan die hand van Saul. As ’n afskaduwing van Christus sal
Dawid deur lyding heen tot heerlikheid kom. God is besig om hom te toets en voor
te berei sodat sy koningskap werklik ’n seën vir God se volk kan wees. Die
troon is nog ver van hom af weg. Maar God se beloftes dra hom deur die
beproewings heen. Dieselfde geld vir ons vandag.

In ons hoofstuk begin Saul werklik ’n anti-chris te word. Saul verset hom
teen die gesalfde van die Here. Hy tree op as sy geswore vyand. Hy is ook besig
om homself in die plek van die Here se gesalfde te stel. Saul wil nie vir die
gesalfde van die Here uit die pad gaan nie. Hy is nie van plan om af te tree
nie. Hy sal vir sy posisie veg tot die bittere einde. Hy stel nie belang in God
se koninkryk nie. Hy stel net belang in sy eie koninkryk. Daarom is hy nie bang
om bloed te vergiet nie, soos sy moord op die priesters van Nob wys.

Saul was deur God in so ’n hoë posisie geplaas. Hy het sulke mooie gawes
ontvang. Maar nou gebruik hy die posisie en die gawes om die gesalfde van die
Here te vervolg. Jare lank werk hy die voortgang van God se koninkryk teen,
vanweë sy selfsug, omdat hy nie die dinge van God in gedagte het nie, maar die
dinge van mense. Laat ons tog oordink dat ons ook daaraan skuldig kan wees.
Wanneer ek myself soek, my eie eer en invloed, dan staan ek in die pad van God
se koninkryk in my lewe en in die lewe van ander. Voordat ek dit besef kan ek
’n antichris word. Die onselfsugtige, selfverloënde liefde van Jonatan is
’n verootmoedigende voorbeeld vir elkeen van ons. Dit kan so moeilik wees om
ander beter as myself te beskou. Daarom kan ons God se werk, die voortgang van
sy koninkryk, in die pad staan.

Saul iss vol wrewel oor Dawid se groeiende populariteit. Die wrewel, afguns
en wantroue is ’n teken dat die Gees van God hom verlaat het. Want as jy die
Heilige Gees in jou het, reageer jy anders. Die Heilige Gees maak jou anders.
Die een wat sy broer haat is ’n moordenaar. Geen wonder dan dat op een van die
dae wanneer die bose gees oor Saul vaardig word, terwyl Dawid op die harp speel,
hy in woede twee keer sy spies na Dawid gooi om hom daarmee dood te maak nie.
Onbeheerste woede bring na buite wat leef in sy hart. Wat ons in woede sê,
verraai dikwels ons diepste gevoelens.

Vandag sou mense Saul miskien verontskuldig deur te sê dat hy sy verstand
verloor het. Was hy nie oorweldig deur ’n bose gees en ekstaties op die
oomblik nie? Maar, geliefdes, Saul kan nie verskoon word op grond van
kranksinnigheid nie. Saul het mos sy hart oopgestel vir die duiwel. Daarom het
die Gees van die Here hom verlaat en ’n bose gees oorgeneem. Saul kies vir die
pad van kwaad.

Gewoonlik het Dawid se musiek ’n kalmerende uitwerking op Saul se gemoed.
Ons weet hoe musiek ’n kalmerende invloed op ons menslike gees kan hê. Maar
hierdie geskiedenis wys hoe ontoereikend die psigologiese middel is. Die
kalmerende middel is nie in staat om Saul se woede, wat duiwels is, te hanteer
nie. Saul is uiteindelik nie ’n pasiënt wat deur psigiatriese behandeling
genees kan word nie. Hy is ’n sondaar wat hom moet bekeer. Agter die
woedeuitbarstings is daar die sonde van trots, sy sonde dat hy hom nie aan die
Here wil oorgee nie.

Broeders en susters, dis opvallend hoe die verhaal vervolg. Onmiddellik na
die mislukte poging om Dawid dood te maak lees ons: "En Saul was bevrees
vir Dawid, omdat die Here met hom was en van Saul gewyk het." Na so ’n
poging tot moord sou ’n mens verwag het om te lees: Dawid was bevrees vir
Saul. Maar dis nie wat ons lees nie. Die teenoorgestelde word genoem: Saul was
bevrees vir Dawid.

Dit is onthullend. Veral noudat dit aan die begin van Dawid se geskiedenis
van lyding en vervolging genoem word. Dit lyk asof Saul met Dawid kan maak wat
hy wil. Dawid is aan sy genade oorgelewer. Die oudste dogter Merab wat Saul vir
Dawid beloof het, word aan ’n ander persoon gegee. Saul stuur Dawid
voortdurend na die voorste gevegslinie in die hoop dat Dawid in die stryd gedood
sal word. Wanneer jy dit lees en merk dat Saul Dawid se geswore vyand is, dan
vrees ’n mens die ergste vir Dawid.

Maar dan word 3x benadruk dat Saul bevrees was vir Dawid. Waarom is hy bang
vir Dawid? Omdat die Here met Dawid is. Dit word ook 3x genoem. Wanneer die Here
met hom is, dan is hy veilig. Dan is selfs sy vyand bang vir hom. Hierdie vrees
van Saul is dieselfde as die vrees van die bose geeste waarvan ons in die NT
lees, dat hulle glo dat daar een God is en sidder. Dit word vir ons gesê sodat
ons nie vir hulle bevrees sou wees meer as wat nodig is nie. Moenie die krag en
invloed van die demone onderskat nie. Maar ook: Moenie hul krag oorskat nie.
Daarom is dit so onthullend dat die Skrif van die groot en sterke Saul sê dat
hy vir Dawid bevrees is. Dit word 3x genoem. Terwyl mens verwag sou hê dat
Dawid vir Saul sou bang wees.

Die Here is met Dawid. Dit is eerstens sigbaar in sy oorwinnings. In al sy
ondernemings is hy suksesvol. Dit is ook sigbaar wanneer voorspoed plek moet
maak vir teenspoed. Ook dan is die Here met Dawid. Gelukkig is dit nie afhanklik
van voorspoed nie.

Geliefdes, in sy haat teen Dawid word Saul ’n eensame figuur. Jonatan, Saul
se amptenare, die volk en Migal is almal lief vir Dawid. Niemand het Saul in sy
haat gesteun nie. Later sal dit verander. Haat is ’n besmetlike kwaad. Saul se
dienaars sal uiteindelik Dawid laat val, hulle sal kies vir hulle eie gemak en
veiligheid. Die volk sal ook keer op keer Saul sy kant teen Dawid kies. Maar
aanvanklik is dit nie die geval nie. In sy haat teen Dawid is Saul aanvanklik
’n eensame man. Alles wat Saul teen Dawid probeer om te gebruik, werk uit tot
Dawid se voordeel.

Dawid weet uit ervaring dat die Here aan sy kant is, met hom is. Dawid ken
die Here persoonlik. Hy ken die aanwesigheid van die Gees van die Here in sy
hart. Daarom is hy gehoorsaam aan die Here in ’n gees van liefde en ootmoed.
’n Wonderlike voorbeeld en uitdaging vir elkeen van ons.

Dawid wys ’n voorbeeldige ootmoed in sy reaksie op die lof van mense en sy
vinnige styging tot nasionale prominensie. Vir baie mense styg selfs mindere
prestasies na hul kop. Hoogmoed kan so maklik ons in sy greep kry wanneer ons
klim na prominensie. ’n Gees van self ingenomenheid. Ja, geliefdes, laat ons
ons oë op die Here Jesus Christus rig en kyk na sy goedkeuring. Wanneer ek my
siel en liggaam, my belange en werk aan Hom toewy, dan sal Hy alles wat goed vir
my is, laat geskied. Hy sal my dan veilig dra deur al die lyding van die
teenwoordige tyd na heerlikheid.

Hoe kan Hy dit doen? Nie omdat ons sonder skuld is nie. Nee, dis omdat die
Here Jesus die pad van lyding aanvaar het as een wat deur God verlaat is. Danksy
die plaasvervangende lyding van Dawid se Seun en Here Jesus Christus is jy wat
glo nou veilig in ’n veranderende en dreigende wêreld. God is met jou. Waarom
sou jy dan vrees?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)